DIE ADAM VAN PROXAN DELTA – Eben van Renen

DIE ADAM VAN PROXAN DELTA – 2014 © Eben van Renen

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (13 001 woorde)

 

Ek hoor ’n rumoer. Die tafel onder my kop ruik na eeu-oue drank, rook, kos en sweet. Die hout is oud en die laag op laag vernis het jare se afval en stof vasgevang asof hulle fossiele in amber is.
Ek hoor ’n rumoer.
Maar hier is daar altyd ’n rumoer.
Ek skat ek is besig om wakker te word. Wel, miskien nie ‘wakker’ nie, maar wakkerder. Ek kan nie onthou wanneer laas ek werklik wakker was nie. Die lewe is een groot beswyming. Dit is ek wat in my bootjie op ’n deinende oseaan van afgestompte gevoelens en donker herinneringe voort-suip. Ek seil dop vir dop nader aan die einde van die oseaan, waar dit vanaf die hoek van die plat aarde tot binne die donker afgrond sal tuimel.
Die rumoer is anders. Ek moet luister.
“… menere! Die boerpot is myne!” Dit klink interessant. “… so tweehonderd duisend rand…” en toe hoor ek die goue woorde: “… bestel vir almal ’n rondte, kroegman!”
Ek begin my sinapse een vir een aanmekaar skakel. Ou netwerke word heraktiveer, sisteme word drie… vier keer aanlyn geskop. Hortend en stortend begin my brein weer op dreef kom. My oë begin stadig oopgaan. Dit vat ’n ruk lank voor ek hulle gefokus kry op die jong offisier wat voor die kroeg se toonbank staan. Daar is ’n klomp ‘vriende’ wat langs hom saamdrom om sy storie te hoor.
As ek vir hom een van my oorlogstories vertel, sal hy miskien uit dankbaarheid – en goedhartigheid – my bootjie weer op dreef kan kry.

Donker.

Ek maak my oë weer oop. Moes weer my bewussyn verloor het. Daar is nou minder ouens in die kroeg, maar die jong luitenant sit… hier langs my.
“Doringrosie ontwaak!” lag hy skielik. Die klank laat my kop klop. Hy leun effens na my toe en ek sien sy oë is lekker bloedbelope. “Maar ek belowe ek het jou nie wakker gesjhoen nie. Hê hê…” Sy woorde begin al sleep.
Ek sit stadig orent. Dit verg ’n monumentale poging, maar daar is ’n potensiale vrag drank op die spel. Opofferinge wat nou gemaak word kan dalk later vrugte werp.
“… het jy al die storie gehoor…” my woorde kom moeilik uit. Ek skop nog dele van my chaotiese brein op hulle sitvlak, probeer beheer herwin. “… van toe ek wakker geword het in Prins Ketani se harem? Sonder ’n draad klere en drie honderd verveelde vroue, dertig soldate en een baie kwaai prins?”
Die luitenant glimlag. Dis ’n goeie teken.
“Ek wou nog sê dis alles ’n misverstand. Ek het mos maar net verdwaal…”
“Jy het vir my al hierdie storie vertel, Poera, herhaaldelik,” val hy my in die rede.
Ek krap oor my bebaarde ken.
“Ken ek jou?”
“Ja, Poera. Jy ken my nou al vir twee maande. Mensig! Is daar nog enige breinselle oor in jou kop?” Hy skud sy kop met ’n neerhalende en tog simpatieke manier. Ek is lankal gewoond aan hierdie houding. Sien dit gewoonlik nie eens raak nie. “Luitenant Carel Krige, Noordelike Divisie, tweede brigade. En jy is Poera, die plaaslike dronklap wat die beste stories vertel.” Hy knipoog en gee vir my ’n skewe glimlag. “Net ingeval jy vergeet het wie jy ook is.”
Ek probeer hom onthou, maar die afgelope maande, jare selfs, is so dof en uit fokus uit dat ek later maar tou opgooi.
“Wat van ’n bietjie mampoer?”
Ek kyk skerp op na die ou. Daar is ’n glinstering in sy oë.
“As jy my ken, sou jy weet dat ek nie mampoer drink nie,” antwoord ek.
“Ek weet. Dis hoekom jy die bynaam Poera gekry het, reg?” Hy grinnik selftevrede oor sy terg. Ek sien hy is eintlik meer dronk as wat hy wil voorgee. Hy leun weer terug in sy stoel. “Nou, Poera, jy het vir my baie stories vertel hierdie afgelope paar maande, maar jy het nie vir my die storie agter die mampoer vertel nie.”
“Dis nie ’n storie wat ek wil vertel nie. Dis die enigste een wat net myne is,” sê ek. My kop is besig om duidelikheid te herwin. En daarmee kom die pyn, die herinneringe en die skandes. Ek het alkohol nodig. Ek het dit vinnig nodig. Maar ek gaan nie mampoer drink nie.
“Ek het vandag die boerpot gewen. En ek wil daardie storie hoor. En ek is bereid om daarvoor te betaal.”
“Hoeveel?”
“Ek het ’n rekening by Eerste Volksbank wat ek gaan sluit. Jy kan alles vat. Daar’s genoeg om jou in ’n rehabilitasie-oord vir ’n paar maande in te kry. Jy sal natuurlik elke sent op drank spandeer.”
“Hoeveel?”
Hy haal ’n palmkomp uit en tik daarop.
“Eenduisend vier-en-veertig rand en twaalf sent.”
Ek sluk.
Ek sluk weer.
“Dis selfs genoeg om ’n huurskip na ’n ander planeet te vat vir ’n kort vakansietjie,” sê hy en sit die palmkomp weer terug in sy sak. Sy oë bly op my gerig. “Wie weet, miskien kan jy gaan kyk na ’n plek soos Proxan Delta…”
“Jou moer!” ek spring op en gryp hom aan sy keel.
Carel se oë rek soos hy skrik. Sy drankie tuimel van die tafel af en beland op die teëls met ’n slag wat almal laat omkyk.
“Poera! Los hom of ek gooi jou uit!” bulder die kroegman so ’n entjie van ons.
Ek los hom en sak terug op my stoel. Hy sak terug in syne.
“So… dis waar. Jy was al op Proxan Delta gewees…” sê hy hygend en vryf sy keel.
My kop skree. Die fluisterstemme hierbinne my skedel martel my saam met my onttrekkingsimptome.
Ek is so moeg.
So droog.
“Wat weet jy?” vra ek.
“Niks. Net dat jy eens in jou slaap – hier op hierdie einste tafel – Proxan Delta genoem het. En tog het ek dit nie geglo nie. Niemand gaan Proxan Delta toe nie.”
Ek dink weer aan die geld wat hy my aangebied het. Is dit die moeite werd? Ek sal die ou wond moet oopkrap, maar daarna sal ek die pyn behoorlik – en ek bedoel behoorlik – kan verdoof.
Miskien selfs permanent.
“Komaan, Poera,” fluister hy. Sy stem klink amper soos ’n smeekgebed. “Almal in hierdie kroeg wil weet waar jy ontspoor het. Ons wil weet wat met Helgard de Jager gebeur het. Jy hou nou vir wie weet hoe lankal hierdie geheim vir jouself.”
“Mens moet iets oorhou,” probeer ek hom weereens keer, maar ek hoor self hoe die twyfel by my stem ingekruip het. ’n Twyfel geskep deur die dier binne my wat nooit genoeg drink nie.
“Dis die enigste storie wat jy oor het. Dis die laaste stukkie legkaart.” Carel leun vooroor, sy oë is nou ernstig. “En ek moet dit hê.”
Ek vroetel in my sak en haal ’n ou palmkomp uit.
“Ek wil die geld in my rekening sien.”
Na ’n enkele minuut sien ek die syfertjies in my rekening styg.
“Goed, Carel. Maar hierna wil ek geen vrae beantwoord nie. Ek wil nie eens een vraag hoor nie, verstaan?” Hy knik. “Om die waarheid te sê, die storie gaan die laaste keer wees dat ek met jou praat.”
Hy knik weer.
“Reg, maak dan nou maar jou veiligheidsgordel vas. En bestel solank vir my ’n donnerse wodka.”

En ek begin praat. Ek vertel, maar ek vertel nie net nie, ek reis terug na ’n ander tyd. Die tyd voor die groot donkerte my oorval het. Die oerknal wat my ondergang bewerkstellig het…

“Mampoer-babalas is nie vir sissies nie,” sê Kaptein Insig toe ek uiteindelik by die Hangar 3C opdaag.
Ek sien hoe Tex my verskrik aangaap. Mens sou dink hy is al gewoond aan my babalas-gesig. Saratoga fluit ’n hoë noot. Die klank is skril en is iets wat ek nie juis op die oomblik waardeer nie.
“Mensig, wanneer gaan jy leer? Word liewers op iets anders dronk.”
Ek waai vir die swarthaar Eerste Nasie feeks om liewers stil te bly.
“Ek moes jou nooit Taal geleer praat het nie,” brom ek. Sy lag. “En moenie fluit nie.” Sy lag harder.
Ek strompel oor na ’n goedkoop stoel en sak af tot ek half lê op die ding. Ek hou my donkerbrille op my gesig.
“Jy kan maar ophou staar, Tex. Ek sal oorleef.”
Tex draai sy kop vinnig weg, maar ek sien sy skisofreniese oë bly na my gesig terugkeer. Ek neem aan dat gisteraand moes bietjie van ’n woes affêre gewees het. Tex is duidelik beïndruk deur die skade wat aangerig is en boonop onthou ek net mooi ’n ronde nul oor wat werklik gisteraand plaasgevind het.
Dis natuurlik nooit ’n goeie teken nie.
Ten minste het ek nie in die polisieselle wakker geword nie. Dis ’n welkome verandering in roetine en ek gryp hierdie silwer randjie met albei hande aan. Dit gesê, as ek nie binne die volgende paar minute ’n moerkoffie inkry nie, gaan ek iemand met my Colt moet skiet.
“Ek is so bly om dit te hoor, Helgard,” sê Kaptein Empatie op sy mees geoefende sarkastiese stemtoon. Sy stem is hoog en besorg. “As jy, Luitenant Dronkgat, nie omgee nie, mag ons maar ons opdrag bespreek?” Sy stem verloor die sarkasme en begin oorslaan na die Toorn-van-God-modus. “Jy weet, die opdrag wat ons twee ure gelede moes bespreek het?” Elke stelling klink soos ’n vraag. Ek weet uit gewoonte uit dat dit beter is om nou niks te sê nie. Dit sal oorwaai. “Jy weet mos, die opdrag wat ons salarisse betaal?” Hy’s nou lekker opgewarm. “Jy weet, die salaris wat jy elke week opsuip?!”
Sy laaste sin – behalwe die voorafgaande, afgesaagde ‘jy weet’ stukkie – sou baie oortuigend oorgekom het as dit nie was vir die sterk déjà-vu kwaliteit van die hele toesprakie nie. Kaptein Bul se are staan by sy nek uit en sy gesig is rooi. Ek laat hom maar begaan. Hy’s net so verveeld met die roetine as ek. Om die waarheid te sê, ek voel nogal gevlei oor hy weereens die energie spesiaal op my spandeer.
Net Tex lyk ietwat skrikkerig onder Kaptein Storm se aanslag – al is dit nie op hom gemik nie.
Ek knik en onderdruk ’n gaap.
Saratoga kou haar naels en ek is redelik seker sy is besig om haar e-boodskappe deur middel van haar elektroniese kontaklense te lees.
“Reg,” sê ons kaptein uiteindelik. Toe hy wegkyk na die holokaart agter hom kry ek uiteindelik kans om te gaap sonder om sy eer te krenk. “Soos julle weet, het die Arwantynse Weermag ons ’n kontrak aangebied wat baie goed gaan betaal.”
“Wat beteken ons kanse vir oorlewing is redelik skraal, want die snot weet dat ons altyd die vuilste werk vir die Arries moet doen,” onderbreek Saratoga hom.
“Hou den bek, Luitenant Pidigamalala!”
“Pêmidygha!”
“Wat ook al,” snou Kaptein Polities Korrek haar toe. Hy lyk tog bietjie van stryk gebring, want hy vee oor sy kort grys hare met sy hand en vermy Saratoga se vurige swart oë voor hy voortbeur met sy gedoemde inligtingsessie. “Ons word naby die GH-34 oerwoud van die planeet Proxan Delta neergesit. Ons…”
“Proxan Delta?” vra ek, skielik ’n bietjie wakkerder.
“Ja, magtig Luitenant de Jager, ek het mos al vir julle gesê ons gaan Proxan Delta toe.”
Ek kyk na die ander twee. Hulle lyk ook lamgeslaan.
“A, nee. Ek dink nie jy het vir ons gesê ons gaan na die Groen Hel toe nie, Kaptein Falck.”
Hy kyk na die ander twee en sug. Hy wend sy oë na bo.
“Dis nie my skuld as julle nooit julle boodskappe lees nie.”
“Daar is geen manier dat ek na Proxan Delta toe gaan nie, kant en klaar,” sis Saratoga langs my.
Ek hou daarvan as sy kwaad is. Veral as sy kwaad is vir die kaptein. Ek kyk weer na haar lang swart hare, dun nek, die lyn van haar atletiese boarms.
Wag, fokus de Jager! Ek is mos besig om te hoor hoe ek binnekort gaan sterf.
“Ek ook nie. Wat van jou, Tex?” vra ek vir Jurie ‘Tex’ Bezuidenhout, ons meganikus, navigator, tegnikus, koffiemaker en algemene vloerlap.
Hy sweet, maar skud wraggies sy kop. Dis die eerste keer dat ek die snotkop sien rebelleer teen gesag. Ek kyk op na Kaptein Mal. Hy lyk – wragtig – ietwat bekommerd.
“Reg. Ons kan maar hier bly. Maar kom ek skets eers vir julle ’n prentjie. Die prentjie se naam is: ‘Die vuilnekke word straatveërs omdat hulle nie hul skuld kan afbetaal nie.’ Dis ’n hartseer prentjie van ’n wonderlike kaptein en sy miserabele troep bangbroeke wat meer hou van skuld en uitgawes genereer as kapitaal. En aitsa! Die karakters is so kleurryk! Ons het die hardwerkende kaptein…” Ons almal se oë rol. “… en Tex, die tegno-verslaafde wat blykbaar nie genoeg speelgoed kan aanskaf nie. Daar is Luitenant Pêmêdytjie…”
“Pêmidygha!”
“…wat verslaaf is op windgat voertuie soos torre en stuwer-aangedrewe motorfietse. En moenie vergeet van ons betroubare suipgat-extraordinaire nie; Luitenant Helgard ‘Mampoer’ de Jager. Die Mampoer-by-die-keelgat-afjager!”
Vol punte vir kreatiwiteit, dink ek. Iets sê vir my dat ons kaptein hierdie muitery onder sy geledere gesien kom het. Hierdie toespraak is voor die tyd voorberei.
Ek kyk na die ander twee. Hulle lyk onkant betrap.
Drak, ek het ’n slegte gevoel ons gaan Proxan Delta toe.
“Wat van ander kontrakte?” vra Saratoga.
“Watter ander kontrakte? Ons was gelukkig om hierdie een te kry, veral na die vorige een.”
Almal kyk skielik na my. Ek lig my hande op.
“Ek het reeds om verskoning gevra. Kom ons los die ou koeie in die sloot, waar hulle hoort.”
Laas keer het ek per ongeluk mampoer inplaas van water geslurp toe ons met die Skilpad op wagdiens was. Ek het toe – ook natuurlik heeltemal per ongeluk – die Skilpad deur die ammunisie-skuur laat ry. Ons het net betyds daar uitgekom. Die Skilpad het ook bietjie skade gekry toe die ammunisie soos vuurwerke afgegaan het.
“Wat my herinner dat ons nog geld nodig het om die Skilpad ten volle te herstel.” Hulle kyk nog steeds na my. Ek sak vêrder af in my stoel en sug. “Hoe hou julle van die storie tot dusvêr?”
Liewe Langenhoven. Ons gaan Proxan Delta toe.
“Dis nie so erg as wat julle dink nie. Blykbaar het daar ’n paar Stormtroepe verdwaal en ons moet hulle gaan soek, oplaai en terugbring. Dis al.”
Stilte.
“Ons het al moeiliker take voltooi,” sê hy met sy beste vaderlike-en-tog-so-redelike-stemtoon.
Saratoga sug.
“Kaptein, jy weet so goed soos ons; op Proxan Delta is dit nooit al nie.”
Soos mampoer-babalas is Proxan Delta nie vir sissies nie. En so gepraat van mampoer. Ek het skielik minder lus vir koffie en meer lus vir die noodgeval-botteltjie wat in my rugsak wag.
Dubbele donnerse drakke. Ons gaan Proxan Delta toe.

Planeet: PROXAN DELTA
3 Januarie 2955 NC 10:34:23 Arwantynse Westerse Tyd
Ligging: Noordelike Halfrond, 104 km Wes van Woud GH-34.

Maggies maar my kop voel suf. Saratoga het my fyn dopgehou toe ek die pynstillers gevat het. Sy’t seker gemaak dat ek net twee vat. Dis natuurlik beter vir my reflekse en besluitnemings kapasiteit, maar dit is bietjie soos om ’n vulkaan te probeer blus deur daarop te piepie.
Ek kyk onderlangs na my swarthaar-prinses. Haar vliegpak sit styf om haar lang bene.
“Hou jou bebloede ogies op die pad,” sis sy.
Ek lig my skouers in onskuld en kyk weer na die skerms voor my. Die Skilpad is nog vêr van die woud af.
Die Skilpad is ’n ou Marconi-6 veeldoelige troepedraer, oorspronklik gebou in 2895, maar het soveel aanpassings dat dit beswaarlik herkenbaar is as ’n Marconi. Dit word deur ’n kouefusiereaktor aangedryf. Die kenmerkende bolvormige stuwers wat aan al vier hoeke van die tenk sit is steeds daar, maar ons het meer as helfte van die troeperuimte in die middel van die tenk vervang met ’n gedugte wapenstelsel. Behalwe die Angel-vuurpyllanseerder wat ses kortafstandmissiele kan afvuur, het ons ook ’n Brolloks 20mm sesloop-masjiengeweer aan ons bakboord aangebring. Ons grootste slaankrag sit op die oomblik verberg onder die Skilpad se dop. ‘Grietjie’ is ’n ou 165 mm Steyn-Howitzer kanon wat self ook gewysig is om plasma-kanonkoeëls te skiet. Kaptein Aardig sit op die oomblik agter my in die skietstoel. Grietjie is sy nooi en hy praat dikwels direk met haar. Ek sweer, as hy moes kies tussen my lewe en daardie kanon, sou ek sleg tweede kom.
Saratoga beheer die ander wapens asook die verskillende missiel-afleiers. Tex sit heel agter en is op die oomblik ons navigator – dis nou as hy nie besig is om een of ander lekplek te herstel nie. Om die waarheid te sê, hy kry eintlik min kans om navigator te speel. Die Skilpad is stokoud. Selfs my donnerse stuurstange is gepleister met meganiese kleeflint.
“Kom De Jager, wat sloer jy so?”
“Wel, Kaptein Blik… A… Kaptein Falck, dis nie ‘sloer’ as mens versigtig wil wees nie. Daar is baie rotse in ons pad.”
“Magtig man, ons ry in ’n tenk. Ry bo-oor die goed.”
“Met alle respek, Kaptein, ons kruiperbande het al beter dae gesien en moes waarskynlik twee jaar gelede vervang geword het. As een losbreek sit ons vas. Ons stuwers is ook maar op half-tenk so ons gaan ook nie vêr kan vlieg as dit moet nie.”
Natuurlik is alles wat ek sê die reine waarheid, maar nie die hele waarheid nie. Ek is nie juis lus om in daardie woud te gaan nie. Daar is dus, net miskien, so ’n bietjie ‘sloerigheid’ ter sprake.
“Reg dan, maar skud op.”
“Ja, Kaptein. Ek sal die Skilpad bietjie aanpor.”
Ek lê teatrale klem op die naam van ons tenk, maar kry nie ’n laggie uit Saratoga of Tex nie. Hulle is seker nog die moer in vir my dat ons hier is.
“Kaptein, oerwoud is nou sigbaar op ons teleskoop en bio-energie sensors.”
“Dankie, Tex.”
Ek loer weer vlugtig na Saratoga se gesig. Sy sit stilswyend, albei hande op Angel en Brolloks se stuurstokke. Haar kontaklense is rooi. Sy het dus reeds haar interaktiewe-optiese teikenstelsel aangeskakel. Sy sien dus wat buite aangaan en die vuurpyllanseerder en masjiengeweer volg die bewegings wat haar hande uitvoer op die stuurstokke. Ek loer weer vinnig na haar bene.
“Ek weet jy kyk na my, Luitenant.”
Bliksem.
Ek mompel ’n swak poging tot ontkenning en wend my weer op die beeld voor my.

Om te dink die barbaarse Tar, wat drie planete in hierdie ruim het en wat ook desperaat is vir bio-energie, sit nooit ’n voet op hierdie groen planeet nie. Daar is genoeg gerugte van eenrigting-kaartjie-ondernemings wat op Proxan Delta hulle Moses teëgekom het. Die Tar noem Proxan Delta ook by ’n ander naam: ‘The Green Hunger’. Volgens hulle is dit Die Planeet Wat Insluk.
Tien dae gelede was Arwantynse Stormtroepe op die hakke van ’n voortvlugtende ruimterower-bende gewees. Die ruimteskuim – soos ons hulle noem – het gevlug na Proxan Delta toe die vragskip wat hulle probeer kaap het vol Stormtroepe was. Die Stormtroepe het die meeste van hulle in stukkies geblaas, maar een van die rowerskepe het dit tot op Proxan Delta gemaak.
Die laaste wat ons van Kommandeur Jurgen Kruger en sy manne gehoor het, was net voor hulle Woud GH-34 ingegaan het.
Arwantynse Opperbevel het ons gehuur om hulle te kom optel. Waarskynlik omdat Kruger nie baie vriende in hoë posisies het nie en omdat die Arwantyne minder verliese wil ly. Gee die vuilwerk eerder vir die vuil-nek, hardegat en desperate huursoldate.
Ek hop soos ek skrik toe ons vroeg-waarskuwing-stelsel (VWS) se alarm skielik afgaan. Dit klink altyd soos ’n kat wat besig is om te vrek.
“Inkomende missiel, hitte-soeker!” roep Tex uit.
“Aktiveer M.A.1!” beveel Kaptein Falck.
“Reg, Kaptein,” antwoord Saratoga.
Ek hoor hoe die missiel afleier sy vuurkapsules soos ’n masjiengeweer afvuur. Een van die klein witwarm fakkeltjies word deur die wind tot voor die Skilpad se neus verby gestoot.
Dis nie goed nie!
Ek pluk die stuurstange hardhandig sodat die Skilpad skerp na links swenk, weg van die fakkel wat veronderstel is om die inkomende missiel se hitte-sensors te verwar.
“Wat de joos…”
“Kaptein, ’n fakkel het reg voor ons geland,” antwoord ek my bevelvoerder soos dié verbete aan sy stoel vasklou.
“Missiel amper op ons!”
Ek sit die Skilpad op volstoom. Die arme roesblik protesteer met die klank van honderd krake en klonk-geluide. Die reaktor is reeds besig om te veel hitte te genereer.
’n Geweldige slag ruk die aarde agter die Skilpad.
“Missiel het ’n fakkel gekies. Geen skade…”“Teiken op ons drie-uur. Lyk soos vier kussingtuie,” onderbreek Saratoga vir Tex.
Die VWS begin weer sy gekerm.
“Magtig! Watter tipe?” bulder Kaptein Falck.
“Weer hitte-soekers. Twee,” antwoord Tex.
“Aktiveer M.A.1 weer…”
Ek hoor die vuurkapsules weer afvuur.
“Twee teikens beur direk op ons af en die ander twee probeer ons omseil,” gaan Tex voort.
Ek sien weereens een van die bliksemse fakkels te naby aan ons land.
“Saratoga! Probeer jy die missiele na ons toe lok?!” roep ek vererg uit.
“Tex was veronderstel om die afleier te herstel…” antwoord sy vererg terug.
“Nie nou nie!” snou Falck ons toe.
Ek gooi weer ’n wilde draai. Ten minste so wild as wat tagtig ton geroeste metaal kan draai. Ek weet die geskuttoring se stabiliseerders moet oortyd werk om my rowwe bewegings teen te werk, maar dis ten minste een deel van die Skilpad wat goed onderhou word.
“Ek het die teikens op 280, die ander twee is joune,” sê die kaptein.
“Merk,” antwoord Saratoga.
Ek hoor die Angel-missiele afvuur.
“Eerste missiel vat fakkel…” kondig Tex gespanne aan en ek hoor ’n gedempte ontploffing deur die pantser vibreer. “Tweede missiel is naby!”
Ek pluk hard aan die stuurstokke en die Skilpad swaai om, ’n volle 180 grade.
Dit is egter nie genoeg nie. Die missiel tref ons skrams teen ons geskuttoring.
“Hond!” hoor ek vir Falck uitroep.
Terwyl die Skilpad nog vorentoe en agtertoe op sy kruiperbande wieg, hoor ek hoe Saratoga met die Brolloks lostrek.
Rat-ta-ta-ta-ta-ta-ta…
Ons geskuttoring het die dikste pantser, maar ek sien ’n waarskuwingsliggie het wel aangegaan op een van ons vier stuwers.
“Teiken gemerk, maak gereed, vuur!” bulder Falck, nou woedend.
Dis nie lekker om in die geskuttoring te sit wanneer missiele op jou neerreën nie. Jy voel soos ’n muis wat binne ’n sokkerbal beland het.
Toe Falck Grietjie se sneller trek, ruk die tenk weereens. Ek kan die ontploffing op die voorste skerm sien. Dis eienaardig hoe mooi ’n plasmawolk lyk wanneer dit twee irriterende kussingtuie die niet inblaas. Falck lag gelate.
“Nog een moer toe!” kondig Saratoga aan. Die Brolloks het blykbaar sy teiken ook gevind.
“Ek hou daarvan as jy vuil praat…” sê ek.
Ek is verlig toe ek haar saggies hoor lag.
“Vierde teiken is besig om die hasepad te kies, Kaptein,” kondig Tex aan.
“Laat ek sien…” mompel Falck en ek hoor hoe die hele geskuttoring op sy as draai. Ek weet hy wil weer vir Grietjie laat sing. “Te vêr…” sug hy uiteindelik.
Almal ontspan so ’n bietjie. Ons begin ons stelsels nagaan. Daar is ’n redelike hoeveelheid skade aan ons pantser op die geskuttoring, maar dit is alles binne veilige perke. Meer kommerwekkend is die skade aan ons linker-agterste stuwer. Tex het self gaan kyk en kom terug met ’n frons.
“Sy sal werk… waarskynlik.” Hy klink glad nie oortuig nie.
Dit vat nie lank voor ons begin bespiegel oor die aard van ons verwelkoming op Proxan Delta nie.
“Die rowers het waarskynlik hulle eie soekgeselskap gestuur,” meen ek, terwyl my hand binne my rugsak vroetel vir iets koud en verbode.
“Waarskynlik,” stem Saratoga saam. “Dis bietjie kommerwekkend dat hulle nie die woud ingevlug het nie.”
Dis waar, dink ek en wil net die botteltjie uithaal vir ’n vinnige slukkie toe ek die kaptein se agterdogtige frons sien.
Ek word aangesê om weer koers te kies in die rigting van die punt waar Kruger en sy soldate die oerwoud binnegetree het. Terwyl die Skilpad ry neem Saratoga die navigasie-rekenaar by Tex oor terwyl die snotkop die interne bedrading van die stuwer, agter in die tenk, nagaan.
Hoe nader die oerwoud kom, hoe stadiger wil ek ry. Die bome begin nie geleidelik en raak dan digter nie, maar begin eensklaps soos ’n massiewe groen muur.
“Soek vir ’n spoor, Saratoga.”
“Reg,” antwoord sy. Ek kan hoor sy is weer gespanne.
“Hier is versteurings op die grond voor ons. Ons spoorsnyer-program het vier verskillende tenk-spore geïdentifiseer, net buite die woud. Lyk soos ons ouens. Daar is twee ander tipes spore ook. Lyk soos vierbeen-robotte. Tar of rower-tipes.” Saratoga rapporteer haar bevindinge in ’n saaklike stemtoon. “Die spoor loop egter dood sodra dit die woud binnegaan.”
“Ons sal maar moet kyk of ons self die spoor kan sien. Ses 50-ton voertuie kan nie deur so ’n bos beweeg sonder om skade aan te rig nie,” sê die kaptein na hy vir ’n rukkie getop het oor die saak.
“Sal ek die vensters oopmaak?” vra ek.
“Ja,” antwoord Falck.
Ek druk ’n paar knoppies op my paneelbord en twee plate pantser verskuif – een op die geskuttoring en een voor my gesig – sodat dit versterkte glas ontbloot.
Dit stilte daal neer op ons geledere namate die reusagtige bome voor ons sigbaar raak. Daar is ’n opening voor ons, maar die bome aan weerskante lyk asof hulle oor die ruimte neerbuig, asof hulle ons uitdaag om hulle koninkryk in te val.
“Wees gereed met die Brolloks, Saratoga. Grietjie en ons missiele gaan nie baie in hierdie ruigte kan vermag nie,” beveel Falck.
“Reg, Kaptein.”
Ek hoor hoe suis Grietjie bokant my kop. Die groot loop word korter gestel sodat ons nie teen bome daarmee bots as die geskuttoring draai nie. Toe ek gesê het daar is ’n opening voor ons, het ek eintlik net bedoel dat daar baie minder bome en bosse groei – nie dat daar ’n afwesigheid van plantegroei is nie. Ons gaan nie vinnig kan vorder nie.
“Ek aktiveer ons bos-modus,” kondig ek aan.
Nog ’n paar knoppies word getik en binnekort skuif daar ’n stootskraper-skottel en ’n enorme kettingsaag by die Skilpad se neus uit. Die kettingsaag kan bome teen tien kilometer per uur uit die wegruim. Die skottel stoot enige ander hindernisse uit die pad. Teen die groter bome staan ons natuurlik geen kans nie. Sommige van die reuse is oor die een honderd meter hoog.
“Gichi-manidoo, Nwaandawag noodinong, Miinawaa bimaadiziwin… akiing etood… Bazindawishin!…”
Ek hoor Saratoga se fluister-gebed agter my. Gewoonlik as sy in Ojibwe begin praat is dit vir een van drie redes. Of sy bid dat die Groot Gees haar (miskien ons ook?) sal beskerm omdat ons knie-diep in die kwarra is, of sy gee ’n dankgebed omdat ons so pas uit die knie-diep kwarra gekom het… of laastens omdat sy op my vloek. Ons het ’n verstandhouding dat ons nie haar woorde met een van ons vertalers – wat soos dun halskettinkies om ons nekke hang – sal vertaal nie. Saratoga is erg oor haar kultuur. En as jy nog nie agtergekom het nie, is ek erg oor Saratoga.
Dit gesê, so mal as wat ek is oor haar mooi taal, is dit 66.666% van die tyd nie ’n goeie teken as sy dit begin praat nie.
En ek weet hoekom. Daar is iets neerdrukkend en donker omtrent hierdie oerwoud.
Ek stoot die Skilpad in die rigting van die minste weerstand. Twee dunner bome kry die eer om my saag se eerste slagoffers te wees.
Die saag haak plek-plek vas.
“Tex, wees gereed om die saag te gaan herstel. Iets klink nie lekker nie,” waarsku ek vir die snotkop sonder om na agter te kyk. Ek hoor Tex se paniekerig ‘a…’ en dit laat my darem bietjie glimlag.
“Sensors tel ’n metaal voorwerp op…” sê Saratoga skielik.
“Ek sien dit… reg voor. Lyk soos ’n geskuttoring,” onderbreek ek haar.
“Nee, daar is nog ’n metaal voorwerp op 35 grade,” sê sy, “en… wag… wag-wag-wag… daar is oral stukke metaal.”
“Halt die tenk, Luitenant!” beveel Falck.
Ek bring die twee kruiperbande tot stilstand. Die fusie reaktor se lae gebrom is al wat die stilte nou versteur. Die kaptein begin die geskuttoring stadig in die rondte draai. Ek volg dit wat hulle sien deur na die tweede skerm op my paneel te kyk. Die Skilpad se rekenaar identifiseer verskillende anorganiese materie deur dit in geel te omlyn.
“Definitief Arwantynse gereedskap… ook die rowers s’n… Volgens die rekenaar se beramings lê hier omtrent ses verskillende voertuie se wrakstukke,” rapporteer Tex.
Ons staan in die middel van ’n begraafplaas.
Kaptein Falck fluit laag.
“Aktiveer elke sensor wat ons het. Ek wil geen verassings hê nie.”
Ek kyk maar deur die venster. Die ander twee sal sy bevele gehoorsaam. Ek kyk weer na die geskuttoring wat onderstebo half-binne ’n groep struik plante lê.
“Geen gate of skade wat deur wapens veroorsaak is nie,” sê ek terwyl die ander twee nog besig is met hulle skanderings. Ek kan aanvoel hoe hulle agter my skielik opsit. “Wat van julle?”
“Skakel oor na teleskopiese hoë-definisie optiese sensors,” beveel Falck.
“Reg, Kaptein,” antwoord die ander twee gedemp, asof uit een mond.

Ek en Falck wag.
“Ek kan ook geen laser skade, koeëlgate of brandskade opmerk nie,” rapporteer Saratoga met ’n huiwering in haar stem en ek verwag amper dat sy weer met een van haar gebede gaan begin.
“Selfde hier,” voeg Tex by.
“Soek vir bio-wapen spoorelemente,” beveel Falck en ek verwonder my aan die man se kalmte.
Weereens kom die antwoord terug as ’n definitiewe ‘nee’. Falck se laaste bevel is nie bedoel om die oorsaak van die skade op die voertuie vas te stel nie – biologiese wapens kan nie tenks uitmekaarruk nie – maar dit is ’n belangrike voorsorgmaatreël wat getref moet word as ons…
O drak. Nou weet ek wat sy volgende bevel gaan wees.
“Wel, daar is net een oplossing. Ons moet uitklim en te voet ondersoek instel.”
Ek laat sak my kop. Miskien is daar nog ’n kans vir my…
“Dus ek en jy, De Jager,” beveel hy.
Dubbele donnerse drakke met Liewe Langenhoven sommer daarby…
“Saratoga, jy volg ons met die Brolloks. Tex, hou al die sensors besig. Geen verassings nie, boetman. Géén verassings!”
Ek sug. As ek gisteraand net ’n bietjie meer mampoer gesluk het, was ek miskien gehospitaliseer en was ek nie nou hier gewees nie.
En hulle sê alkohol is ’n euwel…
Ek maak die gespes van my harnas los, swaai my stoel om en stap geboë verby Saratoga en Tex. Saratoga knik vir my met ’n ernstige uitdrukking. Ek verkies kwaai-Saratoga veel meer as empatie-Saratoga. Empatie-Saratoga laat die gevaarligte in my tere verstand net nog helderder opflikker.
Toe ek agter in die beknopte vragruim kom, is Kaptein Dapper besig om sy TX pantser-eksoskelet aan te trek. Die ding weeg omtrent eenhonderd kilogram en het bioniese gewrigte wat sy spierbewegings aanvul. Ek kies die ligter LX-pak. Dit weeg net vyf-en-dertig kilogram en het minder pantser, maar dit verhinder nie my spoed soveel nie.
Ons gryp M55’s – groot gewere met twee lope, een vir die 5.56mm masjiengeweer en een ’n Kobra lasergeweer. Ek gaan my battery na asook die groot magasyn se patrone wat onderaan die geweer vas is. Ek het bietjie meer plek aan my pak vir iets ekstra en skuif ’n groot jagmes – eintlik meer soos ’n klein swaard – in ’n skede agter my rug in. Kaptein Macho grinnik spottend vir my en gaan staan voor die valdeur wat agter teen die Skilpad se gat wag. Sy enorme stewels klonk-klonk soos klokslag met elke tree wat hy neem.
Ek haal diep asem en gaan staan langs hom.
Ons gaan ons helmvisiere na.
“Beheer, kan julle ons kameras optel?” vra hy saaklik.
Ek hoor Tex se stem oor die oorfoon in my helm bevestigend antwoord. Sy stem klink verdomd vêr weg. Nooit gedink ek sou na Snotkop verlang nie. Die klein gatkruipertjie…
En ek is nog nie eens by die Skilpad uit nie.
Kaptein Falck druk teen die paneel langs die deur en die Skilpad se gat skuif krakerig oop. ’n Valbrug sak vanaf ons voete skuins af na die grond. Ons begin afloop.
Om so tussen die reuse te stap laat ’n mens vinnig baie nietig voel. Soos ’n mier wat homself in die middel van ’n skare mense bevind.
“Kom ons gaan na die voorpunt en gaan kyk na daardie geskuttoring.”
Ek volg op die man-robot voor my, probeer om heen-en-weer te kyk in die skraal hoop dat die ouens binne die Skilpad my beeldmateriaal nuttig sal vind. Miskien sien hulle iets wat ek miskyk. Ek vermy om na bo te kyk. Die bome maak my duiselig as ek my kop lig.
Die Skilpad se fusie reaktor is net-net hoorbaar in die stilte van die woud soos ek verby die enorme tenk skuif. Soos ek by die neus verbybeweeg, loer ek na die kettingsaag. Daar is verskeie wortelagtige takke wat rondom die stuk masjinerie gekoek sit. Dit lyk eienaardig genoeg om my die koue rillings te gee en ek hoef niks te sê nie, want ek weet die ouens in die Skilpad het dit ook gesien. Dit verduidelik hoekom die saag so dikwels vasgesteek het.
Die kaptein sit so bietjie vas in ’n bos en ek kies ’n ompad. Sy versterkte bioniese spiere begin die takke breek, maar ek kom by die geskuttoring uit voor hy halfpad deur die bos gestoomroller het. Die geskuttoring behoort aan ’n Arwantynse DR-8 tenk, oftewel ’n Draak-tenk – soos hulle in die weermag bekend staan. Dit is ’n moderne en gedugte ligte tenk, een wat selfs die Skilpad op sy eie sou kon aanvat. Twee Drake sou ons Skilpad laat bloed sweet. Soos ek tevore gesê het, lê hierdie geskuttoring onderstebo en ek kyk na die verwronge metaal wat die as van die geskuttoring uitmaak. Geen brandmerke.
“Liewe Langenhoven, Kaptein. Hierdie ding is losgeskeur.”
Ek hoor hoe Falck hygend en strompelend by my opdaag. Hy staan ’n ruk stil en beskou die skade aan die as.
“Wel, kom ons kyk binne.”
Ek het gehoop hy sou sommer self kyk. Maar nee…
Ek voel my hart so ’n skop gee toe ek oorleun en in die donker gat kyk. Daar’s baie bloed.
“Sjoe…” hoor ek Tex fluister oor my oorfone.
Ek tik aan die kant van my helm en een kant van my visier se glas word oorgesit na warmtebeeld-modus. Die enigste warm kleure is die plekke waar die sonlig deur die lower gebreek het en die metaal verwarm het. Kaptein Falck leun doodluiters vooroor en steek sy kop in die gat.
“Niemand tuis nie.”
Sy kommentaar het nie juis ’n gerusstellende effek op my nie.
“Luitenant, kyk bietjie na die rand van die gat…” sê Saratoga in ’n nuuskierige stemtoon.
Normaalweg sou ek nou iets parmantig sê, maar vandag voel ek dit net nie. Seksuele innuendo’s het hulle plek. Vandag weet selfs ek dit.
“Met watter sensor?” vra ek.
“Net op versterkte grote, normale optiese lens.”
Ek sien dadelik waarna sy kyk. Aan die rand van die gat, daar waar die as se verwronge metaal soos die onreëlmatige tande van ’n oerdier na bo wys, is orals afskraapsels van een of ander plant.
“Dit lyk soos boombas wat afgeskraap het,” merk sy op.
“Miskien toe die geskuttoring gesleep is? Of deur die lug getrek het en toe op die grond geval het?”
“Miskien, Luitenant…” Mensig, ek wens sy sou ophou om my Luitenant te noem! “…kyk of jy nog daarvan binne die geskuttoring opmerk.”
“A…” ja, natuurlik sou sy so iets voorstel. Dis immers nie haar nek nie! “Reg dan…”
“Blerrie rankplante…” hoor ek my kaptein afgetrokke en geïrriteerd mompel.
Ek kyk vlugtig na hom en sien hoe hy sukkel om drie wortelagtige slierte van sy eksoskelet af te skeur. Ek ril.
“Die goed bekruip mens stilletjies en dan suig hulle vas,” sê hy en gooi die laaste een na eenkant toe. “Ons sal moet versigtig wees. Hier vreet die bos mens sommer op.” Hy kyk op na my en ek kan die sweet op sy gesig deur sy helmvisier sien blink. “En vir wat staan jy nog daar? Klim binne, jy’t mos gehoor wat die Pêlidygi gesê het.”
Ek salueer spottend en hoor hoe Saratoga hom weereens korrigeer.
Wel, daar is nie veel aan die saak te doen nie. Weereens gaan die Vuilnekke op die verblindende ratsheid, onvervangbare vernuf en onwrikbare dapperheid van ene Luitenant Helgard de Jager staatmaak. Ek klim op die rand van die geskuttoring, loer in die gat, hou my M55 styf vas en spring in. My helmvisier aktiveer die infrarooi-modus die oomblik toe my stewels op die ongelyke oppervlakte grondvat. Die donker word dadelik na ’n groen daglig omskep.
Alles is onderstebo. Die geskuttoring huisves gewoonlik net een kanonnier en ek sien sy stoel reg voor my. Daar is skrape en skeure teen die stoel. Ek skuifel nader.
Ek hoor Tex weereens fluit.
Die gespes is losgeskeur.
“Dit lyk na dieselfde plantweefsels. Kyk na daardie gespes,” sê ek en wys met my vinger na die randte van die gespes soos hulle van die ‘plafon’ – waar die stoel onderstebo is – afhang.
“Bliksems! Hierdie goed hou baie van my TX-pak,” hoor ek die kaptein brom.
Ek klim uit, versigtig om nie snywonde op te doen op pad uit nie en sien hoe hy nog twee ‘rankplante’ van sy bene verwyder.
“Miskien moes jy ook ’n mes saamgebring het.”
“Baie snaaks, Luitenant,” blaf hy terug.
Ek glimlag, verlig om uit die geskuttoring te wees. My helmvisier het weer sy normale optiese beeld verkies. Ek kyk ’n bietjie rond. Iets vang my oog.
“Kaptein, ek dink jy sal so bietjie moet wegbeweeg. Die bos agter jou wemel van die lewe.”
Hy draai om. Die bos waar ons verbygekom het, is besig om verskillende wortelagtige ‘voelers’ na Falck uit te reik. Die goed seil oor die blare en tussen die takkies van die oerwoud se vloer. Dis duidelik dat hulle spesifiek na Falck se posisie mik.
“O ja? Julle klein bliksems!” roep hy gelate uit en lig sy regterarm in die bos se rigting terwyl sy M55 in sy ander hand bly.
Ek weet wat kom.
Op sy TX-pak se voorarm gaan ’n kleppie oop en skielik spoeg daar ’n enorme straal vuur uit. Die bos slaan dadelik aan die brand en die voelers trek terug en krioel vir ’n paar sekondes voor hulle ook uitdroog en begin brand.
“Miskien nie die beste idee wat jy al ooit gehad het nie, Kaptein. Ek is seker hierdie woud sal nog baie soortgelyke organismes huisves. Hopelik kommunikeer hulle nie met mekaar nie,” protesteer Saratoga dadelik oor ons oorfone.
“Hou jy maar net jou oë oop, Saratoga. Tex, nog niks op die sensors nie?”
“Nie op die warmtebeeldkamera of radar nie, maar wel op ons bio-energie sensor, Kaptein.”
“Wel, natuurlik. Ons staan in die middel van ’n oerwoud!”
“Ja, Kaptein, maar ek het die lesings vergelyk met dié van ander woude op ons databasis en hierdie woud is definitief baie ryker in bio-energie as enige ander woud wat ons al teëgekom het. Soortgelyk aan die Groenland woud op Arwantië.”
Ek kan die bewing in Tex se woorde duidelik optel.
“De Jager, kyk af,” sê Falck skielik.
Ek kyk af en sien twee van die voelers – wat van agter my aan die ander kant van die geskuttoring geseil het – om my bene vat-vat. Die mes is uit sy skede binne ’n japtrap en ek kap dat die groen sop so spat.
“Jig!” ril ek en spring af voordat ek van die wrakstuk aftuimel. “Hier moet baie sulke bosse wees. Kan ons nie maar inklim nie?”
“Nee,” sê Kaptein Hardkoppig en stap verby die smeulende bos. “Kom ons gaan kyk na die ander stukke. Hou jou mes net byderhand.”
Fantasties.
“Reg, Kaptein.”
Ek slaan in die teenoorgestelde rigting koers in. Kort voor lank kom ek by ’n meganiese been uit.
“Die rowers het ook nie so goed daarvan afgekom nie,” mompel ek en stap verby.
So ’n paar meter voor my sien ek ’n weerkaatsing agter ’n groot bos skitter. Ek kap ’n paar takke en rankplante uit die pad en stoei so ’n bietjie, voor ek uiteindelik deur die bos kom. Die torso van ’n vierbeen-robot lê op sy neus en leun teen ’n massiewe boom. Die ronde toeskroef-deur staan oop. My oë volg die swart en wit strepe wat orals op die bakwerk aangebring is. Die rowers is lief vir allerhande graffiti en ‘versieringe’ op hulle voertuie. Hierdie een het ’n paar skedels – mens en dier – wat met draad vasgeryg is aan die kante. Ek sien eienaardige leer-velle wat plek-plek vasgebout is.
“Dis nie wat ek dink dit is nie, is dit?” vra ek.
“Ek is bevrees dit is,” hoor ek Saratoga antwoord. Haar stem klink hard.
Soos ek het sy geen liefde vir ruimterowers of Tar nie. Ek probeer die mens-velle ignoreer en loop nader sodat ek binne die oop deur kan inloer. Net voor ek by die opening kom, sien ek ’n kleur uit die hoek van my oog wat nie by die oerwoud se kleurskakerings pas nie. Ek draai vinnig in daardie rigting en lig my M55 op sodat ek kan lostrek as dit nodig is. My helm tel die skielike beweging van my M55 op en aktiveer die geweer-en-teiken-visier sinchroniseerder – of GTS – en ’n neon-geel kruisdraadjie verskyn op my helmvisier wat duidelik vir my wys waar my M55 se skote sal land. My ammunisie en pantser statistieke word ook sigbaar bo-links op my helmvisier.
Dis ’n lyk.
“Kaptein,” sê ek.
“Wat?”
Ek sien nog ’n klein liggie skyn op my helmvisier en weet dat Falck besig is om deur my helmvisier te kyk.
“Ek kom,” sê hy en ek hoor hoe die bosse agter my begin kraak.
Ek loop nader aan die lyk, na ek weer ’n voeler van my been met die mes afkap, en stop toe ek die gesig van die lyk sien.
“Sy oë…” fluister Tex ontsteld oor die oorfone.
Die man sit half teen die stam van ’n groot boom. Sy oë is uit die oogkasse en donker strepe swart sit droog gekoek oor sy vinnig-ontbindende en opgeswelde gesig.
Sy arms is ook af.
“Magtig, maar ek is bly ek hoef nie hom te ruik nie,” sê Falck toe hy langs my kom staan.
Ons helms filtreer die lug voor ons gesigte al die hele tyd sedert ons die Skilpad verlaat het. Dit is duidelik ’n rower waarna ons kyk. Sy uniform is rooi, swart en geel en nie die kenmerkende kamoeflering van ’n Stormtroep nie.
“Geen koeël of laser-gate sigbaar nie. Hy het waarskynlik van hierdie wonde gesterf,” sê ek maar om die stilte te verbreek. “Vullis.”
Ek voel drukking om my bene en buk dadelik af om weereens van die voelers af te sny. “Dink jy hierdie voelers kan dit aan ’n mens doen? Mens so uitmekaarskeur?”
Falck kyk om hom en sien hy sit ook weer vas. Hy begin met sy versterkte ledemate die voelers afskeur.
“Miskien as daar groter voeler-plante is. Maar ek weet darem nie van die tenks nie. Dit sou moerse voelers moes wees om daardie skade te vermag,” antwoord hy.
“Kaptein, daar is moeilikheid hier!” roep Saratoga ons skielik en ons albei swaai om en sien hoe tien-talle voelers tussen ons kruiperbande se wieletjies en skakels ingewikkel het.
“Wikkel de Jager!” blaf Falck op my, maar ek is reeds halfpad daar.
Ek hardloop na die ander kant van die Skilpad en begin liewers daar met die mes sny, want ek weet Falck gaan sy vlamwerper gebruik. Ek kap en sny vir ’n vale en hoor die ‘woosj!’-klank van die vlamwerper aan die ander kant, maar sodra ek een voeler afkap ontdek ek nog twee wat teen die Skilpad ‘oprank’.
“Staan opsy,” bulder die kaptein en ek spring agteruit net betyds om nie self gebraai te word nie. “In, ons moet hier uit!” beveel hy terwyl die vuur by die voorarm van sy TX-pak uitvloei soos ’n goue straal.
Ek haas myself na die agterstewe toe, skiet met die M55 se laser op ’n groterige paar voelers wat tussen my en die deur rank en hardloop teen die laaibrug op. Toe ek vlak binne die Skilpad se vragruim kom, swaai ek om en sak binne die knielende skietposisie. Die M55 se groen strale vlek deur die lug soos ek probeer om die lewendige bos van ons agterdeur af terug te hou. Ek probeer om genoeg spasie te los vir die kaptein sodat hy onverhinderd kan inklim. ’n Bol vuur ontplof reg voor die deur en ek beland op my rug. Daar is ’n paar vlammetjies op my pak wat ek dadelik met my hand probeer uitdoof. Ek kyk op en sien Falck deur die vuur oor die laaibrug aangestorm kom. Hy duik binne die veiligheid van die deur en my hand skiet na die knoppie op die paneel langs my. Die laaibrug word ingetrek terwyl die groot deur toeskuif.
Ons kom albei smeulend orent en kyk na mekaar.
“Hou vas!” hoor ons Saratoga se stem binne ons helms.
“Wat is dit?!” hoor ons Tex uitroep.
“Nie nou tyd nie!” snou Saratoga hom toe.
Tex en Saratoga skree op mekaar en ek en die kaptein moet net vasklou soos die Skilpad begin skud en vibreer.
“Ons kan nie vorentoe of agtertoe nie. Ek gaan die verbranders aansit!”
O drak.
Saratoga gaan probeer om die Skilpad te laat opstyg deur die vier stuwers aan te sit. Die kaptein probeer sy pantser uit te trek in die chaos en geskommel binne die vragruim. Ek smyt my helm eenkant, los my M55 ook en struikel kajuit se kant toe. Skielik val ek hard teen die deurkosyn wat tussen die vragruim en die kajuit is toe die Skilpad begin lig. Die geraas van die stuwers is oorverdowend en ek kan duidelik hoor hoe hard hulle moet veg teen swaartekrag – om nie eens van die voeler-plante te praat nie. Ek voel my een oog toeswel waar ek die deurkosyn se hoek opgesoek het en kruip maar handeviervoet die laaste paar meter tot binne die kajuit. Ek kom verby Tex wat krampagtig oor sy instrumentepaneel sit en sweet, tot waar ek vir Saratoga sien sit in my bestuurderstoel.
“Die stuwers brand van die takke weg, ons is besig om te wen!” roep Saratoga en daarna hoor ek hoe sy haar tande kners en kreun terwyl sy met die stuurstokke stoei. “Komaan jou teef!”
Skielik is ons los en ek val vir ’n tweede keer – hierdie keer tref my mond die metaal van Saratoga se stoel se leuning.
“Drak!”
“Waarom ruk ons so?!” roep Saratoga bo die geraas.
Ek probeer by die kaptein se stoel uitkom sodat ek darem kan vasgespe.
“Stuwer 3 sukkel!” antwoord Tex. “Die giroskoop probeer ons balanseer…”
Stuwer 3 is die een wat tevore beskadig is. Ek hoor ’n slag, gevolg deur nog ’n slag en toe ruk die Skilpad dat die trillings reg deur die kajuit gevoel kan word. Skielik sak ons agterstewe. Ek hoor die kaptein vloek en sien hoe hy agteruit gly, al die pad terug tot binne die vragruim.
Ek self maak dit net-net binne sy stoel en gespe vas.
Nou, ek weet dit is ’n ongeleë tyd, maar as ek nou so ’n klein slukkie mampoer kon ingekry het, sou dit wonders gedoen het vir my senuwees.
Ek skuif die teiken-kopstuk – wat bo my kop vanuit die geskuttoring hang – bo-oor my kop en skakel dit aan sodat ek ’n beeld kan kry van wat buite om ons aangaan.
Ons is tans so tien meter bo die boonste bome van die woud. Die Skilpad is besig om sukkelend heen-en-weer te vlieg. Ek aktiveer die agterstewe se kamera – of ‘gatkam’ – en sien dadelik swart rook by een van die stuwers uitborrel. Ek aktiveer die neuskam en sien net groen waar ek kyk.
Groen is waar ons nie wil land nie.
“Ons is besig om te daal!” roep ek uit toe ek die feit agterkom.
“Ek weet!” antwoord Saratoga kwaad.
“Ek verkies om te land buite die donnerse woud!”
“Ek weet!” kap sy terug. “Ons gaan dit nie maak nie… te vêr van koers af…”
My maag draai soos ek die groen dak van die oerwoud sien nader kom. Dit lyk asof die boomtoppe met hande na ons toe opreik om ons vas te gryp. Swart gapings tussen die onderskeie bome word sigbaar en nou lyk dit weer asof die oerwoud kake het wat ons wil insluk.
“Hou vas!” roep Saratoga uit. Eintlik heel onnodig want dit is al wat ek doen.
Ek kry drie beelde wat kort op mekaar voor my geestesoog verbyflits.
’n Seuntjie wat ’n winkelvenster met sy kettie stukkend skiet.
’n Groot bottel van Oom Servaas se mampoer wat glinster in my hand.
Saratoga Pêmidygha, haar swart hare wat in die wind voor haar gesig verbysweef terwyl sy vir my glimlag.
Die Skilpad kreun en skud. Die geweld van die slag ruk my asem uit my borskas uit. Ek is vaagweg bewus daarvan dat niemand skree of vloek nie en vir een of ander rede maak dit my selfs meer beangs. ’n Finale, aardverskuiwende slag ruk my so hard dat ek een van my ribbes voel kraak. En tog… en tog…
…bly ek lewe. Die liggies binne die kajuit flikker almal uit en ek hoor die fusie-reaktor afskakel. Dit word stil.
Ek wag.
Niks gebeur nie.
“Almal nog reg?” vra ek. My stem klink snaaks vir my. So asof ek nie werklik die woorde self gesê het nie.
Ek hoor Tex brom, maar Saratoga bly stil.
“Noodligte aan!” roep ek en die kajuit word dadelik in ’n dowwe rooi lig verkleur. Ek maak my gespes los, snak na my asem toe my ribbe vir my laat weet hy is nie tevrede met sy behandeling nie en ek sak van die stoel af tot op my knieë. Ek kruip na die voorste stoel. Saratoga lê vooroor op die stuurmeganismes. Ek leun haar versigtig terug en vee haar klam haar-slierte uit haar gesig. Haar neus bloei en haar oë is toe.
“Opstaan, Pêmidygha. Komaan, Luitenant, jy kan nie nou slaap nie,” fluister ek vir haar.
Ek hou haar gesig tussen my twee hande. Sy maak haar oë stadig oop.
“Dis beter,” sê ek verlig.
Sy kyk bietjie rond en ek los haar gesig, skielik ongemaklik. Sy kreun en sit effens meer regop in haar stoel. Toe sy weer na my kyk glimlag sy.
“Seker gedink ek gaan jou toelaat om my mond-tot-mond te gee, of hoe?”
Ek glimlag terug. “Ek moet erken die gedagte het by my opgekom.”
Ek sien ’n mengsel van skok en vrees en dankbaarheid en… iets anders in haar oë. Vir die eerste keer vandag voel ek nie lus vir mampoer nie.
Ek help haar met haar gespes.
Tex lyk bleker as gewoonlik. Dus lyk hy soos ’n spook. Maar ten minste het hy nie enige beserings opgedoen nie. Die kaptein is bewusteloos en toe hy wakker word ontdek ons hy het sy arm gebreek. Ek bewonder die man se pyndrumpel terwyl ons sy arm reguit stel en met ’n bioniese spalk verpleeg.
“Kom ons kry die reaktor weer op dreef…” begin hy sê toe ons klaar is met sy arm.
“Nee,” val Tex hom in die rede.
Ons ander drie draai verwonderd na die jong korporaaltjie.
“Wat sê jy?” vra Falck hom, skoon oorbluf deur die nuutgevonde bravado van sy getroue gatkruiper.
“Ek het vir Adam gesien,” antwoord hy en sy stem breek aan die einde van sy sin. “En Adam beheer hierdie woud. Alle elektronika moet afgeskakel word. Dit is die tegnologie wat hom kwaad maak.”
“Wie is Adam?” vra Saratoga.
Tex sak neer op die grond met sy rug teen die wand van die vragruim. Hy vryf oor sy oë.
“Adam, so lui die Obie-legende, se regte naam was Dries Viljoen.”
“Dries Viljoen, die droster wat destyds weggebreek het van die Ark-3 verkenningsvlug?” vra ek.
Hy knik.
“Einste. Saam met hom was daar twee ander mans gewees. Al drie was voormalige Ortodokse Boere – uitgewekenes. Hulle het die tradisionele lewe verruil vir die moderne lewe en hulle was deur die Trekboere verwerp. Hulle was saam met Arwan Fourie toe sy deur die sterhek gekom het, maar hulle het Arwantië nooit bereik nie . Hulle het ’n kleiner ruimteskip – ’n verkenner-klas met ’n bietjie voorraad – gesteel en die geselskap verlaat. Blykbaar was die moderne lewenstyl te veel van ’n skok gewees.”
“Nou hoe kan dit dan Adam… of Dries… wees wat jy gesien het? Jy praat van 2917! Adam moet…”
“Oor die honderd-en-vyftig jaar oud wees,” voltooi Tex my sin. “Kyk, in 2930 het ’n eienaardig man by ’n trekgeselskap opgedaag, daar op Arwantië. Hy het homself ‘Van Tonder’ genoem. Hy het nie lank geleef nie, maar het vertel dat Dries Viljoen en sy trawante op ’n ‘groen planeet’ geland het. Die man het gesê dat hy die enigste oorlewende van daardie groep van drie is. Hy sê dat Dries deel van die woud geraak het, dat die woud en Dries se gene gemeng het, dat hulle ‘verstrengel in mekaar’ was. Die oerwoud is… anders. Dis een lewende organisme. Selfs die diere is op een of ander manier deel van die woud – amper soos die onderskeie organe van ’n enorme dier. Hy het gesê dat Dries die ander man, Isak Louw, doodgemaak het. Hy het verwys na Dries as ‘die Takhaar, hoofletter T,’ en gesê dat Dries sy naam na ‘Adam’ toe verander het. Hy het vertel dat ‘Adam’ soms sy vorm kon verander… dat hy binne bome en bosse kon ‘inklim’… of so iets. Hy het gesê dat hulle stry gekry het oor die verkenningstuig, want Adam wou dit vernietig – glo omdat alle tegnologie ’n euwel was – terwyl Van Tonder en Louw nie wou ontslae raak van hulle enigste vervoermiddel nie. Louw is toe om die lewe gebring en Van Tonder het net-net weg gekom.”
“Jy praat kak,” sê Kaptein Falck uiteindelik. “Die Obies vertel nie hulle geheime en legendes vir enigiemand nie. Hoe weet jy al hierdie goed?”
Tex sug en kyk dan op na ons.
“Omdat ek self ’n Obie was… is.”
Stomgeslaan.
Ons.
“My tekkie… is ’n Obie?” mompel ek eerste, want kyk, ek was nog nooit vir te lank stomgeslaan nie.
Hy knik en staan op. Falck se mond is nog oop en Saratoga se frons wys sy’t self nog nie heeltemal tot verhaal gekom nie.
“Snert,” sê Falck oplaas, maar daar is genoeg onsekerheid in sy stem.
Tex staan stadig op en kyk ons een-vir-een in die oë.
“Ek is ook uitgeskop. Ek was ’n verleentheid vir my mense gewees. Was te lief vir tegnologie… eintlik was dit meer soos ’n verslawing. Die Ortodokse Boere is soos die Amish, hulle wette staan al vir eeue. Ek is toe as uitgewekene na die stad toe, waar ek vinnig moes leer lieg oor my verlede. Ek het selfs my persoonlike data-legger vervals.” Hy lig sy hande na weerskante toe en trek sy skouers op. “Luister, dit maak nie nou saak nie. Al wat julle moet weet is dat hierdie woud lewe en dat daar ’n persoon agter alles skuil wat tegnologie haat. Ek moes geweet het toe ek daardie rower se lyk op die skerm gesien het. Sy oë was uit omdat hy waarskynlik elektroniese kontaklense aangehad het en sy arms…”
“… was waarskynlik bioniese prostetika gewees,” sê Saratoga langs my.
Tex knik. “Ek het nie Van Tonder se storie geglo tot vandag nie. Nou sien ek dit was meer as ’n mite. As ons hier wil uitkom moet ons alle elektronika afskakel en te voet probeer vlug,” sê hy – in alle erns, moet ek byvoeg – en hy wys sy vinger na my. “Dit beteken ook jy moet van jou pantser ontslae raak.”
“A…” begin ek sê maar sien hoe Saratoga reeds besig is om haar kontaklense te verwyder. Ons begin al ons uitrustings nagaan. Dis verstommend hoe baie elektronika ons het. Selfs ons stewels het verskillende elektroniese deeltjies, soos die stabiliseerders en verstelbare skokbrekers wat ingebou is in die sole.
“Wat van die Skilpad?” Kaptein het weer sy stem gevind.
Tex is besig om deur die rantsoene in die vragruim te soek na iets. “Ons moet hom los, Kaptein.”
Skielik het Falck vir Tex by sy kraag beet. Die arme ou se voete hang in die lug soos die kaptein hom teen die vragruim se wand vasdruk.
“Oor my dooie liggaam,” sis hy.
“Pre… sss…” kom dit hortend by Tex se mond uit. Hy raak ietwat blou in die gesig.
Ek en Saratoga is gou by en ons kalmeer die kaptein so ’n bietjie. Tex beland weer op sy voete en vryf sy keel terwyl hy uitasem hyg.
“Presies… Kaptein. Dis of jy… of die Skilpad.”
“Ek los nie… ek kan nie… ek sal nie…” die Kaptein klink asof hy ’n woordspeletjie speel. Elke poging om sy hardkoppigheid te verwoord sodat dit instryk met die realiteit van die situasie kan kom faal op ’n skouspelagtige skaal.
“Kaptein, dit is hoogs onwaarskynlik dat ons in elk geval die Skilpad weer aan die gang sou kry,” sê Saratoga en smyt die M55 wat sy so pas opgetel het weer eenkant toe. Dit sou ’n goeie keuse as wapen gewees het as dit nie vir al die elektronika binne die laser-gedeelte was nie.
“Behalwe,” sê ek en Falck draai hoopvol na my, “behalwe as ons dit later kom haal met ’n Hercules.”
Kaptein Falck herkou die gedagte vir ’n wyle totdat hy knik en dan brommend begin soek na ’n lang mes. “Dan brand ek die hele donnerse woud tot as…”
Skielik ruk die Skilpad en ek moet keer voor ek weer met my voos gesig teen nog ’n stuk metaal beland.
“Die noodligte!” roep Tex uit.
“Noodligte af!” roep Saratoga.
Skielik is dit baie donker.
“Die woud het ons gevind. Ons moet hier uit. Onthou, messe en pistole… dis al,” sê Tex en hy skuif verby my.
Ons voel-voel ons pad na die agterste deur.
“Hier êrens is ’n meganiese hefboom wat die hidroliese arms van die deur kan aktiveer. Soek vir ’n paneel waaraan ’n sleutel hang.”
Ons almal soek in die donker vir die paneel totdat Saratoga dit vind en dit oopsluit.
“Almal gereed, ek gaan die hefboom trek,” sê sy en ons almal bevestig ons gereedheid in ’n alles-behalwe-oortuigende gemompel.
’n Suig-geluid volg en die volgende oomblik maak die agterstewe van die gehawende Skilpad oop, soos die bek van ’n groot herbivoor. Buite wemel dit van die voeler-plante.
“As julle vir Adam sien, skiet julle,” sê Tex soos die lig verblindend op ons val.
“Ons tekkie is ’n Obie?” mompel ek weer.
Ek’s jammer. Ek kan die gedagte net nie kleinkry nie.
Die laaibrug kan nie ontplooi nie, so ons moet spring tot op die grond. Ek besluit om maar eerste te spring, want ek het die grootste mes.
Ahem.
Ek beland half op ’n voeler-plant en begin dadelik kap sodat die ander ook veilig kan land. My rib protesteer vir die vale, maar die nabyheid van ’n mensvreter-woud het nogal ’n fabelagtige anti-selfbejammerende effek op ’n mens.
Saratoga is volgende, gevolg deur die ander twee. Die sop spat soos ons kap en binnekort kan ons deur ’n noue gaping tussen die plante deurkom. Ek bly langs Saratoga, want sy weet in watter rigting die rand van die woud is. Dit is altemit een van my reëls om altyd langs die Ojibwa-prinses te bly as ek my in die bos bevind. Sy klou weer aan my vas as ons in ’n stedelike gebied vasval.
Ons kom in ’n klein oopte en draai om. Die plante is orals oor die Skilpad, maar hulle doen nie veel nie. Hulle seil net lusteloos oor en weer die pantser, maar breek nie iets nie.
“Dankie tog ons het die krag afgeskakel,” fluister Tex, want Falck is nie die enigste een wat die ou stuk tenk lief het nie.
Saratoga draai weer om en ons volg op haar geruislose spore.
En toe tref die noodlot my. ’n Tragedie uit die boonste rakke. ’n Besef. ’n Verlies. ’n Hartverskeurende pyn…
Ek het my botteltjie mampoer in die Skilpad vergeet.
Ek wik en weeg of ek nie gou moet teruggaan nie, maar ek weet hulle sou my slag vir sulke waaghalsigheid. Ek doen ’n vinnige paar hoofberekeninge om te sien hoe lank dit sou vat voor ek weer ietsie koud en stout kan sluk en die antwoord is nie goed nie. Ten minste ’n dag of twee.
My kop sak.
En toe loop ek vas in Saratoga se rug.
“Kyk waar jy loop!” sis sy, maar sy draai nie om nie. Sy kyk links van ons. Ek volg haar blik met bloedbelope oë.
Ek knip my oë. Vryf dit. Ja, iets beweeg in die skadu’s tussen die bome.
“Beweeg,” fluister sy en sy begin vorentoe draf. Steeds sonder om ’n geluid te maak.
Ons mans boender agter haar aan. Ek voel die sweet in my gesig afloop en my sig belemmer. Ek hoor takke kraak en kyk weer na links. Ek kan sweer ek het ’n lae, insekagtige skadu – omtrent so groot soos ’n skaap – gesien.
O drak!
“Wat was dit!” roep Tex uitasem van agter.
Skielik bars daar ’n insek, wat baie soos ’n kokkerot met ’n suiermond lyk, deur die bos aan ons linkerkant. Dit pyl reg op ons af. Ek lig my pistool in my linkerhand en trek die sneller drie keer. Kaptein Falck skiet ook ’n sarsie met sy masjiengeweer – ek dink dis ’n ou Heckler 7.5mm. Ek sien die eksoskelet al langs die kop en torso gedeelte van die ding oopbars en geel sappe spat teen die blare. Die ding kom nog, so ons hou aanskiet. Uiteindelik ploeg dit met sy verwronge gevreet hier vlak voor ons in die grond in. Die lang bene, swart en vol hakies, voer nog ’n paar stuiptrekkings uit.
“Wat… de…” begin Tex vra, maar toe begin Saratoga hier langs my ook skiet.
In die teenoorgestelde rigting.
Ons draai om en sien twee van die enorme insekte op ons afbeur. Die bossies en kleiner boompies ruk soos die monsters ’n pad deur die woud na ons toe platdruk. Weer begin ek en die kaptein skiet. Tex se pistool begin ook in sy krampagtige hande rondspring soos hy wild skiet.
Hierdie keer moet ons agteruitbeweeg soos ons skote afvuur en slaag net op die nippertjie om die insekte te stop voor hulle ons bykom.
“Ammunisie skatting!” roep Falck uit en ons kyk vinnig af na ons wapens.
“Een magasyn,” sê Saratoga.
“Vier patrone,” sê Tex.
“Een magasyn,” sê ek.
“En ek het net ’n halwe magasyn oor,” rapporteer ons kaptein bekommerd. “Skiet netjies mense, netnou moet ons hierdie kakkerlakke kaalvuis aanvat!”
“Kom!” por Saratoga ons aan en begin weer deur die woud nael, hierdie keer baie vinniger.
Ons moet uithaal om by die ligvoet Ojibwa te bly. Daar is nie juis ’n voetpad nie en ons moet om bossies en oor stompe beweeg. Tex val plek-plek en ek moet vir Saratoga op een stadium roep om bietjie te wag.
“Hoe vêr nog?” vra Kaptein Falck toe ons papnat deur ’n besonderse bedrieglike stroompie gekom het.
“So honderd meter,” antwoord sy voor sy teen die oorkantste wal uithardloop, met my hygend op haar hakke.
So vyftig meter vêrder kom ons in ’n klein oopte. Toe Saratoga in die middel van die area kom stop sy skielik in haar spore en sak af in ’n hurk-posisie. Ek sluit by haar aan en doen dieselfde, maar mik na links. Kaptein Falck kom hurk ook en mik na regs. Tex kom uiteindelik ook in posisie en mik sy pistool na agter.
Die figure wat skielik uit die boomgrens tree lyk soos Terraanse kangaroes, met menslike koppe sonder neuse – behalwe splete wat vertikaal loop – en vlymskerp kloue vir voorpote. Hulle het nie sterte nie, maar staan gemaklik op bene wat agteruit by die knieë knak. Hulle oë is heeltemal swart en daar steek twee lang slagtande by hulle lippe verby. Die gesigte lyk eienaardig intelligent.
Daar is so tien van hulle en hulle het ons heeltemal omsingel.
“Kopskote. Grotes eerste,” fluister Falck en ek hoor hoe hy sy masjiengeweer verstel tot enkel-skoot-funksie.
Die woud-mense maak hulle monde oop en skielik word die stilte van die woud verbreek deur hulle gesamentlike kreet. Ek sien genoeg skerp tande in hulle monde om te besef ons het hier te doen met predatore. Hierdie skepsels sit heel gemaklik heel boaan die voedselketting.
Soos een man storm hulle op ons af.
In daardie oomblik raak alles vir my stil. Ek hoor of sien nie wat my kamerade doen nie. Ek sien net koppe en tande en my pistool se visier. Ek spandeer twee skote op elke kop en die pistool spring met geoefende presiesheid in my hande. Breinweefsel slinger die lug in, koeëldoppies tref my wang – waarskynlik van Saratoga se geweer – en liggame slaan voor my neer.
Toe is hulle in ons midde.
My pistool se magasyn is leeg en ek laat dit net daar val. My mes klief die lug en ’n keel word oopgekloof. Bloed – ligkleurig en pienk – spat teen my gesig. Ek beweeg laag en ek beweeg vinnig. Twee van die gediertes het vir Tex beet en ek steek een van hulle sodat die lem agter die skedel diep binne die brein penetreer. Die ander laat Tex val en spring op my. Ek beland op my rug maar kry dit darem reg om die mes binne die dier se ribbekas in te gly. Slagtande skeur deur die spiere op my linkerskouer en ek hoor my eie kreet dofweg in die chaos. Ek draai die hef en forseer die lem nog ’n paar sentimeter dieper binne sy borskas. Die liggaam verslap ietwat en die slagtande onttrek. Ek haal die mes uit en steek dit onder die ken van die woud-dier sodat dit reg deur sy mond tot binne sy verhemelte steek. Dis egter onnodig. Die ding is reeds besig om stuiptrekkings te kry. Ek rol die swaar gewig van my af en staan ietwat wankelrig op – asof dronk.
Dis weer stil. Karkasse – of noem mens dit lyke – lê orals om ons verstrooid. Saratoga is besig om na Tex om te sien – hy lyk erg geskok en sy arm bloei verwoed. Sy skeur ’n stuk van sy hemp af en wend dit as knelverband aan om die bloedverlies te stop. Falck is op sy knieë vooroor gebuig in die gras. Ek strompel na hom toe om te kyk wat ek kan doen.
Soos ek nader kom sien ek hy hou iets vas. Eers dog ek dis ’n slang of wurm en ek wonder waar hy dit gekry het. Toe sien ek dis sy ingewande.
My maag slaan ’n paar keer bollemakiesie.
“Liewe Langenhoven, Kaptein…”
Hy kyk asvaal op.
“Daai goed se naels moet geknip word…” kreun hy.
Ek haal my hemp af en sny dit oop sodat dit ’n tipe verband kan vorm. Saratoga is gou by en ons steek sy derms weer terug binne die gaping van sy maag voordat ons die verband styf om sy middellyf bind. Dis nie die eerste keer dat ek Falck se pyndrumpel bewonder nie. Die man het net een of twee keer gekreun of gevloek terwyl ons hom verbind het.
Laat dit maar gesê word: Falck is eenhonderd persent Ou Skool.
“Ammunisie… skatting…” kreun-vra hy soos ek en Saratoga vir hom tussen ons twee help loop.
Een vir een rapporteer ons ‘leeg’.
Ons trap oor die liggame en binne ’n japtrap is ons weer in die digte bos. Hier gaan dit veel moeiliker om Falck te beweeg, al probeer die ou so al wat hy kan om ons las ligter te maak. Na so twintig meter stoot hy vir my en Saratoga weg en gaan sit hy op ’n omgevalle boomstomp.
“Ek kan nie…”
“Kom, Kaptein. Dis net ’n paar meter dan is ons uit,” probeer Saratoga die ou weer op sy voete aanmoedig.
Falck skud net sy kop. Sy fut is uit. Ek kyk na Saratoga en sy kyk na my. Ek weet nie wat om nou te doen nie. Tex gaan sit ook. Hy het baie bloed verloor en lyk naby aan flou-val.
“Sou dit help as ek weereens om verskoning vra?”
Falck kyk op na my en kry dit wragtig reg om floutjies te glimlag.
“Kyk, Kaptein, jy gaan saamkom. Of jy nou wil of nie. As ek jou aan die hare moet uitsleep sal ek,” sê ek uiteindelik. Falck sug moeg en sak sy kop. Ek draai om na Saratoga. “Saratoga, vat jy vir Tex – hy gaan dit nie op sy eie maak nie. Loop jy voor, want die vet weet ek het die aansporing nodig.”
Sy knik en soos sy na Tex loop praat sy oor haar skouer, “Jy weet, een van die dae gaan ek jou nog dagvaar vir al hierdie seksuele opmerkings.” En tog knipoog sy vir my voor sy vir Snotkop weer op die been kry.
Ek sit Falck se arm om my nek en kry hom op die been.
“Jy hoef my nie te dagvaar om my in boeie te sien nie, dit doen ek sommer gratis vir jou as dit die ys in jou are sal ontvries.”
Kaptein Falck kreun langs my.
“Ek het geweet ek moes liewers agterbly,” mompel hy.
“Ag, kom nou Kaptein! Hoekom sou jy nee sê vir die vars lug en goeie oefening? Dis so ’n mooi dag in so ’n mooi woud,” kap ek terug.
Magtig die man is swaar. Ek verskuif sy gewig ’n paar keer en probeer daarna om hom so vinnig dog versigtig as moontlik vooruit te laat beweeg. My oë bly vasgenael op Saratoga wat net ietwat van ’n makliker taak het met Tex.
Wonder bo wonder vorder ons sonder verdere voorvalle totdat ons die sonlig sien loer tussen die bome en bosse voor ons. Die kaptein probeer sy bes, maar hy is half bewusteloos soos dit is.
Skielik breek ons deur die boomgrens en na ons so twintig meter gestap het, sak ons hygend en swetsend neer op die grond.
“Kan ek maar die noodsender aktiveer?” vra ek vir Tex.
My hand is op die sender se skakelaar.
Hy skud sy kop. “Nee, wag tot ons vêrder van die woud weg is.”
Ek kyk na die kaptein. Hy is bewusteloos. Ek kyk na Saratoga, sy sit en kyk na die boomgrens en haar oë is groot. Haar hele liggaam is gespanne. Ek voel my maag saamtrek en draai om.
Daar, net buite die rand van die boomgrens, staan ’n man. Hy is naak. Sy baard en lang hare lyk eerder soos dun takkies en sy oë is so helder dat ek die groen daarvan twintig meter vêr kan onderskei.
Skielik gly Saratoga op haar rug deur die gras – oerwoud se kant toe. Ek spring op en sien dat ’n tipe wortel of tak vir haar om die enkels beet het. Ek hardloop. Mes omhoog. Saratoga gil en het omgerol sodat sy op haar maag deur die glas gly, haar hande probeer haar vordering vertraag deur in die grond te ploeg.
Ek spring en kap die wortel met een beweging af. Saratoga is dadelik weer op haar voete en hardloop, maar toe ek opkyk sien ek tien-talle, nee… honderde van die tentakels by die oerwoud uitreik.
Die man staan net ’n paar meter van my af waar ek nog op die gras lê.
“’n Adam het ’n Eva nodig.” Sy stem is diep. Dit laat my dink aan ou, reusagtige bome met dik boombas.
Ek spring op my voete en sien hoe die tentakels verby my skiet om Saratoga weer te vang. Ek kap wild na hulle, maar twee van die goed tel my op en slinger my na eenkant toe waar ek hard op my beseerde skouer beland.
“Nee!” skree Saratoga.
Ek sien hoe sy weereens oor die gras aangesleep kom. Hierdie keer is daar vier tentakels om haar lyf gevleg.
Skielik hoor ek vir Tex iets uitroep. Adam kyk op van waar Saratoga voor hom op die grond lê. Ek sit op en sien hoe Tex na die twee aangestap kom. Soos hy stap praat hy, maar wat hy sê is onduidelik vir my. Hy praat in ’n vorm van die taal wat ek nog nie gehoor nie. Dis vreeslik argaïs.
Adam sê iets vir hom terug, in dieselfde dialek. Tex gaan staan reg voor hom en die twee begin met mekaar gesels. Weldra begin die takke se houvas op Saratoga verslap. Sy wikkel haar los en hardloop oor na my toe, terwyl sy een keer terugkyk na die ander twee.
Steeds praat Tex met Adam.
Ek en Saratoga retireer tot waar die kaptein nog bewusteloos in die son lê.
Na ’n ruk kom Tex na ons toe aangestap. Sy kop is vooroor gebuig.
“Wat gaan aan, Tex?” vra Saratoga.
Hy kyk op en sy oë het ’n vêraf kyk.
“Ek het met hom in ons Ou Taal gepraat. Hy het ’n sterk emosionele reaksie getoon.”
“Gaan hy ons laat gaan?” vra ek.
“Ja,” antwoord hy. “Ons het ’n ooreenkoms gesluit.”
“Watse soort ooreenkoms?” vra Saratoga.
“Hy is baie alleen. Kranksinnig en alleen. Hy het gedink die oerwoud sou genoeg wees, maar na al die jare smag hy na ’n metgesel. Dis hoekom hy vir jou wou hê, Saratoga.” Saratoga ril, haar oë flits in die rigting van die takhaar wat in die skadu’s staan en wag. “Toe hy egter my woorde hoor het hy van plan verander. Ek het… ingestem om in jou plek, gewilliglik… agter te bly.”
“Wat?!” roep ek uit.
“Is jy van jou sinne beroof,” vra Saratoga in ’n sagte stem.
“Nee. Ek was van my sinne beroof gewees om ooit my mense in die eerste plek te verlaat. Al die tegnologie was so fassinerend en aanloklik vir my gewees… maar nou weet ek dat nie alles goud is wat blink nie.” Hy vryf oor sy gesig. “Ek het ’n vol lewe met ’n vaal dop verruil vir ’n leë dop van goud. Julle sal nie weet waarvan ek praat nie, want julle is in daardie lewe gebore. Ek kom uit ’n ander wêreld, een waar vooruitgang anders gedefinieer is. Ek het dieselfde fout gemaak as Dries… daardie Adam wat daar staan. Dis nou my kans om vir my foute te betaal.” Ons wil nog protesteer maar hy skud net sy kop. “Ek weet julle verstaan nie, maar hierdie hele situasie maak sin vir my. Dit was van die begin af my lot gewees om hier vandag te staan, en hierdie keuse te maak. Vandag kan ek weer my eer terugwen.” Hy kyk oor sy skouer na waar Adam staan. “Julle moet gou maak. Netnou verander hy van plan en dan sterf almal.”
Ons staan nog stil, heeltemal oorbluf oor wat nou juis aan die gang is.
“Gaan! Nou!” skel hy uiteindelik op ons en ons ruk uit ons beswyming.
Saratoga omhels hom vlugtig en gee vir hom ’n soen op sy mond. “Dankie,” sê sy eenvoudig en draai dan om na Falck.
Ek sit my hand op sy skouer en kyk hom in sy oë. “Ons sal jou kom haal. Ons sal terugkom vir jou.”
“Natuurlik,” glimlag hy, maar sy oë vertel ’n ander storie.

“Gee my nog ’n dop.”
Ek kyk op na ek dit afgekap het. Die hele kroeg staan om my tafel. Stilswyend. Selfs die kroegman staan nie agter sy toonbank nie.
Ek wou nie onthou nie. Ek wou nie. Maar nou het ek.
“Nog een,” beveel ek.
Hulle skink. Die drank begin my verdoof. Net nog een stukkie flits voor die donker oorvat.

Toe ons uiteindelik heelwat vêrder van die woud gaan sit om te rus, sien ons niks meer langs die boomgrens nie. Ek skakel die noodsender aan en ons wag vir die Arwantyne om ons te kom oplaai. Saratoga leun teen my en toe ek weer sien lê haar kop op my goeie skouer.
“Dink jy ons gaan hom ooit weer sien?” vra sy.
Ek dink terug na die eienaardige sekerheid wat ek in Tex se oë gesien het toe ek vir hom vaarwel gesê het. Daar was ’n finaliteit in sy bruin oë gewees.
“Ek… weet nie,” antwoord ek oplaas. Maar ek weet. En ek weet sy weet ook.
Haar lang swart hare wuif voor my gesig in die briesie.

“Het jou kaptein dit toe gemaak?” vra Carel. Hy maak keel skoon want sy sin het met ’n krakerige stem uitgekom.
My kop is weer op die tafel. Ek is so moeg. So dônners moeg.
“Die militêre ouens was laat. ’n Volle dag laat. Falck het vyf-en-veertig minute voor die atmosbreker opgedaag het beswyk aan sy wonde.” Die warm gloed spoel soos branders lawa deur my are. “Magtig, hy was ’n taai bliksem.”
Stilte om die tafel. My ooglede begin hulle stryd teen die drank verloor en sak stadig af.
“Wat het van Saratoga geword?” vra iemand.
A, sien ek. Die mes se lem steek my nog een keer voor die donker kom. Saratoga.
Saratoga.
’n Troostende skouer. ’n Wit-warm maalkolk wat die gelukkigste week van my lewe was. Sonder alkohol want sy was my drank. Haar warm lyf wat my smelt. Lakens wat ons streel… Wat was dit vir jou, so terloops, gewees? Afleiding? Net nog ’n meer intense vorm van vertroosting? Wat, wat, wat?
Saratoga.
Saratoga is een oggend. Saratoga is die oomblik toe ek omrol en in die vroeë oggendskemer ’n spasie op die bed sien waar sy moes gewees het.
Saratoga is iemand wat gaan stap en nooit weer teruggekom het nie.
Saratoga is die werklike verlies wat my na Proxan Delta getref het.
Saratoga is die naam van die bootjie wat my nou wegneem.
“Weg.”

Totsiens, Tex.
Totsiens, Kaptein.
Dat ons in Proxan Delta beland het, was my skuld.
Totsiens, Saratoga, my swart-oog Ojibwa prinses.

Die donker kom. Die wind is terug in die seile van my bootjie. Die water soos swart groen duine en die lug ’n purper kleed. En ek lê opgekrul in die boeg en wonder oor die koste van ’n huurskip na Proxan Delta… Terug na die begin.

  • J.V. Van Wyk

    Dis mos nou lekkernye vir jou gedagtes, die