DIE ANDERS – Philip Brand

DIE ANDERS – 2015 © Philip Brand

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (3 116 WOORDE)

Rikkus ontwaak met die ligte hum-geluid van die N-30 model kragopwekker wat hard aan die werk is verder af in die metaal-gang buite sy kamerdeur. Hy rol sy gesig na links en dan na regs, bewus van die koue metaal wat hom omsingel, maar al blind daarvoor. Seker tyd om aan die werk te kom, dink hy terwyl hy homself optrek uit die onderste afdeling van ’n stapelbed.

Rikkus loer na die horlosie wat saggies, maar hoorbaar, tik-tok op die yster-lessenaar oorkant die bed. Dis al oor sewe.

“Robbie! Ons is laat!”

“Ai, Pappa!” kom Rikkus se vyf jarige seun se kraakstemmetjie van die boonste bedjie af, nog lekker moeg!

Het natuurlik weer heel nag lê en boeklees, dink Rikkus wanneer hy op sy voete kom en omkyk na sy seun se deurmekaar krulkop. Die kind het sy ma se hare, veral die pragtige blonde kleur. Rikkus vryf oor sy eie half-pan en kort gesnyde borselkop.

“Staan op, staan op! Dis ’n wonderlike dag!”

“Nee,” mompel klein Robbie weer van bo af.

Rikkus stap uit by die kamer en maak kaalvoet sy pad af met die lang, krullende gang tot hy ’n deur bereik met ’n blou blokkie op. In die middel van die blou blokkie is ’n spierwit prentjie in die vorm van ’n druppel. Rikkus stoot versigtig die swaar, metaaldeur oop en stap in.

Binne-in die noue vertrekkie is daar slegs twee groot krane, een met ’n rooi ring, en die ander met ’n blou ring. Regs teen die muur gryp Rikkus ’n knie-hoogte emmer van die rak af en begin dit dan volmaak met water uit die twee krane, versigtig om nie ’n druppel te mors nie.

Op pad uit by die deur, met emmer in hand, kom ’n bekende gesig die vertrek binne.

“Môre, Rikky!”

Rikkus se beste vriend, Hale, glimlag breed vir hom so as of daar niks in die wêreld is wat hom kan pla nie, en hy nie ’n bekommernis van ’n enkele dag oud het nie.

“Môre, môre! Jy ook so bietjie verslaap vanmôre?”

“Bly om te sien ek is nie die enigste een nie!”

Met ’n haastige grinnik en ’n knik is Rikkus uit by die deur en ’n paar sekondes later weer terug in sy kamer. Robbie het steeds nie opgestaan nie, sy een dun armpie wat halfpad van die rand van die bed af hang.

“Robbie!”

Die klein lyfie spring kiertsregop en net so vinnig van die bed af tot op die grond.

“Jy kan eerste bad,” sê Rikkus en plaas die emmer vol water voor hom neer.

Robbie begin met slaapoë uittrek. Rikkus gaan sit agter die lessenaar en skakel die rekenaarskerm aan om die funksioneringsvlakke na te gaan. Hy hoor hoe Robbie agter hom versigtig met ’n lap was op die matjie in die hoek van die kamer.

“Deeglik was!”

“Ja, Pa…”

Die skermvertoning op die rekenaar lyk goed na Rikkus se sin. Hy staan op en krap in sy kas op soek na klere. Hy trek homself rustig aan en gee dan vir Robbie sy dag se stel ook aan, maar eers wanneer hy homself behoorlik afgedroog het.

“Gaan Pa dan nie bad nie?”

“Ek voel skoon genoeg.”

“Nou hoekom moes ek dan?”

“Want jy was nie skoon nie.”

Robbie maak sy mond oop om iets te sê, maar sluk die woorde wanneer hy sy pa se oog vang.

Daar is ’n kraakgeluid van die deur se kant af – die interkom wat inskakel.

“Rikkus?”

“Ek luister?”

“Ek moet jou dringend sien by die kragopwekker!”

Rikkus kan die paniek in Rudolf se stem hoor. Hy loer na sy seun en voel die kwaad weer in hom opdam wanneer hy die vrees in die kleine ogies sien. Hy voel so magteloos.

“Ek is nou daar, Rudolf!”

“Ek hoop nie…”

“Dis niks! Moet jou nie bekommer nie!” Praat Rikkus vinnig voordat sy seun die sin kon klaar maak.

Robbie trek sy klere verder aan en gryp sy boeksak van die rak langs die bed af, maar die vrees bly hang in sy oë.

“Sien jou vanaand,” groet Rikkus wanneer hy by die deur is en met ’n drafstap die gang af vorder tot by die dubbele-ysterdeure van die kragopwekker.

Hy druk sy hand op die palm-skandeerder en wag tot die deure met ’n vreeslike gekraak en gekreun voor hom oopswaai, dan stap hy in. Binne is die geraas so oorverdowend dat hy soms wonder hoe sy ore dit gaan hou.

Die reuse kragopwekker staan in die middel van die ronde vertrek en draai soos ’n groot battery op ’n pen. Blou vonke skiet elke paar sekondes soos weerlig bo Rikkus se kop.

Hy hardloop tot by die glasdeur van die kantoortjie en gaan die vertrek binne. Wanneer die deur agter hom toeswaai is die geraas skoonveld. Dit neem hom ’n paar sekondes om sy ore weer aan te pas, en mooi te hoor wat Rudolf vir hom sê.

Rudolf se mond beweeg maar al wat Rikkus hoor is mompel-geluide. Hy hou sy plathand uit met die palm reguit na voor, terwyl die ander hand sy ore vryf. Hy skud so paar maal sy kop voor hy praat.

“Hoe het jy gesê?”

Rudolf plaas ’n wysvinger en duim aan weerskante van sy voorkop, sy hele gesig op ’n plooi. “Ons is in groot moeilikheid, Rikkus!”

Rikkus loer na die kragopwekker, wat op die oog af in goeie kondisie vir hom lyk, dan kyk hy weer terug na Rudolf. “Wat is fout?”

“Die spaar-bokse. Jy weet dat ons net drie het?”

“Ja?” Antwoord Rikkus, sy hart klop in sy keel wanneer hy besef wat Rudolf nou vir hom gaan sê.

“Daar moes ’n lekkasie iewers wees… Twee is dolleeg en van lyn af, die ander een onder half. Hoe meer ek probeer om die ander twee aanlyn te kry hoe meer vreet ek van die derde. Iewers het iets baie skeef geloop in die meganiese afdelings van die bou van die opwekker as ’n geheel.”

Rikkus laat die woorde eers insink voor hy op die naaste kantoorstoel gaan sit en net voor hom uitstaar.

“Hoe lank het ons?”

“As ek niks regkry nie… Dalk twee dae…”

“Ek verstaan.”

Rikkus staan op en stap uit die die opwekker-afdeling sonder ’n verdere woord, pynlik bewus van die verbasing en vrees op Rudolf se gesig.

’n Paar minute later staan hy in die spreekkamer van die gesondheids-afdeling. Hy stap deur tot by dokter Hendrikse se teater sonder om eens vir Gabby, die sekretaresse te groet.

Die gewone prentjie kom hom tegemoed wanneer hy die dokter gewaar en knik in sy rigting. Op twee beddens in die een hoek is twee bedekte lyke, die rooi kleur van bloed wat orals oor die materiaal vlek. Hier en daar is ’n onaardige geel en groen kolle aanwesig op dit wat eers ’n stel spierwit lakens was.

Hendrikse staan by ’n bed in die ander hoek van die vertrek. Op die bed lê ’n man met niks maar sy onderklere aan nie. Sy kop is kaal gesny, en wanner Rikkus hom van naby bekyk is daar absoluut niks in sy oë wat die tekens van lewe weerspieël nie – maar tog haal hy asem sonder die hulp van enige masjiene. Beide van die man se hande en voete is vasgemaak aan die bed se raamwerk, maar dit lyk nie of dit eens nodig kan wees nie.

Hendrikse haal ’n spuitbuis uit ’n laai aan sy linkerkant en vul dit met die inhoud van ’n bottel in sy ander hand. Die inhoud het ’n eienaardige ligblou kleur wat amper lyk of dit sal gloei in die donker. Rikkus wil sy teorie toets deur die ligte af te skakel, maar kry weer beheer oor sy kinderlike gedagte.

Net voor die dokter die spuit in die man se arm wil druk, keer Rikkus hom met ’n hand wat die dokter se arm terug trek. “Dis nie meer nodig nie…”

“Ons tyd is op?” vra die dokter, sy oë dood en nie geskok nie.

“Ek is bevrees dit is ’n ja. Wat ons hier gedoen het was in elk geval onmenslik en uiterse sonde.”

“Jy is te hard op jouself. Ons het die meerderheid probeer red.”

“Ten koste van soveel,” antwoord Rikkus en loer oor sy skouer na die twee lyke op die ander beddens. “En nou was dit als vir niks.”

“Niemand kan sê ons het nie alles probeer tot aan die bitter einde nie.” Die dokter sug en loer na die man op die bed voor hom met wat lyk soos vaderlike liefde, dan neem hy ’n ander spuit uit die laai en druk dit versigtig in die man se nek.

Hy maak die spuit leeg in die eerste en beste aar en gooi dit dan neer op die toonbank. Die man op die bed se oë knip nog twee maal en val dan toe. Sy bors hou op met beweeg en sy arms en bene verslap soos een wat aan die slaap raak.

“Hoe lank het ons?”

“Dalk ’n dag, maar ek sou nie daarop bargain as ek jy was nie.”

“Ek bargain nooit nie,” sê die dokter en stap na ’n spierwit kas agter die houtlessenaar in die hoek van die vertrek. “Ek het nooit op hierdie plek ge-bargain nie!”

Hy kom terug gestap na Rikkus met twee glase en ’n ou bottel whiskey in die hand. Een glas gee hy vir Rikkus en die ander hou hy self vas. Hy pluk die prop met sy tande van die bottel af en gooi vir hul elkeen ’n halfglas.

Hendrikse klink sy glas teen Rikkus sin. “Ek het lankal ’n vakansie nodig gehad!” Dan glimlag hy sy mees opregte glimlag nog ooit vir Rikkus.

Teen nammidag is Rikkus op pad na Robbie se klaskamer om hom uit te haal voordat hy die aankondiging aan die res van die populasie van die bunker maak. Hy dink weer terug aan hoe koel en kalm Hendrikse was oor dit als. Maar hoe meer hy daaroor nadink, hoe meer besef hy dat hy self nie so vreeslik geskok is oor die skielike einde wat hom in die gesig staar nie – dinge was net vir te lank te anders, so of hulle heeltemal letterlik op geleende tyd geleef het tot nou. Die laaste vier jaar was die moeilikste van sy hele lewe, en nou moet dit op selfs ’n moeiliker noot afsluit.

Net voor hy die klaskamer se deur haal gaan daar een hengse geraas af deur die gang. Die alarm weergalm en rooi ligte flits aan en af op die ritme. Rikkus maak sy oë toe wanneer hy skielik duislig raak van die flitsende ligte.

Die rekenaar-stem van die bunker se lewensstelsel begin te praat: “Please be advised, air filter #180 at entry point number four is dysfunctional – please repair! Condition critical!”

Wat de hel gaan vandag aan?

Rikkus draai in sy spoor om en begin hardloop na die hoofingang waar die naaste rekenaar nou is om ’n deegliker sigspunt te kan kry van die toestand van die filter. Wanneer hy uiteindelik by die gang uit is en die yslike, groot saal van die voordeur van die bunker haal is daar al klaar ’n klomp mense in bondels versamel, meeste met hul hande oor die ore.

“Rikkus!”

Hale se stem. Rikkus se oë vind hom en ’n paar ander manne by die groot rekenaarskerm langs die drieverdieping-hoë staal-wit deure van die ingang. Hy hardloop tot by hulle.

“Wat sê die blerrie ding?” Vra hy wanneer hy uitasem tot stilstand kom by hulle.

“Dis external…”

“Wat?” Nou is Rikkus werklik geskok.

“Dis uitwendige damage. Iets van buite het dit beskadig op so ’n vlak dat dit herstel nodig het met die hand.”

“Daar kan tog sekerlik nie iets lewend daar buite wees nie?”

“Daar was tot nou toe nog niks?”

“Dis onmoontlik!” Lig een van die ander manne sy opinie.

“Ek stem!” Sê nog een.

“Dalk was dit net iets wat op ’n kwesbare plek teen die masjien geval- of vasgewaai het?” Stel Hale voor.

Die ander stem vinnig saam. Nie een kan die benoudheid in sy binneste wegsteek nie.

Wat kan dit beteken as daar lewe daar buite is? Die rekenaar het vir die afgelope vier jaar niks geregistreer deur sy sensors, behalwe stof en wolke nie. Daar was nog geen teken van lewe nie.

“Doen ’n scan met die rekenaar. Maak vinnig!”

Hale druk spoedig met sy vingers ’n paar knoppe. Die rekenaar se skerm verander ’n paar maal, dan loop daar ’n strepie vol van die een kant na die ander. Nog ’n paar sekondes gaan verby voor daar skrif verskyn in die een hoek – te klein vir Rikkus om uit te maak van waar hy staan.

Hale en die ander staan en staar na die skerm, nie een maak ’n geluid nie, nie een beweeg nie.

“Hale? Wat sê dit?” Gil Rikkus byna oor die geraas van die alarm.

Hale draai stadig om – sy gesig skielik toe van die sweet en sy uitdrukking swaar. “Dit tel iets op…”

Rikkus forseer ’n pad deur die naaste spul manne wat om die skerm drom. Hy lees die woorde op die skerm noukeurig deur.

Life form detected…

“Na al die tyd?” Mompel hy al weet hy goed niemand kan hom hoor nie.

“Oxygen at twenty percent.” Kom die rekenaar-stem weer van iewers uit die dak.

“Ons sal iet moet doen en nou!” Praat Hale skuins agter hom.

“Ek kan julle nie daar uit stuur nie, dis onleefbare kondisies!”

“Almal gaan dood, Rikkus! Ons het die pakke!”

“Dis nie te sê die pakke gaan enigsins help nie – dis net ’n prototype!”

Hale vat hom aan die skouer en ruk hom agter toe. “Kyk agter jou! Hierdie mense het ons nodig!”

Voor hy nog kan omkyk voel Rikkus die handjie van sy seun wat in syne toevou. Hy kyk af na sy kind se vreesbevange gesig.

“Pappa, wat gaan aan?”

“Moenie bang wees nie, my kind, als sal okay wees.”

“Moenie beloftes maak wat jy nie kan hou nie!” Hale ruk hom nog ’n maal, sy oë nou desperaat. “Ek sal gaan!”

“En ek ook!” Laat net een ander man van hom hoor.

Die res van die mans staan terug en praat nie ’n woord nie.

“Dis ’n two-man-job. Is jy seker jy sien kans hiervoor?”

Hale knik vasberade. “Jan sal my cover met die ene.”

Rikkus loer oor sy vriend se skouer na die ander man wat homself opgegee het vir die werk. Hy ken die man nie persoonlik nie, maar weet hy is ’n getroue werker van die bunker se meganiese afdeling.

“Gaan.” Beveel Rikkus en kyk af na sy kind.

Dit neem hul ’n halfuur se voorbereiding in die voorkamer van die kleiner voordeur aan die weste kant van die vertrek, voor hul uiteindelik die spesiale pakke aan het en al die gereedskap byderhand het.

“Julle reg?” Vra Rikkus oor die interkom wanneer die groen liggie aan gaan by die deur.

“Maak oop!” Kom Hale se stem.

Rikkus huiwer net ’n sekonde en druk dan die sleutels met die wagwoord wat die buitenste deur vir hul oopmaak. Stilte heers eers van die ander kant van die interkom, maar die alarm se geskree is steeds oorverdowend in sy ore aan die kant.

Dan kom daar kraak-geluide oor die hand radio wat hulle moes saam neem na buite, gevolg deur stemme. Rikkus luister met sy oor teen die gehoorbuis, maar kan niks uitmaak nie.

Dit neem hom nie lank om te besef dat dit paniek is wat hy hoor on die stem oor die radio nie, maar dis ook nie sy vriend se stem nie, dis Jan sin.

“Hallo? Jan? Kom in?”

Kraak-geluide en ’n gesuis.

“Jan, kom in?”

Dan kom ’n gedeeltelike gil angswekkend oor die radio. Dit weergalm bo die alarm se geraas.

“Ten persent of oxygen supply left.” Laat die rekenaarstem weer hoor uit die dak.

Die groen lig gaan skielik weer aan by die kleiner deur wat na buite lei – die deur waar Jan en Hale minute gelede uit is.

“Maak oop!” Gil Jan oor die interkom. Hy is aan die binnekant van die bunker.

Rikkus slaan sy vuis hard neer op die knop. Die deur swaai oop. ’n Paar mans staan nader na die deur se kant toe.

Eindelik na ’n lang ruk kom ’n kruppele, bebloede Jan vanuit die deur ingestap. Die manne spring nader om hom te help. Hy loop tot by Rikkus.

Rikkus beweeg nie. Sy hand bly rus op sy seun se kop. Hy kan voel aan sy bors hoe die stress nou te veel begin word. Dis nie net dat dit moeilik is om asem te haal nie.

Jan kom met drie mans se hulp voor hom te staan, die pak aan sy lyf in stukke geskeer en sy gesig en lyf bebloed. Rikkus kyk hom op en af. Hy sukkel om woorde te vind.

“Waar is hy?”

’n Enkele traan loop oor die man se wang. Dis duidelik dat hy hard terugbyt teen die pyn van sy wonde.

“Hulle het hom eerste beet gekry. Hy wou eerste wees om uit te gaan. Ek het probeer, maar ek kon hom nie uit hul greep kry nie.”

Jan se arms val slap en hy sak uit die ander manne se arms uit en neer op die grond voor Rikkus.

“Jan, wat het daar buite gebeur?”

Jan kyk op na hom, sy oë groot gerek en wild. “Hulle is nie mense nie! Hulle is… Anders… Swart oë, so pikswart soos die oë van ’n duiwel. Hulle velle is rou en geskeur en gevlek in geel en groen. Meeste is heel kaal, party met net lappe en repe klere nog aan.”

Rikkus sluk swaar. Die mense om hom raak onstuimig. Met die lig van sy hand na hulle kry hy die skare weer stil.

“Dit kan nie, Rikkus. Dit mag nie! Dit hoort nie so nie!”

Rikkus knik net. Hy weet. Hy verstaan.

“Emergency! Only two percent of oxygen left!”

Hy kan voel hoe sy seun teen sy been vasklou, sy borsie wat swaar op en af om suurstof in sy longe te kry. Rikkus sak op sy knieë en omhels sy kind vir ’n oomblik. Dan staan hy op en draai na die rekenaar skerm.

Sy vingers hardloop kundig en vinnig oor die sleutelbord. Alle deure om hulle slaan hard toe, die geraas van die alarm hou op, en dan begin die ligte van agter in die vertrek afskakel, een vir een.

Die mense se paniek kom te laat.

Die rekenaarskerm lees: Shutting down all systems.

Dan slaan Rikkus die skerm met sy elmboog stukkend net voor die laaste ligte bo hul koppe afslaan en die donkerte sewehonderd mense op een slag omhels.

  • Chantal

    Baie goed geskryf en vol van aksie!