DIE BEGIN VAN DIE EINDE – Anke Norris

DIE BEGIN VAN DIE EINDE – 2014 © Anke Norris

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 339 woorde)

Dit is die jaar 2626 n.C. Die lang verwagte gebeurtenis waarvan in Die Bybel gepraat word gebeur! Die ergste van alles is dat ek nie deel vorm van die wat weg is nie, maar van die wat agtergebly het!

Ek staan buite op die stoep. Alles is in ’n wanorde. Mense hardloop in verskillende rigtings op soek na skuiling. Kinders skree en huil. Daar is ook rook orals. Baie van die geboue het reeds groot gapings in dit. Baie geboue het klaar inmekaar gestort. Rondom my lê ook baie klere.

Is dit regtig besig om te gebeur, Here? Wat het ek verkeerd gedoen om agter te moet bly? Dan is ek nie een honderd persent uitverkoop aan Jesus nie! Ek draai om met ’n swaar hart en loop terug in die woonstel.

Ek kyk angstig rond. My man en my seun was nog ’n paar minute gelede binnekant. Ek gaan hulle nou soek. Dewald was ’n paar minute gelede nog in die kombuis, besig om gekookte eiers te maak. Ek hoor die eiers borrel in die pot, maar van Dewald is daar geen teken nie. Dan kyk ek op die teelvloer. Daar lê sy t-hemp en kortbroek wat hy aangehad het. Sy blou sandale ook! Nee! Dit kan nie wees nie! Ek is stom geskok.

Gewoonte skop in. Ek haal die pot van die warm stoofplaat af, skakel die krag af. Dan voel ek ’n ligte trilling onder my voete. Die koppies en borde op die rak gee ’n geklingel af. Dan… stilte… onnatuurlik stil…

Ek loop in die kort gangetjie af. Aan my regterkant is die badkamer. Die wasmasjien is aan. Ek skakel die krag af teen die muur. Ek draai om en loop uit. Aan my linkerkant is die hoofslaapkamer. Albei die slaapkamers se deure lei uit die televisie/sitkamerkamer uit. Die televisie is aan, maar die sein breek elke dan en wan op. Uit die paar sekondes wat die televisieskerm my aandag trek, lei ek af van die berigte dat daar chaos is.

Ek roep na Andries. Hy antwoord my ook nie. My seun was in ons kamer op die bed besig met Bybelstudie. Nou draf-stap ek slaapkamer toe. Ag nee! Andries is ook weg! Net sy blou sweetpakbroek, sy rooi t-hemp en sy sandale het agtergebly! Beide die manne in my lewe is weg! Hulle het saam met Jesus opgevaar na die Hemel!

Ek was so seker ek sou opgaan! Maar ek het nie! Van blote skok en vernedering sak ek op my knieë op die mat neer. Ag Here, vergewe my? Gee my nog ’n kans, asseblief, Jesus? Ek strompel huilend televisie/sitkamer toe met Andries se t-hemp nog in my hande.

O, hoe mis ek hulle nie nou nie! Hoe het ek God gefaal! Nou is hulle her’enig met ons kinders wat God reeds vir Hom gepluk het. Hulle het nie nou tyd om na my te kyk wat oor hulle verlies huil nie, hulle is her’enig met Jesus! Ek het agter gebly. Wat ’n skande…

Ek kan myself skop dat ek nie meer aandag aan God se sake gegee het nie. Maar spyt kom altyd te laat… Ek maan myself tot bietjie kalmte. Ek moet begin dink… reageer…

Nou hoor ek die televisie. Dit is op ’n nuusstasie. Hulle berig van mense wat net verdwyn het… van vliegtuie sonder vlieëniers aarde toe tuimel… voertuie wat ongelukke veroorsaak omdat dit geen bestuurders het nie… pasiënte wat sterf op die operasietafels omdat die dokters verdwyn het… pasiënte aan masjiene gekoppel wat sterf omdat die kragtoevoer na die masjiene gestop is. Die krag en watertoevoer is buite werking omdat die ingenieurs op hul poste verdwyn het… Die aarde is in rep en roer omdat die ongelowiges en dié wat eenvoudig nie glo nie na die skuldiges soek. Die regerings en gewapende polisiemagte en gewapende weermagmagte en die vloot is op soek na die skuldiges wat hulle dink vir die verdwynings van miljoene mense verantwoordelik is. Omdat hulle weier om die gebeure aan die openbarings van Openbaring in Die Bybel te heg, soek hulle die oortreders tussen die mense wat agterweë gebly het. Ons tel nou onder die ‘skuldiges’.

Gee jy nie jouself oor nie, dan skiet hulle jou eenvoudig dood… Sake sink nou in by my. Ek is nou stoksielalleen. Wat moet ek nou maak? Waarheen moet ek gaan? Ek voel paniekerig. My hart klop in my keel. Die kamer wieg voor my. Ek voel hoe my hande nat word. Ek proe sout in my mond. Ek huil. Ek begin bewe. Waarheen nou? Ek kyk om my rond. Ek voel hoe die vloer onder my liggies tril. Ek moet hier wegkom! Ek sal moet voor die gewapende magte deur tot deur kom soek! Ek het op die berigte gesien hulle gebruik robotdrone ook! Nie goeie nuus nie!

Daar gaan sirenes nou aan. Dis ’n aaklige, lang, temende geluid. Laat jou ore tuit en jou hart vinnig klop. Dit klink soos die geluid wat die fabrieke gebruik om werksdae aan te dui en wanneer dit loop tyd is. Dis ’n nare geluid. Dis die eerste maal wat ek dit hoor as waarskuwing.

Die volgende oomblik swaai die voordeur oop en stamp met geweld teen die muur tot stilstand. ’n Man kom ingestorm.

“Kom!” roep hy. Terselftertyd gryp hy my hand en trek my met alle mag na die oop deuropening.

“Hoekom? Wie is jy?” bombardeer ek hom met vrae. Ek is bang. Ek het nou net tot die ontdekking gekom dat my man en seun albei deur die Bybelse wegraping met Jesus hemel toe is. En dat ek nie so diep gelowig is soos ek gedink het nie. Dit is ’n groot skok vir enige gelowige.

Ek rem terug. Ek weet ek moet wegkom, maar ken ek die vreemdeling vertrou?

“Dis nie nou belangrik nie. Wat belangrik is, is dat ons hier moet wegkom en gou!” antwoord hy vinnig. Toe moet ek maar saamhardloop. Nou goed, dink ek. Hy is nie ’n gewapende nie. Hy hardloop ook. Die vreemdeling is lank en gespierd. Hy hardloop asof sy lewe daarvan afhang. Dis presies wat gebeur. Ons hardloop asof ons lewens daarvan afhang. Alles wat ons geken het, het verander. Nerens is dit meer veilig nie.

Onder ons hoor ons geweervuur. Is die gewapende magte al hier? Ek hoor ook bomontploffings en mense wat gil en skree wanneer die geboue by hulle meegee. Die gedeelte van die loopvlak waarop ons hardloop is deel van ’n groot woonstelblok, tien vloere hoog. Dit was ’n mooi gebou, tot ’n bom dit getref het. ’n Deel van dit is verwoes. Dit is die oorsaak van die trillings wat ek gevoel het. Ons hardloop in die rigting waar ons weet die staaltrappe moet wees. My hart klop woes in my keel. Ek voel dronk in my kop. So baie het in ’n baie kort tydjie met my gebeur.

My brein het nog nie behoorlik kans gekry om alles te verwerk nie. Nou dink ek… hoe het hierdie vreemdeling geweet ek is in die woonstel? Hoe weet hy wat hy weet? Maak my wonder… By die trappe gaan staan ons. Wat nou? Die vreemdeling kyk vinnig om hom rond. Som die situasie op. Kyk waarheen ons moet gaan. Ek buig my bolyf bietjie verby hom om vorentoe te kan sien. Goeie genade! Dele van die staal trappe is weg! Plek-plek is daar ook nie meer ’n handreling nie. Van die trillings wat ek gevoel het was seker hierdie deel van die gebou en traprelings wat deur ’n bom getref en deels vernietig is! Die handreling wat ek kan sien is heeltemal ontvorm! Dit buig na onder toe. Ons sal baie versigtig na onder toe moet beweeg. Enigiemand sal ons nou kan sien afgaan met die trappe. Die trappe is nou wawydoop, maar nog bruikbaar… vir nou…

Die vreemdeling is flink met sy gedagtes. Skielik bars geweervuur rondom ons los. Wie skiet nou vir wie? Dan volg daar weer ’n hele paar trillings soos wat die gebou geskud word deur nog ontploffings. Dit gee ’n gerammel af. Soos ’n ou mens wat mompel. Net, hierdie is hard en aanhoudend. Die gebou skud. Dit is seker hoe dit voel met ’n aardbewing? Hierdie keer hou die gerammel en geskud aan.

Ek dink meer as een bom ontplof in hierdie omgewing… As dit so aangaan sal daar nie veel van die geboue of oorblywende mense oorbly nie. Dit verwoes alles en almal. Ek dink aan hoeveel mense nou huisloos gaan wees, en hoeveel alreeds is.

Die Bybel het ons immers gewaarsku! Maar ons as mense luister mos nie. Die gerummel en gebewe hou ook nie op nie. Dan, net vir ’n paar sekondes… stilte… dan begin die gerummel en gebewe maar weer… Ek wonder vir hoe lank hierdie gebou waarop ons op die oomblik is nog staande gaan bly?

Dis ’n aardige gevoel om die vloer onder ons te voel beweeg. Vinnig word my hand weer gegryp en ons gaan vinnig, maar versigtig, met die trappe af. Dit gaan maar stadig, want dit voel of die trappe onder ’n mens gaan meegee. Die handreling lyk ook of dit gaan afbreek en na onder val. Ek kom eers agter dat ons op moeder aarde is toe ek dit onder my voete voel. Ek kyk vinnig op. Goeie genade! Daar is omtrent niks van die trappe oor nie! Ons is net betyds op grondvloer!

Nou kyk die vreemdeling vinnig heen en weer. Haastig gryp hy weer my hand vas en begin skuil-skuil teen die muur afhardloop… Ons beweeg versigtig, want die geweervuur het nog net gestop met tussenposes. Alles gebeur baie vinnig, maar vir my voel dit soos ’n ewigheid. Skielik is daar ’n harde gerammel en ’n gekraak… die deel waar ons nou net was het ineengestort! Dis net stof! En stukke sement en stukkende elektriese ware en drade…

Ons hardloop vinnig verder… Voor ons doem die oorblywende deel van ’n afdak op. Die vreemdeling gaan staan onder dit. Ons probeer ons asem terugkry. Beide van ons is aan die bewe. Ek kry nou my kans om my ‘redder’ bietjie van nader te bekyk. Hy is lank en lenig met kort krullerige bruin hare en donker blou oë. Hy het digte donker wenkbroue. Hy dra ’n bruin t-hemp met ’n gemaklike styl blou jeans wat al beter dae gesien het. Hy is ook redelik gespierd. Kan dit aan sy arms en nek sien. Hy dra ook ’n paar industriële swart diksool skoene. Ek gaan hom nou peper met vrae!

“Wie is jy?” vra ek hom.

“Armand, is die naam.” antwoord hy, duidelik geamuseerd.

“Hallo Armand. Ek is Anette.” Groet ek hom. “Hoe het jy geweet ek is daar en dat ons moet wegkom?” sê-vra ek hom gemaak kwaad.

“Jy weet dit nie, maar ek ken jou. Ek het ’n paar deure af van julle gebly. Toe my vrou net so voor my oë verdwyn, toe weet ek. Ek het net daar omgespring en begin hardloop. In die hardloop het ek iemand hoor huil. Dis hoe ek op jou afgekom het. Ek het die gevoel gekry ons moet so vinnig moontlik wegkom of ons is dood. Die duiwel gaan chaos op aarde veroorsaak volgens Die Openbaring van Die Bybel.” antwoord hy al my vrae in een asem. Hy het ’n diep baritonstem.

Skielik is daar net stukke sement, stof en gebourommel langs ons. Nie ver van ons af nie het nog ’n bom so pas ontplof. Ons ore tuit. Alles voel onwerklik. Ons begin weer hardloop. Ons rus elke nou en dan, want ons voel bietjie gedisorienteerd. Ons kom ook agter dat die gewapende magte nooit te ver agter ons is nie. Hulle het ons nog nie gewaar nie. Word jy gevang, is dit tronk toe. Daar is ook die robotdrone wat voor hulle uitloop en die area voor hulle skandeer vir mense. Dis ’n nuwe tegnologie wat in gebruik geneem is. Ek het die deel op televisie gesien. Dis nuut in Suid-Afrika.

Ons as mens is nêrens meer veilig nie! Net die gedagte daaraan maak my bekommerd. Waarheen sal ons gaan? Skielik gaan Armand doodstil staan. Ek loop reg in hom vas…

“Deksels!” mompel-roep ek. Ek het my tone teen sy skoen gaan staan en stamp!

“Sjjt!” maak hy my dadelik stil. Ook net betyds,want die volgende oomblik kom die robotdrone verby met die gewapende magte reg agter hulle. Na ’n paar sekondes hoor ons hoekom… ’n harde gegil en geskree… iemand is gevang!

Ons hoor ’n mansstem skree: “Nee,los my!” Dan geweervuur. Dan… stilte… die man moes probeer vlug het, nou is hy dood. My hart klop in my keel.

Armand staan asof doodstil geskok. Hy skud sy kop heftig. Dan begin ons weer voetjie vir voetjie beweeg. So stil moontlik, want ons wil nie gevang word nie. Dan gebeur die onverwagte! Ek is skielik alleen! Armand het net skielik verdwyn! Waar is hy? Ek kyk benoud om my rond. Waarheen nou? Ek probeer dink waarheen ek nou moet gaan. Ek is op my eie aangewese. Ek hoor ’n geluid… my kop draai in die rigting van die geluid… daar is dit weer…

“Psst…” Dit is sag, maar ek hoor dit.

Ek draai my kop na die ander kant. Agter my. Dis waar Armand ’n paar oomblikke gelede net verdwyn het! Dan sien ek dit… ’n deur… dit gaan oop… ek word van agter gegryp deur groot hande en van balans af na agter toe getrek… dis donker… die deur gaan weer saggies toe… Agter die toe deur kan mens die ontploffings en geweervuur hoor.

My oë raak stadig gewoond aan die donkerte. Dis nie regtig so donker nie. Oral is kerse geplaas. Ek sien baie mense in die paar vertrekke staan. Sommige sit. Ander lê. Hulle lyk bang. Baie huil. Dan sien ek Armand. Hy staan langs ’n man. Hy glimlag vir my. Al wat ek weet, is dat ons dit oorleef het. Vir nou.

Ons is nie alleen nie. Ons is veilig vir nou. Dankie Hemelse Vader! Maar ons weet ook almal die ergste kom nog…

  • J.V. Van Wyk

    Ek hou hiervan

  • Joe Botha

    Die kort, gejaagde sinne gee beslis ‘n sin van dringendheid. Dit laat ‘n mens sommer vinniger lees!
    Die genoemde tegnologieë bestaan reeds, so ek dink 600 jaar in die toekoms is dalk ‘n bietjie ver gemik. Ek vermoed die storie gaan sommer heelwat meer kleur kry nadat jy module 1 en 3 gedoen het. 🙂

  • Ben Biggs

    Die drenkeling

    Dit is met ʼn slag as ek die water tref, ek
    sink dieper en dieper en voel die koue om my hart klem, my ore suis en my longe
    wil bars. Ek oortuig myself dit is net ʼn nare droom en ek sal nou -nou wakker
    skrik. Maar dan dring die werklikheid tot my deur, ek het oorboord geval en is
    besig om te verdrink. Ek begin desperaat met my arms en bene werk, net toe dit
    voel ek kan
    nie meer nie kom my kop bo die water uit en ek trek my longe vol vars lug.

    ———–

    Nou is die werklikheid eers werklik, ek
    is in die see en dit is nagdonker. Ek voel die paniek om my hart vou en begin
    bewe, kalm bly vermaan ek myself. Ek soek na branders wat wit breek en my ʼn
    aanduiding sal gee waar die strand is, maar vergeefs. Ek is ʼn sterk swemmer
    troos ek myself, maar in watter rigting swem ek, weer die paniek. Dan is my
    gedagte glashelder, die Boot, dit is my enigste kans om oorlewing.

    Koorsagtig fynkam my oë die donkerte
    terwyl ek water trap, ek kan nie help om ʼn uitroep van vreugde te gee as ek die
    Boot se ligte in die verte gewaar nie, en begin verbete swem.

    —————

    Dan swem ek teen ʼn voorwerp vas, ek is
    onmiddelik dankbaar, ek kan
    daaraan vashou as ek moeg word dink ek. Maar dan word ek yskoud, dit is ʼn mense
    liggaam, lewensloos, verskrik los ek dit, sou hy ook oorboord geval het gaan
    dit deur my brein en begin weer swem. Nog ʼn liggaam en nog een, gaan dit my lot
    ook wees flits dit deur my gedagte. Eers verbeel ek my maar dan onmiskenbaar
    hoor ek ʼn geroep om hulp, ek beweeg in daardie rigting en stamp teen iemand,
    hierdie een is lewendig dink ek verlig. Voor ek egter ʼn woord kan uiter gryp hy my vas en druk my onder
    die water.Ek sluk ʼn mond vol seewater en begin verbete spook en spartel om uit
    sy greep los te kom. Dit gaan nou oor lewe of dood en met geweld skop ek my
    los, my kop is weer bo. Nou kan ek duidelik nog stemme hoor, party lag, ander
    swets, nog ander gil, daar is selfs iemand wat bid. Ek besef hier is groot
    moeilikheid en ek is hulpeloos om te help. Dan is my gedagte weer helder en ek
    skree in die nag, ´Die Boot, dit is ons enigste kans, ons moet by die Boot
    uitkom! niemand antwoord nie en ek begin weer swem in die rigting van die Boot
    se ligte wat al helderder skyn. Ek swem in onsigbare voorwerpe vas en voel die
    pyn deur my liggaam skiet maar kners op my tande en beur voort.

    ————————–

    Eindelik is ek langs die Boot, met angs
    wat my keel laat toetrek merk ek op hoe ontsaglik groot die Boot is. My moed
    sak spreekwoordelik in my skoene wat ek lankal uitgeskop het, ek gaan nooit
    teen die kant kan
    opklim nie, vrees neem van my besit en ek begin desperaat roep. Help my ek
    vergaan, ek kan
    nie meer nie, ek is verlore! Moedeloos besef ek niemand gaan my hoor nie, ek is
    te ver van die dek van die Boot verwyder.

    Is dit dan nou die einde?die dood is al
    wat oorbly.En dan hoor ek dit, ʼn stem sommer naby my wat sê, “Moenie vrees
    nie”,verbeel ek my, waar het ek dit al vantevore gehoor, verskrik kyk ek om
    my rond, dan onthou ek, ek het ʼn kerkdiens bygewoon en die boodskap het daaroor
    gegaan dat ʼn mens nie moet vrees nie want God het in sy groot liefde en genade,
    redding vir die verlore mensdom deur sy eniggebore Seun Jesus Christus
    bewerkstellig. Dit het op daardie tydstip nie vir my baie sin gemaak nie, maar
    ek besef dit is wat ek nou nodig het, redding, en ek roep uit, Here help my ek
    is verlore!

    ————————

    Dan in die skynsel van die Boot se lig
    sien ek hom, ʼn man in ʼn reddings gordel en deur ʼn lig omsraal, ek kan amper nie
    glo wat ek sien nie, met my laaste kragte spartel ek na hom toe. Maar tot my
    verbasing en teleurstelling bly hy buite my bereik. Beangs roep ek uit, help my,
    kan jy dan
    nie sien ek vergaan nie! Sy antwoord laat my sprakeloos en amper is my kop weer
    onder die water.

    Ek sien dit, en ek was in dieselfde
    penarie sê hy, maar jy sien hierdie reddings gordel is net vir my, jy moet jou
    eie reddings gordel vind. Kyk hier my naam is daarop, en hy lig sodat ek kan
    lees, en sowaar duidelik staan daar. “Die mens Piet.” Daar gaan ʼn
    flits deur my gedagte wat sê, soek en jy sal vind, klop en vir jou sal
    oopgemaak word. Sal jy my help soek? Vra ek moedeloos, Altegraag antwoord hy,
    ek sal vir jou lig dan kan
    jy sien waar jy gaan. Ek skep nuwe moed en swem stadig om die Boot, soekende in
    die lig wat Piet verskaf sien ek dit, ʼn gordel, ek gryp dit vas maar voel
    dadelik dit is beskadig en sal my nie bo hou nie.

    —————

    Hou aan soek moedig Piet my aan, en onthou
    jou naam moet daarop wees. Naam maal dit deur my gedagte, waarom sal dit
    belangrik wees. Ek het jou by jou naam geroep jy is myne, flits dit deur my
    kop, ek onthou ek het dit in die bybel gelees. Hoe vorder jy? vra Piet. Ek het
    al ʼn paar gordels gevind maar almal nutteloos antwoord ek. Nog ʼn flits, hou
    goeie moed ek sal jou nooit verlaat nie, dit doen wondere vir my en ek hervat
    my soektog.

    ————-

    Dan sien ek ʼn reddings gordel ongedeerd
    en gryp dit vas terwyl ek roep, ek het hom gevind! Is jou naam daarop? Vra
    Piet, maak seker anders is alles tevergeefs. Nou maar goed sê ek en ondersoek
    die gordel deeglik, en sonder twyfel duidelik leesbaar staan daar. “Die
    mens Ben” Dit is hy verseker ek Piet. Nou
    goed sê hy, kyk nou op en jy sal
    sien ons is aan die Boot verbind, en hy lig so dat ek kan sien. Verbaas kyk ek op en my hart gaan
    amper staan van blydskap as ek besef ek kan
    nie wegdryf nie.Wat sien jy nog? Vra Piet. Ek sien iets geskryf laat ek hoor, kan jy uitmaak wat? vra
    hy. Ek sien dit duidelik, daar staan. Ek is die Here jou God. Nog ʼn flits gaan
    deur my gedagte, daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die
    mens Christus Jesus. Maar dan is dit mos waar roep ek verras uit! ja sé Piet.
    Jesus Christus is ons verbinding met God. Jesus gee ons hierdie versekering
    wanneer Hy sê. Ek is die weg en die waarheid en die
    lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

    ———————- Maar
    dan tree die werklikheid weer in, my arms is vol krampe en ek voel hoe my greep om die gordel verswak. Piet dit
    help niks, ek kan
    nie meer vashou nie! roep ek beangs uit. Wag –wag sê Piet, kyk daar is ʼn harnas
    verbind aan die gordel, jy moet dit aantrek.Verlig sien ek dit is soos die
    uitrusting wat bergklimmers gebruik.Weer ʼn flits, trek die volle wapenrusting
    van God aan sodat julle staande kan bly in die dag van onheil.

    ——————–

    Die band om jou middel verteenwoordig
    die waarheid, maak dit goed vas dan sal jy nie dwaal nie, gee Piet raad. Die
    borsharnas is geregtigheid. Hier is swem skoene ook sê ek, waarvoor is dit?
    Trek dit net aan jy sal later die nut daarvoor verstaan sê Piet. Hier is nog ʼn
    skild ook kla ek, hou dit styf vas, jy sal dit nodig kry om die obstruksies wat
    in jou pad kom af te weer. Nou die helm van verlossing, en die swaard wat die
    woord van God is en jy is gereed sê Piet. Ek kan amper nie glo alles het so
    goed afgeloop nie, ek is nou stewig vas en alles is in plek.Trek my nou maar
    op, en ek gee die tou so ʼn paar plukke soos ek al mense gesien doen het wat die
    teken gee alles is reg hier by my, maar niks gebeur nie. Wat
    nou, wil ek benoud van Piet weet? Is jy nie ʼn bietjie selfsugtig nie vra hy, hoe
    dan so wil ek weet? Jy is nou veilig en nou is jy heeltemal tevrede met jouself
    né, ek verstaan nie sê kla ek.Kom ek gee jou ʼn leidraad sê Piet. Opdrag-opdrag
    herhaal ek verbaas, ja man dink daaroor en hy beweeg weg. Terwyl ek nog so oor
    die opdrag storie peins en net uit die water wil kom, hoor ek ʼn bloedstollende
    gil van ʼn vrou. Help my ek vergaan! Ek merk nou eers ek is helder verlig en
    onthou sy opdrag. Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die
    ganse mensdom, hy wat glo en hom laat doop sal gered word maar hy wat nie glo nie
    sal veroordeel word.Terwyl ʼn groot blydskap en vrede oor my kom, en dankbaar
    vir die swem skoene wat my vorentoe dryf, swem ek in haar rigting terwyl ek
    haar toeroep,”Moenie vrees nie”

    E-pos biggs.ben7@gmail.com

  • Chantal

    Ek het baie hiervan gehou. Ons mensdom is nerens veilig nie!!