EEN DAG TE VEEL – Joe Botha

EEN DAG TE VEEL – 2014 © Joe Botha

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 977 woorde)

 

T minus 23:57:25”. Oor net minder as 24 uur gaan hy ’n onwillige pionier word.

Die skielike aandag van ’n klomp mikrofone en kameralense doen niks om Adam Wessels meer tuis hier in Puerto Rico te laat voel nie. Hy hou sy profiel gewoonlik laag en hierdie is sy eerste groot mediakonferensie. Die geruis van die verslaggewers kom tot bedaring, maar die kameras hou aan flits.

Hy loer onderlangs na Alex, wat oudergewoonte baie meer op sy gemak lyk voor die lense. Goddank sy tweelingbroer is hier. Alleen sou hy dit nooit gemaak het nie. Aan die ander kant, as dit nie vir Alex was nie, sou hy self nooit ingestem het om ’n ruimtevaarder te word nie. Wat nog te sê van die wêreld se eerste tydreisiger.

Dr. Reeve Daniel Musk, die hoof van SpaceX Puerto Rico, stel hulle aan die media voor en verduidelik kortliks hul sending, wat in samewerking met NASA en die Queensland Navorsingsentrum vir Toegepaste Kwantumverstrengeling sal geskied. Terwyl Musk die ingewikkelde begrippe aan die gehoor verduidelik, beduie hy telkens na die broers en dan weer na twee klein, vaartbelynde tuie op die skerm agter hom.

Die twee kapsules is so identies soos Adam en Alex self. Net die geverfde letter “S” op die regtervlerk onderskei die tuig aan die linkerkant van die een regs, waarop ’n ewe groot “C” in rooi aangebring is.

“Die twee kapsules, Scylla en Charybdis, is toegerus met fotoniese kwantumveld-opwekkers,” verduidelik Musk. “Die fotone in die kern van elke opwekker is op ’n kwantumvlak met mekaar verstrengel sodat ’n verandering in een ’n verandering in die ander teweegbring. Dit is die beginsel van kwantum-kommunikasie…”

Adam luister nie verder nie. Hy is ’n boekwurm en ken die teorie. Hy voel ongemaklik en dwing homself om diep asem te haal. Een van die eerste dinge wat hy in sy opleiding geleer het, is om kalm te bly. Daar’s ’n ou gesegde onder ruimtevaarders: Daar is geen probleem so ernstig dat jy dit nie erger kan maak nie.

Sy gedagtes dwaal weer. Hoekom moes hy en Alex nou die enigste monosigotiese tweeling in die hele wye wêreld wees met doktorsgrade in kwantumveld-teorie? NASA het eers twee Chinese susters vir die sending opgelei. Hy en Alex was plan B. Nie dat Adam gedink het iets sou daarvan kom nie, maar Alex was so opgewonde… Toe loop breek die een suster haar rug in ’n motorongeluk. En hier sit hy nou.

Die vloer word oopgestel vir vrae. ’n Verslaggewer van Omni bring Adam terug na die hede.

“Adam, ek dink ons wonder almal – hoekom juis ’n identiese tweeling?”

“Die kwantumveld is hoogs onstabiel,” verduidelik Adam. “Hoe meer gebalanseerd die stelsel, hoe groter die kans op ’n bestendige golfvorm-projeksie na die toekoms. Die kapsules is identies tot die naaste duisendste van ’n gram. Ek en Alex is geneties dieselfde, so dit help om die veld so stabiel as moontlik te hou.”

“Maar hoekom dan twee kapsules? Sou een nie makliker gewees het nie?”

“Wel, die sending behels twee kommunikasietoetse. Deel een is om parameters vas te stel vir kommunikasie tussen twee verstrengelde kwantumgolfvorme. Met ander woorde, kommunikasie van die een kapsule na die ander. Eers wanneer dit gekalibreer is, kan ons die moeiliker toets doen om met die kwantumrekenaar hier by grondbeheer te skakel. Hou in gedagte, dit sal die grondbeheer van 24 uur in ons subjektiewe toekoms wees.”

Nog ’n verslaggewer steek sy hand op. ’n Takhaar van Popular Mechanics.

“My vraag is vir Alex. Omtrent hierdie golfvorme… Beteken dit julle gaan soos geeste buite jul liggame ronddryf?”

Alex glimlag. “Geeste! Genade, nee.” En dan meer ernstig. “Kyk, ons kan nie materie na die toekoms verplaas nie. Maar met verstrengeling op die kwantumvlak is ’n fisieke medium onnodig. Die teorie is dat ek en Adam bewusteloos in ons kapsules sal wees terwyl ons bewussyn saam met die kwantumveld tot in die volgende dag geprojekteer word. Vir ons behoort alles soos normaal te lyk en te voel. So, dis meer soos om te droom as om te spook. Ons sal nie ‘daar’ wees in enige sin van die woord soos ’n mens dit gewoonlik verstaan nie. Ons is net daar op die kwantumvlak.”

Adam is bly Alex het die vermoë om dinge verstaanbaar te maak. Hulle albei se eintlike taal is Wiskunde, maar op een of ander manier kry Alex dit reg om die droë wetenskaplike terme na ’n dag op Kampsbaai se strand te laat klink.

’n Halfuur later sluit dr. Musk die perskonferensie.

“Dames en here, dankie vir jul vrae. Julle sal ons Suid-Afrikaanse kollegas nou moet verskoon. Môre is ’n lang twee dae vir hulle.”


* * *


T minus 09:12:40”.

’n Klop aan die deur. Alex.

“Jis, is jy nog wakker? Ek het vir ons koffie ge-sneak. Kan in elk geval nie slaap nie.”
“En hier het ek gedag dis net ek,” sê Adam droogweg.

“Luister, ek wou jou eintlik net iets kom sê. Ek weet wat jy alles moes prysgee om saam met my op hierdie sending te gaan. Hel, man, jy moes 21 kilo’s afskud en het vir ses maande intensief gedril.”

“Ons het albei gedril,” merk Adam op.

“Ja,” gee Alex toe, “maar ék was gereed daarvoor. Dit was nie ’n maklike pad nie. Ek was soms bekommerd dat dit net eendag te veel vir jou sou raak… In elk geval, my punt is, ek weet wat jy vir my doen. Dankie.”

Adam knik. Die twee mans drink hul koffie in stilte voordat Alex die deur agter hom toeswaai.

Adam gaan lê. Sy broer se woorde maal deur sy kop. Hy het nooit vir Alex gesê presies hoe naby hy daaraan gekom het om tou op te gooi nie. Maar sy broer het die heeltyd geweet en die keuse altyd aan hom oorgelaat.

Dis goed om die belangrike dinge te sê voor ’n dag soos môre, dink hy voordat hy indommel.


* * *


T minus 00:00:05”

Die twee reusagtige Merk X-pendeltuie van 1960 ton elk vibreer liggies. Toe die aftelling nul bereik, ontsteek die suurstof-waterstofenjins en beur die twee vuurpyle met hul eenpassasier-vrag teen die greep van die planeet. Die tuie swaai om en val agteroor tot op ’n trajek van 78 grade. Almal gaan voete eerste die ruimte in.

Die ysterhand van 3 G’s druk Adam in sy sitplek vas. Vir die volgende agt angswekkende minute voel dit asof die lug uit sy liggaam gepers word. Die instrumentepaneel swem voor hom en hy sou gespartel het as die verlammende drukking nie sy arms stokkerig langs hom vasgepen het nie.

Die oorverdowende geraas van die reuse-enjin raak sagter namate die atmosfeer dunner raak. Dan slaan die sekondêre aandrywing af en alles rondom hom is eensklaps doodstil.
“Scylla hier. Terminale snelheid van 28,106 km/h bereik…” Alex se stem.

Teen hierdie wentelsnelheid loop die tyd op aarde fraksioneel vinniger as in die kapsules – fraksioneel, maar genoeg om ’n klein mate van elastisiteit in die kwantumverstrengelingsveld te skep. Die kwantumveld-versterkers sal dié elastisiteit tussen die twee kapsules en die verstrengelde opwekker by grondbeheer benut om terugvoer te veroorsaak wat die kapsules se velde na die toekoms projekteer. Soos om op ’n trampolien te spring, dink Adam.

“Charybdis hier. 28,106km/h is bevestig,” antwoord hy. “Ek is bly dáái is verby. Losmaak van eksterne tenk in 03… 02… 01…”

’n Ligte rukking dui aan dat die reuse-brandstoftenk van die tuig weggebreek het.

“Roger dit,” antwoord sy broer ná ’n rukkie. “Kwantumveld-opwekker aanlyn. Bevestig?”

Adam se oë flits na die beheerpaneel voor hom. ’n See van blou en groen.

“Alles is reg hier… Hei Alex?”

“Ja?”

“Oor die sending. Dit was alles die moeite werd.”

“Dankie, broer,” antwoord Alex ernstig, maar Adam kan hoor hy glimlag. “Nou, kom ons maak geskiedenis in die toekoms.”

Adam tik sy beheerskerm om die kwantumveld tussen die twee pendeltuie en grondbeheer te vestig. Iewers vanuit die ingewande van Charybdis word die doodse stilte versteur deur ’n onaardse gedreun. Die ruimte om Adam begin saggies wieg, eers in die rigting van ’n punt iewers agter hom en dan weer terug. in die kajuit raak met elke deining meer verwronge. Met die laaste deining staan alles teen ’n hoek van 90 grade en Adam, die beheerpaneel, die kapsule self, word soos die lug uit ’n ballon gesuig.

Skielik is daar ’n middelpunt. ’n Plek van balans. Dit herinner Adam aan die bevryding van die skielike gewigloosheid wat hy net ’n paar oomblikke tevore gevoel het, maar soveel groter. In die singulariteit hou tyd op bestaan. Vir ’n oomblik/ewigheid hoor hy iets soos musiek. Hy voel die delikate vibrasie van elke partikel in die heelal, soos subatomiese tromslae wat in superstadige aksie uitgerek word.

Dan raak hy opnuut bewus van die gedreun van die kwantumveld-opwekker, nou laer in toonhoogte. Die omgewing, dik soos gesmelte plasiek, sleep homself vir oulaas terug na sy oorspronklike vorm.

T plus 24:00:02”.

Hy is terug in Charybdis. Dit is so stil soos voorheen. Hy merk die tydstempel wat in rooi op die skerm voor hom hang. Die kajuit lyk andersins onveranderd. Op sy instrumentepaneel lees alles normaal. En tog, iets voel anders.

Adam besef dat hy nie sy eie asemhaling hoor nie. Of die plastiek-agtige krinkelgeluide van sy uniform nie. Die besef dring tot hom deur: Die toetsvlug was ’n sukses. Hy, die kajuit, die skip, alles is nou ’n illusie geskep deur die kwantumtoestand. Welkom in môre. Hy het verwag dit sou meer onwerklik voel, maar die teenoorgestelde is eintlik waar. Alles is hiper-duidelik. Hy knyp homself hard tussen sy duim en wysvinger. Voel niks. Onwillekeurig flits sy gedagtes terug na die woorde van die snaar van Popular Mechanics. Geeste. Wel, nou weet hy seker hoe dit voel.

Adam aktiveer die kommunikasiepaneel tussen die verstrengelde kerne van die twee skepe. Hy verstel die mikrofoon aan sy helm. Hy kan homself nog steeds nie hoor nie, maar dalk kan Alex.

“Charybdis aan Scylla, oor..?

Geen antwoord nie.

“Scylla, dit is Charybdis, kom in..?

Steeds niks.

“Alex..?”

Adam laat ’n stille sug uit. Kommunikasie tussen die kapsules het dus misluk.

’n Visuele inspeksie by die kajuit se linkervenster uit bevestig dat Alex se tuig driehonderd meter na bakboord dryf in pas met syne… Nee, wag. Nie heeltemal in pas nie. Die tuig draai baie stadig rondom ’n spil wat amper reguit van voor na agter deur die x-as loop.

Die onderkant van die klein tuigie kantel lui-lui na sy kant toe en Adam voel hoe ’n kouete sy siel vasgryp.

“Alex! Fok, nee!” kom Adam se rou, klanklose gil.

Die hele onderste helfte van die tuig is ontsier met swart brandmerkies waar die mikro-ruimterommel die kapsule getref het. Teen hierdie spoed sou dit die plasma-weergawe van ’n windbukskoeël deur tinfoelie gewees het. Hoewel dit nie ’n katastrofale slag was nie, het die klein tuigie – en sy insittende – geen kans gestaan nie.

Adam bly magteloos staar na sy lieflingbroer se stadig tuimelende graf, wat nou amper driekwart deur sy rotasie is. Daar is geen beweging in die kajuit nie. Aan die onderkant word die vlerk met sy groot, rooi “S” sigbaar.

Nie ’n “S” nie. Dis… ’n “C”? Hy kyk na sy eie tuig!

Geeste, kom dit weer by Adam op.

Hy sien die gebeure in sy verbeelding afspeel. Die kwantumveld waarin hy van gister af na vandag geslinger is en sy bewustelose fisieke vorm wat agterbly. Dan, dalk ’n minuut later of dalk tien ure, die impak met die ruimtestof teen miskien 40,000 km/h wat sy liggaam binne ’n breukdeel van ’n oomblik op honderde klein plekkies deurboor en alle suurstof uit die tuig laat ontsnap.

’n Kalmte spoel oor hom. Die kans is goed dat Alex dit gemaak het. Adam kyk af na sy instrumentepaneel. Dit lees T plus 24:04:31”.

Die sekondêre aftelling lees die differensiaal: T minus 23:55:29”.

Oor net minder as 24 uur gaan hy ’n onwillige pionier word.

  • Marisa Robson

    fantastic!!!

  • Thomas Minnaar

    Dis befok, Joe! Beter as Fritz Deelman 🙂

  • J.V. Van Wyk

    Dis wraggies goed geskryf. Kan nie wag om meer te lees nie

  • Salmon Smith

    Fantasties my boeta.

  • Chantal

    Uitstekend!!