JUNGLE GAMES – Salmon Smith

Dis die jaar 2030. Suid-Afrika is nie meer die welvarende land soos ons dit destyds geken het nie. Die land krepeer in ellende. Die hoofpaaie is onberybaar. Geboue lyk vervalle en oral plak mense, selfs tot op van die hoofroetes.

Suid-Afrika se naam is intussen verander na Azania in opdrag van die nuwe kabinet van die president en diktator, Freedom Skangaka.

Wetteloosheid en bendegeweld is aan die orde van die dag – veral in die ou tradisioneel bruin woonbuurte.

Dwelmbendes regeer met ’n ysterhand en die  Azaniese polisiemag het gevou onder die geweldige druk.

Hier in iKoloni, die destydse Wes-Kaap, is die bendegeweld op sy ergste. Die meeste van die tronke is nou net ruïnes en dié wat nog oorgebly het, word deur tronkbendes en korrupsie verlam.

Ryk mense is genoodsaak om vir hulself beskerming te kry en privaat polisiedienste floreer in die posh woonbuurte.

Maar in die arm buurte krepeer die mense en moet hulle daagliks saamleef met die koeëls wat die hele wêreld rondvlieg. En die dwelms wat hul kinders vernietig. Die inwoners is te bang om op te staan teen dié euwel.

Dit is anargie in iKoloni en die inwoners se hulproep val op dowe ore.

Gaan iemand ooit eendag aan hul hulpkreet gehoor gee…?

* * *

In Manenberg, voor hul hoofkwartier in Pecos Walk, sit die ses jong skurke van die Ghetto Blasters-bende rondom ’n beebeepyp – die opvolger van die destydse okkapyp. Die beebeepyp het ses pype waaruit die gebruikers ’n klomp op ’n slag kan suig.

Dit is vol gestop van die nuwe dwelm genaamd Wiuché, wat al meer as ’n jaar in sirkulasie is.

Die drug is gevaarliker as tik. Dit doof alle sintuie van die gebruiker uit in daardie paar minute van euforie.

So, die druggie kan in die pad af slinger sonder om ’n voertuig te hoor aankom. Of selfs deur ’n vuur loop sonder om die brandende vlamme te voel.

Nou sit die jong skollies hier en gee hulle oor aan die groen walms wat hulle gulsig opsuig.

Hulle is net vaagweg bewus van die pikswart paneelwa met die donker getinte vensters wat hier langs hulle optrek.

Iewers in Elsiesrivier loop ’n middeljarige man genaamd Johnny Sarels met sy vuurwapen in sy hand. In sy hart koester hy wraak teen die Yankee Kids-bende. Dis dié gemorste wat sy dogter, Kristonia, twee weke gelede wreed  verkrag en vermoor het.

Dít oor sy nie vir Pankreas, die groot dwelmsmous en leier van die Yankee Kids hier in Elsies, se attensies geval het nie.

Sy was die appel van Johnny se oog, sy poplap, sy alles.

Asof dit nie genoeg was nie, moes Kristonia se ma ook nog ’n senuwee-ineenstorting kry.

Nou lê Kristolene, sy blom van ’n vroutjie, in ’n sielkundige inrigting en weet nie wat om haar aangaan nie.

Toe dít gebeur, het hy plak vasgemaak en oorlog verklaar teen die Yankee Kids. Die gemeenskap is te bang om op te staan teen die gemorste en hy het nóú niks om te verloor nie. Hy sal baklei tot die dood toe.

Hy sien die groepie jongens daar in die donker stegie aankom. Hy tel so vyf van hulle.

Aan hul houding en hul broeke wat tot onder hul holle hang, kan hy sommer sien hulle is lede van die Yankee Kids.

Hy loop op hulle af met sy vuurwapen in sy jacket se sak gedruk.

“Behoort julle aan die Yankee Kids?” vra hy kortaf aan die jongens.

Die ouens kom tot stilstand en kyk hom so skeef aan.

“Au, wie’s djy nogal?” vra die een en spoeg voor Johnny se voete.

 “Dja, ekke is ’n dikke Yankee. So what?” kom dit van nog een.

Johnny pluk vinnig sy vuurwapen uit en druk dit teen die jong se kop.

Maar voordat hy die sneller kan trek, trek ’n groot pikswart paneelwa langs hulle op. Vyf pikswart geklede ouens met balaklawas oor hul gesigte spring daaruit. Daar is masjiengewere in hul hande en hulle beduie dat hulle nie sal skroom om te skiet nie.

Een van hulle gryp die vuurwapen uit Johnny se hand en nadat die ander vinnig deursoek word, word hul hande vinnig met cable ties agter hul rûe vasgebind. Saam word hulle in die paneelwa geboender. Niemand stribbel teë nie.

Johnny wonder wat die ouens se storie is, terwyl die ander jongens bangerig staar na die gewere wat pal op hulle gerig word.

Hulle word reguit na die Kaapse hawe geneem en op ’n veerboot geboender.

Die rit is skaars twintig minute voordat die boot weer iewers vasmeer.

Hier word hulle uit die boot geboender en word in gelid tussen bosse deur begelei.

Hulle bereik ’n ou skoolgebou wat onlangs herbou is en word in ’n groterige vertrek geprop. Die cable ties word hardhandig losgesny.

 Die ses kyk verbaas in die vertrek rond, hul struweling vir eers vergete. Daar is nog ander mense in die vertrek.

Johnny herken onmiddellik die groot gangsterleier, ou Pankreas, tussen die ander. Daar is omtrent tien van hulle saam in die vertrek.

Teen die spierwit mure hang  vier TV-skerms. Daar is ook CCTV-kameras en in die verste hoek is die massiewe speaker van ’n interkomstelsel.

“Bossie, wat se plek is dié?” vra een van die ouens aan Pankreas.

 Pankreas trek sy skouers op. “Die donners het my ook ge-hijack en hier  kô dump,” sê hy kwaad. “Ek wonner what kind?”

Skielik gaan die skerms teen die mure gelyk  aan. Dit vertoon beelde van nog vier kamers. En in elke kamer is ook tien mense wat onseker daar rondstaan.

Daar is ’n frons op Johnny se voorkop toe hy oplet dat almal soos gangsters lyk.

Skielik kraak die interkom daar in die hoek.

“Kan ek julle aandag kry…” praat ’n diep stem stadig. “Julle is lede van gangs wat die gemeenskappe daar buite met ’n ysterhand regeer en  in ‘n greep van dwelms en geweld gevange hou.

“Julle is nou op Robbeneiland, omring deur honger haaie. Julle is hier om deel te neem aan ’n tipe oorlewingspeletjie. Hier kan julle mekaar uitmoor sonder dat onskuldige mense se lewens daardeur bedreig word…”

HOOFSTUK 2

Johnny se mond val oop van verbasing. Hy kan nie glo wat hy hoor nie. “Julle is lede van gangs…” eggo die woorde in sy kop.

Hiér is iewers ’n groot misverstand. Hy is en was nog nooit lid van ’n bende nie. Hy was net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek toe daai vreemde paneelwa langs hulle kom optrek en hom saam met die skuim ingelaai het.

Altans, hy verag die gangster-gemorste. Veral die Pankreas-gemors wat hier oorkant hom staan. Die man wat vir die dood van sy oogappel verantwoordelik is, en vir sy vrou se sielkundige toestand.

“In elk van die vyf kamers het ons tien lede van die mees gevreesde bendes hier in iKoloni, tesame met hul leiers,” kraak die stem weer oor die interkom.

“Die bendes heet die Yankee Kids in Elsiesrivier, Ghetto Blasters in Manenberg, Ugly Dogs in Worcester, Blood Brothers in Saldanhabaai en die Chicago Boys in Mitchells Plain.”

“Hei! Ek is nie ’n gangster nie!” gaan Johnny skielik gal af. “Julle maak ’n mistake!”

“Stilte!” kom die bevel dringend oor die interkom.

Johnny gehoorsaam gedwee.

“Julle gaan hier ’n survival game speel,” gaan die stem voort. “Julle ken dit goed. Dis dieselfde game wat julle daar buite in jul sogenaamde territories gespeel het – moord en doodslag!

“Julle gaan mekaar hier ongestoord kan uitmoor sonder dat onskuldige mense in jul kruisvuur beland.”

“Hey, wie gee djulle die reg om ôs sommer net so te ontvoer en te dwing om ’n sogenaamde game te speel?” bulder Pankreas dit uit.

“Dieselfde reg wat julle julself toe-eien om die gemeenskappe in ’n greep van vrees gevange te hou,” kap die stem terug.

 “Julle sal sien Robbeneiland is nie meer die toeriste-attraksie wat dit destyds was nie. Die huidige regering het die eiland verwaarloos en dit in onbruik laat verval. Indringerbosse het hier oorgevat en die meeste van die geboue en huise is toegegroei.

“So, die spreekwoord, ‘it’s a jungle out there’ is nou hiér van toepassing.

“Ons stuur binne die volgende halfuur die eerste vyf manne uit elke kamer die bosse in. So, dis lede van verskillende gangs wat teen mekaar te staan gaan kom. Oral oor die hele eiland is wapens versteek. Daar is vuurwapens, messe, pangas of enigiets waarmee julle daar buite oorlog gevoer het.

“Julle kan daar in die bosse kies hoe julle mekaar gaan afhaal.”

“Mammieee, help!” gil een van die jong gangster-outjies dit benoud uit toe hy dit hoor.

“Ek willie meer ’n gangster wesie! Ekke wil huis toe gaan!” kerm nog een dit uit.

Johnny bekyk die hele storie in die kamer. Hy sien ook op die skerms hoe die gangsters in die ander kamers begin murmureer.

Was dit nie vir die penarie waarin hy hom bevind het nie, kon die situasie selfs lagwekkend gewees het.

“Ons het drones in die lug en kameras oral op die eiland wat jul bewegings gaan monitor,” gaan die stem onverpoos voort.

 “Net uitgesoekte intekenaars van óns geslote TV netwerk hier in iKoloni sal ons reality show, Jungle Games, kan dophou. Ons begin dit binne die volgende 40 minute uitsaai. Net voor sononder.

“So, ons sal regstreeks kan volg hoe julle mekaar een vir een vrekmaak… en daar is geen wegkomkans nie.

“Ons sal enigeen wat dit durf waag om van die eiland te probeer ontsnap, met die drones volg. As die haaie nie met hom klaarspeel nie, sal óns wel.

“Daar gaan ten laaste net een man uit die stryd tree. So, berei julself sielkundig voor vir die game om lewe en dood,” sluit die geheimsinnige stem af.

 “O jarraaaa!!” kerm nog ’n skollie dit uit.

Pankreas staan net daar met ’n stroewe gesig. Hy besef natuurlik sy lekker tyd hier op aarde is skielik besig om uit te loop. Hy het ál sy aartsvyande daar op die skerms gesien. Daar is Kliebo, leier van die Ghetto Blasters en Gino, leier van die Chicago Boys. Die ander janne van daai Worcester en Saldanha se bendes ken hy nie.

Hy wat Pankreas is, sal vanaand moet chise met ’n battlefield. Hy sal staan kapadien virrie ding.

Hy kyk stip na Johnny, wat oorkant hom staan. Hy wonder hoeko die boeta so bekend lyk. Hy is beslis nie ’n lid van sý gang nie.

Ná 20 minute gaan die deur oop. Vyf gemaskerde mans kom die vertrek binne. Vier van hulle is gewapen met masjiengewere terwyl een met ’n elektroniese notebook in sy hand nader kom. Hy kom op Johnny afgestap. “Jý, kom saam!” sê hy kortaf. Hy beduie na nog vier manne. “Julle wat daar in die hoek wegkruip, julle kan ook saamkom. Gee jul name vir my!” beveel hy kortaf.

Toe hulle klaar is, word daar foto’s van hulle geneem en hulle word die kamer uit begelei. Die vier skollies word met die gewere in die rug gepomp om hulle aan te por.

 Pankreas en sy ander vier makkers bly alleen in die kamer agter. Ook in die ander kamers word die leier van elke gang en vier manne agtergelaat.

 Johnny en die vier skurke word diep die bosse in gelei. Die manne met die gewere hou ’n fyn oog oor hulle terwyl hulle deur die digte bosse stap.

Ná ’n hele ruk se stap roep die een met die notebook halt.

“Die game begin nou,” sê hy. “Die ander groepe bendelede is ook op strategiese plekke oral op die eiland gelos. Daar is nou 25 van julle. Julle kan mekaar nou uitsnuffel en uithaal. Dis nou ’n kwessie van dood of wórd gedood. Jul wapens is iewers in die bosse versteek.

”Toe, weg is julle!!” gil die man op hulle.

Die spannetjie hardloop vinnig die bosse in. Elkeen is nou besig met sy eie gedagtes oor hoe hy hier gaan oorleef.

Johnny bekyk die gangsters hier by hom fyn uit. Dit sal maklik wees om met dié idiote klaar te speel dink hy. Hulle lyk baie ongeorganiseerd.

 “E-ek sê, boeta Poen, ôs m-moet m-mekaa’ hiesô bystaan,” sê een ou bangerig aan so ’n lang tjapgevreet-jong.

Johnny voel hoe sy bloeddruk opstoot toe hy die naam “boeta Poen”, hoor. Dis dieselfde skurk wat sy dogter verkrag en vermoor het…

HOOFSTUK 3

In uitgesoekte huishoudings in iKoloni sit die mense vasgenael voor hul TV’s. ’n Deuntjie begin te speel en die woorde “Jungle Games”, wat die reality gameshow aankondig, verskyn oor ’n gemanipuleerde foto van ’n eiland op die skerm.

’n Diep stem waarsku die kykers dat die uitsending beeldmateriaal bevat wat nie vir sensitiewe kykers bedoel is nie. En beslis nie geskik is vir kinders nie.

Daarna  word elke van die deelnemers se profiel en foto op die skerms vertoon.

Skielik slaan die uitsending regstreeks oor na Robbeneiland waar die verskillende groepe gangsters tussen die bosse deur sluip.

Terselfdertyd gluur Johnny na die skurk hier voor hom en voel hoe sy bloeddruk styg. Dis dieselfde skurk wat sy dogter verkrag en vermoor het.

“P-pa, dis een v-van Pankreas se manne, b-boeta Poen…” het Kristonia nog met haar laaste asem gesê voordat sy in sy arms gesterf het. Ja, daar in die vuil kanaal in Riverton, Elsiesrivier, het iemand op die halfnaak en halfdood jong meisie afgekom en die ambulans gebel. Toevallig was een van die ambulansmanne ’n vriend van hom en het hom daarvan verwittig.

Hulle het hul bes probeer om haar lewe te red. Maar sy het stadig in sy arms weggekwyn.

Nou staan hy hiér langs die verkragter en moordenaar van sy dogter.

“Hey! Hoekô kyk dié ou my so snaaks aan?” vra boeta Poen en wys na Johnny.

Almal kyk nou met nuwe aandag na die vreemdeling in hul midde.

Johnny klem sy vuiste saam. “Jy! Jy’s die gemors wat my dogter vermoor het!” spoeg hy die woorde uit.

Voordat Poen kan reageer, stormloop Johnny hom en saam ploeg hulle oor die grond. Hy laat reën sy vuiste al in die gangster-gevreet hier onder hom.

“Hey, kô haal die mal ou hie’ van my af!” gil Poen aan sy drie makkers.

Die drie spring vorentoe en neem heel gewillig deel aan die geveg. Hulle skop Johnny al in sy ribbes en teen sy kop, maar Johnny klou vir al wat hy werd is aan die keel van die gangster hier onder hom.

In die goed ingerigte beheersentrum, in die saal van die skoolgebou, sit die geheimsinnige organiseerder van die games in sy gemakstoel. Hy het ’n gruwelike scar wat van sy regterslaap tot teen sy nek afloop. Daar is ’n klap op sy regteroog en met sy linkeroog staar hy na die reuse-monitors hier voor hom.

Hy is omring met so tien gewapende manne, geklee in swart uniforms.

Hy fokus op die monitor op die verste punt en druk ’n knoppie op die paneelbord hier voor hom. “Zoom kamera 30 in vir my, asseblief,” praat hy met iemand in die spreekbuis.

Hy staar weer na die skerm en sien hoe die beeld nader getrek word. Daar is ’n frons op sy voorkop.

“Dit lyk asof daardie groepie sommer uit die staanspoor mekaar aanvat,” sê hy aan die ander hier om hom.

“Dit lyk vir my eerder asof hulle almal op een man se case is,” sê een van hulle.

Klapoog bring sy gesig nader aan die skerm en kyk aandagtig na die man wat nou aan die ontvangkant van die ander skurke is. “Bring gou weer daardie man se profiel vir my op?” vra hy aan die man wat in beheer is van die uitsending.

Die man se vingers gly oor die sleutelbord van die beheerpaneel voor hom.

“Sy naam is Johnny Sarels. Hy is blykbaar ’n lid van die Yankee Kids in Elsiesrivier,” sê hy.

“Maar dis mos dieselfde man wat kapsie gemaak het dat hy nie ’n gangster is nie,” sê Klapoog en kyk aandagtig na Johnny se profielfoto.

Intussen baklei Johnny verbete teen die vier skurke. Een van die skurke tref hom met ’n vrot stuk hout teen sy skouer dat hy eenkant toe steier.

Hy struikel oor ’n boom se wortels en val op sy maag tussen die blare. Toe hy wil opstaan, merk hy die blink lem van ’n jagmes wat tussen die blare uitsteek.

Hy kyk om en sien dat die vier skurke weer op hom afstorm. Hy gryp die mes en spring regop. Hy gryp die voorste een vas en sink die mes in sy hart weg.

Die ander drie steek viervoet vas toe hulle die bebloede mes in Johnny se hand sien. Blind van woede bespring Johnny weer vir boeta Poen.

“Djy, gemors, vandag boet jy vir my dogter se wrede dood!” gil hy en steek Poen in sy nek dat die bloed so spuit.

Poen se twee oorblywende makkers swaai om en vlug die bosse in.

Poen probeer nog verbete die woeste meshoue afkeer, maar Johnny is soos ’n wilde dier op sy prooi.

Hy steek al sy woede op die skurk uit totdat die lewelose liggaam van die verkragter en moordenaar van sy dogter daar in ’n groot plas bloed op die grond lê.

Hy spring op, sy oë soekend tussen die bosse deur na die ander twee skurke.

Skielik skeur bloedstollende gille deur die woud terwyl geweerskote ’n entjie van hom opklink. Hy kyk vinnig in die rondte en gewaar ’n groot boom met welige blare ’n entjie van hom af. Hy hardloop na die boom toe. Hy prop vinnig die bebloede mes in sy broeksak en klim soos blits teen die boom op.

Hy gaan skuil bo tussen die lowergroen blare en loer na onder, net betyds om te sien hoe die twee makkers van Poen daar tussen die bome deur ’n skollie met ’n vuurwapen neergevel word.

In die verte klink die gille van ander slagoffers op.

’n Woeste geveg tussen vyf skurke wat mekaar met byle en pangas takel, vind links van hom tussen twee ou murasies plaas.

Die skollie met die vuurwapen kruip haastig agter ’n bos weg terwyl die spannetjie mekaar uitroei.

Toe hulle daar dood tussen die blare lê, staan die skollie regop en kyk om hom rond. Hy swaai sy vuurwapen woes van kant tot kant, soekend na sy volgende slagoffer.

Hy kom by die boom waarin Johnny skuil en gaan leun met sy rug daarteen. Hy buk skielik om ’n los veter vas te maak.

Dis net die oomblik waarvoor Johnny gewag het. Net toe hy spring, gewaar hy uit die hoek van sy oog die skurk waar hy verskuil agter ’n verrotte boomstomp hurk. Daar is ’n masjiengeweer in sy hande en dis op hóm gerig…

HOOFSTUK 4

Net toe Johnny uit die boom op die skollie hier onder hom neerdaal, sien hy uit die hoek van sy oog nog ’n gewapende skurk daar agter ’n ou verrotte boomstomp. Die geweer in die skurk se hande begin te knetter en ruk stukkies boombas vlak bokant Johnny se kop los.

Hy tref die skollie onder hom met sy voete vol in die rug. Terselfdertyd duik hy eenkant toe en rol tot in ’n donga daar naby.

Hy hoor hoe pistool- en masjiengeweervuur opklink en vir ’n rukkie voortduur. Johnny wonder meteens of die twee skurke op mekaar vuur of dalk op iemand anders.

Toe die skote ophou, waag Johnny dit om oor die rand van die donga te loer. Hy klou die jagmes styf in sy hande vas.

Hy merk dat albei skollies teenoor mekaar daar op die grond lê.

Johnny fynkam die wêreld tussen die bome en kruip dan versigtig uit die donga. Hy sluip tot by die twee manne waar elkeen nog met hul wapen in hul hande lê.

Hy ondersoek vinnig die liggame en besef hulle is albei so dood soos mossies. Hulle moes toe op mekaar geskiet het, dink Johnny en gryp die masjiengeweer uit die een skurk se hande.

Hy sluip stadig tussen die bosse deur met die geweer voor hom uitgesteek. Dis te onnatuurlik stil hier in die bosse, besef hy toe hy nie eens ’n kriek hoor tjirp nie.

Toe hy die ou murasies nader, sien hy die vier gemaskerde manne daar staan.

Hulle beduie met hul gewere dat hy syne moet laat val.

Hy gehoorsaam en steek sy hande in die lug op.

Hulle kom vinnig nader geloop. “Geluk, jy is die wenner van die eerste rondte,” sê een van hulle. “Die geveg het presies ’n halfuur geduur.”

Johnny kyk die manne verbaas aan. Dit het vir hom soos vyf minute gevoel en hy kan nie glo dat al die ander skollies dood is nie.

“Ja, die ander gangsters is moer toe,” gaan die man voort. “Al 24 van hulle. Jy is die enigste oorlewende.

“Ons gaan jou nou terug escort na jou kamer. Jy moet vanaand maar lekker rus, want môreaand is dit weer regstreeks Jungle Games.”

Terug in die kamer nuttig Johnny en die ander vier gangsters ’n vinnige maaltyd wat vir hulle voorberei is.

In die ander kamers verorber die ander ook hul maaltye soos honger wolwe.

Ná ete voel Johnny hoe Pankreas se oë op hom brand. Hy kyk op, reg in die yskoue oë van die gangster.

“Wát!?” vra hy kortaf aan Pankreas.

“Wie’s djy!? En wat soek djy hier tussen ôs?” vra die groot gang-leier vir Johnny.

“Wag en kyk!” kap Johnny terug en sien hoe die ander ouens in die kamer hom met groot oë aankyk.

“Ek het getjek wat djy daar buite met my manne maak!” kap Pankreas net so hard terug. “Djy het spesifiek eerste vir hulle gegaan. En ek wiet djy is nie een van ôs nie.”

Johnny kyk nou met yskoue donker oë na Pankreas. “Wie ek is, het niks met jou te doen nie, maar wat ek hiér maak, het beslis baie met jou te doen,” spoeg Johnny die woorde uit, net voor die ligte afgaan.

Die volgende middag word, uit elke kamer, vier manne gekies. Dis net die leiers van elke gang wat agterbly, behalwe vir Pankreas, wat nou met Johnny as geselskap opgeskeep sit.

Toe die Jungle Games begin, volg hulle elke beweging deur die direkte uitsending op die skerms.

Hulle sien hoe die 20 gangsters mekaar tussen die bosse en ou murasies soek.

Die eerste konflik vind plaas waar een van Pankreas se manne en twee ouens van die Ghetto Blasters gang tegelyk op ‘n vuurwapen afkom waar dit in ’n bouvallige huis versteek lê. Hulle baklei om besit van die vuurwapen. ’n Skoot gaan af en een van die Ghetto Blasters sink op die vloer neer.

Pankreas gee ’n opgewonde gilletjie toe hy sien dat sý trawant in besit van die vuurwapen is en toe dié nog boonop gou klaarspeel met die ander Ghetto Blaster.

Sommer gou begin die gangsters mekaar uitmoor en Johnny kry so ’n lekker gevoel toe hy sien hoe twee van Pankreas se gespuis ook die onderspit delf.

Toe die stof gaan lê, bly net twee Yankee Kids oor.

Hulle sien hoe die twee in mekaar se ore fluister en die een met sy kop wys na die jetty in die klein hawetjie, waar ’n motorbootjie vasgeanker is.

“Wat te f*k maak julle!?” gil Pankreas dit uit, toe hy sien hoe die twee skelmpies in die boot klim – amper asof sy skurkbrasse hom kan hoor.

Hy kyk verstom na die skerms. “Hulle wil wragtig daai boot steel en daarmee ontsnap. Het die donners ve’giet dat hulle dopgehou word?” gaan hy gal af.

Skielik hoor hulle ’n helse knal. Die boot het ontplof toe dit aangeskakel word.

Pankreas uiter ’n gil en kyk bewoë na die skerm terwyl sy laaste twee manskappe verkool. Daar is ’n tevrede uitdrukking op Johnny se gesig terwyl hy hom verlekker in die gangster se smart.

Kort daarna word die uitsending verbreek.

Die volgende dag sit die oorblywende gangsters stil in hul onderskeie kamers en bepeins die naderende aand. Hulle besef dat dit vandag dalk hul laaste tyd op aarde is. En die kanse om te ontsnap is skraal.

Klokslag 18:30 word almal uit hul kamers gehaal en na ’n groot vertrek gebring.

Hier wag die geheimsinnige organiseerder hulle in. Hy het ’n gladiator-masker op sy gesig.

Tien gewapende wagte trek vinnig laer om hom.

“Vanaand het ons gekom aan die einde van ons show,” sê hy en kyk die skurke hier voor hom een vir deur.

“Maar eers gaan ek julle wys wie ek werklik is, sodat julle kan sien met wie julle te doen het.”

Stadig haal hy sy masker af. Almal kyk in afwagting, terwyl die aaklige scar aan die man se nek en toe die klapoog stadig ontbloot word.

Pankreas snak na sy asem toe hy die man hier voor hom herken.

Groot sweetkorrels pêrel teen sy voorkop en hy weet dat hy definitief nie die eiland lewend gaan verlaat nie…

HOOFSTUK 5

Pankreas se mond val oop van skok toe hy die man hier voor hom herken. “Kaptein Donnie..?” hyg hy die naam van die eens gedugte speurder van die destydse georganiseerde misdaadeenheid uit.

Van die ander skurke herken ook die speurder wat destyds so genadeloos jag op hulle gemaak het.

Donnie kyk met sy yskoue, donker oog na die manne hier voor hom. Hy wys toe na die merk aan sy nek en die klap oor die ander oog.

“Dís wat ek oorgehou het van ’n wraakaanval van dié lafhartige skuim,” spoeg hy die woorde uit en kyk Pankreas direk aan.

“My voorgelê een aand toe ek moeg van die werk af gekom het. Eers is ek met ’n panga teen my nek en kant van my kop geslaan en toe is my regteroog uitgeskiet.

“Ja Pankreas, jy het my vir dood agtergelaat. Maar ek het wonderbaarlik herstel om op my tyd wraak te neem teen al julle lafhartige bende-gespuis. Julle wat die gemeenskappe in ’n greep van geweld gevange hou.”

Donnie wys na sy gewapende manne hier om hom. “Ek het dié manne gewerf uit die destydse polisie en weermag. Ek het my hier op die verlate Robbeneiland kom vestig en ons het tot in die fynste besonderhede uitgewerk hoe ons julle gangsters stelselmatig gaan uitroei. En so is Jungle Games gebore.”

Donnie se blik skuif na Johnny en sy oë versag skielik. Vir ’n hele rukkie kyk hy in die gesig van die man wat so anders as die gangsters voorkom. Hy wonder wie die man werklik is.

Skielik verhard sy blik toe hy weer na die ander gangsters kyk.

“Julle is almal leiers van die mees gevreesde bendes hier in iKoloni,” sê hy. Ek het julle vir laaste gelos om vir my kykers daar buite die grenslose genot te verskaf om te sien hoe julle een vir een vrek.

“Die tyd het aangebreek dat julle moet boet vir jul dade teen die gemeenskap. Die uitsending begin binne vyf minute. Gaan en vernietig mekaar,” sluit Donnie koud af en verdwyn vinnig by die deur uit.

Die groepie word na buite begelei. Hulle word toe beveel om elkeen in ’n afsonderlike rigting die bosse in te hardloop. Vir ’n volle vyf minute moet hulle hardloop voordat hulle mekaar begin uitsnuffel.

Toe dit Johnny se beurt is, stamp een van die gewapende manne hom so in die verbygaan in die sy.

Johnny kyk die man verbaas aan, maar dié draai vinnig om en gaan staan tussen sy kamerade.

Hulle beduie vir Johnny in watter rigting hy moet hardloop en hy laat spat tussen die bome deur.

Na vyf minute begin hy deur die digte bosse na die middel van die eiland beweeg. Hy het darem ’n idee van watter rigting die ander gangsters gaan begin soek. Hy moet nou net ’n wapen in die hande kry.

Na vyf minute klink die eerste gille hier so regs van hom op. Hy koes vinnig agter ’n boom weg toe ’n man deur die bosse storm. Daar is ’n groot bloedkol op sy bors. Hy gee ’n paar treë voor hy inmekaarsak en op die grond bly lê.

Die man wat oënskynlik vir sy dood verantwoordelik is, kom volspoed deur die digte bosse gebars. Hy klem ’n lang mes in sy hande vas.

Hy gewaar Johnny daar agter die boom. Hy grynslag breed en storm op hom af. Johnny swaai om, maar struikel en maak hard met moeder aarde kennis. Hy beland half op sy sy en voel iets hard hier in sy jacket se sak.

Sy hand voel-voel na die harde ding in sy sak, op die oomblik toe die gangster hier bokant hom uittoring. Dít terwyl nog gille van iewers op die eiland opklink.

Toe die skurk na Johnny steek, gaan ’n skoot hier vlak langs hulle af en die skurk val dood op die grond neer.

Johnny spring vinnig op toe hy Pankreas met ’n vuurwapen in sy hande deur die bosse aangestap sien kom. Daar is ’n wrede grynslag op die gangster-dikding se bakkies.

“Ja, ou Johnny-boy. Dis net ek en djy wat nog oor is,” sê hy smalend. “En ék gaan bly leef, want ek het die hef… ag ek bedoel die gun innie hand.”

Pankreas lag diep uit sy keel vir sy eie flou joke en skiet Johnny skrams teen in linkerskouer. Johnny steier agtertoe tot teen ’n boom. Pankreas kom stadig nader en mik die volgende skoot na Johnny se hart.

Johnny besef dat hy vandag hier ’n droewige dood gaan sterf.

Hy onthou skielik weer van die harde ding in sy jacket se sak. Hy tas met sy regterhand daarin en tot sy verbasing voel hy dat dit ’n rewolwer is. Hy onthou skielik hoe een van die wagte vroeër teen hom gestamp het. Hy moes die vuurwapen om een of ander rede in sy sak geplant het.

Hy sien hoe Pankreas se vinger om die sneller van sy vuurwapen span. Hy pluk vinnig die rewolwer uit en skiet Pankreas een skoot in die bors.

Die groot gangster se oë verstar terwyl sy vuurwapen stadig uit sy hand val. Hy sink op sy knieë neer en kyk verbaas na Johnny.

Johnny gaan staan voor Pankreas en rig die rewolwer op sy voorkop.

“Jý is die rede dat ek hier tussen julle gespuis opgeëindig het. Ek het my op die dood van my dogter, Kristonia, gewreek toe ek saam met jou manne opgetel is. En vandag is my wraak soet!” spoeg Johnny die woorde uit.

Herinnering en verwarring is skielik op Pankreas se gesig geskryf voordat die koeël deur sy brein ontplof.

Uit die hoek van sy oog sien Johnny hoe Donnie, begelei deur sy gewapende manskappe op hom afgeloop kom.

Donnie kom tot voor hom en kyk hom lank aan. “Wie is jy nou eintlik?” vra hy aan Johnny.

Johnny laat val sy vuurwapen op die grond. “My naam is Johnny Sarels. Ek is nie ’n gangster nie en was net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek toe ek geregtigheid vir die dood van my dogter gesoek het.”

Daar is ’n ernstige trek op Donnie se gesig.

“Wil jy nie my span join nie? Want die geveg teen die bendes gaan nog vir lank aanhou,” sê hy en reik sy hand na Johnny toe uit.

DIE EINDE.

  • Chantal

    Goeie verhaal, maar onthou die volgende:

    Onthou, jy skryf ‘n Afrikaanseverhaal en in jou verhaal is daar te veel Engelse taal, byvoorbeeld die woord ‘mistake’, sê eerder ‘julle maak ‘n groot fout!”

    1) Dit klink nie na ‘n wetenskapfiksieverhaal nie, eerder na gewone fiksie, maar jou storie is oorspronklik.

    2)Die derde ding wat my so bietjie pla, is dat jy hoofstukke ingesit het. Alhoewel daar eintlik, niks verkeerd is daarmee nie, sal die kortverhaal beter gefloei het sonder die hoofstukke en moenie ‘hoofstuk 1’ noem nie, jy kan net sê ‘een, twee’ en so aan.

    3)Sommige woorde is ook onleesbaar, byvoorbeeld:

    1) wonner? Dalk wonder?
    2) Au? Hierdie een verstaan ek glad nie?
    3)gangster-gemorste? Sê eerder, gangster gemors
    4) tjapgevreet-jong? Noem dit eerder twee woorde tjapgevreet jong.

    Daar is nog baie, maar ons almal maak maar foute jong. Spelling is my grootste probleem en sterkte met die res van jou kursus!

    Ons almal leer nog hoe om te skryf.

    • Salmon Smith

      Hi Chantal
      Dankie vir u kommentaar.
      Die storie is oorspronklik vir die Sonkoerant se blad “Oom Sonnie geskryf.
      Dis is ‘n vervolgverhaal wat daagliks geloop het.
      Ek het meer die engelse woorde beperk tot dialoog, want dis soos die mense praat in ons gemeenskappe.
      Die woord “Au’ is ‘n tipe slang op die Kaapse vlakte wat ‘n verbaasde uitdrukking voorstel.Die meeste van die woorde soos, “wonner” word so uitgespreek volgens die streektaal van die inwoners.

      • chantal pretorius

        Dankie vir jou terugvoering Salmon Smith. Ek waardeer dit. Nou leer ek ook sommer iets nuuts.

  • Johan Van Wyk

    Ek het sommer baie die storie geniet! Die eerste paragraaf is net te naby aan die huidige werklikheid 🙂