Loeloeraai

Sover ons kennis strek, is hierdie die heel eerste wetenskapfiksiewerk wat in Afrikaans gepubliseer is. En dis heel gepas dat dit uit die pen is van dieselfde man wat die volkslied vir Suid-Afrika in Afrikaans geskryf het – Die Stem van Suid-Afrika.

C.J. Langenhoven was ‘n formidabele persoon in die tyd toe Afrikaans gebore is. Hy was ‘n intellektuele reus met ‘n fyn aanvoeling vir taal en met ‘n besonderse skerp sin vir die menslike elemente soos humor, sarkasme, ironie, meegevoel, pyn, ens. Iemand met diep en wyse insigte en spitsvondighed, soos:

Gee my ‘n man wat sê wat waar is – as die duiwel daar is. Wat doen wat reg is – as die regter weg is. Wat trou by sy gewete bly – as hy straf in plaas van beloning kry.

Hy het talle boeke van fiksie sowel as nie-fiksie geskryf in ‘n uiteenlopende aantal genres. Maar vir ons is dit natuurlik Loeloeraai waarvoor ons hom onthou.

 

Dit is natuurlik ook nie die enigste bydrae wat hy tot die fantastika gemaak het nie. Hy was ‘n produktiewe skrywer van talle kinderstories en sy sprokies en fabels word steeds vandag deur kinders geniet, byvoorbeeld Brolloks en Bittergal.

Maar met Loeloeraai het Afrikaans geboorte geskenk aan ‘n nuwe genre – die wetenskapfiksie. Aanvanklik het Loeloeraai verskyn as ‘n vervolgverhaal in die koerant, Die Burger. As gevolg van die populariteit daarvan, verskyn dit spoedig as ‘n boek wat die eerste keer in 1923 verskyn.

Teen 1959 trek dit reeds by die 13de druk…

…en teen 1972 word die 19de druk beskikbaar gemaak.

In 1965 word ‘n verwerkte weergawe daarvan as ‘n reeks aflewerings op Radio Suid-Afrika (nou RSG) uitgesaai. Hierdie klankgreep bevat ‘n kort uittreksel daarvan (luister gerus).

Mettertyd het die kopiereg van die werk verval en het verskeie partye dit begin uitreik as deel van ons nasionale volksbesit en erfenis.

In 1985 herskryf Anna Neethling-Pohl en Jannie du Toit die storie in ‘n musiekblyspel wat by die Universiteit van Pretoria opgevoer is.

Die storie in bindend en baie snaaks, en is redelik vrylik beskikbaar – ook as ‘n e-boek. Langenhoven self het die volgende hieroor gesê.

Dit was ‘n goeie ding, dog ek, dat dit so getref het dat hy [Loeloeraai, die buiteaardsewese] sy eerste aanraking met die aarde in Suid-Afrika gevind het. Sê nou hy was in Holland of Duitsland of Sjina te lande gekom, hoe sou hy ooit oor die onmoontlikhede van daardie ongerymde en onleerbare tale gekom het om te kan verstaan en hom verstaanbaar te maak? In Engeland sou dit nog op ‘n manier kon gegaan het sovér as die taal betref, maar natuurlik daar is die mense weer onmoontlik. Met Afrikaans en Afrikaners ondervind geen vreemdeling mos ooit moeilikheid nie. Hulle met hom altemit ja..”

Kyk gerus na hierdie bespreking deur Gerhardus Thompson oor van die agtergrond tot hierdie WF-legende.