Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel

JV van Wyk
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2015)

1. J.V. Van Wyk - Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel

5. Ricky Erasmus Rolstoel - Voorblad

HOOFSTUK 1
WEGKOM

DIE skoolklok lui – ʼn oomblik later skiet ʼn swart-en-lemmetjiegroen BMX soos ʼn weerligstraal by die hek uit. Die seun se blonde hare wapper heen en weer, sy bene beweeg op en af soos ʼn stoomlokomotief se suierstange. Fronsend kyk hy om en skandeer die sypaadjie. Sy hart mis ʼn slag wanneer nog vier fietse by die hek uitbars. Die fietsryers se koppe kyk soekend van links na regs, dan gewaar hulle hom aan die onderkant van die straat. Een van hulle gee ʼn wolwefluit en so begin die jaagtog. 

Op die voorste fiets sit Vlam Stander, die grootste boelie in die skool. Sy kerriekuif flap in die wind en sy sproetgesig is rooi van woede.

“Erasmus! Ricky Erasmus, jy is dood! Jy gaan nooit wegkom nie, ou!” Die ander drie roep eenderse dreigemente. “As jy nou opgee dan sal ons sagter op jou wees!”

“Vlam, jou orangoetang, dink jy ek is bang vir julle? Julle klomp bobbejane kan nie eers ʼn grap vang nie, hoe wil julle my dan nog vang?” roep Ricky oor sy skouer.

Hierdie belediging laat Vlam se neusgate nog twee keer groter swel. Met hernieude krag begin hy al hoe vinniger trap. Sy troepe volg sy aksies soos een man. Dit laat Ricky ook nog harder op sy pedale werk.

Soos ʼn trop leeus agter ʼn bok aan, rits die vyf fietse heen en weer oor die gruis van die teer. Nouliks mis Ricky motorkarre se spieëltjies, deure wat oopmaak en ander leerders. Sommige bestuurders blaas toeters, ander mense spring uit die pad om botsings te vermy.

Hy kyk oor sy skouer. Hierdie ouens wil net nie opgee nie!

Hy draai in ʼn hoofstraat in en stuur in die rigting van die winkels. Dit is opdraande, maar dalk kan hy hulle só afskud. Weer tuur hy oor sy skouer – hulle is honderd meter weg en vinnig besig om in te haal. Net betyds kyk hy weer voor hom – hy swaai uit vir ʼn ou tannie op die sypaadjie, die handvatsel raak haar hand skrams. Die papiere wat sy vasgehou het vlieg in die lug op en fladder die hele wêreld vol.

“Jammer, Tannie!” Daar is nie tyd om te stop nie.

Die gejaag duur voort. Op en af met die sypaadjies, om bome en deur die klein gapings tussen motorkarre. Nog ʼn maal kyk hy om. Vlam se gesig is rooi – rooier as normaal – en hulle trap al hoe stadiger. Hulle is besig om moeg te raak! Dalk kan hy nog wegkom… maar dan, sonder waarskuwing, tref hy iets. Ricky vlieg deur die lug en tref die grond met ʼn harde slag. Hy ploeg neer en rol ʼn paar meter voordat hy tot stilstand kom. Die wêreld rondom hom swaai. Sy hele lyf is seer en vir ʼn paar oomblikke bly hy net daar lê.

Wat het gebeur?

Stadig draai hy sy kop na waar die fiets verstrengel tussen die grasse lê en sien die groot klip wat hom gepootjie het. Daar skiet ʼn skerp steekpyn deur sy linkerarm. Hy is te bang om te kyk, maar dwing dan homself. Gelukkig is dit net nerfaf. Hy vryf versigtig die bloederige grond af.

Met ʼn skuur en skree van die remme stop die ander fietse rondom hom. Vlam gee ʼn lekker lag.

“Ek het mos gesê, jou klein nikswerd, jy moes maar liewers opgegee het. Nou is dit te laat,” sê hy uitasem. Hy klap sy vingers en onmiddellik reageer sy twee trawante, Pieter en Ben. Hulle loop na Ricky en trek hom van die grond af op.

“Jy dink seker dit was baie snaaks toe jy daardie vrot eiers in ons tasse gesit het,” sê Zack Combrink, die seun met bruin hare en bakore soos satellietskottels – Vlam se generaal.

“Julle het seker gedink dit was baie snaaks om Ciska de Klerk se toebroodjies in die asblik te gooi!” Hy probeer losruk, maar hulle hou hom te styf vas.

Vlam se gesig vertrek in ʼn gemene grynslag. “Hou hom styf vas, ouens. Dit gaan seer wees.”

Dadelik verstyf hul greep. Vlam klim van sy fiets af, loop arrogant nader en gee Ricky ʼn kragtige hou in sy maag. Al die lug word uit sy longe gepers en ʼn harde kreun bulder by sy mond uit. Die pyn strek tot in sy kleintoontjie, maar hy gaan hulle nie die genot gee nie.

“Is dit al wat jy het? Komaan, jy kan seker beter as dit doen.” Ricky se seegroen oë staar die reus voor hom stip aan.

“O, so jy is nog grootbek ook?” sê Zack en slaan ʼn hou wat na Ricky se kop gemik is. Dit is waarvoor hy gewag het. Ricky kantel sy kop skuins en ruk met al sy krag af. Hierdie beweging verseker dat hy nie getref word nie. Die kolossale vuis tref Pieter reg op die neus. Onmiddellik los hy Ricky se arm en sy hande probeer die warm bloed keer wat uit sy neus oor sy skoolhemp spuit. Ricky ruk sy arm uit Ben se greep en maak ʼn rolbolmakiesie vorentoe. Dit dwing hom van balans af en met ʼn swaaiende pootjieskop val Ben op die grond neer.

Ricky spring vinnig op en kyk na die twee oorblywende Goliats voor hom.

“Wat kan ek sê? My oom Dirk het ʼn swart belt in karate. Ek het ʼn paar dinge by hom geleer.” Hy hoop dat dit hulle sal afskrik, maar dit doen nie. Daar volg ʼn stilte waarin hulle mekaar stip aanstaar en probeer opsom.

Dit lyk amper soos ʼn toneel uit een van Ricky se prenteboeke wanneer Vlam sy vuiste bal, ʼn onmenslike gil gee en op hom afstorm. Hy systap hom en rol tussendeur Zack se bene. Met een hand gryp hy sy tas en hardloop vir die fiets. In ʼn split-sekonde ondersoek hy die BMX – hy sien niks fout nie. Vinnig spring hy op en trap die straat af. Dronkgeslaan kyk Vlam en Zack toe hoe Ricky wegjaag. Dan besef Vlam dat die klein snip hulle uitoorlê het.

“Ek gaan maalvleis van hom maak,” sê hy en pluk dan sy fiets ook op.

Ricky draai by die winkelsentrum in met die hoop dat die klomp motors en mense dit bietjie moeiliker gaan maak vir die twee. Hy dartel om, agter en voor motors in, maar hy kan die twee seuns net nie afskud nie. Hulle bly kort op sy hakke.

Uiteindelik skiet hy aan die anderkant van die parkeerterrein uit. Sy bene voel aan die brand. Hy kyk om en sien dat hulle steeds by hom bly. Pieter en Ben het hulle ook nou weer by hul trawante aangesluit. Dalk was dit nie so ʼn goeie idee vir ʼn graad-5 outjie – nogal die kleinste graad-5 outjie in die groep – om die boelies van die skool aan te vat nie.

Haastig draai hy by ʼn verlate straat in. Winkelsentrumsakkies rol soos tolbosse oor die pad. Miskien was dít ook nie die slimste besluit nie. Die bende kom ál nader en nader. Skielik hoor Ricky ʼn snaakse geluid by sy fiets. Hy kyk om en sy oë rek pieringgroot toe Vlam se voorwiel teen sy agterwiel skuur.

“Ha, vandag het jy jou Moses teëgekom, Erasmus. Jou ma-hulle gaan jou stukkies regoor die dorp moet optel,” sê Vlam.

Ricky het nog nooit in sy lewe so hard fiets getrap nie. Hy sit al sy energie in om voor die spul te bly, maar dit lyk asof hy hierdie stryd gaan verloor. Dan, uit die kant van sy oog, merk hy ʼn hoop bousand op wat langs ʼn hoë muur staan.

Dit is sy enigste wegkomkans!

Met die laaste druppel krag wat in hom oorbly, jaag hy in die rigting van sy verlossing.

“Dit móét net werk,” fluister hy vir homself. Sy hande gryp die handvatsels styf vas, sy kneukels wit van spanning.

Hier kom dit!

Hy ry op teen die sandhelling, sy voorwiel skiet verby die spits en hy lanseer die lug in. Die gevoel is asemrowend – soos Superman wat deur die lug sweef. Die boelies stop en staar in ongeloof na wat voor hul oë afspeel.

Dit help ook nie net om deur die lug te trek nie, Ricky het dit so beplan dat hy dit ook oor die massiewe muur moet maak. In stadige aksie lyk dit asof alles volgens plan verloop, maar net voordat hy oor is, tref sy agterste wiel die muur en hy tuimel kop eerste binne die jaart in.

Stilte volg.

“Gaan ons hom agternasit?” vra Zack.

“Nee, my ou, is jy mal? Weet jy dan nie wie se huis dít is nie? My pa sê daar bly ʼn mal wetenskaplike hier. Enigiemand wat waag om sy voete in sy jaart te sit sal doodgemaak word of nog erger… in sy eksperimente gebruik word,” sê Vlam. Die seuns se gesigte word spierwit.

“Kom ons waai, ouens!”

Al vier draai in hul spore om en maak dat hulle wegkom.

  • chantal

    Goed geskryf!

  • chantal

    Klink interessant.