As Hy weer kom

Vickey de Jager

as hy weer kom  – 2018 © Vickey de Jager

Wetenskapfiksie

Vier mense sit by ‘n ronde tafel. Drie mans en ‘n vrou. Niemand praat nie. Daar is nie tyd vir sinnelose praatjies nie. Die katastrofiese gebeure van die afgelope paar dae maal deur elkeen se gedagtes. Weer-en-weer word elke brokkie versamelde inligting geweeg, heroorweeg en uit verskillende hoeke beskou. Om te misluk is nie ‘n opsie nie. Sodra die vergadering begin moet hulle berig lewer en die Hoof sal oplossings verwag.

Pieter Blyeveld krap die vuil onder sy naels met ‘n knipmes uit. Hy sien hoe die goedversorgde vrou langs hom frons en dan haar gesig vies wegdraai wanneer sy sien waarmee hy besig is. Dit laat hom weer eens besef dat die ander drie waarskynlik nie verstaan waarom hy deel van hierdie uitsoek groepie vorm nie. Smit se besproete voorkop is deurgolf met plooie soos hy konsentreer. Al sy aandag is op die slim-kommunikasie toestel in sy hande gefokus. Teenoor hom sit Jan Brits. Sy hande beweeg rukkerig deur die lug. Hy het ‘n dun blinkraam bril aan en die veraf kyk in sy oë maak dit duidelik dat hy hom tans in ‘n virtuele wêreld bevind. Blyeveld hoop tog net nie dat die man hulle met ‘n virtuele simulasie gaan verveel nie. Daar is nie een persoon om die tafel wat nie presies weet wat gebeur het en wat die impak daarvan was nie. Die enigste vrou in die vertrek, Petra Marais,  sit doodstil. Slegs haar lippe beweeg geluidloos en Blyeveld neem aan sy is besig om dit wat sy tydens die vergadering wil voorlê te resiteer. Dit is opmerklik hoe netjies hulle geklee is, selfs onder die omstandighede. In vergeleke met hulle donker gestileerde kantooruitrustings staan sy kakie broek en hemp uit. Hy sug en sit die knipmes terug in sy broeksak. Skielik word ‘n sagte gonsgeluid hoorbaar. Almal kyk op. Die plafon raak wasig en na ‘n paar sekondes verskerp die beeld tot ‘n 3D-Hologram. Die imponerende figuur van die Hoof verskyn uit die niet.

“Goeiemore kollegas”

Blyeveld luister hoe die diep stem plek-plek krakerig raak. Tog kos dit fyn observasie vermoë om te sien dat hierdie sterk man naby breekpunt is. Hulle almal is.

“Die situasie in die Amerika’s en Australasië het nie verander nie, in teendeel dit het verswak.”

Hy bly vir ‘n oomblik stil en kyk elkeen van hulle in die oë voor hy voortgaan.

“Die toestand is kritiek. Dit help nie ek draai doekies om nie.”

Hy sug swaar

“Mag vandag se vergadering vir ons ‘n sprankie hoop bring. Die Vader weet, ons het dit nodig.”.

Hy bly weer vir ‘n oomblik stil en sluk asof hy die krapperigheid in sy keel wil wegsluk.

“Ek wil die vergadering vandag met gebed open.” Daar is weer ‘n stilte.

“Buig julle hoofde saam met my kollegas… vriende, ek dink ons lewens hang letterlik daarvan af.”

Blyeveld luister na die man se gebed en dit val hom op dat hy nie smeek om hulp nie. Hy neem ‘n amper gebiedende toon in. Die ander mense in die vertrek word deur sy woorde meegesleur. Hulle glo in die Hoof. Hy is al meer as drie dekades lank die Hoof Uitvoerende Beampte van die Buro. Onder sy leiding het die Buro net van krag tot krag te gaan. Hy is die rots waarop die Buro en Specula gebou is en op die stadium hulle enigste reddingsboei.

Dit is ‘n lang gebed. Na amper drie minute is daar slegs ‘n kort stilte voor die Hoof voortgaan.

“Die visie van die Buro was nog altyd om parapsigologie, buiteruimtelike aktiwiteite en sameswerings te ondersoek en te verklaar. Op hierdie stadium is Specula egter een van die min plekke ter die wêreld wat nog toegang tot elektrisiteit en elektronika het. Dit maak ons die een-oog konings in ‘n blinde wêreld. Ons kan nog met enkele satelliete waaroor ons gedeelde beheer gehad het kommunikeer. So bly ons op hoogte van die situasie by die areas binne die invloedsfeer van die twee impaksones. Dit is een pluspunt. Aan die ander kant probeer ons steeds kontak maak, veral met Die Verenigde State, maar dit wil voorkom asof die elektromagnetiese skokgolwe na die impak alle elektroniese apparate daar vernietig het.

Specula, ons hoofkantoor en nou ook ‘n tuiste vir meer as veertig Burolede en hulle gesinne, het egter die toets deurstaan. Hierdie selfregulerende wonderwerk het veroorsaak dat ons binne ‘n oogwink belangrike rolspelers in die voortbestaan van die mensdom geword het.  Die tegnologie, kennis en noodsaaklike reserwes in ons besit, plaas ons onder ‘n morele verpligting om uit te reik.”

Sy woorde hang in die lug en raak swaar. Dit voel asof die gewigtigheid daarvan met brute krag op hulle neerdruk.

“Ek weet julle dink ek verwag oplossings.” Hy sug swaar en slaan dan met sy vuis in die palm van sy hand. Die gebaar skok Blyeveld. Dit is die eerste maal in twintig jaar wat hy die Hoof enige teken van emosie sien toon.

“Verdomp! Daar is nie veel wat ons kan doen nie. Ons kan net pleisters plak en probeer oorleef.” Hy haal ‘n paar keer diep asem en Blyeveld sien dat hy sukkel om sy emosies onder beheer te kry.

“ Wanneer ons dus nou met die voorleggings begin ek vra dat julle oopkop moet luister. Noem elke idee wat opkom. Ons situasie is werklik so desperaat. Brits kan ek vra dat jy sal begin asseblief.

Brits staan op en vra almal om hulle 3D-brille op te sit. Blyeveld voel die irritasie in hom opbou. Dan was hy reg – Brits gaan kosbare tyd mors deur hulle met ‘n 3D simulasie te probeer beïndruk.  Hy druk die bril vies oor sy oë en sekondes later hang hy gewigloos saam met die ander in die virtuele ruimte. ‘n Paar duisend kilometer van hulle af dryf die Aarde soos ‘n blou albaster in die duister.

“Ek het ‘n teorie geformuleer” Hy kug effe verskonend.

“’n Akkurate simulasie met die beperkte inligting tot my beskikking was moeilik.”

Hy kug weer.

“Tog glo ek dat ek met ‘n groot mate van akkuraatheid die gebeure van die afgelope paar dae kon weergee.”

In die verte verskyn ‘n miniatuur liggie. Dit word vinnig groter. Na ‘n paar minute word ‘n lang wasige stert sigbaar. Blyeveld sidder die komeet is reusagtig en selfs vir die ongeoefende oog is dit duidelik dat impak met die aarde ‘n gewisse feit is.

Brits neem die rol van ‘n verteller in en sy stem eggo in die ruimte om hulle.

“Die Langtermyn komeet, C0666 het sewe maande gelede op die radar van die Arecibo waarnemingstasie in Puerto Rico verskyn. Twee dae later het NASA bevestig dat hulle NEOWISE ruimtetuig ook die komeet opgespoor het. Volgens hulle berekeninge het C0666 ‘n telling van 7 op die Torinoskaal getoon. Soos julle weet beteken dit dat impak met die aarde is onvermydelik en katastrofies sou wees. Onmiddellike stappe moes geneem word, maar niemand was werklik bekommerd nie, aangesien NASA vir jare reeds daarop geroem het dat hulle voorbereid was vir enige impak scenario. Al die eerste wêreld leiers het fondse voorsien en binne vyf maande was die befaamde Hypervelocity Asteroid Mitigation Mission for Emergency Respons gereed vir aksie.

Blyeveld sien hoe iets wat soos ‘n verskietende ster lyk uit die aarde se atmosfeer vry kom en in die rigting van die komeet dryf. Ons kon HAMMER egter nie onmiddellik aanwend nie. Dit moes genoeg spoed behou om die komeet tydens sy impak daarmee, van koers af te stamp. Toetse het bevind dat die metode meer effektief sou wees as om die komeet met kernmissiele uitmekaar te probeer skiet. Dit het egter beteken dat ons tot drie weke voor die voorspelde impakdatum sou moes wag, sodat die tuig nie te ver moes reis en krag verloor nie.

Blyeveld sien hoe die ligspikkel al groter raak en voortspoed in die rigting van die komeet.  Etlike sekondes later skiet NASA se HAMMER langs hulle verby. Dit tref die komeet met ‘n oorverdowende slag en die impak is so groot dat dit van koers af gestamp word. Dit raak vinnig duidelik dat die komeet nie meer die aarde kan tref nie. Blyeveld voel hoe verligting in hom opstoot en die ironie daarvan tref hom soos ‘n vuishou, hy weet immers wat gaan volg.

Die wasige wit wolk om die komeet neem ‘n rooskleurige tint aan. Dit raak al hoe helderder tot dit uiteindelik ‘n granaatrooi vuurbal word wat etlike sekondes later met ‘n geweldige knal uitmekaar bars. Tien talle brokstukke spat die ruimte in en Blyeveld sien hoe twee groteriges reguit op die aarde afspoed.

Brits se stem vul weer die duisternis.  Die twee groter meteoriete wat die aarde se atmosfeer binnegedring het was eintlik redelik klein. Saam het hulle ‘n deursnee van net onder die vier kilometer gehad. Almal het gehoop dat die skade na impak minimaal sou wees, maar omdat die aarde met soveel presisie op haar kwesbaarste plekke getref is, was die gevolge rampspoedig.

Brits het moeite gedoen om die simulasie so te manipuleer dat beide impaksituasies afsonderlik beskou kan word. Albei het ewe veel skade aangerig. Die eerste meteoriet het die aarde in vlak water naby die St. Andreasfout getref. Dit het massiewe verskuiwings aan die tektoniese plate van die aardkors veroorsaak. Hierdie verskuiwings het waarskynlik as katalisator vir etlike verwoestende aardbewings en tsunami’s by die Amerika’s gedien. Die tweede meteoriet het naby Australië die Oseaan, in die gebied wat as die ring van vuur bekend staan, getref. Honderde vulkaniese uitbarstings het gevolg. Meters hoë tsunami’s het die kuslyne van gebiede in die streek platgevee. Die klein eilandlande soos die Fillipyne, Japan en Nieu-Zeeland is totaal vernietig en kusgebied van Australie is braak gelaat.

Alhoewel hy reeds bewus was van alles waarmee Brits hulle op die oomblik bombardeer slaan die skrikbeelde voor sy oë steeds Brits se asem weg. Dit wil voorkom asof alles wat die wetenskapsfiksie voorheen as rampspoedige scenario’s beskryf het, gelyktydig plaasgevind het. Die meteoriete het die aarde getref met die krag van twee reusagtige kernontploffings. Waar dit getref het, het die massiewe energie ontladings die meteorietmassas onmiddellik verteer en golf van stoom en gesmelte rots die atmosfeer ingespuit. Dit, saam met die roet wat deur die vulkaniese uitbarstings veroorsaak is het die aarde onder ‘n vuil donker kombers toegetrek. Op die aardoppervlak is die wisseling tussen dag en nag nie meer onderskeibaar nie. Saans sien mens nie meer die maan of ‘n enkele ster in die lug nie. ‘n Koue rilling gril teen Blyeveld se ruggraat af. Die mense wat oorleef het is nou vasgevang in ‘n yskoue sonlose nag, wat waarskynlik nog maande lank sal duur.

Na Brits se impaksimulasie het die Hoof Petra Marais aan die woord gestel. Sy het grafieke en spreitabelle gebruik om te toon hoe lank verskillende dier en plantspesies waarskynlik onder die huidige toestande sal kan oorleef.  Die uitwerking van die gebrek aan sonlig op plante is reeds sigbaar. ‘n Paar dae se duisternis is genoeg om baie groot skade te veroorsaak, na twee weke sal die effek bykans onomkeerbaar wees. Plante is nie net ‘n bron van voedsel nie, maar ook ‘n bron van suurstof. Blyeveld wou nie verder oor die implikasies dink nie.

Nadat die komeet verbrokkel het, het duisende kleiner brokstukke drie dae lank die aarde gebombardeer. In Eerste Wêreld lande is die infrastruktuur waarop die moderne beskawing berus vernietig. Mense is deur brandende, rotsstukke sommige so groot soos motors getref. Afrika was tot op daardie stadium redelik ongedeerd van die ramp afgekom het, het swart verbrand, nadat die savanna vlam gevat en vuurtonge soos die rooi perd van die oordeelsdag daaroor galop het. Vir die eerste keer in eeue was die gaping tussen die Weste en Afrika uitgewis, almal het ewe min oorgehad.

Gasse wat afgeskei is tydens impak en die verbranding van die meteorietrots het ‘n onbekende stof op die aarde laat neer reën. Die dodelike nuwe indringer het met watermolekules verbind en meeste van die groot riviere en waterreserwes in die impakstreek vergiftig.

Die beskermende osoonlaag om die aarde is ook aangetas en die aarde word toenemend blootgestel aan dodelike ultraviolet en gammabestraling vanaf die son. Die aardbodem het ‘n woesterny besaai met die lyke van mense en diere geraak. Daar is niemand om die lyke te begrawe of te verbrand nie. Tifus en Cholera is reeds besig om die handjie vol mense wat steeds iewers bly vasklou aan die lewe af te maai.

Smit se aanbieding is ‘n teleurstelling. Sy spesialisgebied is rampbestuur. Op die oomblik probeer hy hulle steeds oortuig dat die Buro op ‘n manier die partikel verspreider wat onlangs in Noorweë ontwikkel was in die hande moes kry, sodat daar gepoog kan word om die aswolk op te breek en basies weg te blaas.

Dit is duidelik dat muisagtige mannetjie naby breekpunt is.

“Daar is nie veel wat ons kan doen nie. Ons is so geïsoleer hier in Specula. Al waaraan ek nog kan dink om die verspreiding van siektes te keer is om ‘n tipe suur op die ontbindende lyke te spuit, sodat bakterieë vernietig sal word en die organiese materiaal wat oorbly onskadelik is, maar om eerlik te wees, ek weet nie meer nie.”

Smit vryf oor sy bles en gaan sit dan kop geboë. Die figuur van die Hoof se verskyn weer vanuit die plafon en Blyeveld besef dat hy volgende aan die woord sal wees.

“Blyeveld, dit is tyd dat jy die res van die vergadering op hoogte bring van jou observasies. Kollegas ek is bevrees die ergste is nog nie aan julle bekend nie.

Blyeveld staan op en doen nie moeite om sy slim-kommunikasietoestel by die netwerk in te skakel nie. Hy vryf oor sy baard. Maak keelskoon en begin dan praat.

“Ek het nog nooit in toeval geglo nie. Dit is waarom ek aan die Hoof van die buiteruimtelike ondersoekspan is en tot my teleurstelling kon ek in die twintig jaar wat ek by die Buro werk geen bewyse van intelligente lewe op enige ander plek as die aarde vind nie. Dit het egter twee dae gelede verander.”

Blyeveld hoor hoe Petra Marais haar asem geskok intrek. Smit lyk bleek en bewerig. Brits staar hom agterdogtig aan.

“’n Paar maande gelede het NASA agtergekom dat ‘n vreemde kragveld die aarde omring. Daar is besluit om die inligting geheim te hou. As dit saam met die nuus oor die komeet sou uitlek, sou dit tot grootskaalse paniek lei. Ons het op ‘n gereelde basis klank en beeldmateriaal onderskep, maar kon dit nie ontsyfer nie. Alles het skadeloos blyk te wees en daarom is ‘n eenparige besluit geneem om eers die komeet te takel en daarna aan die kragveld aandag te skenk.

Ek was van die begin af ongemaklik oor die besluit en te laat het ek besef dat ek met meer dringendheid my gedagtes oor die bron van die kragveld moes afgedwing het. Dit was nie NASA se HAMMER wat die komeet laat verbrokkel het nie. Die verbrokkeling is deur ‘n onbekende bron wat een of ander sein uitgestuur het veroorsaak. Die rigting waarin die brokstukke getrek het is ook deur die onsigbare bron gemanipuleer. Die twee groter stukke het die aarde met soveel katastrofiese presisie getref dat ek nie anders kan as om te glo dat een of ander buite ruimtelike spesie die vernietiging van alle lewe op aarde daarmee beplan het nie. Ek glo die aanval was slegs die eerste been van die oorlogsplan en as ons wil oorleef sal ons moet terugveg!

Vir ‘n oomblik is dit doodstil in die vertrek dan begin almal gelyk begin praat. Niks wat gesê word maak egter sin nie. Blyeveld het die paniek verwag. Die aanval was uiters goed beplan. NASA, die ruimtewonder is lam gelê. Alle vorme van wapentuig wat ‘n aanval vanuit die buitenste ruim sou kon afweer is vernietig. Hulle is totaal weerloos.

Hy sien hoe Petra Marais se weerstand stukkie-vir-stukkie verkrummel, totdat trane uiteindelik onverpoos oor haar wange stroom.  Sy begin aan haar goedversorgde bolla torring en trek dan bietjie-vir-bietjie van die fyn haartjies uit. Brits staar in die verte, terwyl hy heen en weer sit en wieg . Dit is egter die sotlike Smit wat hom die meeste ontstel. Dit lyk asof daar ‘n boaardse vrede uit hom straal en Blyeveld hoor hom saggies die ou kinderkrans liedjie neurie – “As Hy weer kom, As Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels…”