Die dood van Kaalvoet Faan

Hanlia Dippenaar

Die dood van die kaalvoet Faan  – 2018 © Hanlia Dippenaar

Gruwel Fantasie

Dit was of daar in daardie tyd ’n vlaag van sterftes oor Willem se familie en vriende gekom het. Hyself het ʼn hewige beroerte oorleef. Toe is dit sy lewenslange beste vriend se beurt. Hul ouers het op die twee buurplase geboer: Perdevlei en Bobbejaanskloof. Soos Willem het Faan die boerdery by sy pa oorgeneem. Hulle ouers het reeds na beter weiveld verhuis. Vir meer as dertig jaar al boer dié twee in vrede so langs mekaar. Hulle is gróót maats.

Dit begin met ʼn seertjie in Faan se mond wat nie wil genees nie. Dokter in en uit. ʼn Maand of wat later maak sy vrou verskoning en gaan voed hom deur ʼn buis in die maag in die slaapkamer.

Vanoggend het hulle in die tuin staan en gesels. Daar was ’n belofte van ’n perfekte dag in die plaasvars koelte van die naderende herfs. Veervoetjies skrop en pik rondom hul voete in die gras en oorkant in die vlei roep ’n skaaplam na sy moeder, stamp speels met die neus in haar uier en swaai die stertjie terwyl hy drink. ’n Beeskalf  bokspring uitgelate. Uit die ou reusebloekomboom dartel droë roesbruin blare lui na die grond. Toe val die doek wat Faan om sy gesig drapeer per ongeluk af. Vader! Die kanker het die meeste van die wangvleis en neus weggevreet. Die tande sit ontbloot in die wangbene. Sy hoektande ís buitengewoon lank en uit die wonde syfer bloedwater. Willem dink: Faan se dood is besig om hom stadig te bekruip. Soos in gelukkiger dae in die jagveld, hy en Faan agter wild aan: “Willem, ons sal die koedoebul moet soek. Hy is gekwes. Ons kan hom nie laat ly nie.”

Ure gesoek; die bul gekry. ʼn Massiewe stuk vleis; biltong vir Afrika. Sleg gewond in die voorbeen. Hulle het hom weer geskiet; hierdie keer om dood te skiet. Willem en Faan langs mekaar aan te kop afsny: “Ek wil nie eendag ly nie. Ek wil vinnig dood. Belowe jy sal my skiet as jy sien ek ly?” Dit was Faan. Hy het die bloedmes skoongevee met ’n nat lap.

“Belowe. En jy vir my?” het Willem aangehou. Hulle kliek die twee bierbottels hardhandig teenmekaar. Akkoord gesluit.

En nou ly Faan. Kaalvoet Faan. Hy dra selde skoene; loop bo-oor die duwweltjies. ʼn Storieverteller met so ’n lekker laggie. Hy mág ʼn kitaar speel. Pluk. Het ʼn doodse vrees vir ʼn slang. Willem glimlag as hy dink hoeveel vreugde hy saaam met Faan beleef het. Die poetse met slange het Faan tot die dood benoud gehad. Willem is gegriefd oor Faan se siekte; word hartseer, bang en kwaad oor Faan se naderende dood; kan hom nie ’n lewe sonder Faan voorstel nie. Hy voel magteloos teen hierdie nie-fiksie misterie – die dood.

“Dit lyk maar net so erg”, brabbel Faan; vou en knoop die doek weer onbeholpe om sy gesig. Elsie kom help. “Die morfien onderdruk die pyn. Maar ek kry honger. Ek is lus vir braaivleis. Altyd die honger. Dit sal seker maar my ondergang wees.”

Willem sê niks. Hy is nie ʼn ou vir baie woorde nie. En dis al asof sy woorde op raak wanneer hy op besoek by Faan is. Hy en Hettie probeer elke dag ʼn draai maak. Die besoekies raak al korter. Faan gesels nog so dan oorval die vaak hom. Die morfien. Dis ook asof Elsie soms nukkerig is. Hulle bedoel regtig nie om lastig te wees nie. Dis tog haar saak as sy vroegoggend na alkohol ruik. Min mense besef wat sy deurmaak. Dit moet hel wees. Sy het die grote plaashuis om alleen skoon te maak en dan moet sy Faan manalleen versorg. Geld is skaars, daar ís nie vir ʼn huishulp nie. Na die mislukte aanplantings vir Woolworths wou dinge nie weer vlot nie. Oranje patats en pers beet. Nee, dit skrei teen enige normale mens se beterwete. Patats is geel en beet is rooi. Elsie het die dreigende bankrotskap probeer red by die slotmasjiene. Haar geluk was uit en Perdevlei is onder Faan se gat uit. Die skaap en bees is verkoop om die doktersskuld te betaal. Faan se plaas word opgeveil; Willem koop dit vir ʼn appel en ʼn ei. Faan en Elsie kan aanbly solank as wat dit nodig is. Die kinders maak darem naweke ’n draai; werk maar vêr hiervandaan.

 Vanoggend was Faan op sy stukke. “Ek sal nie die braaivleis kan eet nie, maar julle moet vanaand oorkom, dan braai ons. Jy kan die vleis braai, Willem.”

“Dankie, ons sal.”

“Moet nou nie ja sê en dan nie kom nie. Julle moet vir seker kom.”

“Is reg Faan, ons sal hier wees, dankie.”

“Kom lekker vroeg. So sesuur.”

Terug by die huis eet Faan en Hettie iets ligs. Saterdagmiddae deel hulle gewoonlik ʼn blikkie tamatievis op ʼn snytjie roosterbrood. Daarna gaan lê hulle. Hulle is altwee lief vir lees. Hettie ruil elke Vrydagmiddag boeke by die biblioteek in die dorp. Raak hulle aan die slaap, is dit ʼn welkome bonus. Die liggame is in die oestyd en die dae lank.

***

“Mevroooouuuuuu!” en die gehamer van ʼn vuis teen die kamerruit.

Hettie skrik op en sien Jan Pollie by die kamervenster. Dit is nie ʼn nagmerrie nie. Dis Jan se plig om die gras nat te maak. Hy staan pieringoog voor die venster en wys na die wildevyeboom, stombenoud.

“Wat is dit, Jan?” Hettie is erg ongeduldig as sy in haar slaap gesteur word.

“Slang!” Jan Pollie val daar en dan flou.

Hettie skud Willem wakker. Sy gehoor is tog so verswak. Hettie dink hy hoor net wat en wanneer hy wil. Skoon moedswillig. Op die alarmradio op die bedkassie glans die tyd 16:10 in rooi. Hulle het hopeloos te lank gelê. Vannag lê en rol Willem weer rond.

Wanneer Willem op hoogte van gebeure is, skiet hy die bakkop geelslang onder die wildevy met die .308.  ʼn Vreeslike groot slang. In haar  lewe het sy nog nie so iets gesien nie. Hoe gril sy nou. Net een skoot. Willem se kop raas maar vreeslik na die beroerte, maar hy skiet nog ʼn bars hou.

Hulle besluit om vroeër na Faan-hulle te gaan. Jan Pollie is by sy huis besorg. Die honde het die dooie slang na elders weggedra. Hettie pak die nodige in die koelboks. Niks lekkerder as ʼn braaihoender nie. Sy maak ’n paar toebroodjies om te braai. Haar breiwerk moet ook vir seker saam. Eenderse geel kabeltruie vir die drie kleinkinders met ’n dubbelbreidraad.

***

By die kruis keer Gesie hulle voor, die ongetroude dogter van Klaas van Misverstand, met die vier kindertjies. Elkeen ʼn ander pa. Die kindertjies is nie by nie. Seker by die huis gebly.

“Het julle gehoor van Oom Faan?”

“Wat van Faan? Ons is nou op pad na hulle toe.”

“Nee, dan het julle nog nie gehoor nie. Julle moet maar self uitvind. Ek gaan niks sê nie.”

Faan verstaan hoekom sy vrou dit so haat om hier te bly. Moedverloor is ʼn klein dorpie met ʼn kerk, laerskool, winkel, drankwinkel en begraafplaas. ʼn Boeregemeenskap, jy weet, waar almal almal ken. Gerugte verander hier by die minuut. Geheime word hier ongevraagd aan die lig gebring, verdraai en opgeblaas. Die waarheid word fiksie. Dis net beter dat sekere geheime  begrawe bly.

Hulle ry aan na Faan se huis. In stilte luister hulle na die lied van Westlife: Seasons InThe Sun. We had joy, we had fun, we had seasons in the son, but the wine and the song like the seasons have all gone, loop die lied dood teen die sperband rondom Faan se skuur. By die huis staan ’n SAPS-voertuig.

“Wat de f@k? vra Willem.

“Jou taal, Pappa, jou taal,” sê Hettie en draai haar breiwerk om om ʼn nuwe ry te begin.

Elsie is onder trane én onder die prop: “Faan het homself geskiet. Dit was omtrent so kwart oor vier,” snik sy en knak die prop van ’n nuwe bottel brandewyn.

“ Daarom dat hy so aangedring het dat ons vanaand hierheen kom,” besef Willem.

Faan se seun sê hy het so aangehou dat sy ouers by hom in Kaapstad bly om nader aan die hospitaal te wees. Faan wou egter dringend terug plaas toe. Hy het iets belangriks om af te handel. “Die swernoot, dit was ʼn beplande storie.”

Willem se hart skeur uit sy bors oor die rou verdriet van hierdie huishouding. Sy gedagtes is wasig; sy aksies is vaag. Sy kopvel tintel soos voor die beroerte. Dit voel soos wurms wat onder sy vel krioel. Hy gaan bietjie opruim in die skuur. Die begrafnisondernemer het reeds die lyk verwyder. Dalk kan hy net sand op die bloed gooi. Hy loop verby die groentetuin na die skuur. ’n Koel bries streel sy gesig, die volmaan loer vanagter die reusebloekomboom na hom. Boomtakke kraak in die windjie. Die lantern is nie regtig nodig nie, maar hy kan nie onthou of daar ’n lig in die stoor is nie. Gots. Hoe laat die swart kat hom nou skrik, hardloop stywestert hier teen hom verby. Die ou swaar riffelplaatdeur kreun op sy skarniere as Willem dit oopmaak. Vlermuise duik uit die solderluik. ’n Uil vlieg op en smelt weg in die donker. Hy kon nie te vêr daarvandaan sitplek gekry het nie; sy mismoedige hoe-hoe is om van te ril.

Eweredig probeer Willem die sandlagie met ʼn graaf oor die bloedkol sprei. Hy het die lossand in die pad hier langs die stoor geskep en met ’n sinkemmer aangedra. Wat sal hy met die bebloede muur doen? Stukkies vlees en been kleef aan die bloed teen die muur.  Willem herken die boerderytoerusting in die skaduwees teen die muur. Hy word bewus van iets agter hom. Dit staan stil; beweeg nie. Ongemak kriewel deur Willem se maag. Hy sal nie wys dat hy bang is nie. Hy wil omdraai om te sien wat dit is, maar hy kan nie. Vrees vries sy liggaam. Kortasem laat sy kop klop. Sy arm- en nekhare rys, hoendervleis slaan oor sy hele lyf uit. Dit voel of die ding nader kom. Vrees bou op in Willem se bloedstroom, wil sy are laat oopbars, laat hom rukkerig bewe. ʼn Koue, nat hand gryp hom aan die skouer, draai hom met ʼn bomenslike krag om. Hy kyk sy gruwel in die …  jy kan dit nie ’n gesig noem nie. Dit is net ’n liniaallengte weg van sy eie gesig. Bo die oor is die skedel oopgeruk. Bebloede beenfragmente hang woes aan velrepe, koek aan die bietjie hare wat oor is. Bloed stroom uit die oopgerukte kop. Dit haal kort hortende teue asem deur gate sonder ʼn neus. Die oopgesperde mond het geen lippe aan nie. Die wangvleise ontbreek, ontbloot die tande in die tandkas. Die hoektande is baie lank; op aanval soos die van ’n giftige serpent. Geen wenkbroue nie. Geen oogballe nie. Donker holtes waar die oë moet wees, staar na Willem; boor tot in sy siel asof hy daar sy diepste geheime kan sien. Hulle staar vir ʼn hele ruk so na mekaar. Willem beweeg nie ʼn spier nie, al wil hy weghardloop. Elke ontsnappingsgedagte verdwyn in die niet. Al wat hy kan doen, is om te aanskou hoe die ding sy siel deur die donker oogholtes en bek inslurp. Stuk vir stuk alle lewe en hoop insuig.Die ding gaan hom opeet tot daar niks binne-in hom oorbly nie.

Aanvaarding dryf die vrees uit Willem. Hy gee in en voel hoe die gruwel die laaste bietjie self uit hom suig deur die swart oë en bek. Slurpend. Grommend. Bloed stroom opnuut uit die skeur in sy kop, drup taai op Willem, vorm ’n beetrooi plas rondom sy voete. Willem voel leeg, hol van binne. En honger. ’n Honger wat hom tot raserny dryf. Hy kyk na sy maat, hoe sy liggaam spasties ruk en dan tot passiwiteit verslap. Hy sal vir die twee van hulle iets moet gaan soek vir die honger. Dis nie nodig dat hulle hongerly nie. Hulle het nog altyd dinge saamgedoen. Hulle is gróót maats. Nou meer as ooit tevore.

  • Chantal

    Heel interessant is die storie.