Die stil huis

Alida Walker

DIE stil huis  – 2018 © alida walker

Fantasie

Sy sit op die kruin van die rantjie net buite die dorp en kyk na die rustigheid van ‘n Sondagmiddag op die platteland. Die vallei lê ‘n entjie verder Noord en soos altyd die afgelope drie jaar, dwaal haar oë oor die ruigtes. Sy is gek na die natuur en as hier iewers ‘n grot naby was, sou sy summier haar intrek daarin geneem het.

Verbeel sy haar? Nee, daar is sowaar ‘n stukkie blink wat tussen die bosse weerkaats. Dadelik word ‘n hoër rots gesoek om sodoende ‘n beter uitsig te verseker. So wraggies, daar staan dit – ‘n verlate kliphuis versteek in die ruigtes. Die plek moet dekades al onbewoon wees. Vanwaar sy staan lyk dit na die idilliese tuiste vir die een of ander kunstenaar. Sy wonder of die plek in die mark is. Die plek is moontlik ‘n regte kasarm met die reputasie van spookhuis, maar sy wens sy kon daar tussen die bome woon. Wel, as die huis te koop is, sal die prys beslis bo die vermoë van ‘n aspirant digter wees, veral  vir een wat nog maar min gepubliseer het. Dit kan haar nogtans nie verhinder om te  droom nie. Sy kan geen pad na die huis sien nie, maar sy is seker dat daar een behoort te wees. Dit sal sekerlik byna heeltemal toegegroei en redelik onbegaanbaar wees, maar  sy dink tog sy moet van naderby ondersoek gaan instel. Waarom het sy dit vandag vir die eerste keer gesien? En waarom sou niemand ooit melding van die plek gemaak het nie? Met ‘n ongewone gejaagdheid loop sy val-val teen die rant af.

Die fiets is een van die ou soort met dik soliede rubberbande, sonder ‘n beduidenis van ratte.  Die jong seun by wie sy die fiets gehuur het se instruksies was duidelik: as sy wil rem moet sy net agtertoe trap. Ou fiets of te nie, solank dit  haar  net na die kliphuis kan neem en voor sononder weer in die dorp kan kry. Net buite die dorp geluk dit haar om op tekens van ‘n vervroë pad af te kom. Sy verbeel haar selfs dat  voertuigspore  hier en daar sigbaar is.

Toe sy om ‘n skerp draai kom, doem die huis skielik voor haar op. Van naby is dit groter en selfs meer verwaarloos. Die klipmure is nog stewig, maar van die stoep en pilare het bittermin oorgebly. Plante groei tot dig teen die gebou en die bome sorg dat geen sonlig deurbreek nie, sodat dit voel asof vroegskemer reeds aangebreek het. Ten spyte van die vroeë middaguur, hoë temperatuur en humiditeit voel sy hoe ‘n rilling deur haar liggaam trek. Die plek is nie die romantiese, rustige herehuis wat sy haar voorgestel het nie. Wel, aangesien sy tog die moeite aangegaan het, kan sy netsowel die plek verken.

Marita kry byna lag vir haarself toe sy behoedsaam om  die huis sluip. Geen mens is in sig nie, maar sy voel oë wat elke beweging van haar volg. Die gevoel is so oorheersend dat sy stadig omdraai en behoedsaam rondkyk.

Die volgende oomblik klink ‘n gil oorverdowend deur die stilte, dan besef sy dat dit haar eie gil was, maar sy sien ook dat sy glad nie alleen is nie. Voor haar is daar ongeveer vyftien draadhokke en in elkeen lê ‘n hond.  Dit is opvallend dat ‘n aantal van hulle dood moet wees. Wat verder opval is dat almal die een of ander wond aan die keel het. Bewegingloos lê hulle daar. Net die emosielose oë staar na haar en volg haar bewegings. Geen geblaf of geknor word gehoor nie, net die doodse, onheilspellende stilte wat haar van alle kante vasdruk. Dan word sy bewus van die dreuning van ‘n naderende voertuig. Blitsvinnig probeer sy na die fiets beweeg , maar sy het alreeds te veel tyd in haar verstarde toestand verloor en verder voel dit asof sy enige gevoel in haar bene verloor het.

‘n Stokou bakkie kom stadig en ruk-ruk aangery en die bestuurder maak ‘n swierige draai voordat die voertuig met ‘n gedreun voor haar tot stilstand ruk. Die kort, maer figuur spring energiek uit die voertuig en maak ‘n outydse buiging voor haar.  Die dik lense van sy bril  en die skadu’s verberg sy oë. Die stem pas nie by die flinke reaksies nie, maar wel by die oudmodiese kleredrag.  

 “Uiteindelik! Nou besef die publiek eers watse mediese wonderwerke moontlik is. Welkom, jy is my heel eerste besoeker. Van watter koerant is jy? Onthou tog om my volle name by die artikel te plaas. En dan natuurlik die foto’s. Ek hoop jy het ‘n baie goeie kamera. Die wêreld moet weet wie vir die deurbraak verantwoordelik is.”

 Dit is duidelik dat hy uitgehonger vir geselskap is, tog kan Marita duidelik sien dat die man lankal tred met die werklikheid verloor het. Op die oog af lyk dit nie of hy ‘n mens skade kan aandoen nie. Dit is ook moontlik dat hy helder oomblikke kan beleef. Sy sal maar saamspeel en sien wat sy kan uitvind. Dalk kan die oorlewende honde nog gered word.

En so kry nuuskierigheid en mens, oftewel dierliewendheid, die oorhand oor vrees. Sy word na die kombuis gelei . Sy gaan sit op ‘n stofbedekte stoel en sit haar sak tussen die rommel, vuil skottelgoed en kerswas op die tafel neer. Behalwe vir die moontlikheid om die honde te red, kan sy dalk ook agterkom waarom die huis so bouvallig is en waarom niemand daaroor praat nie.

 Johannes Lodewikus van Biljon begin sy verhaal by sy kinderjare. Sy hoor van ‘n doodgelukkige jeug in hierdie einste huis. Sy pa was ‘n veearts en sy ma net huisvrou. Na matriek het die skrander , tenger seun ‘n beurs losgeslaan om in Engeland te studeer. Op sportgebied was hy nooit ‘n uitblinker nie en as plattelandse seun was hy nooit blootgestel aan  kulturele dinge nie. Daar was net die jaarlikse skoolkonsert  waaraan hy geen erg gehad het nie. Daarom dat hy op universiteit besluit het om aandag aan hierdie leemte in sy opvoeding te gee. Gou was die bywoning van opera-en balletuitvoerings sy gunsteling tydverdryf. Die teater het sy tweede tuiste geword. 

Johannes se oë kry so ‘n glaserige uitdrukking en Marita verwonder haar daaraan dat daar nou geen teken van verwarring by hom bestaan nie. Behalwe vir sy bewerige stem weifel hy nie een oomblik met sy verhaal nie.

 “Ja en toe ontmoet ek vir Madelaine. Madelaine met die stem van ‘n nagtegaal , die gelaat van ‘n skoonheidsgodin en die figuur van ‘n Venus. Sy móés my Venus word. Ek was onmiddellik smoorverlief. Ek kon nie behoorlik studeer nie.  My eetlus het verdwyn en ‘n redelike nagrus was die uitsondering. As ek nie by haar was nie, was my gedagtes by haar. Sy was my obsessie. Ek wou dat ons trou voordat iemand anders haar kon opraap, maar sy was te ambisieus. Sy sou met my trou, maar eers as sy in Oostenryk vir haarself  naam gemaak het. Die wêreld moes eers kennis dra van hierdie pragtige nagtegaal. En die wêreld het ook. Twee jaar nadat ons ontmoet het, is ons getroud. Hoe gelukkig was ons nie. Ek en my beminde – in hierdie einste huis. Sy wou nie kinders hê nie en ek … ek was doodgelukkig, want ek wou haar met niemand deel nie. Die twee poedels was daar. Hulle was immers haar honde, maar hulle het geen bedreiging vir my ingehou nie. Ja, hierdie huis was vol vreugde en sang. Sy kon nie ophou sing nie. Haar stem het my hart en ook elke vertrek gevul.”

Johannes se stemtoon verander skielik sodat Marita besef dat die werklikheid besig is om sy greep op hom te verloor, maar dan gaan hy rukkerig voort.

“En toe gebeur dit. Aanvanklik was dit net ‘n seer keel. Ons het gedink die huis is miskien te koud. Dat die bome … Dit is mos maar altyd klam en donker hier rond. Ons het vir ‘n tyd lank na die Vrystaat verskuif – na ooptes en sonskyn, maar toe begin die heserigheid wat net nie wou verdwyn nie. Ek het haar Kaapstad toe geneem. Ons het ‘n keelspesialis gaan spreek, maar dit was reeds te laat.” Skielik bly hy stil en draai sy kop effens skuins. “Hoor jy dit? Dit is haar stem. Dit is my Maddie wat daar sing.” Hy maak sy oë toe en dan wieg hy ritmies heen en weer asof op maat van musiek. Speeksel vorm in sy mondhoeke en drup stadig op die tafel. Sy vingers pluk rukkerig aan die bril, maar hy haal dit nie af nie; skreef net sy oë asof hy op die manier beter kan luister.

Dan blits die oë en sy hande begin hewiger  ruk. Die stem bewe van woede as dit hortend oor sy lippe stotter. “Verpeste brakke, hoe durf julle haar stem doodblaf!  Probeer julle haar plek inneem?  Nooit, nooit sê ek julle! Wag maar, ek sal julle nog kry! Julle vloeke!” Die vuis kom met soveel geweld op die tafel neer dat daar van die vuil breekgoed op die stukkende teëlvloer val.

Marita sit doodstil. Bleekgeskrik staar sy angsbevange na die ou man. Sy het geen, maar geen geluid gehoor nie. Sou dit veilig wees om die vertrek te probeer verlaat? ‘n Paar minute gelede was dit net ‘n interessante verhaal wat deur ‘n patetiese ou man vertel word, maar nou voel dit asof haar veiligheid meer werd is as die bevrediging van haar nuuskierigheid.  En sy het nog steeds nie die volle tragiese verhaal gehoor nie. Sy besluit om nog een keer die toneelspel as verslaggewer te probeer. Buitendien; hy staan tussen haar en die kombuisdeur –  verbykomkans is dus maar skraal.

“Meneer van Biljon, u was nog besig om my te vertel van u vrou se siekte.” Desperaatheid in haar stem en hoendervleis oor haar hele lyf.

Die wilde uitdrukking verdwyn geleidelik uit sy oë en dan keer hy met ‘n vermoeide sug terug na die patetiese persoon met die sagte aarselende stem. “Sy wou nie haar lot aanvaar nie en het steeds bly sing. Sy’t geglo dit sou haar stem sterker maak. Sy sou almal verkeerd bewys. Die liefde vir sang en ons liefde vir mekaar sou seëvier.  Die eens kragtige suiwer stem het sag en hees en byna onhoorbaar geword . Soms was dit net ‘n asempie bykans sonder klank. Die vervloekste honde het mal gegaan. Getjank en soms geblaf  sodat ek Maddie nie kon hoor nie, net haar mond kon sien beweeg. Dis toe dat ek besluit het om haar te help.”

‘n Ingenome glimlaggie speel om die geplooide mond. Die stem word sterker asof gevul met ‘n onsigbare krag. Triomfantelik kom sy volgende woorde.

 “As die wêreld maar net kan weet hoe geniaal ek is, maar nou sal hulle uiteindelik weet wanneer jy dit in die koerant gaan skryf. Jy mag maar foto’s van die honde neem – van my ook. Ek gaan net nie weg van die huis nie. Sê dit vir hulle. Hulle kan my hier kom besoek. Ek wil net nie vir Madelaine alleen los nie.”

Johannes draai sy oë na haar en sê met onmiskenbare trots in sy stem: “Ek verwyder hulle stembande sodat geen hond weer Maddie se stem kan doodblaf nie. Ja, die dokters kon haar nie help nie, maar ek kan. Later sal ek  stembande kan oorplant sodat alle mense weer stemme kan hê.” Hy gee ‘n selfversekerde laggie en staan galant eenkant toe sodat sy verby hom kan kom.

Skielik is hy die saaklikheid self. “ Waar wil jy die foto’s neem? En dan sal jy my moet verskoon, daar is belangrike werk wat wag.”

 Toe Marita uiteindelik haar bewerasie onder beheer het, jaag sy dorp toe. Uit die hoek van haar oog sien sy die twee verwaarloosde wit grafstene reg langs die hondehokke. Sy vertoef egter nie om die opskrifte te lees nie. In haar haas moes sy dit die eerste keer misgekyk het.