Die Talisman

Magda Fourie

DIE talisman  – 2018 © magda fourie

Fantasie

Haar benoude voetstappe klink oorverdowend in die nou stegie, en in haar haas trap sy skeef op ‘n keisteentjie en haar voet gee onverwags onder haar mee. Sy onderdruk die gil met moeite en sy stuikel-staan met haar rug teen die growwe muur, haar bors deinsend, haar mond wyd oop om soveel suurstof moontlik na haar smekende longe te stuur. Sy weet sy het nie baie tyd nie, sy kan die naderende onheil in die lug om haar voel. Sy kyk op, oë soekend op die dakrante van die hoë geboue wat bo haar uittroon. Haar oë sukkel om te fokus, maar dan sien sy dit, ‘n donker silhoeët afgeëts teen die silwer van die maan, wat soos ‘n groot, dowwe lamp in die pikswart nag hang. Die silhoeët beweeg, begin vinnig oor die lengte van die gebou langs haar hardloop, en waar die volgende straat die stegie kruis, vou die silhoeët se groot, wasige vlerke oop, en seil die jong draak geluidloos tot op die dak van die gebou oorkant haar. Hy draai sy gladde slangkop na haar. Sy is te vêr om sy oë te sien, maar sy weet instinktief wat hy vir haar wil sê. Die pad voor hulle is oop, dis nog veilig, maar die donker is oppad…

Sy vou haar hande om die swaar smarrag, geset in ‘n silwer hangertjie om haar nek, en sy voel die steen se harde, koue werklikheid in haar hand. Sy onthou die dag wat sy die steen by haar ma gekry het asof dit gister was.

Camille was op haar sterfbed, goudgeel en pynlik maer. Haar vel het vir Amelie soos papirus gevoel, droog en leweloos. Sy het aan Amelie verduidelik watter vloerborde om los te maak, en na ‘n lang gesukkel het Amelie die stowwerige kissie uit die donker holte onder die plankvloer gehaal. Camille het skaars genoeg asem in haar oorgehad, maar sy het in ‘n fluisterstem aan Amelie die doel van die smarrag, die Talisman, oorgedra. Amelie was benoud, en wou eers nie die verantwoordelikheid van die Talisman aanvaar nie, maar haar ma se uitgeteerde vingers het soos voëlkloutjies om haar gewrig gespan, verbasend sterk vir iemand so siek soos sy. In haar traan-nat oë kon Amelie die smeking sien, en sy het noodgedwonge geknik, en daarmee haar lot verseël. Die enigste troos wat sy daardie koue aand langs die lyk van haar ma kon vind, was Julien, haar draak-broer en alter ego. Hy het sy satynsagte skubbelyf styf om haar gedraai, en sy het in die waai van sy sy, uiteindelik, aan die slaap geraak. Die volgende oggend was dit net sy en Julien. Die bed waarop haar ma gelê het, was leeg. Julien het haar gerusgestel toe sy ontsteld na die leë bed gestaar het. Hy het haar in haar gedagtes gewys hoe Francis, haar ma se draak-broer, haar in die nag kom haal het, en hoe hy met Camille styf teen sy bors vasgeklem, die ewige koue ingevlieg het. Ook Francis, het hulle daardie aand vir ewig verlaat.

Amelie roer haar voet versigtig, verlig dat ten spyte van die pyn, alles nog in werkende orde is. Sy kyk weer op, na waar Julien teen die skoorsteen van die gebou oorkant haar hurk. Sy knik, en begin so vinnig soos wat haar seer voet haar toelaat, in die stegie af draf, oor die straat, en in die volgende stegie af. Vêr agter haar kan sy die paniekerige gille  van die mense hoor, wat onverhoeds deur die donker onheil betrap is. Sy ril, en dwing haar bene om vinniger te beweeg. Julien sweef soos ‘n skim in die nag bo haar, sy vlerkte uitgestrek om elke moontlike beweging van lug op te vang, en te gebruik. Sy stert is reguit agter hom uitgestrek, en sy kan kwalik die roering daarvan waarneem waarmee hy sy groot liggaam stuur. Gevaar! Die woord ontplof in haar brein en sy vries in haar spore, ore gespits en oë wyd gerek. Sy sien skielik nie wat voor haar is nie, maar sy sien haarself van bo, uit Julien se oë, waar sy speldekop-klein in die donker stegie teen die swart geboue staan. Sy sien die uitleg van die blok geboue, en dan selfs meer, die strate wat die stad van Parys amper soos die speke van ‘n wawiel laat lyk, en die middelpunt: die Arc de Triomphe. Dit is waarheen sy nou oppad is, maar sy sien dat die skaduwees reeds die regterkant van die stad begin inneem, en haar tussen hulle en die Seine gaan vasdruk. Sy moet beweeg, en vinnig!

Skielik sien sy weer die nou stegie voor haar, en meer seker van haar roete, begin sy na links beweeg. Julien verken die area voor hulle, en gerusgestel deur sy kalm teenwoordigheid, hardloop sy in ‘n ongelyk geplaveide straatjie af, net om amper onmiddelik voor ‘n groot hoë ysterhek tot stilstand te kom. Sy ruk ongeduldig aan die slot wat die dik kettingskakels stewig in sy ysterklou vashou. Sy het nie nou tyd hiervoor nie! ‘n Koerant waai onverwags teen haar bene vas, en sy skop dit vererg van haar weg. ‘n Snaakse reuk laat haar stadig omdraai, en in die pikswart straatjie aftuur. Vanuit die donker word ‘n wasige figuur al hoe duideliker, en die hare op haar nek staan ineens almal penorent. Sy knipper haar oë vinnig, en probeer om beter te fokus op die naderende figuur, maar dis asof ‘n klewende mistigheid die straat om hulle vul. Haar mond is skielik droog, en haar tong dik in haar mond. Die ding kom so tien meter van haar af tot stilstand. Sy voel ineens verward, vreemd. Asof iemand haar brein en denke verdoof het. Julien! Sy ruk ineen toe die uitroep terugslaan teen haar brein, asof daar ‘n onsigbare skans oor haar kop getrek is. Vir die eerste keer in haar lewe is haar verbinding met Julien verbreek, en sy voel hoe sy onder die ontsaglikheid daarvan wil inmekaar krimp. Julien!

Die figuur voor haar gee ‘n tree nader, en wasige arms kom na haar toe uitgestrek. Sy het geen beheer oor haar arms en bene nie, en sy kan net staan, bewend, asof die nagtemperatuur ‘n ongekende vriespunt bereik het. Sy sien hoe dit nader tree, en bekyk angstig die bleek, benerige hand wat op haar bors tot rus kom, bo-oor die smarrag om haar nek. Sy kan steeds nie beweeg nie, al skreeu die gedagtes om en om in haar kop. Julien! Julien help my! Skielik, vanuit die mis, doem die gestalte van die draak voor haar op. Die klank wat vanuit sy diep bors losbreek, slaan teen haar vas, laat haar ore suis, en skielik is die skans om haar kop weg, en is Julien en sy, weereens, een. Die figuur retireer haastig, amper paniekerig, en versmelt in die verdwynende mis weg, asof dit nooit was nie. Amelie se asem jaag in haar keel, en haar bene gee onder haar mee. Sy wil nie eers dink wat sou gebeur het as sy die Talisman verloor het nie. Sy sluk swaar, en leun teen Julien se groot reptiellyf, vryf met haar hand oor die bloedrooi skubbe wat soos water onder haar hande kabbel. Reënboogkleure speel in rippelings oor die satynskubbe, blink in die lig van die maan en verleen ‘n buite-aardse skoonheid aan die draak. Hy draai sy lang nek sodat hy haar in die oë kan kyk. Die tyd is min, amper te min om betyds by die Arc de Triomphe uit te kom. Hy stoot haar met sy neus. Hulle albei weet hy is te jonk nog om haar veilig te kan dra, maar hulle sal die risiko moet neem. Sy klouter tot op sy nek, en haak haar voete onder sy arms.

Julien toets sy vlerke versigtig, die wind wat die ragfyn vliese opjaag, is verbasend lig, dit roer skaars die weerbarstige krulletjies om haar kop wat die poniestert ontglip het. Sy leun vooroor, en vou haar arms om sy dik nek. Sy vlerke klap al hoe vinniger, en saam beweeg hulle effens rukkerig na bo, al hoe hoër en hoër, totdat hulle bo die geboue uitstyg. Sy kyk terug in die rigting waar sy vandaan kom. Die grootste deel van Parys is reeds deur die donker ingesluk, en sy voel hoe haar hart benoud in haar keel begin bons. Asseblief, laat ons tog net betyds wees! Sy leun weer vorentoe, en die koel herfslug laat haar oë traan, wat dit moeilik maak om enige iets deur die donker te sien. Maar tussen die wind en die trane, kan sy die naderende spil van die wiel sien, hulle eerste stop is so naby! Haar maag draai om toe Julien begin afsak, sy kan sy groot hart vinnig teen haar lyf voel klop, hoe die inspanning om haar te dra, sy longe en vlerke tot die uiterste toets. Dit voel vir haar asof sy vooroor gaan tuimel toe sy groot kloue krampagtig vashouplek op die dak van die welbekende ikoniese baken vind. Sy gly vinnig van sy nek af, en haal haastig die Taliman van haar nek af. Sy leun oor die blokrand, en voel hoe die aarde haar aantrek na onder. Sy knyp haar oë styf toe, en voel met haar hande vir die holte wat haar ma gesê het, daar sal wees. Sy beweeg haastig na regs, hande soekend. Uiteindelik voel sy die anomalie, ‘n holte in die gladde muur. Bewend neem sy die smarrag en druk dit in die holte, dit klik in plek, die onverwagsheid daarvaan laat haar skrik, en sy ruk haar hand vinnig weg. Sy tel stadig in haar kop, tot tien, soos haar ma haar herhaaldelik laat oefen het as ‘n kind, min wetende waarvoor sy dit eendag nodig sou hê. Op die tiende sekond hoor sy ‘n geknars, en in die hoek van die Arc, op die dak, ‘n entjie van haar af, rys ‘n steen asof ‘n onsigbare hand dit van onder af uitdruk. Sy hardloop nader, kyk ongeduldig oor die uitgestrekte stad voor haar, uit. Die donker skaduwee is nader, kruip oor die nou grafstil stad. Sy lig die steen versigtig uit sy plek, en snak na haar asem toe sy die groot diamant skitterblink in die holte sien lê. Sy tel dit versigtig op, verbaas oor die hitte wat uit die edelgesteente uitstraal. Sy druk dit versigtig in die slingersakkie wat om haar skouer hang. Julien druk haar ongeduldig op sy skouers, hy bewe, steeds uitgeput van die vlug hiernatoe. Beide van hulle weet dat dit alles van hulle sal vat om hierdie taak suksesvol te voltooi. Sy maak haar oë styf toe, toe Julien oor die rand afspring, en sy vlerke die wind vind, en hulle stadig en sukkelend verder dra, na hulle einbestemming. Sy tuur voor haar uit, die Eiffel toring staan blink en trots, maar dis nog ver, en Julien sukkel om hoogte te kry.

Die lui kronkeling van die Siene rivier lê donker en blink onder hulle, Hulle is laag, Julien haal hard en vinnig asem, sy kan voel dat hy nie meer lank die pas sal kan volhou nie. Sy streel oor sy uitgestrekte nek, hartseer dat hy op so ‘n jong ouderdom gedwing word om te doen, wat hy fisies nie regtig instaat is om te doen nie. Trane rol oor haar koue wange, deels van die wind, en deels van uitputting en spanning. Julien draai sy kop na haar. Hy weet dat sy net so onvoorbereid is op die taak wat voorlê as hy. Hy kyk weer voor hom, en sy voel hoe hy sy swaar lyf opnuut inspan om weer hoogte te kry. Die Seine raak weer kleiner, en die Eiffel toring kom stadig nader. Agter hulle hoor sy ‘n klaende geween, en in ‘n vinnige terugblik sien sy dat die skaduwee besig is om hulle in te haal. Teen die rand van die skadu sien sy skimme, donker figure wat die skadu aantrek, en oor die stad trek, soos wat mens ‘n laken oor ‘n bed sou trek. Sy ril, ineens koud en vreesbevange.

Julien is by die einde van sy kragte. Sy vlerke klap al hoe stadiger, en hulle verloor vinnig hoogte. Voor hulle doem die Eiffel toring in al sy glorie voor hulle op. Julien sal nie tot bo kan kom nie, en sy maak reg om die laaste skof alleen aan te pak. Julien steek sy pote uit en gryp aan die struktuur vas. Met sy stert wat kragtig waai, begin hy teen die staalstruktuur uitklim. Amelie kyk af, en sien die skaduwee-skimme teen die voet van die toring. Soos hulle begin opklim, doof die ligte een vir een uit, en die voet van die toring is reeds in donkerte gehul. Amelie klou verbete aan Julien se nek, hy blaas verwoed, aan die einde van sy kragte. Hy sukkel om een voet voor die ander te sit. Amelie weet dat die laaste deel aan haar oorgelaat sal word. Sy gryp na die stellasie, yskoud en kliphard teen haar natgeswete palms. Sy swaai van Julien se nek af, en vir ‘n oomlik hang sy slegs aan haar hande. Die donker is halfpad teen die toring op. Sy ruk haar kop op, en begin soos ‘n apie teen die stellasie op te klouter. Julien bly agter, om met sy laaste kragte vir haar bietjie tyd te probeer wen. Sy is nou net onder die laaste dun naald, aan die bokant van die toring. Haar hande en bene is lam, en haar asem jaag onbeheersd. Onder haar hoor sy Julien brul en sis, soos die skimme by hom aankom, en die donkerte oor hom vou. Sy brulle verander in skril uitroepe van pyn, en haar hart trek verwoed en pynlik saam. Julien!

Sy klouter oor die laaste paar stawe en kom dan bewerig teen die naald orent. Sy staan op die punte van haar tone, voel hoe die koue wind nou boosaardig teen haar aanwaai. Sy kan net-net die tippie van die naald met haar vingerpunte raak. Sy sak terug, en soek naarstiglik na die opening van haar sakkie, haar vingers klemmend om die diamant, toe sy dit uiteindelik vasvat. Die skadus is by haar, die aardige weeklaag kruip teen haar op, en sy moet haarself dwing om weer op haar tone te staan. Die skimme teen haar bene brand fel, en sy kan die rou gil uit haar keel nie keer nie. Sy voel-voel paniekerig vir die punt van die naald, en swaai haar lyf teen die wind, sodat haar ander arm se momentum haar omdra, en sy die diamant op die puntjie van die naald laat vasslaan. Dit suig teen die naald vas, en ‘n verblindende lig skiet in alle rigtings deur sy glinsterende kante. Met ‘n oorverdowende knal skiet reënboogkristalle deur die skaduwees om haar, en in ‘n oogwink is Parys in die lig, asof daar geen skadus ooit was nie.

Amelie kyk beangs na onder, soekend na Julien, en sy begin hard snik toe sy hom nie sien nie. Die volgende oomblik voel sy die sagte beweging van haar hare teen haar wange, en toe sy haar kop draai, kyk sy reg in Julien se gougeel oë vas. Sy gly verlig oor sy nek, veilig en warm teen sy blink lyf. Hulle het hulle goed van hulle taak gekwyt. Haar ma sou so trots gewees het op hulle. Die wêreld, vir nou, is weer veilig.