Geskenke van nêrens

Tanita Da Silva

Geskenke van nêrens – 2018 © Tanita Da Silva

Wetenskapfiksie

“Jislaaik man, kom ons rus ’n bietjie.” Kieran staan gebukkend, hande op die knieë en hyg.

Die sweet tap hom behoorlik af.

“Laastes,” soebat Elmo. Hy plant die wit en swart sokkerbal op die gras en mik ’n skophou in Kieran se rigting. Hy skater toe Kieran verniet hardloop om te keer.

“Mos lekker as jy heeltyd skop en ek moet keer.” Kieran gaan weer in posisie staan.

Voordat hy reg fokus, skop Elmo die bal. Hy hou sy kop vas toe die bal  oor die heining, op die bure se grasperk beland. Probleme! Juffrou West, hulle buurvrou, is nie ‘mensvriendelik’ nie. In elk geval dis wat hy sy ma aan ’n vriendin eendag hoor sê het. Blykbaar dra sy ook net wit handskoene. Al wat hy weet, is dat mens nooit die vrou sien nie. En dat daar ’n hond of twee en ’n paar katte op die werf rondhardloop.

As hy juffrou West in lewende lywe moet sien, sal hy nie eers weet dat dit sy is nie. Voordat hy Elmo kan waarsku, is hy oor die heining. Kieran kies die veiliger roete. Hy mik vir die voorhek.

“Die bal het nounet hier gelê,” sê Elmo met ’n mond wat oophang. Hy wys met sy voorvinger na ’n plek op die gras.

“Juffrou, of een van haar diere het dit seker…”  probeer Kieran ’n logiese antwoord verskaf.

Hy het op ’n keer sy rugbybal per ongeluk oorgeskop en dit was die laaste sien.

“Ek sweer ek het dit net hier gesien.” Elmo wys weer en vryf oor sy kop. Hy maak ’n kruis met ’n natgelekte voorvinger op sy voorkop.

Kieran sien ’n beweging by die swaar gordyne. “Het jy gesien?” vra hy, maar Elmo is al lankal weer oor die heining, aan die ander kant. Kieran voel die rilling al langs sy ruggraat af. Dié keer volg hy sy maat se voorbeeld, oor die heining. Dis vinniger.

Die volgende oggend kom gans te vinnig vir Kieran. Sy oë brand van die moegheid. Dit voel kompleet asof hy net ’n paar minute van slaap ingekry het. Hy onthou hoe hy eers lank rond gerol het in die bed. Hy strek hom uit en draai op sy maag.

’n Paar sekondes later op die een sy, dan weer op die ander sy. Die slaap wil maar net nie weer kom nie.

Die episode van die vorige dag  het sy kop heeltemal deurmekaar. Hoe die sokkerbal net kon verdwyn het… Dit maak net nie sin nie. Miskien as hy en Elmo oor dit gepraat het, kon hulle tot ’n logiese gevolgtrekking kom.

Daar was egter nie tyd nie. Sy ma was heeltyd aan die woord. Dit voel elke keer vir hom asof sy meer met sy vriende praat, as hyself. Nie lank daarna nie, het Elmo se ouers hom kom haal. En vandag gaan hulle mekaar glad nie sien nie. Hulle is Kaapstad toe vir die naweek.

Eers toe hy in die kombuis kom, onthou hy dat sy ma genoem het dat sy  vinnig iets by die werk wil gaan doen. Die geroosterde kaasbroodjie op die tafel is nog smeltwarm. Hy eet dit hongerig, terwyl hy Milo in sy groot Sponge Bob koppie maak.

“Gou werk toe. Sien nou-nou Xxx Mamma. Onthou Levi!” lees hy die nota teen die yskas.

Daar en dan besluit hy om liewer niks oor die sokkerbal met sy ma te praat nie. Nie net omdat hy nie weet hoe om die eienaardige verdwyning daarvan  aan haar te verduidelik nie. Die bal was ’n verjaardaggeskenk van haar. Hy wou bitter graag ’n nuwe sokkerbal hê. Sy eie Telstar. En dis nog nie eens twee maande later nie. Vir sy ma se “daar’s baie kinders wat nie so bevoorreg is”-toespraak het hy tog nie lus nie.

Dis net na tien, sien hy op die rooi horlosie bokant die yskas. In rekordtyd trek hy hom aan. Deur die kombuisvenster sien hy ’n groen motor wat stadig by Juffrou West se garage uit ry. Hy kan nie die bestuurder se gesig sien nie. Hy wag tot die motor om die draai verdwyn. Nou kan hy ’n kans waag, kry hy die gedagte. Hy stap haastig uit by hulle klein hekkie.

Sy blik bly vasgenael op die grasperk soos hy nader stap. Die plek waar die bal verdwyn het.

Hy knik sy oë ’n paar keer. Nee, dit kan nie wees nie. ’n Paar sentimeter voor hom, lê sy einste wit en swart sokkerbal. Sy hart klop in sy keel, en sy mond is kurkdroog. Hy kyk rond voordat hy dit waag om die bal op te tel. Hy buk af, lig die bal met albei hande op. Dit is beslis sy sokkerbal, sien hy. Dit raak loodswaar in sy hande. Hy los dit dadelik, en spring net betyds weg voordat die gewig op sy tone beland. Voor sy oë sien hy hoe die grasperk die bal insuig. Hoe die grond oopmaak en dan weer toemaak. Die grasperk lyk dadelik weer welig, daar waar die bal verdwyn het. Toe hy hom weer kom kry, is hy by hulle voordeur.

“En hier dink ek jy slaap nog?” hoor hy sy ma se stem. Hy wip soos hy skrik.

“Hei, jy bewe soos ’n riet. Wat’s verkeerd?” Die frons tussen haar mooi bruin oë verdiep.

Sy kry hom aan albei skouers beet ek kyk hom van kop tot tone, en weer van tone na kop deur.

“Ek is net… moeg,” kom die woorde hortend uit sy mond. Hy gryp haar in ’n stewig om die lyf en hou haar ’n paar sekondes lank vas.

“Jy gloei behoorlik,” merk sy ma bekommerd op terwyl sy haar uit die omhelsing wikkel.

“So moeg moet my seun hom ook nou nie speel nie,” gaan sy in ’n kamma-kwaai stem voort.

Hy gryp ’n waterbottel uit die yskas voordat hy na sy kamer toe haas. Hy hoor sy ma nog iets van Levi sê. Te laat. Hy moes die hond kos gegee het. Dit was heeltemal uit sy gedagtes. In sy kamer draai hy die bottel oop. Voordat hy dit na sy mond toe bring om ’n groot sluk te vat, kyk hy af na sy hande wat voel asof daar elektriese golwe deur vloei. Die plastiekbottel val uit sy hande en beland op die blou mat voor sy bed. Die koue water spat oral. Hy rol die bottel wat nou nie meer dieselfde vorm het nie met sy regtervoet nader. Hy sit gebukkend vorentoe. Die plastiek het sowaar gesmelt.

Hy kyk weer na sy hande. Dit lyk en voel heel normaal. Sy hande bewe toe hy aan die misvormde plastiekbottel raak. Hy ruk wild agtertoe toe Levi langs hom op die bed spring. Levi ruik aan die plastiekbottel en deins blaffend terug. Hy bekyk dit op ’n afstand asof dit ’n giftige slang is.

Kieran steek sy hand uit na die vreesbevange hond. Levi knor en hap na Kieran se uitgestrekte hand. Dan kom die vreeslikste tjankgeluide uit Levi se keel uit. Hy jaag soos ’n jet uit die kamer. Kieran hoor hoe sy ma die hond iewers in die huis troos. Sy liggaam voel lam. Hy sit nog in dieselfde posisie op sy bed.

“Jy moenie so rof met Levi speel nie.”

“Wat gaan deesdae met jou aan?”

“Hoekom luister jy nie?”

“Wat op aarde het met die waterbottel gebeur?”

Daar is bitter min kans vir hom om tussen al sy ma se vrae en uitlatings iets te sê. Op ’n tydstip staar hy net voor hom uit. En hy kan raai wat sy ma se volgende stap gaan wees. Sy gaan hom weer na die kindersielkundige toe neem. Dieselfde soos verlede jaar. Net na sy pa se skielike dood, het sy daarop aangedring dat hy iemand moet gaan sien.

Maandag breek uiteindelik aan. Voor skool soek Kieran sy maat, maar kry hom eers pouse te siene. Alhoewel dit vir hom voel asof hy die storie oor en oor vertel, blyk dit dat Elmo nie ’n enkele woord hoor nie.

“Ons moet iets doen. Hoor jy ooit wat ek sê?” Kieran gooi albei hande in die lug.

“Dis nie dit nie…” Elmo kyk verby Kieran na die sportveld. Hy trippel rond asof hy liggies opwarm voor ’n wedstryd.

“Gaan jy nie kom nie?” skree Freddie, een van hulle sportmal klasmaats, in die verbyhardloop. Elmo gee Kieran een vinnige kyk. Hy mompel iets, en hardloop na die spelers toe. Kieran slaan sommer die teenoorgestelde rigting in.

“Kan jy nie kyk waar jy loop nie?” vra ’n verskrikte Melanie toe hy in haar vasloop.

Haar broodblik beland op die grond. Dis net geel, rooi, groen en bruin voor hulle voete.

“Jammer, ek’s regtig jammer,” maak hy verskoning. Hy tel haar broodblik op en gee dit vir haar aan. Die kaasblokkies, tamatieskywe, komkommer, blaarslaai en soutbeskuitjies lê verstrooid op die grond.

“Ek kan vir jou iets by die snoepie gaan koop,” Hy krap in sy sak en bring ’n tienrandnoot te voorskyne. Dankie tog vir die geld, dink hy.

“Dis oukei. Jy kan jou broodjie met my deel,” besluit sy en wys na die broodblik onder sy arm. Hy gee die broodblik half onseker aan vir haar.

“Dis worsbroodjies met baie tamatiesous,” stamel hy.

“Dit gaan heerlik wees,” sê sy en help haarself. Haar oë blink toe sy opkyk na hom. Dit lyk soos goue stukkies wat ronddryf in haar groen oë. Hy sien ook vir die eerste keer die diep dimpel in haar linkerwang en die ligte sproete in haar gesig.

“Hmmm heer-lik,” sak sy af en eet smaaklik verder.

“My arme ma is elke Maandag op die een of ander dieet,” vertel sy terwyl sy kou. Met haar oë wys sy na die kleurvolle stukke op die grond.

“Jy kan maar alles eet. Geniet dit,” sê hy verlig. Hy begin haar sommer van die sokkerbal vertel. Aan die manier waarop sy kou, ophou kou, vingers aflek, verbaas na hom kyk, kan hy sien dat sy vreeslik geïnteresseerd is.

Hier en daar las hy sommer ’n stertjie aan. Hy vertel hoe hy die wit handskoene agter die swaar gordyne sien vroetel het. Ook dat hy die wit handskoene op die stuurwiel van die groen motor gesien het.

“Ag nee!” sug sy toe die klok lui om die einde van eerste pouse aan te dui.

Kieran sukkel om op sy skoolwerk te konsentreer. Hy probeer om nie opmerklik in Melanie se rigting te kyk nie. Op ’n keer kyk sy skuins na agter, vang sy oog en glimlag al te liefies vir hom. Dit voel asof sy gesig gaan ontplof so bloos hy. Hy kyk dadelik af na sy boeke, rol sy pen stilletjies op en af. Die laaste ding wat hom nou kan oorkom is om juffrou Muller se aandag te trek. Toe die klok vir tweede pouse lui, blaas hy letterlik hardop asem uit. Hy is skaars by die klaskamerdeur uit of Melanie trek aan sy arm. “Ek het ’n plan vir ons.” Haar wipneus trek op ’n plooi.

“Wil jy weet?” vra sy terwyl sy vinnig stap om by te hou by hom.

“Praat maar,” sê hy en gaan staan so vinnig stil dat sy op sy voet trap.

“Jammer,” prewel sy. “Ek moet na jou… julle huis toe kom vir die plan.” Haar gesig is nou bloedrooi.

Kieran maak sy mond oop om iets te sê, maar daar kom nie ’n woord uit nie. Hy kyk flussies om hulle rond. Daar is beslis ’n paar nuuskierige oë op die twee van hulle, gewaar hy.

“Miskien kan ons die geheimsinnige juffrou van naderby sien, of die gras of die grond toets, of miskien kan ons…” Haar oë blink en haar hande beweeg woes soos sy verduidelik.

“Hôkaai,” val hy haar in die rede. Ewe skielik voel hy ook nou weer opgewonde om die storie

opgelos te kry. “Seker,” kom die woord spontaan uit.

“Jy bedoel ek kan kom?” Sy staan voor hom en kyk hom vierkantig in die oë.

Hy knik sy kop.

“Dankie, dankie, jippie yes!” Sy omhels hom so skielik dat hy soos ’n vriesbeeld verstar.

“So dis nou jou girlfriend,” fluister Elmo in sy oor.

Hy wonder wat presies Elmo alles aanskou het. “Nee, dit is nie Elmo!” sê hy hardop. Voordat Elmo nog verder kan uitvis, lui die klok. Hulle drie loop saam daar weg, elkeen besig met sy eie gedagtes. Elmo gaan staan in die ry voor hulle klas, en hy en Melanie voor hulle klas. Kieran sit sy plan dadelik in werking toe hy by die huis kom. Hy speel buite met sy ou sokkerbal. Dribbel, dribbel, mik en skop oor die heining. Solank dit na ’n ongelukkie lyk.

Hy loer oor die heining. Die bal lê daar. Net toe hy omdraai hoor hy iemand sy naam roep. Hy draai stadig om. ’n Wit handskoen gee sy bal om oor die heining. Die krullerige swart hare het slierte grys tussenin. Sy lyk baie ouer as sy ma, maar dis ’n mooi, vriendelike gesig.

“Dankie Juffrou,” kry hy die twee woorde sag uit.

Kieran kan nie wag om Melanie of Elmo die volgende oggend te sien nie. Dieselfde middag daag die twee elkeen met ’n rugsak vol verrassings by hom op. Dis albasters, tennisballe, plastiek- en lappoppe, karretjies, gewere, speletjies, omtrent enige speelding waaraan mens kan dink. Dit lyk nie asof daar lewe langsaan is nie. Die gordyne is bottoe. So van tyd tot tyd gooi hulle iets ‘per ongeluk’ oor die heining.

“Ek dink dit is nou genoeg.” Melanie kyk hulle met groot oë aan.

“Ja, want ek gaan in die moeilikheid kom,” stem Kieran in.

“Moet ons gaan loer, of bietjie wag?” wil Elmo weet.

Die twee volg Kieran by die huis in. Hy skink vir elkeen ’n glas koeldrank.

“Ek dink ons moet nou gaan kyk… voor my ma kom,” stel hy voor nadat elkeen vinnig gedrink het. Die drietal gaan staan naby mekaar, terwyl hulle oor die sementheining hang. Niemand sê ’n woord nie. Daar is nie ’n teken van enige speelding nie.

“Kieran!”

Al drie kyk verskrik om. Nie een het sy ma hoor inkom by die huis nie. Nie eens die motor hoor intrek of die garage deur hoor oopgaan nie.

“Hoop nie julle het kattekwaad aangevang nie.”

“Hier is lekker pizza,” praat sy weer toe niemand antwoord nie.

Hulle volg haar stil by die huis in. Sy maak die pizzaboks oop, haal drie borde uit en sit vir elkeen ’n skyf in. “Julle moet alles opeet,” sê sy laggend. Hulle kyk na mekaar toe daar ’n klop aan die deur is. Kieran se ma staan op om oop te maak.

Dis haar vriendin, tannie Nadia. Die drie bly tjoepstil. Hulle kan elke woord hoor.

“Hemel Kariena, jy sê ook nie jou buurvrou is verlede week al weg nie.”

“Dis nie dat ek bewus was van haar bestaan nie,” antwoord haar ma laggend.

“Marlene, aan die ander kant, sê dis asof die vrou net verdwyn het. Niemand het haar sien kom nie en niemand het haar sien trek nie.” Nadia se stem raak al sagter soos sy praat.

“Daarmee stem ek volkome saam… vreemde vrou, die juffrou West,” sê Kieran se ma.

Hulle kyk na mekaar toe daar weer en weer ’n klop aan die deur is. Dis Elmo en Melanie se ouers wat hulle kom haal. Dis ’n oor en weer groetery en vinnige geselsery.

“Hoe was jou dag?” vra sy ma toe hulle uiteindelik alleen is.

“Ek mag mos nie dit voor die ander doen nie,” sê sy nadat sy ’n soen op sy voorkop plant.

“Lekker,” antwoord hy.

“Tuiswerk?” verneem sy.

“Ek moet oor enige koerantartikel praat,” val dit hom by.

“Jy kan bly wees ek het vandag se koerant,” sê sy verlig en haal die koerant uit haar sak.

“ONBEKENDE VROU DEEL GESKENKE UIT,” lees hy ’n opskrif.

“Dis iewers in ’n arm woonbuurt in Australië, lekker artikel om oor te praat, maar lees jy self,” sê sy ma.

Op die foto sien hy hoe ’n groepie glimlaggende kinders, elkeen met ’n speelding in die hand staan. Sy oog val op die seun wat ’n swart en wit sokkerbal bokant sy kop hou. En hy besef dadelik dat dit sy verlore bal is. Sy verjaardaggeskenk. Die ander speelgoed lyk bekend.

Presies dieselfde goed wat hulle net bietjie meer as ’n uur gelede oor die heining gegooi het. Alhoewel die ‘onbekende’ skenker se naam nêrens genoem word nie, en ’n klein gedeelte van haar gesig gesien kan word, herken Kieran die vrou aan haar krullerige swart en grys bos hare haar krullerige swart en grys bos hare. Juffrou West…

  • Chantal

    Lekker gelees, dankie.