Kallie en die kat

Henrico Bezuidenhout

Kallie en die kat – 2018 © Henrico Bezuidenhout

Sprokie

Hoofstuk 1

Van kindsbeen af het die wêreld vir Kallie rond geklap en sommer die hardste hou eerste uitgedeel toe ‘n bende trolle sy vader aangeval het op pad terug van die handelsmark in Endal. Dit was ‘n suksesvolle dag en sy vader was soontoe met ‘n wa vol uitstekende vakmanskap; houtstoeltjies, tafeltjies, bedkassies en ander nuttige ware. Hy het alles verkoop, tot op die laaste houtbeeldtjie. Die trolle het al die geld gesteel en hom vir die doodsengel gelos.

As ’n sneeubal eers van ‘n heuwel begin afrol, word dit net groter en groter. Op Kallie se elfde verjaardag het hy besluit om soos sy vader handewerk te doen. Dit was nie lank voor hy sy vingers met ‘n byl raak gekap het nie. Met net drie vingers aan sy regter hand het hy gou moed opgegee. Armoedig met ‘n enkel moeder en ‘n klomp swaarmoedige inwoners het Kallie saam met die kleinboere in die landerye gaan werk. Hy was reeds bekend as die plaaslike ongeluk-voël en die ou mense het gesê hy was vervloek gebore. Kallie was skaars daar vir ‘n week toe ‘n plaag sprinkane soos ‘n onheilspellende donderwolk oor die lande toegesak het. Almal het vir Kallie blameer en party het hom selfs ‘n heksekind genoem.

Na ‘n ruk het die stories vervaag en Kallie het weer probeer. Nou ‘n jong man van dertien het hy by die kasteel van Endal gaan werk as ‘n handlanger met die bou van ‘n nuwe valhek. ‘n Klipblok het op sy voet geval en die been verbrysel en van toe af het hy met ‘n permanente hink in sy stap geloop. Al nut wat hy gedien het was om sy moeder te help met eenvoudige takies rondom die huis. Kallie was nutteloos.

’n Jaar later het Kallie se Moeder ’n verhouding aangeknoop met die skildknaap van ’n Ridder. Hierdie knaap, wie bekend was as Alfredo, het dikwels vir Kallie die mees verregaande stories vertel van avonture teen trolle, bandiete en ander skrikwekkende gedrogte. Hy het blykbaar selfs eenmaal toe hulle omkant gevang is, sy meester se swaard opgetel en met een hou ’n wrede trol onthoof.

Al die skildknaap se stories van heldedade met sy meester “Heer Galahad die Grote” het Kallie gefassineer en hy wou nou meer as enigiets ’n Ridder wees. Natuurlik was dit ’n belaglike gedagte en almal wat hiervan gehoor het, het uitgebars van die lag. Alfredo het selfs van sy stoel afgeval soos hy lag, toe Kallie vir hom vertel hoe hy ook eendag ’n dapper ridder gaan wees. Nietemin het hy volgehou. Kallie het ‘n hout-swaard gekerf en teen die bome in die bos begin oefen om te veg.

Die dorpskinders het hom gespot. “Kallie trol vingers” en “slap voet” dus het hy meeste van sy tyd spandeer diep in die bos waar hy verbeeldingsvlugte kon uitleef. Kallie het ten spyte van alles aangehou en die dorpsmense het gedink hy was verstandelik gestremd of besig om heeltemal mal te word.

Eendag toe Kallie so ‘n veglustige stryd teen ‘n boom gevoer het, het ’n stem uit die takke gekom.

“Jong meester, ek sien dat jy ’n ridder wil wees. Ek was eens ‘n ridder!”

Kallie het opgekyk. “Wie is daar? Wys jouself!” Uit die blare het twee swart ore en helder geel oë verskyn. Dit was ‘n kat. Nie ‘n gewone kat nie, maar die grootste kat wat hy nog ooit gesien het! Nogal ’n pratende kat ook!

 “Moenie bang wees nie jong meester. Ek kan jou leer en jou die pad aanwys na roem.”

Kallie het skielik gelag.

“Maar jy is net ‘n kat? Hoe kan jy my wys, jy kan nie eens ‘n swaard vashou nie!”

“Niks is onmoontlik nie jong meester, soos jy kan sien, ek is ‘n pratende kat, is dit dan nie onmoontlik nie?”

“Ek wonder” antwoord Kallie saggies.

Skielik spring die groot kat uit die boom uit en land op die grond langs hom.

“Ek was eens die grootste ridder wat Ealandië nog ooit geken het! Ek is Talara die Skaduwee, meester swaardvegter, geleerde en ouderling van Die Swart Son.”

“Die Swart Son!” het die seun verbaas gesê. Hy het al by Alfredo gehoor van die stories.

“Maar die Orde van die Swart Son het almal meer as ’n honderd jaar gelede gesterf en hulle sê ook dat hulle moordenaars was wat deur mag en hebsug aangevuur is.

“Jy is ‘n dwaas. Moenie jou ore spits vir elke voëltjie se fluit nie. Nogtans, glo wat jy wil. Die feit is, jy wil ‘n ridder wees en ek kan jou leer. Wat sê jy? Seun van Enkin?”

Kallie, wat op sy manier steeds getrou aan sy onbereikbare droom was, het die kat se voorstel sonder huiwering aanvaar.

“Wat moet ek doen?” het hy gretig gevra.

Die kat het geglimlag en sy heldergeel oë het met ‘n bevredigende kyk gegloei.

“Eerstens moet jy vergeet dat jy menslik is en leer om te lewe soos ‘’n kat.” Die kat het op ‘n rots gespring – “vinnig soos ‘n kat”. Toe die seun weer kyk, was die kat agter hom – “so stil soos ‘n kat ” en toe ewe skielik het die kat verdwyn-” en bowenal so skerp soos ‘n kat! ” In ‘n oogwenk het die kat Kallie oor die gesig gekrap. Hy vee toe die sagte strepies warm bloed van sy wang af.

Die kat het net gelag.

“As jy geen arms het nie, geen vingers om ‘n swaard vas te hou nie, geen hande om jou mond vol te stop nie, net dan sal jy gereed wees vir die tweede toets. Jy kan nou begin om te loop soos ‘n kat.”

Kallie het dadelik probeer om soos ‘n kat te loop. Dit was ‘n snaakse affêre, maar die kat het dit baie ernstig opgeneem.

“Jy moet soos ‘n kat eet, soos ‘n kat loop, soos ‘n kat optree, jy moet ‘n kat word. Slegs dan kan jy na my terugkeer, en dan sal ek jou die tweede taak gee. Onthou ek sal weet as jy versuim het om dit te doen en dan sal jy sal nooit ‘n ridder wees nie!”

Die seun het dadelik hierdie vreemde eise begin uitgevoer en hande-vier-voet huis toe geloop soos ‘n kat wese. Die kinders van die dorp het hom gesien en geskreeu van die lag en hom gegooi met klippe. Tydens aandete het Kallie sy kos op die vloer soos kat geëet. Sy moeder het hom gesien met ‘n stok geslaan en Alfredo het weer van sy stoel afgeval van die lag. Sy het hom sleg geskel, “Gaan na jou kamer en moenie uitkom voordat jy hierdie onsin stop nie!”

In sy kamer het Kallie homself skoon gelek en in ‘n bal gekrul. Die volgende oggend toe hy wakker word het hy by die venster uit gespring, maar in teenstelling met ‘n kat, het hy nie op sy voete geland nie maar in die grond neergeval dat die stof en klippe spat.

Gedek in kneusplekke het hy mank-mank na die bos geloop (natuurlik hande-vier-voet) en die leegte gevind waar hy die vorige dag die kat ontmoet het.

“Talara! Talara!” het hy geroep. In ’n oogwink was die kat daar, hierdie keer met iets in sy mond.

“Ontbyt.” sê die kat en laat val ‘n rot op die grond voor Kallie.

Kallie trek sy neus op.

 “Vergeet jy iets my jong leerling? Jy is ’n kat”

Die sappige rot het onder Kallie se tandegeknars en hy het maar gekou tot die bloed by sy mondhoeke uitgeloop het. Hy het nie geëet sonder ‘n vreeslike uitdrukking op sy gesig nie, maar om ‘n ridder te word was veel belangriker en daarom het hy alles ingesluk.

“Goed, goed,” het die kat gemymer.

“Wat moet ek nou doen?” het Kallie gevra.

“Jy moet na die grotte aan die voet van die berg gaan en vir my ‘n voorwerp wat jare gelede van my gesteel is, bring.”

“Watter voorwerp is dit?”

“Jy sal weet as jy dit sien.”

‘Maar wat as ‘n trol my sien? Hy sal my sekerlik eet!’

 “Moet dan nie gesien word nie, eenvoudig soos dit. Onthou jy is ‘n kat.”

“Maar ek kan nie in die donker sien nie.”

“Alle katte sien in die donker jou dwaas!” het die kat geskel.

“Jy sal deur die bos beweeg totdat jy die berge bereik. Kyk na die bergpas wat gemerk is met ‘n skerp paal wat ’n skedel deurboor. Volg die pas tot jy ‘n reuse grot kry. Wees versigtig vir die vyand wat in daardie donker tonnels woon. Sy naam is Gorak en hy sal nie twee keer dink om ‘n nuwe beker uit jou skedel te kerf nie.”

Die kat het net weer gelag.

Kallie het huis toe gegaan om voor te berei vir sy gevaarlike reis. Hy het sy hout swaard en krukke gevat, sy rugsak met gedroogde vleis gevul, sy stewels aan geglip en ’n skaapwol mantel om sy skouers gegooi. Hy het gewag totdat almal slaap voor hy versigtig uit die huis gesluip het. Hy het die voet van die berg bereik teen dagbreek en op ‘n klip gaan sit om aan ‘n stukkie vleis te kou, terwyl hy gedink het wat om volgende te doen.

Hoofstuk 2

Kallie het nie lank aan gesukkel voor hy ‘n skedel op die punt van ‘n hout paal gesien het nie. Sy vel het gekriewel en skielik was Kallie vreesbevange.

‘n Koue wind het deur die rotse gefluister en donker wolke het saamgepak. Handagtig aan sy doelwit en ook sy vader het hy sy laaste moed bymekaar geskraap en die bergpas begin klim. Uiteindelik was hy voor ‘n donker ingang. ‘n Vrot reuk het uit die donker opening getrek. Daar was bene en geraamtes voor die ingang en Kallie het skielik besef dat die kat hom waarskynlik na sy dood gestuur het.

Kallie het nietemin hande-vier-voet die grot ingekruip. Hy het hom verbeel dat sy voete so sag is soos kussings. Hy het hom voorgestel dat hy die verhoogde sintuie van ‘n kat gehad het, hy het sy neus gewikkel en dieper en dieper in die duisternis in gekruip. Dit was nogal ‘n amusante storie, as iemand dit sou aanskou het, want Kallie het meer soos ‘n aap gelyk, as ‘n kat, en sy slap voet het dit net meer sotlik laat lyk. Kallie het dit alles natuurlik baie ernstig opgeneem.

Dieper en dieper het hy in die duisternis gekruip tot hy die geluid van druppende water gehoor het. Hy kon ook nou ’n fyn lig skynsel onderskei wat vanuit ‘n opening in die vêrte gloei.

Kallie het nader gekruip en van agter ‘n rots geloer na die opening waaruit die lig kom. Dit was ‘n groot opening met skerp stalagtiete wat hoog vanaf die rots plafon gehang het. By die vuur het hy ‘n trol gesien wat snuiwend vir homself mompel. Kallie het probeer om nader te beweeg, maar onhandig en ongelukkig soos hy is, het hy op ‘n los klip gegly en in die tonnel afgerol.

‘Wie loop in my grot!” het die Trol gebulder.

Kallie het versteen en al wat uit sy mond kon gly was “Meow.”

Dit was die enigste klank wat hy aan kon dink daar waar hy op die vloer gelê het. Kallie was onsigbaar in die skaduwee en hy was ook klein. Die trol het hom nie gesien nie.

“Dis ’n kat!” het die trol verbouereerd gebulder en amper van die rots afgeval waarop hy gesit het

‘n Ander stem het hierdie keer hoër en meer dringend uitgeroep,

“Dis jy Gorak! Jy praat met die kat in die bos. Grom het jou gesien.”

“Die heks het ons vervloek! Nou kom die katte van die nag. Ons gaan almal vrek!”

Uit die skaduwees het ‘n vet trol aan gewieg gekom. Hy  het twee lang slagtande wat onder sy lippe uitpeul soos ‘n groen walrus op twee bene.

“Gorak haat kat! Gorak breek bene!”

Skielik het die grot geskud en die trolle was aan die baklei. Gorak, (waarskynlik die grootse trol), swaai toe ‘n massiewe knuppel so groot soos ’n boomstomp. Dit tref die kant van die grot en die impak was so hard dat klippe vanuit die plafon begin val.

Tydens die roesemoes het Kallie ‘n blink voorwerp sien skitter in ‘n aangrensende tonnel. Hy kruip toe in die rigting terwyl die trolle mekaar te lyf gaan. Klippe het links en regs gespat, maar Kallie het daarin geslaag om die voorwerp tussen ‘n hoop bene en ander rommel te pluk.

’n Goue halssnoer in die vorm van ’n son. Gevul met selfvertroue en wetend dat trolle nie mal is oor katte nie, het Kallie begin kattemaai soos ‘n kat op hitte.

Dit moes die weerkaatsing van sy skaduwee oor die vlamme tesame met die verskriklike geluide gewees, want toe die trolle die groot skadu kat teen die grotmuur sien met die gepaardgaande bloedstollende geskreeu was hulle vreesbevange en in ‘n paniekerige waansin het hulle in die donker gange af geskater.

Kallie het uit die grot ontsnap en die maan het vir hom geglimlag. Hy het met trots die voorwerp in die lug gehou. Kallie was seer sekerlik moeg en honger, maar nie een van hierdie bekommernisse het hom gepla nie. Die roem en glorie van ridderskap was al waaraan hy kon dink. Hoog op ’n rots geklee in wapenuitrusting so silwer soos die maan, mense wat hom prys gee oor al sy dapper dade, terwyl hy sy swaard na die hemel mik.

Kallie het reeds geglo dat hy ‘n ridder was en het sonder twyfel alles geglo wat die kat vir hom gesê het.  Hy het geensins gewonder hoe die kat nou eintlik ‘n armsalige vent soos hy in ‘n ridder gaan omskep nie.

“Talara! Talara! Ek het dit gevind!” het Kallie opgewonde geroep toe hy die bos bereik, waar hy die kat die eerste keer ontmoet het. Kallie het onder die maanlig gewag en dit was nie lank voordat twee geel oë agter die bome verskyn het nie.

“Mmm, ja, ja! Jy is inderdaad ‘n ware jong ridder, jy het gevind wat ek soek, en soos dit voorkom, baie moeiteloos! Jy het soos ‘n dapper stryder in die kake van die dood gewandel en die vyand met dapperheid en geloof oorwin.

“Ek is gereed,” het Kallie gretig geantwoord. “Jy kan my nou in ‘n ridder verander.”

“Nee jong meester, dit word nie so maklik gedoen nie, jy moet steeds die finale taak uitvoer.”

Kallie het verward na die kat gekyk, asof hy nie kon glo wat hy hoor nie.

“En die finale taak moet jy self ontdek. Gaan terug na jou dorp en wag op jou lotsbestemming.”

Nog voordat Kallie kon antwoord, het die kat agter die bome ingespring en in die nag verdwyn. Kallie was teleurgesteld, hartseer en verpletter. Huis toe gaan weer soos sout in ‘n vars wond.

“Waar was jy!?” het sy moeder geskel. Sy het tekere gegaan oor klomp goed en iets oor Alfredo se skaapvel mantel ook gesê. Kallie het homself probeer verduidelik en toe vertel hy sy moeder alles. Oor die pratende kat, die avontuur met die trolle en natuurlik die belofte van ridderskap. Nadat sy ma hierdie kranksinnige verhaal gehoor het, was sy selfs meer woedend en het hom toe vir goed uit die huis geskop. Sy het vir hom gesê om nooit weer terug te kom, totdat hy geleer het hoe om ‘n regte man te wees nie.

Kallie het teruggekeer na die oopte in die bos op soek na Talara. Hy het geroep en geroep maar daar was geen spoor van die pratende Kat nie.

Hoofstuk 3

Kallie het doelloos van dorp tot dorp gewandel. Sommige mense het op hom neergekyk en gelag soos hy gebedel het vir geld. Party het hom jammer gekry en hom kos en skuiling aangebied.

Sy droom om ‘n ridder te word, was amper heeltemal vergete.

Eendag, naby ‘n klein dorp, was daar ‘n oproerigheid by die ingang.

“Trolle! Ek sê vir julle, monster trolle. Hulle het die stad oorgeneem! Die burgemeester opgevreet en die wagte doodgemaak” was ‘n paar van die woorde wat Kallie kon uitmaak. Party mense is beseer, ander het hulle goedjies gepak en sommige het nie ver van die hekke gekamp nie in afwagting van nuus uit Endal.

Die trolle het geweier om uit te kom. Hulle het hulself gate uit geniet. Al die gemakhede van mense, die oorvloed van kos, goud en snuisterye was een te veel.

Kallie het ’n huilende man gewaar wat die dorpenaars om hulp vra. Die meeste van die mense het hom vertel dat die koning binnekort sy weermag sal stuur en dat hy geduldig moet wees. Dit het hom net meer paniekerig laat ween. Hy het gevra dat hulle self hulle magte moet vergader, die mans moet saam staan en die dorp terug neem. Dit was ‘n hopelose taak en uiteindelik het hy onder ‘n boom gaan sit met sy gesig in sy hande.

“My dogters, hulle het my dogters. Die trolle gaan hulle opvreet,” het die ou man gesnik.

Kallie het na hom toe geloop.

“Verskoon my meneer. Ek dink ek kan jou help,” het hy gesê.

Die man het hom ‘n leë moedelose kyk gegee, “Jy? Ek waardeer jou dapperheid seun, maar jy is nie opgewasse teen ‘n bende trolle nie, moenie so gretig wees om jou lewe weg te gooi nie.”

Die man sug, “Seën jou kind, as al die mense so dapper en opreg was, sou hierdie wêreld ‘n baie beter plek gewees het.”

‘n Vreemde vertroue het Kallie beet gepak, en hy het besluit om te wag totdat die son sak. Toe dit donker genoeg was het hy sy rug gebuig, sy neus gewikkel en lang vreemde geluide ge-uiter, voordat hy hande-viervoet na die hek gehardloop het.

Sommige inwoners wat wakker was, het begin skree:

“Wat doen die seun?” “Is hy mal?” “Iemand stop hom!” “Hy is mal!” “Kyk, hy klim oor die hekke!”

Dit was ‘n absurde skouspel. Toe Kallie bo op die hek is, het hy sy arms en bene uitgesprei, so asof hy gedink het hy gaan deur die lug sweef soos ’n vlieënde eekhoring en op sy voete land. Miskien het die mense wat hierdie waansinnige daad aanskou het, ook so gedink. Kallie het natuurlik aan die ander kant gesig eerste met die grond kennis gemaak. Dit het hom egter nie opgehou nie, hy het net weer opgestaan asof niks gebeur het nie en tussen die huise begin rondsluip.

Hy het padlangs na die hoof-saal gekruip waar die rumoer van trolle gehoor kon word. Die saal is gebou van klip en hout met hoë driehoekige dakke. Kallie het onder ‘n vensteropening gaan sit en deur geloer. Hy het ‘n hoorbare “meow” uitgelaat en ook vinnig na die oorkantse venster gehardloop en dieselfde gedoen. Hy het so by elke venster ge-“meow” totdat ‘n skielike harde gebulder die kakofonie ontwrig het.

Nog ‘n harde stem het die grond geskud en die trolle het op mekaar begin skreeu.

Kallie het daar in geslaag om teen die muur op te klim tot bo-op die dak. Hier het hy allerhande onaardse geluide gemaak wat die trolle laat glo het hulle is deur bose magte omring.

Die trolle het waansinnig geraak, party het deur die mure gebreek en gehardloop asof hul lewens daarvan afhang. Dit was nie lank voordat al die trolle spore gemaak het nie. Kallie het die saal ingeklim en die gevangenes in ’n hok gekry. Hulle het almal vreugdevol uitgeroep met die aansien van hul onkonvensionele redder. Kallie het die sleutels vinnig gevind en hulle vrygelaat.

Die mense het juigend teruggetrek in die dorp en lof aan Kallie die held betoon. Die ou man het hom bedank omdat hy sy dogters gered het en die dorpsmense het Kallie al die kos gegee wat hy kon eet.

Die volgende oggend is die dorp wakker gemaak deur die geluid van trompette.

“Die koning! Die koning is hier!” Het die inwoners geroep. “Die Koning van Endal. Die Koning het gekom!”

Die inwoners het Kallie voor die koning gebring. Kallie het gekniel. Hy was bang, maar ook opgewonde, hy is nog nooit aan enige koninklikes blootgestel nie, nog minder in die teenwoordigheid van ‘n ware Koning! Die koning het ‘n goue kroon gedra met ‘n reuse robyn in die middel. Aan sy gordel het ’n groot swaard gehang en daar was ’n embleem van ‘n leeu op sy bors. ‘n Lang wit mantel met goue patrone versier, het om sy skouers gehang.

“Jong man, jy het buitengewone dapperheid getoon en ‘n vreemde swakheid in die trol gevind. Jou geloof in jouself en lojaliteit teenoor jou mense is gelykstaande aan van die grootste Ridders van Ealandië. Daar is iets anders wat ek moet oordra. Een van die dames wat deur hierdie verraderlike wesens gevang was, is ‘n dogter van koninklike afkoms, wat hier in vermomming gestuur is, om die weë van die gewone volk te bestudeer. Jy het dus nie net die mense van my Koninkryk gered nie, maar ook die familie van ‘n Koning. As ’n dankbetuiging word jy tot ridder beslaan.

Die koning het sy swaard uitgehaal en op Kallie se skouer geplaas.

En so het Kallie ‘n Ridder geword.