Laat dit brand

Ben Abbott

laat dit brand – 2018 © Ben Abbott

Fantasie

Dit het net gebeur een aand. Hy het nog altyd gedroom. Partykeer het hy tot beheer gehad oor die mense en plekke waardeur hy val. En toe, soos dit, het hy gestaan in ʼn sirkel saam die ander. Grys jasse met kappies laag oor hulle oë getrek. Dit het gevoel asof hy hulle ken, elkeen van hulle, maar kon nie sien hoe nie. Hulle het laag begin sing. Die vloer het gebewe. Takkies en stokkies het uit die pad geskuif. Hy het amper ook, maar besef iets groters is aan die gang. Hulle het hande gevat en hy het nader gestaan, deel van hierdie sirkel. Die stemme het opgehou. Syne ook. Uit nêrens was daar lig. So tussen hulle kom ontplof. Hom wakker gemaak, maar die het ʼn lig in sy kamer rond gedryf. Al kleiner en kleiner tot dit by hom was. Hy het regop gesit, sy hand uitgesteek, wou daaraan vat, maar die lig was vinniger. In sy bors in gevlieg, iets geskeur, en nie net sy stem by sy keel uit nie. Hy het homself vinnig weer stil gemaak, tussendeur die pyn.

Op die lessenaar lê daar papiere, en baie daarvan. Krom notas geskryf en geteken. Wesens wat nie bestaan in hierdie realiteit nie. Of tenminste, net in mense se koppe. Daar is boeke ook, die grootmens soort. Die linkerkantste laai staan oop. ʼn Klein swart boekie. As hy oop was, tien teen een  gedigte. Op al twee kante van die papiere. Die boekie amper vol. Nog een wat leeg is onder dit. Daar is figure uit bekende films, party se koppe groot, ʼn gerond-hop as die laai oopgaan. Oor die stoel hang ʼn skool baadjie, lanklaas gewas. In die sak van die baadjie ʼn albaster. Links van die lessenaar die bed, enkel en oud. Half gebreek, half reg gemaak met bakstene vir twee van die pote. ʼn Matras sonder laken. Wollerige komberse. By die venster, ʼn stoel, met vuil merke waar die voete rus, knieë opgetrek teen bors. Redelik veilig om aan te neem daar word baie hier gesit en by die venster uitkyk. Op die vensterbank menige koffiebeker kringe, dieselfde grote beker. Dan die beker, in die hoek, ʼn familie foto opgedruk, half geblyk van die baie was. Sy gesig is daar, heel aan die linker kant. Nog ander. Twee wat ouer lyk, oud genoeg vir pa en ma. Hulle almal lyk redelik gelukkig.

Op die muur weerskant die venster, ʼn groot plakkaat, self gemaak. ʼn Kaart. Van ʼn plek wat weereens nie hier bestaan nie. Dit lyk meestal soos ʼn woestyn. Links klein huisies geteken, gemerk, village. Regs van die dorpie is daar ʼn oase, met die woord daaroor. Regs van die oase is daar wat lyk soos tente. Gemerk: learning camp. Noord is daar berge, en ver Suid, ʼn kring wat lees, holy well.

Geplak op die kaart is sketse van mense, meeste geklee in klere gemaak vir die woestyn, lank en lig. Party van hulle het name.

Dan is daar ʼn geklop aan die deur. Hy draai sy kop, woes deur die slaap. Weer die klop, dan,

Wian?

Ja.

Jy kan kom eet.

Nou daar.

Die slaap nog dik in sy stem. Sy arms vind ʼn strek, en sy bene volg. ʼn Gaap by sy mond uit, dan sit hy regop. Vir ʼn oomblik sit hy net, probeer onthou waar sy drome hom gevat het gesiteraand. Hy wil-wil iets onthou, maar daar kom niks nie. Hy strek sy arms weer, iets in sy bors is seer. Hy kyk af. Op sy bors die buitelyn van ʼn sirkel. Koel. Perfek. Rond. Onder sy vel. Hy skrik, maar minder as wat hy belangstel. Hy volg die ronding met sy vinger, maar dan roep sy ma weer, van ver.

Ek kom!

In die kas vind hy ʼn hemp om die nuutste misterie weg te steek.

Hulle vat hierdie bid ding redelik ernstig op deesdae. Was nie altyd so nie. Nie toe sy pa nog hier was nie. Nooit gedink daddy issues sou in meer bid vir kos ontstaan nie. Maar dit het, en hy moet seker maar net leer om te rol daarmee.

Kom’s bid.

Hande word uitgesteek. Party hard en seker, ander stadig en moeg. Sy ma se woorde vloei oor hulle, vind amper geen oor wat luister nie. Hy kyk na haar. Sy lyk moeg, self meer as gewoonlik. Met die amen word sy linkerhand stywer gedruk. Sy suster Lisa. Sy glimlag skeef, en hy wonder wat sy nou al weer beplan. Partykeer wens hy net vir ʼn bietjie stilte. Maar dit is ook ondraagbaar om stil aan die ontbyt tafel te sit, luister hoe almal kou. Eerder Lisa se skoor soek as die gekou.

Ma.

Ja?

So sonder om op te kyk van die botter op die toast smeer.

Kan ek vyftig Rand kry, asseblief?

Kry nogals?

Wel.

Ja?

Is dit nie hoe dit werk nie?

Nie regtig nie, nee.

Ma het laas week vir Henry gegee.

Dit was vir die skool toer.

Watse skool toer?

Die een waarop hy gegaan het.

Henry kyk op van sy ontbyt, dood in sy oë.

Daar was nie ʼn skool toer nie.

Ja daar was, hy het –

Dan sink dit eers in. Sy kyk na Henry.

Ons sal later hieroor praat.

So beteken dit ek kan ook vyftig Rand kry?

Nee. Jou boetie gaan hard werk vir daai geld.

Is daar iets wat ek kan doen?

Jy kan stil bly en eet?

Sy eerste bydrae tot die gesprek. Vir een of ander rede word daar gegluur.  

Sien, soos hierdie.

Hy druk sy vurk die toast in, sny, prop dit in sy mond. Kou.

Jy is unbelievable.

Dankie.

Nie in die goeie manier nie.

Nogsteeds. Dankie.

Hoe gaan dit met almal se leer werk?

Sagte goed dankies van almal, behalwe Henry.

Henry?

Gaan goed dankie.

Partykeer wonder hy hoekom sy ma hierdie doen, want almal weet dit is waar dit gelos gaan word.

Na ontbyt ʼn gegryp na dinge en dit bêre.

Terug in sy kamer trek hy stadig sy hemp uit. Die sirkel is nog daar. Dit is. As hy gedroom het kon dit al verdwyn het . Net om te bevestig, vis hy die albaster uit sy skool baadjie. Roll dit rond in sy hand, dan oor die tafel. Skielik kom dit tot stilstand. Hy tel dit op, rol dit weer tussen sy vingers. Nie droom nie. Hy weet nie meer wat om te dink nie. Hy kan skaars onthou wat in die droom gebeur het gisteraand, en of dit ʼn droom was. Hy onthou ook nie haar gesig nie. Dit het half onder die grys uitgesteek, maar ook nie. ʼn Klop aan die deur. Vlugtig die hemp weer oor sy kop.

Ja.

Lisa stoot die deur oop, versigtig. Iets op haar gesig. Vriendelik?

Ek het nie geld nie.

Dis nie waarvoor ek hier is nie.

Let’s hear it then.

Okay. Fine. Het jy vyftig Rand asseblief?

Ek het nie, nee.

Wian.

Ek het regtig nie.

Lisa loop die kamer uit, los die deur oop. Iets onder sy asem gesê, soos, nice?

Die tyd is min, en hy verstaan ook nie meer hierdie skool toe gaan ding nie maar hy doen dit want dit hou mense gelukkig. Minder drama. So dis vinnig broeke ruil en gruis skool kouse vind en ʼn vuil wit knopies hemp en dan die baadjie. Albaster terug in sak. Hy het die geskaaf so twee maande terug. ʼn Reality check. Dit kan stil staan op enige oppervlak. ‘The key to traveling between dimensions is to not get lost.’ Het hy een keer gelees. Klink eenvoudig genoeg, maar is redelik moeilik as jy nie seker is van jou realiteit nie. Dis hoekom hy dit gemaak het. Hierdie kan ook ʼn illusie wees, maar hy is wel bekend met hierdie illusie. Verstaan hoe die reëls van die plek werk. Eenvoudig goed soos swaartekrag en weer patrone waarop mens kan staatmaak. Na meer gekompliseerde dinge soos skool toe gaan en cope met die effects van single parenthood.

By die straat af weet hy wag Rhikus, gewoonlik sigaret in mond. Hulle stap saam skool toe. En dis omtrent dit. Daar is gewoonlik stilte. Rhikus nie so woke soos hy nie.

So dis vinnig broodjies gryp en dan by die deur uit. Op die straathoek ʼn lyf wat wag maar nie Rhikus sin nie. Die gesig bekend maar nie. Hy loop stadiger. Sy draai na hom, suigstokkie in hand. Die rooi goedkoop enes. Dan weet hy. Dis sy. Die enigste een wat na hom gekyk het. Voor hy by haar is begin sy loop.

Hey. Wag.

Hy loop vinniger om haar te vang.

Maak net asof hierdie normaal is.

Wie het gesê dit is nie?

Niemand nie.

So.

So maak net asof dit is.

Ek doen.

Hierdie is hoe jou skool uniform lyk, ja?

Hy kyk na haar baadjie.

Daar is ʼn leeu op die logo.

Wat?

Hy punt na sy baadjie, en die leeu.

Right.

Sy vryf haar hand oor die logo. Die garings dans oor mekaar, herrangskik, en dan is dit ʼn leeu.

Hoe het jy dit gedoen?

Het jy die merk?

Wat?

Die merk. Het die ritueel gewerk?

Is dit ʼn sirkel?

Ek weet nie. Dis anders vir almal. Het jy ʼn merk wat jy nog nie voorheen gehad het nie?

Ja.

Waar?

Op my bors.

Okay. Het jy dit al enigsins gebruik?

Gebruik?

Dis ʼn nee. Ontmoet my kort pouse. Dis ons enigste venster.

Vir?

Kort pouse. Courtyard. Sien jou dan.

Hy weet nie hoe nie maar hulle is by die skoolhek, en sy loop in, groet ʼn paar mense asof sy hulle ken, en verdwyn om die hoek. Die klok lui en hy het geen ander keuse as om te volg nie.

Die eerste vyf periodes gaan stadig verby. Sy hand vind konstant die pad na die baadjie sak. Vis die albaster uit. Sit dit neer op die lessenaar. Dan terug sak toe.

Die geheim tot magic, het hy een keer gelees, is om jouself te oortuig van die illusie. As jy glo dat niks van hierdie regtig bestaan nie, is dit nie baie moeilik om dit met jou brein rond te skuif nie. Hy het dit probeer, maar dit is moeilik om jouself te oortuig jy bestaan nie as jy doen. Of dink jy doen. Vir sewentien jaar lank al. Dis toe die drome begin het ook. Hom laat dink daar is dalk meer as een realiteit waartoe hy toegang het.

Hy is op pad om die albaster weer rond te rol in Wiskunde klas, wanneer die klok lui. Sommer van self vind sy voete die pad na die binnhof. Sy staan al klaar en wag, hand gelig, iets streng dopgehou. Sy kyk vlugtig op, sien hom, waai hom nader, dan terug na haar gewrig. ʼn Digitale horlosie.

Waarvoor wag jy?

Shh.

Okay dan.

En drie, twee,

Sy gryp sy hand, begin loop. Eers weet hy nie wat gebeur nie. Dan is dit duidelik. Die dekor van die skool toneelstuk word saal toe geskuif. Hy het al vergeet van die konsert, en hoe ernstig party mense dit op neem. Hulle is agter ʼn groot boom wat gedra word. Dan ʼn toring. Dan ʼn donkie, en dan is hulle die skool hek uit, en in ʼn kar. ʼn Man redelik ouer as hulle sit agter die stuurwiel, die enjin klaar aan die gang. Sonder om enige woorde te wissel, trek die man weg. Sy linker hand ryk stadig uit na die radio. Musiek uit die sewentigs begin speel.

Regtig?

Sy draai na die man, oë groot en ernstig.

Dis ʼn vrye wêreld.

Dit is regtig nie.

Nee, dit is nie.

Maar ek kan nog steeds luister wat ek wil.

Seker.

Sy steek haar hand uit na die radio. Dit vou in op dit self, kleiner en kleiner, stukkies plastiek val vloer toe.

Dit los niks op nie.

Hy steek sy hand uit. Keer die hele proses om.

Kan ons asseblief net iets anders luister?

Sien, dit was nie so moeilik nie.

Hy steek sy hand uit, verander na jong mens musiek.

Hierdie is die deel waar jy dalk mag slaperig begin voel, maar jy moet daarteen veg.

Wat?

Hy kyk op, sy oë al klaar verdwaal.

Bly wakker.

Okay.

Sy oë toe. Dan weer oop.

Hy gaan dit nie maak nie.

Ek het jou gesê.

Hy moet.

Hy’s nog nie sterk genoeg nie.

Jy skuld my vyftig rand.

Hy’s nog nie aan die slaap nie.

Nog nie.

Wian se kop knik, hy weet nie hoe nie, maar hy het aan die slaap geraak. Vlugtig. Weet nie hoe om dit te stop nie. Dan is alles swart.

Wanneer hy wakker word is hulle almal weer daar, grys oor oë, gesigte versteek. Hulle sing iets wat hy ken maar nie weet hoe nie. Dis die droom. Maar dis regtig. Die grond vibreer. Sy stembande ook. Alles skuif uit die pad uit. Tussen hulle almal die lig wat krimp en krimp. Stadig na Wian toe dryf. Wanneer dit naby kom begin dit sy hemp brand. Hy skrik maar besef dit brand nie hom nie. Die lig nou net so groot soos die sirkel op sy bors. Stadig gly dit in. Hy wil skree maar kan nie. Iets skeur. Vir die eerste keer voel dit asof hy dinge kan uit laat. Die lig sprei deur sy hele lyf. Dit gloei. ʼn Vuur binne hom. Hy weet hy kan dinge brand. In die hoek ʼn tafel wat in vlamme bars.

Uit die verte ʼn stem wat iets sê, hy sukkel om te hoor, maar iets soos, kry hom onder beheer?

Dis te laat, dink hy. Dit is te laat. Wat het julle wakker gemaak?

En dan is hy wakker, binne sy bed. Die albaster staan op die bedkassie. Hy lig sy hemp op. Die sirkel nog steeds daar. Versigtig hand uit na albaster, die toets, die seker maak. As sy hom kon kry weet hulle tog sekerlik waar hy bly. Wie is hierdie hulle? As hulle hom nog geen kwaad gewys het nie, hoekom wil hy hardloop? Hy weet nie. Hy weet net hy moet.

In die enigste tas wat hy het, sy skool tas, gooi hy ʼn ekstra stel klere en ʼn kombers, en dis al wat pas. Hy knoop sy tekkies styf om sy voete, en spring dan die venster uit met die sak. Op die straat staan sy en wag.

Shit.

Hy begin hardloop. Vinniger en vinniger. Daar is geen voetstappe agter hom nie. Hy draai om. Wanneer hy terug kyk is sy voor hom.

Regtig?

Hy moet keer om nie oor sy eie voete te val nie.

Hoe, hoe doen…

Jy weet die antwoorde tot al die vrae wat nou in jou kop in jaag.

Maar jy is een van hulle.

Of maak net of ek is.

Of sê net jy maak of jy is.

Guess jy sal nooit weet nie.

Lyk so.

Waarnatoe is jy op pad?

Hy kyk haar oë in, en dan onmiddellik weer weg.

Jy weet nie, doen jy?

Wel.

Wel.

Dis beter om hulle van die binnekant te veg.

Dis wat hulle altyd sê.

Dis waar.

So wat het jy al reg gekry?

Wel.

Wel.

Hierdie keer sy wat weg kyk.

So jy gaan net hardloop?

Wat anders is daar om te doen?

Veg.

Ek dog ons het dit nounet gecover.

Is beter as lafaard wees.

Niemand is bang hier nie.

Nie?

Nee.

So hoekom die gebewe?

Sy kyk af na sy hand, gevou om die albaster, ʼn geskud-skud.

Dis koud.

Nee dit is nie.

Nee. Seker nie.

Ek sal verkies as jy my uitlos.

Is dit wat jy regtig wil hê?

Ja.

Okay dan.

En net soos dit is sy weg. Geen lig. Geen wind. Net weg. Hy kyk agter hom, net om seker te maak, maar niks. Sy voete vind die pad na Rhikus se huis sonder dat hy vir hulle so hoef te sê. Hy loop na die voordeur, is op pad om te klop, wanneer hy die tyd besef. So dis om die hoek, oor die muur, Rhikus se venster kry. ʼn Sagte geklop. Dan weer. Iets roer maar nie genoeg om oor opgewonde te raak nie. Wian klop weer, harder. Rhikus lig sy kop van die kussing, deur die slaap, maar sien dan sy vriend. Hy sukkel die bed uit, loop na die venster.

Wat maak jy bra?

Ek moet jou iets wys.

Hoe laat is dit?

Dit maak nie saak nie.

Daar is skool more. Dit doen.

Dit maak ook nie saak nie.

ʼn Moeë glimlag oor Rhikus se gesig.

Nou daar is jy reg. Ding is net, Ilse slaap oor.

Ilse, die onlangse meisie. ʼn Vreemde dinamiek tussen hulle ingebring.

Dit maak ook nie saak nie.

Okay dan.

Maak vir my die deur oop.

Okay. Okay. Byt vas.

Die venster se gereoste skaniere raas op pad toe. Al twee se gesigte in spanning. Rhikus verdwyn die deur uit, so dis terug oor die muur sukkel, en voordeur toe, wat oopmaak soos hy aankom.

Hierdie beter goed wees.

Dit is.

I have no doubt.

Rhikus stoot die deur saggies agter hulle toe.

Jou kamer?

Ilse.

Is beter dat sy ook sien.

Wat sien?

Ek wil nie hierdie twee keer doen nie.

Okay. Okay. Koffie?

Nee dankie.

Later dan.

Hulle loop die gang af. Prentjies teen die muur van wie mense was en plekke waarna verlang word. Rhikus wag buite die deur terwyl Ilse wakker gemaak word.

Ek wens my ouers was so progressive.

Ilse vryf die slaap uit haar oë.

Ek ook.

So waar dink hulle is jy?

ʼn Vriendin se huis.

Natuurlik.

So wat is so belangrik?

Wel. Ek weet nie rêrig hoe om dit in woorde te sit nie.

ʼn Oomblik se stilte, dan trek hy sy hemp uit.

Jy’t ons wakker gemaak om jou nuwe tattoo te wys?

Dis nie ʼn tattoo nie.

Wat dan?

Ek weet nie. Ek het hierdie droom gehad.

Okay?

Daar was mense in grys. Ek dink hulle kan dinge doen.

Dinge doen?

Soos magic amper, maar nie regtig nie.

Ek’s deurmekaar.

Dis asof net party mense dit kan doen. En ek dink ek is een van hulle. Hulle het my gekry in my droom. My deel gemaak van hulle.

Rhikus skep spoeg met sy duim van sy mond, vryf dit dan oor Wian se bors.

Ek’s nie besig om te jok nie.

Niemand het gesê jy het nie.

Nie met woorde nie.

Ek’s jammer.

Is okay.

Kan jy dit bewys?

Wian steek sy hand uit. Op die bed val metaal wat lyk soos goud.

Tien keer goud se prys werd.

Hoe…

Die sin verlore tussen die drie van hulle.

Hoe is hierdie ʼn slegte ding?

Wian steek sy ander hand ook uit. Die metaal breek en vloei in een stuk in, ʼn ring, draaie en hoeke maar mooi.

Sit dit aan.

Wian tel dit stadig op, gly dit oor sy vinger.

Nou. Dink net aan die koppie op tel.

Rhikus kyk na die koffie beker op die lessenaar. Dit dryf die lig in vir ʼn paar sekondes, en val. Wian vang die koppie. Sit dit stadig op die lessenaar.  

Ek verstaan nogsteeds nie hoe dit ʼn slegte ding is nie. Dit kan die hele wêreld beter maak.

Presies.

So die hulle, hierdie gryses waarvan jy gepraat het, hulle wil dit nie hê nie?

Nee. Ek dink nie so nie.

Kan ek hierdie hou?

Rhikus kyk na die ring op sy vinger.

Nee.

Weer die hand wat uitsteek, die metaal verander in roosblare wat val en verlep op die bed.

Dude.

Rhikus se hand sak. Die gedroogte blare draai en draai, en dan is daar ʼn boksie met ʼn rooi knoppie op.

Wat’s dit?

Die knoppie wat die aarde kan op blaas.

Is jy seker dit is die antwoord?

Dis die enigste manier om te wen.

Ilse kyk op.

Dis in elkgeval tyd dat alles hierdie brand.

Ek stem.

So wie wil dit druk?