Nuwe Wesens

 

Amenity Viljoen

Nuwe wesens – 2018 © Amenity Viljoen

Wetenskapfiksie

“Dis ‘n meisie vir die beste van die beste en julle was gekies.  Ek glo dat met julle hulp sal ons slaag in ons doelwit.  Niks sal ons kan keer nie en niemand sal ons stop nie.  Kom ons bring vrede en hoop aan ons mense,” met die woorde is die kaptein toe gejuig en is die skare uit mekaar…

“Geluk Kaptein Viljoen, dis waarlik ‘n eer om vir so ‘n meisie gekies te wees,” sê een van die kaptein se beste vriende, Generaal Van Wyk.  “Dankie generaal, ek sal julle nie in die steek laat nie!” verklaar die kaptein met trots.  “Dit wil ek glo, my jong vriend.  Met die vlagskip onder jou bevel sal feitlik niks jou kan keer nie,” sê die generaal met ‘n lag in sy stem.  “Dis waarlik ‘n eer,” antwoord die kaptein terug, ook in n lag stem.

“Vaarwel, en spoedige reis vir julle,” “Kom gou terug!” met die woorde word die kaptein en sy bemanning deur die skare gegroet soos hulle die vlagskip Falkor binne gaan.  Dis nie lank nie of die reuse enjins is aangevuur en die ruimteskip klief deur die ruimte…

o0o

Op dieselfde tyd verdaag ‘n baie belangrike vergadering aan die ander kant van die hoofstad Bespin.  “Meneer, ons dank u,” verklaar die burgermeester.  “Dit was niks, meneer die Burgermeester.  Elke maatskappy het sy plig om die gemeenskap te help. Ons is net al te bly dat ons kan help,” antwoord die spreker vir RuimReis, ‘n intergalaktiese maatskappy.

Nadat die mense die vertrek verlaat het tel die spreker sy vid-foon op en skakel die noodnommer.  Dadelik verskyn die beeld van meneer Kleinhans, die voorsitter en stigter van RuimReis.  “Wat is die resultaat?” vra die voorsitter onmiddellik.  “Hulle glo die verslag ten volle.  Moet ons voort gaan met die plan?” wil die spreker weet.  “Ja, al te seker,” is die enigste antwoord wat hy kry.  Sonder meer  word die gesprek kort geknip en druk die spreker die rooi knop op sy oor vol lessenaar.

o0o

“Onthou kaptein nog die toespraak wat u gelewer het, so tien jaar gelede?” wil die tweede in bevel by die kaptein weet.  “Ja, natuurlik onthou ek dit, meneer Basson.  Dit was ‘n hoogtepunt in almal van ons se lewens.  Tog nou sit ons hier, so ver van ons huis af dat ek wonder of ons ooit weer terug sal kan keer?” antwoord die kaptein stroef en droefgeestig.  “As ons net vroeër hier kon uitkom sou ons so baie tyd en hulpbronne gespaar het!” kla meneer Basson.  “Moet tog net nie van die manskappe vergeet nie!  Hulle is die ware rede hoekom ek so mismoedig voel.  Hoeveel nog van hulle gaan ek moet prys gee voordat ons die doelwit bereik het?” vra die kaptein in so ‘n stem dat selfs Basson nie weet hoe om te antwoord nie. 

Ons het al meer as ‘n derde van ons manskappe verloor, dit moet swaar op sy gemoed rus, dink Basson so vlietend voor dat hy antwoord: “Wel as ons, ons doelwit bereik sal die pad huis toe veel vinniger wees!”  Die kaptein staan op en sê: “Vermoedelik.”  Terwyl die kaptein by sy luik uitstaar in die gitswart van die ruimte kom ‘n weerman die vertrek binne en straal van blydskap!

“Kaptein, u sal nie glo nie.  Ons het ‘n planeet met die regte kriteria gevind,” verklaar die manskap.  Die kaptein is so geskok dat hy die beker in sy hand amper laat val.  “Gaan maak seker en toets die planeet weer, hou die inligting vir jouself totdat jy die resultate gekry het!  Ek wil nie die bemanning onnodig opgewonde maak nie!” sê die kaptein in n stem wat bewe.  Sê nou dit is die einde van ons soektog.  O, hoe smag die bemanning en ek inkluis na die gevoel van wind in jou hare of die gewemel van vreemde stemme nie!, dink die kaptein by homself. 

Sonder ‘n verdere woord volg die kaptein en Basson die jong offisier na die regte konsole toe.  Dis nie lank nie of die toetse lewer die gewenste resultate.  Net toe gaan die interkom af met die volgende boodskap: “My geliefde bemanning, ek Kaptein Viljoen, is trots om te sê dat die lang wag verby is.  Ek weet hoe graag elk een van julle op Falkor wil bly en nooit die diens wil verlaat nie.  Hoe sterk julle drang is om uit dieselfde disse te kies en deur  dieselfde gange te loop tot in met einde van dae, dus is ek baie hartseer om die gedagtegang te verbreek,” op die oomblik bars daar ‘n lagbui oor die hele skip uit, nooit het hulle gedink die boodskap sou kom nie. “ Ons het verkry waarvoor ons gesoek het en sal binnekort op pad terug, huis toe, wees!” Die bemanning is vol vreugde en opgewondenheid.  Niemand kan meer fokus op die take voorhande nie, almal skud blad en lag en huil van pure opgewondenheid.

“Fanie, jy het my beïndruk.  Die boodskap kon maar vroeër ook gekom het, hoor,” terg die kaptein die weerman wat nou so bly is dat hy die planeet gekry het.  “Ja, kaptein, ek wou net seker maak,” is die kort antwoord voor die bemanning om hom swerm met gelukwensing.

“Basson, ek wil jou in my kwartiere spreek,” beveel die kaptein soos hy weg stap.  Uit die stemtoon kan Basson aflei dat daar iets is wat die kaptein pla en dat hy vinnig sal moet maak.  “Verskoon my,” sê Basson soos hy deur die skare probeer skuur.  Dis toe dat sy oog die mooi Sonja sin vang.  Hy wag al so lank om met haar te praat, maar kry nooit die geleentheid nie.  Nou is my kans, dink hy.  “Sonja, kom gou hier,” roep hy haar nader.  Sy stap nader en struikel amper soos iemand haar stamp om verby te kom.   “Meneer het geroep,” sê sy uitasem toe sy eindelik by hom kom. 

“Ja, ek het.  Die afgelope week wou ek met jou praat, maar kon nooit die geleentheid kry nie, so hier is dit nou,” met elke woord wat hy spreek word die skare al hoe stiller, totdat daar doodse stilte in die wetenskaplokaal heers.  “Sonja Venter, eerste in bevel van die sterrekunde afdeling, mooiste vrou op die Falkor, en vrou na aan my hart, sal jy met my trou?” Skok weerspieël oor haar gesig, wat binne oomblikke na vreugde verander terwyl sy  met die grootste vreugde antwoord: “Ja”.  Nou is die skare eers opgewonde en rumoerig.  Almal kom wens die paartjie geluk en sterkte toe. Terwyl sommige nog bly is oor die goeie nuus is ander weer bly oor die troue wat gaan kom. 

Dit duur nie langer as n kwart-uur nie, voor die  kaptein weer die vertrek binne tree en die skare stilmaak nie.   “Dis nie nou die tyd vir feesviering nie, ons het werk om te doen.  Almal terug op julle poste, vanaand sal die partytjie begin.”  Toe almal die vertrek met groot teësin verlaat het wag die kaptein op Jan Basson wat die vuur van sy woede deur die kaptein se oë kan aanvoel.  “Jammer, Kaptein!  Ek het nie mooi gedink nie.  Waaroor wou u praat?”  Eers antwoord  die kaptein nie, maar besluit dan dat nou nie die tyd vir twis is nie.  “Nie hier nie,” en die kaptein was met sy vinger na die omliggende vertrek.

“Nee, kaptein! Ek kan dit nie toelaat nie!” Jan se stem is so ernstig soos die kaptein dit nog nooit van tevore in sy studeerkamer gehoor het nie!  “Jy weet self hoe gevaarlik dit is en van al die stories wat rondom die plek draai.  Ek kan nie iemand anders vra om die eerste interaksie namens my te doen nie,” laat die kaptein van hom hoor na n oomblik se stilte.

o0o

“Op die sukses van RuimReis se oorwinning.  Ons is nou die grootste reisagentskap in die heelal!” skaars het die spreker klaar gepraat of die toejuiging begin.  Oral word daar hande geklap en gelag.  Oral behalwe in die parlement.  Daar word die ander kant van die saak met groot erens bespreek.

“Hoe gaan ons maak.  Ons kan tog nie laat hulle die heelal beheer nie!  Dit sal die einde van ons planeet se ekonomie beteken, of het julle vergeet?” wil Bakkies, die hoof van nasionale veiligheid, weet. 

“Ons is bewus van die omstandighede, maar sê my hoe! Hoe wil jy hê moet ons die sogenaamde Vyand voorspring.  Hulle doen niks onwettigs nie!  RuimReis is n maatskappy  wat ook baie werk skep,” wys die Minister van Finansies uit.

“Ek is bly u het dit gevra, my kollega wat nooit sy snoet by sy eie sake kan hou nie,” sê Bakkies met n skewe glimlag op sy gesig, terwyl ‘n lag bui deur die amptenare trek.  Die Minister van Finansies gluur vir Bakkies met n dodelike kyk aan.  “Ek was besig om te sê dat daar wel n plan van aksie is en dat die plan reeds n paar jaar gelede in werking gestel is,” Bakkies gloei nou van die trots en stuur een laste kyk in sy gunsteling Minister se rigting.  Die word rooi van woede, maar vra dan: “En wat is jou sogenaamde plan?”

Bakkies is in sy element.  Hy weet hy het die Minister nou goed op gevryf, maar gee nie werklik om nie, want as daar humor is sal die parlement luister.  En nou moet hulle mooi luister of alles gaan verniet wees.  Soos Bakkies die plan aan die parlement voorlees word al meer en meer koppe vir die plan gedraai, almal behalwe een, die Minister van Finansies.

o0o

“Kan kaptein my nog hoor?” wil Jan Basson dringend weet.   Alhoewel die meeste van die bemanning die planeet se oppervlakte deur die poorte sien, kan net die brug die kaptein bewusteloos op die grond sien lê.

“Kaptein, kan jy my hoor!  Ek herhaal, kom in kaptein!” roep die kommunikator, Luitenant Rita oor die vid-radio.  Die toestel is spesifiek ontwerp vir gebruik in die ruimte.  Die resultate van kommunikasie het aansienlik verbeter as gevolg van die vid-radio, gevolglik was die vlagskip met oor genoeg van hulle toegerus.  Ongelukkig was dit nooit op vreemde planete, soos dié een, getoets nie!  Daarom sukkel hulle om nou met die kaptein te praat.  “Kaptein, kom in!” roep Rita weer.

“Ek kry geen antwoord nie, meneer Basson,” verklaar Rita na nog ‘n herhaaldelike roep.  “Hou aan probeer, sy helderpak behoort nog vir ‘n dag te kan hou.  Dankie tog die deursigtigheidsfaktor kan help met identifikasie, as ons steeds daai wit ruimtepakke moes dra sou dit soos kamoeflering teen die wit sand wees,” sug Jan Basson van verligting.

Net toe sit die kaptein regop en beweeg sy kop in die rigting van Falkor.  “Waar is ek?” wil die kaptein weet.  Hy praat so rustig dat Rita histeries begin raak.  “Wat is fout met hom?” wil sy dadelik weet.  “Bring hom in!  Ons moet ondersoek instel!” beveel Basson met n dringende stem.  “Daar is nie n oomblik om te mors nie!” 

“Weet kaptein, waar kaptein is?” vra die dokter.  “Natuurlik dokter, ek is op Falkor, die vlagskip van die unie, waaraan ons behoort.  Ek is die kaptein wat verantwoordelik is vir julle veiligheid en nog veel meer, asook die wese wat ek wakker gemaak het,” sê die kaptein rustig.  “Neem my na die brug toe, ons moet aanpassings maak of ons kom nooit by die huis uit nie!”

Nadat die kaptein ten volle herstel het kom die bevele so vinnig soos nog nooit van te vore nie.  Skaars is een uitgevoer of die volgende een wag reeds op die bemanning van Falkor.  Hulle werk van die môre tot die aand.  Angstig en met haas voltooi hulle elke bevel wat die kaptein gee, sonder twyfel.

 Na baie lang dae se harde werk word die bemanning in die vergaderlokaal vergader.  “Nou, my getroue bemanning, wat glad nie moeg is nie,” ‘n lagbui breek oor die skare uit en bedaar dan sodat die kaptein verder kan praat.  “Soos die eeu-oue gesegde sê ‘Wat jy saai sal jy maai’, julle het almal so hard gewerk en hier is die beloning nou.  Maak die vensters deursigtig!” beveel die kaptein.  Toe die bemanning sien wat voor die vlagskip gebeur is hulle stom geslaan, want nog nooit te vore was daar ‘n wese besigtig wat groter as die Maan is nie.  Dit is soos ‘n groot boomstam wat oprys van die oppervlakte van die planeet af en feitlik nooit sy top bereik nie.  Dit sprei sy ‘takke’ so wyd uit dat dit lyk soos ‘n netwerk wat besig is om bo die planeet in alle rigtings in, te groei.  “Wat is dit kaptein,” waag Sonja die vraag.  “Die pad huis toe,” kom die woorde van Jan, wat self dit nie kan glo nie.  Die kaptein het dit toe waarlik reg gekry, maar hoe, wonder hy.

o0o

“Dis met groot eer en trots dat ons eerste van geheuereis gebruik sal maak,” Bakkies glooi van trots soos hy die woorde spreek.  “Voel asseblief vry om die stelsel van môre af te begin gebruik.  Enige navrae sal deur ons tolk, Kaptein Viljoen, beantwoord word.  Hy was die eerste mens wat met die stelsel te doen gekry het, wat n eer, kaptein” met die woorde skud hulle blad en glimlag vir die vid-kameras.

Na twee maande se tyd het dié kaptein van onbekend na beroemd verander.  Bloot omdat hy die enigste mens is wat die GGG (Groot Groen Galaktici) kan verstaan.  Vermoedelik na sy eerste kennismaking het hy nuwe tale gepraat en oor nuwe vermoëns beskik.  Baie mense hoop om ook so ‘geseën’ te word deur die GGG, maar niemand het geluk nie.   Dit het duidelik geword dat die enigste manier om met die GGG kontak te maak is om deur kaptein Viljoen te gaan.  Hulle verstaan mekaar, selfs oor groot afstande.  Dit het groot berigte gemaak dat selfs toe die kaptein in die President se kantoor was kon hy met die GGG kommunikeer sodat die kleure van die planeetsvlag oor die ‘planeet-web’, dis hoe die GGG deur die vlok aangespreek word, versprei.  Dit was ter aandenking van die stigting van die planetêre regering.

o0o

“Dis slegs twee maande wat daai web tussen die planete bestaan en ons is klaar besig om bankrot te speel,” kla die spreker van RuimReis. “Moenie jou steur nie!  Ek het klaar planne gemaak, môre die tyd sal dinge anders lyk vir RuimReis se toekoms,” antwoord die stem van agter die groot vormstoel.

Die Minister van Finansies is nie vandag in n bui vir praatjies nie, dit is duidelik hoorbaar uit sy growwe stem.  “En maak seker daai Basson word ook deur die plan verwyder!” “Ja, meneer!”

o0o

Die volgende dag is daar net noodligte wat reg deur die hoofstad Bespin flits.  Sirenes begin loei en mense haas na die naaste vid-monitors.  “Wat gaan aan,” wil die een weet.  Dan vra daai een weer: “Was dit darem ‘n vinnige heen gaan?” Niemand antwoord nie, almal wag vir die omroeper om die hartseer nuus oor te dra, maar niks gebeur nie.  Almal maak net spekulasies, maar dit stop nie in die hoofstad, waar kaptein Viljoen woon, nie.  Dit versprei deur die ruimte soos ‘n plaag van ouds.  Binne ‘n paar uur weet elke mens en siel van die aanval.

Terwyl die mense in afwagting en spanning wag, verkleur die planeet-web na ‘n vreemde ongekende wit kleur, die kleur van rou in die tyd voor die planetêre regering.  Dit gebeur eers in die gemeente waar kaptein Viljoen woon en versprei dan deur die hele netwerk.  Met die verkleuring van die planeet-web begin mense huil en treur soos hulle verstande die nuus vanaf die planeet-web ontvang.  Nog nooit is nuus so versprei nie, maar niemand gee om nie, want die man wat die netwerk gestig en onderhou het is sopas oorlede. 

o0o

“Die laaste week was vir ons almal swaar.  Ek weet in my hart dat die dag nooit vergeet sal word nie.  Namens die bemanning van Falkor, wat saam met kaptein Viljoen gedien het, wil ons net sê: Hy is die kaptein van die vlagskip  Falkor  en toe later ook die tolk van die GGG.  Uit die onmoontlikste situasies het hy ons gehelp en daarvoor sal hy nooit vergeet word nie.”  ‘n Oomblik van stilte word gegee voordat Basson sy toespraak afeindig. 

 “Ek weet dat almal van julle weet hoe groot deel hy in ons wêreld was.  Vir al die mense wat nou skielik kosvoorrade kry of die mense wat nou nuwe tuistes kan vind en selfs die alledaagse mense wat se lewens soveel vergemaklik is.  Dit alles is deur die een man gedoen, kaptein Viljoen,” Bason draai sy kop na sy vrou wat in die skare voor die GGG-platvorm, op die tuisplaneet van die planetêre regering, vergader het.  ‘n Traan kan op sy gesig bespeur word.

Dan gaan hy voort: “Hier voor en vir soveel meer sal ons hom dank en eer, nog een laste keer.  Op aandag.”  Dis met die woorde dat die kis van kaptein Viljoen, deur die senior offisiere van Falkor, op die GGG-platvorm gedra word terwyl die militêre mense op aandag staan.  Die kis word deur die GGG opgeneem, asof dit soos al die ander mense net deur die ruimte reis.  Soos die kis verdwyn in die planeet-web verander die kleur na ‘n dowwe blou, die tradisionele rou kleur. 

 ‘n Lied speel in die agtergrond terwyl die skare treur vir hulle held.  “Ons sal hom wel in die planeet-web kan kontak, nee in die Viljoen-web,” gee Basson die enigste troostende woorde aan ‘n spesie wat baie tragiese nuwe dinge moet verwerk.

  • chantal

    Lekker gelees, dankie