Skubbe by die dam

Paul Rossouw

SKUBBE BY DIE DAM – 2018 © paul rossouw

Fantasie: Gruwels en Spookstories

Vladimir krap aan die vogtige skubbe in sy nek. Hy haal diep asem. Met die uitasem-slag, tril die openinge agter sy ore. Hy gluur met bloedrooi oë na die oewer van die dam.

Intens kyk hy na die eensame figuur wat langs die water staan. Een van die mees opvallendste verandering wat Vladimir die afgelope jaar ondergaan het, is dat hy ‘n paar slagtande bygekry het. Sy eetgewoontes het ook onlangs verander, en snaaks genoeg…vandag is hy weér nie lus vir vis nie.

Hy lig sy bolyf uit die water. Sy webagtige voete sak dieper in die sagte, stink modder onder hom. Met sy geel-groen hande vee hy die opdrifsels voor hom weg. Hy vee oor sy gesig…oor die twee openinge onder sy oë. ‘n Dik, pik-swart gesplete tong skiet by sy mond uit en beweeg stadig op en af. Die reuk van bloed laat die ry blou penne op sy rug regop staan.

Vladimir weet instinktief wat hy moet doen. ‘n Diep roggel-geluid kom uit sy keel. Sy skubagtige kop verwyn weer stadig onder die water. Geel deursigtige vliese bedek nou sy oë. Skaars sigbaar in die skemer-aand…beweeg twee oranje kolle onder die water…in die rigting van die oewer.

…….

Frans de Wet lig sy kop op en gooi die laaste brandewyn  in die glas is, by sy keelgat af. Terwyl hy in sy vis-kas vroetel, mompel hy by homself: “G’n blêrrie mens is meer veilig nie. Hoeveel mense moet nóg langs die water weg-raak? Praat nie eens van dié wat blatant vermoor word vir hulle karre en selfone nie. Nee wat swaer…vir mý sal julle nie kry nie…nié vir Frans de Wet nie”.

Frans voel of sy .38 rewolwer nog aan sy heup hang. Hy kyk heen en weer en mompel verder: “Frans de Wet is te slim vir julle. Kyk hoe oop is dit hier waar ek kamp. Ek gaan jou mos ‘n myl vêr sien aankom ou maatjie. Probeer maar gerus om my goedjies te steel…jy gaan slég op jou moer kry”.

Frans draai die gas-lamp effens hoër en stap water se kant toe. Hy gooi sy lyn in, en sit sy vis-stok horisontaal op twee yster penne neer. Hy stap om die vistok, knie-diep die water in, om ‘n stukkie pap aan die lyn te hang. Hy huiwer ‘n oomblik as hy twee oranje kolle onder die water gewaar. Versigtig druk hy ‘n stukkie pap om die lyn, trek die lyn effens styf en die katrol skree vir ‘n oomblik. Hy laat die stukkie pap stadig sak totdat die lyn styf trek.

“A-ha kêrels…my polisie-man is nou slag-gereed vir aksie. Hy sal my laat weet as iets byterig raak. Kom tog nou nader al die vissies in die dam…kom byt tog asseblief aan Oom Fransie se lekker kossies”.

Met die omdraai-slag, vang Frans se oog weer die twee oranje kolle. Hy stap so paar tree die water in en buk af om die affêre van naderby te beskou….

‘n Skubberige hand skiet uit die water uit en gryp hom aan die keel. Hy wil skree, maar Vladimir se harde vingernaels druk sy keel toe. Met ‘n enkel kragtige beweging ruk Vladimir Frans se gesig tot teen-aan syne. Die laaste woorde wat Frans de Wet hoor, kom heserig uit die dierasie se keel…in duidelik verstaanbare afrikaans:  

“Julle het my vergeet…nie waar nie…mens-gemors?”

Frans se oë peul uit sy oogkaste net voor sy nek breek. Vladimir verdwyn onder die water met sy prooi…en die oewer raak dood-stil. Angstig dobber die polisie-man voor die vistok se punt op en af, soos die laaste rippels van die gruwel-gebeure oor die vislyn beweeg. ‘n Nag-uiltjie roep in die verte.

…….

Janus Groenewaldt stoot sy stoel agteruit. Hy werk nou al sewe jaar by die koerant. Hy sien al die hoof-opskrif op die voorblad…Elfde Persoon Verdwyn by Dam

Die polisie maak nie vordering nie. Geen losprys is al geëis nie, en boonop was nie een van die vermiste persone regtig ryk nie. Niemand weet waar die mense is nie…almal vissermanne. Die polisie-duikers soek tevergeefs na drenkelinge. Die teorie van krokkedille is weerlê na ‘n week lange, intense ondersoek, deur internasionale kenners.

Die telefoon lui. “Hallo…dis Janus Groenewaldt hier”.

“Hallo Janus. Dis Peet Steyn, van die plotte by die dam. Ek sê vir jou, daardie lig was weér by die dam. My honde het geblaf asof hulle iets jaag. Die krag was ook weer af. Ek sê vir jou…dis blêrrie Aliens ou maat. Julle sal die manne van NASA moét betrek…”

“Dankie Peet, ek sal hulle bel…baie dankie en…tot siens”: sê Janus en sit sit telefoon neer. Janus vryf sy voorkop.

Aliens, krokkedille, Bermuda, wegraping….wat nog? Die mense se verbeelding is op hol”.

Dit stink in die grot. Die oggend-son skyn deur die gate in die dak en maak twee helder kolle op die vloer. Vladimir rol om en kyk deur die mistigheid na die ritmiese asemhaling van die figuur wat langs hom lê. Saggies skuif hy nader en vryf sy neus teen dié van sy vrou.

“Goeie môre Njetka, het jy goed geslaap?”

“Heerlik, dankie Vladimir. Dankie vir die kos. Dit was rêgtig lekker, maar ek kon nie baie eet nie”.

Njetka probeer die trane keer en sê saggies met ‘n hees stem: “Ek voel elke keer so verkriklik skuldig die volgende oggend. Ek is jammer…ek weet jy wil dit nie hoor nie, maar dit pla my grensloos. Sê vir my Vladimir, sê dit vir my…laat my dit goed verstaan…dat ons nou niks anders is as aaklige bloed-dorstige kanibale nie…SÊ DIT VIR MY!!!”

“NEE!…jy moet dit nooit weer dink nie. Dis nie waar nie!”, sis Vladimir. “Kyk na mý!…kyk na jouself! Sien jy miskien ‘n méns voor jou staan?”

“Nee…nie meer nie”: antwoord Njetka saggies en laat haar kop sak. Sy druk met haar webagtige hande op die grond en sit regop teen die grot-wand. Njetka gaap en haar lang slagtande en swart gesplete tong is duidelik sigbaar. Die skubbe op haar lyf is effens ligter as dié van Vladimir, en die blou penne op haar rug is korter. Met afsku stoot sy die oorblyfsels van gister-aand se ete eenkant toe. Daar is ‘n lang stilte voor Njetka weer praat:

“Eers was dit net vis…toe diere. Nou kan ons niks anders binnehou nie behalwe …behalwe… hierdie vleis”. Die openinge agter haar ore tril as sy lank uitasem.

Vladimir kom orent. Hy skop die oorskiet vleis die water in, en gaan lê skuins in ‘n sonkol. Die knoppe op sy rug-graat maak lang skaduwees oor sy lyf en sy stert piets heen en weer…’n teken van irritasie.  

“Dis nou al jare dat ons so suffer Njetka.  Moet jouself nie verder martel nie. Hou moed. Ons het mekaar. Ons lewe nog. Natuurlik het ons verander, maar ons word sterker en sterker by die dag”.

“Jý miskien, maar nie ék nie. Ek weet nie wat met my aangaan nie. Dit is die eerste keer die afgelope vyf jaar dat ek só voel. Hierdie gevoel is anders. Dis nie spier pyne of ‘n gevoel van weersin in vis- of diere vleis nie…dis net anders. Dink jy régtig dat dit ons nuwe dieet nie iets daarmee te doen het nie Vladimir?”

“Nee!”: sis Vladimir en sy stert piets heen en weer. “Anders sou ék ook mos sleg gevoel het…en ek voel piekfyn. Vergeet nou daarvan…net soos húlle ons vergeet het. Kom ons wag en kyk wat gebeur. Soos alles voorheen, sal ons ook hiéraan gewoond moet raak”.

Njetka kan die pyn nie langer vir Vladimir wegsteek nie. Hy kan in haar oë en in haar gedrag sien dat daar groot fout is met haar. Hulle het nog altyd saam deur dieselfde pyn en dramas gegaan, maar dié keer is sy alleen. Sy staan hande-vier-voet en gooi haar kop agtertoe. Haar haar dowwe blou lippe is vêr terug getrek terug oor haar lang slagtande. Sy kreun. Die penne op haar rug staan orent en haar stert sidder. Waneer sy haar kop laat sak loop die slym by haar mond uit en sy hyg na haar asem.

Vladimir maak ‘n goud-kleurige leêr oop. Hy skryf, soos altyd, in detail neer wat hy sien. Agter hom lê daar ‘n groot hoop klere en skoene. Eenkant lê twee blou oorpakke en twee paar wit plastiese stewels. Hy maak ‘n rowwe skets van Njetka se postuur en griffel verder.

Hy blaai na die eerste bladsy in die leêr en kyk vir die soveelste keer met afsku na die koerantberig van 31 Mei 1993. Die opskrif lui: Russiese egpaar verdwyn saam met kernafval.

Sy oë blink en daar verkyn ‘n glimlag op sy gesig as hy met sy skubberige hand oor die twee fotos in die koerant vryf. Sy was só mooi. Almal by die kern-stasie was jaloers op hom. Sy het die pragtigste groen oë gehad en die mooiste blink hare… pragtige volronde borste en lang lenige bene. Sy was altyd vriendelik…die mooiste glimlag in die wêreld, met sterk, spierwit tande. Die foto het nou wel verdof met tyd, maar hy onhou nog die dimpels in haar wange waneer sy gelag het.

Vladimir se oë trek skielik op skrefies en hy smyt die leêr eenkant toe en prewel saggies: “Net die personeel by die kern-stasie weet dat dit óns was. Dit was ek en Njetka wat die kern-program begin én voltooi het. Hulle het ons die son en die maan belowe…ter wille van volk en vaderland. En toe…toe ons wou terugkeer Rusland toe, toe maak die bliksems ‘n plan met ons”.

Njetka krul skielik van die pyn. Instinktief kruip sy water toe en gaan lê met haar agterlyf in die water. Vladimir haas hom na haar toe en hou haar hand styf vas…. Haar stert lig uit die water; dan sien Vladimir wat gebeur.

Slymerige stringe met duisende klein eiertjies verkyn agter haar in die water. Sy maak haar arms reguit en met ‘n hol rug druk sy die volgende rits eiers die water binne. Die proses hou lank aan, totdat sy later uitgeput haar haar kop in die modder laat sak. Sy loer na Vladimir en ‘n glimlag verkyn op haar dowwe lippe.

“Ek voel nou soveel beter Vladimir”: sug sy. “Kan jy vir gaan kyk of daar nie iets is om te eet nie asseblief…ek is vreeslik honger”.

“Natuurlik Njetka my lief. Ek gaan dadelik. Ek het jou lanklaas so gelukkig gesien”.   

……..

Sestig jaar later stap Klara en haar dogter by groot glasdeure van ‘n baie indrukwekkend gebou binne. Hulle stap verby baie ander wat ook die museum besoek. Hulle gaan staan voor ‘n enkele glas kas in die middel van ‘n groot vertrek. Binne die verligte glas-kas is daar twee wit plastiek stewels en twee blou oorpakke. Aan die kant van die kas lê daar ‘n goud-kleurige leêr en ‘n dowwe koerant berig.

“Wat is dit dié Mamma?”: vra Klara se dogter nuuskierig.

“Ons stamvader en – moeder se klere my kind. En dit is die leêr waarin ons ontwikkeling in detail opgeteken is…en kyk…kyk daar!”.

Haar dogter se oë rek groot en sy glimlag breed. Sy kyk na twee manjefieke brons beelde. Dit is die beelde is van die onlangs afgetrede president en sy vrou…Vladimir en Njetka.

Klara verduidelik verder: “Dit was ook hý my kind, wat ons almal van die groót hongersnood gered het. Hy was die meester-brein agter die voedsel-sekuriteit wat ons vandag beleef…die grootskaalse teel-plase op die platteland was sý idee”. 

 

  • Chantal

    Oulike storie.