Suurstofsuiers

Elsabé Welman

suurstofsuiers  – 2018 © Elsabé Welman

Fantasie

Arion Rimmer skud sy kop. “Dis tydmors,” sê hy neerhalend, “julle voorbeeldigheid baat niemand niks.”

“Ten minste probeer ons iets doen.” Theo frons. “Jy het nie Wetenskap nie en sal nie…”

Arion lag sinies. “Goeie gom, stop asseblief. Ek hoef nie Wetenskap te hê nie. Julle tel ander mense se gemors op. Die eintlike aksie moet wees teen hulle wat die besoedeling veroorsaak. Afvalmateriaal word gegooi in die riviere, afgevoer na die see. Dink aan die riool uit skepe.” Hy sien die vererg oor Theo se gesig versprei. “Ek gaan eerder haaie ry.” Arion gooi sy handdoek op die sand en hardloop die see binne. Eers wip hy rats oor die kleiner branders, gee dan ʼn sierlike duik onder ʼn bielie-brander in. Sy oë is toe maar ʼn malhuis geluide vuurpyl hom uit die water. Wat was dit? Hy kyk af waar hy hom nou in die rustige deinings bevind, die strook net voor die branders breek. Die seewater is dynserig en hy kan nie veel onder die oppervlak sien nie. Hy het lanklaas geswem, dalk is dit sy ore wat aan die drukking onder die water gewoond moet raak. Iets skuur teen sy been en hy trek dit vinnig op. Wat gaan vandag aan in hierdie bloemen see? Dalk ʼn bloublasie? Nee. Dit brand nie, maar die grillerigheid bly vasklou. Hy vryf oor sy been en trek ʼn slymerige plastiese sak van onder af op. “Blikslater,” swets hy sag.

Arion kyk om na die strandkant. Die groep weldoeners loop strandlangs en gooi ongewenste afval in plastiese sakke. Hy klik sy tong en dryf op sy rug. Water dobber om sy kop. Hy knip sy oë en frons. Dieselfde krapgeluidjie weergalm deur sy brein sodra sy ore die water oppervlak breek. Dis nie meer steurend soos vroeër nie, maar vir seker iets wat hy nog nooit gehoor het nie. Arion lig sy kop bo die water. 

Sy gedagtes dwaal. Hy is ʼn water-fanatikus, mal oor die see. Ma sê altyd dis goed sy het nooit geswem tydens haar swangerskap nie, want hy sou sweerlik met kieue gebore gewees het. Dit sou opwindend kon wees om onder die water ook asem te haal, gesels sy gedagtes. Arion ontspan weer in ʼn dryf posisie. Dit is weer daar. Voor hy dink wat seewater aan sy oë gaan doen, swaai hy op sy maag en druk sy kop in die water in. Dit wat hy aanskou, laat sy oë nog groter rek. Om hom is derduisende klein borrels. Skommelend. Stampend. Party blasies is vasgeplak aan mekaar. Ander is groot. Hy vergaap hom aan ʼn vorm wat lyk soos ʼn kop met twee aangeplakte antennas. Of is dit oortjies, wonder hy geamuseerd. Skommelend, heeltyd in beweging. Sy oë vernou. Die klanke begin vorm aanneem. Sy sintuie verskerp, ook sy sig. Dis asof hy ʼn beweging in die ronde borrels sien saam met die klanke. 

“Hoekom is jou oë oop?” 

Arion kyk skeel af na die punt van sy neus waar die stem vandaan kom. Twee effense duike in die blasie lyk soos oë.  ‘

ʼn Derde duik in die wand van die blasie beweeg saam met die woorde: “Kan jy my verstaan?” 

Arion knik. Hierdie is ʼn wonderwerk. Dalk is hy ʼn meermin… ʼn meerman? Hy kyk af maar sien sy eie nommer twaalfs. Jy is laf, Boet, praat hy met homself. Tog weet hy iets is skeef.  Die borreltjie klou steeds vas op sy neus. ʼn Spul ander sweef om sy gesig en om die vriendelike borrel rond. Hy frons en wens hy kon terugpraat. 

“Wil jy met my praat?”

Kan hierdie ding gedagtes ook lees? Arion knik maar besef sy longe brand. Hy is te bang om lug te gaan skep, te bang hierdie vreemde borrel-wêreld verdwyn. Hy wys met sy vinger opwaarts en lig dan sy hand. Sal die blasie-gedoente verstaan dat hy net asem soek en weer wil terugkom. 

“Wag, ek help.” Sy wink ʼn paar groter borrels nader. “Help die mens. Trek hom in jou atoom in. My spasie is te klein.”

Voor Arion benoud kan raak, bevind hy hom in ʼn suurstofborrel van sy eie. Hy trek sy asem in en uiter ʼn “Wow” toe hy vry kan asemhaal. “En ek kan praat!” Sy tong het nou geen keer nie. “Wat is julle? Hoe kry julle dit reg?” Hy onthou van sy ma se verwysing na hom as ʼn vis-baba.

“Ons is kombinasies van water, suurstof atome, molekules, diatome en…”

“Julle kan praat? Wat stamp en skuur julle so?”

“Dit is hoe ons kommunikeer en kuier,” gesels een van die hasie-ore saam.

“Wat is jy?” 

“Ek’s die belangrikste, ʼn molekule, saamgestel deur niks minder as twee hidrogeen en een suurstof atoompie. Noem my Water.”

Arion se klein mater gee die fynste brul en stamp teen groot meneer. “Grootbek. Sonder ons simpel atoompies kan jy nie jy wees nie.” Dan draai die parmantige blasie terug na Arion. “Ons is suurstof-atome. Soos jy seker weet is julle en visse afhanklik van ons.”

“Suurstofpunks, ek weet. Ek moet seker dankie sê.”

“Ek gaan jou nie lank so los nie,” sê Atoompie en sy kyk rond. “As hier ʼn vis kom, is dit verby met jou.”

“Hoekom?”

“Ken jy nie jou wetenskap nie? As jy in ʼn vis se pad kom, word jy ontbind in ʼn suurstofgas wat in hulle selle opgeneem word.”

Arion se oë rek. “Blikslater, is dit wat met julle gebeur?”

“Dis waarvoor ons gemaak is, maar jy sal nie daarvan hou nie.”

Geluide rondom hom klink soos lag. “Die visse sal nog minder daarvan hou met jou in hulle ingewande,” praat ʼn growwer stem. 

Arion kyk links en sien die vermakerigheid in die donker blasie. 

“Miskien moet ons jou in die stroom vat na die haaie. Hulle ingewande sal jou laat stik van skrik.”

“Voertsek, Diatoom. Jy’s wreed,” kla Atoompie.

“Bly julle net ronddobber tot iets met julle gebeur?”

“Nie tot iets gebeur nie, ons gebeur heeltyd.  Ons verwelkom ander atome en molekules by die plankton-fabriek waar ons suurstof-familie gemaak word. Ons groei saam, kyk hoe sommige in ander vorme verander. Ons neem gedurig afskeid en treur oor goor goed wat gebeur.”

“Watse goor goed?”

“Oor die gemors in die water. Dit maak die plankton dood wat suurstof moet produseer.  Ook die arme visse. Om nie van ons te praat nie. Julle mense is so dom soos leë skulpe.”  Atoompie se oë rek. ”Wag, hier kom moeilikheid. Ons gaan jou uit die borrel vrylaat. Kry jouself bo die water.”

Arion se kop swaai om. Ver in die dynserigheid kom ʼn donkerte nader. “Wat’s dit?”

“ ’n Haai. Kan jy nie sien nie?”

ʼn Benoudheid sit soos ʼn slak in sy keelgat. “Wat gaan ek doen? As ek uit die borrel glip oppervlak toe, sal die haai ook vir my kom.” 

“Mm…” hoor hy die goorgat-diatoom langs hom. “Jy is beter af in die atoom as buite.  Minder bloedig.”

“Sê wie? Daardie ander een vertel dan hoe sleg ʼn haai se binnekant ruik.”

“En die mens sal nie meer bestaan nie,” kom die kleintjie tot sy redding. “Hy sal opgebreek word en in die haai se bloedstroom beland.” Atoompie swaai om. “Jy moet die kans vat, Kom ons druk jou op na die wateroppervlak.”

Arion kyk verwilderd om en sien die haai nader swem. Daar is nie tyd om te dink nie.  Goorgat wink ʼn klomp molekules nader en druk Arion dieper die water in. Hy het geen beheer nie. Wil hulle hom doodmaak of sy lewe red? Vrees maak hom woordloos. Sy oë soek na die vriendelike atome en hy sien hoe hul volg, stampend in hul poging om die afwaartse vaart te keer. Arion voel hoe hy in ʼn sterker stroom willoos meegesleur word.  Het hy ooit gedink swem is prettig?  As hy hier uitkom, sit hy sy pote nie weer in die see nie. Dit maal om hom. ʼn Oormaat borrels verblind hom. Hy tol heen en weer en stamp teen die atoomwand. Voor hy kan skree dat iemand hom moet verlos, glinster ʼn haaitand langs hom en hy knyp sy oë toe. 

Dis donker om hom toe Arion sy oë weer oopmaak. Hy is ingesluk, hardloop sy gedagtes.  Hy skree asof haai-se-kind hom sal hoor en uitspoeg. Dis belaglik, weet hy. Vir nou is hy net een buitengewoon-groot-suurstofatoom. Tog hou hy aan skree en smeek. 

“Bly stil jou simpel slak.”

Arion kyk om en sien sy gawe mater. “Kan slakke ook praat?” vra hy sag?  “Jy’s ook hier.  Hoe vinnig gaan ons ontbind?”

“Nee man, jy is die slak wat moet stilbly. Wil jy nog aandag na ons toe trek?  En nee, jy sou al lankal net ʼn gas gewees het as jy in die haai se pad beland het.  Dink jy die haai speel eers ʼn rukkie met die suurstof tussen sy tande voordat dit oplos?”

Arion sug. “Dankie tog.” 

“Ons is duisende atoompies wat jou uit daardie monster-molekules se stroom bevry het.  Ons kruip weg onder die rots.”

Hy kyk dankbaar na haar. Of is dit ʼn hom, wonder hy. ʼn Dit. Hy moet die wetenskaplike Theo vra of ʼn atoom of molekule manlik of vroulik is. Arion voel ongemaklik. Dis asof hy sukkel om asem te haal. “Ek… ek kry… nie… asem…” Hy skop en probeer die opgekreukelde en krimpende wand om hom stukkend krap. Hy aanvaar dat die suurstofatoom opgebruik is. 

“Stop. Jy sal versuip as jy nou uitkom. Dis te ver na die wateroppervlak.” Ander atome drom nuuskierig saam om die ingeduikte atoom toe Arion nie meer beweeg nie. Hy lê slap in die pap ronding van die wand en hyg na asem.

 Atoompie stamp hom nader aan ʼn skulp. Die beweging het die gewenste uitwerking toe die wand skeur toe dit aan ʼn skulp hak. Soos ware lewensredders storm die atome vorentoe, waar een groot gees om Arion vou en hom insluk. 

Arion hyg suurstof in en kyk verwilderd rond. “Ek wil oppervlak toe. Nou.”

“Ek sal kyk of dit veilig is,” bied sy vertroueling aan. Hy kyk haar agterna en skree toe ʼn massiewe donkerte haar laat verdwyn. Die lang vis swaai swierlik heen en weer en toe dit hap na klein vissies tussen die seegrasse, hou Arion sy asem op. 

“Wat se vis is dit?” fluister hy.

ʼn Molekule naby hom antwoord luidrugtig: “ ʼn Barrakuda. Net so slymerig soos ʼn haai.”

Nou is dit verby met hom. Sy beskerm-atoom is opgebruik. Wie gaan hom nou ophelp oppervlak toe? As Goorgat naby is, sal hy hom wat Arion is, laggend vir ʼn vis voer. Hierdie ding is te naby aan hom. As meneer Barrakuda omdraai en suurstof soek, is sy volgende tuiste ʼn vis-sel. Hy ril. Sy atoom-gasheer druk teen die rotswand vas, beweeg al skurend in ʼn opening tussen twee rotse in. Hy wil praat, vir die atoom sê om versigtig te wees, netnou verbrokkel die dun wand, maar hy is te bang om ʼn geluid te maak. Wie weet of die bekkige tandereus naby hom kan hoor. Na wat vir hom soos ʼn ewigheid voel, raak die grys kolos verveeld en swem swierig weg. 

“Atoom, asseblief, help my om die oppervlak te slaan.” 

Die ander wagters om hom knik en beweeg stadig uit die skuiling. Toe een ʼn ent van hul omdraai en ʼn rolbeweging gee, druk die ander gashere hom stadig opwaarts. Skielik word sy gasheer rondgeruk en die klomp atome en molekules word uitmekaar geskiet. Toe hy terugkyk, sien hy die vis wat rondspartel, die mond wat oop en toe gaap. Rondom sy kieue en vinne is ʼn ou vissersnet gedraai. Dan raak die vis se beweging stiller en hy dryf stelselmatig op na die oppervlak. Arion sluk hard. Theo sou nou vir hom vinger gewys het, asof hy wat Arion is self die gemors in die see gegooi het. Hulle is vir seker nou in ʼn stroom gemors. 

“Maak gou. Hier kom ʼn gifblik,” skree ʼn dubbele atoom. 

Arion se kop swaai om en herken die gif wat hulle in die huis teen miere gebruik. ʼn Fyn straaltjie vloeistof lek uit ʼn roesplek. Hy wonder nog waarom hul die blik vrees, toe een na die ander suurstof-atoom ontbind. Met ʼn skielike ruk verloor hy sig hiervan. Sy gasheer word meegesleur in ʼn stroom. Dis weer ʼn rondomtalie tog. Hopelik is hy op pad oppervlak toe as die stroom so sterk is. Hulle het nie regtig beheer nie, besef hy. Hy val rond en word verblind deur plastiese sakke, stukke los gras, kartonne en bottelproppe.  Hy kan nie eers alles eien om hom nie. Die rondomtalie kry einde toe die Arion-atoom vasgedruk word tussen ʼn vislynknoop en ʼn plastiese sak. Gaan hy in sy suurstof tenk vasgekeer word totdat hierdie suurstof ook opgebruik is. Dit is nou genoeg, vertel Arion homself. Hierdie interessante ervaring het sy tol geëis. Al wat hy nou wil hê is om nie meer soos ʼn vis te voel nie.  “Laat my vry,” skree hy moedeloos. As hy net sy arms kan gebruik, kan hy homself bevry uit hierdie bondel gemors. Langs hom sien hy ander atome en molekules wat vrylik rondbeweeg. Dit lyk nie of iemand omgee nie. Hulle het nie die pad saam met hom gestap nie. Geswem nie. Die realiteit is, hulle kan niks doen om hom te bevry nie.

Met al die gespartel en spanning voel Arion hoe sy bors begin brand. “Ag nee, nie weer nie,” kerm hy hardop. Dit is waarvoor hy bang was en hy is steeds vasgepen tussen die ongewensde elemente. Sy pogings om homself te bevry kom tot niks. Beangs en benoud krap en smeek hy om losgelaat te word totdat hy duiselig raak.

 

****

 

“Genugtig, Ou. Waar was jy? Jy is halfpad versuip.”

Met ʼn suurstofmasker oor sy neus, kyk Arion rond. “Is ek… leef ek?”

Theo trek die masker af. “G’n aap kan hoor wat jy sê nie. Wat het gebeur?”

“Ek…” Arion sug moedeloos. Almal sal dink hy het ʼn visgraat deur sy brein as hy met die waarheid uitkom. Die see het hom uitgespoeg, kan hy as rede gee. Dit sal ook belaglik wees. As hy nou daaraan dink, Jona het ʼn rowwer roete as hy gehad. Hoe benoud het die arme siel in die vis gevoel?

“Ons het gedink jy het verdrink. Jou handdoek lê ʼn halwe kilometer agter ons, en toe ek weer sien spoel jy voor ons uit. Het jy so vinnig geswem en moeg geraak?”

Arion frons. Het hy dit regtig beleef? Hy weet dit was nie ʼn droom nie. Hy het uit die see gespoel en nie in die son aan die slaap geraak nie. “Dalk moes ek eerder saam met julle gewerk het. Ten minste sal die gemors wat mens optel nie weer teruggetrek word in die see nie.” Hy ruk sy kop op toe hy weer ‘n fyn stem in sy oor hoor.

“Haal my uit!”

Arion glimlag. Nou is hy nie die gevange nie. Hy hoop dis Goorgat wat vasgekeer is in sy oordrom.”

  • chantal

    Oulike storie