Virusaanval

Henrietta Botes

virusaanval – 2018 © Henrietta Botes

Wetenskapfiksie

 

Riané van Zyl se kort, blonde krulhare lê deurmekaar gevryf oor haar kop. Sy sukkel om die finansiële transaksie te verstaan, wat die debiteureklerk op die finansiële stelsel geposteer het. Moedeloos leun sy terug op die stoel en loer moeg na die muurhorlosie. Dit is amper half-vier in die vroeë oggendure. Sy werk al van vroeg die vorige dag af om die finale finansiële state af te handel vir die ouditeure. Die state moet presies tien-uur aan die ouditeure gelewer word. Alles verloop glad, totdat sy ‘n rekonsiliasie nagaan. Op die oog af het dit gebalansseer, maar met die nagaan van transaksies, is dit duidelik dat bedrae geforseer is om te balansseer.

Die meisie is in haar dertigs en haar kort humeur vlam op. Sy is woedend vir haar kollegas. Verergerlik spring sy op en loop in die donker, koue gang na die badkamer. Sy is alleen in die gebou. Dit is nie die eerste keer dat sy so laat op kantoor is nie. Daar is voldoende sekuriteit binne en buite die gebou.

As sy van die badkamer terug is, word die kantoordeur dig toe gemaak. Dit is in die middel van die winter en yskoud. Sy verdiep haar weer in die onverstaanbare transaksie. Sy hoor ‘n kug agter haar en ruk om. Agter haar staan twee soldate in vreemde uniforms. “Wie is julle?’ vra sy verskrik. Die man antwoord: “Ek word Robaro genoem en my kollega se naam is Frihara. Ons opdrag is om jou so gou moontlik na Sala te neem.” Riané het opgestaan en tree terug. Sy struikel oor die stoel agter haar. Sy skarrel op en deins terug teen die muur. Die twee soldate het nader na haar beweeg. Die vroue soldaat sê: “Kom saam met ons. As jy saamwerk, sal jy nie seerkry nie.”

Riané is bang vir die twee vreemdelinge en seil tussen die muur en die lessenaar deur. Die gangetjie is nou, maar vrees laat die meisie vinnig deur beweeg. Frihara is vinnig by Riané en hou haar bo-arm stewig vas. Die meisie ruk, maar die greep is sterk om haar arm. Riané gil en skree: “Los my! Ek gaan nie saam met julle nie!” Sy worstel en probeer om haar los te ruk. Robaro is ook by en hou haar aan die ander bo-arm vas. Dit is pynlik en die meisie gil deur die trane. Hulle dwing haar uit die kantoor en deur die gang na die uitgang van die gebou. Die streng sekuriteitskodes is nie vir die vreemdelinge ‘n probleem nie. Daar word by elke sekuriteitskonsole ‘n toestelletjie gehou en dan gaan die veiligheidsdeure oop. Riané neem dit vlugtig waar en besef dat die twee soldate, gesofistikeerde toestelle gebruik om vinnig deur die sekuriteit te gaan.

Riané vestig haar hoop op die sekuriteitswagte by die hekke van die terrein, maar snik van teleurstelling as sy hulle bewusteloos by die hekke sien lê. Daar jaag ‘n sedan vinnig na hulle toe. Die meisie probeer keer, maar sy word hardhandig agter in die voertuig geboender. Sy word sitgemaak tussen die twee soldate. Daar word met ‘n vinnige rukbeweging weggetrek. As die ratte meer egalig hanteer word, sê die bestuurder hard: “Julle was vinnig. Ek vertrou dat julle nie probleme ondervind het nie.” Robaro antwoord uitasem: “Dit was nie te moeilik nie. Ongelukkig was dit nie sonder struweling nie. Daar was nie tyd om te verduidelik nie.” Die bestuurder glimlag en sê: “Vrees laat gewoonlik die adrenalien deur die are jaag. Daar is altyd ‘n element van onvoorspelbaarheid. Het iemand ernstig seergekry?” Frihara antwoord: “Darem nie. Ons het glad nie wapens gebruik nie.”

Daar word verder in stilte gery. Riané se asem jaag nog steeds en kyk bang deur die vensters of sy die landskap buite die voertuig kan eien. Dit is egter nog donker en hulle ry buite die stad. Net voordat die dag breek, word daar op ‘n grondpaadjie afgedraai. Daar word nog ‘n paar kilometers gery, voordat die voertuig tot stilstand gebring word. Die twee soldate weerskante van Riané klim uit en help haar om ook uit te klim. Die bestuurder het vinnig om die voertuig beweeg en die meisie sien verskrik die groot man na haar kom. Sy probeer wegvlug, maar die twee soldate hou haar weer stewig aan haar bo-arms vas. Die groot soldaat staan voor haar en sê met ‘n diep stem: “Ons doel is nie om jou seer te maak nie. Ons hantering met jou, gaan van jouself afhang. As jy moeilik is, gaan ons jou noodgedwonge hard moet hanteer. Indien jy rustig saam met ons gaan, sal ons nie eers aan jou raak nie. Die tuigie is ongeveer honderd meter van ons af verskuil. Daar is nie ‘n pad soontoe nie en daarom gaan ons te voet. Gaan jy saamwerk?” Riané is vreesbevange en met ‘n gil ruk sy haar los uit die grepe van die twee soldate. Sy hardloop so vinnig as wat sy kan, weg. Die soldate is egter paraat en sy kom nie ver nie. Sy word op haar maag gedwing en haar arms word agter haar rug vasgemaak. Hulle trek haar op en dwing haar in ‘n rigting. Sy wriemel, maar met die vasgemaakte hande beheer hulle haar makliker.

Die drie vreemdelinge beweeg met Riané vinnig in ‘n rigting. Deur die donker, sien sy ‘n vreemde silhoeët. Sy snak na haar asem en skok tot stilstand. “Wat is dit?” vra sy bang. Die groot soldaat antwoord: “Dit is ons tuig. Ons gaan jou na die moedertuig neem.” Verward vra sy: “Watter moedertuig? Wat bedoel jy? Waarheen neem julle my?” Hulle sleep haar nader na die tuig en die man antwoord: “Ons sal jou later inlig. Ons moet net eers buite die atmosfeer voor dagbreek kom.” Die verskrikte meisie word nou gedra na die tuig. Sy wriemel, maar is nie sterk genoeg teen die krag van die opgeleide soldate nie. ‘n Luik skuif oop en Riané word in die tuig ingedra. Haar arms word losgemaak en dan word sy sitgemaak op ‘n bank. Sy beur op, maar dit is asof ‘n magneet haar aan die bank vashou. Sy kan haar bolyf, arms en bene beweeg, maar haar onderlyf kleef aan die bank vas. Histeries ruk sy en Frihara sê: “Die bank het ‘n swaartekrag wat jou daarteen vasdruk. Jy gaan nie loskom nie. Probeer ontspan. Ek gaan langs jou sit om seker te maak dat die drukking van die opstyging jou nie te veel verontrief nie.” Die vrou gaan sit langs Riané. Sy is ontspanne en glimlag vriendelik vir die meisie. Die twee mans het dadelik na die voorkant van die tuigie op twee individuele bankies gaan sit. Die luik is dig gesluit en voor die mans skuif daar ‘n konsolebord vanuit die voorste wand van die tuigie. Die mans vee met hulle hande oor die konsolepaneel en Riané hoor ‘n sagte druisgeluid. Dan is daar ‘n swaar drukking in die tuig. Dit gebeur skielik en die meisie verbleek. Sy verstaan nie wat gebeur nie en kyk bekommerd na die twee mans. Sy sien egter net hulle rûens. Frihara sien haar paniek en sê: “Ons styg nou op. Die ongemaklike gevoel sal gou verdwyn.” Net daarna is die drukking skielik weg. Verbaas kyk Riané na Frihara, as sy opstaan. Die aantrekkingskrag op Riané se onderlyf is egter nog dieselfde. Sy kan nie soos Frihara opstaan nie. Die vreemde vrou gaan ‘n ent van Riané sit. Sy is ontspanne en glimlag vir die meisie. Die groot soldaat staan ook op en staan ‘n ent van Riané af. Hy lyk nie meer so kwaai nie en sê met ‘n vriendelike stem: “Ons besef dat jy bang is. Ons is opdrag gegee om jou na Sala te neem. Dit is ‘n planeet ver van die Aarde af. Jy het ‘n buitengewone aanvoeling vir wiskundige berekeninge en jou analitiese brein wys vir jou vinnig abnormaliteite uit. Jy word op Sala benodig. Wanneer jy meer gemaklik is met ons omgewing, sal ons leiers met jou ‘n bespreking hou deur kommunikasieseine. Probeer ontspan. Ons sal oor ‘n paar minute by die moedertuig wees.”

Riané kyk hom slegs geskok aan. Niemand praat verder nie. Dit is slegs die sagte druisgeluid wat hoorbaar is. Die meisie vryf ingedagte oor haar hare en dit staan regop. Na ‘n paar minute, wat vir Riané soos ure voel, staan al drie vreemdelinge op. Hulle loop nader na die meisie. Sy is bang en sit met haar rug teenaan die agterste wand. Dit is koud en sy ril.

Weer praat die groot soldaat: “Robaro en Frihara sal weerskante van jou loop. Ons het op die moedertuig geland en ons bevelvoerder wil jou graag ontmoet. Hy word kommandeur Stropla genoem.” Frihara buk langs Riané en die krag wat haar vasgehou het op die bank, verdwyn. Die vroue soldaat help haar om op te staan. Verdwaas gee sy klein treetjies na die luik van die tuig wat oopgeskuif het. Sy huiwer by die uitgang en dadelik word haar twee bo-arms vasgeklem. Sy word gelei deur gange na ‘n spesifieke vertrek.

“Welkom by ons, Riané. Ek vertrou dat jy na die oriëntasie meer op jou gemak sal wees en die tyd by ons sal geniet. Volgens jou profiel is jy maklik aanpasbaar en ek glo jy sal jou buitengewone gawe tot jou volle potensiaal gebruik. Ek is kommandeur Stropla. Ek besef dat jy baie vrae het en ons omgewing vreemd vir jou is. Ek het luitenante Frihara en Robaro opdrag gegee om tot jou beskikking te wees. Kaptein Kugra sal ook baie betrokke wees, maar hy sal in die agtergrond optree. Luitenant Frihara sal jou na jou slaapeenheid neem. Wanneer jy rustiger is, sal ek weer met jou gesels.” Dit is ‘n ouerige soldaat wat met haar praat. Daar is ‘n empatie in die atmosfeer en buiten dat sy nie kans gegun word om te praat nie, is haar keel toegetrek van angs. Sy kan nie praat nie. Sy word uit die vertrek gelei. Haar bo-arms word weer vasgehou, maar nie so styf soos die vorige kere nie.

Die verdwaasde Riané word na ‘n klein vertrekkie geneem. Daar is slegs ‘n slaapbank in. Onder die slaapbank is daar ‘n groot laai wat uittrek. In die laai is daar die nodige klerasie en persoonlike benodigdhede wat Riané sal nodig kry vir die tydperk op die moedertuig. Slegs Frihara het saam met die meisie in die vertrekkie ingegaan. Sy word volledig deur die vrou ingelig hoe alles werk. Die badkamergeriewe is verskriklik vreemd.

Met die afgelope tyd se min slaap, die addisionale spanning van haar ontvoering en die geweldige vreemde omgewing, voel Riané baie moeg. Die slaapbank word voorberei en dan laat die vrou die aardmeisie alleen. Riané snik haarself aan die slaap.

Riané word met ‘n ruk wakker. Sy het baie nagmerries gehad, maar voel tog uitgerus. Sy staan op en gebruik die vreemde badkamergeriewe. Sy trek vars klere aan en voel beter. Sy wag stil op die slaapbank.

Na ‘n ruk is daar ‘n klop aan die luik en dit skuif oop. Frihara kom binne en glimlag vir die bleek meisie. “Jy lyk nie meer so moeg nie,” sê die vrou vriendelik. Stil antwoord Riané: “Ek voel beter. Die slaap het my goed gedoen.” Frihara bly by die luik staan en sê: “Ek en Robaro gaan jou na ‘n ander vertrek neem. Daar sal ons jou iets gee om te eet. Kom saam.” Riané laat haar deur die twee soldate lei. Hulle loop weerskante van haar. By ‘n vertrekkie word sy vreemde wortelrepe gegee om te eet. Dit is verbasend sag en smaaklik. Daar word aan haar verduidelik dat dit ‘n sekere plant op Sala is, wat vir stapelvoedsel op ruimtetuie gebruik word. Dit is nie-bederfbaar. Sy word ook vertel van die planeet Sala self. Staatkundig word daar baie uitgebrei. Die verskillende volke, leiers en regeringstyle word volledig aan haar verduidelik. Die drie mense bring ‘n hele paar ure in die vertrekkie deur. Riané word ‘n magdom inligting gegee en later voel sy voos. Daar word ‘n halfuur ruskans gegee en dan word haar kennis weer verbreed.

Daar is nie dag of nag in die ruimtetuig nie. Die bemanningslede word in verskillende skofte ingedeel en daardeur word hulle dag en nag bepaal. Riané word ingelig dat sy by die twee soldate se skofbeurte ingedeel is, wat haar geselskap hou. Daardie aand raak sy uitgeput aan die slaap. As Riané na agt ure wakker word, staan sy met ‘n hoofpyn op. Dit is hinderlik en sy voel verkouerig. Sy besef dat sy griep onderlede het.

Daar is ‘n klop aan die luik en Riané roep dat die persoon kan binnekom. Dit is Robaro en hy glimlag vir haar deurmekaar hare. Hy gee haar kans om haarself netjies te maak en lei haar weer na dieselfde vertrekkie as die vorige dag. Frihara frons as sy die meisie sien. Hulle groet en die vroue soldaat vra: “Jy lyk bleek. Het jy nie goed geslaap nie?” Riané antwoord met ‘n glimlag: “Ek het griep onderlede. Ek begin ontspan na ‘n baie spanningsvolle tyd en nou het die verkoue kieme my ingehaal. Ek is dit al gewoond. Ek is altyd siek na ‘n spertyd. Ek moes die finansiële state die afgelope tyd afhandel en het myself, soos gewoonlik, nie opgepas nie. Julle ontvoering was net die kersie op die koek. Ek het met die twee goeie nagruste, ontspan en my immuniteitsstelsel het saam met my begin ontspan. Die griepkieme het dit agtergekom en doen nou ‘n fel aanval op my.” Ten spyte van die bleekheid, voel sy nie bekommerd oor haar siektetoestand nie. Die twee vreemdelinge is egter bekommerd daaroor en dwing Riané om na die siekeboeg te gaan.

Hulle laat haar nie ‘n keuse nie. Hulle lei haar deur die gange en kom by ‘n groot vertrek. Uit die vertrek lei daar verskillende luike. Sy word voorsgestel aan geneesheer Mador. Die man is ouerig soos die kommandeur. Die man frons as hy Frihara en Robaro aanhoor. Riané het slegs gegroet en nie uitgebrei oor haar toestand nie. Fronsend vra die geneeshaar haar na haar simptome. Hy laat haar na een van die vertrekke gaan. Sy hoor ‘n sagte druisgeluid as sy deur die luik beweeg. Daar is ‘n slaapbank in die middel van die vertrek. Sy word versoek om te sit op die bank. Dit is slegs die dokter wat saam met haar die vertrek binnegaan. Ernstig vra hy haar weer na haar simptome. Haar hoofpyn het vererger en deur die pyn, antwoord sy hom.

Net na haar vertelling, waai hy met sy hand na haar en daar verskyn ‘n gelerige wasigheid om haar. Verskrik deins sy terug en vra: “Wat het gebeur? Wat is dit wat om my is?” Kalm atnwoord die ouerige man: “Ek het jou in isolasie geplaas. Die simptome korreleer nie met die skandering se resultate nie. Moenie bekommerd wees nie. Die isolekte gee tegelyke tyd behandeling. Jy behoort oor ‘n halfuur beter te voel. Ek het ‘n sterk verdowingsmiddel geprogrammeer vir die hoofpyn. Lê terug en probeer ontspan. Die kommandeur het my ingelig dat jy baie vreemd in ons omgewing is en daarom het ek ‘n ligte kalmeermiddel ook geprogammeer.” Die dokter roep Frihara en lig haar in dat sy ‘n ruk by Riané moet bly. Die dokter verlaat hulle.

Die aardmeisie voel glad nie goed nie en steur haar nie aan Frihara nie. Die vrou sit langs haar op die bank. Die houding van die dokter is vir haar ongewoon en hou die meisie bekommerd dop. Daar is fyn sweetdruppeltjies op die meisie se bolip en haar gesig is baie bleek. Onrustig raak Riané aan die slaap.

Daar is besprekings tussen die kommandeur en die geneesheer in ‘n vertrek. Ongeduldig vra die kommandeur: “Was sy dan nie geskandeer toe sy ingebring is op die moedertuig nie, Geneesheer?” Geduldig antwoord die ander man: “Die gewone prosedure is uitgevoer, Kommandeur. Ek het dadelik die resultate geanaliseer en daar was niks vreemd uitgewys nie. Die drie bemanningslede en die meisie is gesond verklaar. Daar was geen infeksietelling by enige een van hulle opgetel nie. Daar moes ‘n dormante virus in die meisie se liggaam gewees het, wat geaktiveer is toe sy begin ontspan het. Met die adrenalien wat gedurig deur haar bloedstroom gevloei het, was haar immuniteitstelsel ook baie aktief en enige ongeruimdhede is geëliminieer. Dit gebeur baie dat die menslike liggaam erg aangeval word, wanneer dit na ‘n stresvolle tydperk skielik ontspan. Die isolasie wat ek haar in geplaas het, is om te voorkom dat die virus ons ook aansteek. Die virus sal ontleed word en die resultate sal later aan jou deurgegee word. Haar toestand is op die oomblik onder beheer. Sy verstaan wat haar toestand is en sy sal op gereelde intervalle gemonitor word.” Riané se omstandighede word nog ‘n ruk bespreek en dan haas die geneesheer hom na die siekeboeg.

Riané se siektetoestand versleg. Sy ontwikkel ‘n hoë koors en die geneesheer verhoog die digtheid van die isolekte. Die meisie is wakker en Frihara verduidelik vir haar wat ‘n isolekte is. Dit is gevorderde tegnologie wat gebruik word om individuele isolasie toe te pas. Met die tegnologie word behandeling tesame met die isolasie geprogrammeer. Riané en die drie soldate wat haar van die Aarde gaan haal het, is geskandeer die oomblik toe hulle uit die tuigie geklim het. Dit word so subtiel gedoen dat niemand dit agterkom nie.

Die geneesheer skandeer die drie soldate wat Riané gaan haal het en is geskok om verhoogde infeksietellings by hulle te diagnoseer. Hulle word ook in isolasie geplaas. Almal wat betrokke was by die meisie, word geskandeer. Skokgolwe word deur die ruimtetuig gestuur, as die bevelvoerder en geneesheer ook in isolasie geplaas word. Die besmette bemanningslede word gereeld gemonitor en hulle toestande versleg. Die geneesheer wat oorgeneem het, beraadslaag met die nuwe bevelvoerder en daar word ‘n noodtoestand op die ruimtetuig afgekondig. Die leiers van Sala word ingelig oor die toestand.

Die siekeboeg is besig en alle mediese bemanningslede word ingespan. Daar word bloed- en weefselmonsters van Riané geneem en ontleed. Die bevindinge is skokkend. Die griepvirusse in haar liggaam het met die aanraking van die vreemde omgewing gemuteer. Die mutasie het die virusse so verander dat dit geweldig aggresief vermeerder en die organe aantas. Ten spyte van die voortydige isolasie, versprei die virus tot ‘n epidemie op die ruimtetuig. Die isolektes se digtheid word tot die maksimum verhoog. Die mense kon nog soos voorheen beweeg, met die isolektes wat hulle omring. Met die verhoging in digtheid egter, word hulle beweegbaarheid drasties ingekort.

Van die planeet Sala se kant, word daar raad gegee. Uit inligting wat van die ruimtetuig verkry is, word daar probeer om teenmiddels te ontwikkel. Die kortste moontlike roete word bepaal en die ruimtetuig se vlugplan word daarvolgens verander. Al die bemanningslede is na ‘n week besmet. Die oordra van besmetting is onbekend en kan nie gekeer word nie. Die epidemie word na ‘n verdere week as katastrofies verklaar. Die leiers van Sala is bekommerd. Daar word ondersteuningspanne saamgestel om met vier verskillende tuie na die besmette ruimtetuig te vaar.

Die aardmeisie se toestand is wisselvallig. Haar toestand versleg en binne ‘n paar ure verbeter dit weer. Sy veg hard terug teen die virusse. Frihara en sy word in die volgende paar weke groot vriende. Hulle is altwee in die siekeboeg opgeneem in een kamer. Gedurende die tye wat hulle by hulle bewuste is, praat hulle baie met mekaar. Frihara vertel van haar familie en haar lewe op Sala. Riané geniet die jong soldaat se vertellinge en vertel weer op haar beurt van haar lewe op die Aarde.

Dit is nou al vier weke dat die ruimtetuig lam gelê is deur die sterk virusaanval. Die beheer van die ruimtetuig is deur gevorderde tegnologie oorgegee aan Sala. Die ruimtetuig word oor afstand beheer vanaf ‘n sekere ondersteuningstuig, wat op pad is na die ruimtetuig. Die epidemie op die ruimtetuig versleg na ‘n verdere twee weke en die ondersteuningstuig wat die ruimtetuig beheer, verander die besmette ruimtetuig se roete na ‘n onbekende gedeelte van die heelal. Die bemanningslede word ingelig dat hulle en die ruimtetuig ‘n hoë risiko is en dat die ruimtetuig in kwarantyn geplaas gaan word. Die gemoedere in die tuig is swaar en Riané word deur Frihara ingelig oor wat die kwarantyn behels. Hulle ruimtetuig word gedwing om na ‘n ander gedeelte van die heelal te vaar. Daar word sorg gedra dat daar binne ‘n spesifieke radius geen bewoonde hemelliggame is nie. Met behulp van die vier ondersteuningstuie, gaan die ruimtetuig met sekere strale vasgevang word. Die ruimtetuig buite om, word bestraal om alle organismes te eliminieer. Riané voel onrustig as sy die proses aanhoor. Sy besef dat hulle toestand op die ruimtetuig ernstiger is, as wat sy gedink het.

Daar word beraadslaag op Sala en ernstige besluite word geneem. Dit word oorgedra aan kommandeur Stropla. Hy verbleek en gee skor sy toestemming vir die besluite. Die kommunikasie was privaat en slegs hy is ingelig oor die finale besluit van die leiers van Sala.

Die sentrale kommunikasie word geaktiveer op die ruimtetuig. Die kommandeur praat en almal kan hoor dat hy net soos al die ander mense op die tuig, gedaan en seer is van die virusaanval. Met somber gemoedere word die aankondiging gehoor: “Dit is met ‘n swaar gemoed dat ek julle almal toespreek. Die toestand op ons ruimtetuig is geweldig kritiek. Daar is versoek dat almal die nodige boodskappe aan julle geliefdes voorberei. Ons word as Z26 geklassifiseer. Die moontlikheid van prosedure SV10 is nie uitgeskakel nie. Dankie vir julle lojaliteit en samewerking.”

Die kommunikasie word stomp afgesluit. Dit voel vreemd vir Riané. Sy sien dat Frihara bleek en gespanne is. Daar is trane in haar oë en Riané weet dat die aankondiging van die kommandeur niks goeds beteken nie. Sy vra aan die vroue soldaat wat die boodskappe beteken wat hulle moet voorberei. Frihara lig haar snikkend in dat hulle afskeidsboodskappe aan hulle geliefdes moet voorberei en deurstuur na Sala. Alle boodskappe sal by die hoofkwartiere van Sala gehou word. Die toestand van die ruimtetuig is so ernstig dat die ruimtetuig geëlimineer kan word. Indien dit gebeur, sal die boodskappe aan die families deurgegee word. Dit skok Riané tot in haar wese. Sy kyk paniekerig na Frihara en sien die hartseer in haar oë. Die twee vrouens huil saam. Riané kom tot bedaring en troos die vrou langs haar. Skor vra sy: “Wanneer gaan dit gebeur? Wie en hoe gaan die ruimtetuig geëlimineer word?” Frihara ruk haar reg. Sy haal diep asem en antwoord: “Dalk gebeur dit nie. Daar is ondersteuningstuie om ons ruimtetuig, wat nog steeds probeer om die virusaanvalle te bekamp. Ons gaan nie weer kommunikasie van hulle of van Sala af ontvang nie. Ons gaan almal nou wag en kyk of die wetenskaplikes op die ondersteuningstuie suksesvol gaan wees.” Die vrou tower ‘n bemoedigende glimlaggie op. Riané kyk haar geskok aan en staal haar vir die ergste. Sy was nog haar lewe lank ‘n sterk vrou. Sy probeer altyd positief wees en weet dat dit vir die Salaners op die ruimtetuig net so moeilik as vir haar is. Indien die ruimtetuig met almal aanboord geëliminieer word, gaan sy nooit weer die Aarde of selfs Sala sien nie. Sy het nie werklik meer naby familie nie, maar weet dat Frihara nog ouers en twee broers het.

Met seer lywe gaan sit hulle in die groot vertrek van die siekeboeg. Verbaas sien hulle dat daar ander bemanningslede ook is. Niemand praat nie, maar weet wat op hulle wag. Daar heers ‘n somber stilte. Ure gaan verby en Riané raak later aan die slaap.

Die wetenskaplikes op die ondersteuningstuie werk dag en nag. Daar is nie tyd om te rus nie. Die leiers van Sala verwag elke halfuur opgedateerde verslaglewering van hulle. Daar word deur tegnologie en dimensievlakke, atmosfeermonsters vanuit die ruimtetuig onttrek en ontleed. Alle toetse en proefnemings misluk en na agt en veertig ure van intense ontledings, word daar bevind dat die gemuteerde virusse al sterker word. ‘n Ramp kan nie voorkom word nie. Die ondersteuningstuie ontvang opdragte en beweeg dan in ‘n aanvalsposisie.

Sterk strale word op die ruimtetuig afgevuur en dit word omhul in ‘n blitsende vuurrooi gloed. Die omhulsel bons uit en krimp in tot die grootte van ‘n vyf liter emmer. Die gewiglose as word deur een van die ondersteuningstuie ingetrek en dadelik in isolasie geplaas. Daar word intense toetse op die as gedoen en dan word daar verslag gelewer.

Strak word daar aan die leiers van Sala gerapporteer: “Sending AR3809 is geaborteer. Ruimtetuig SR56 van eskader TR84 is geëliminieer. Noodlottige gevalle is ses en veertig Salaanse bemanningslede en een aardbewoner, wat as gas op die ruimtetuig ingeneem is. Geen lewende organisme is gevind nie.”