Vreemde Vlieënde Voorwerpe

Henrietta Botes

Vreemde Vlieënde Voorwerpe – 2018 © HENRIETTA BOTES

Wetenskapfiksie

“Kry die dier van my gesig af!” gil die groot man aan sy makkers. Daar is twee mans wat die ouerige man op die vloer onder beheer hou, terwyl die harige dier hulle makker in sy gesig aanval. Die kat gee bloedstollende geluide, terwyl dit die man aanval met tande en naels. As die man die dier wil wegruk, spring die kat rats oor sy kop en val die man agter sy nek aan. Die man draai met rukbewegings in die rondte om die dier af te skud, maar die kat se naels slaan in sy vleis vas. Die man gil en wriemel verwoed.

Een van die mans los die ou man en help sy makker. Die kat sien die tweede aanvaller en klou die man agter aan sy sye. Sodra die man wat aangeval word, na sy makker draai, verander die kat sy aanval en klou aan ‘n ander gedeelte van sy liggaam.

Wynand Malherbe is sterk vir sy ouderdom en veg verwoed met die man wat hom vashou. Hy gebruik alles om die jong man teen te staan. Hy slaan, skop en probeer selfs die man byt. Die jong man is ook sterk en kry Wynand in ‘n greep beet. Hy dwing hom op sy voete en hou sy arms agter sy rug vas, terwyl hy met sy ander arm sy lyf teen hom vasdruk. Die twee mans veg nog steeds om die kat se aanvalle af te weer. As die ou man uitasem regop staan, spring die kat na die jong man wat hom vashou. Die kat spring doelbewus op die man se gesig en daar is dadelik diep krapmerke oor sy wange. Hy gil skor en probeer om die kat met rowwe bewegings af te skud. Dit is egter moeilik met die ou man wat hy vashou. Wynand sien geskok hoe een van die mans ‘n wapen na die kat aanlê. Hy gil hard en skree skor: “Katjé! Los!” Dadelik spring die kat van die man af en hardloop weg.

Die man laat sak die wapen en kyk na die verskrikte ou man. Kwaad roep Wynand uit: “Jy wou hom doodmaak!” Die jong man bêre die wapen aan sy sy en glimlag effens. Die krapmerke is egter pynlik en die glimlag verstar. Versigtig vat hy aan sy gesig. Die bloed loop dun straaltjies uit die diep krapmerke. “Hopelik het jy nie sulke skerp naels nie. Met die dier se aanvalle is dit veiliger dat jy saam met ons gaan. Jy sal later volledig ingelig word. Kom,” sê hy en draai om.

Die man wat Wynand nog steeds vashou, dwing hom om die ander man te volg. Die ou man worstel en skreeu om hulp. Hy is egter alleen in die kantoortjie en daar is niemand wat hom te hulp kan snel nie. Hy word in ‘n groot swart motor ingeboender. Twee van die mans sit weerskante van hom en die derde man klim by die bestuurderskant in. Die vensters is donker getint en niemand kan van buite af deursien nie. Daar is ‘n getinte veiligheidsvenster tussen die agterste en voorste gedeelte van die sedan. Die ou man kan glad nie sien wat voor in die voertuig gebeur nie. Die donker glas weerkaats in ‘n spieëlbeeld terug na hom. Hy wriemel tussen die twee groot mans.

“As jy nie stil sit nie, gaan ons jou vasbind. Ons gaan jou slegs vir ondervraging inbring. Jy sal weer teruggeneem word,” sê die man aan sy linkerkant. Hy het ‘n litteken oor sy wang wat hom kwaai laat lyk. Beide mans dra wit hemde by die donker langbroeke. Hulle dasse hang skeef om hulle nekke. Bloedstrepe is oral aan die hemde te sien soos wat hulle oor die krapmerke gevee het.

Wynand sit stil nadat die man aan sy linkerkant, sy regterarm stewig oor sy seningrige lyf hou. Hy kyk venynig na hom en glimlag simpatiek as hy die erge krapmerke in sy gesig sien. Dit moet seer wees, maar die man trek nie ‘n spier om sy pyn te wys nie. Een van die krapmerke is oor die ou litteken.

“Waarheen neem julle my?” vra Wynand as hy sy asem teruggekry het. Die man met die litteken kyk na hom en antwoord: “Jy word na ons hoofbasis geneem. Die ondervraging sou by jou werksplek plaasgevind het, maar die kat het ons planne in die wiele gery.” Die bejaarde man frons en vra weer: “Hoekom wil julle my ondervra? Wie is julle?” Die man aan sy regterkant antwoord bars: “Ons is speurders van die intelligensiediens. Ons gaan jou slegs ‘n paar vrae vra.” Met ‘n dieper frons, vra hy: “Wat wil julle my vra? Hoekom kan julle my nie net vra en klaarkry nie? Hoekom moet ons na die hoofbasis gaan?” Die man skuifel ongemaklik rond en antwoord ongeskik: “Jy vra te veel vrae. Wag tot ons by ons bestemming kom. Daar sal jy ingelig word.” Wynand kyk na die man aan sy regterkant en vra: “Waar is julle bestemming? Hoe lank gaan ons nog so ongemaklik sit?” Hy kan die man se verergerlikheid aanvoel en hoor hoe die man aan sy linkerkant grinnik. Hy blik na hom en kyk dan weer na die man aan sy regterkant. Die man word effens rooi in die gesig en die krapmerke staan nou meer prominent uit. Hy gluur Wynand aan en sê: “Ons is ongeveer ‘n uur van ons bestemming af. Bly stil en formuleer jou antwoorde vir wanneer ons dit benodig.” Wynand voel nie meer so bang nie en sê moedswillig: “Ek weet nie watter tipe antwoorde ek moet formuleer nie, want ek weet nie watter tipe vrae julle my gaan vra nie. Waaroor wil julle my ondervra? As ek dit weet, sal ek weet om my antwoorde vir julle reg te kry.” Die man aan sy linkerkant lag nou hardop. Hy vra die ou man: “Is jy altyd so skerp met jou antwoorde? Jy was net-nou so bang dat ek gedink het jy gaan nie ‘n woord sê nie.” Hy kyk hom aan en sê: “Julle val my aan, ontvoer my en dan wil julle my nie inlig hoekom nie. Hoe weet ek julle is werklik speurders? Julle het by my kantoor ingebars, gevra wat my naam is en my toe gedreig. Ek dink nie werklike speurders is veronderstel om so op te tree nie.” Die man lag weer en antwoord: “Al hoekom ons jou gedreig het, is omrede jy nie jou naam wou gee nie. Ons moet weet dat jy die korrekte persoon is wat ons ‘n paar vrae wou vra. Die kat het ook nie gehelp om ons kans te gee om te verduidelik nie. Is dit jou kat?”

Wyanad kyk na die merke op die man se gesig en glimlag effens. Hy antwoord: “Ja, ek het haar geleer om haarself so te verdedig. Sy is nogal kwaai.” Die man gee ‘n snork en sê: “Die kat hoef nie haarself te verdedig het nie. Ons wil jóú ondervra, nie haar nie.” Die man se stewige greep om die ou man se bors verslap en hy sit gemakliker. Wynand lag sag en sê: “Ek het haar geleer om my te beskerm. Ek is alleen en daarom moes ek iemand kry om my te help. Ek het wel nie ‘n waghond nie, maar ‘n kat is net so goed.” Droogweg sê die man: “Die kat is gevaarliker as ‘n hond.” Die ou man kyk hom onderlangs aan en vra: “Wou julle werklik my kat doodskiet?” Die man kyk hom peinsend aan en antwoord: “Die kat was ‘n gevaar en ons kon nie van haar ontslae raak nie. Ja, ons oogmerk op daardie stadium was om die kat dood te skiet.” Daar is ‘n oomblik stilte en Wynand verwyt: “Julle is wreed! Sy wou my net beskerm het. Julle het glad nie reg opgetree nie. As julle van die begin af nie so aanvallend was nie, sou dit nie gebeur het nie.”

Die mans antwoord hom nie en daar is ‘n somber stilte in die voertuig. Hy sit gemakliker met die gewig van die man se arm wat nie meer teen hom druk nie. Hy het sy arm heeltemal weggevat. Die dreuning van die voertuig is eentonig en hy leun ontspanne agteroor. Hy wonder oor die mans en wat hulle werklik met hom gaan maak. Hy het ‘n goeie aanvoeling om mense te lees en hy voel nie aan dat hulle gespanne is of ‘n onmiddellike bedreiging inhou nie.

Na ‘n ruk, word die voertuig gestop by ‘n sekuriteitshek. Daar is wagte buite die voertuig. Die bestuurder van die voertuig praat met hulle. Wynand kan nie hoor wat daar gepraat word nie. Hy sit gespanne regop. Die twee mans weerskante hom is ook paraat. Die voertuig word deur die hek gestuur na ‘n groot gebou. Daar is verskeie geboue, maar daar is een gebou wat uitstaan bo die res. Dit het ‘n paar verdiepings en lyk na kantore.

Die voertuig word gestop voor die gebou. Daar is ‘n klomp klein trappies wat na die groot dubbeldeure lei. Wynand word versoek om uit te klim. Die mans bly by hom en die bestuurder van die voertuig sluit by hulle aan. Hy kyk streng na die ou man en sê: “Jy is nie ‘n gevangene nie. Ons wil jou net ondervra. Loop saam met ons. Indien jy doen wat ons vra, sal jy nie seerkry nie en weer terug na jou plek geneem word.” Sy stem is diep en dit dra gesag. Wynand kyk hom aan en loop dan saam tussen die ander twee mans. Hy volg hulle. Al drie mans se paraatheid kan aangevoel word en ‘n onheilsgevoel lê swaar in die bejaarde bors.

Hulle loop deur die deure en betree ‘n groot vertrek. Daar is baie beweging van mense. Daar is soldate en mans en vroue wat baie formeel aangetrek is. Die atmosfeer wat weerspieël word, is koud en klinies. Wynand word deur ‘n gang na ‘n spesifieke vertrek geneem. Daar is ‘n tafel en drie stoele in die vertrek. Die een kant van die muur bestaan uit ‘n groot spieël en die ou man weet dat dit ‘n eensydige venster is, waardeur daar in die vertrek gekyk word. Hy voel hoe die spanning in hom opbou. Hy weet nie wat hy gedoen het nie, maar voel dat hy in groot moeilikheid is.

Hy word gevra om op die een stoel, wat aan die agterkant van die tafel geplaas is, te sit. Hy gaan sit gespanne en word alleen gelaat. ‘n Koue en kil atmosfeer is voelbaar. Hy weet dat hy dopgehou word en kyk na sy verkreukelde hande wat op sy skoot saamgevou is. Hy voel soos ‘n veroordeelde en sy gedagtes jaag deur hom om te dink wat hy gedoen het om die intelligensiediens op sy spoor te bring. In sy twee en sewentig jaar het hy nog nooit met die gereg gebots nie.

Die man word twee ure alleen in die vertrek gelos. Hy dwing homself om stil te sit, soos wat hy van die begin af gedoen het. Hy het homself voorgeneem om geen verdagte beweging te maak, wat hom in onguns by die mense kan bring nie. Hy is bang en sy gedagtes maak hom wys dat hy in die tronk gegooi gaan word saam met geharde misdadigers.

Skielik gaan die deur oop en ‘n man en vrou kom in. Wynand kyk gespanne na hulle. Beide is jonk en gaan sit op die stoele aan die oorkant van die tafel. Die vrou is lank en lenig. Haar lang donker hare hang losserig oor haar skouers. Sy glimlag vir die bejaarde man en sê: “My naam is Marié en my kollega se naam is Johan. Die manne wat jou ingebring het, het ons van hulle ondervinding met jou kat vertel en hulle wonde word versorg. Ek en Johan sal verder met jou gesels. Om te bevestig dat jy werklik die persoon is met wie ons wil praat, versoek ons jou om jou volledige name en van te bevestig.” Die vrou kyk hom vraend aan en Wynand besef dat hy die jong vrou ‘n antwoord moet gee. Hy sit regop en gee sy volle name en van. Die vrou glimlag nog steeds vir hom.

“Vir sekuriteitsdoeleindes, gaan ons jou ‘n paar persoonlike vrae vra en dan sal ons die formele ondervraging begin. Jy hoef nie vir ons bang te wees nie. Alle inligting wat jy gee, word vertroulik hanteer. Dit wat ons in hierdie vertrek bespreek, bly net hierso,” lig die vrou hom in. Wynand kyk haar skepties aan en vra: “Wat van die ander mense wat aan die anderkant van die venster vir ons kyk? Gaan hulle ons gesprek ook as konfidensieel beskou?” Die vrou kyk hom verras aan en antwoord: “Alles wat ons bespreek is vertroulik. Ek vertrou my kollegas. Wat is jou residensiële adres en hoe lank bly jy al daar?”

Wynand antwoord die vraag en dan word daar verskeie ander persoonlike vrae gevra. Die man bevestig dat hy in sy sewentiger jare is en alleen woon. Hy was nooit getroud nie en het sy lewe toegewy aan sy navorsing in weerkunde. Hy het ‘n buitengewone aanvoeling vir weerpatrone. Om natuurverskynsels te bestudeer is sy passie.

Daar word ‘n paar vrae oor sy kat gevra. ‘n Effense glimlag verskyn op beide die man en vrou se gesigte as hulle oor die kat navraag doen. Wynand ontspan effens met die vrae wat gevra word. Hy kry nie die gevoel dat hulle hom wil vasvra nie en leun effens terug op die harde stoel.

Marié het sover al die vrae gevra. Die laaste vraag wat sy vra, laat die ou man effens frons. “Jy werk vir jouself en dan help jy die weerburo om statistieke te versamel ten opsigte van weerpatrone. Het jy die afgelope paar maande met die bestudering van die weer, iets buitengewoon waargeneem?” Die vraag is vreemd en Wynand vra ‘n teenvraag: “Wat bedoel jy?” Johan antwoord en die ou man skrik effens vir die growwe mansstem. “Was die wolkmassas wat jy die afgelope tyd bestudeer het, vir jou vreemd of normaal?” Verbaas antwoord die bejaarde man: “Hoekom sal dit vreemd wees? Wolkformasies verander omtrent elke oomblik. Daar is nie ‘n normale of vreemde formasie nie. Ek verstaan nie werklik wat julle bedoel nie.”

Dit is weer die man wat aan die woord is: “Ons besef dat wolkformasies vinnig verander. Maar was daar enige iets wat vir jou vreemd voorgekom het met die bestudering van die weer die afgelope paar maande? Buiten die wolkformasies, was daar dalk enige iets anders wat jy waargeneem het?” Wynand frons hewig en antwoord: “Nee. Móés ek iets vreemds gesien het?” Die man glimlag effens en sê: “Nee, seker nie. Jy het egter ‘n maand terug ‘n vreemde kantaantekening saam met jou statistieke deurgegee aan die weerburo. Kan jy dit verduidelik?”

Wynand weet dadelik waarna hy verwys. Hy voel onrustig daaroor en is ontwykend. Hy weet nie of hy die mense voor hom kan vertrou nie. Hy kyk die jong man fronsend aan en sê bot: “Ek gee baie maal addisionele kommentaar by die statistieke. ‘n Maand terug is lank en daar gebeur baie dinge in ‘n maand se tyd. Wat was die aantekening wat ek gemaak het?” Die man sit regop en kyk Wynand stip aan. Hy lyk nie meer vriendelik nie en vra: “Wíl jy dalk nie meer onthou nie?” Die ou man kyk hom stip aan en vra: “Wat bedoel jy?” Dadelik antwoord Johan: “Dalk wíl jy nie onthou wat die aantekening was wat jy gemaak het nie. Dit het nogal wenkbroue gelig. Die weerburo het dit na ons verwys. Vertel ons wat jy van die verskynsel weet.” Wynand kyk hom aan en sê harder as gewoonlik: “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Vertel my wat die aantekening was en dan kan ek dit vir julle verduidelik.” Die man staan op en leun na die ou man met sy hande op die tafel. Hy kyk Wynand stip aan en sê: “Hoe is dit moontlik dat jy dit nie kan onthou nie? Die weerburo het die aantekening baie vreemd gevind. Hulle het bevestig dat hulle jou persoonlik gekontak het, om duidelikheid te verkry oor die nota. Kan jy dít ook nie onthou nie?” Die man is aanvallend en Wynand kyk hom met waterige oë aan. As die jong man weer op die stoel sit, antwoord hy hees: “Daar is verskillende persone by die weerburo wat my gereeld kontak. Ek moet gereeld my verslae verduidelik. Ek kan nie onthou van iets wat vreemds was, wat ek gerapporteer het nie. Die verduidelikings wat ek gedurig moet gee, is as gevolg daarvan dat my statistieke vir klerke gegee word, wat nog nie die vakgebied heeltemal verstaan nie. Ek probeer dit so eenvoudig as moontlik deurgee, maar daar is tog tye wanneer ek terminologie gebruik wat ‘n junior klerk nie verstaan nie.”

Die man spring verergd op. Die stoel val van die momentum agteroor en hard sê hy: “Moenie met my woordspeletjies speel nie! Ek praat nie oor terminologie nie en jy weet dit goed! Wat het die kantaantekening beteken toe jy die vreemde wolkformasie op 15 Maart hierdie jaar deurgestuur het?” Wynand kyk hom verskrik aan en is doodstil. Dit is asof sy verstand stilstaan. Hy is bang vir die man wat lyk of hy hom enige oomblik kan aanrand. Hy wag vir ‘n antwoord en Wynand se stilswye maak hom woedend. “Praat met my! Moenie jou nou verontskuldig en maak of jy nie weet waarvan ek praat nie! Wat het die drie sterre beteken wat jy as kantopmerking gebruik het?” Johan se stem is hard en Wynand kyk hom bang aan. Hy sê nog steeds niks nie en die man maak ‘n dreigende gebaar oor die tafel na hom toe.

Marié plaas haar hand op die jong man se arm en gee hom ‘n waarskuwende kyk. Sy draai na die bleek ou man en sê ferm: “Jy het drie vreemde sterre as kantaantekeninge gemaak op die data en foto’s wat jy 15 Maart na die weerburo gestuur het. Wat het die drie sterre beteken?” Wynand se verstand staan stil en weet dat hy nie die verskynsel kan verduidelik nie. Hy vertrou die mense voor hom glad nie. Hy lek oor sy droë lippe en sê skor: “Ek weet nie. Ek krap baie maal langs die kante, veral as ek in gedagte is.” Die speurder loop na die deur en sê sarkasties: “As jy dan nou nie so lank terug kan onthou nie, sal ek jou geheue verfris. Dink solank wat jy volgende as verskoning gaan gebruik.”

Johan verlaat die vertrek en aan sy lyftaal is dit duidelik dat hy nie ingenome met Wynand se antwoorde is nie. Marié kyk die man stip aan en sy lyk ook nie tevrede met Wynand nie. Daar word nie gepraat nie en die spanning kan met ‘n mes gesny word. Wynand onthou die insident goed en wil nie daaroor praat nie. Hyself het die vreemde verskynsel nie verstaan nie en wil glad nie met iemand daaroor praat nie. Die onrus in sy binneste verdiep.

Die deur word oopgemaak en Johan kom die vertrek met ‘n bruin lêer in sy hand binne. Hy gooi die lêer op die tafel neer en gaan sit. Hy vou die bruin omslae oop en haal ‘n papier uit. Hy gooi dit na Wynand en vra hard: “Is hierdie jou verslag wat jy aan die weerburo gestuur het?” Met ‘n bewerige hand tel die ou man die wit papier op en herken die verslag. Hy kyk na die datum en spoedlees deur die verslag. Hy weet wat die inhoud van die verslag is en plaas die papier terug op die tafel. Met ‘n skor stem sê hy: “Ek onthou die verslag. Die wolkformasies was besonders gevorm en het my laat dink aan sespuntige sterre of heksagramme wat ek gewoonlik op skool geteken het. Dit word geteken met twee teenoorgestelde driehoeke. Het julle die foto’s ook hier? Dan wys ek julle hoe my verbeelding met my parte gespeel het. Vir ‘n oomblik het ek my verbeel dat ek ‘n vreemde vlieënde voorwerp gesien het.” Wynand gee ‘n senuweeagtige laggie en met ‘n skugter glimlag sê hy: “Ek het altyd gedroom dat ek eendag vlieënde pierings gaan sien. Ek onthou dat ek daardie dag nogal geskrik het, maar daarna besef het dat dit wensdenkery was. Ek het die wolkformasies noukeurig nagegaan en kon niks snaaks sien nie. Ek het ‘n tweede stel foto’s van die sateliete aangevra. Dit het bevestig dat daar niks was nie. Die wind het die wolke vir ‘n oomblik so geskakeer dat my verbeelding met my weggehardloop het.”

Johan krap verder in die lêer en haal satelietfoto’s uit die lêer. Hy skuif dit oor die tafel na Wynand. Niemand praat nie. Die bejaarde man kyk na beide stelle foto’s en sy verstand werk oortyd om ‘n aanvaarbare verduideliking te kan gee. Na ‘n rukkie leun hy oor die tafel na die twee mense oorkant hom. Hy wys na die foto’s en wys op die een stel foto’s die wolke wat op die een kant van die wolkerand drie duidelike heksagramformasies wys. “Hierdie was eers vir my vreemd en baie mooi. Ek het seshoekige sterre daaroor met ‘n potlood getrek. As julle die oorspronklike foto teen die lig draai, gaan julle kan sien hoe die potloodlyne op die fotopapier deurgedruk het. Ek het dit later uitgevee toe ek besef het dat dit my verbeelding was. Ek het die heksagramme aan die kant geteken om te sien of ek nog kan onthou hoe om dit te teken. Ek het vergeet om dit uit te vee.” Hy is vies vir homself dat hy dit nie uitgevee het nie.

“Hoekom dink jy, het jou verbeelding met jou weggehardloop?” vra Marié. Sy klink nie meer so aggresief nie. Wynand glimlag skugter en antwoord: “Daar is nie sulke goed soos vlieënde pierings nie. Ek was sommer laf om te dink dat ek ‘n vreemde vlieënde voorwerp gesien het. Met die tweede stel satelietfoto’s sal julle sien dat daar niks agter die wolkeprentjies was nie. Hier kan julle duidelik sien hoe die driehoekige punte verwring is deur die lugstrome. Die twee stelle foto’s is binne ‘n kwessie van sekondes uitmekaar geneem. Lugstrome kan wolkmassas party maal baie mooi en eienaardig vorm. Die lugdruk speel natuurlik ook ‘n groot rol.”

“Kan jy onthou dat die weerburo jou gekontak het oor die kantaantekening?” vra Johan agterdogtig. Wynand lag senuweeagtig en antwoord: “Ja, ek onthou nou. Dit was Stoffel wat my gebel het. Hy is altyd baie ernstig en het gevra of die drie sterre iets beteken. Ek het vir hom verduidelik en hy het my nog geroskam oor my onnodige tekeninge.” Wynand se hart bons oor sy gefeinsde verduidelikings en tower ‘n verbaasdheid op. Verbaas en fronsend vra hy: “Dink julle regtig dat ek die verslag so sou ingestuur het, as ek werklik gedink het dat daar ‘n vlieënde piering was? Julle kan tog duidelik sien dat dit wolke is wat so gevorm is. Ek kan niks sien wat agter die wolke weggesteek is nie. Ek is ‘n wetenskaplike. Daar is nie sulke goed soos vlieënde pierings nie. Kan júlle iets vreemds in die wolke sien?”

Beide die mense voor hom, skud hulle koppe. Daar is ‘n oomblik stilte in die vertrek en dan antwoord Johan: “Ek glo darem nie so nie. Jammer dat ons jou tyd so gemors het. Ons moet alle vreemde en skynbaar vreemde verskynsels ondersoek en het jou tekeninge vreemd gevind. Ons glo jou verduideliking en vra weereens onverskoning vir die onnodige ondervraging. Ons sal ons verslag so deurstuur na die weerburo. Dankie vir jou hulp en tyd.” Hy staan op en bêre die dokumente in die lêer. Hy neem die lêer en Marié staan ook op. Sy glimlag vir Wynand en sê: “Ons sal reël dat jy teruggeneem word na jou kantoor. Dankie vir jou tyd.” Sy staan aan die kant van die tafel en wag dat die ou man by haar aansluit. Wynand is verbaas en verlig oor die skielike verandering in hulle houdings. Hulle is beide baie vriendelik en lei hom uit die vertrek.

In die groot ingangsportaal word hy ingewag deur die speurder met die litteken. Dit is duidelik dat die krapwonde behandel is. Hy glimlag vir Wynand en sê: “Ek sal jou terugneem. Was die ondervraging baie erg?” Met ‘n glimlag erken die bejaarde man: “Op ‘n stadium het ek gedink dat julle my gaan opsluit. Gelukkig het ek niks verkeerds gedoen nie. Ek het net vergeet om prentjies uit te vee.” Die man sê verder niks nie en lei hom uit die gebou. Hy neem hom na ‘n ander klein motortjie. Die vensters is ook getint en hy word toegelaat om langs die bestuurder te sit. Die spreurder beheer die klein motortjie behendig. Daar word nie gepraat nie en die atmosfeer is ietwat ongemaklik. Wynand weet nie hoe om ‘n gesprek aan te knoop nie en leun terug. Hy voel moeg na die spanning en dink terug aan die vreemde verskynsel wat hy ongeveer ‘n maand terug waargeneem het. Hy is kwaad vir homself dat hy die kantaantekening gemaak het. Persoonlik vermoed hy dat dit buiteruimtelik kan wees. Omrede hy nie op sy ouderdom lus is om sy rustige bestaan te ontwrig nie, het hy dit nie gerapporteer nie. Hy weet dat hy nie reg opgetree het nie, maar weet ook hoe sy hele lewe in ‘n warboel kan verander. Later raak hy onrustig aan die slaap.

Die man maak hom wakker as hulle by sy kantoor op die verlate hoewe stop. As Wynand uitklim, gly die bande oor die klippies soos wat die voertuig vinnig wegtrek.Verdwaas gaan hy die kantoortjie binne. Dit is duidelik dat die vertrek deursoek is. Sy papiere op die tafel is deurmekaar en die laaie staan effens oop. Die kabinet se deur staan ook oop. Hy gaan sy besittings en dokumente vlugtig na en kan nie agterkom dat iets vermis word nie.

Wynand dwaal doelloos en onrustig op die hoewe rond. Hy bly alleen op die hoewe en die woonstelletjie waarin hy bly, is aan die teenoorgestelde kant van die stuk grond opgerig. Hy besluit om die kantoortjie te sluit en loop stadig deur die veld na sy blyplek. Daar bly ‘n onheilsgevoel in hom woel. Met blydskap sien hy Katjé wat op die trappie vir hom lê en wag. As die asvaal kat hom sien, spring sy op en hardloop na Wynand. Die man hou sy arms wyd oop en die kat spring in sy arms. Kameraadskap en liefde kan duidelik tussen mens en dier aangevoel word.

Wynand loop met die kat in sy arms, na die voordeur. Skielik verstyf die kat in sy arms. Dit blaas en grom onheilspellend. Wynand is verbaas oor die kat se houding en besef dat daar iets fout is. Katjé spring uit sy arms en vlug verskrik die ruigtes in. Wynand draai bang om en sien twee vreemde mans na hom aangestap kom. Hy verbleek.

Agter die twee mans sien hy ‘n vreemde seshoekige sterstallasie wat soos ‘n tipe van ‘n tuig lyk. Sy oë dwaal na die twee mans. Hulle gesigte lyk soos mensegesigte, maar daar is tog iets anders aan hulle. Hy staan verlam as die mans ‘n tree van hom af gaan staan. In ‘n skril stem sê een van die mans: “Jy het ons geïdentifiseer en daarom moet jy saam met ons kom. Jy sal nooit weer die Aarde en sy bewoners sien nie.”

Skielik spring Katjé tussen Wynand en die mans in. Die kat bespring die een man se gesig en diep krapmerke word oor sy gesig getrek. ‘n Pers vloeistof drup taai uit die wonde. Die vreemde man gryp die kat en gooi haar op die grond neer. Dadelik is daar ‘n onbekende wapen in sy hande en die kat word geëliminieer. “Nee!” gil Wynand sy smart en skok uit. Hy word dadelik deur die mans aan die bo-arms gegryp en na die seshoekige stervaartuig geneem. Hy worstel sterk teen die mans. Hy word ‘n harde hou agter die kop gegee. ‘n Duisternis wil oor hom toevou, terwyl hy in die vreemde vaartuig opgeneem word. Net voordat hy bewusteloos raak, sien hy die seshoekige stertekens op die mans se uniforms.

Deur die swart vlaag besef hy dat daar wel vreemde vlieënde voorwerpe is!