Wolf, wolf, hoe laat is dit?

Vanessa Jacobs

wolf, wolf hoe laat is dit?  – 2018 © Vanessa Jacobs

Fantasie

 Dis eers as sy die kombikraal met sy aktiwiteite voor haar aanskou, dat die werklikheid haar tref soos ‘n agt-pond hammer teen die slaap.

Waarmee is jy besig?

Die vraag bereik nie eers haar bewussyn nie. Sy staar nikssiende voor haar uit.

Oudergewoonte kruip Iza Meyer weg in die verlede, want sodra die toekoms se liggies verdoof, loop soek sy gewoonlik met ‘n flitslig deur die argiewe van haar bestaan. ‘n Ou speletjie wat gewoonlik niks goeds oplewer nie. Die dag is té warm en die wind lê doodgebrand agter die berg. Die reuk van benoude kos op die glimp van verrotting, draai plek-plek voor haar neus. Haar buik speel tafeltennis met ‘n naarkol, wat dreig om enige oomblik te bars en haar binnekant te versuur. Sy draai die motor se ruit af, pogend om te ontsnap van haar morbiede gedagtes. Om haar wemel ‘n skare mense, bedrywig, doelgerig. Sommiges doen besigheid, jy sien ‘n vinnige noot wat hande wissel. Op die agtergrond sit ‘n ma wat borsvoed, suigling teen haar boesem. Elke nou en dan kom ‘n ouer vrou verby met ‘n perfek gebalanseerde wateremmer op haar kop.

Dis hulle loopwêreld hierdie…

Die dringende geloei van ‘n ambulans sirene vul haar stilte, as sy begin rondkyk. Sy sien niks. Tog kom dit nader. Haar gedagtes waai weg, as flitse van die laaste twaalf maande deur haar kop skiet soos ‘n ou projeksietoestel in die laat vyftiger jare. Beelde van ‘n mislukte huwelik; finansiële probleme en ‘n paar donkerblou oë by die werk. Die naarkol bereik nuwe hoogtes. Op die punt van verwarring, hoor sy haar ouma se stem.

My kind, die lewe loop baie draaie met ‘n mens, mors soms lelik met ‘n mens, maar diep binne in elke mens is daar krag. Krag in die vorm van ‘n emmertjie en ‘n wil in die vorm van ‘n grafie. Jy moet net die wil hê om die grafie te neem en te grawe vir krag.’

Sy verplaas haar kykers verby die warboel, naarstiglik opsoek na die rooi deur.

Is hierdie jou wil of jou krag Iza?

Vir maande lank sien sy die aanplakbiljet teen die lamppale, sommer so vroegdag oppad

werk toe.

Geldprobleme

Liefdesprobleme

Opsoek na ‘n ou geliefde

Ereksie disfunksieprobleme

Wetende dit handel oor toordokters of sangomas en dat meeste van haar vriende hulle wenkbroue sal lig, kan dit haar geen sier skeel nie. Sy is desperaat en haar analitiese brein soek antwoorde. Buitendien, haar geldsake lyk soos die van ‘n bankrot tweedehandse verkoopshandelaar en sal ‘n duisend rand per uur by ‘n psigiater, haar finaal knak. Sy draai moeisaam die venster toe. Tastend in haar handsak vir die botteltjie gassproei, wat sy sonder moeite sal gebruik, sou iemand haar rede gee. Haar bene voel lam. Haar asemhaling vlak. Sy sluit die motordeur en beweeg vinnig deur die warboel, onsigbaar na die agterkant van die verwaarloosde gebou met sy afgedopte verf en stukkende vensters. Voor die rooi deur aarsel sy vir ‘n oogwink. Ondernemend om orde te skep in haar basaar-brein. Sy klop vinnig, nie wetende of sy banger is om buite te staan of om in te gaan nie.

“Kom binne.”

Die deur swaai maklik oop. Iza staan verbaas, in sig van ‘n ander wêreld wat voor haar ontsluit. Twee duursame banke met bypassende stoele, alles in die kleurskema van wit en glas. Spierwit wolhaarmatte, kussings in verskillende teksture en ‘n magdom lampe, toegegooi met chiffon lappies. In die hoek van die vertrek staan ‘n swart vleuelklavier, amper die enigste rede hoekom mens nie deur die muur sal probeer loop nie. Die skerp reuk van medisyne en chemikalieë hang swaar in die lug. Agter die oase in ‘n woestyn, staan ‘n moderne glas lessenaar met twee deurskynende gemakstoele. Dan sien sy vir Madame Rose, maerder en jonger as wat sy haar voorgestel het.

“Kom sit.”

Iza wonder of sy nie maar die hasepad moet kies nie. Weliswaar niks wat hierdie vrou kan sê of doen, gaan haar lewe verbeter nie. Tog loop sy stadig nader. Weifelagtig. As sy plaasneem op die gemakstoel, beweeg Madame Rose om die tafel en gaan sit in die stoel langs haar. Woordeloos neem sy haar regterhand, kantel haar kop effens tru en sluit haar kykers.

Haar stem klink hees, soos iemand wat al teveel ‘n skoorsteen van sy mond gemaak het.

“Jy’t slegte kinderjare gehad… ek voel baie negatiewe emosies.”

Iza kry nie ‘n woord om te vorm in haar mond nie, bittertrane loop rye spore teen haar wange af. Dan sonder waarskuwing, laat gaan Madame Rose haar hand. Sy staan op en prewel saggies.

“Kom saam met my.”

Sy marsjeer soos ‘n marionetpop, voelende asof iemand anders haar toutjies trek. Bevind haarself in ‘n agterkamer met ‘n bed, einste glas lessenaar en bedkassie. Die beddegoed is leliewit en by die voetenent ‘n gehekelde deken, kompleet soos in haar ouma se kamer. Iewers in die agtergrond speel ‘n bekende volkspele liedjie. Sy spits haar ore.

Erken die klanke van ‘Bobbejaan klim die berg.’ Vir ‘n oomblik weet sy nie of sy moet huil of lag nie. ‘n Rare ervaring dat haar werklikheid dalk vreemder as ‘n storie mag wees. Op instruksies van Madame Rose, trek sy haar skoene uit en gaan lê op die bed. Haar asemhaling weer in kort-poses, as vrees vir die onbekende haar toepak.

“Iza, hoeveel weeg jy?”

Haar stem is heeltemal te hoog.

“So vier-en-vyftig kilogram.”

“Mmm, ek sal maar ‘n ekstra druppel ingooi… jy lyk meer nege-en-vyftig vir my.”

‘n Spot glimlag verskyn op Madame Rose se lippe. Iza draai haar kop om te sien waarmee die vrou besig is. Sy bemerk ‘n botteltjie, die grote van oogdruppels in haar hand. Kan skaars die beskrywing op die etiket uitmaak as sy lees;

Twa-Twa druppels.

Soek die grafie suster, jy moet spit…delf…grawe.

Tog is daar is iets wat haar terughou, ‘n gesindheid dat die lewe daar buite wreder mag wees as die een hier binne. Haar gedagtes nou so deurmekaar soos die van ‘n Saterdagoggend vendusie, algehele wanorde en ‘n benoudheid om te roer, want as jy jou kuif uit jou gesig vee word die bod op jou toegeslaan. Gedane sake. Sy is die nuwe eienaar van ‘Twa-Twa druppels.’ Die bietjie vloeistof loop soos alwynsap in haar keel af. Dan word dit donker.

As sy wakker word is haar brein helder, op volle gereedheid. Sy bevind haarself in ‘n klein spasie. Nagdonker. Dit neem haar oë ‘n paar minute om te verstel. Dan sien sy die nommer-een sandale langs haar. Haar rooi en wit gunsteling stapskoene. Sy is in haar kinderkas, dieselfde kas waarin sy weggekruip het vir haar stiefma. Haar hand vryf outomaties oor haar wang. Voelende die opgehewe swelsel waar ‘n plakkie haar getref het. Net soos toe, ervaar sy enerse emosies van woede, haat en dan kom die trane.

“Troos haar.”

Iza wip soos sy skrik. Sy draai haar kop in die rigting van die stem, terwyl sy haar oë verder die donker kas intuur. ‘n Entjie van haar bemerk sy twee geel oë. Yswekkend, maar met die stem van haar ouma.

“Troos haar engel.”

Sy vleg gedwee beide haar arms oor haar bors, druk haar skouers vir lewe en dood. Ongevraagde trane, nogsteeds lopend teen haar neuslyn af. Die reuk van die plaas omsingel haar. ‘n Onderskeie aroma van kerrie-afval op die koolstoof en die geur van boerseep, wat iewers buite staan en prut. In haar geestesoog sien sy haar ouma besig met verskeie takies, terwyl haar swart en grys bolla op en af wip teen haar agterkop. Sy weet nie hoe lank sy so gesit het nie, maar dan hoor sy weer die stem.

“Kom…”

Iza kruip hande viervoete die donker in. Willens en wetens ‘n kas het vier mure en sy gaan iewers haarself vasloop, gaan die beweging voort. Hoe verder sy kruip hoe verder verloor sy die reuk van die plaas. Skielik kan sy regop staan. Verward en onseker begin sy rondkyk.

“Vat my hand.”

Sy voel die warm poot van ‘n hond in die palm van haar hand. Gryp vas op die presiesse oomblik wat lig die duisternis verdring. Haar oë te sensitief vir die helder lig, sy moet hulle ‘n paar keer wink om te fokus. Deur die flikkers van die son trek sy die buitelyne van die dier wat voor haar staan. Groter as wat sy hulle voorgestel het en met ‘n ligte pienk pels, staan ‘n wolf lewensgroot voor haar. Sy loop soos ‘n mens op haar agterpote en gebruik haar voorpote vir arms. By nou is daar nie meer veel wat haar kan skok nie.

Die konnotasie met haar ouma is gemaak. Dieselfde houding, pienk kleur van haar nagrok, grysblou oë en ‘n sagtheid in haar stem wat jou veilig laat voel. Sy onthou die aande wat ouma vir haar en haar suster Brolloks en Bittergal stories gelees het. Haar ou melkkanne het ‘n wedloop vir die knieë gehad, maar dit was hemels om hulle vir ‘n kussing te gebruik, so terwyl ouma beide kinders onder haar vlerke neem.

“Wat kan ek jou noem?” Iza se stem, ‘n skamele fluistering.

“Wat wil jy my noem Iza?”

Sonder om te dink kom die antwoord.

“Ouma?”

“Dis reg so my kind.”

Sy kyk opeens om haar rond. Staar haarself vas teen ‘n oopte met lowergroen gras, wat haar aan ‘n Ierse landskap herinner. So ver soos die oog kan sien is dit heuwel op koppie, toegedraai in ‘n groen tapyt. Aan haar regterkant is ‘n populierbos met reuse bome wat strek oor die horison. Ook die rigting waarin wolf begin stap. Voor die ingang van die bos bemerk sy twee krappe, dieselfde hoogte as ‘n mens, besig om by ‘n tafel te sit en kaarte speel. Agter die dobbelaars dans drie vroulike krappe op die maat van kroegmusiek, iets tussen ‘n glas wat breek en hedendaagse ruk-en-pluk toonkuns.

“Kom Iza, moenie tyd hier mors nie.”

As sy omdraai, eien sy dieselfde blou oë in die krap naaste aan die ingang. Sy kan nie help om te staar nie. Met die intrapslag binne die populierbos, verander haar gemoed na totale verwondering. Sy voel soos ‘n kind in ‘n grootmens lyf. So wyd soos die oog kan aanskou, openbaar ‘n sprokieswêreld wat geen mens of fabelkarakter nog beleef het nie.

Waar die bokant van die bome ‘n koepel vorm, lyk dit soos reëndruppels of kristalle wat hang uit die lug. Die son se strale verander plek-plek die kleur van die edelgesteentes wat rond dans in die lug.

Waar op godsaarde is ek?

Voor haar lê ‘n padjie waarvan die rante omsoom is met spookasem blommetjies, vlieënde feetjies en ‘n smal stroompie met lopende heuning. ‘n Ent verder, aan haar linkersy, ‘n groentetuin uitgelê in die vorm van ‘n blokkiesraai. Twee springbokke sit aan weerskante van die pragstuk, elkeen op ‘n stoel waarvan ‘n gaatjie gemaak is vir hulle sterte om deur te hang. Beide hard aan die debatteer oor die volgende woord wat ingeskryf moet word.

‘My pa…’

Haar hart bokspring soos die van ‘n uitgelate kind. Instinkmatig besef sy dat hierdie sy liefde vir springbok rugby, ‘n groentetuin en blokkies invul voorstel. Sy wil met alle geweld langs hulle gaan sit, maar wolf, wat al vir ‘n geruime tyd geduldig wag, wink haar nader. Die padjie kronkel dieper en verder die bos in. Op ‘n stadium word die lig swakker en rye vuurvliegies, die grootte van ‘n volwasse kat, vorm langs die wandelbaan.

“Hoppa, hoppa…”

Skree hulle in gelid, ‘n teken vir die agterste twee om kop in die sand te steek, sodat die liggies op hul sitvlakke helderder kan skyn.

“Hoppa, hoppa…”

Dan weer die volgende twee. Iza vind dit bitter snaaks. Sy kan nie help om te giggel nie. Meteens kom wolf tot ‘n stilstand langs haar.

“Sien jy die koppie waar die wolwe vergader?” Sy wys met haar klou in die rigting van ‘n klomp alfa wolfmannetjies wat sit en gesels.

Iza knik haar kop.

“Wat sien jy?”

Sy skets die ooglopende, lyk effens verveeld as sy langs wolf gaan sit op ‘n leë skilpaddop.

“Jy sien Iza, ons is ‘n gemeenskap, ‘n familie wat saamstaan en besluite neem wat almal se belange op die hart dra.”

Wolf draai haar lyf sodat sy vir Iza in die oë kan kyk.

“Dit gaan nie oor geld nie my kind…eenvoud…kos en beskerming.”

Daar volg ‘n stilte en dan gaan wolf voort.

“Sien jy duur karre? Sien jy iemand wat meer wil praat of slimmer wil klink as die res?”

Iza besef dat die lessie iets met haar lewe te doen het. Haar konstante soeke na meer en beter, plus daai leemte in haar persoonlikheid wanneer sy mense wil beïndruk wat eintlik nie ‘n donner omgee nie.

“Nee, ek sien eenvoud…”

Wolf beweeg verder die woud in. Die spasies tussen die bome word wyer en die ooptes groter. Na ‘n paar minute staan hulle voor die ingang van ‘n dorpie. Al die huisies lyk byna eenders, behalwe vir ‘n mooier tuintjie hier en ‘n verwelkomingsbordjie daar. Wolf stap tot voor die venster van ‘n woning, voor sy tot stilstand kom. Aan die binnekant sit ‘n ouerige wolfmannetjie en boek lees. Dis skemer buite en die kaggelvuur aan die binnekant lok verleidelik.

“Wie’s dit Ouma?”

“Roelf, die dominee…”

Iza draai haar kop tru na die venster, onseker oor hoekom wolf haar na ‘n preker se huis gebring het. Wolf gaan voort.

“Hy het ‘n paar jaar gelede sy ouer broer vermoor, in die hoop om die nuwe alfa wolf te word.”

Iza staan verbaas met die opvatting van ‘n moordenaar as dominee, maar wolf lees haar gedagtes.

“As jy ‘n hond wil slaan my kind, kry mens gewoonlik maklik ‘n stok.”

Iza weet sy is die tipe mens wat maklik oordeel uitspreek oor ander, tog verstaan sy nie heeltemal hoekom die kollig op haar val nie. Wolf trek haar nader aan haar pels vir hitte, maar ook vir ‘n les op vergifnis. Haar vertelling handel oor keuses in die lewe en hoe mense wrokke opbou, wat hulle op meer as een plek in die toekoms kan kniehalter. Die storie maak soms wye draaie en dan sluit sy af.

“Jy sien my kind, wat is ‘n groter straf as om Sondag na Sondag oor broederliefde te preek?”

Deur die ruit van die tweede huisie, staan ‘n oorgewig wyfie en kosmaak. Wolf lyk effens meewarig terwyl sy die verhaal vertel van haar buurvrou, wat albei haar welpies verloor het en in ‘n diepe depressie verval het. Hoe die gemeenskap haar weer probeer opbou het, al het dit jare geneem. Eers het hulle haar die vroedvrou van die dorp gemaak, later se tyd het sy kleuterskool juffrou geword, sommer ‘n hele twaalf welpies geërf.

“Jy sien Iza, mens het ‘n verantwoordelikheid teenoor jou gemeenskap…altýd… dis die enigste manier om ware geluk te ervaar.”

Die derde huis bring ‘n skok oor Iza se raamwerk. Sy herken haar summier. Die rooi naels, die reuk van goedkoop parfuum en haar vermoeë om jou aan te gluur met absoluut geen emosie.

My stiefma…

Sy wil agteruit beweeg, maar wolf staan haar toe soos ‘n rotsbank.

“Ouma nee…”

Sy wil skreeu, maar dit voel of sy ‘n obstruksie in haar keel het. Alvorens wolf haar weer kan omarm, vlieg Iza op in die lug met die vlerke van ‘n arend. Wolf se laaste woorde eggo deur die klankbane van haar gehoor en hits net verder die storm in haar gemoed aan.

‘n Storm wat sy vir eers moet onderdruk as dit broekskeur gaan met die vlieglesse. Twee vlerkklappe op en vier ondertoe. Verloor kort-kort haar balans as dit voel of sy eenkant toe tuimel. As sy eers ritme vang, deurklief sy die lug. Hoër en verder weg van alles en almal wat haar in ‘n blik wil druk. Repeteer Wolf se woorde met emmersvol sarkasme.

Sy’t in ‘n weeshuis grootgeword…seker ook nie geweet van beter nie.

Iza weet haar ouma bedoel dit goed, tog klink dit vir haar soos ‘n goeie, sout van die aarde ma wat wil verskonings aanteken namens haar sadistiese kind. Versengende haat en wrewel kook op in haar soos alwynsap, as’t ware ‘n ou bitterbek maatjie wat huurloos bly in een van jou hartkamers. Sy loer af, die bosse onder haar word kleiner en die vryheid van asem groter. Haar liggaam, die van ‘n veertjie en haar gedagtes afgeskakel.

Hoe verder sy vlieg, hoe meer verloor sy die bitterheid in haar.

Dan hoor sy weer haar eie gedagtes.

Hoe lank gaan jy nog weghardloop van die waarheid?

Sy probeer vinniger vlieg, hoër.

Wanneer gaan sy grootword Iza?

As die moegheid uiteindelik intree, sak sy stadig tot haar gepluimde pootjies die dak van ‘n huis onder haar voel. Sweetdruppels van inspanning en moegheid rol oor haar geveerde gesiggie. Haar oë val toe. Liggaamlik probeer sy ontspan, maar haar brein hardloop ‘n langafstandwedloop. Sy sien vir Marius, haar man van die laaste vier jaar voor haar staan. Diepe emosies ontwaak in haar.

Nog nooit in my nege-en-twintig jaar op aarde het ‘n mens soveel geduld met my gehad

nie…ek moet teruggaan.

Vir ‘n oomblik sit sy doodstil. Dis nagdonker om haar. Sy wonder oor die wraak en haat pakkie wat al so lank saam met haar is. Wat gaan die kol in haar maag vul as sy dit laat gaan? Vir wie gaan sy blameer vir al die gebreke in haar lewe?

Ouma sal weet…

Iza maak aanstaltes om weer te vlieg. Sy moet terugkeer na wolf en antwoorde kry op al haar vrae. Voor wolf se huisie sak sy suutjies, soos ‘n professionele loods grond toe. As haar voete die vastigheid ervaar, is sy terug in haar mensvorm.

“Ouma, Ouma!”

Die deur gaan oop.

Iza storm tot binne wolf se warm pels. Gooi beide haar arms om die wolkombers. Vir die eerste keer loop daar nou trane van rou emosies en hoop oor haar wange.

“Ouma wat moet ek doen? Hoe gaan ek aan met my lewe?”

“Izatjie, onthou jy toe jy so sewe of agt jaar oud was?”

Sy knik net haar kop.

“Jy’t altyd met ‘n boek onder jou arm geloop…ons vertel dat jy eendag ‘n skrywer gaan word.”

Sy weet presies waarvan wolf praat, sien haarself met die boek onder die arm in die hoenderhok, besig om juffrou-juffrou met die arme verwilderde hoeders te speel.

“Skryf jou hart uit my kind…maak ‘n verskil in hierdie krom wêreld.”

Iza loop agter wolf aan wat bed se kant toe staan.

“Moenie so kwel oor geld nie my kind…skryf asof jy iemand se lewe wil red.”

Sy klouter pens en pootjies die bed op, verplaas haarself tot teen die warm pels. Wolf sit haar halfmaan brilletjie op en raap die Brolloks en Bittergal boek nader. Haar stem is hartlik en musikaal as sy lees van Brolloks wat vir Skoonlief in die spelonk aanhou. Die uiterste kontras van goed en sleg in een vertrek. Vir ‘n oomblik wonder sy of mens dit ooit sal kan verander. Is dit nie deel van die lewe se uitleg nie? Kan mens regtig veilig voel, as jy nie weet hoe dit voel om bang te wees nie?

Maar tog… is dit nodig?

Iza se oë word swaar, net soos toe sy jonk was en nog steeds vegtend teen die slaap.

“Ouma, ek is lief vir jou,” haar laaste woorde as die donker slaap haar insluk.

 

**************************

 

Die St Mary’s hospitaal is nog donker. Langs die wagkamer staan ‘n gestalte wat koffie soek. Dis te vroeg vir die koffiemasjien se diens en nou hoop mens net daar is, ongeag die sterkte of die smaak, kóffie. Sy gesig is ‘n sametreksel van hartseer en woede. Sy baard is drie dae laas geskeer en sy hemp lyk of dit uit die wasgoedmandjie gehaal is. In sy regterhand loop hy met ‘n twee-dae oue, opgerolde koerant, wat hy vasklou met wit kneukels. Marius Meyer staan met sy rugkant teen die muur. Die afgelope drie dae is ‘n onwerklikheid waarvan hy weinig kan onthou. Hy staar deur die venster met verstomde ongeloof na die buitewêreld. Al wys die son nog nie strale nie, is daar reeds mense en voertuie buite bedrywig. Vir ‘n oomblik wens hy, hy was eerder daar. ‘n Gesiglose mens, besig met sy allerdaagse ongekompliseerde lewe. ‘n Gebaar waarna hy nou smag, wel dit en slaap natuurlik. As ‘n reël verpes hy mense wat maskers dra, wonder altyd watse swakheid hulle wil verdoesel. Tog klink die idee van ‘n masker vandag vir hom hemels, ‘n ietsie wat die onsekerheid in sy waarheid kan verdoesel. As die buitelewe hom uiteindelik verveel, gaan sit hy op die regop bank en wag. Sy lyf is seer van die slaap in ‘n regop stoel en die bokant van sy rug voel soos kinderhandjies wat pluk en knyp aan sy spiere, maar niks van die bogenoemde vreet so erg aan sy siel, soos die gedagte van sy vrou wat slegs ‘n hanetree van hom af lê nie. Hy probeer die laaste gesprek wat hy met haar gehad het oproep. Loop elke tree van hulle laaste dag terug in sy kop, maar die moegheid in hom het die laaste, werkende rat tot halt geroep. Nou wag hy net vir nuus. Goeie nuus, want hy weet hy sal nie sonder haar kan aangaan nie. Sy gedagtegang word onderbreuk deur die omruil van nuwe personeel wat saam met die deure se oop- en toemaak geluide, nuwe besoekers vir die wagkamer bring. Oorkant hom neem ‘n ou tannie plaas. Hy was nog besig om hom te verkyk aan haar kosmandjie wat sy uitpak. Gekookte eiers; salami ringetjies; ingelegte uitjies en dik snye brood toe hy ‘n sagte hand op sy skouer voel. Maruis wip soos hy skrik.

“Meneer Meyer…”

Suster Viljoen gee ‘n gerusstellende glimlag as sy Marius se wilde trek op sy gesig sien.

“Jou vrou is besig om wakker te word, kom asseblief saam met my.”

Marius spring op. Vir die eerste keer in dae voel dit of hy kan asemhaal. Sy geklemde hand val outomaties oop en die koerant, wat veel eerder sy kierie was, tuimel grond toe. Hy buk nie om dit op te tel nie. Ervarende ‘n opvatting dat dit ou nuus mag wees en dat waarheen hy oppad is, niks anders as ‘n nuwe begin mag wees nie. Hy draai vir oulaas om, staar na die voorblad berig waarvan hy elke woord gememoriseer het, as dit lees:

Vrou is wreed in haar huis in Lorraine aangeval en lê kritiek in die hospitaal. Polisiewoordvoerder Sersant Khomo sê twee onbekende mans het net na drie-uur die middag toegang tot die huis verkry deur ‘n agterdeur. Die vrou was in die kombuis besig en het probeer vlug. Hulle het haar vasgekeer by die voordeur waar sy sewe meswonde opgedoen het. ‘n Buurvrou, wat die twee inbrekers later sien vlug het, het die polisie ontbied. Op hierdie stadium word niks anders as huisbraak vermoed nie, aangesien die inbrekers weggekom het met ‘n skootrekenaar en ‘n televisie toestel…….

  • chantal

    Ek het van die storie gehou.