DIE KEUSE – Malinda Thompson

DIE KEUSE – 2009 © Malinda Thompson

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 547 woorde)

 

Die water in die Oranje rivier blink in die oggendson. Voëls kwetter in die bome en die kleinvolk skarrel tussen die lae bossies en gras vir kos. Waar Marius Pretorius met sy rug teen ’n boom leun, visstok in die hand, kyk hy in die loom sonnetjie hoe miere ’n droë sprinkaanvlerk na hulle nes toe dra.

Die oggend is perfek en hy is ’n gelukkige man soos hy hier sit. Hy is in die natuur, hy het nie ’n bekommernis op hierdie Dinsdagoggend nie en die belangrikste seker, by die huis wag die vrou van sy drome. Hy kan steeds nie glo dat sy vir hom lief is nie, maar sy is.

So ses maande gelede was hy vir drie maande in Kaapstad om ’n nuwe projek vir energiebesparing bekend te stel. Die mense het sy plan gekoop. Dis nie baie geld nie, maar dit stel hom in staat om ’n eenvoudige lewe hier op sy plasie te lei, om sy droom uit te leef.

Hy het Charnalda in die Kaapse Tuine ontmoet. Sy het met ’n skaakstel op haar tafeltjie onder die bome gesit en toe hy by ’n tafeltjie naby haar plaasneem, het sy reguit na hom gekyk en gevra: “Speel jy skaak?”

Hy het haar uitgedaag: “Speel jy 3D-skaak?”

Sy het koketterig geglimlag: “Nee, maar ek sal graag leer.”

Hy het sy 3D-skaakstel uitgehaal en sy het dit bemeester voor sy worsrolletjie en skyfies opgedaag het.

Onder haar vlamrooi kuif het amandelvormige groen oë hom deurentyd gevange gehou. Toe hulle na ete opstaan, het sy oë waarderend op haar slanke figuur gerus. Sy was geklee in ’n noupassende leerbroek en leerbaadjie met ’n hoë kraag en vleiende snit. Sy uitgewaste denim en voosgedrade baadjie het sleg teen haar afgesteek.

Nog nooit het voorkoms hom gepla nie, maar skielik het hy selfbewus oor sy lang stoppelbaard gevryf en gewens hy het die vorige aand geskeer, soos hy hom aanvanklik voorgeneem het. Hy probeer sy lang hare ongemerk platdruk en kyk met misnoeë na sy stukkende drafskoene. Nog nooit het hy so onversorg gelyk nie.

Sy steek haar hand na hom uit: “Jy was ’n waardige opponent. Dankie en laat dit goed gaan.”

Haar hand lê warm in syne: “Tot siens,” en ’n galante buig, is al wat hy uitkry.

Toe hy wegstap, het hy hom voorgeneem om nooit weer so onversorg uit te gaan nie. As hy beter gelyk het, kon hy die moed bymekaarskraap om haar telefoonnommer te kry. Maar wie sou hom weer wou sien? Dalk dink sy nog hy is ’n boemelaar.

Marius het vir die drie maande in ’n vriendin, wat landuit was, se meenthuis gebly en kon natuurlik nie sy goeie geluk glo toe hy Charnalda in die parkeerarea opmerk nie. Van toe af was hulle onafskeidbaar en nou is sy hier by hom op die plaas. Sy is ’n buitengewone mooi en slim vrou en sy is bereid om haar lewe hier in die eenvoud van ’n Kalahari plaas te slyt. Dan moet dit liefde wees?

Marius staan op en rek sy lang, lenige lyf lui uit. Hy vryf sy swart hare onder sy pet in en vryf oor sy bruin oë. Die gedagtes aan haar maak hom sommer haastig huis toe. Met ’n huppel in sy stap swaai die emmertjie in sy een hand, terwyl sy ander hand die visstok oor sy skouer stut. Hy fluit ’n vrolike deuntjie.

Twee donker motors blink in die sonlig voor die deur. Twee mans in pakke stap hom tegemoet en groet hom met die hand. Jakob skreef sy oë teen die son en nooi hulle binne. Die huis is koel en donker en dit neem die manne ’n oomblik om hul oë aan die skemer gewoond te maak.

“Julle sê julle is Marthinus Rodebeck en Josh Feinhauer? Wie is julle en waaraan het ek die besoek te danke?”

“Josh hier is ’n wetenskaplike wat spesialiseer in die veld van robotontwikkeling. Sy werk hou hom meestal in die buiteland, maar die afgelope paar maande werk hy in Suid-Afrika. Ek is die stasiebevelvoerder in Kimberley.”

“Ek het wel al ’n paar goed gepatenteer, maar nog nie in die veld van robotte ingegaan nie, so ek weet nie hoe ek julle kan help nie,” kom dit van Jakob.

“Ons het rede…” begin Marthinus, maar dan word sy woorde afgebreek deur die verskyning van ’n aanvallige blondekopvrou in die deur.

Jakob swaai om: “Lisa, wat maak jy hier?”

Hy gooi sy arms spontaan om haar en druk sy getroue vriendin van baie jare vir ’n oomblik styf vas. Sy groet hom ook bly, maar hy sien met groeiende onrus die kommer in haar blou oë.

“Koffie vir almal?” vra sy terwyl sy omdraai om die skinkbord in die kombuis te gaan haal.

Dan druk ’n yskoue hand die asem uit Jakob se longe uit: “Waar is Charnalda?”

Marthinus maak keel skoon en begin weer: “Dis die ding. Ons het rede om te glo dat jy ’n robot huisves.”

“Dan het ek niks om te vrees nie,” blaas Jakob sy asem verlig uit.

“As ’n kenner van toekoms-tegnologie is jy seker op hoogte met die nuutste tegnologiese ontwikkeling rakende robotte, nie waar nie?” vra Marthinus.

Jakob knik.

“Ek ken robotte, die nuutste robotte het al vloeiende bewegings en praat al so glad soos mense, maar dis steeds wat hulle is, robotte, steeds blikbrein, van ‘blik’ gemaak en daar is natuurlik nie meer ’n huishouding of kantoor sonder een nie,” sê Jakob met nadruk.

“Dis wat almal gedink het, maar Josh hier se navorsing het hom op ’n man laat afkom wat ’n robot in… wel, mensvel gemaak het. Sy is in alle opsigte ’n mens, lyk soos een, voel soos een, is warm soos een, eet soos een, skei die kos later ‘onverteer’ uit, slaap, ag jy noem dit, sy kan dit doen.”

“Nou toe nou, en hoe weet julle slim manne sy is ’n robot?” vra Jakob nou geïriteerd.

“Daar is slegs een ding wat haar onderskei, behalwe die uitskeiding, sy het geen hartklop en geen bloed nie. Hy kon nie bloed maak nie.”

“Jakob lyk vir ’n oomblik van stryk: “En julle dink die meisie hier by my is ’n robot? Ek kan julle verseker, sy is nie, ek sou weet…”

Vir die eerste keer praat Josh in ’n baie swaar aksent: “Meneer Potgieter, die vervaardiger van die robot het te ver gegaan en hy is nou benoud dat hy die robot nie sal kan beheer nie. Dis hoekom hy my gekontak het, want daar is… wel, daar is dinge wat baie lank sal neem om te verduidelik, maar die robot mag gevaarlik wees. Hy het die robot Kaapstad toe gestuur en dis saam met jou opgemerk. Daar gaan ’n kind wees en die res van die programme… laat ons sê daar het ’n fout ingesluip, dus is die volgende stap onduidelik. Dis wat kommer wek.”

Jakob het intussen gaan sit en laat rus sy kop in sy hande: “Dan was alles net ’n mooi droom?”

“Meneer, ons het nog nie duidelikheid daaroor nie. Soos gesê, die vervaardiger het intussen sy kontrole verloor, jy mag die robot huisves of nie. Ons moet dit eers uitvind. Daar is geen rede van ons kant af om oorhaastig op te tree nie. Waar is sy?”

“Vertel julle my. Ek het gaan visvang en sy was net hier.”

Die ander drie kan aan sy verslaentheid sien dat hy die waarheid praat.

“Sy handel dus op eie impuls en word nie meer deur die vervaardiger gekontroleer nie?” vra Lisa ook nou vir die eerste keer ’n vraag.

“Te lank reeds,” antwoord Josh met ’n bekommerde frons.

“Ons het met behulp van jou vriendin reeds jou huis deursoek,” sê Marthinus verskonend.

Jakob knik net. Hy het in Lisa se huis in Kaapstad gebly, hoekom sou sy nie die vrymoedigheid hê om hulle deur sy huis te neem nie?

“Dan gaan ons maar weer. As jy haar, of iets van haar kry, asseblief, dis uiters belangrik, jy moet ons laat weet,” groet Marthinus.

Wanneer die motor in ’n stofwolk verdwyn, stel Lisa voor dat hy ’n bietjie gan rus. Sy sal vir hom water en ’n kalmeerpilletjie bring. Sy is ook op pad, sy moet ’n praatjie in Orania hou en haar uurglas loop leeg.

Soos ’n ou man stap hy met ’n geboë hoof en hangskouers die skemer gang af. By die spaarkamer trek ’n beweging sy aandag. In sy ou wiegie lê ’n fraai babatjie met wortelrooi donsies. Groen amandelvormige ogies lag hom toe. Vingertjies sluit styf om sy duim toe hy sy hand onwillekeurig uitsteek.

Hy haal sy knipmes uit en terwyl sweet op sy voorkop pêrel, hou hy die skerp lem teen die sagte wit vingertjie. Terwyl hy in die laggende ogies kyk, maak hy ’n vinnige snit.

Spons… geen bloed nie.

Geen emosie in die steeds laggende groen ogies nie.

In die deur kyk Lisa na hom. Haar blik maan hom om die regte ding te doen. Sy het hom beskerm, sy wou nie alles op een slag van hom wegneem nie. Maar nou gaan sy nie verder jok oor die babatjie in die spaarkamer nie.

Wanhopig kyk hy terug na haar terwyl hy die babatjie in sy hande neem. Trane biggel oor sy wange.

  • Chantal

    Baie oulik en ek hou van jou storietjies.