DIE ONVERWAGSE VERRASSING – Denzil Thompson

DIE ONVERWAGSE VERRASSING – 2009 © Denzil Thompson

VOLWASSE FANTASIE (12 498 woorde)

 

Die groen-blou water van die koue oseaan vloei  verby die houtskip terwyl dit deur die water gly. Die blou lug is skoon en bring daarmee ook ʼn belofte dat die huis al hoe nader kom.

ʼn Maer man staan aan die voorkant van die lang boot en staar uit oor die groot water wat uitgestrek voor hom lê en die gedagtes van alles wat die afgelope tyd gebeur het, tot waar dit hom nou gebring het. Die wete dat die bakleiery wat op die water was, maar net’n paar minute geduur het, is nou verby.

Die Europeërs het nie geweet wat met hulle gebeur het nie. Hulle boot het alleen teen ʼn oorlogskip en twee vragskepe geveg en hulle was die wenners van die geveg.

Soos die ander op die skip praat, was daar omtrent sewehonderd mense op die drie skepe. Die wat nie gesneuwel het deur ʼn swaard en byl nie was vasgemaak aan die reëlings en saam met hulle skepe verbrand. Die rowers het net die waardevolste besittings gevat en die res maar saam laat brand.

Die skree en smeek om genade dreun nog soos ʼn slegte gewete in sy gedagtes. Almal sê dit sal langsamerhand weggaan, maar hy glo nie dit sal moontlik wees nie. Die kyk in hulle oë en gesigte net voor hulle sterf, sal nooit uit sy gedagtes kom nie.

Sy groen oë dwaal en hy kyk na die kiste en besittings wat vasgemaak is op ʼn hoop in die middel van die boot. Die wind waai sag deur sy bruin hare en sy kort baard wat hy moes laat groei het, aangesien daar nie geriewe was vir skeer nie.

“Land, land is in sig!” Skree die man bo in die hokkie. Sy werk is om op die uitkyk te wees vir gevare en die weer wat onstuimig kan wees. Hanni draai sy kop terug en loer oor die water. Hy knip sy oë en sien die wit bergtoppe wat begin sigbaar raak. Die sneeubedekte land van Alaska is die plek wat hy al die jare sy tuiste noem en ook sy ouers en hulle ouers voor hulle. Dit voel amper asof die land nader kom oor ʼn heuwel en rol na hulle toe. Die grys rook wat ligte stroompies na die blou hemel toe trek, is die enigste aanduiding dat daar lewe is op die land.

Die staalskilde word vasgemaak aan die kante van die skip en twee manne gaan in die ruim in en haal die gekleurde draakkop uit en maak dit vas met toue aan die voorkant van die skip. Dit is tradisie en die mense is baie ernstig oor hulle tradisie.

Ander lede van die bemanning is weer besig om die rooi-en-witgestreepte seile te laat sak en bêre hulle op hulle plek. Almal neem plaas op hulle sitplekke met roei­spane in hand en begin die laaste trek huis toe te roei. Soos die boot nader geroei word eiland toe, merk die maer man op dat al die vroue en kinders van die gemeenskap begin naderstaan om te hulle mans en vaders in te wag. Daar is geen teken van Hanna nie en hy weet dat sy nie daar sal wees nie.

Die boot kom tot stilstand in die hawehoof en word vasgemaak. Die vroue kom na hul mans en groet hulle. Drie maande op die water en weg van die huis af sal enige vrou laat bekommerd voel. Maar nie die vroue nie.

Die Noormanne is terug by die huis en het die buit saamgebring. Dit was dan weer tyd vir jolyt en feesvier.

Hanni klim van boot af met sy sak wat hy saamgeneem het vir sy voedsel en vars klere.

“So kon jy darem sien hoe ons Noormanne te werk gaan? Kon jy ook darem iemand doodmaak?” vra Egill sarkasties en kyk hoe die ander manne net lag.

“Jy weet ek is nie ʼn gewelddadige mens nie. Ek het mos gesê ek wil net saamgaan om te sien waarom almal krygers wil wees. Ek het net sekergemaak niemand kom op ons boot nie,” sê Hanni en swaai die sak oor sy regterskouer.

Egill lag uit sy maag en gee Hanni ʼn lang kyk.

“Weet jy watter hel het my suster vir my gegee nadat julle weg is? Ek glo nie sy sal jou weer laat gaan nie. Dis ook maar beter so,” sê Egill en groet ʼn paar van die krygers voordat hy verder praat.

“Ek het krygers nodig op my skepe wat bereid is om dood te maak en nie net te wil sit en niks doen nie. Ek dink jy moet maar na jou vrou toe gaan voordat sy weer hier afkom en op my skree.”

Egill sien die kyk wat hy kry van Hanni af, so onder deur sy staalhelm.

Egill stop een van die krygers wat ‘n kis verbydra. Hy krap deur die waardevolle besittings en glimlag as hy kry wat hy soek.

Hy haal ʼn lang blou vaas uit die kis en klap die kryger om weg te loop en die skatte te gaan bere.

“Vat die skat huistoe en hou dit. Dis jou gedeelte van die aanval. Dis net om te se ons is bly jy lewe nog. Jy kan nie meer kry nie aangesien jy nie bereid was om iemand dood te maak nie. Gaan nou en maak my suster gelukkig voor sy jou kom soek,” sê Egill en loop weg om al die ander krygers en hulle families te nooi na ʼn groot fees.

Hanni kyk na die vaas en dink dis nogal ʼn mooi stukkie glas. Hy weet egter dat Hanna dit nie so sal sien nie. Hy draai om en kyk uit oor die groot oseaan en sug hard met die wete dat hy na sy huis moet terugkeer.

“Miskien sal sy bly wees ek is terug en die prys kan ek vir haar gee.” Hanni praat met homself. Hy is egter besig om homself moed in te praat.

Hy draai om en beweeg deur al die huise na syne toe, wat op ʼn heuwel lê. Hy loop in sy huis in en kan hoor Hanna is besig in die kombuis. Hy stap in en plaas die vaas op die tafel waar sy besig is om ʼn seeleeu se vel af te trek.

Sy gluur ʼn lang ruk na die vaas en na en toe na Hanni.

“Sien jy’ Vrou. ʼn Klipkapper kan ook ʼn kryger wees. Sien wat het ek gekry as beloning,” sê Hanni trots en vat weer aan die vaas en streel dit om die prys te beklemtoon.

“Wil jy vir my sê jy was weg vir drie maande en dis al wat jy terugbring?” vra Hanna en haar stem begin dik word. Sy is ʼn groot vrou en weeg amper by die honderd en tagtig kilogram teenoor arme Hanni se sewentig.

“Ja dit is my beloning dat ek veilig terug is.” Hanni sien hoe die vrou die vaas weer ʼn kyk gee en toe ook na hom.

“Vat daai stuk gemors weg! Ek is besig met kos en bring vir my hout. Die vuur wil amper doodgaan en as dit gebeur, is daar groot moeilikheid, Meneertjie.” Hanna skree half op hom.

Hanni vat die vaas en plaas dit op die houttafel waar hulle later gaan eet. Hy voel trots op homself dat hy darem iets gekry het. Vir ander lyk dit dalk na niks nie, maar vir hom beteken dit baie.

“Is jy al weg, of moet ek dit self doen?” skree Hanna uit die kombuis uit. Sy staan ʼn volle sewe voet hoog en was al meer as een keer aangesien as ʼn man. Dié wat dit gedoen het, het met hulle lewens betaal. As die suster van die hoof van die Noorman­gemeenskap kon sy wegkom met amper alles.

Hanni hardloop uit en af na die dorpie toe waar al die hout in een plek gestoor word. By die deur sien hy sy vier vriende staan en gesels, ook met hout in hulle arms.

Oddr en Randr Ketill is bloedbroers en ook die pottemakers van die gemeenskap. Alle take met pottebakkery kan hulle doen en ook van hulle vase wat hulle maak, lyk beter as dié wat die krygers al huis toe gebring het. Saam met hulle staan die twee swaers van die Njall-stam. Die twee is die smede van die krygers. Die maak van enige staalwapen wat kan gebruik word om lewens te neem, maak hulle. Daar kom selde wapens terug wat gebreek het.

“Die gevreesde klipkapperkryger is terug,” sê Oddr met ʼn glimlag as Hanni by hulle kom staan. Hy neem eers ʼn oomblik om sy asem terug te kry. Hanni speel met sy vriende asof hulle kinders is.

“Vertel ʼn bietjie hoe dit was. Ek brand om te weet,” vra Ari en almal staar na hom soos hy hulle verduidelik hoe die Europeërs gevrees word as die rooi seilboot op hulle afgestorm kom.

“Kon jy toe iemand doodmaak terwyl hy jou terug aankyk?” vra Oddr.

Die gelag hou op en almal wag op die antwoord. Hanni weet dat hy ʼn leuen sal moet vertel.

“Ek moes…” Hanni dink eers vir ʼn oomblik en glimlag. “Ja, dit was twee wat ek moes oopsny om te keer dat hulle nie die boot vat nie.”

Die gesigsuitdrukkings was die antwoord wat Hanni nie eintlik na uitgesien het nie. Dit is een uitdrukking op al vier se gesigte. Net die wete dat hulle vriend iemand kan doodmaak, bring meer respek.

“Jou slegte, armsalige man! Waar is die hout? Hou op met daai gemorsvriende van jou gesels en bring die hout dadelik!” skree Hanna van bo van sy huis af. Daar is ander mense ook om hulle en hulle lag net vir Hanni en loop terug na die fees toe.

Die vier vriende kyk op na die standbeeld van die groot vrou by die deur en loer na Hanni.

“Ek sal moet gaan. Sal ons mekaar weer op die gewone plek kry? Dan kan ek alles vertel” sê Hanni. Die vriende knik hulle koppe en sien hoe Hanni ophardloop na sy huis toe met albei arms vol hout.

Die vriende sien hoe Hanni by die deur kom. Sy vrou skree weer op hom, stamp hom in die huis in en slaan die deur toe agter haar.

“Ek voel vir Hanni. Daai vrou gaan nog daai man se einde beteken” sê Oddr en kyk na die ander.

“As dit is hoe dit met my gaan wees wanneer ek iemand gaan soek om saam te wees en sy raak so, dan sal ek eerder alleen bly as om ʼn slaaf te wees,” gee Ari ook sy mening.

Die manne gryp hulle hope hout en loop na hulle verskillende bestemmings toe, wetend hulle sal later die hele verhaal hoor hoe dit was saam met die krygers.

Die kos wat Hanna voorberei het, proe beter as die kos op die boot. ʼn Mens kan net vir so lank brood en vis eet.

“Hanna, jy moes die plekke gesien het waar ons gevaar het. Van die eilande het nogal mooi gelyk en in die aande…”

Hanni hou op met praat toe hy ʼn suur kyk van sy vrou af kry. Die twee eet in stilte en Hanni haal diep asem.

“Wil jy nie weet waar ons orals was nie? Is daar geen belangstelling nie?”

Hanna gooi die bord neer op die tafel, staan op en druk met haar vuiste op die tafel. Sy suig ʼn stuk vleis uit haar tande uit.

“Lyk dit asof ek enigsins belangstel wat jy gedoen het? Die enigste rede hoekom jy wou saamgaan was om weg te kom van jou werk hier by die huis. Jy is ʼn nuttelose klein mensie wat graag saam met die groot manne wil speel. Jy beteken niks nie. Maak die gemors hier en in die kombuis skoon. Anders as jy moet ek werk en is moeg. Ek gaan nou slaap” skree Hanna half, draai om en beweeg kamer toe. Sy slaan die deur toe en Hanni sit net daar. Sy moed is gebreek. Die drie maande op die water was rustig en stil. Hy staan op en vat alles na die kombuis toe. Hy loop terug en tel die vaas op en bekyk dit weer met ʼn glimlag. Hy hoor nie as Hanna uit die kamer kom nie.

Die groot hand van Hanna gryp na die vaas en sy gee dit weer ʼn kyk asof dit van papier gemaak is.

“Het ek nie vir jou gesê jy moet die gemors skoonmaak nie?”

Hanni knik sy kop en vee die tafel skoon, maar hou sy oog op sy prys. Dit is nie veilig in Hanna se hande nie.

“As die ding nou van goud gemaak is en dalk vol juwele was, dan sou ek gesê het dit is iets mooi, maar die stuk gemors gaan nie in my huis staan nie.”

Sy gooi die vaas teen die houtdeur en dit spat in stukke.

“As jy klaar is om die gemors skoon te maak, kan jy daai een skoonmaak. Môre gaan jy werk, Mannetjie! Die huis val uitmekaar uit en moenie dat ek jou weer by my broer vang nie. Ek sal jou lewe vir jou baie moeilik maak.”

Hanna storm weer kamer toe en slaan die deur harder toe.

Hanni staar na die stukke op die grond. Sy moed sak al laer en hy is ʼn gebroke man. Hy stap oor na die deur toe en sien iets daar lê. Hy tel dit op. Hy rol die papier oop. Hy bekyk die papier want hy het nog nooit so-iets gesien nie. Die mense skryf op velle. Die ander kaarte wat hy al gesien het was op papirus. Maar dié papier is iets nuuts. Hy bekyk dit vir ʼn oomblik en sien dit lyk soos ʼn kaart. Hy loer terug na die kamerdeur en druk gou die papier by sy hemp in. Hy maak alles skoon en soos hy weer uitstap, hoor hy die gesnork. Dit is sy enigste kans om nou uit die huis te kan gaan. Met die eerste ligte sonstraal sal sy wakker word en dan sal die geskree weer begin. Hy hardloop uit die huis uit en beweeg noord na ʼn ou verbrande boom toe. Die flikkerende vuur om die boom is ʼn teken dat die vier vriende al daar wag vir hom.

“Ek wens soms dat ʼn beer of wolf haar sal aanval en doodmaak” sê Hanni toe hy by die vuur sit en sy hande vryf om die lewe terug te bring.

“Watter wolf of beer is mal genoeg om dit te doen?” vra Oddr grappenderwys en almal bars uit van die lag. Hulle maak grappe hoe sy die beer sal doodskree en die wolf kry om die lek in die dak reg te maak.

“Ja-nee, jou oorlede vader het nie mooi gedink toe hy jou gesê het om julle stam met dié van die Auber-stam saam te smelt nie. As hy vandag nog gelewe het, sou hy gesien het die fout wat hy begaan het,” sê Oddr en almal sit daar vir ʼn oomblik en dink aan die reus van ʼn kryger.

Hanni haal die papier uit sy hemp uit en almal loer daarna met vrae in hulle oë.

“Raai wat het ek gekry,” sê Hanni. Die manne kan nie hulle oë van die papier af hou nie.

“Waar kry jy dit?” vra Randr.

“Egill het vir my ʼn mooi vaas gegee vir my saamgaan en die kaart het ek in die vaas gekry toe Hanna dit stukkend gegooi het.”

Niemand vra hoekom sy dit gedoen het nie want hulle ken haar al goed genoeg om te weet sy hou daarvan.

“Weet Egill van die kaart?” vra Randr en kry ʼn vuishou op die bors.

“Dink jy nou rêrig dat Egill Auber, die leier van die Noormanne, die man wat van skatte hou, vir sy swaer ʼn kaart sal gee wat na nog skatte toe kan lei?” vra Oddr.

“Wat gaan jy doen met die kaart?” vra Jarp toe hy die kaart sien toe Hanni dit ooprol voor hulle.

“Ek kan niks doen daarmee nie. Ek het nie ʼn boot of ondervinding op die water nie. Dit lyk ver en hoe sal ek weet hoe om vir wat te kyk?” vra Hanni.

“Jy kan na Egill toe gaan en vir hom vertel van die kaart. Maar jy sal dit eers moet wegsteek. Vertel hom as hy jou help, dan kan hy ʼn gedeelte van die skatte kry as beloning vir sy hulp. Ek glo nie hy sal huiwer nie. Hy sal enige iets doen om seker te maak sy suster los hom in vrede en pla hom nie so baie nie.” Oddr gooi nog hout op die vuur en sien die ander kyk hom aan en wonder hoe hy so vinnig aan ʼn plan kon gekom het. Oddr het al self  probeer om in Hanni se skoene te sit en dit was nie lekker nie.

Hanni hou van die plan en spring op met ʼn breë glimlag op sy gesig.

“Sien julle manne later. Ek het ʼn afspraak met my rykdom.”

Hanni hardloop af met die heuwel na die huis van Egill. Hy hardloop verby die area waar die fees was en die meeste van die manne en hulle vroue lê al slapend om die vuur met die skatte om hulle. Hy klop aan die deur nadat hy gesien het daar is lig binne. Hy hurk af om sy asem terug te kry. Hy stap in en sien Egill by die tafel sit en sy gedeelte van die skatte tel.

“Wat maak jy hier? My suster het lank vir jou gewag en sekerlik soek sy die klop van haar man se hart agter haar.” Egill loer na Hanni asof hy nie welkom is in sy huis nie.

Hanni stap oor na die houtstoel en sien Egill staar na hom.

“Ek het nie gesê jy kan sit nie. Anders as joune, my vrou wag vir my in die kamer. Sê wat jy wil sê en maak klaar. Ek is baie besig.”

Egill is geïrriteerd met Hanni. Ander mense van die stam moet eers afsprake maak om hom te sien in sy huis maar die man storm net in omdat hy dink hy kan maak soos hy wil omdat hy met sy suster getroud is.

“Ek het in my besit ʼn kaart wat wys na groot skatte.”

“Onthou net dat tien persent na my kant toe moet kom. Is daar nog iets?” vra Egill en staan op nadat sy vrou hom speels kamer toe roep.

“Ek het geen boot nie en ook nie ondervinding van die see nie. Ek het gewonder of jy my sal kan help dan kan jy ʼn groter gedeelte van die skatte kry. Die eiland is so twee maande weg na die suide. Die plek se naam is McNath. Ken jy dalk die eiland?” vra Hanni en sien die man dink en skud sy kom.

“Nee, nog nooit van die plek gehoor nie. Waar het jy aan die kaart gekom?”

Hanni weet dat dit ʼn vraag is wat hy mooi moet antwoord. Sy lewe mag dalk daarvan afhang.

“Wat stop my om die swaard te vat en jou dood te maak en die kaart vir myself te vat en al die skatte is myne?” vra Egill ʼn met glimlag op sy gesig.

“Wie gaan dan by jou suster wees in die koue maande en haar beskerm teen die gevare van die land. Sal sy ooit weer ʼn ander man kry om saam met haar te wees?”

“My suster kan haar eie man staan in gevaar en daar is stories wat rondloop dat julle nie eers meer die kamer deel nie,” sê Egill en dink dat daar geen ander man sal wees wat met sy suster sal kan saamlewe nie en dit sal ʼn knak wees vir hulle stam.

“Jy bly nog steeds familie en om familie dood te maak is ʼn groter skande wat ek nie op die dorp sal bring nie. Wat maak jou so seker die kaart is eg?”

Hanni staan daar vir ʼn oomblik en haal die kaart uit sy hemp en oorhandig dit aan Egill. Hy rol dit uit op die tafel en beloer die kaart deeglik. Hy glimlag breed. Toe gryp Hanni die kaart en hou dit styf vas. Egill bekyk die arrogansie van Hanni en glimlag dat die man besig is om te groei in die manweesafdeling.

“Ek sal jou help maar ek soek sewentig persent van die skatte.”

“Nee, veertig persent van alles wat ek kry.”

“Ek gee vir jou ʼn boot met bemanning en kos vir ses maande. Sestig persent.”

Hanni dink daaroor maar skud sy kop. “Maak dit die helfte van alles dan. Vyftig persent en dis al. As jy nee sê, sal ek ʼn ander plan maak en dan kry jy net jou tien persent. So wat sê jy, Broer?”

Hanni sien die koue kyk wat Egill hom gee. Beide is nie baie bly oor die helfte van alles nie, maar weet dat hulle mekaar nodig het.

“Dan sal dit die helfte wees. Ek sal dan ook ʼn paar krygers saamstuur, net om seker te maak ek kry my helfte en om na jou te kyk dat jy nie doodgaan nie,” sê Egill en vat twee groot diamante van die tafel af.

“Ek wil ook ʼn paar van my eie mense saambring om seker te maak ek word nie doodgemaak vir alles nie.”

Egill storm op Hanni af en kyk af na hom. Hy druk amper sy neus is Hanni se oog.

“Moenie windgat raak met my nie, Mannetjie. Weet jy wie ek is en wat ek kan doen? As ek jou dood wou gehad het, sou jy nie teruggekom het van jou eerste vaart nie.”

Egill is rooi in die gesig van frustrasie dat die klipkapper kom met voorwaardes.

“Jy kan bring wie jy wil, maar hulle sal vir hulle eie kos en water moet sorg.”

Die sagte stem in die kamer roep weer vir Egill en ʼn glimlag breek uit op sy gesig.

“Vat die diamante en gee dit vir my suster. Ek ken haar goed. Sê vir haar dis deel van die skatte en sy sal jou laat gaan. Loop nou, ek het planne vir die res van die aand. Gaan wees nou met jou vrou vir ʼn slag. Die boot sal reg wees binne sewe dae.”  Sê Egill en wys na die deur.

Hanni is bly en storm uit en hardloop terug na die boom waar die vriende seker nog wag vir hom. Hy kom daar en vertel vir hulle dat hulle saam kan kom en verduidelik hoe hy met Egill gestry het. Hanni las ook ‘n paar stertjies aan sy stories om dit meer interessant te maak. Die vriende is bly en hardloop terug na hulle wonings toe om die families te vertel van hulle reis na rykdom.

Hanni kom by die huis waar Hanna vir hom staan en wag. Hy het aan haar verduidelik van die skatte en gee aan haar die twee groot diamante. Hy staar na haar soos sy daarna loer en dit bekyk met ʼn glimlag op haar gesig. Hulle het selfs die kamer gedeel die aand, maar die volgende dag het sy hom weer laat werk soos ʼn slaaf. Hy het sewe dae gehad om alles in orde te kry voor hy kon gaan. Sy vier vriende het hom ook kom help om die werk vinniger klaar te maak. Min wetend dat dit die laaste keer sal wees wat hulle die huis weer gaan sien. Die drome van die manne was groot en wat hulle alles gaan doen met hulle skatte.

* * *

Almal in die stad het gehoor van die kaart wat Hanni gevind het en die dag toe almal op die boot klim, staan die hele dorp daar om vaarwel te sê aan die manne.

Niemand behalwe een man weet van die noodlot wat vir die mense wag nie.

ʼn Donker figuur kom van agter af en staan by Egill en kyk hom loodreg in die oë.

“Jou boot is reg, Egill,” sê die man en kyk om na die bemanning soos hulle opklim met hoop en die gedagte van ʼn beter lewe.

“Dit sal beter wees om hulle darem ʼn dag of twee voorsprong te gee.” Egill bedank die man en draai om en loop terug na sy woning.

Hanna het opgedaag om haar man af te sien. Almal was geskok om haar daar te sien. Sy sit met ʼn glimlag op haar gesig en groet almal vrolik. Die gedagte aan rykdom het haar ʼn bietjie mak gemaak. Almal waai totsiens en die manne en die boot roei uit na die oopsee.

Dit is twee weke se seil weg van die land af en Hanni sien ʼn donker lyn op die horison.

“Daardie storm bring die wildheid uit die diepste see” sê Illugi en Hanni kyk bekommerd na die veteraan van skeepvaart.

Die vier vriende help orals waar hulle kan. Dit is vir hulle iets nuuts en hulle geniet dit eerder as om elke dag dieselfde goed te doen. Soos wat die manne moeg word, vat hulle oor en laat die ander rus. Ook die veteraan neem ʼn bietjie van hulle hulp, aangesien die vier gewillig is om te help.

“Wat bedoel jy met die monsters van die diepe see, Illugi?” vra Hanni. Die gesoute seeman met sy swart oë en donker, lang hare staar uit na die water en die wind wat begin optel.

“Daar is legendes wat sê die see het groot monsters in hulle. Die meeste is in die Ooste. Van hulle is so groot dat sommige die boot kan insluk sonder om agter te kom hy het dit gedoen” lag Hanni senuweeagtig.

“Ons seil darem suidwaarts” glimlag Illugi.

“Soos enige dier in die natuur moet hulle ook beweeg na ʼn warm klimaat toe.” Hanni draai om en kyk uit oor die see en wonder watter diere mag dalk onder die water wegskuil.

Illugi en sy pa was goeie vriende en die twee kon vir ure teen mekaar veg sonder dat een van hulle ʼn hou op mekaar kon plant. Die man is net so wys soos wat hy oud is. Hy is die oudste, maar nie een van die manne op die boot sal graag teen hom wil veg nie.

“Die storm wat aangerol kom, soek ʼn offer wat sy honger sal stil. Die honger sal gevoed moet word voor die son weer opkom” sê Illugi en bekyk die bemanning.

“Is daar enige manier om dit te voorkom?” Hanni hou nie daarvan nie. Op sy vorige reis was dit darem kalm waters en geen storm het hulle gepla nie.

Illugi loop na sy sitplek op die agterkant van die boot en berei homself voor vir die storm om te kom.

“Daar is niks wat jy kan doen om dit te voorkom nie. Al wat jy kan doen, is om te hoop dit is nie jy nie. Bly by jou roeispaan en hou styf vas.”

Die storm brul in die verte en die wind waai harder. Dis asof die boot soos staal na ʼn magneet aangetrek word. Die roeispane is vasgemaak aan die kante van die boot. Hanni sit op sy plek en kyk net voor hom na die aankomende storm. Om ʼn mas en seil te verloor is een ding en jy kan oorleef, maar om die roeispane ook te verloor, is iets wat niemand wil hê nie.

Die seile word afgehaal en weggebêre. Hanni kyk hoe sy vriende hulle met toue vasmaak aan die boot om te keer dat hulle nie afwaai of wegspoel met die water wat oorgespoel word nie. Die son is nou weg en net die donkerte lê om hulle. Die reën­druppels kom met ʼn harde slag af en stort op hulle neer.

Net die wete dat iemand geoffer moet word, maak hom onrustig en verseker dat sy tou styf vas is. Die vriende maak die toue vas soos kinders wat ʼn nuwe speletjie ontdek het, nie wetend van die gevare wat voorlê nie.

Die see begin rof raak met groot golwe en die ou boot probeer maar regop bly. Van die krygers staar na die storm en swaai hulle vuiste na boontoe. Hanni kyk om en sien twee krygers slaap. Hulle lywe beweeg saam en koppe knak met elke golf wat die boot tref. Hy is net bekommerd dat die seemonster enige oomblik sy kop bo water gaan wys en hulle almal insluk. Soos hy rondkyk, besef hy dat ʼn groot golf hulle hoër optel en dan is die water weg. Hulle is amper honderd meter hoog die lug in. Die water het net verdwyn. Die boot val af en hy kan voel hoe sy maag draai en maak sy oë toe want hy wil nie sy dood sien nie.

Die boot val plat op die water met ʼn groot slag. Hanni maak sy oë oop en met dié kom twee krygers uit die lug geval. Hulle tref die loopvlak hard en beweeg nie verder nie. Hulle is dood en Hanni sien aan hulle toue dat dit losgebreek het. Die seewater kom in almal se oë en dit brand. Die mense vee net gesigte skoon om net weer nat gespat te word. Die koue wind en nattigheid is iets nuut vir Hanni en sy vriende. Met die laaste groot golf wat die boot tref, om net seker te maak almal is nou behoorlik nat, hou die rowwe see op en ook die reën. Die wind is nog sterk en ʼn paar manne spring op en hys weer die seile om uit die weer te kan kom.

Na twee uur se seil kan hulle almal weer die toue om hulle losmaak. Dan kom die telling. Die twee krygers wat op die loopvlak gelê het, is nog steeds daar, maar daar is nog twee wat vermis word. Niemand het gesien wat met hulle gebeur het nie.

Oddr en die ander staar na die twee lyke op die boot en weet dat die pretrit nou verby is. Hulle het nou respek gekry vir die see en ook vir die mense wat elke keer moet uitgaan om te gaan visvang en om skepe aan te val vir rykdom.

Hanni begin ʼn slim plan in sy kop te kry. Hy kyk na die boot en beweeg na sy vriende en vra uit of dit moontlik is om dieselfde boot te bou en hoe lank dit sal neem. Hy kyk om en sien Illugi staar na hom. Hy voel dat die ou man dalk kan weet wat hy beplan. Hy weet en glo sy plan sal werk. Hy gaan terug na sy sitplek en begin te dink. Hy sal al die beplanning moet doen en dit self uitvoer. Hy kan nie dat iemand anders uitvind nie en ook nie vir iemand vertel nie, want wat hy beplan, is iets wat hy nie kan glo moontlik is van hom nie.

“Julle sal nou moet droë klere aantrek. Daar sal nie weer ʼn storm kom nie,” sê Illugi agter Hanni en hy skrik hom koud. Hy draai om en kyk na die man met die swart oë.

“As die manne sien julle word siek, dan sal julle oorboord gegooi word met die vrees dat julle die ander ook sal siek maak.” Illugi kyk op na die paar sterre bo hom en knik sy kop. “Ek weet presies waar ons is en ek weet waarheen jy gaan.”

Hanni staan op en kyk na die sterre met ʼn glimlag op sy gesig.

“Jy mag dalk weet waar die boot heen gaan, maar nie waarheen ek gaan nie.” Hy loop agtertoe na die vasgemaakte goedere en haal sy houtkas uit en trek droë klere aan.

Die vier vriende doen maar soos hulle gesê is. Die idee van skatte sal hulle op die oomblik enigiets laat doen. Die vier staan daar kaal op die boot en koue het hulle beet. Hulle speel en terg mekaar en Oddr sien dat Hanni nie saam lag nie.

“Wat is fout, my ou vriend? Kan ek jou help dra aan jou probleem?”

“As iets met die mense moet gebeur, weet ek nie hoe om al die skatte terug te kry by die huis nie.”

Oddr plaas sy regterhand op Hanni se linkerskouer. “Het ek nog nooit vir jou gesê ek kan ʼn boot maak en seil nie. Ek kan die sterre lees maar nie so goed soos die ander nie. My pa het my geleer in die aande net voor ons weg is.”

Hanni glimlag en sy planne kan nou voortgaan met die nuwe nuus.

Na twintig dae op die see sit Hanni op die voorpunt van die boot en eet sy vis en brood alleen. Die vier vriende het al bevriend geraak met die krygers en vertel vir hulle ou oorlogstories. Dit pas hom, want dit gee hom baie tyd om sy beplanning goed uit te werk. Hy lê sy oë op die horison. Daar is nog ʼn donker streep wat naderkom.

“Die storm kom van die weste en sal dan nie so erg wees soos die ander een nie,” sê Illugi agter hom en Hanni verstik amper aan sy droë stuk brood. Die ou man het lanklaas met hom gepraat.

“Wat maak jou so seker dat die storm nie ook ʼn lewe gaan eis nie?”

“Die see het sy offer gekry. Kyk na die kante van daai blou lyn. Sien die wit wolke daaromheen. Dit beteken die wind jag die storm na sy bestemming. Ons sal net sterk winde kry en groot golwe. Niks wat die boot nie kan hanteer nie.”

Hanni staan op en gee die ouman ʼn glimlag en loop terug na sy kas toe. Hy kniel langs hom en soek bietjie rond en kry toe wat hy gesoek het. Hy kyk om hom of iemand nie dalk na hom kyk nie, maar hy sien almal is besig. Die wind begin weer te waai en dit is koud.

Hy vat die dolk en bêre dit in sy linkerskoen en loop na sy sitplek. Hy sien die een kryger is besig met sy tou wat vashaak en buk af om te help, maar die vuishou op sy neus is ʼn goeie aanduiding dat die man nie sy hulp benodig nie.

Die rooihaar Noorman lag toe Hanni sy gesig vasgryp en skree van die pyn. Hy sien dat sy neus bloei.

“Raak weer aan my tou en dit sal die einde van jou lewe wees. Niemand vat aan my tou nie.”

Hanni voel of hy die dolk kan uithaal en die man doodmaak, maar weet die man is vinniger as hy en sal hom eerste neersit voor hy naby genoeg kan kom met die dolk.

ʼn Paar hande gryp Hanni aan die arms en help hom terug in sy stoel. Dit is Gubbi. Hy is die leier van die krygers. Hy kyk net na sy bemanning met oë wat sê ‘dit is nou genoeg’. Die manne hou net aan met lag en maak hulleself verder vas aan die boot.

Gubbi is ʼn goeie leier, maar is net so wreed. Daar is ʼn paar mense wat sê hy kom van die hel af en is gemaak in mensevorm. Hy het al in gevegte gegaan met geen wapen nie en baklei teen drie krygers. Hy sal hulle doodmaak met hulle eie wapens, maar nie voordat hulle ʼn bietjie gely het nie. Die merke op sy gesig en orals op sy lyf is bewyse daarvan.

Hanni neem sy tou en wil homself vasmaak maar daar is nou iets nuut. Dit is ʼn nuwe tou en dit is twee keer langer as wat dit moet wees. Hanni kyk rond om te hoor wie dit gedoen het, maar weereens val sy oë op Illugi wat na hom staar. Die ou man glimlag en knik sy kop. Hanni kan nie verstaan wat aangaan nie. Is die man hier om hom te help en weet dalk van sy planne, of wag hy net om hom te vang?

Die wind is besig om sterker te waai en hy maak homself vas. Hy maak seker om die knoop reg te kry.

“Ek dink om kryger te word wanneer ons teruggaan,” sê Oddr langs hom.

“Dis mooi so,” antwoord Hanni en sit daar met al sy planne in sy kop.

“Wat is nou weer fout met jou? Ek ken jou nie so nie?” vra Oddr en Hanni kyk hom stip in die oë sonder om gevoel te toon.

“Daar is niks fout met my nie. Moenie jouself verder daaroor bekommer nie,” sê Hanni kortaf en dan begin die eerste druppels val. Hanni neem ʼn groot asemteug en maak sy oë toe om te fokus wat alles nog gedoen moet word.

“Ag sies tog. Kyk na die klipkapper. Hy is baie bang en maak toe maar die ogies toe. Is die see ʼn bietjie te rof vir jou?” Die stem van die rooihaar Noorman word deur die wind aangedra . Almal op die boot lag hardop.

Hanni maak sy oë stadig oop en bekyk die man voor hom wat na hom staar en ʼn glimlag kom op sy gesig. Die rooihaar kryger voel vir oomblik ongemaklik en draai om en sê nog iets sarkasties.

Oddr sien die staar en sluk. Die man langs hom het verander, en nie ten goede nie.

“Wat gaan jy met jou gedeelte van die skat doen?” vra Oddr, maar kry geen antwoord nie.

Die see begin rof raak en die eerste golf slaan die boot van voor af en almal is weer nat. Die boot voel snotterig en ʼn nuwe betekenis van ‘vashou’ is bereik.

Met die weerlig wat slaan is daar ʼn bietjie lig om hulle, maar Hanni hou sy oë op die man voor hom. Soos die golwe die boot tref, vloek die krygers die storm. Maar die gevloekery raak stil as hulle sien daar is ʼn groot, enorme golf wat na hulle toe op pad is. As die golf die boot slaan, is almal uit hulle sitplekke. As dit nie vir die toue was nie was almal in die water. Hanni se tou is die langste en met die volgende golf gly hy vorentoe, tot langs die rooihaarman. Die man laat ʼn paar vuishoue val en Hanni weet dat dit nou sy kans is. Hy vat die dolk en sny die tou van die man deur en sit die dolk terug. Ook net betyds. ʼn Golf slaan die boot weer van die ander kant af. Hy gly terug na sy sitplek toe.

Hanni sit weer op sy plek en die rooihaarman kyk na hom met ʼn glimlag.

“O, jy is so sterk. Wil jy nie nog kom slaan nie, jou lafaard?” skree Hanni en die mense kyk net na hulle.

“Is jy op soek na jou dood? Hy sal na jou toe kom en jou kop afslaan en niemand sal ʼn vinger lig om jou te help nie. Weet jy dit?” sê Oddr, maar sien net die glimlag op sy vriend se gesig.

Hanni kyk om hom en weet sy tyd is min. Hy sien die manne hou die kryger vas.

“Wat is fout? Wil Mamma se baba nie kom speel nie?” spot Hanni hom en glimlag breed.

Die kryger het genoeg gehad en skud die mense van sy lyf af. Hy gryp sy swaard vas in sy linkerhand. Hy stap stadig nader met die tou om hom vasgemaak.

Die volgende golf slaan die boot hard en die man vlieg vorentoe met die hoop die tou sal hom keer. Maar daar is geen tou wat help nie. Hanni waai na die man as hy oorboord val. Hy sink weg onder die water in.

Oddr kyk na Hanni met bevreesde oë. Hy sien hoe sy vriend opkyk na die wolke met ʼn glimlag op sy gesig.

Die storm is gou verby en die wind waai net hard. Die seile word weer gespan. Die boot word stil vir die verlies van nog ʼn goeie kryger.

Oddr kyk net na Hanni en wonder wat sy vriend so skielik laat verander het.

* * *

Die man bo in die uitkyktoring begin opgewonde raak en wys in ʼn noordelike rigting.

“Land, daar is die land!’ skree hy. Almal kyk op na hom en glimlag.

Dit is tyd dat hulle bietjie goeie nuus moet kry, want daar is ʼn paar krygers wat beswyk het met ʼn snaakse siekte wat hulle nog nie gesien het nie. Hulle het gesterf binne ure nadat hulle siek geword het.

Illugi loop vorentoe en staar uit na die eiland. ʼn Glimlag breek uit op sy gesig. Dit is ʼn goeie teken, aangesien die manne bietjie gesmag het na land. Min wetend dat die eiland hulle dood sou veroorsaak deur ʼn man wat ʼn haat het teenoor net een man.

Twee mans klim op die mas, een aan elke kant en stuur die boot deur al die rotse en skerp klippe wat besaai is om die eiland. Die boot kom tot stilstand op ʼn sandbank en die manne spring af met ʼn gejuig. Hulle swem strand toe en van hulle soen die sand uit dankbaarheid dat hulle weer op land kan wees. Hanni is alleen op die boot en staan daar. Hy staar na die bome van die eiland en glimlag. Hulle is uiteindelik hier en sy rykdom wag vir hom. Hy spring van die boot af. Die water is nie so koud soos die by sy land nie. Illugi het lankal bevele uitgedeel dat die mans moet gaan soek na hout, water en vleis. Dit het nie lank geneem nie toe die vuur aan die gang was en mense met skaapwindsakke vol vars water aangestap kom. Drie krygers kom met drie wildevarke aangestap. Hulle braai die vleis en eet tot daar nie meer ʼn stukkie geëet kan word nie. Ander krygers het ʼn vat selfgemaakte bier van die boot afgehaal en die bekers het volgeloop. Hulle is bly dat hulle ten minste op land is en die helfte van die reis is amper verby.

Almal gaan rus onder die koelte van die bome en Hanni sien dat niemand hom meer dophou nie. Hy gryp sy sak en glip stadig tussen die bome deur. Maar Illugi sien hy verdwyn en wonder hoekom hy nie saam met die mense feesvier nie. Hy laat die gedagte gaan terwyl hy met die manne om hom gesels oor wat alles die volgende dag gedoen moet word.

Die manne kuier tot laat in die aand. Een vir een val hulle om en slaap ʼn rustige slaap. Illugi sit by die vuur en Oddr val langs die ou man in.

“Weet jy dalk waar Hanni is?” vra Oddr en neem ʼn sluk van die vol beker bier.

“Ek is nie sy oppasser nie. Is jy nie veronderstel om na hom om te sien nie?” vra Illugi en kyk na die besope man en kan net glimlag.

“Ek voel regtig jammer vir die goeie vriend van my.”

“Wat bedoel jy nou?” vra Illugi en gooi nog ʼn stuk hout op die vuur.

“Die vrou van hom is nie goed vir hom nie. Hy moes met haar trou want sy pa het hom geforseer. Kom ek sê vir jou iets,” sê Oddr en gooi sy linkerarm om die man se nek en beweeg nader. “Hy het baie verander vandat hy teruggekom het van die vaart voor hierdie een. Ek is net bang hy gaan eendag iets wreeds aanvang. Ons gevreesde leier druk hom en spot hom so vreeslik dat dit my hart seermaak. Daar is iets fout met hom,” sê Oddr en vat nog ʼn sluk.

Illugi gooi die man se arm af en staar na die bome waardeur Hanni vroeër verdwyn het.

“Soos wat dink jy sal hy aanvang?” vra Illugi, maar sien dat Oddr sit en slaap met sy rug teen ʼn boomstomp. Hy vat die beker en drink die laaste daarvan en sug hard. Hy sit daar en wonder waarheen die jongman gegaan het en hoekom hy nog nie terug is nie. Nie een van die ander mense het hom gemis nie. Hy het Hanni se pa geken en ook Hanni soos hy grootgeword het. Maar die man wat hy nou sien, is ook nie meer dieselfde nie.

“Die soektog na skatte en ʼn beter lewe is nie iets wat jy moet soek sonder dié wat saam jou is nie,” sê Illugi saggies en staar na die vuur. Hy is maar ʼn ou ligte slaper en toe Hanni uiteindelik tussen die bome uitkom, was die ou man wakker. Hy sien hoe Hanni na die water toe loop en hom skoon was voordat hy terugkom na die vuur toe. Hy krap bietjie rond en kry nog ʼn stuk vleis en eet daarvan terwyl hy na elke man kyk wat om hom lê en slaap. Die glimlag op die man se gesig is nie normaal nie. Hanni lê agter toe en staar op na die sterre en sug saggies. Hy maak sy oë toe om ʼn bietjie slaap in te kry voor hy weer moet opstaan.

ʼn Harde skop in die maag laat Hanni krul van pyn. Sy wind is uit en hy sukkel om sy asem terug te kry. Hy gryp na sy bors as die kryger daar staan en homself regmaak om nog ʼn skop uit te deel. Die man lag vir hom, draai om en loop weg. Hy sien Oddr en die ander saam met die ander staan en lag. Het hulle nou ook teen my gedraai? Hoekom? Ek doen dit dan ook vir hulle, wonder Hanni en staan op en tel sy sak op. Die mense was gereed en het net vir hom gewag.

“Ons het nie heeldag tyd nie,” sê Gubbi en wag vir Hanni om vir hulle te sê waarheen nou.

“Ons moet nou deur daardie opening gaan. Ek het gister gesien dat daar ʼn smal baaitjie is. Ons sal dit moet volg tot ons ʼn opening kry en dan sal ons dit van daar af weer vat.”

Die krygers neem die voortou met Hanni, Gubbi en Illugi heel agter. Hulle loop vir ʼn ruk en Hanni begin heeltyd uit die pad te loop en vooruit te staar.

“Wil jy nie maar die voortou neem nie?” vra Gubbi en Hanni lag dit net af.

“Ek glo nie dit sal nodig wees nie.”

“Wel, dan moet jy net ontspan. Jy is besig om my op te werk. Wat soek jy as jy so loer?”

Hanni voel hoe koud hy word en draai om en kyk na die twee manne.

“Ek is net nuuskierig. En as ek voor loop en daar is gevaar? Dis beter as die krygers voor is, want hulle weet hoe om onder sulke situasies te werk. Onthou ek is maar net ʼn ou arme klipkapper,” sê Hanni en sy woorde was nog nie eers koud nie toe mense voor begin skree.

Almal hardloop vorentoe en sien daar is ʼn gat so twee meter diep en ook twee meter wyd. Skerp takke steek uit en daar lê twee krygers dood oor die penne. Hulle beweeg af met die gat om die manne uit te haal, terwyl Hanni eenkant staan.

“Se die kaart enigiets van mense op die eiland?” vra Oddr en sy oë dwaal deur die digte bosse en bome om hom.

“Jy het ook mos al die kaart gesien en sê jy nou vir my of jy so-iets gesien of gelees het?” vra Hanni en staar die man stip in die oë.

Oddr loop weg van hom af en hy kry die oë van Illugi weer op hom.

Hulle begrawe die twee krygers vinnig en die ou man sê ʼn paar wyse woorde om die manne te help om aan die ander kant beter te kan kom. Hulle weet hulle moet aangaan, maar hierdie keer doen hulle dit stadig en meer versigtig.

Vier uur later stop die prosessie en die kryger voor sien ʼn dun boomtou wat oor die pad gespan is. Hy glimlag en vloek die spookmense wat dit daar geplaas het. Hy trap versigtig oor die tou. Maar toe hy sy voet neersit, toe trap hy die regte strik af. Hanni sien dit en wag so lank as moontlik en dan val hy neer op die grond. Illugi het van die vorige lokval af presies getrap waar Hanni getrap het. Toe Hanni neerval op die grond is dié ouman daar saam met hom. Pyle vlieg oor hulle koppe en tref die mense voor hulle. Illugi weet dat iets nie reg is nie. Hy wonder hoe die man alles in een aand kon reggekry het. Hy ken vir Hanni en hy is die man wat nie eintlik kan werk nie en nog minder die breinkrag kan hê om aan al die strikke te kan dink. Die soort strikke wat gestel is, is nie maklik nie en kom met goeie beplanning. Met die gedagte wonder Illugi of Hanni nie dalk hulp gehad het nie.

“Hoe het jy geweet van die strik?” vra Illugi en Hanni glimlag net en staan op. Hy stof homself af asof daar niks gebeur het nie.

“Jy antwoord nie my vraag nie,” sê Illugi toe hy ook opstaan.

“Mense dink ek is dom, maar ek hou van lees en het boeke gelees en stories gehoor van strikke wat gestel is om skatte te kan beskerm teen mense soos ons. Ek glo maar net as daar ʼn strik afgetrap moet word, dan val jy op die grond neer en hoop maar dat wat jou ook  wil dood maak, jou mis.” Sê Hanni en sien die man glo hom nie eintlik baie nie.

Hanni loop vorentoe en sien dat Oddr iemand vashou. Hy sien toe dit is Jarp. Hy kniel langs hom neer en sien die drie pyle in sy vriend se lyf. Een het hom in die bors getref en die ander een in sy skouer. Die pyl wat die doodslag geslaan het, was die een in sy nek. Hy lê vorentoe sodat ʼn traan by sy wang afrol. Hy kan hom nie indink dat hy een van sy vriende sal verloor op so ʼn manier nie.

Hy lê vorentoe na die man se oor. “Dit was nie bedoel vir jou nie. Kan jy my ooit vergewe?” vra Hanni. Maar Jarp gryp net na hom en sterf. Hy is dood, Hanni het die lewe gesien weggaan in sy vriend se oë. Hy staan op en Ari kniel nou langs sy swaer en treur vir ʼn oomblik oor hom.

Die ander krygers vloek wild rond in die hoop dat wie dit gedoen het, kan verstaan dat hulle wel gevang gaan word.

Die begrafnis is net so vinnig en voor hulle loop, stop Illugi hulle.

“Hanni het die kaart en ek het ook gehoor hy is die man wat meer weet van strikke as enige iemand van ons.”

Die mans wil protes aanteken, maar word stilgemaak.

“Ek glo dat ons almal veilig by ons bestemming wil kom en teruggaan huis toe. Hy is die man met die kennis, so ek stel voor hy moet voor loop en dan kan hy seker ook die strikke onskadelik stel. As iemand anders rede soek om dood te gaan, dan kan julle dit met graagte doen.”

Die manne staan daar vir oomblikke en dink daaroor. Hanni het nie dit verwag nie en sy planne is nou bietjie uitgestel. Maar hy het voorsiening gemaak daarvoor.

Hanni loop toe voor na ʼn lang gestryery. Hy loop ʼn draai om die strikke aangesien dit hom bietjie veilig laat voel dat niemand hulle sal volg nie.

Die dag is amper verby as hulle by die opening kom. Hy haal die kaart uit en bekyk die area om hom en wys na nog ʼn smal paadjie. Hulle loop verder en dit is al goed donker as hulle aan die voet van ʼn klein heuwel kom. Daar is ʼn grot en Illugi sê dat dit die ideale plek sal wees om vir die aand te kamp. Niemand stry nie en vuur word vinnig aanmekaar geslaan.

Die manne sit daar en eet in stilte en kan nie glo dat soveel mense al hulle lewens opgeoffer het vir die skatte nie. Hanni hou van die stilte om hom en begin weer verder beplan oor hoe hy alles gaan regkry om sy planne uit te voer. Hy is baie moeg en kruip op ʼn bondeltjie en raak stilletjies aan die slaap terwyl al die ander nog om hom sit en eet.

* * *

Hanni is eerste wakker en hy staar na die grot. Volgens die kaart moet sy nuwe lewe daarbinne wees. Hy draai na die rokerige dooie vuur en sien die vlamme het lank gebrand terwyl hy geslaap het. ʼn Beweging langs hom laat hom yskoud word. Hy loer om hom en sien dit was Randr wat langs hom ontwaak. Hy staan op en rek homself uit. Hy staar na die grot asof dit die eerste keer is dat hy dit raaksien. Hanni staan ook toe op en haal die kaart uit.

“Daar binne.” Hy wys met sy vinger na die grot. “Daar lê ons oplossings vir al ons probleme.”

Randr word opgewonde en maak die ander wakker. Hy kyk rond op soek na Jarp en onthou dan dat sy vriend nie meer met hulle is nie.

Almal is binne tien minute wakker en reg om in die grot in te gaan en die skatte te gaan uithaal. Hanni loop agter die krygers soos hulle beveel het. Daar is ʼn groen skynsel wat van die muur af kom en dit is net genoeg om twee tree voor hulle te kan sien. Die grot loop so tien meter in en dan draai dit skerp links. Voor hulle is ʼn klein liggie wat in die verte skyn. Dit lyk soos goud wat skyn. Die krygers kan nie meer wag nie en hardloop vinnig vorentoe. Hulle skreeue van genot weergalm deur die grot. Hanni stap rustig nader en berei hom voor vir dit wat voorlê. Hy stap die vertrek binne en kan nie help om te glimlag nie. Die kamer is tien meter by tien meter groot. Orals lê daar ʼn laag van twee meter diep skatte. Goue muntstukke en diamante lê gestrooi oor die vloer. Die helfte van alles is syne en daarmee kan hy amper sy eie Noormanstam begin.

Almal spring rond om die skatte en skree en vertel wat hulle met die geld gaan doen. Hanni sien dan beweging aan die ander kant van die vertrek. ʼn Groot oog is sigbaar en hy weet dit is nie ʼn rot se oog nie. Hy loer om hom rond en beweeg stadig agter­toe en hou sy oog op die groot oog aan die anderkant van die vertrek. Hy besluit om niemand te waarsku nie. Hy voel die muur agter hom en beweeg stadig na ʼn donker kol toe. Hy hurk af en wag om te sien wat gaan gebeur.

Die een kryger beweeg na die ander kant van die vertrek en sien die gedierte en skree benoud. Almal soek rond na hulle wapens en staan reg en staar na die gedierte soos dit uit die skadu uit beweeg. Dit is ʼn draak en hy lyk nie gelukkig nie. Almal beweeg in ʼn sirkel in die middel van die vertrek. Die draak beweeg om hulle totdat sy kop en stert raak. Die brons kleur van sy vel laat lig in Hanni se oë skyn maar hy waag dit nie om te beweeg nie. Hy wil sien hoe die draak die manne doodmaak en dan kan al die skatte syne wees. Hy kon nie dink daar was ʼn draak nie en sy planne word nou net makliker gemaak.

Die draak se lang neus snuif heeltyd in die lug en hy beloer die manne voor hom.  Hy draai sy kop en staar direk na Hanni wat wegkruip in die sagte skadu. Sy aandag word weggetrek as vier krygers hulle byle hoog hou en hom bestorm om hom dood te maak. Hy laat los met sy stert en slaan die manne hard en elkeen vlieg deur die lug in verskillende rigtings in. Die een kryger trek na Hanni toe en tref die muur met ʼn harde slag. Hanni kan hoor hoe sy nek gebreek word en staar in die oë van die dooie man langs hom.

Nog vier krygers staan op uit die sirkel en maak reg om die draak aan te val. Hy draai sy kop na die vier en beloer hulle.

“Is dit die goud en skatte wat julle soek? Moenie weer aanval nie, want julle sal ook sterf soos die ander voor julle,” praat die draak in ʼn kalm stemtoon.

Hulle kan nie glo wat hulle hoor nie. Hulle is verlore in woorde.

Die draak draai sy kop en staar na Hanni.

“Jy daar in die skadu, kom uit en staan saam met jou mense.”

Almal in die sirkel draai om en kyk na waar die draak kyk. Vir ʼn paar oomblikke is daar niks en dan sien almal dit is Hanni wat daar uitstap. Niemand het gesien die man is weg nie.

Die draak kyk eers elke man goed deur, maar hy staar langer na Hanni.

“Julle kom van buite af en storm in my huis in en wil van my steel. Wat dink julle moet ek doen met julle demoniese siele?” Om daarvoor te baklei gaan nie werk nie, want ek sal julle almal dood hê voor die son sak. Ek is moeg daarvoor. Dit gaan my nie meer aan nie. Maar ek het dalk ʼn ander oplossing.”

Die draak praat, maar niemand waag dit om te antwoord nie. Hanni weet dat dit nou sy kans is om te praat.

“Watter voorstel het jy, Draak?” Almal kyk met verbasing na Hanni.

“Ek sal vir julle ʼn enkele vraag vra en julle sal net een kans kry om te antwoord. As julle reg is, dan sal ek weggaan vir ʼn volle dag en julle kan vat en dra soveel as wat julle wil, maar ook net vir een dag” sê die draak en dit lyk vir hom of die mense van die nuwe plan hou.

“Wat gebeur as ons die vraag nie kan beantwoord nie?” vra Hanni.

Die draak glimlag. “Dan sal julle niks kry nie en my eiland verlaat en nooit weer terugkom nie. Het ons ʼn ooreenkoms?” vra die draak en sien die mense praat onder mekaar.

“Vra jou vraag, Draak” sê Illugi en staan nader aan die draak.

“Wat is die betekenis van die lewe?”

“Watter soort vraag is dit?” vra Illugi.

Die draak skud sy kop: “Gaan nou en dink na oor die vraag en kom terug na een dag en gee my die antwoord. Moenie vroeër inkom nie, want ek sal julle doodmaak,” sê die draak en tree vorentoe.

Almal loop uit die grot uit en kom weer by die plek aan waar hulle gekamp het die vorige aand. Almal kyk na Gubbi en Illugi vir die antwoorde, want hulle is die oudste en slimste mense om hulle. Die stry en baklei oor die antwoord duur voort. Vuur was later gemaak soos die nag nader kruip.

Hanni het maar eenkant gaan sit en kyk net hoe almal stry. Van die antwoorde het glad niks te doen met die vraag nie. Almal het die goud gesien en gevoel en dit frustreer die krygers dat hulle nou ʼn raaisel moet beantwoord.

Oddr sien Hanni daar sit en loop nader en sit langs sy vriend.

“Kan jy glo ons kom so naby maar ook so ver? Wat dink jy kan die antwoord wees?” vra Oddr en kyk ook na die manne.

“Ek weet presies wat die antwoord is,” antwoord Hanni kortaf.

“Hoe kan jy weet wat die antwoord is?” vra Oddr en staar na sy vriend.

“Onthou jy nie. My pa het dit altyd vir my gesê soos ek grootgeword het.”

“Dan moet jy dit met al die mense deel. Dink net aan alles wat jy kan koop en kry met die skatte. Ons sal alles kan uitdra in ʼn dag. Die draak ken glad nie Noor-manne nie. Jy moet na Illugi toe gaan en vir hom…” Oddr stop om te praat. Hy sien Hanni sy kop skud.

“Kyk na hulle, en dan sê jy vir my of hulle sal luister,” sê Hanni en die twee kyk na twee krygers wat al wil baklei met die byle oor wie se antwoord die regte een is. “Sien jy nou daar. Dink jy vir een oomblik hulle sal na my luister? Nee, ek glo nie. Ek sal maar die antwoord vir myself hou, dankie,” sê Hanni.

Oddr staan op. “Dan moet dit maar so wees. Ek gaan maar na die ander en hoor wat hulle dink.” As Oddr wegloop, gryp Hanni hom aan die arm en trek hom terug.

“Sweer jy gaan niemand sê ek het die antwoord nie.”

Oddr sien Hanni is ernstig en skud sy kop.

“Ek sweer. Ek wil ook net sê jy het verander, en baie ook. Ek weet nie meer wie jy is nie, Hanni.” Hy ruk sy hand los en loop weg. Die gestry en baklei loop diep in die nag in en Hanni draai om en probeer slaap onder die geraas. Dit is ʼn gesukkel, maar hy kan darem slaap. Die droom is egter leeg en koud.

Vroeg die volgende oggend staan almal binne die vertrek met die brons draak voor hulle, soos ʼn regter sal staan voor misdadigers. Almal van hulle het geen slaap gekry nie. Die nag was lank met baie stry en baklei.

Die draak bekyk die manne en dan vir Hanni.

“Die vraag wat jy gevra het, is onmoontlik om net een antwoord te hê. Kan jy dalk net spesifiseer wat jy wil weet?” Die draak draai sy kop en staar na Illugi met ʼn frons.

“Die vraag wat ek gevra het, het net een antwoord.”

Illugi staar na die manne agter hom. Hy neem ʼn diep asemteug en staar die draak diep in sy oë.

“Die betekenis van lewe is om dit voluit te lewe en ook ʼn nalatenskap te los vir dié wat na jou kom.”

Die manne agter hom knik hulle koppe om saam te stem. Die draak sien dat Hanni nie saamstem nie. Die vertrek raak vir lank stil terwyl die draak daaroor dink.

“Jy het verkeerd geantwoord. Draai om en gaan weg van die plek en kom nooit weer terug nie,” sê die draak met ʼn ferm stem en tree agter toe.

Die manne is nie gelukkig dat hulle nou met leë hande moet teruggaan huis toe nie.

“Nou sê vir ons wat die regte antwoord dan is,” sê Illugi. Die draak lyk kwaad.

“As ek nou vir jou gaan sê wat die antwoord is, wat gaan dit jou help? Loop nou en eer ons ooreenkoms.” Hy beweeg terug na die skadu waar hy lê en rus. Die krygers hou nie van hoe alles ontwikkel nie. Hulle is Noormanne en doodmaak is hulle kuns en nie raaisels nie.

Die manne weet om die draak aan te vat as hulle nie regkom nie. Almal stap uit en beweeg deur die grot. Hanni stop en staar na die draak en gee vir hom ʼn glimlag en knik sy kop. Die manne vloek en skree van kwaadheid.

“Ek het dalk ʼn plan om die goud te kry,” sê Hanni. Die manne hou op om te vloek en kyk na hom.

Illugi loop nader en bekyk die klipkapper.

“Gee vir my die plan en dan sal ek sien of dit die moeite werd sal wees. Jy weet as ons by die huis kom met niks, sal ons doodgemaak word. Jy ken die reëls.”

Hanni glimlag net en knik sy kop. “Ons sal met meer as die helfte van die goud huis toe gaan, ou man.” Hy verduidelik sy plan aan die ou man.

“Hoe kan jy aan so ‘n plan dink? Waar het jy geleer van al die dinge?” vra Illugi maar Hanni glimlag net.

Illugi loop oor na al die ander en verduidelik weer vir hulle en aan die einde van die dag stem almal in dat die plan meriete het en uitgevoer kan word.

* * *

Hulle almal loop terug na hulle boot en seil weg. Hanni staan agter op die boot en sien die draak daar sit en kyk hoe hulle wegvaar.

“Hoe het jy geweet hy gaan dit doen?” vra Illugi toe hy langs Hanni staan.

“Ek het net so ʼn gevoel gehad,” antwoord Hanni en gaan terug en help met die boot.

Toe die eiland uit sig is skree die man op wag en die boot maak ʼn halwe sirkel en hulle beweeg terug. Dit vat hulle twee dae om aan die agterkant van die eiland tot stilstand te kom. Hulle spring van die boot af en elkeen weet wat gedoen moet word. Vier krygers begin om die groot boot uitmekaar te breek en ʼn nuwe een te bou. Al die ander gaan na die bome en begin om te grawe. Dit vat ʼn volle vier dae om ʼn nuwe, sterker en kleiner boot te bou.

Illugi en Gubbi is in beheer om vir kos te sorg, terwyl almal aan die tonnel werk. Hulle neem beurte om te rus, want daar is nie ʼn oomblik om te mors nie. Die grawe van die tonnel mag vir niks stop nie.

Een oggend kom die woord deur dat hulle op die plek is soos Hanni dit aangedui het. Hy bedank almal vir die vinnig werk en loop die tonnel in met Oddr agter hom. Hulle stop by die lendelam leertjie en Oddr staan daar met die ronde hout paneel. Hanni klim op na bo en hou sy oor teen die grond en luister. Daar is geen geraas nie. Hy breek die laaste laag grond oop en druk sy kop deur. Dit is net soos hy uitgewerk het. Die gat is teenaan die muur en hy glimlag as hy rondkyk om te sien waar die brons draak dalk kan wees. Hy vat die ronde houtplaat en plaas dit oor die gat en klim af met die leer. Hy hang ʼn klip daaraan en loop weer uit.

“Nou rus ons. Môre sal ons soos ryk manne huis toe gaan” kondig Hanni aan. Die manne sien dat hulle die man nie mooi opgesom het vroeër nie. Hanni voel soos ʼn leier en hy hou daarvan. Hulle eet genoeg die aand tevore, want die volgende oggend gaan dit ʼn malhuis wees met die taak wat voorlê.

Hanni word wakkergemaak en hy sien die nege krygers staan, reg en gewapen. Hulle het almal vrywillig besluit om die taak te vat. Hy kyk na die manne en glimlag breed. Hy stuur hulle weg met bemoedigende woorde en nou is dit net die wag. Die krygers storm die grot binne en sien die draak is nie daar nie. Hulle begin die sakke vol te maak en nou en dan kyk hulle rond of die draak nie dalk daar sal aankom nie.

“Is julle gulsigheid nie bevredig nie?” Die stem van die draak weergalm deur die vertrek.

Die krygers kyk om en sien die draak met sy vlerke half opgetrek en reg om aan te val. Die krygers laat die sakke val en hou hulle wapens reg.

Die draak spring vorentoe en hap na twee van hulle maar dit is mis. Die opening is nou weer daar en hulle hardloop uit want hulle lewens hang daarvan af.

Soos die krygers uitgehardloop kom en die draak agter hulle, word die woord gestuur dat hulle kan voortgaan. Hanni skuif die houtpaneel weg en hulle klim deur tot in die kamer. Hulle vat soveel as wat hulle kan. Hanni sien dat gretigheid ʼn vertrek met baie goud vinnig kan leegmaak.

Die skree van die draak wat by die grot is laat hulle besef hulle tyd is nou verby. Hulle hardloop na die gat. Hanni maak dit toe en hulle beweeg uit die tonnel. Dit is tyd om pad te gee terwyl hulle nog kans het.

Hanni kom uit en sien een kryger teen die boom sit. Sy wonde is groot en hy weet dat die man dit nie sal maak nie.

“Ons het… gedoen… ons kon nie… Egill was…” stamel die man en toe is dit verby.

Hanni gryp die mense om hom en trek hulle na die boot toe.

“Ons moet nou gaan, daar is nie tyd om rond te staan nie,” beveel Hanni. Hulle almal gaan na die boot en sukkel om dit op die water te kry en verby die golwe. Die boot is swaar en hulle sukkel om dit mooi aan die gang te kry.

Die draak kom in sy grot en kyk rond. Hy kan nie glo dat amper al die goud en juwele weg is nie. Hy weet dat dit net ʼn bedrieëry was en oëverblindery met die krygers wat hy doodgemaak het. Hy is woedend, maar stop en snuif die lug. Hy ruik sout, ʼn reuk wat amper nooit in sy plek inkom nie. Hy snuif op die grond en ruik die manne se sweet en volg dit tot op die houtpaneel. Hy krap daar en sy nael gryp die paneel en hy trek dit weg. Woede het hom beet en hy spoeg vuur in die tonnel in die hoop dat hy dalk nog een van die diewe kan doodbrand. Hy storm uit die grot uit en weet hy kan hulle kry sodra hy in die lug is.

Hanni is ook hard besig met roei en die boot is nou net agter die groot golwe. Die spoed begin stadig vermeerder. Die son word vir ‘n oomblik donker. Almal kyk op en sien die gestalte van die draak.

“VINNIGER…VINNIGER!” skree Hanni. Maar die draak het hulle lankal gesien en pyl op hulle af met groot spoed.

Hanni gryp ʼn swaard en klim op die mas en wag vir die draak. Toe hy naby is, swaai hy na sy kop, maar mis. Die draak slaan hard teen die boot en dit breek in drie stukke. Al die manne sink na die bodem want hulle sakke was ook vol goud en juwele. Hanni is die enigste een oor en hy gryp toe die stuk mas beet en dryf daarop.

Die gedagte dat die draak ook dood kan wees is verby as Hanni sien hoe hy weer uit die water uit kom. Hy sien Hanni daar en gryp hom vas en vlieg hoog op in die lug. Die doodsgreep van die draak se kloue is erg en Hanni kon skaars asemhaal.

Die draak vlieg so duisend meter op in die lug. Hy staar na die man wat moet sterf.

“Julle moes die plek verlaat het toe julle die kans gehad het.”

“Hoe kon ek weggaan as ek die antwoord het op jou vraag?” vra Hanni met die bietjie asem wat hy oor het.

Die draak gee bietjie skiet en Hanni suig lug in en staar na die draak.

“As jy dan die antwoord ken, sê dit vir my.”

“Die betekenis van lewe is om die lewe te geniet, want dis net een keer wat jy lewe.”

“Dis ʼn jammerte. Jou antwoord is reg, maar jou gulsigheid na goud het jou die ander pad laat kies,” antwoord die draak.

“My lewe was nie maklik nie. Die goud sou sekergemaak het dat ek nooit weer hoef terug te gaan na my ou lewe nie. Ek wou ʼn nuwe begin gemaak het. Is daar dalk ʼn moontlikheid dat jy my dalk op ʼn ander eiland kan los? Ek is jammer oor jou skatte.” sê Hanni. Die draak laat sak sy kop liggies.

“Die goudsiekte het my en ek is goed betaal om seker te maak jy verlaat nie die eiland nie. Ek is jammer,” sê die draak. Hy druk sy lang nael deur Hanni en sien die vrees in die man se oë. Hy laat Hanni los en sien hoe hy val. Hanni kyk af na die water. Daar lê honderde wrakke wat dieselfde probeer het maar nie sukses gehad het nie. Hy slaan die water hard en sy drome is verby. Maar sy Vryheid lê nou voor die poorte waarheen hy gaan.

Die draak kyk hoe Hanni se liggaam na die bodem van die see sak. Hy draai om en vlieg terug na sy grot toe.

“Jy het vir my ʼn groot guns gedoen.” Die stem kom uit die donker grot.

“Die man was meer van ʼn kryger as die manne wat jy saam met hom gestuur het,” sê die draak maar sien dit val op dowe ore.

“Ek het jou beloning in jou plek gesit soos al die ander belongings,” sê Egill Auber toe hy uit die grot gestap kom. Hy het ses krygers om hom.

“Nou, al wat ek moet doen is om die kaart by die koning te kry en jy kan dan ook net dieselfde doen en…” Egill sien hoe twee van die krygers op die grond val en kyk na die draak om te sien of hy iets daarmee te doen het. Die draak lyk nie gepla nie en Egill sien wat gebeur het.

“Jy het my verraai. Vir hoeveel?” vra Egill. Maar die draak glimlag net.

“Het jy gedink al die dood wat jy vir my stuur, sal nie gesien word nie? Jy het dit op jouself gebring as jy my vra.”

Al die krygers sneuwel om die magtige Egill en hy gryp sy swaard. ʼn Pyl deurboor sy linkerhand en hy gryp die swaard in die ander hand. Nog ʼn pyl deurboor die arm. Die swaard val uit sy hand en hy soek beskerming by die draak, maar die draak stap net weg.

ʼn Donker figuur stap uit die skaduwee uit.

“Wie is jy en wat soek jy?” skree Egill.

“Wie ek is, is van geen belang vir jou nie. Al wat jy hoef te weet is dat jou koning my gestuur het nadat hy uitgevind het wat jy besig is om te doen. Ek is hier om jou vryheid te gee deur jou dood te maak.”

Die figuur haal langer en dikker pyle uit en skiet dit deur Egill se hart.

Uit die agterkant van die pyl rol ʼn klein vlaggie oop. Die figuur van ʼn seuntjie en die woord ORANIA is daar. Die draak sien hoe die figuur daar staan en haal die masker af. Die vrou kyk na die man en knik haar kop.

“Ek glo nie jy is deur sy koning gestuur nie,” sê die draak. Die vrou kyk na die draak.

“Jy is reg om so te dink, arme Draak. Ek is van die toekoms. Die man se kinders en nageslagte het ons boerevolk verraai en deur hulle aksies is duisende van ons mense vermoor. Ek is gestuur om seker te maak dat dit nie gebeur nie. Ek bedank jou, Draak, en glo alle mense van Orania bedank jou.”

Sy druk ʼn knoppie op haar arm en daar gaan ʼn opening oop en sy stap deur. Toe is sy weg.

Die draak staan daar en verwonder hom oor alles wat om hom gebeur het.

Ek het my betaling gekry,” sug hy en gaan terug in sy grot in.