DRAKE – Daniël Els

DRAKE – 2009 © Daniël Els

JEUGFANTASIE (3 228 WOORDE)

 

Ben slaap vas, met warm komberse oor hom. Dis in die middel van die nag. Hy skrik wakker. Hy kyk rond. “Droom ek?” vra hy homself af. Hy sien ʼn gloeiende voorwerp in die agterste regterhoek van sy kamer.

Sharlien, sy suster wat in die kamer langs hom slaap, sien ook in haar kamer ʼn gloeiende voorwerp met ʼn blouerige kleur op ʼn rak reg agter haar kamermuur.

Wat kan dit wees? vra sy haarself af. Sy klim stadig maar versigtig uit haar bed en stap nader na die voorwerp toe.

Ben het ook opgestaan om die voorwerp te ondersoek. Net daar raak hulle albei gelyk aan die vreemde voorwerp. Skielik spring dit op en klou aan hulle arms vas. Uit vrees hardloop hulle na mekaar se kamers toe. Hulle bots met ʼn harde slag teen mekaar in die gang. Ben, wat ouer as Sharlien is, skrik hom amper morsdood toe hulle mekaar tref. Hulle albei val om van die slag en staan toe weer op. Sharlien skakel die gang se lig aan. Dis vreemd dat hulle ouers nie wakker geword het van die slag nie.

Die twee bekyk die langwerpige voorwerp op hulle arms, een op Sharlien se linkerarm en een op Ben se regterarm. Dis ʼn langwerpige voorwerp wat sterk vasklou. Hulle sien daar is ook ʼn tekening van ʼn draak daarop. Dit is in verskillende kleure. Ben s’n is rooi en Sharlien s’n blou. Nadat hulle vir ʼn rukkie daarna gestaar het, sien hulle dat die kleure skielik verdwyn. Al wat op hulle arms oorbly is die tekening van die draak, soos ʼn permanente tatoeëermerk op ʼn mens se lyf.

“Wat gaan ons nou maak?” vra Sharlien eerste.

“Ek weet nie, Sus,” antwoord Ben. “ Ons kan nie vir Ma-hulle wys nie. Hulle sal ons albei foeter. Ma hou nie van tatoeëermerke nie. Dalk kan ons langmouhemde dra om dit weg te steek.”

“In die middel van die somer?” vra Sharlien.

“Kom ons gaan vra vir Oupa,” stel Ben voor.

“Goeie idee,” stem Sharlien in en hulle hardloop na Oupa se huis reg oorkant hulle s’n. Hulle gaan in en hardloop na Oupa se kamer toe.

“Oupa! Oupa!” roep die kinders van onder af.

Hulle klop aan die deur. Hulle is verras as hulle nie vir Oupa in sy kamer kry nie. Hulle is net besig om moed op te gee en huis toe te stap toe hulle vreemde geluide êrens in die kamer hoor. Albei kinders staan verskrik.

“Wat kan dit wees?” wonder hulle.

Hulle kyk rond. Nêrens sien hulle iets beweeg nie. Dis baie vreemd. Oupa is nooit buite die huis nie. Terwyl hulle by die trappe afstap, sien hulle ‘n kraak in een van die mure aan hulle linkerkant. Ben stap voor en hulle gaan kyk. Hulle loer deur die opening. Onverwags gaan die mure aan albei kante oop en hulle stap ʼn massiewe kamer binne. Twee groot standbeelde staan aan weerskante van ‘n breë gang. Die gang is so breed soos ‘n snelweg. Die kinders stap in. Hulle volg die pad. Langs die kante is die mure vol tekeninge van standbeelde, oral waar jy kyk. Regte vuur kan gesien word op sekere afgronde. Vuurtonge spoeg vanuit die muurdrake wat van klip gebou is. Hulle tree uiteindelik ʼn massiewe kamer binne.

Oral in die vertrek is daar tekeninge van drake en agter in die kamer is daar twee groot draakstandbeelde, een rooi en een blou. Die drake hou ʼn kissie vas. Later sou Oupa hulle vertel dat die kissie ʼn spesiale kalmeermiddel bevat. In die middel van die kamer kry hulle vir Oupa.

“Kom maar binne, julle twee.”

Ben neem die leiding. Half bang, half verleë stap hulle nader na Oupa toe wat op ʼn gemaklike leunstoel sit wat hy sy dinkstoel noem.

“Kom sit gerus, en sê my wat julle pla.”

Ben is geskok! Hy weet nie wat om te sê nie. Hy en Sharlien sit op die twee stoele voor hulle Oupa in ʼn reuse vertrek. Oral hang prente van drake en mooi tuine op die mure en by al die drake is daar regte vuur wat uitspoeg by hul kake.

“Ek sien julle is gekies deur die Vrededraak,” sê hy stadig. “Dis goed. Ek het gedink julle het dit in julle.”

“Ons het wat in ons?” wonder Ben. Hy wonder ook wat in sy suster se kop aangaan. Dalk wonder sy oor dieselfde dinge. Het Oupa mal geword?

“Ek sien julle koppe dwaal,” gaan Oupa voort. “Julle wil seker weet wat die betekenis is van die tekeninge op julle arms. Julle is uitgekies om te help om die vrede te bewaar en die aarde veilig te hou van alle vyandige gevare. Julle is gelukkige kinders omdat julle gekies is, maar julle moet ook besef dat dit ʼn baie verantwoordelike werk is. Julle sal vyande hê. Baie sal graag teen julle veg. Die vyande sal julle haat omdat julle hulle nie toelaat om die aarde oor te neem nie. Julle sal op jul voete moet dink as gevaar dreig, maar julle het spesiale kragte waaroor julle meer sal leer by die opleidingsessies. Onthou egter, hierdie is net ons geheim, anders kan ek julle waarborg, is julle vir seker dood.”

Toe verdwyn Oupa in ʼn rookwolk.

Ben en Sharlien bevind hulle weer terug in hulle beddens. Vas aan die slaap. Hulle ma, Marie, maak hulle wakker.

“Môre, lekker geslaap? vra sy en gee hulle ontbyt vir hulle.

Toe haar ma weg is, kyk Sharlien nuuskierig na die tekening op haar arm. Nadat sy haar ontbyt geëet het, gaan stort sy en trek vinnig aan. Sy trek ʼn lekker gemaklike hemp aan met lang moue om die tekening weg te steek en mooi blou jannas om daarby te pas. Sy sit al haar skoolgoed in haar tas, groet haar ouers en gaan skool toe.

Intussen gaan stort Ben ook en trek skoon klere aan. Gelukkig stop die skoolbus voor die deur en het sy ouers nie veel tyd om met hom te praat nie.

Die boetie en sussie klim op die bus en gaan sit reg agter. Na so ʼn halfuur se ry kom hulle by die skool aan. Almal klim af. Net toe Sharlien en Ben wil uitklim, maak die busbestuurder skielik die deur reg voor Sharlien se neus toe. Uit die hoek van haar oog sien sy ook dat daar ʼn beskermende muur tussen die busbestuurder en hulle twee gevorm word. Hulle slaan teen die muur en roep om hulp, maar niemand steur hulle aan die twee nie. Die bus ry toe saam met die ander busse uit by die skoolhekke. Sharlien wys vir Ben na die nooduitgang.

“Goeie idee,” sê Ben en hulle hardloop na die agterkant van die bus. Die deur is ook gesluit. Daar is geen manier om dit oop te kry nie. Sharlien is moedeloos en lê met haar kop op Ben se skouer.

Na so rukkie stop die bus by ‘n ashoop. Ben kyk uit by die venster.

“Wat gaan ons hier maak?” vra hy vir niemand in besonder nie. “Altyd gedink ek hoort op ʼn hoop.”

“Twak!” sê Sharlien met mening.

Hulle stop in die middel van die vullishoop. Snaaks genoeg kom daar twee goed opgeleide soldate na die bus toe, veral as jy kyk na al die medaljes en goed op hulle skouers sal ʼn mens seker so kan raai.

“Volg my,” sê een soldaat en neem die kinders na ‘n vreemde gat wat reg in die middel van die vullishoop geleë is. Die soldate spring met die kinders in die gat. Verbasend genoeg spring hulle dadelik in ‘n ondergrondse trein in. Die wagte maak die kinders styf vas met kettings.

Na ʼn rukkie stop die trein. Die wagte neem die kinders na ‘n tronksel toe en gooi hulle hardhandig daarin.

Terug by die skool het die sekretaresse al hul ouers gebel om te hoor of Ben en Sharlien dalk siek is. Toe hulle ouers ontkennend antwoord, is die polisie dadelik ontbied.

Terwyl Sharlien en Ben sukkel om op te staan, kom daar ‘n vreemde persoon binne. Die persoon is donker geklee met ‘n kappie op, maar sy gesig is in donker gehul en hulle kan nie lekker sien of dit ʼn man of ʼn vrou is nie. Twee wagte volg die persoon. Hy gaan staan voor die kinders se sel.

“’n Spioen van my het my vertel dat hulle gesien het dat daar ʼn vreemde teken op julle arms is.”

Hy vra die twee wagte om die kinders na ‘n ander kamer toe te neem terwyl hy ook daarheen loop. Met dié dat hulle arms vasgebind is, is daar natuurlik geen kans om die soldate te oorrompel nie. Voorlopig sal hulle maar maak wat hulle voorgesê word om te doen. Miskien kry hulle later die geleentheid. Ben wys met sy oë aan Sharlien dat sy moet moed hou.

Die soldate stamp hulle die kamer binne en ruk onmiddellik die moue van hul hemde af. Hulle is alles behalwe vriendelik. Die persoon met die kappie kom die vertrek binnegestap. Die kappie word afgehaal en skielik sien die kinders dat dit al die tyd ʼn vrou is.

“Ek sien julle het draaktekeninge op julle arms. Waarvoor staan hierdie draaktekeninge?” wil die vrou weet.

Ben wil weer by haar weet waar hulle is en hoekom hulle so sleg behandel word. Hy dink hy sal moet tyd koop, want teen die tyd het sy ouers seker al agtergekom dat hulle weg is. Verder glo hy nie haar storie dat ʼn spioen haar vertel het van die drake nie. ʼn Spioen kan tog nie in een dag agterkom dat hulle vreemd opgetree het nie, of kan hy? Ben dink verder dat daar tog ʼn manier moes wees dat sy dit uitgevind het.

Sharlien kyk haar broer bekommerd aan. Hy vat die ding nou ʼn bietjie ver. Sê nou net die vrou raak vies of selfs woedend vir hulle en maak hulle dood? Hulle het nog nie eintlik enige opleiding ontvang nie, behalwe seker dit wat Oupa hulle oor die jare geleer het.

Skielik praat die vrou weer.

“Ben, wat beteken die merke? Ek wil nou dadelik weet.”

“Ag, dit is net tatoeëermerke,” antwoord Ben.

“Dit is nie net tatoeëermerke nie en as jy my nie antwoord nie, gaan ek julle laat doodmaak!”

Ben en Sharlien se oë rek groot. Watter belangrikheid word geheg aan hierdie merke dat hierdie vrou so graag wil weet wat dit beteken?

“Wel, ek kan julle seker sê, dit is nogal logies. Dit gaan oor mag. As ek julle kragte uitsuig en julle doodmaak, dan sal ek baie sterker wees en ek sal die wêreld regeer soos wat ek wil. Geen mens op aarde sal vir my kan sê wat ek moet doen of nie. Met julle kragte is ek twee stappe voor die Vrededraak en kan ek my plek inneem op die planeet en dit regeer soos wat ek wil.”

“Wel, jy is nogal vol van jouself,” sê Sharlien sarkasties. “Wat gaan van die ander word?”

“Hulle sal natuurlik vir my werk, ʼn soort gedwonge arbeid. Maar ek sal aan hulle kos en blyplek voorsien. Alles sal aan my behoort, net aan my, Vrou Matra.”

“Jy droom lekker,” sê Ben. Hy kan insien dat die vrou definitief nie genade sal hê met haar werkers nie. “Ek sal jou stop,” sê hy.

“Ag, asseblief tog,” skree Matra, en lag kliphard.

Ben en Sharlien kan nou sien dat sy beslis nie heeltemal normaal is nie en dit sal beteken dat hulle baie versigtig met haar moet werk.

“Jy my stop? Ek wil dit sien. Twee kinders wat my probeer stop. Twee veertienjarige kinders wat nog nie skool verlaat het nie, wat nog niks ervaring het nie, wil my probeer stop! Dit sal nogal opwindend wees. Wagte, bring hulle na die energiedreineemasjien toe.”

Ben voel hy moet nog ʼn laaste keer probeer. “Wag, Matra! Ek het net nog een vraag,” roep Ben uit. “Nog een vraag, dan sal ek jou volg na die masjien toe. Hoe weet jy van die draakding?”

“Ek weet dit net,” antwoord Matra.

Skielik is daar ʼn groot bewing en ʼn verskriklike geraas en sien jy net rooi, blou, groen en swart ligte die kamer inkom. Dit is vasgemaak aan mannetjies wat teen mekaar baklei. Deur die stukkende mure sien Ben en Sharlien vreemde skepe gate in die ure skiet en gedurigdeur kom nog mense die gebou binne. Een van die missiele tref weer die basis van die vyand en hierdie keer gaan al die krag af.

“Ek dink hulle het die kragopwekker getref,” fluister Ben vir Sharlien.

Orals is dit donker Hier naby hulle sien hulle twee groen oë.

“Volg my,” sê die stem wat behoort aan die groen oë.

Ben en Shalien kom agter hulle albei is al losgemaak. Hulle volg die vreemde persoon na ʼn skip toe. Na so rukkie kalmeer alles. Die skepe vertrek en land op ʼn heel ander plek. Ben en Sharlien weet nie eintlik wat om te doen nie. Al wat hulle weet is dat hulle baie vriendelik gehelp is en dat die persone aan hulle kant is. Verder weet hulle nie. Dalk is hulle miskien nie. Dalk het die mense slegter bedoelings met die reddingstog. Wie weet! Al wat hulle weet is dat hulle baie bly is om uit daardie vrou, Matra, se hande uit te wees. Hulle het in elk geval nie die helfte verstaan van wat sy sê nie. Sy het definitief nie ʼn slegte selfbeeld nie.

Ben en Shalien besluit dat hulle maar die mense sal volg totdat hulle kan ontsnap. Voorlopig voel hulle in elk geval baie veiliger.

Die geselskap land op ʼn groot wit gebied en orals is duisende mans te sien. Nadat hulle geland het, gaan die deure van die skepe aan weerskante oop. Dis pikdonker buite. Twee soldate neem hulle na ʼn kamer toe in een van die geboue. Hulle word gevra om te sit. In die vertrek is daar net ʼn tafel en twee stoele en twee robotte bring vir elkeen ʼn bord kos en eetgerei. Die twee is al honger en hulle eet die vreemde kos, wat nogal heel lekker smaak. Hierna word hulle weer vergesel van die robotte na hulle kamers toe. Dit duur nie lank nie, of hulle is vas aan die slaap.

Intussen sit Oupa nog lekker in sy gemaklike stoel in ʼn groot vertrek met twee draakstandbeelde aan weerskante van hom.

“Meester, dink jy dis wys dat ons met Matra te doen kry?”

“Ek weet nie,” antwoord hy. “Dit is wel wys dat ons die twee oplei. Ek kan sien hulle sal goeie drake wees. Ek moet sê as dit nie vir hulle was nie, sou ek nooit geraai het dat daar ʼn basis onder die vuilishoop was nie.”

“Meester, jy het seker verwag dat die twee gevang sou word?”

“Ja, maar ek het nooit verwag dat hulle dit volkome kon regkry sonder om gesien te word in blote daglig nie. Dinge gaan begin rof raak.”

Terwyl Oupa so praat, kom daar ʼn jong meisie te voorskyn.

“Meester, die kinders is vas aan die slaap.”

“Marna, ek wil graag hê jy moet hulle begin oplei. Ons gaan hulle nodig hê. So ver ek kan sien, sal hulle miskien ons enigste hoop wees.”

Ben het intussen wakker geword en hy kyk rond in sy nuwe kamer. Aan die linkerkant van die kamer is ʼn wonderlike rekenaar en aan die regterkant ʼn groot skerm wat ʼn klomp inligting toon.

Skielik is daar ʼn kloppie aan die deur en ʼn robot verskyn. Dit bedien Ben met ontbyt, sy gunsteling-ontbyt, nogal! Hy word ook koffie gegee om te drink.

Sharlien het ook pas wakker geword en sy word ook so bedien met haar gunstelingontbyt.

Iemand binne die plek ken ons nogal goed, dink sy. Sy eet die kos en drink haar koffie.

Nadat hulle klaar geëet het, kom daar ander robotte in wat hulle na die aantrekkamers vergesel. Hulle word ook gewys waar die badkamers is.

Ben en Sharlien het hulle sommer tuisgemaak en die geriewe gebruik. Na so ʼn halfuur is hulle klaar en dit is net mooi die tyd wat Marna daar aankom. Sharlien en Ben, met hulle nuwe klere aan, vertoon tog te spoggerig. Sharlien dra haar hare los soos gewoonlik terwyl Ben net ʼn sonbril op het. Sharlien pluk ook haar eie sonbril uit en sit dit op haar neus. Op dié manier sal hulle ten minste nie kan lees wat ek dink nie, dink sy.

“Welkom aan boord Draak Hoofkantoor,” sê Marna. “Sal julle my asseblief volg?”

Sharlien dink toe ewe skielik aan iets. Sy wonder of die polisie nog op soek is na hulle. Sal die polisie hulle vind daar waar hulle nou is? Weet die polisie ooit van die plek? Sy sal darem vir die polisie kan sê dat hierdie mense nie na moeilikheidmakers lyk nie.

Dit lyk asof Marna wel kan lees wat Sharlien dink, want skielik sê sy uit die bloute: “Die polisie het op die oomblik probleme van hulle eie.”

“Hoe so? vra Ben.

“Wel, van vyfuur vanoggend af het mense ʼn skietery by die polisiekantoor begin en dit oorgeneem. ʼn Vreemde bende, of miskien selfs ʼn organisasie, is besig om die strate te oorheers. Moeilikheid is nou oral versprei. Laasnag se geveg het hulle verswak. Maar dit sal nie vir ewig hou nie. Hulle sal binne ʼn paar dae weer terug wees op volle sterkte, solank hulle net nog voorrade kan kry.”

“Wat ek egter nie kan verstaan nie, is hoekom het julle ons gered?” vra Ben. “Wat het ons gedoen om dit te verdien?”

“Jy vra ʼn goeie vraag,” sê Marna. “Ons het julle gered om twee redes. Die eerste een is omdat julle een van ons is en die tweede is, dit is wat ons doen. Ons het mense. Ons help hulle sover ons kan. Ons is hier om vrede te maak en die vrede te herstel en om te keer dat die wêreld oorwin word deur bose mense. Dis waarom ons hier is. Jy is deel van ons om vrede te herstel. Maar eers moet julle leer hoe om julle kragte te gebruik. Verder is julle die kleinkinders van die Meesterdraak. Maar nou eers genoeg gesels, volg my.”

Sy lei hulle na ʼn groot kamer met allerhande toerusting in. Vir drie dae lank leer hulle hoe om te veg en hoe om hul energie en kragte te gebruik. Tussenin eet en drink en slaap hulle. Maar die meeste van die tyd leer hulle hard. Die derde dag voel hulle wel moeg, maar versterk.

“Nou goed, julle het goed gedoen,” sê Marna. “Ek dink dit is tyd dat julle na julle ouers teruggaan. Ons het wel ʼn verduideliking aan hulle gestuur.”

Die kinders bedank Marna. Toe hulle by die huis kom, vind hulle dat daar waar hul huis eers was, net ʼn groot gat is. As Ben moet skat is daar seker honderd of tweehonderd huise beskadig. Lyke lê oral versprei. Ambulanse ry rond en probeer soveel moontlik mense help.

Wat het hier aangegaan? wonder hulle albei.

Hulle besluit om eers gou te gaan inloer by Oupa. Toe hulle instap by sy huis, is daar weer eens geen geluid nie. Hierdie keer weet hulle egter van die geheime vertrek en gaan dit binne.

Hier sit sy ouers en Oupa, gelukkig, heel beskerm en is hulle bly om mekaar weer te sien.

  • Chantal

    Laat my dink aan die fliek ‘Eragon’ met die drake.