NEWE-EFFEKTE VAN NAVORSING – Dr. John C. Strydom

NEWE EFFEKTE VAN NAVORSING – 2009 © Dr. John C. Strydom

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 077 woorde)

 

John StrydomHoogwyse Stipu strek hom lui uit en kyk om hom rond. Die ontmoeting was stimulerend en uitdagend en terug by die onmiddellike omgewing moet hy nou eers weer verslag skryf. Hy vryf oor die seneel (sensoriese paneel) en sy stoel verleng en lig hom byna regop. Wanneer sy voete grond raak, stap hy uit en neem by sy lessenaar plaas. Hy roep die verslag op waaraan hy werk en dikteer verder. Die robotassistent flikker groen om aan te dui dat stemherkenning volledig is en dat elke woord opgeneem en vasgelê word.

Stipu is een van die sterrewyk se kundiges op die gebied van resonansie: ʼn verskynsel wat al eeue lank bekend is, selfs in terme van fisika goed nagevors is, maar nou in ʼn ander verband intensief nagevors word. Die hoogwyse is een van ʼn paneel van kundiges wat navorsing gedoen het en hoewel die proewe ongelooflik interessant was en selfs verbasende resultate gelewer het, bly daar nog tergende raaisels oor.

“Die proewe bewys dat resonansie ongetwyfeld bewys kan word en selfs tot ʼn mate beheer of ingespan kan word, maar in sekere gevalle, sonder ooglopende rede, meer aktief of doeltreffend skyn te wees terwyl dit in ander gevalle, verrassend genoeg, glad nie werk nie, ten spyte daarvan dat sintelmodelle (sintetiese intelligensiemodelle) positiewe gevolge voorspel het. Die resultate is egter van groot waarde en ek stel voor dat navorsing voortgesit en selfs uitgebrei word omdat volledige kennis van die onderwerp geweldige groot implikasies het op onder andere die veiligheid van die sterrewyk.”

Stipu staak sy diktering en dink terug aan die afgelope twee Centaur-semesters se navorsing en die gepaardgaande frustrasies. As wetenskaplike is hy daaraan gewoond om behoorlike beplanning te doen vir sy navorsing, sodat die resultate selde afwyk van wat hy reeds verwag het. Hierdie keer was hy egter net gedeeltelik reg. Vir sover hy reg was, was dit een van die mees bevredigende tye van sy wetenskaplike lewe. Selfs die onverwagse gevolge was geweldig uitdagend en stimulerend, al was dit rasend frustrerend.

Hy stap terug na sy stoel, laat sy hand op die paneel rus en sak behaaglik terug. Die stoel “ontvang” hom en sak stadig terug na die vooraf verstelde gunstelingposisie wat dit vir elke gebruiker “onthou”.

Die verslag waarvan hy so pas ʼn gedeelte gedikteer het, is slegs van toepassing op sy spesifieke navorsingsveld. Resonansie is lank reeds bekend en verwys na die versterking wat plaasvind wanneer meer as een golf van feitlik enige soort op so ʼn manier sinkroniseer dat ʼn sterker golf daaruit volg. In musiek is dit bekend, so ook in die ingenieurswese, weerkunde en vele ander terreine. Daar is in die geskiedenis selfs vele gevalle bekend waar brûe en hoë geboue vernietig is omdat wind hulle laat “resoneer” het totdat hulle uitmekaar gespat het. Baie bloed is al so gestort tydens die inwinning van kennis t.o.v. resonansie. In die eerste jare van die lugvaart is vliegtuie van destyds beskadig wanneer sekere oppervlaktes tydens vlug begin resoneer het omdat die lugvloei sekere frekwensies van beweging veroorsaak wat soms resoneer en selfs tot invlug skade kon lei.

Stipu ontspan geleidelik en dink terug aan sy eerste kennismaking met resonansie. Hy was ʼn jong “vrye student” (jong kinders in hierdie sterrewyk het die keuse om “vrye studente” te word deur van jongs af geen formele onderrig te ondergaan nie, maar letterlik vryelik hulle tyd aan ʼn studieveld van hulle keuse te wy) en was saam met Labi by ʼn demonstrasie van klankresonansie as wapens.

Labi was ʼn jong vroulike vrye student uit ʼn aangrensende sterre-orbitaal. Sy was duidelik verstom oor die gevolge van suiwering van frekwensies uit gewone agtergrondklaslawaai wat parallel teruggespeel is en ontsettende kragtige gevolge gehad het wanneer sekere materiale in die klankveld geplaas is. Die resonerende frekwensies het letterlik vernietiging van sekere voorwerpe tot gevolg gehad en die uitstalling het daarop gesinspeel dat gesuiwerde en versterkte klank letterlik gebruik kon word om reiskapsules te vernietig, of aankomende elektromagnetiese aanvalsgolwe te stuit, of so het die twee jong besoekers dit in elk geval verstaan.

Wat Stipu egter dieper geraak het, was die manier waarop hy en Labi mekaar feitlik sonder inspanning kon beïnvloed met “gedagtes”: Dit was asof hulle kon “uitsaai” wat hulle dink. Stipu was ʼn leerling met ʼn belangstelling in sintetiese intelligensie en het besef dat enige energie in die vorm van golwe uitgestraal kon word, soos hitte in infrarooi golwe, energie in vele vorme van bestralings en golwe vir kommunikasie in die vorm van mikrogolwe en andere. Hy het ook geweet dat die menslike brein golwe uitstraal wat al vir eeue meetbaar was en is vir vele doeleindes gebruik is. Dit was dus nie vir hom vreemd om te dink dat gedagtes “uitgesaai” kon word nie. Daar was egter struikelblokke: die verlies aan die energie in golwe was meesal dramaties. Daar was meesal logaritmiese verswakking in die energie van die golwe vir verdubbeling van die afstand vanaf die oorsprong van die golf. Dit was dramatiese verswakking! Tog was daar getuienis dat mense mekaar kon beïnvloed met sekere gedagtes, of selfs sekere boodskappe kon “stuur” oor baie lang afstande. Hierdie verskynsel is ESP (ekstra-sensoriese persepsie) genoem in die eerste jare nadat dit opgemerk is.

Stipu glimlag effe wanneer hy dink aan die jare na hierdie eerste ontmoeting met Labi. Sy was ʼn doelgerigte en ywerige student en het hom selde gesien. Sy het geweldig opgang gemaak in die veld van energie en het grootliks daarvoor gesorg dat “batterye” ontdek is waar energie in astronomiese hoeveelhede in wentelbane in die vrye heelal voorgekom het. Dit word gestoor waar dit in sekere geslote siklusse beweeg totdat dit “vrygelaat” word. Hierdie newels is massief en weens die rotasie van energie in hulle kerne was dit onmoontlik om hierdie ontsaglike bronne van energie op te spoor of te gebruik totdat Labi “doopkoorde” ontwerp het wat gedeeltelik in die newels ingewentel kon word om deur middel van magnetiese induksie onbeperkte hoeveelhede energie te tap. Dit het die hele bekende heelal op ʼn ongekende skaal beïnvloed.

Die invloed van hierdie ontdekking op Labi was nie net positief nie. Sy het wel beroemd, geliefd en gewaardeer geword, maar omdat die goedkoop energie vir meer as net goeie aanwendings beskikbaar geword het, het sy dikwels gevoel dat sy die oorsaak was van baie oorloë, anneksasies en ander gevolge van menslike swakheid. Sy het af en toe aan Stipu gedink en hy het dikwels “ontvang” dat sy besig was om hom “op te soek”. Hy het haar dikwels by sulke geleenthede per leposkoop geskakel en sy het telkens bevestig dat sy kort voor die skakeling aan hom gedink het.

Stipu het as gevolg van hierdie verskynsel begin wonder oor meganismes waarop hierdie kommunikasie plaasvind. Elektromagnetiese golwe kon dit nie wees nie, hulle verval te vinnig en kon teoreties slegs oor uiters kort afstande doeltreffend werk. Hy het aardhonde en mense in eksperimente gebruik waar die mense deur uiterste inspanning en oefening in tegnieke inligting aan die honde kon oordra deur middel van “gedagtes”. Wanneer twee mense redelik goed bekend was aan mekaar, of emosioneel baie naby aan mekaar was, was kommunikasie op hierdie manier maklik, maar dit was nie vir almal beskore nie. Stipu was in ʼn doodloopstraat!

Twee Centaur-semesters gelede het dinge skielik verander. Stipu het weer “bewus” geword van Labi en pas nadat hulle per leposkoop gesels het, het hy aan hulle eerste ontmoeting by die verdedigingsuitstalling, toe resonansie verduidelik is, sit en dink.

In hierdie ontspanne oomblikke het die gedagte by hom ontstaan dat ESP dalk afhanklik was van resonansie. Dit sou staande denkfrekwensies benodig, sowel as konsentrasieperiodes wat lank genoeg moes wees om golwe afkomstig van die “sender” en dié van die “ontvanger” in sinkronisasie te laat vibreer. Maar meer was nodig. Oordrag oor lang afstande sou relatief groot vlakke van golfenergie verg, veel groter as wat ʼn menslike brein kon genereer. Sou resonansie dalk hierdie rol kon vervul?

Stipu het begin beplan. Hy sou begin deur mense te vind wat afasies kon kommunikeer. Hy sou dan die frekwensies moes meet wat hulle deel en dan die energie bepaal wat die golwe dra. Die navorsing was interessant en uitdagend, maar redelik voorspelbaar. Hy het die frekwensies gevind. Hy kon dit meet, naboots en hy kon bewys dat mense só kon kommunikeer, selfs oor lang afstande heen. Hy kon redelik gou bewys dat sommige golwe baie meer energie as standaardbreingolwe besit en hy het vermoed dat dit deur resonansie versterk is. Maar dit het nie altyd voorspelbaar gewerk nie en dit is waar Stipu nou vasgevang sit.

“Stipu, ek is op pad na Migna vir ʼn beraad oor energieregulering deur verantwoordelike onttrekkers en het gewonder of ek jou kan nooi vir ʼn sessie in die alfaruimte?” Die leposkoop het pas sy aandag getrek en hy is bly om Labi se beeld daarop te sien.

“Ek sit juis en tob oor my eie probleme. Dit kan ons net goed doen!”

Die alfaruimte is geleë naby die pool van Stipu se tuisplaneet, sodat die lig altyd sag en vriendelik is. Die ruimte se halfdeursigtige dak dra by tot die atmosfeer, maar wat dit werklik besonders maak is die dekor van die binneruim: die sintetiese agtergrondklank (vanaf ʼn growwe, ontspannende vibrasie tot ʼn hoë frekwensie wat die brein ontvanklik maak vir genesende voorstelle en optimale werking) en die feit dat mineraaldrankies daar bedien word volgens ʼn vooraf ontleding van besoekers se mineraalstatus op daardie besondere tydstip.

Stipu en Labi neem plaas op twee gelsfere en trek ʼn akoestiese skerm oor hulle. Na ʼn paar minute is hulle totaal ontspanne.

“Stipu, ek het jou hulp nodig. Ek werk aan lang-golfdraers van energie om ons produk te straal tot waar dit benodig word. Ek onthou dat resonansie baie effektiewe oordrag bevorder, maar ek weet van geen golf wat veilig sowel as doeltreffend is nie.”

“Labi, ek ontvang baie meer as net hierdie versoek!”

“Ek dink aan te veel ander dinge. Ek is jammer!”

“Nee, daar is geen negatiewe energie nie! Ek ontvang ook jou herinneringe aan ons eerste blootstelling aan resonansie en die ander uitstalings op die skerms. Jy herinner my dus weer aan die feit dat walvisse op die planeet aarde bekend is vir die feit dat hulle oor geweldige afstande kan kommunikeer. Onthou jy die beeldmateriaal?”

“Nie duidelik nie. Wat onthou jy?”

“Net dat hulle baie lae frekwensies gebruik het. Daar was ook die sogenaamde Orania-beginsel wat beroemd geword het nadat die stad ontdek het dat die naasliggende rivier gebruik kon word vir kommunikasie. Die fisiese eienskappe van die water is gebruik vir die dra van ultralae frekwensiegolwe.”

“Wel, ek onthou weer dat die energie- en kommunikasieseine gelyktydig deur metaalgeleiers gedra is op dieselfde planeet. Dit kom uit my eie navorsing oor metodes van energievervoer.”

“Labi…” Stipu het sy oë oop en lyk behoorlik of hy die toekoms wil inbeur.

“Stipu..?”

“Ek vind dit nou baie moeilik om te ontspan! Ek gaan die kinetiese opwekking bietjie aandraai, dan sit ons nog ʼn rukkie.”

Die volgende paar tyddele word ʼn warboel van inkomende gedagtes, kommentare en gelag ontvang! Stipu het nooit daaraan gedink om die draers van sy subtiele boodskappe by ultralae frekwensies te soek nie en Labi het aan verskeie alternatiewe gedink: hoekom kon gebruikers nie na die energiebron toe kom nie en hoekom kan die doopkoorde waarmee sy energie onttrek nie ook naby sterre gebruik word om energie aan net daardie ster se planeetskyf te verskaf nie? Hoekom kan resonerende klankgolwe nie aangepas word om energie te dra nie?

“Labi, jy het aan alles nou genoeg. Is dit nie tyd dat jy dit oorweeg om te vestig nie?”

“Jy’s ʼn mooi een om te praat!”

“Dalk, ja. Maar as ek sien hoeveel beter ons op kort afstand gedagtes oordra, kan dit dalk vir die heelal baie voordele inhou!”

“Stipu, ek dink die atmosfeer beïnvloed jou! Kom ons gaan eet eers. Dalk kan ons nog vir ligjare lank saam resoneer!”

Die gevolge van hierdie besluit was dramaties. Die grootste probleem van hierdie tydvak (in die ou taal die 27ste eeu) was hoe om die menslike brein genoegsaam te stimuleer. Die oordra van al die beskikbare feite en ook die stimulasie van vrye denke is oneindig verbeter nadat die egpaar ʼn metode gevind het om laefrekwensie klankgolwe te gebruik as “draergolwe” om feitlik onbeperkte hoeveelhede inligting aan die brein oor te dra. Van toe af sou die enigste bottelnek vir ontwikkeling die vermoë van robotte, rekenaars en masjiene wees om uitvoering te gee aan nuwe en oorspronklike planne.

  • Chantal

    ‘n Baie intelligente verhaal.