OUMA DU TOIT SE STORIE – Martin van der Watt

OUMA DU TOIT SE STORIE – 2009 © Martin van der Watt

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 951 WOORDE)

 

Sy sien haar ouma sit voor die groot venster. Haar ouma lyk klein, oud en moeg in die hoek van die groot kamer. Die vertrek is minimalisties, modern gemeubileer, klinies skoon en pynlik netjies.

“Ouma, wat kyk Ouma so by die venster uit?” vra Nikon.

“Ag, Ouma se dierbaarste klein Konnie, altyd as Ouma Vryheid, ons vierde en kleinste maan sien, verlang ouma so baie terug na die ou aarde waarvandaan ons mense moes vlug. Die aarde was ook blou. Die mense het dit soms die blou planeet genoem. Die burgers het almal saam besluit om die vierde maan Vryheid te noem sodat ons altyd sal onthou wat ons verloor het op die aarde en dat ons dit nooit weer sal waag prysgee nie.”

“Ouma, vertel my asseblief weer die storie van die aarde.”

“Ag nee, man, dis sommer ʼn ou hartseerstorie. Gaan speel eerder met jou maats.”

“Almal is saam met hulle ouers na die groot Vryheidsfees. Hoekom kan Pa en Ma ons nie ook na die fees toe vat nie?”

“Ai, my arme ou kind. Dis moeilike goed dié vir ʼn kind om te verstaan, ek weet. Maar jy moet probeer verstaan. Jou ouers beklee baie belangrike poste in ons ver ruimtevloot. Hulle moet seker maak dat daar geen ander ruimtetuie is wat ons planeet nader nie. Na die vernietiging van die aarde was daar baie ander nasies wat hulle op ander planete gevestig het. Op van die planete was onbekende virusse, gasse en ander ongediertes wat hulle lewe nou versuur. Ons Afrikanermense het met die Vierde Groot Trek besluit om ons op die kleinste en verste planeetjie te vestig. Dit was ook eens ʼn woestynagtige plek, maar omdat ons die planeet mooi bestuur het, het dit gou in ʼn pragplek verander, nes die Orania van ouds. Nou is daar baie nasies wat ons van ons planeet wil beroof. Dis nou presies 200 jaar na die Engelse ons die eerste keer van ons eie grond verdryf het. Ai, ek wens eendag sal almal ons nasie in rus en vrede laat.”

“Ouma is reg. Dis moeilike goed om te verstaan. Vertel my asseblief tog die storie van die begin af toe die Engelse ons wou verdryf en hoekom hulle dit wou doen?”

“Ai, kinders sal ook maar kinders bly, selfs tot op die verste planeet, Tetara. Ek het my ouma net so verpes soos wat sy haar ouma verpes het totdat sy die storie vertel het soos dit waarlik daar met hulle gebeur het. My ouma het dit so vertel:

“Ek onthou nog goed hoe Ouma in haar stoel gesit en hekel het. Sy was al amper heeltemal blind, maar sy het die mooiste lappies gehekel. Tannie Miems sê sy het in braille gehekel, so voel-voel met die vingerpunte. Ma sê Ouma het met haar hart gehekel. Ouma was nog een van die regte Boere. Van die oorlog se tyd af. Sy kon die mooiste staaltjies vertel. Staaltjies wat jou hart so warm gemaak het dat jy sommer wou lag en hande klap van lekkerkry. Ander weer was wreedaardige stories van die oorlog. Dit was laat een agtermiddag, nadat ek haar aanhoudend verpes het om vir my die storie te vertel van ons familie tydens die Anglo Boere-oorlog. Sy wou eers nie en ek wat toe maar nog net ʼn kind was, het aangehou en aangehou totdat sy uiteindelik ingestem het.”

Ouma skuif haarself reg in haar stoel. Want vir die oumense van daardie tyd was storievertel eintlik ʼn belangrike saak. Sonder om op te hou hekel maak sy haar keel skoon en begin vertel.

“Dit was ʼn wonderlike lentemôre. Soos ek dit onthou, een van die wonderlikste dae wat jy jou kon voorstel. Ons het goeie reëns gehad en die veld was ruig. Ek het onder die groot boom langs die huis met my ou poppie gesit en speel. Daardie oggend kom daar ʼn groepie mans by die huis aan. Daar was ʼn opgewonde geskarrel op die werf om die gaste te verwelkom, hulle tuis te maak en hulle perde te versorg. Dit was geen snaaksigheid dat al die gesiene manne van die kontrei Pa kom besoek het nie.”

Ouma se oë helder op as sy effens regopper sit en entoesiasties voortvertel.

“Hy was ʼn wyse man. Hy was ʼn dapper man. Hy was ʼn harde man. Jy moes gewees het om uit niks, met niks, ʼn spogplaas op te bou tot een van die vernaamstes in die ganse republiek. Die heel beste in albei die republieke. Selfs beter as enige iets in die kolonie. Soos gewoonlik het Pa, oom Koos de la Rey en die ander mans om die groot stinkhouttafel in die kombuis gaan sit. Ek was altyd so nuuskierig om te hoor wat die mans alles gepraat het, maar ek was gesê om buite te loop speel. Pa was ʼn man vir wie jy geluister het. Heelwat later het Ma en Pa uit die pragtige Kaaps-Hollandse huisie gekom en vir ʼn oomblik op die stoep bly staan. Pa se skouers het gehang. Toe hulle oor die werf stap, lyk dit vir my of Pa sy voete sleep. Op daardie oomblik het ek geweet daar was groot fout. Ek onthou ek het my poppie styf vasgedruk en agter hulle aangeloop.”

Ouma se oë blink, eerder van hartseer as van blydskap.

“Ek onthou hoe Pa meteens kleiner gelyk het, meer bedeesd, sonder die vuur in sy hele houding. Amper soos ʼn gewone man. Pa se stem het ʼn onbekende bewerigheid gehad toe hy Ma vertel het dat oom Koos de la Rey perde kom opkommandeer het vir die oorlog.

“Nee! Nee!” het Ma gepleit.

“Ek onthou haar woorde tot vandag toe nog asof sy nou hier staan en dit weer vir Pa sê.”

“Ek kan enige iets hanteer my man, net nie dit nie. Wragtigwaar net nie alweer ʼn oorlog nie! En wat van die kind?” het sy hom kwaad gevra.

Ouma laat sak haar naaldwerk en staar na ʼn ou verbleikte wit-en-swart gesinsfoto teen die muur. Dit het my altyd opgeval dat nie een enkele persoon in die foto geglimlag het nie.

“Ek was baie bang en hartseer. Ek het gedink Ma het van my gepraat daardie dag.”

Ouma tel haar hekelwerk weer op. Sy voel-voel met haar vingers. Haar lippe beweeg terwyl sy die steke tel. As sy weer op dreef is met die hekelwerk, dan kyk sy weer na my en gaan voort.

“Later daardie selfde dag nog is Pa saam met oom Koos de la Rey en die ander mans weg. Baie bitter jare het pynlik verbygesleep voordat ek Pa weer gesien het. Maar laat ons nou nie die storie vooruitloop nie. Laat ons maar by die begin begin en hom so van ʼn kant af deurdraf.

ʼn Paar maande het verbygegaan tot daardie een oggend. Dit was baie vroeg, nog donker buite, toe daar ʼn geklop aan die deur was. Nee, dit was meer soos ʼn gehamer asof iemand die deur wou afbreek. Die tyding was droewig. Die boerelinies was oral besig om te breek.

“Gou, Tannie gou, pak net klere en vlug!” het ʼn vuil jong man vir Ma beveel.

“Die jong man was een van ʼn groep wie se taak dit was om al die boervroue op die plase te waarsku. Hulle was onmiddellik weer op pad.

Ma het alles gereed gekry vir die groot vlug, maar sy het gesê sy gaan g’n voet versit voordat ʼn Rooie nie op haar skiet nie. Drie dae later het die hemelruim rooi gehang van die stof. Klein groepies Boere het om die uur op die werf aangekom. Een vuil jong boer het Ma fisies in die perdekar probeer tel. Sy het hom met ʼn vuishou reg in die gesig getref wat hom amper terug na die werklikheid geruk het. O, maar het sy hom uitgejou.

“Jou geelgesig nikswerd hensopper! Trap van my grond af jou rooi hans-khaki!”, het sy geskree.

Ouma kyk na my. Sy glimlag effe maar nie te veel nie.

“Daardie aand was daar ʼn nare stilte aan tafel. Elke nou en dan kon ʼn mens die dreuning soos donderweer hoor weergalm teen die rante. Ma het vir ons uit die Bybel gelees en ons bed toe gestuur. My broers en suster het anders as gewoonlik nie gekla nie. Ek kon nie daardie aand aan die slaap raak nie. Laat in die nag het ek Ma gesien sit met die Bybel. Sy het gelees en trane het oor haar wange geloop. Die kers was al op sy laaste. Toe sy my sien het sy my nader geroep.

“Hoekom huil Mamma?” het ek gevra.

“Ag, verlang sommer na Pa.”

“Ek ook”, het ek erken.

Sy het my vasgedruk en ek het sommer dadelik beter gevoel, warm en veilig. Maar die hartseer wou net nie wyk nie.

“Die volgende oggend het my oorle’ broer Johannes, wat ons Klein-Piet genoem het, die laaste goedjies begrawe. Nie eens vyftig tree van hom af nie het die grond meteens ontplof. Die slag was so hard, en die aarde het so geruk, dat ek neergevel was. Ek het gedog my broer was dood.”

Ouma knyp haar oë styf toe en skud haar kop. Haar stem bewe meer as gewoonlik. Sy hou op met hekel.

“So ʼn dag het ek nooit weer belewe nie. Alles op die werf was deurmekaar. Terwyl Ma die kar inspan en Klein-Piet sukkel met die koeie, dreun die aarde van kanonvuur. Ons was net bo teen die rantjie uit toe die Rooies op die werf aankom. Ma het gesê ons moet wag. Ma se hele lyf het begin ruk. Sy het haar hand oor haar mond gesit, maar sy kon haarself nie keer om hardop te begin huil nie. Toe sien ek waarom. Hulle het die pragtige ou huisie wat Pa-hulle self gebou het, onseremonieus aan die brand gesteek. ʼn Jong ossie wat Pa-hulle grootgemaak het vir Kersfees het hulle net daar doodgeskiet en gelos. Toe hulle sien daar is niemand op die werf nie, het hulle weer op hul perde geklim en in ons rigting gery. Nadat ons oor die rantjie was, het ons hulle nie weer gesien nie.

Ons het die heeldag getrek. Ma het nie maklik kwaad geword nie. Sy kon sag praat en geduldig bly al was sy kwaad. Klein-Piet was toe so omtrent elf jaar, as ek reg onthou. Hy het heeldag en aldag gepraat van die penkoppe. Dan het Ma hom hard berispe. Klein-Piet het elke aand vir ons ʼn vuur gemaak. Die meeste dae het Ma vir ons ʼn tarentaal of ʼn paar patryse geskiet, soms ʼn haas. Partye aande was daar niks. Daar was darem altyd ʼn bietjie melk.

Vir maande vlug ons voor die Kakies uit in ʼn perdekar, met ʼn paar koeie en agt van Pa se beste perde. Ma was ʼn moeilike meisiemens, so het Pa altyd gesê. Ma sou tien jaar voor die Rooinekke kon uitvlug, maar die hensoppers en die hanskakies het dit bitter moeilik gemaak. Gereeld het hulle ons weggegee en dan moes ons weer vlug. Later het ons nooit vir langer as ʼn dag op een plek gebly nie.

Ma het na haar suster toe gevlug. Maar toe ons daar aankom, was die huis reeds verbrand. Die vroue en kinders moes ook vlug, maar het toevallig teruggegaan om te gaan kyk of daar van hul besittings was wat hulle kon red. Daar het Ma geboorte gegee aan Kleinsus, dis nou oorle’ tannie Hes. Drie dae later was daar ʼn groot woordestryd omdat Ma op was, aangetrek en die ander beveel het om die kar in te span. Ons het na Ma geluister, maar die ander vroue wou nie saam met ons trek nie. Hulle het gesê Ma was onverantwoordelik om met ʼn pasgebore baba te vlug en dat haar kind veiliger sou wees in een van die kampe. Dit was seker die kwaadste wat ek Ma nog ooit gesien het, al het sy sag gepraat.

“Ek begrawe haar eerder in die veld, ʼn vry mens, as om haar in ʼn Engelse kamp te sien vergaan.”

Ma het nie weer daardie dag ʼn woord gesê nie.”

Ouma sug. Sy laat haar hekelwerk sak en vat ʼn slukkie van haar tee. Haar ou bewerige vingers voel die steke af. Dan begin sy weer hekel en vertel verder.

“Op ʼn dag het ons ʼn wa met ʼn rooi kruis op die se seil genader. Ma sou dit nooit gewaag het nie, maar Kleinsus wou net nie ophou huil nie. Ons was amper by die wa toe ʼn twintigstuks man uit die wa spring en op ons begin skiet. Ma het vir Klein-Piet gesê om om te draai. Met dié korrel sy en ʼn kakie val. In die rowwe jaagtog val Kleinsus uit die kar. Slegs ʼn week oud. Klein-Piet draai die perdekar op ʼn tiekie en jaag terug, reg op die kakies af. Die kar was nog aan die beweeg toe Klein-Piet spring. O, dis ʼn nare geluid. Ek sal dit vir altyd onthou, die geluid wat ʼn kakiekoeël maak as hy stukke hout van die perdekar kloof. Teen die tyd dat Klein-Piet weer vir Kleinsus veilig in die kar gehad het, het ten minste nog vier kakies geval. Tot vandag toe nog weet ons nie hoekom nie, maar die kakies het nie opgehou om ons te jaag nie. Eers nadat Ma nog ʼn stuk of ses kakies platgetrek het, het hulle die aftog geblaas.

Ma was vuil en moeg, maar haar oë het altyd geblink van hoop en dapperheid. Dit het egter verander. Ma het verander. Twee jaar van veldkos en vuil geskeurde en dikwels nat, koue klere, is ʼn baie lang tyd. Dit was asof daar geen meer lewe in Ma was nie. Haar geliefde land, die Republiek van die Oranje-Vrijstaat was swart en bitter. Letterlik en figuurlik. Swart lyne het oor Ma se wange gelê soos die trane oor die roet geloop het. Die spogplaas Bronkhorstfontein was vir ewig verlore, selfs die ou huis wat Pa self gebou het was heeltemal weg. Ons gesin het alles verloor. Nie net ons huis en ons geboortegrond nie, maar ook familie-erfstukke van onskatbare waarde. Baie het oorspronklik van Frankryk af gekom saam met die Hugenote. Ons het teruggegaan na die ou huis maar daar was niks. Van die goed wat ons begrawe het, was daar slegs enkele artikels nog bruikbaar. Die oorlog het te lank aangehou en die meeste goed was tot niet. Drie jaar onder grond doen geen meubels goed nie. Ons het vriende en familielede verloor. Mans, vrouens, ma’s en pa’s, kinders, broers en susters. Maar die grootste verlies was dat ons ons vryheid verloor het.

ʼn Enkele traan rol stadig oor ouma se wang.”

“Sien, so het my ouma vertel,” sê Ouma terwyl sy weer na Vryheid staar, na vryheid smag en na haar geboortegrond op die planeet Aarde verlang. “Jy sal seker nie verstaan nie, maar dalk sal jy tog, want Afrikanerbloed pols ook deur jou are, al sal jy nooit Suid-Afrika ken nie. Dit was eens ʼn wonderlike plek. Nou is Tetara, die klein planeet met die vier groot mane ons nuwe tuiste. Vir jou en jou nageslagte sal dit ʼn wonderlike plek wees, as ons mense net nooit weer hul vryheid verloor nie. Jou pa en ma doen baie belangrike werk om te verseker dat dit nooit weer gebeur nie. Ek hoop jy kan verstaan klein Nikon.”

“Ja Ouma. Ek verstaan. Ek hoop niemand kom ons pla op ons planeet nie. Ek gaan ook soos my pa en ma, oupa en ouma, en die ou regte Boere veg vir ons planeet en ons vryheid.”

Trane wel op in Ouma se ou seer oë wat steeds na Vryheid staar.

“Ai, my kleine ou Konnie. Jou ouma verlang so na die goeie ou dae, houtmeubels en egte leer. Boeke van papier en verbleikte kiekies teen die muur. Ag, sommer die natuur. Die diere en die lekker dae wat ek as kind op die aarde gehad het. Hier is dit ook lekker maar Orania en die mense daar sal maar altyd ʼn besonderse plekkie in Ouma se hart hê.”

“Ouma, dalk kan ons eendag weer teruggaan Aarde toe en die aarde regmaak, net soos ons met Tetara gemaak het en daai plek waarvan Ouma gepraat het, uhm, Orania, nê Ouma?”

“Dit sal wonderlik wees, my kind, maar Ouma sal die plek nooit weer sien nie. Maar as dit gebeur moet jy jou kleinkinders ook Ouma du Toit se storie vertel, hoor.”

“Beslis Ouma. Selfs as ek nooit die aarde sien nie, sal ek hulle die storie vertel.”

“Dis goed so,” sê Ouma sag. “Gaan speel nou. Kinders moet kind wees en nie te veel oor die soort van goed dink nie.”

Okay, ek gaan nou Ouma,” antwoord Nikon en stap uit Ouma se kamer waar sy steeds na die blou maan staar.

Boodskap van die skrywer af:

Die verhaal het ek geskryf soos dit aan my oorvertel is deur my ouma Hester van der Watt (nooiensvan Du Toit). Sy was die baba wat in die verhaal uit die perdekar geval het. Ek het geen rede om te glo dat enige van die inligting wat ek by talle bronne kon kry, nie die waarheid is nie. Verskeie ander persone in ons familie het feite bevestig, soos bv. die plaas se naam, dat slegs enkele artikels behoue gebly het nadat dit opgegrawe is en dat die baba gebore is tydens die oorlog in 1901. Ook dat sy uit die kar geval het terwyl die kakies hulle gejaag het. Ek poog met die stuk om ʼn brokkie familiegeskiedenis te verewig en om die nageslagte te herinner aan die onreg wat die Afrikaner toe en vandag moes verduur in hul strewe na vryheid.

  • Chantal

    Goed geskryf, maar dit is bietjie langdradig.