HADES – François de Vos

HADES – 2010 © François de Vos

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 198 woorde)

 

Francois de VosKaptein Chris Lichthelm staar aandagtig na die vlugdata voor hom. Oor presies een aardse uur styg die Orandia van Orania af op op waarskynlik die gevaarlikste tog wat hy ooit aangepak het.

Sag in die agtergrond speel Holst se bekende Jupiter en die Planete. Chris se blik val op sy drie bemanningslede. Die beste wat daar is, dink hy, een vir een met die hand uitgesoek. Hulle moet die beste wees want om Hades sonder handskoene aan te pak, is om moeilikheid te soek.

Regs van hom in die stoel van die medevlieënier en tweede in bevel sit luitenant Lizl Becker, ’n briljante ruimtevaarder. Sy is maar vier en twintig jaar oud maar beskik onder meer oor ’n doktorsgraad in Argeologie. Om Hades diep in die ingewande van Europa, Jupiter se ysmaan, aan te pak moet jy oor ’n goeie kennis van yskonstruksies beskik. Lizl het dan ook maande op Antarktika deurgebring om yslandskappe te bestudeer.

Jaco de Villiers sit skuins agter Chris. Hy is pas veertien jaar oud, maar wat hy van vuurstelsels op ’n ruimteskip weet, moet baie ander nog leer. Die Orandia beskik oor van die modernste vuurstelsels beskikbaar. Sy hiperkragtige laserkanonne kan op ’n afstand van duisend kilometer ’n vyandige ruimteskip tot as verpoeier. Dit dring ook deur vier kilometer harde rots.

“Iets wat ons dalk op Europa nodig gaan hê,” mymer Chris.

Die kernkanonne stel die Orandia in staat om reuse asteroïriderotse uitmekaar te laat spat. Ook iets wat die Orandia nodig gaan hê want op die reis na Jupiter sal ’n paar sulke asteroïdestorms hulle pad kruis. Chris glimlag as hy daaraan dink dat hy nog twee ander kragtige wapenstelsels aan boord het. Hulle is splinternuut en nog nie in ’n werklike gevegsituasie getoets nie. Die onderonsies met ruimterowers sal hulle moontlik die geleentheid gee.
“Jaco, is ons twee nuwe wapenstelsels gekalibreer?” vra Chris.

“Ja, Kaptein. Die ultrasoniese stelsel gaan heelwat krag vereis, maar ons spaarkernmotore sal daarvoor opmaak. Ons versterker vir die stuur van hiperkragtige telepatiese seine werk soos ’n bom.”

Chris se oë val trots op die derde bemanningslid. Dit is die vyftienjarige Marike, sy dogter. Marike sit met intense konsentrasie voor die Orandia se kragtige rekenaars. Haar taak is om die beste roete na Jupiter uit te werk. Dié reuse planeet lê vierhonderd en sestig miljoen kilometer ver en hulle moet oor veertien dae daar wees. Tussenin lê ’n paar hekkies om oor te kom: van die berugste asteroïdestorms bekend en ruimterowers wat onbeskermde ruimtetuie aanval.

Marike is van kleins af gefassineer met verkenning in die ruimte. Sy het haar pa dikwels op sy ruimtesendings vergesel en gou die geheimenisse van ruimtenavigasie bemeester. Haar belangstelling in ruimtemagnetisme het meegebring dat sy opgeneem is in die navorsingspan op Orania se wêreldbekende ruimtenavorsingsentrum. Die span het die moontlikheid ondersoek om ’n magnetiese straal te rig op ’n magnetiese bron in die ruimte en dit as medium te gebruik om teen duiselingwekkende spoed na daardie bron te reis. Twee jaar gelede is die deurbraak gemaak en is die Orandia daartoe in staat om teen asemrowende snelheid na ’n magnetiese bestemming te reis.

“Jupiter is nie ’n slegte bestemming om die Orandia se vermoë om teen groot snelheid te reis finaal te beproef nie,” dink Chris. “Dit is die sonnestelsel se grootste planeet en beskik oor reusagtige elektromagnetiese velde. Die reis na Jupiter is dus een van die mindere probleme om Loki uit sy duiwelsnes te gaan haal.”

Chris se gedagtes dwaal terug na veertien dae gelede toe sy bevelvoerder hom na die interstellêre hoofkantoor op Orania ontbied het. “Ons intelligensiespan in Sektor 10 het Loki opgespoor,” sê kommandant Du Preez. “Hy het vir hom ’n feitlik oninneembare vesting vier kilometer onder Europa se yslaag ingerig. Die nuutste inligting dui daarop dat hy op die punt staan om ons telepatiese kommunikasiestelsel binne te dring en chaos in ons mense se breine te saai; trouens, hy kan dan daarin slaag om deur telepatiese kragte ons tot onderhorigheid te dryf en ons so sy slawe te maak.”

“Dit is so ironies,” antwoord Chris. “Loki was een van ons knapste wetenskaplikes. Sy deurbraak op die gebied van telepatiese kommunikasievermoëns kon hom wêreldberoemd gemaak het. Nou het sy gierigheid hom uit die gemeenskap gedryf en wend hy sy kennis van telepatie aan om sy duiwelse oogmerke te bereik.”

“Ons moet die man stop, en gou ook,” antwoord kommandant Du Preez. “Kies vir jou die beste bemanning en gaan rook Loki uit sy skuilplek uit. Daar moet ook niks van sy laboratoriums oorbly nie. Die Orandia is goed toegerus om Jupiter se elektromagnetiese storms te weerstaan. Jy sal die koördinate van Loki se vesting by Sektor 10 kry. Hulle sal jou ook bystaan as jy hulp nodig het. Ek dink daar wag ’n yslike verrassing op Loki as ons ons geheime wapen op hom loslaat!”

Jupiter en die Planete syfer weer deur Chris se brein. “Interessant,” dink hy, “dit is waarheen ons op pad is. Jupiter, die ‘planeet van vrolikheid’. Vrolik sal dit egter beslis nie gaan nie!”

“Ons het nog vyftien minute,” sein Chris telepaties na sy bemanning toe. “Lizl, is alle stelsels getoets? Marike, het jy die Orandia se magnetiese bron volledig op Jupiter ingestel? As alles goed gaan, behoort ons dan oor veertien dae om Europa te wentel. Jaco, het jy die klein probleempie op laserkanon nommer twee uitgeskakel? Ek het ’n gevoel ons gaan elke greintjie laserkrag tot ons beskikking nodig hê om Loki uit sy skuilplek te rook! Aangesien ons so naby aan mekaar is, sal ons tot verdere kennisgewing van telepatiese kommunikasie na radiokommunikasie oorskakel.”

Die Orandia is goed toegerus vir interstellêre reise. Dit beskik oor die nuutste allooie om reuse wrywingsvlakke te weerstaan en feitlik alle vernietigende strale uit die ruimte weg te weer. Dit beskik oor gerieflike slaap- en ontspanningsgeriewe en in die koskaste is heerlike vars vleis, groente en vrugte. Om net van pille te leef, is daar geen sprake van nie! Daar is ook ’n goeie voorraad gesondheidsdrankies. Moderne oefenapparaat sal hulle fiks hou. Die nuutste ruimtepakke sal hulle in staat stel om onafhanklik van die Orandia af weg te beweeg.

“Orandia, jy het sestig sekondes voor opstyging,” kom die stem uit die beheertoring. “Alle luike is dig gesluit en julle volle magnetiese straal is op Jupiter gerig. Veilige reis!”

“Dankie, Beheer,” antwoord Chris. “As alles goed verloop, is ons met die volgende volle maan terug.”

Die Orandia se reuse motore begin zoem, gevolg deur ’n skerp fluitgeluid as die tuig se magnetiese verbinding met Jupiter inskop. Die volgende oomblik styg dit met ’n duiselingwekkende spoed op en binne sekondes word die beste en kortste roete na Jupiter ingeslaan. Teen die derde aardse dag moet Marike ’n koersverandering uitwerk om die eerste asteroïriedestorm te vermy. Dit is egter skaars gedoen of die Orandia se alarms skril skerp.

“Kaptein, ons sal hierdie asteroïdestorm nie kan vermy nie. Ons sal ons pad moet deurskiet!” waarsku Marike.

“Dankie, Marike. Jaco, dit is nou die tyd om ons nuwe ultrasoniese stelsel te toets. Maar hou die kernkanonne gereed as voorsorgmaatreël.”

“Reg, Kaptein!”

Met Marike se hulp kry Jaco die koördinate om die beste pad deur die asteroïdestorm te skiet. As die ultrasoniese rigters hulle werk doen, sal dit van die rotse wat kilometers in deursnee is, uitmekaar laat spat!
“Ek wag op u bevel, Kaptein!”

“Goed, ek begin aftel: Tien, nege, agt, sewe, ses, vyf, vier, drie, twee, een – vuur!”

Weer begin die Orandia se kragopwekkers te loei en die volgende oomblik sidder die tuig as kragtige ultrasoniese golwe die ruimte inskiet. Eers word ’n kleinerige rots verkrummel, dan ‘n reuse een van vyftig kilometer in deursnee.

“Kaptein, hier is nog twee reuse rotse in ons pad! Het ek toestemming om die een aan die linkerkant met die ultrasoniese straal en die ander een met ons kernkanon te vernietig?”

“Maak so, Jaco!”

Weer sidder die Orandia. Eers blits die ultrasoniese straal uit, gevolg deur die knal van die kernkanon. Die resultaat is ongelooflik. Voor die bemanning se oë verkrummel die twee asteroïderotse tot poeier en die Orandia is deur! Die res van die tog verloop sonder voorval en kan die bemanning die geheimenisse van die diepruimte geniet. Hulle sien hoe reuse galaksies naderkom en weer agter hulle verdwyn. Dit is egter binne ’n dagreis van Jupiter af dat die Orandia se sirenes weer begin loei.

“Vyf onbekende tuie tweeduisend kilometer van ons af, Kaptein. Hulle beantwoord nie ons kommunikasiesein nie. Dit is beslis vyandige tuie!” waarsku Lizl.

“Dankie, Lizl! Wys ’n bietjie aan ons rowervriende hoe ’n warm straal lyk!”

“Reg, Kaptein! Jaco, op my bevel skakel jy die tuie van links na regs uit. Ons is nog ’n bietjie ver.”

Lizl hou haar laserkanonrigter dop. Die sekondes tik verby.

Op hulle skerms sien die bemanning hoe die ruimterowers met laserkanonne op hulle lostrek. Die afstand is egter nog te groot en die blou strale word maklik ontwyk.

Skerp kom Lizl se bevel: “Vuur!”

“Reg, julle duiwels! Nou sal julle voel wanneer ’n Boerseun op julle lostrek!” grim Jaco.Binne millisekondes van mekaar blits vyf dodelike blou strale uit die bekke van die laserkanonne uit. Die bemanning sien hoe vyf vyandige tuie op hulle skerms tot as verpoeier.

“Skote, Jaco! Ons Boerklonge kán mos van jongs af al akkuraat skiet! Al ons wapenstelsels werk puik en ek dink ons vriend Loki gaan gewis die kopseer van sy lewe kry!” prys Chris sy kanonnier. Op die veertiende dag sirkel die Orandia om Europa, Jupiter se ysmaan. Daar is die vorige dag met Sektor 10 geskakel en die presiese koördinate van die vyandige Loki se skuilplek is verkry. Lizl het reeds die nodige dieptepeilings van die yslaag met haar laserapparaat gedoen. Op haar X-straalskerm, vier kilometer onder die yslaag, staan Loki se diamantvormige skuilplek duidelik omlyn uit.

Skielik gryp die Orandia se bemanning na hulle koppe. Met oorweldigende krag dring ’n telepatiese stem uit die diepte van die yslaag uit: “Julle nietige aardlinge! Dink julle Loki gaan sommer so mak-mak oorgee? Hierdie telepatiese sein is maar nog op kwartsterkte. Binne sekondes gaan ek die sein op driekwartsterkte op julle rig en dan bars julle breine uitmekaar! Dit sal julle aardse leiers wys dat daar nie met Loki gespeel word nie! Presies oor vier uur rig ek hierdie sein op volle sterkte op die aarde. As julle leiers nie aan my eise vir 40 miljard Ora toegee nie, maak ek die hele aarde kranksinnig!”

“Lizl, aktiveer die beskermende skild teen die sein!” beveel Chris dringend. “Jaco, stuur ons eie telepatiese sein op volsterkte na Loki se vesting uit, gou!”

Soos ’n goedgeoliede masjien reageer die Orandia se bemanning op hulle kaptein se bevele. Die resultaat is dramaties. ’n Pynkreet kom op hulle telepatiese klankstelsel deur as Loki die volle krag van die Orandia se laaste geheime wapen voel. Dan volg die pynkrete van al Loki se trawante wat saam met hom in Hades, die mitologiese naam vir die hel, skuil.

“Kom ons rook hulle uit hulle rotnes!” beveel Chris. “Jaco, brand ’n gat deur met die laserkanon tot by die skuiling en wag dan op my bevel voor jy die kernkanonne daarop rig! Lizl, stuur ’n telepatiese ultimatum aan Loki. As hy nie binne tien sekondes oorgee nie, vergaan sy vesting in vuur en swael!”

Voordat die tien sekondes verstreke is, kom die telepatiese sein: “Ek gee oor!”

Loki en sy tien trawante word met ’n magnetiese straal na die Orandia toe opgehys, waar hulle stewig geboei in ’n tronksel ingeboender word. Die Orandia rig sy volle vuurkrag van kernkanonne op die Hades-vesting en binne sekondes bly daar net die puin van gesmelte metaal, elektroniese toerusting en Loki se duiwelse geheime oor.

Chris laat Loki voor hom verskyn.“Jy, met jou wonderlike talente kon die aarde nog ’n beter woonplek gemaak het. Hoekom het jy verkies om jou rug daarop te draai?”

Sinies en uitdagend kom die antwood: “Daar is tog net een antwoord: Mag! Julle swakkelinge dink julle kan met mooi wette en tradisies regeer. Daar is net een manier van regeer en dit is deur vrees. As jou onderdane jou vrees, kan jy suksesvol regeer. En dan breek ek al hulle wil af. Ek maak hulle lief vir heerlike sappighede soos ongehoorsaamheid en losbandigheid. Ek neem hulle liefde vir standvastige en opbouende dinge weg. En dan laat ek hulle soos slawe vir my werk – ek regeer volkome. So vloei die rykdomme en die weelde in en ek beheer hulle siele!”

“Jy vergeet een ding,” antwoord Chris. “Die kwaad is lankal deur die goeie oorwin. Daar is ’n skerp Lig wat die kwaad steeds wegskroei. So lê jou duiwelsnes daaronder reeds in puin en jy sal vir die res van jou lewe weggebind lê waar jy nie die kans gaan kry om weer jou duiwelswerk te verrig nie.Dit is só ironies, dat jy die mooiste van mane, Europa, moes kies om jou Hades te bou. En nou lê dit daar, gevries. Baie gou sal Europa se ys weer die wond heel en niemand sal weet dat jy jou onderwêreld daar wou skep nie!”

Die volgende dag stuur Chris die Orandia se neus in die rigting van die aarde, waar die helder Lig steeds oor Orania waak.

  • Chantal

    Hierdie verhaal is baie intelligent. Goed geskryf en vol aksie!!!