DIE HERBERG – Malinda Thompson

DIE HERBERG – 2011 © Malinda Thompson

VOLWASSE FANTASIE (6 181 woorde)

 

Dis ’n volmaakte lentedag. Die son skyn sag deur die bome se blare. Die diere in die woud soek sonkolletjies op om van die koue skaduwees te ontsnap. Kleurvolle skoenlappers fladder heen en weer. Klein pelsdiertjies baai hulle in die sonstrepies en vergeet vir ’n oomblik om weg te kruip.

In die stroompie wat deur die woud vloei, blink die water vandag ekstra helder. Kleurvolle vissies swem in die musikale stroompie en die moeë reisiger moet vir ’n oomblik sy hand stil in die blink water hou, wag vir die vissies om weg te swem, voordat hy die water in sy bakhand na sy gesig bring en die koelte daarvan teen sy warm gesig spat.

In die smal grondpaadjie skommel ’n koets agter twee trotse perde deur die vriendelike woud. ’n Aantreklike jongman hou die leisels met groot konsentrasie in sy hande. Langs hom sit sy nuwe vrou met haar hande in haar skoot en staar droomverlore voor haar uit.

Sy dink aan die meters sy en satyn, kant en linne en tafsy in die koets en in haar gedagtes gooi sy reeds die materiaal op die bed uit sodat haar susters en moeder kan kyk en voel en bewonder. Sy kan reeds hul uitroepe hoor en dit laat die opgewondenheid en afwagting in haar groei. Sy ken die woud goed en weet dat dit nie meer lank is voordat hulle by die koninkryk se hekke gaan wees nie.

Gerha se broers het reeds begin kleistene maak en wanneer hulle terug is, gaan al die mans in hul koninkryk begin bou aan hulle huis. Die vroue gaan vir dae lank sit en gordyne soom. Ook tafeldoeke en bedlinne en natuurlik is daar ook materiaal vir rokke.

Vandat Gerha en Bea gebore is, het die twee families gehoop dat hulle hegte vriendskap eendag op ’n huwelik sou uitloop. Vir almal in die koninkryk was die vriendskap tussen die fraaie Bea met haar wit krulle en wye glimlag en Gerha met sy amper swart sielvolle oë en kunstenaarshande altyd ’n vreugde om te aanskou. Hulle was onafskeidbaar.

Langs die helder stroompie sou hulle vir ure sit, hy sou tekeninge op leiklippe uitkrap terwyl sy hom sou vermaak met haar rympies en stories van helde en heldinne uit ’n ander wêreld en tyd.

Almal in die koninkryk het hulle geken en het van hulle gehou. Vroue sou graag by Gerha aanklop om mooi prente op die mure in hul huise te verf en menige jongman sou by Bea kom aanklop vir ’n minnelied om ’n jongmeisie se hart te verower.

Op ’n helder herfsdag het Gerha en Bea langs die stroompie gesit en hy het nie soos gewoonlik tekeninge uitgekrap nie, hy het net met sy hand herfsblare opgeskep en dit weer doelloos tussen sy vingers deur laat val. Bea het ongemaklik stilgebly, in haar het die wete haar skielik selfbewus gemaak. In sy oë het sy ’n vuur sien brand wat sy nog nie voorheen gesien het nie. Toe sy hand oor hare vou, het haar hart onbedaarlik geklop en kon haar oë nie sy blik verduur nie. Sy het afgekyk en dieselfde vuur in haar binneste voel brand en met bewende lippe het sy gewag dat hy moes praat.

“Ek min jou,” was al wat hy gesê het, maar sy het die duisend woorde daaragter reeds geken.

Haar oë het vir ’n oomblik na hom gefladder en toe het sy weer afgekyk.

Ten spyte van die bewing in haar liggaam, het sy kalm geantwoord: “Ons moet die priester gaan sien. Daar’s nie baie tyd voor hierdie vuur ons gaan verteer nie.”

Gerha was bly oor haar woorde. Hy weet Bea voel soos hy en hy weet sy begeer hom net soos hy haar begeer, maar hy weet ook dat sy baie gelowig is en tot hul huweliksnag wil wag.

Hand aan hand het hulle by haar huis gekom waar haar moeder en susters besig was om aandete te berei. Haar blosende wange het hulle dadelik van vreugde laat uitroep. Hande is aan voorskote afgevee en rokke is opgeraap om almal saam na hul pa te hardloop, wat besig was om ’n stoel in die tuin heel te maak.

Hy het die nuus met blydskap verneem en sy woorde aan Gerha was: “Nou is ek ook ’n seun gegun.”

By Gerha se ouerhuis was sy pa en broers op pad huis toe en hulle het die nuus met ’n harde gejuig aangehoor en Gerha is dadelik deur sy broers geroskam en toe hoog in hul arms opgetel en na hul wagtende moeder toe gedra. Sy het haar seun omhels en toe haar arms om Bea gegooi en haar lank vasgehou.

’n Droom is bewaarheid.

Die priester is genader en die troue is gereël en omdat twee edelmanne se kinders in die huwelik bevestig is, is daar dae lank feesgevier. Die bruidspaar het die feesvieringe gou verlaat en in Gerha se ouerhuis kon hulle uiteindelik die vuur blus en kon hulle een word.

Bea word meteens uit haar droomwêreld geruk wanneer hulle deur die woud is en op die bultjie tot stilstand kom wat op hul koninkryk uitkyk. ’n Diep frons keep op Gerha se voorkop en hy spring rats van die koets af. Bea gryp ook haar hart vas as sy in ’n waas van die koets afklim.

Voor hul oë ontvou ’n gruwel wat hulle lewens in ’n oogwink vir altyd verander.

Die koninkryk van Caboa lê in puin. ’n Inboorlingstam het in die twee jongmense se afwesigheid verwoesting gesaai en almal uitgemoor.

Die koninkryk van Caboa is bekend as ’n vredeliewende koninkryk met ryk edelmanne wat in swierige huise woon. Hulle is uitgesproke teen geweld en in Caboa lewe almal in harmonie saam. Hulle lewe nougeset volgens die voorskrifte uit die Groot Boek wat die priester Sondae voorlees en almal staan saam. Hulle het groot gesinne en die seuns haal al die edelstene uit waarmee hulle handel dryf en die dogters sorg dat die mooi huise skoon is en die geur van vars brood besoekers by die deur begroet. Die edelmanne reis graag na ander koninkryke en dryf handel om mooi goed vir hulle vroue te koop.

Die uitwissing van hierdie koninkryk was ’n sinnelose daad en dit sou deur alle ander koninkryke betreur word.

’n Rou kreet skeur deur die stil namiddag as Bea vooroor val met haar gesig in haar hande. Sy snik hartverskeurend en niemand in haar omstandighede sou anders as so verdrietig huil nie.

Gerha span een van die perde uit en ry hom bloots tot by die koninkryk. Wat hy daar gesien het, is vir ewig ’n geheim, want Bea wou niks weet wat daar gebeur het nie. En Gerha het dit diep in sy hart toegesluit om nooit weer oop te sluit nie.

Toe hy weer by Bea kom, het sy net in ’n bondeltjie sit en wieg en sy gesig het die spore van baie trane gedra en in sy oë was ’n leegheid en pyn wat niemand kon miskyk nie.

Hulle het aan mekaar vasgeklou soos die drenkelinge wat hulle was. Bea wou nie praat nie, sy wou nie opstaan nie, sy wou niks doen nie, sy wou eintlik ook maar net doodgaan. Sy het twee keer ’n halfhartige poging aangewend om haarself van Gerha se omhelsing los te maak, maar dan sak sy weer in sy arms neer en begin hulle opnuut huil. Saam met die skemer het die koue gekom en alhoewel hulle beide niks kon voel nie, het Gerha die perd teruggespan en het hulle na die grot naby die woud gery, die perde uitgespan en verder in die grot op ’n hopie gaan sit.

Vir vier dae het hulle daar gebly. Hulle het hul verdriet uitgegil, gepraat, hoekoms en waaroms oor en oor deurgegaan en so sonder dat hulle dit besef het, het hulle kalmer geword.

Dit was Gerha wat eerste die onderwerp aangeroer het oor hulle toekoms.

Die enigste ander koninkryk wat hulle gesien het, is die koninkryk van Pekiana, waar hulle al die fyn porselein en sy en kant vir hulle edelstene gekry het.

Bea het opnuut begin huil. Sy wil nie daar bly nie. Hulle is harde mense met leë oë wat net werk en handel dryf. Hulle wys nie hulle emosies nie en lewe sonder drome.

Gerha het eenmaal saam met sy pa na ’n ander koninkryk gereis en hy stel voor dat hulle daarheen gaan. Hy stel Bea gerus dat, alhoewel hulle bietjie soos die Pekiane lyk, hulle nie so hard voorkom nie.

In hulle koets pak hulle die reis na die onbekende aan. Die inhoud van die koets is nog onaangeraak, die perde is nog trots en blink, maar Gerha en Bea is net skaduwees van mense.

Hulle oë sit diep in hulle kasse en hulle velle span styf oor hul wangbene. Hulle klere hang los en vormloos oor hulle benerige liggame. Bea se hare hang vuil en onversorg oor haar rug en Gerha se hare hang in slierte langs sy gesig af, sy baard lank en wild.

Bedags skommel hulle lusteloos in die koets en snags lê hulle styf teen mekaar, maar die vuur wat die hele winter deur so hoog gebrand het, is dood. Hulle siele is so stukkend geskeur, dat benewens hartseer, hulle tans geen emosie ervaar nie.

Soms kom hulle ander ruiters teë en dan wissel Gerha gewoonlik ’n paar woorde. Dan vind hy ook uit dat hulle nog in die regte rigting op pad is. Nooit aanvaar hulle egter ’n uitnodiging nie. Hulle het niks om aan ander mense te gee nie en hulle is nog nie gereed om te ontvang nie.

Aanvanklik gaan maklik ’n dag verby sonder dat een van hulle ’n behoefte aan kos het. Wanneer hulle besef hoe afgetakel hulle liggame is, probeer hulle elke dag ten minste een keer eet. Dan sukkel hulle lank om die kos verby die knop in hulle kele te sluk.

Die hele tyd op die pad trek hulle nie ander klere aan nie. Bea se rok is geskeur en hulle klere is vuil, maar nie een het ’n behoefte om ander klere aan te trek nie.

Die woud raak al hoe digter en die son skyn warmer en dit reën ook elke dag en toe weet Gerha hulle is naby die nuwe koninkryk.

Hulle volg ’n poort deur ’n lowergroen berg en dan is die koninkryk meteens voor hulle.

Dis markdag en die pleine van hierdie klein koninkryk wemel van mense. Vir die eerste keer van daardie hartseer dag af, kyk Bea met belangstelling om haar rond. Die gewemel van mense met hul eienaardige hoedens en kleurvolle klere kan nie anders as om haar blik gevange te hou nie.

Gerha kyk ook rond, maar sy aandag is meestal by sy perde, hy sukkel om hulle deur die krioelende mense te stuur. Wanneer hulle deur die mark is, ry hulle deur talle eenderse klein huisies. Bea het gewonder hoe dit moontlik is dat al die baie mense op die markplein in hierdie klein koninkryk bly, maar nou sien sy hoe hulle dit regkry, almal bly in die kleinste huisies wat sy nog ooit gesien het.

Hulle sien ’n baie kleurvolle gebou en Gerha stuur die perde in daardie rigting. Die gebou is vir Bea glad nie mooi nie, dit lyk asof hulle alle verf wat hulle gehad het, op een gebou uitgegooi het. Sy dink aan Caboa se mooi huise, so anders as hier. Die dak het ook snaakse opkrul hoeke.

Hulle klim af om bene te rek. ’n Paleiswerker sien hulle en stap vrymoedig nader. Hy vra waarvandaan hulle kom en vertel hulle dat die gebou die koning se paleis is. Hulle is baie gelukkig, die koning soek ’n nuwe staljong en daar is werk vir Bea om naaldwerk in die paleis te doen.

Daardie aand slaap hulle in ’n klein kamertjie, met hulle koets onder ’n dak langs hul klein woninkie ingetrek. Hulle twee pragperde staan langs die koninkryk van Forsa se perde op stal en eet gretig hooi uit die voerbakke uit. Alhoewel Gerha en Bea geen begeerte gehad het om na hulself op hul reis te kyk nie, het hulle nooit vergeet om hulle perde goed te voer en goed te laat waterdrink nie.

Wanneer hulle aantree vir diens, herken die paleiswerker hulle skaars. Hulle is skoon gewas, het nuwe, heel klere aan en Gerha se gesig is glad geskeer en Bea se lang, koringgeel hare hang in ’n lang vlegsel tot by haar middel.

Gerha is goed met die perde en onder sy flinke hand word die effens gehawende perde ook blink en trots soos sy eie twee perde. Hy sny ook jong gras vir die perde wat hulle nie alleen volrond maak nie, maar ook van hulle gelukkige perde maak. Wanneer die koning op ’n dag in die stalle kom, ken hy sy perde nie.

Bea sit bedags saam met die ander naalwerksters en some inwerk of nate van klere toewerk. Die huishoudster sien dadelik dat haar stekies veel fyner en egaliger is as die ander werksters s’n  en gou kry Bea al die koningin se klere om reg te maak.

Die koningin is so tevrede met Bea se werk dat sy haar op ’n dag laat roep. Op dieselfde dag as wat die koning Gerha laat roep. Die twee kom tegelyk by die trappies wat na die paleis opgaan aan. Die koning is reeds in die ontvangsaal wanneer hulle deur ’n lakei ingelei word. Die koning is besig om sy visse in die reuse vistenks teen die mure kos te gee.

Wanneer hy hulle sien, verduidelik hy dat hy hierdie werk deur niemand anders laat doen nie. Die visse is sy passie.

Net op daardie oomblik kom die koningin in.

Bea en Gerha word genooi om te sit en die koningin neem teenoor hulle plaas.

Hulle word geprys vir hulle goeie werk en die vriendelike woorde laat hulle baie effens glimlag.

“Laat my toe om julle twee kosbare mense van ’n verre koninkryk te bedank vir werk van die beste, beste kwaliteit! Ek ag my so gelukkig om ’n werkster van jou gehalte, vrou van verdriet, in my paleiskamers te kan hê! Jou steke is fyner as enigiemand in Forsa se beste steke! O, die vreugde, die vreugde om jou werk te aanskou!”

Wanneer die koningin vir ’n oomblik stil is, kom die koning se stem onverwags: “Ons weet hier in ons koninkryk wat met julle gebeur het en ons weet ook dat julle twee die kinders van edelmanne is en dat om die werk te doen wat julle tans doen, ’n aanklag teen julle menswees is. Nooit het julle gekla nie, nooit het julle swak werk gedoen nie, trouens julle is ’n inspirasie en goeie voorbeeld so ver julle gaan. Ek onthou die goeie handelsbande wat ons klein koninkryk met julle koninkryk gehad het en voel dat ek julle wil help om ’n baie geringe mate van die glorie van julle vorige lewe te ervaar.”

“Wat sou julle wou bedryf?” vra die koningin.

“U Majesteit, ’n herberg” antwoord Bea tot haar eie verbasing en haar vinnige antwoord laat ook Gerha na haar kyk.

“Toe ons op pad was hierheen, het ek besef hoeveel werd ’n plek is om in veilig oor te slaap wanneer mens op reis is. ’n Veilige hawe vir moeë reisigers, as u wil,” brei sy verder uit.

Die koning glimlag: “Dis ’n uitstekende idée, beter as wat ek sou voorstel. En by ons koninkryk kruis vele ander koninkryke se paaie! Kosbare vrou van ’n verre koninkryk, nie slegs fyn steke het jy saam gebring nie, maar ook wysheid!”

Die koning onderneem om hulle met die oprig van die gebou te help.

Daardie aand, in hul klein kamertjie brand die vuur tussen hulle vir die eerste weer in baie maande. Wanneer hulle uitgeput teen die kussings teruglê, druk Gerha Bea styf teen hom vas en sê in ’n skor stem: “Ons lewe is aan ons teruggegee!”

In die dae wat volg, bou Gerha en ’n klompie messelaars soos besetenes aan die pragplek wat soos die huise in Caboa lyk. Die inwoners van Forsa hou die gebeure nuuskierig dop. Selfs die koning bring twee amptelike besoeke aan die halfklaar gebou.

Die koningin het ’n kamer in die paleis tot Bea se beskikking gestel en voor die groot venster soom sy gordyne en bedlinne van die sy, satyn en linne wat sy uit die koets haal, linne en sy en satyn wat vir hul huis in Caboa bedoel was.

Hulle werk aan ’n nuwe droom en die somber gesigte van die twee mooi jongmense lyk minder gespanne soos die dae verbygaan en die gebou vorm aanneem.

Met sy arm om Bea se slanke middel en haar kop teen sy sterk skouer aangeleun, staan en kyk hulle een aand na hul herberg wanneer die koning se koets langs hulle stilhou. Hierdie keer is die koningin by en sy en die koning stap saam met Gerha en Bea deur die mooi gebou met sy muurskilderye, herinneringe uit Caboa wat Gerha op die groot mure aangebring het.

Voor die vensters en op die beddens lê Bea se handewerk en wasskottels en spieëls en ander ornamente wat vir hul eie huis bedoel was, vind nou ’n plekkie in hul woning in ’n nuwe koningkryk.

Die koning knik net goedkeurend terwyl hy met sy pofferhande agter sy rug deur die huis stap. Die huis met sy sierlike gewels, groot vensters met houtluike en breë stoepe is so anders as die koning se bont paleis met sy tierlantyntjies wat aan kinderkuns herinner.

Die koningin het nog nooit Gerha se muurskilderye gesien nie en soos elke vrou is sy in verwondering daaroor. Sy bekyk elke skildery aandagtig en draai telkens met ’n simpatieke glimlag weg, sy kry ’n glimps van die lewe waaraan hulle gewoond was.

Die herberg bring die lewe in Gerha en Bea se oë terug en haar sonskynglimlag maak haar gou geliefd onder die inwoners van Forsa. Sy raak ’n gereelde gesig op markdae en met haar goue vlegsel en pragtige rokke is sy opvallend tussen die inwoners met hul enkelhoogte broeke, oorhang hemde en groot, ronde hoedens.

Besoekers het reeds van die eerste dag af by die herberg aangedoen en saans was Gerha en Bea op hul gelukkigste wanneer hulle die klomp honger gaste om die groot houttafel bedien het.

Gerha het ’n verskeidenheid drankies gestook en wanneer die gaste dit ingehad het, het hulle vrolik geraak en luidrugtig gesels en die atmosfeer in die herberg baie plesierig gemaak. Dan het Gerha en Bea na mekaar gekyk en gelukkig geglimlag.

Hulle het gaandeweg van hul verlange na Caboa vergeet en net soms sou Bea voor ’n muurskildery staan en sou ’n dolk deur haar hart steek en sou sy vir ’n oomblik snak na haar asem. Dan sou die verlange en onthou deur haar liggaam brand en sou sy haar voorneem om haarself die aand aan die slaap te huil.

Wanneer Gerha ingedagte, doelloos rondgedwaal het, het Bea geweet dat die verlange aan hom geknaag het. Dan het sy hom gelos, want sy het geweet dat geen woord of aanraking van haar hom kon troos nie.

Die inwoners van Forsa het ook soms saans om die houttafel kom aansit wanneer daar nie te veel gaste was nie en na ete sou daar baie keer ’n spontane konsert begin.

Die herberg was ’n aanwins vir die koninkryk, want reisigers wat voorheen net vir voedsel en water sou aandoen, bly nou graag oor en kom telkens terug, beplan hul reise so dat hulle in Forsa by Gerha en Bea se herberg kan oorbly. Dit het nie ongesiens by die koning verby gegaan nie en hulle sou dikwels met blink oë geskenke uit die paleis ontvang.

Ja, na baie hartseer was die lewe weer goed vir die twee jongmense.

Op hierdie soel somersaand sing iemand klokhelder in die verligte herberg. Gaste sit in ’n kring om die vleuelklavier en kyk waarderend na die pragtige Ajae terwyl haar donker kop oor die klavier buig en sy die mooiste klanke voortbring. Net af en toe kyk sy op na Suli.

Suli staan langs die klavier, haar kort hare blink in die lamplig. Haar lyf wieg ritmies op maat van die musiek. Haar gesig glinster van plesier en met haar arms uitgestrek, sing sy volksliedjies mooier as wat enigiemand anders kan.

Wanneer die laaste klanke wegsterf, vra die gaste vir meer, maar Suli kyk kokketerig na Armando, haar man en maak buig-buig verskoning. Armando vou sy kort, ronde arm liefderyk om Suli en lei haar weg. Hy waai met ’n beringde hand die goedige gespot van die ander jongmans weg.

Dan spits die jongmans maar hul aandag op Ajae toe, die beelskone en talentvolle klavierspeelster. Sy verdwyn gou tussen die jongmans in en Bea kyk goedkeurend toe. Ajae is vir haar veels te mooi vir enige van die jongmans van die koninkryk en sy hoop Ajae kan eendag deur een van die galante reisigers wat gereeld die herbeg aandoen, as vrou geneem word.

Sy hou Gerha dop waar hy in ’n diepe gesprek met ’n paar reisigers is. Haar hart swel van trots, Gerha is ’n wyse man en reisigers luister graag na hom, selfs die wat ouer is. Sy weet die gesprek kan tot die oggendure duur, maar wie gee om?

Haar glimlag verdwyn wanneer sy na Wolf kyk. Hy is ’n baie gereelde reisiger tussen sy eie koninkryk en ’n ander koninkryk. Wolf se koninkryk is sekerlik bekend as die mees ontwikkelde koninkryk en dwing respek af by elke ander koninkryk. Die slim en bekwame inwoners van Doja is baie hooghartig teenoor mense van ander koninkryke en handelaars word nooit in hulle vrolike feeste ingesluit nie. Net so toegewyd as wat hierdie nasie werk, net so toegewyd kan hulle feesvier.

Wolf het die onnoemlike gedoen deur vir hom ’n vrou uit ’n ander koninkryk te neem. ’n Koninkryk waarvan die inwoners ook bekend is vir hul ontwikkeling, hul hardwerkendheid en hul vernuf. Hulle is egter ’n nasie wat ook bekend is vir allerhande vreemde vegkuns en dit maak hul ’n ietwat ongewilde nasie.

Nori is nie welkom in Wolf se koninkryk nie, maar hy word in haar koninkryk goed ontvang omdat Nori se pa ’n persoonlike raadgewer van die koning is. Die huwelik was deur Nori se ouers aangemoedig en die koning het die inwoners beveel om Wolf te alle tye te laat welkom voel en omdat hierdie nasie ’n uiters gedissiplineerde nasie is, was dit presies wat elkeen gedoen het. Nori se ouers is hoog geag in hul koninkryk en word gerespekteer deur almal.

Wolf is nie so hooghartig as sy nasie nie en wanneer hy in Gerha en Bea se herberg oorbly, is hy altyd omring deur mense. Sy eie koninkryk kan hom nie verloor as gevolg van sy vernuf nie en hulle ontvang hom steeds met ope arms terwyl hulle weet dat sy huis nou in ’n ondergeskikte koninkryk is.

Ook Gerha en Bea onvang hom met vreugde by hul herberg en kuier graag saam met hom voordat die gaste te plesierig raak. Die rede hoekom Bea vanaand sonder ’n glimlag na hom kyk, is omdat sy sien hoedat hy plesierig met die vroue van Forsa kuier.

Bea beskou Nori as ’n vriendin en respekteer haar net soveel as vir Wolf. Sy weet dat hierdie toneel van Wolf en die vroue Nori diep sal seermaak.

Hoekom doen Wolf dit?

Hoe voel hy en Nori regtig oor mekaar?

Bea onthou hoeveel kere sy al pyn in Nori se oë gelees het. Was dit pyn deur Wolf veroorsaak? Alhoewel Wolf baie joviaal is, het sy hom ook al kortaf met Nori sien praat.

Daardie nag slaap Bea nie goed nie. Sy wil weet oor Wolf en Nori.

Die volgende oggend sit Wolf gesellig aan vir ontbyt. Soos te verwagte is daar niemand anders aan ontbyttafel nie. Daar is niemand anders wat Wolf se energie het nie, die ander gaste lê hul roes en uitslaap, maar Wolf is op sy pos.

Oor warm melk, brood en van die vorige aand se haaspastei gesels Wolf oor die plesierige aand. Hy prys ook die vroue van Forsa en vertel van al die stories wat hulle vertel.

Hy vra Bea of sy geweet het van die draak in die bos wat een maal ’n jaar uitkom. Het sy hom al gesien? Baie mense meen dat hulle het.

“Nee, nee my geëerde vriend, ek het nie en ek sal nooit glo dat iemand hom al gesien het nie. My hartsvriend, hoe kan so iets bestaan? Wie het hom tog al gesien?”

Wolf is haastig en wanneer Bea teleurgesteld vra of hy dan reeds op pad is, belowe hy met ’n galante buiging dat hy veel meer tyd gaan hê wanneer hy oor ’n week terugkeer.

Wolf is ’n man van sy woord en ’n week later hou sy koets weer eens voor Herberg Caboa stil.

Hy het ’n boodskap vir die koning en daardie aand word Wolf in die paleis onthaal en kom hy eers terug net wanneer die laaste musikante opgepak het. Hy neem gesellig langs die houttafel plaas en strek oor die tafel om die drankie nader te trek wat Gerha vir hom skink.

Vir ’n oomblik dink Bea dat sy Wolf vanaand oor hom en Nori gaan uitvra. Hier is niemand anders nie en hy is in ’n geselserige bui. Maar dan begewe haar moed haar weer eens en sy wuif hulle ’n goeie nagrus toe.

Die volgende oggend staan Gerha later as gewoonlik op en ook Wolf kom lank na hanekraai uit sy kamer uit. Hy strek hom behaaglik uit en glimlag breed.

Bea sit ’n beker warm melk voor hom neer en neem ook self plaas, haar hande om die warm beker gekelk. Sy vra Wolf uit oor sy tog en vra dan hoe dit met Nori gaan.

“Ek het aan haar ’n boodskap gestuur dat ek ’n paar dae hier gaan oorstaan. Daar sou gister ’n koets met goedere vir die koning hier verbykom en ek het gehoop sy kon ’n geleentheid met die koets tot hier kry, maar die koets is opgehou en ek weet nie of Nori op die koets is nie,” antwoord hy ietwat argeloos.

“My vriend van baie jare, vergun my een enkele vraag, ’n vraag wat die hart raak, maar wat jy tog kan antwoord. Jy weet ek kan geen oomblik rus as ek ’n onbeantwoorde vraag het nie. Hoe het dit dan gebeur dat jy en Nori van twee verre koninkryke bymekaar uitgekom het? Hoe kon dit tog gebeur dat julle kon ontmoet?”

“My vriendin van baie jare, dis tog eenvoudig. Ek het na haar koninkryk gereis om handelsbande te smee. As jy my ken soos jy sê, sal jy weet dat ek Doja se voorste handelskenner is. En Jakio is ’n welvarende koninkryk, goud is volop en edelgesteentes… ek hoef nie vir jou te vertel nie, my liewe Bea, jy weet self. Hulle is nie goeie uitvinders nie, maar hulle koop graag nuwe uitvindsels aan, hulle het goeie waardebesef.”

“Ag, gun my tog nog een vraag, ’n vraag wat brand om my lippe te verlaat en ’n vraag wat my vriend omseil, telkemale, telkemale. Wat kan ek doen om hom te oortuig om my te antwoord en so te antwoord dat ek tevrede sal wees, dat my hart sal bokspring. Hoe, waar, Wolf van die swart woude, het jy die wildsbokkie ontmoet, die slanke hert?”

“Ag, sal ek dit regkry om my getrouste vriendin se se angstigheid te stop met my antwoord. Bea, vrou van Herberg Caboa, ek wou ook oor hulle unieke swaardkuns uitvind en het Nori by ’n swaardmaker ontmoet. Die swaardmaker was die beste in Jakio en is haar oom. Hulle familie is nou verbonde aan die koning in Jakio en hulle het die huwelik nie teengestaan nie. Het ek aan jou genoem, hulle het goeie waardebesef? Is die antwoord enigsins bevredigend, Bea, beeldskone vrou van my beste vriend?”

“Wolf, jy is ’n wyse man, jy weet die antwoord is bevredigend, dit is wat dit is. Maar ek moet weet, my hart sal my oë geen rus gun as ek nie van jou, my vriend van baie jare hoor nie, was daar dan van liefde enige sprake?”

“Bea, jy ken die uitleg van hierdie raaisel, in haar koninkryk word huweliksmaats deur die ouers uitgesoek. Liefde is onbelangrik. Ek glo in ons geval was dit anders. Die huwelik was nie gereël nie, wel aangemoedig.”

“As die Wolf wat wei in die Swart Woude my nog hierdie vraag gun, sal ek jou vir ewig en altyd dankbaar wees. In jou koninkryk? Gereëlde huwelike bestaan nie daar nie, sê tog net ja of nee!”

Wolf lag hardop: “Dit sou ’n resep vir oorlog wees! In my koninkryk is almal baie wys, veral eiewys en niemand laat hulle voorsê nie. Omdat ons goeie dissipline handhaaf en deeglike besluite maak, realisties is, kies ons sekerlik meer met ons verstand as ons hart, maar ons maak goeie huwelike. Bea, vrou van my beste vriend, vra nog wat jy wil weet, ek is jou gewillige dienaar wat sal antwoord en antwoord met die erns waarmee ek my grootste take verrig, jy weet ek kan nie halfhartig werk nie!”

“Hoe kan ek dan nog ’n minuut langer wag, laat ek die vrae vra wat my in die donker nag op die bed laat rondrol en antwoord dan hierdie een, hoe dink jy het Nori gevoel oor jul huwelik?”

“My woorde sal jou nie verras nie, tog moet ek jou nou daaraan herinner, dis moeilik om haar te peil. Sy is grootgemaak om haar emosies te beheer en sy sal nooit haar ouers teëgaan nie. Hulle het haar goed onderrig en haar aan baie geleenthede blootgestel, sy is deeglik onderrig in die geskiedenis van baie koninkryke en sy praat die taal van ons koninkryk vlot.”

“Ja, ja, Wolf, man van my vriendin van ’n ander koninkryk, tog weet jy wat die vensters van my siel van jou pleit, kyk in my oë en jy sal die vraag daar lees, hoe het sy reageer?”

“Sy was ’n bang voëltjie. Maar sy was ook ’n sierlike swaan.”

“En jy, hoe het jy oor haar gevoel, hoe voel jy oor haar?”

“Ek het geweet dat my ouers diep teleurgesteld gaan wees. Maar my lewe is nie in my koninkryk nie. Ek het dadelik tuis gevoel in Jakio. Ek voel ek hoort daar. Ek voel lojaal teenoor my mense en wanneer ek ’n nuwe uitvindsel het, neem ek dit na Doja en maak dit nie in Jakio bekend nie.”

“Wolf, Wolf, hoe voel die mense van Jakio daaroor? Dink jy ooit in die donker ure van die nag oor hierdie vraag, sê my nou dadelik!”

Hy haal sy skouers op.

“Hoe kan ek tog ’n gesprek met jou voer? Jy is vir my ’n vreemdeling. Ek luister, maar hoor niks nie, ek sien, maar dit wil ek nie weet nie. Ek moet van jou lippe hoor, ek moet die woorde hoor wat my hart sal rus gee, anders is daar vir my geen nagrus ooit weer nie. Hoe voel jy oor Nori? Hoe voel jou hart wanneer jy haar sien, aan haar dink?”

“Laat die vreemdeling jou antwoord en laat ek weer jou vriend raak, laat ek weer blydskap in jou oë lees wanneer my koets voor jou herberg stop, asseblief, vergeef my en luister, ek sien ’n sierlike swaan. Ek dink aan haar trotse houding en ek voel ook trots. Maar ek weet ook sy is ’n klein, bang voëltjie en ek wil haar in my hand toevou en beskerm.”

“Hoe kon ek dink jy is ’n vreemdeling, vriend van my hart? Sal jy haar ooit seermaak?”

Hy haal weer net sy skouers op.

“Vir geen oomblik kan jy ons vriendskap so min ag nie. Woorde, my vriend van Doja, julle rykdom is woorde, moenie woorde van my weerhou nie, antwoord my dadelik en ek sal jou vergewe. Voel jy ’n vlam in jou binneste brand? ’n Vlam net vir Nori? Jy moet tog?”

“Ek voel daardie vlam brand, maar ek vertroetel hom nie, want ek kan nie weet of sy dit ook voel nie. Haar oë is versluier in die kerslig en haar hande loop ’n pad wat hulle geleer is.”

“As jy weet dat daar ’n vlam in haar binneste vir jou brand, sal dit jou vlam voed?”

“Dit sal ’n verterende vuur in my word…”

Hulle koppe swaai gelyk deur toe wanneer hulle ’n sagte snik hoor.

In die deur staan Nori se lang, slanke gestalte. Haar oe is pikswart in haar bleek gesig.

Bea spring op en omhels haar vriendin.

“Die koning se koets het baie laat aangekom…”

Terwyl sy praat, is haar oë op Wolf gerig.

Sy stap nader na hom toe: “Ek het nooit geweet dis hoe jy voel nie. Wie kon dink dat die Wolf wat in die Swart Woude wei, bang is vir die vuur van die wildsbokkie? Hoe kon die slim dier nie die vlamme sien nie?”

Hy slaan sy oë neer en sy kniel voor hom: “Ek word verteer deur ’n vlam wat brand vir ’n man wat met koue oë na my kyk. Sagte oë, maar koud. Hoe lank al wonder ek nie hoekom jy my as jou vrou geneem het nie. Jy kon nog nooit afsien van Doja nie, maar hoekom wil jy in Jakio wees? Nie vir my nie, nie vir my familie nie? Dan waarvoor? Maar die trotse swaan vra nie, dit weet jy wel.”

Sy staan op en gaan neem op Bea se stoel aan die oorkant van die tafel plaas.

“My prinses, alles in Jakio is, soos jy, vir my kosbaar. Ek voel tuis daar. Maar Doja is my verantwoordelikheid. Dis waar my ouers my verwek het, dis waar my vernuf gebore is en gegroei het, hoe kan ek daarvan afsien? Noudat ek weet van die vlam, nou kan ek Jakio ook as my familie beskou.”

Sy skud haar kop heftig: “Jakio wou jou vir jou vernuf hê, nie vir jou hart nie. My familie vergeet dat ek ’n hart het, maar ek het!” sê sy passievol en slaan op haar hart.

Bea staan versteen in die deur. Eers wanneer sy tot verhaal kom, wonder sy of sy hulle alleen moet los. Wanneer sy ’n beweging maak, kyk hulle beide na haar.

“Kom, stille toehoorder, vriendin van die Wolf en die slanke wildsbokkie, wees ’n getuie van ons nuwe lewe. Vandag, hier, in Caboa begin ons ’n nuwe lewe,” sê Wolf ook nou passievol.

Daardie aand sit Wolf nie soos gewoonlik tot laat en kuier nie. Hy en Nori is reeds vroeg na hulle kamer toe. Bea kan nie wag om vir Gerha alles van hul nuwe planne te vertel nie.

Wolf en Nori het ’n besluit geneem. Hulle gaan hul in Alpai vestig. Dis ’n koninkryk reg langs Doja, minder as ’n dagreis ver en hulle sal nooit weer vir sulke lang tye van mekaar geskei hoef te wees nie.

Bea sou nooit weer die hartseer in Nori se oë sien nie, Wolf sou nooit meer die bang voëltjie sien nie, hulle was gelukkig en hulle het hul nuwe lewe geniet. Caboa het hul veel minder gesien, want Wolf het nie meer tussen Doja en Jakio gereis nie.

Herberg Caboa het nou ook ’n nuwe doel gedien. Bea het ontdek dat sy oor ’n besondere gawe beskik om mense oor hul gevoelens te laat praat. En so het sy vele reisigers laat versoen met diegene met wie hulle nie kon nie, hout op vele vure gegooi wat lankal net as was, smeulende kole opnuut aangeblaas en harde kruike vol bitterheid laat oopbreek sodat verfignis vryelik kon uitvloei en oë wat dof was van laste, weer laat blink van nuwe lewe.

Sy sou nooit die smart van Caboa vergeet nie en toe sy op ’n somber, grou reëndag langs die graf van hul witkop seuntjie staan, het rou krete deur Forsa weerklink. Gerha het haar in sy arms toegevou terwyl sy oë soos stukkies gebreekte glas gelyk het.

Die inwoners het nie geweet hoe om te troos nie, maar hulle het saam getreur. Hierdie verlies was vir almal onverstaanbaar.

Vir maande het Gerha nie sy drankies gebrou nie en het Bea nie langs die houttafel gaan plaasneem om met gaste te gesels nie.

Hulle het nog nege ander kinders gehad en toe die somer aanbreek, het hulle die verdriet van die winter saam met die swaar klere uitgetrek en die son het weer in Herberg Caboa geskyn.

Onder die groot koeltebome het Gerha die dogters leer teken en die seuns geleer om met hulle hande te werk. Bea het hulle geleer om somme te doen en stories oor ander koninkryke aan hulle voorgelees.

Ajae het hulle geleer om klavier te speel en kort voor lank

het daar weer musiek in Herberg Caboa weerklink en kon die reisigers ’n skaterlag hoor.

Almal was bly alles was weer soos dit eens was, al was niks ooit weer dieselfde vir Gerha en Bea nie…

  • Chantal

    Jou verhaal is baie oulik, maar ek dink die rede hoekom dit langdradig is, omdat jy te veel verduidelik, soos byvoorbeeld:

    Jy praat te veel oor een soort ding (die muurskildery of oor Wolf en Nori), maar jou Afrikaans is van die boonste rakke. As jy jou verhaal oorskryf, dan sal jy jou foute raaksien.