DIE ROOI OOG – Martin van der Watt

DIE ROOI OOG – 2011 © Martin van der Watt

JEUGFANTASIE (4 643 woorde)

 

Geen van die wetenskaplikes het dit voorspel nie. Die ganse mensdom was nie eens bewus gewees van wat met hulle gebeur het nie. Hoe kon enige van hulle besef wat die impak sou wees as al die planete in ’n lyn lê soos die eeue oue Inca kalender gese het dit gaan wees. al die planete wat in ’n lyn lê saam met die maan, ook ’n unieke uitwerking op die aarde. En meer nog… op die onheil wat diep in die aarde se donkerste binneste vir soveel jare vasgevang was.

Die ongewone kragte het die ongediertes uit hibernasie laat ontwaak. Na so ’n slapie van ’n paar duisend jaar bou ’n man mos ’n geweldige eetlus op. ’n Paar van die dierasies het in dele van Amerika ontwaak, ’n paar in Australieë en enkeles in Noord-Afrika. Die grootste konsentrasie het in die Karoo ontwaak. Omdat daar min mense is, en baie skaap vleis, het daar heelwat tyd verloop voordat die mensdom van die gedrogte bewus geword het. Dis nou die wat lewend weg gekom het.

Vroegoggend kom die vragmotor tot stilstand by ’n vulstasie. Gerhard spring uit en strek homself uit. Jan, ’n ou man wat Gerhard se oupa nog indiens geneem het, is ’n goeie skaap boer. Hy sou self ook baie kon bereik in die lewe, maar nadat sy vrou en hulle klein baba seuntjie oorlede is tydens ’n ongeluk op die plaas, was Jan nooit weer ten volle mens nie. Jan is sommer dadelik heen om ’n ernstige nood te gaan verlig. Gerhard is geïrriteerd omdat die pomp die diesel so stadig in pomp en hy moet die tenk vol maak as hy nie weer wil stop nie. Wat hom pla is dat sy pa wou gehad het dat hy so vroeg as moontlik in Johannesburg moes aankom. Hulle moet ’n baie goeie prys kry vir die vrag skape want dit was ’n droë jaar en die bankmeester weier om hul enigsins verder te help. Nou dreig die bank om die plaas terug te vat. Al wat hy wat Gerhard is weet, is dat dit nooit mag gebeur nie. Hulle boer nou al vir vier generasies op hulle plaas Doorndracht.

Gerhard loop om die sleepwa en kyk dat alles nog reg is. Hy trap op een van die groot agterwiele vas en hys homself teen die sleepwa op. Hy kan nie veel in die donker sien nie maar alles lyk en klink in orde. Die ou diesel pompie karring-karring nog steeds die dieseltjies teen ’n senutergende stadige pas uit die groot tenk onder die grond. Gerhard loop so ’n entjie en staar op na die hemelruim. Dit is ’n heerlike aand veral na die koue en sneeu wat hulle so laat in die winter nog gehad het. Gerhard kyk op na die maan. Dan dwaal sy oë na die helder ster ’n entjie weg. Dit is ’n ster wat hy nie ken nie. Nie dat hy nou juis ’n kenner van die sterre is nie, maar hy en sy pa sit baie aande buite. Sy pa het altyd vir hom gesê, “My seun, dit staan in die Bybel, slaan jou oë op na die berge.

Hier by ons is nie berge nie so ons slaan maar ons oë op na die hemel.” Daar het hulle baie aande gesit en gebid vir reën, gewag vir ’n blou flits van verligting. Die helder ster ken hy nie. Hy wonder vir ’n oomblik of hy hom verbeel, want dit wil vir hom voorkom asof die ster se kleur verander. Dit word eers geel toe oranje. Hy staar aandagtig na die ster wat nou bloed rooi verkleur.

“Maar dit kan tog nie waar wees nie?” mompel hy.

“Kom Gerhard, jou pa draai ons nekke om as ons laat dag eers daar aan kom en jy weet mos die ou lorrietjie loop nie meer soos in die ou dae nie,” sê ou Jan agter hom.

Hy draai om, stadig, asof hy iets verskrikliks aanskou het.

“Wat is fout,” vra die verrimpelde ou man.

“Nee niks, klim dat ons in die pad kan val!” sê Gerhard met ’n kilheid in sy stem.

Die ou vragmotor kom stadig maar seker aan die beweeg. Nadat hulle weer by die hoofpad aangesluit het vra Gerhard half ingedagte, “Ou Jan, ek het nou ’n snaakse ding gesien. Daar was ’n helder ster en toe word die ster rooi. Dit het toe skielik geflikker en sommer net so weer opgehou flikker. Maar daar was iets eienaardigs aan daardie ster, dit was asof dit vir my gestaat kyk het. Wat dink jy kan dit gewees het hê?”

“Seker een van daardie sateliet-goete waarvan hulle so oor die draadloos praat.”

“Mmm, seker maar…” sê Gerhard baie skepties oor Jan se antwoord.

“Jy dink tog seker nie dis een van daardie vliegende pierrings nie,” terg ou Jan. Gerhard kyk na ou Jan. Op daardie oomblik vertrek ou Jan se verrimpelde gesig as hy begin skree “Pasop!” Gerhard sien voor hom in die middel van die pad staan ’n klein mannetjie. Hy slaan die ankers aan. Die vragmotor ruk wild heen en weer as die bande begin skree. Dit is te laat. Eers die harde slag, dan die dowwe geluide wat van onder die vragmotor kom vertel aan Gerhard dat die man nie meer kan lewe nie. Gerhard klim geskok uit die vragmotor en hardloop dadelik tot by die agterkant van die sleepwa.

Die vergruisde gedierte lê en kerm en skree so elke nou en dan van die pyn.

“Dit is ’n bobbejaan! Ek dog dis ’n mens,” sê Gerhard verlig aan Jan wat by hom aansluit.

“Kyk, dis ’n bobbejaan met vlerke.”

“Wragtag!” sê Gerhard verstom. “Die gedierte het ’n klein aapagtige lyf met ’n kop soos die van ’n wolf en ’n paar vlerke. Ek het nog nooit van so iets gehoor nie.”

As die gedierte sy laaste asem met een onheilige geroggel uit blaas, kyk Gerhard weg. Uit die hoek van sy oog sien hy ’n skaduwee beweeg. Hy kyk om hom rond en sien hoe die een gedierte na die ander neerdaal. Soos aasvoëls neerdaal by ’n karkas.

“Ou Jan, ek dink ons beter spore maak.” Ou Jan is al klaar aan te drawwe. Gerhard spring sommer so in die hardloop die vragmotor in. Met skok kyk hy reg in die borrie geel oë vas. ’n Mond vol slagtande is gereed om vleis te verskeur. Skaapvleis, beesvleis, mensvleis, dit is om te ewe. Gerhard skop met sy bene homself weg van die gevaar. Die dier spring hom agterna. Gerhard gryp aan die deur vas. Die dier wat in die lug verby trek se tande sny soos swaarde deur sy arm.

Terwyl hy daar aan die deur hang sien hy hoe honderde meer van die gediertes neerdaal. Die wêreld is gestrooi met wolletjies. Die sleepwa is leeg… Gerhard skop teen die vragmotor vas en swaai deur die lug terug die vragmotor in. Hy slaan die deur toe en draai die sleutel. Die ou diesel-enjin vat, maar is al proesende, asof dit Gerhard waarsku dat dit nog koud is en eers moet opwarm. Jan spring in en slaan die deur toe maar ’n wolf-kop met tientalle slagtande wat onophoudelik byt is in die pad. Jan trek hard aan die deur. Hy kan sien die dierasie is ongemaklik en die, probeer met sy kloue en pote vastrap plek op die vragmotor kry. Gerhard dink nie eens daaraan om te wag nie en hy trek weg. Van die gediertes kom sit voor die vragmotor in die pad. Gerhard gee vet en probeer van hulle raak ry. Die gediertes spring rats met hulle sterk agterbene uit die pad. Dan is daar ’n harde slag op die vragmotortjie se dak. Die dak duik eintlik in as een van die gediertes op die dak land.

Jan begin skree. Hy slaan die wolf-kop met die vuis. Tande breek en sny sy hand oop met elke hou. Dan tref ’n regter die wolf-kop teen die slaap. Die gedierte gly uit die vragmotor. Jan slaan die deur toe. Aaklige maer vingers met gruwelike lang naels peul by die deur in, maar Jan slaan die deur so hard toe, dat die deur wel toe maak. Jan druk benoud die deur-knoppie in. Hatende borrie geel oe gluur Jan aan. Die tande byt onverpoosd voort na die ruit. Rooi en wit skuim borrel uit die kwaai dierasie se bek.

Gerhard trap die petrol pedaal plat teen die vloer. Die vragmotor vermeerder spoed want al sit daar nog ’n paar dierasies op die bak, is daar niks van die vrag skape oor nie. Gerhard voel in sy broeksak, en gee dan vir Jan sy knipmes aan. Jan laat nie op hom wag nie. Hy sny hard oor die gedierte se vingeragtige kloue. Die dier se oë spoeg vuur, maar die se gesig verstrek egter in pyn. Die dierasie skree en ruk en pluk hard totdat sy vingers los is, om hard met die teerpad kennis te maak. Jan draai die venster styf toe.

“Gêrrie, wat de hel is die goed?” vra Jan bekommerd as hy Gerhard se knipmes terug gee.

“Is jy okay?” vra Gerhard, as hy sien hoe erg Jan se hande oopgesny is dat selfs die beendere sigbaar is.

“Ja” antwoord Jan stemmig, maar die “ek hoop so” wat volg is baie meer skepties.

“En jy” vra Jan as hy sien dat Gerhard se hele mou rooi is van die bloed.

“Ja, dis net ’n skrapie.” Gelydelik begin die gevoel in die wonde terug kom.

“Gêrrie, dit was eers nie te seer nie, maar nou raak die pyn erg hoor.”

“Ek voel dit aan my arm ook. Dis asof diere se speeksel ’n mens eers verdoof, dan verteer”

“Stop met jou twak. Kry my by ’n dokter!”

Die vragmotor verminder spoed.

“Wat doen jy nou? Kan jy nie sien ek moet by ’n dokter kom nie?”

“Die vragmotor word warm. Ek moet stadiger ry anders gaan ons staan.”

Gerhard kyk vlugtig na Jan. Sy oë is styf toegeknyp. Sy wange opgetrek.

“Jy moet vasbyt. Ek’s seker ons sal ’n dokter by die volgende dorp kry.”

Die vragmotortjie word steeds warmer en warmer tot die naald by die rooi merkie van kookpunt kom. Gerhard ry nog stadiger. ’n Entjie verder aan is die indraai van ’n plaas.

“Gaan hier in. Hier. Hans en Lenie Kruger” mompel Jan onderdeur die pyn.

Gerhard ry die plaashek plat en die vragmotor stop reg by die stoep van die huis. Die stoep is toegemaak met diefwering. Die huis se ligte gaan aan. ’n Ou man met ’n dubbelloop haelgeweer maak die deur oop.

“Gaan weg!” skree die ou man woedend.

“Kan ons in kom?” roep Gerhard nadat hy die venster ’n entjie af gedraai het.

“Bly waar julle is!” skree die man.

“Ons het mediese hulp dringend nodig!” Die ou man en die geweer ruk albei ewe veel. Die skoot is hard en weergalm tussen die huis en die vragmotor uit, die nag in. Na etlike tellings val ’n dierasie die duik in die dak selfs dieper. Pers bloed loop taai in ’n dun straaltjie teen die vragmotor se ruit af.

“Is jy reg Jan?” vra Gerhard.

“Vir wat”

“Ons moet hardloop”

“Waarheen”

“Die huis in”

“Is jy mal! Jy kan mos sien daai vent soek ons nie hier nie. Hy gaan nie die traliehek oop maak nie. Hy sal ons eerder vrek skied.”

“Ek glo nie!”

“Jy’s mal man.”

“Kom!”skree Gerhard. Hy maak die deur oop terwyl hy vir die ou man skree, “Maak oop! Ons kom in!” Gerhard spring uit.

Jan wil hom nog keer maar hy is klaar uit en die deur agter hom slaan toe. Jan se hart gaan staan amper toe die deur langs hom skielik oopgaan. Gerhard trek Jan uit die vragmotor. Jan probeer keer maar Gerhard dink nie meer nie, hy doen nou net. Hy gooi Jan oor sy skouer en hardloop die huis en die gewapende man tegemoet. Die ou man skuifel skuifel tot by die hek. Teen die tyd dat Gerhard by die hek aankom het die ou man nog nie eens die sleutel in die sleutel gat nie.

“’Sop!” skree die man. Hy laat die bossie sleutels op die vloer val en dan trek hy die sneller. Gerhard en Jan val altwee net betyds grond toe. Die skoot knal in hulle ore wat dadelik begin sing. Tog hoor hulle die doodsroggel van ’n dierasie minder as 10 tree van hulle af. Die ou man herlaai die haelgeweer. Gerhard kry die bossie sleutels deur die tralies beet. Hy staan op en sluit die deur oop. Hy help Jan in. Hy sluit die deur agter hom. Hy het pas die sleutel uit die slot gehaal toe nog ’n groot dierasie reg voor hom te lande kom. Met minder as twee meter tussen Gerhard en die dierasie in die lig van die huis en die vragmotor kan Gerhard die onding goed bestudeer. Hy kyk in die dier se oë. Gerhard stuier agteroor as die dier skielik op hom af pyl met bytende slagtande en ’n bek vol bloederige skuim. Die dierasie kom so vinnig vorentoe dat die se kop deur die traliewerk druk. Die dier voel skielik hy is vas. Wanhopig probeer die dier sy kop terug trek maar dit is vas.

n Skoot gaan weer af wat Gerhard se ore weer van voor af hard laat sing. Die dirasie is dadelik stil en gly stadig teen die traliewerk af tot op die grond by Gerhard.

“Kom in! Ek wil sluit!” bulder die ou man.

Met moeite kom Gerhard regop. Dit voel of sy linker bo-arm aan die brand is. Sy kop pyn. Sy knieë, elmboë en hande ook. As hy in die ou plaas huis is gee hy die bossie sleutels vir die man wat ongeduldig die deur sluit.

“Gerhard van Vuuren” groet hy beleefd soos alle goeie boeremense mos maar doen.

Die man gluur hom aan, draai om en stap die huis in. Gerhard voel vies en stap agterna met ’n frons op sy voorkop. Die ou man gaan ’n groot kombuis binne, trek ’n stoel van die tafel af weg. Hy loop tot by die kas en haal twee glase uit met sy een hand. Met die ander hand maak hy eers die haelgeweer teen ’n kas staan en haal dan ’n bottel uit dieselfde kas uit.

Hy sit die twee glase op die tafel neer. Hy gooi die glase vol. Hy trek ’n tweede stoel onder die tafel uit waarop hy dan gaan sit.

“Is jy van Donkerhoek se van Vuurens?” vra hy kortaf dan vat hy ’n groot sluk uit sy glas.

“Nee,” antwoord Gerhard onseker.

“Van Grysbuldt se van Vuurens?” vra die man weer kortaf en maak sy glas leeg.

“Nee,” antwoord hy weer terwyl hy op die ander stoel gaan sit. Hy steek sy hand uit na die glas. Die ou man raap dit voor hom op. Hy maak die glas leeg. Hy gluur na Gerhard.

“Kry vir jou ’n glas in die kas.”

Gerhard staar na die ou man wat reguit voor hom uitkyk. Die man lyk gedaan. Gerhard staan op en loop tot by die kas.

“As jy ook nie daarvan hou om alleen te drink nie kry vir jou twee glase.”

Gerhard frons, glimlag, en vat dan twee glase terug tafel toe. Die ou man gooi sy twee glase vol en gooi Gerhard se twee glase elk net so kwartvol.

Gerhard frons weer. Die man maak sommer sy eerste glas leeg. Gerhard doen dieselfde.

“Wat is die goed! Waar kom die goed vandaan?” vra die man. Gerhard probeer net om sy asem terug te kry.

“Daars duisende van die vliende honde”

Gerhard wil praat maar hy kan nie. Jan kom die kombuis binne. Sonder uitnodiging gaan sit hy by die tafel. Sy hand is swaar verbind met verbande. ’n Jong meisie kom ook die kombuis in. Gerhard staan effe op. Sy knik en dan sit hy weer. Jan vat ’n groot sluk van die glas voor hom op die tafel.

“Toe kêrels sê my, wat gaan ons maak?” Jan probeer praat maar as hy dit nie reg kry nie gee hy net ’n sagte hoesie.

“Bobbejane” kry Gerhard dit met ’n hees stem uit.

“Wat?” vra die ou man ongeduldig.

“Ons dog dis bobbejane met vlerke”

“Wat de duiwel dit ook al is dit is besig om alles op te vreet.” Dan maak hy sy tweede glas leeg.

 “Treintjie, bring bietjie die draadloos. Ek’s seker daar sal iets oor die goed op die nuus wees.” Die meisie loop uit die kombuis maar is gou terug met ’n klein koordlose radio. Sy skakel dit aan. Volkvreemde musiek basuin uit.

“Sagter man. Jy weet mos ek duld nie so ’n geraas nie!” bulder die ou man in die meisie se rigting. Sy draai ’n knop en die klank word sagter.

“Sorry pa.”

“Is hier ’n tellefoon wat werk” vra Gerhard. Die meisie lag effe maar hou dadelik op toe haar pa in haar rigting kyk.

“Die landlyn is nou al vir drie jaar dood. Plaaslyne word mos nie meer vervang as die kabels gesteel word nie. Die sel-fone het geen sein nie, veral nie in die huis nie.”

“Ek wonder hoeveel van die goed daar is?”

“Wel, vroeg skemer het daar honderde neergedaal.”

“Ek had sewehonderd ooie op die plaas, ma’ ek dink hulle is nou almal opgevreet. Het jy gesien hoe die goed vreet?”

Ou Jan hou sy swaar verbinde hand uit.

“Mmm” Die man gooi sy twee glase weer vol en vir Gerhard en Jan elkeen ’n halwe glasie.

“Gesondheid!” sê hy hard voordat hy die eerste glasie leeg maak. Gerhard en ou Jan sê niks. Hulle neem hulle glasies versigtig, kyk ’n slag bekommerd na mekaar en maak dan ook hulle glasies leeg.

“Treintjie, maak vir die menere elk ’n kamer reg, dan moet jy kooi toe dat ek jou deur kan sluit.” Die meisie staan op sonder om ’n woord te sê en verdwyn die gang af. Gerhard frons. Die ou man sien dit.

“Ek is seker julle is eerbare jong mans ma’ in tye soos die kan ek nie nog daaroor ook warrie nie.”

“Waaroor?” vra Gerhard steeds half uit die veld geslaan.

“Jou hormone. My dogter is al wat ek oor het. Sy moet eendag ’n goeie man vat.”

“Maar dis seker nie nodig…”

“Ek wil u net weer bedank vir u gasvryheid en om verskoning vra vir die ongerief wat ons veroorsaak,” sê Jan hard. Hard genoeg om Gerhard se woorde te smoor en hard genoeg sodat Gerhard moet besef dat die saak daar gelaat moet word. Ou Jan ken Gerhard baie goed en weet van watter kaliber stofasie hy gemaak is, maar hy weet ook wanneer Gerhard se eer gekrenk word is daar probleme. Hy verstaan ook wat in ’n pa se kop aan gaan. Gerhard wil weer iets sê maar ou Jan se oë rek en Gerhard besef dat Jan wil hê hy moet dit los. Ongelukkig ken Jan vir Gerhard en weet dat so iets nie maklik is vir Gerhard nie. Hy aard daar na sy pa. As iets hom pla dan sal dit uit.

“Maar sluit dan eerder my kamer toe,” sê Gerhard wat besef dat daar nie maklik met die ou man geredeneer gaan word nie.

“Ja, dis die plan.” antwoord die ou man voordat hy sy tweede glasie leeg maak. Gerhard is uit die veld geslaan.

“Watter soort mens sluit sy gaste toe. Dis waansinnig.” Ou Jan sien hier is groot probleme aan die kom. Hy druk Gerhard aan die skouer en met ’n groot handgebaar wys hy Gerhard om te loop.

“Wat as ons moet badkamer toe gaan?” vra Gerhard besorg.

“Daar’s ’n pottie onner ‘ie kooi.”

“Wat. Is die man heeltemal kens” vra Gerhard sag vir Jan.

“Jy is welkom om buite te slaap!” antwoord die man kalm. Hy staan op neem sy geweer en loop tot by Gerhard.

“Dit is my huis die. Hier maak ek die reëls.” ’n sekonde van stilte sleep stadig verby.

“Ek ken jou nie, maar ek sê jou sommer nou. Bly weg van my dogter af!” Die ou man druk die haelgeweer teen Gerhard se wang. Gerhard se oë spoeg vuur. Gerhard stamp die geweer weg. Hy staar diep in die ou man se koue oë.

“Moet nooit weer so met my praat nie.” Gerhard draai om en loop die gang af. Katryn wys hom watter kamer syne is. Gerhard loop in sonder om ’n woord te sê en maak die deur toe. Hy hoor die deur word gesluit. Twee ander deure word ook gesluit.

Vroeg oggend lê Gerhard steeds wakker. Hy hoor voetstappe. Hy hoor eers word een deur oopgesluit en dan ’n tweede deur. Die voetstappe kom en gaan verby kombuis se kant toe.

“Pa, moenie aspris wees nie,” roep ’n sprankelende stem die gang af. Hy hoor Katryn vang ’n bossie sleutels en dan sluit sy die deur oop. Dan loop sy ook kombuis toe. Jan se voetstappe volg kort op hare. Gerhard is fies. Hy wil slaap maar hy weet as hy nie nou opstaan nie sal hy seker nooit die einde daarvan hoor nie.

Aan tafel is almal stil. Gerhard gaap. Sy oë brand.

“Lyk my nie jy het lekker geslaap nie?” vra Katryn na die soveelste gaap.

“Jammer. Nee, ek kan nie slaap as ek toegesluit is nie.” Ou Jan hou op kou. Katryn ook. Die ou man eet rustig voort asof die woorde op dowe ore geval het.

“Is die goed nog daar buite?” vra Gerhard.

“Ek sien hulle nie, maar ek is seker hulle is nie ver nie,” antwoord die ou man asof daar niks onder die son verkeerd kan wees nie. Gerhard voel vies.

“Ek moet ons goed in die trok gaan kry.”

“Moenie mal wees nie,” sê Jan beswaard.

Gerhard staan op en loop deur na die voorhuis.

“Wag, ek kom!” Laat die ou man weet. Stadig kom hy nader gesukkel met die haelgeweer in die hand. Uiteindelik sluit die ou man die tralie-deur oop.

“Wees baie versigtig,” pleit die ou man. Gerhard frons en kyk die ou man aan. Vir ’n oomblik het die ou man soos sy pa geklink. Die ou man skuifel na die ver-kant van die groot ou stoep. Hy trek ’n ou hout stoel nader en neem stelling in.

Gerhard het nie ’n bang haar op sy kop nie, maar sy pa het hom altyd gesê, om versigtig te wees is nie dieselfde as om bang te wees nie. Hy is seker hy is versigtig, en vir die gedrogte moet ’n mens wees. Ewe versigtig stoot hy die tralie hek oop wat minder geraas maak as wat hy gedink het dit sou. Hy wag ’n oomblik om seker te maak dat die gedrogte nie die geluid gehoor het en dalk al oppad is nie. Versigtig steek hy sy kop uit en kyk op om seker te maak die goed sit nie almal dalk op die huis se dak nie. Hy sien niks. Versigtig tree hy na buite. Hy sien niks. Hy hardloop vinnig tot by die vragmotor en spring rats teen die vragmoter op terwyl hy die deur oop ruk en inspring. Hy slaan in dieselfde beweging die vragmotor se deur weer agter hom toe. Hy kyk in die spieëls van die vragmotor maar hy kan nie veel sien nie. Hy kry die meeste van hulle goed in ’n bondel by mekaar, kyk weer ’n slag goed oral rond en dan maak hy die vragmotor se deur oop en klim versigtig uit. Hy gee die goed vir Jan wat wil hê hy moet in die huis in, maar Gerhard tree terug en loop oor die werf. Hy kyk om hom rond. Die werf is leeg. Daar is nie ’n hond, kat hoender of enige voëls of enige ander teken van lewe te bespeur nie. Gerhard stap stadig terug huis toe.

“Ek sien niks van die goed nie, behalwe die paar dooies.”

“Dalk is hulle nag diere,” laat Katryn haar mening hoor.

“Jy’s seker reg. Of dalk het hulle alles hier opgevreet wat hulle in die hande kon kry en verder gevlieg opsoek na nog kos.”

“Ons sal maar moet kyk of die gediertes weer skemer-aand uit die hemel neer daal. Ek het so ’n nare gevoel die goed is nie ver nie. Ons moet nog water pomp en in die skuur is daar ’n kragopwekker. Ons kan dit dalk nodig kry.”

“Ja. Ek sal dit gaan kry.” Die ou man gooi vir Gerhard die bossie sleutels. “Ek kom saam.”

“Nee!” sê al drie mans gelyk.

“Hoe gaan jy weet waar om die pomp aan te sit, en dalk kry jy my nodig om jou te help om die ding te dra.”

“Ek sal reg kom.”

“Ek kom saam!”

“Nee!” sê al drie mans weer gelyk in een kwaai stem.

Gerhard sluit die slot oop en dan trek hy die swaar staal deure van die skuur oop. Soos die deure oopgaan skuif die sonstrale dieper en dieper die skuur in. ’n Oranje oog gaan oop en vir een oomblik skyn die oog rooi, dan volg ’n onaardse geskreeu wat ver oor die karoo uit basuin.

“Hardloop huistoe!” se Gerhard sag tog vies omdat Katryn nie wou luister en in die huis gebly het nie. Met groot moeite maak hy die skuur se deure toe. Hy het pas die slot deur die ketting gehak toe een van die gedrogte teen die deur vas vlieg.

Gerhard draai om en hardloop huis toe.

Halfpad huistoe hoor hy ’n harde slag van die ketting wat breek en die deure wat oopswaai as tien-talle dierasies gelyk teen die deur vasvlieg. Hy is nou kort op Katryn se hakke. Hy wens sy wil vinniger hardloop.

Van voor kom ou Jan gillinde met ’n krieket-kolf aangehardloop. Gerhard kyk oor sy skouer en sien die dierasies haal hulle vinnig in. Hy weet hulle gaan nie die huis haal nie. Hy weet ook hy kan nie al die dierasies ophou sodat Katryn in die huis kan kom nie.

Uit die hoek van sy oog sien hy hoe een dierasie reg op hulle afpeil. Hy duik Katryn bo van haar voete af, soos hy maar jare laas ’n klipharde rugby-speler geduik het. Die moes die dag die veld verlaat het met ’n gebreekte sleutelbeen. Gerhard en Katryn gly oor die klipperige werf. Gerhard sien die dierasie oor hulle vlieg met ’n bek vol bytende tande. Die dierasie misgis homself en vlieg naby die aankomende Jan in die grond vas.

Voor die dierasie mooi op sy voete kan kom tref ’n krieket-kolf die dierasie vol teen die kop. Die dierasie se een oog pop uit en ’n pers-blou tong wapper in die lug. Die dierasie val daar en dan, om nie weer wakker te word nie. ’n Woedende Jan storm voort. As hy by Gerhard en Katryn kom slaan hy nog twee van die dierasies dood. Die ander val uit die lug skreeuende en gillende as die son se stale hulle oogvliese droog brand en hulle heeltemal blind laat. Hulle slymerige pers tonge word donkerder van kleur soos die ook begin uitdroog. Enkele minute later gee die laaste dierasie sy laaste stuip-trekking. Met groot moeite kom die ou man met ’n swaaiende kierie ook by hulle aan. Die vier mense staan en kyk om hulle rond. Die werf is bestrooi met die lyke van die aaklige dierasies. Verder is daar geen dier of voël te bespeur nie.

“Kom! Kom ons gaan in,” sê die ou man. Hy steek sy hand uit na Gerhard. Gerhard gee die ou man ’n handruk. Die ou man los egter nie Gerhard se hand nie en sê, “Hans Kruger.”

“Gerhard van Vuuren van die plaas Doorndracht!”

Die ou man sit sy arm om sy dogter en die vier stap stadig terug huis toe.

  • Chantal

    aan kom= aankom

    laas nag= laasnag
    skied= skiet
    Ek dink afgedraai is ook een woord, so ook is stuiptrekking een woord.