DIE OPROEP – Beatrix van Dyk

DIE OPROEP – 2011 © Beatrix van Dyk

JEUG WETENSKAPFIKSIE (1 280 woorde)

 

Dis reeds donker wanneer Gerbrand Roos in sy broeksak na sy sleutels tas. Dan onthou hy meteens dat hulle al ’n geruime tyd nie meer sleutels gebruik nie. Hy hou sy hand voor die sensor, maar die sensor weier om sy hand te herken. In die donkerte draai hy vir ’n oomblik besluitloos rond.

Hier is nie ’n straatlig naby nie, hy bly net buite die dorp, Orania. Hy en sy broer het hierdie stuk grond aangeskaf vir ’n sterrewag, omdat dit so perfek geleë is, nie ’n straatlig naby nie. Nou is hy spyt dat dit so donker om hom is.

Hy stap terug na sy bakkie en in die lig van die voertuig sien hy hoe vuil sy hande is, geen wonder die sensor herken nie hierdie hande nie. Sommer so met sy spuug probeer hy die ergste klei afkry en wanneer hy hierdie keer sy hand op die sensor hou, glip die deur geruisloos oop.

Dis Vrydagaand, hy is alleen, sy broer is vir die naweek na sy aanstaande skoonmense toe. Hy stap doelloos deur die onderste verdieping en mis skielik vir Darius. Hy probeer nie daaraan dink dat sy broer een van die dae gaan trou nie en dan gaan hy altyd alleen in die huis wees. Sedert hy sy ouers binne ’n jaar van mekaar verloor het, het hy maar altyd na sy jonger broer omgesien.

Hy klap ’n kodeklap en alle ligte in die onderste verdieping doof uit. Teen die trappe op klap hy reeds ’n ander kode en die ligte in sy kamer gaan aan. Net wanneer hy sy baadjie losknoop, lui sy selfoon skielik om sy arm.

Hy kyk af na sy pols en sien die nommer is sy eie huisfoon in die sitkamer! Met ’n kloppende hart beweeg hy bewend teen die trappe af. Van buite die sitkamer skyn ’n helder, spierwit lig. Hy staar na die lig en en stap willoos nader.

Buite gekom, sien hy dis ’n ruimtetuig, presies soos hy hom altyd voorgestel het dit lyk. Hy het geen beheer oor sy ledemate nie en hy stap doelgerig daarop af. Hy ervaar ook geen emosie nie en dis doodnatuurlik om op die oop deur met die lang trap af te stap. Hy ervaar geen vrees meer of geen opgewondenheid nie. Wanneer hy bo kom, wag ’n pragtige jong meisie in blink klere hom in.

“Goeienaand Gerbrand. Welkom.”

“Jy praat Afrikaans?” is al reaksie wat sy van Gerbrand kry.

Sy druk op ’n halssnoer met opaalstene. Haar vinger rus op ’n piepklein swart steen: “Hierdie is ’n vertaler, die halssnoer bepaal watter taal jy praat en dan soos ek praat, kom die woorde in jou taal uit.”

Hy kyk na haar terwyl sy praat en dink daaraan dat sy popmooi is met haar raafswart hare wat haar fynbesnede gesig en vleklose vel omraam.

“Dankie,” sê sy.

“Waarvoor?” vra hy.

“Vir die kompliment.”

“Wil jy vir my sê dat jy gedagtes kan lees?” vra Gerbrand en hy lyk vir ’n oomblik asof hy gereed maak om weg te hardloop.

Sy wys hierdie keer na die twee breë silwer armbande om haar polse: “Hulle lees jou gedagtes.”

Hy laat hom oorbluf lei na ’n stoel voor ’n groot skerm. Sy druk op ’n knoppie op haar belt en die volgende oomblik gaan die reuse skerm aan. Gerbrand kyk na homself waar hy programme oor menseroof kyk, waar hy gesprekke daaroor voer, waar hy literatuur daaroor lees en waar hy sterre en die buitenste ruim bestudeer. Hy kom agter dat hy op ’n manier weet wat sy gespreksgenote dink wanneer hy met hulle praat en hy sien hoedat hy hul mening verander. Hoedat hulle glo wat hy sê!

Die kyk na die skerm, alhoewel dit groot tydgleuwe dek, gebeur binne sekondes. Dis asof hy vir ’n sekonde lank kyk, maar hy ‘sien’ ’n uur se gebeure in presiese detail.

Wanneer hy terugdraai, is die popgesiggie weg, maar skuins agter hom sit ’n vrou met ’n deurmekaar bos blonde krulhare.

“Sy is ’n robot, sy’s weg om ’n ander taak te verrig,” sê sy met ’n lae stem.

Hy wil vir ’n oomblik verbaas wees, maar dan onthou hy hulle kan gedagtes lees.

Hy kyk na haar met ’n uitdrukking: toe, wat dink ek!

Sy vertel hom op haar rustige, lae stem dat hulle mense identifiseer wat aan menseroof glo en hulle dan na hul ruimteskip toe bring, om hulle te wys dat daar wel iets soos vreemde vlieënde voorwerpe is en dat daar wel menseroof is, maar slegs om mense te oortuig dat die slegte dinge wat mense vertel wat geroof was, nie regtig waar is nie. Hy luister na haar terwyl hy na die kliniese skoon ruimte om hom kyk. Geen stof, geen vullis, geen son, geen papiere of enigiets wat kan rondlê en ’n vertrek deurmekaar maak nie. Dis net mure vol skerms en knoppe. Is dit ’n ideale wêreld?

Sy antwoord die vraag in sy gedagtes weer voordat hy besef sy weet wat hy dink. Sy vertel hom van hulle ideale wêreld en soos sy vertel, word hy stadig maar seker oortuig dat dit ’n beter lewensbestaan as sy gesukkel op aarde is. Die warm son, ontydige reën, peste, plae, stof, wind, sweet, koue… hy sien die aarde vir ’n oomblik deur haar oë en dis ’n ongewenste gesig.

Jy het baie invloed en ons wil hê dat jy mense moet oortuig dat ons vredeliewend is. Dat die wrede stories wat mense vertel, onwaar is. Vertel wat jy hier gesien en ervaar het.

“Hey, ek is ’n doodgewone outjie. Ek het nie eens ’n meisie nie. Ek werk as ’n bouer. Niemand heg enige waarde aan wat ek sê…” begin hy walgooi, maar dan kom die beelde glashelder in sy gedagtes op van hoe hy mense oortuig het dat hy glo daar is sulke goed soos menseroof en ander planete en ander lewe in die ruimte.

Hy sien ook voor sy geestesoog hoe mense se eie idees deur wat hy sê verander is.

Sy knik net en lei hom na ’n stoel met ’n kopstuk. Hy druk op pad na die stoel op ’n knoppie.

Sy kyk onthuts na hom: “Moenie aan enigiets vat of druk sonder om te vra nie!”

Hy hou sy hande omhoog: “Jammer.”

Sy verduidelik die rede vir die kopstuk. Dis om hom ’n visuele kykie in hulle wêreld te gee en daarna sal sy hom laat gaan en kan hy ’n welverdiende nagrus geniet en mense oortuig van hulle ruimtewesens se onskuld. Met haar rug na hom programmeer sy ’n groot skerm. Sy swaai skielik ontsteld om na hom: “Watter knop het jy gedruk?”

Dis egter te laat en hy voel hoedat hy beelde begin sien wat eers deurmekaar teen mekaar bots, maar dan al hoe duideliker word en hoe duideliker die beelde word, hoe grusamer word hulle. Hy sien hoe mense ontvoer word, hoe hulle soos hy gerusgestel word en dan word hulle deur wreedaardige en grusame prosesse gebreinspoel. Vrees oorweldig hom en sweet tap teen sy slape af.

Hy hoor ’n skrilgeluid en skielik is hy wakker. Gerbrand Roos draai om in sy bed.

Hy vee die sweet van sy voorkop af, dankie tog dit was net ’n droom. ’n Nare een daarby. Een wat hy nie wil droom op ’n aand wat hy alleen slaap nie. Hy reik na sy selfoon, dis seker nou Darius wat laat weet het hy is veilig by sy aanstaande.

Hy klap sy selfoon oop om Darius terug te skakel. Net voordat hy die knoppie druk om terug te bel, sien hy dat die nommer op die foon sy huisfoon in die sitkamer se nommer is…

  • Michelle

    Uitstekende storie

  • Chantal

    Ek het die een baie geniet.