ROEHYN EN DIE SIENER – Eben van Renen

ROEHYN EN DIE SIENER – 2011 © Eben van Renen

VOLWASSE FANTASIE (3 275 woorde)

 

Thompson Toekenning - Eben van RenenDie son bak genadeloos op die viertal neer waar hulle met die twee swaar belaaide perde deur die ruigtes van Oewaanbos trek. Roehyn sien hoe Slyp met trots die sekel-dolk, wat hy sommer-so in die stap blinkgevryf het, bewonder. Die son weerkaats op die skerp lem en verblind Roehyn vir ‘n oomblik. Hy kyk weer weg en por die perde ‘n bietjie aan. Agter hom volg Lo-Amyn só sag dat hy telkens moet omdraai om te sien of sy nog daar is. Hy kyk weer om.Soos gewoonlik is haar blou oë ontwykend.

Sy gedagtes gaan terug na die reis tot dusver. Twee dae se reis buite Ekaradör het ʼn tiental ork en een sielsteler hulle ingewag. As dit nie vir Toek-Ar se vinnige reaksies was nie, sou Roehyn nie die amulet se krag betyds kon aangewend het nie.

Ja, daardie dag het sy eie kop amper op ʼn stok beland!

“Ek dink Sloewaan-dör is net duskant daardie koppie, Roehyn-Sha.” Roehyn volg met sy oë waar Toek-Ar met sy hand beduie.

“Uiteindelik,” sug hy.

Daar is ʼn sweem van ʼn glimlag op Toek-Ar se gesig.

“Ek gaan vooruit. Netnou is daar nóg verrassings.”

Hierdie opmerking ontglip nie Slyp se aandag nie. In reaksie gooi hy ʼn lelike vingerteken in Toek-Ar se rigting. Toek-Ar het hom gister blameer vir die lokval waarin die groep beland het.

“Wees versigtig, Toek-Ar. Shee do mai,” antwoord Roehyn en kyk hoe Toek-Ar ligvoets vooruit draf. Binne oomblikke is die spoorsnyer deur die ruigtes ingesluk. Toe hulle die kruin van die koppie bereik sit Toek-Ar vir hulle en wag. Hulle sluit stilswyend by hom aan.

“Ek neem aan dat alles rustig is,” fluister Lo-Amyn, terwyl die groep in die skadu van ʼn boom na die dorpie onder hulle tuur.

Die toneel voor hulle is besonder stil, en niemand is te sien op die stowwerige straatjies nie.

“Kom.” Met dié lei Roehyn die geselskap af na Sloewaan-dör. By die ingang van die dorpie staan daar drie pale geplant, twee van hulle stut die bordjie met die dorpsnaam. Die derde een deurboor ʼn ork se kop. Die reisgenote staar stil na hierdie grusame uitstalling.

“Hulle is dapper, hierdie Sloewaniërs. Miskien té dapper!” brom Slyp onderlangs.

Agter hom gluur Toek-Ar hom aan. Hulle stap stadig voort met die deurgangspad tot tussen die geslote hutjies. Lo-Amyn het haar boog afgehaal en plaas haar hand op Roehyn se arm.

“Iets voel nie reg nie,” fluister sy. “Miskien is die Siener nie hier nie?”
Roehyn, hand op sy swaardhef, voel kriewelrig, byna koud.

“Miskien,” antwoord hy, “maar ek móét seker maak. Val terug en volg ons op ʼn afstand. Jy het afstand nodig vir daardie boog.”

Sonder meer val Lo-Amyn terug. ʼn Groterige gebou duik op, opvallend tussen die klein gehuggies. Dit is meestal van hout vervaardig, maar die vier hoeke is versterk met stene en klei. ʼn Kraai sit donker op die rietdak en wag. Sy kraalogies glim soos hy nuuskierig loer na die indringers. Op die voordeur is daar ʼn sirkel met ʼn teken daarin geverf. Toek-Ar stap stadig na die deur toe.

“Hierdie gebou word genoem Dorps-kern. Dis die vergaderplek van Sloewaan-dör. Hier behoort van die ouer garde te wees wat ons kan help,” vertolk hy vir die res.

Hy haal sy strydbyl uit en klop met die hef aan die hout. Stilte. ʼn Warm windjie skarrel deur die strate, en die stof rondom hulle voete beweeg soos ʼn mislagie.

Meteens kraak die deur oop. ʼn Diep stem kom roggelend van binne af na waar hulle in die hitte staan.

“Ek sien jy het gekom, Draak van die Suide. Los jou vriende daar buite en kom binne.” Toek-Ar kyk gespanne na Roehyn en skud sy kop.

“Is jy die Siener? Siener van Sloewaan-dör?” roep Roehyn terug.

“Die antwoorde op jou vrae hang in die weegskaal. Het jy die moed om dit uit te vind? Of gaan jy omdraai?” kom dit spottend van binne af.

Roehyn dink vinnig. Is daar werklik ʼn keuse? Al doen hy ook wát, hy sal nóóit kan omdraai nie. Nie na als wat hulle moes deurmaak nie!

“Bly hier, en pas op vir ʼn aanval,” fluister hy. “Steek julleself goed weg.”

“Maar Roe…” wil Slyp eers teëpraat. Roehyn hou sy hand op.

“Ek het geen keuse nie. Óns het geen keuse nie.” Sonder om te kyk of hulle sy opdragte uitvoer neem hy sy eerste treetjie na binne. In die donkerte binne kan hy net-net die klein seuntjie uitmaak wat voor hom sit. Op die vloer rondom die seuntjie is tien sirkels met stene gepak. Die buitenste vyf sirkels is groen, die volgende drie is bruin, die tweede kleinste sirkel is blou en die laaste sirkel is met rooi stene uitgelê. Roehyn steek in sy spore vas, onseker.

“Wat makeer? Iemand anders verwag?”

Die seuntjie se stem is diep, en hees soos ʼn ou mens. Dit klink hol, onnatuurlik. Toe die seuntjie opstaan en versigtig bo-op die steentjies loop na die venster toe, merk Roehyn dat daar drie silwer stene agterbly in die spasie waar die seuntjie gesit het.

“Is jy die Siener?”

Die seuntjie knik, en beduie vir Roehyn om voor hom op die vloer te kom sit. Roehyn gehoorsaam outomaties, al voel dit asof ʼn donker onheil hom nadertrek.

“Ek sien jy het die Amulet van die Draak.”
Roehyn knik.

“Kan jy my sê wat die doel van die amulet is?” vra hy. “Hoekom gee dit aan mý sulke vreeslike krag as ek dit dra, maar dit bly nutteloos vir ander mense? En hoekom praat ek met ʼn vreemde stem en taal wanneer ek daarmee veg?”

“Ek dog jy wil weet wie ék is, maar nou sien ek jy wil eerder weet wie jý is,” lag die seuntjie met sy donker stem.

Roehyn knik huiwerig. ʼn Sweetdruppel gly van sy ken af en plas op die grond voor hom.

“Wel, ja. Ek het gewonder oor die amulet se effek op my.”

“As dit só is, dan het jy, Draak van die Suide, verkéérd gewonder!”

Roehyn sluk droog.

“Die amulet… die wapen bestaan uit twee dele,” gaan die Siener voort. “Die een deel besít jy, dit hang daar om jou nek. Die ander deel… is jy sélf.”

Die woorde maak nie sin nie!

“Ek verstaan dit nie,” prewel Roehyn.

“Plaas die amulet op jou geboortevlek.”

Roehyn frons weer, maar gehoorsaam onwillekeurig. Hoe weet die Siener van die geboortevlek? Verward knoop hy sy hemp voor oop en plaas die amulet op sy geboortevlek.

“Nee, ándersom.”

Iets vreemd gebeur toe hy die amulet omdraai. Die geboortevlek pas netjies binne-in die vorm van die amulet. Sáám met die geboortevlek vorm die amulet ʼn perfekte sirkel!

“Jy is die Draak van die Suide!”

Roehyn kyk onseker op na die Siener voor hom.

“Jy bedoel… ek is die draakjágter van die Suide. Dis tog wat ek doen. Ek jag groen drake…”

Weereens die roggel-laggie uit die seuntjie se keel. Hy skud sy kop gelate.

“Nee, ek bedoel presies wat ek gesê het. Jý is die draak. Jy is nie heeltemal… mens nie. Jy is uitverkies om een van die Grotes te word.”

Roehyn voel yskoud. Die gedagte is skokkend! Maar die woorde wat daarná volg onstel hom nóg meer…

Roehyn lyk asof hy nie weet hóé om te reageer op hulle vrae toe hy later weer by die ander aansluit nie.

“Ek sal julle later vertel wat hy gesê het”, mompel hy ontwykend. “Dit maak buitendien nie veel sin nie.”

Toe dit duidelik word dat hy nie gaan reageer nie begin hulle verder stap. Hulle moet déúr die dorpie kom om na die volgende dorp te reis. Lo-Amyn is diep ingedagte, en kyk kort-kort na Roehyn. Iets is verkeerd, voel sy aan.

“Water!” Slyp se woorde is luid genoeg om die ander drie effens te laat skrik. Oënskynlik houtgerus loop hy na die put toe.

Lo-Amyn draai om na Toek-Ar, en vee ʼn lastige blonde krul met die agterkant van haar hand opsy.

“Waar is al die mense dan?”

Toek-Ar antwoord nie. Sy oë bly op Slyp. Lo-Amyn wonder waarom hy die nuweling so verpes. Sy sien hoe Slyp die emmer vat en aan die ander kant van die put gaan staan, weg van hulle af.

“Verraaier!” sis Toek-Ar meteens, net hard genoeg om haar ore te bereik. “Hy het ons wééreens in ʼn lokval gelei!”

Lo-Amyn se oë vlieg terug na Slyp. Sy let op hoe Slyp homself agter die put se muur geposisioneer het. Sy sien hoedat sy oë kort-kort bo-oor hulle koppe flits.

Met een beweging tol sy om, pluk ʼn pyl uit die koker op haar rug en lig die boog na die dak van die hut agter hulle. ʼn Oomblik later plons ʼn ork boogskutter, pyl deur sy keel, neer voor hulle in die stowwerige pad.

Toek-Ar is reeds amper by die put. Slyp wag hom smalend in, sy blink dolk laag voor hom uitgestrek. Vóórdat Toek-Ar egter by Slyp kan uitkom tref ʼn pyl hom in die bobeen. Hy tref die grond met ʼn kreun.

Terwyl Lo-Amyn die een pyl na die ander op die ork boogskutters op die dakke laat los, hardloop Roehyn met swaard ophoog in die rigting van twee orke wat haar van agter bestorm.

“Sit jou amulet aan!” roep sy uit.

“Nee!” skree Roehyn terug, bo-oor die gebrul van die orke.

Hy duik blitssnel onder een ork se swaard deur en deurboor die tweede ork. Lo-Amyn gooi haar boog neer. Haar pyle is opgebruik. Sy trek haar dun elf-swaard uit sy skede.

“Hoekom nie?” roep sy uit terwyl sy help om die oorblywende ork van kant te maak. Dan hardloop die twee na Toek-Ar en sleep hom na die naaste gebou, en neem stelling in teen die muur.

“Die Siener het gesê as ek die amulet nog een keer gebruik… sal ek ʼn metamorfose ondergaan en…”

Roehyn swyg verder. Hy bind ʼn opgerolde lap om die gewonde se been. Toe draai hy die toerniket styf om die bloeding te stop. Ondanks die pyn is daar nie ʼn geluid uit Toek-Ar se mond nie.

Hulle kan Slyp daar buite hoor sing. Iets tergends en opgeruimd… “Wel?” por Lo-Amyn hom aan.

“Nog één keer se gebruik van die amulet… en ek sal in ʼn draak verander. ʼn Rooi draak.”

Lo-Amyn staar hom ongelowig aan. Daar buite hou Slyp skielik op met sing. Sy stem dra spottend tot by hulle.

“Kom uit! Hier is nog baie vriende van my wat julle moet kom ontmoet! Ons wil net die amulet hê!”

Hulle ignoreer hom.

“Een van die Grotes? ʼn Bóse draak? Was hy seker daarvan?”

“Ja. Ek sal blykbaar vir slegs ʼn paar minute die boosheid kan bedwing, maar… die boosheid sal my uiteindelik tog oorwin. Ongetwyfeld.”

“Ek verstaan nie…”

Die pyl tref haar in die linkersy soos ʼn vuishou. Dit slaan haar wind uit. Geskok staar Lo-Amyn en Roehyn na mekaar. Al die dinge tussen hulle wat nog ongesê is, word op daardie presiese oomblik vir mekaar duidelik. Helder.Lo-Amyn voel hoe die donkerte op haar toesak, en hoe alle gewaarwording uit haar liggaam verdwyn, asof ʼn groot, donker kombers oor haar getrek word. Sy val vorentoe in Roehyn se arms.

Nog ʼn pyl beland naby hulle in die pad. Toek-Ar werp sy laaste mes na ʼn aanstormende ork. Desondanks hierdie dinge bly Roehyn doodstil en verstar staar na die lewelose liggaam in sy arms.

Toek-Ar skuifel-sleep homself tot by sy vriend en bly dan stil sit. Roehyn is besig om Lo-Amyn saggies neer te lê op haar rug. Hy lyk onnatuurlik kalm. Toe kyk hy op en oorhandig sy enorme familieswaard aan Toek-Ar.

“Hier!” Sy stem klink leweloos, eentonig. “Sodra ek klaar is met hulle, moet jy my hiermee doodmaak. Dis die enigste manier… anders sal ek jou later ook vermoor. Ek is hierdie kans aan jou verskuldig. Ek het slegs ʼn paar minute waarin ek as ʼn rooi draak nog goed kan wees, en daarna…”

Roehyn luister nie na Toek-Ar se gesoebat nie. Hy haal die amulet uit sy klere te voorskyn en plaas dit op sy geboortevlek.

“Staan terug en bly uit my pad uit,” waarsku hy. “O ja, en Toek-Ar?”Toek-Ar, wat moeisaam op een been besig is om weg te hobbel, staan ʼn oomblik stil en kyk vraend terug oor sy skouer.

“Totsiens, ou maat.”

Toek-Ar draai woordeloos weg en laat sak sy kop. Hy kies koers na die klein hutjie aan hulle linkerkant. As Roehyn wél gaan verander in ʼn rooi draak wil hy nie daar wees nie! Hulle het al groen drake verslaan, maar rooi drake is ʼn totaal ander saak! Hy kan hoor hoedat die orke van die ander kant van die dorpie aangestap kom. Hulle stewels skuifel-skuifel deur die stof. Hulle vuil swaarde is wel stomp, maar dit is gereed om mens en elf te proe. Hy hoor toe Roehyn se stem bo-oor die geraas opklink.

“Amulet van die Draak! Die tyd het gekom! Laat dít wat binne-in my sluimer dan tog nou uitbroei! Laat die slapende dan maar ontwaak!”

Die warrelwind wat rondom Roehyn begin ruk en pluk is so sterk dat die horde orke, nog vyf hutte weg van hulle af, skielik in hulle spore vassteek. Die sandstorm tref hulle soos ʼn golf.

Toe die wind ophou waai en hulle hul swart oë weer oopmaak, staan daar ʼn rooi draak voor hulle, monsteragtig, grommend en drie verdiepings hoog!

ʼn Tweede golf tref hulle – hierdie keer ʼn golf van vuur. Selfs die stene langs die pad verteer. Terwyl die as van die ork-horde nog dwarrel in die lug kyk die draak om. Sy kop beweeg heen en weer, asof hy na iets soek. Sy skerp, geel oë vind waarna dit gesoek het. Drie treë word geneem en twee hutte word in die proses vernietig, maar die volgende oomblik hang Slyp aan sy een voet in die lug, onderstebo.

Toek-Ar weet hy sal nooit die klank vergeet van Slyp se gille terwyl hy in die rooi draak se mond verdwyn nie.

Die draak bly egter steeds soek na iets, en begin in Toek-Ar se rigting stap. Met elke tree vibreer die grond waarop Toek-Ar sit. Die spoorsnyer-vegter moet ʼn ander rigting inslaan en bevind homself weereens by die plek waar die skermutseling begin het. Sy been verhinder hom egter om verder terug te val. Toek-Ar tel Roehyn se swaard in altwee hande op en draai om na die naderende monster. Hy ken geen storie, mite of sprokie waarin enigiemand ooit ʼn rooi draak se aanslag oorleef het nie. Toe die draak twintig treë van hom is, laat sak Toek-Ar die swaard.

“Dis futiel! Wat is tog die sin daarin?” fluister hy vir die draak.

Groot is die verligting toe die draak by hom verbyloop en oor iets in die sand buk. Toek-Ar loer versigtig verby die enorme been, waar die hittegolwe dans oor die rooi skubbe. Die draak is besig om na Lo-Amyn se liggaam te staar. Toek-Ar wil nog vir die monster skree om haar liggaam te los, toe die draak begin terugverander na die vorm van ʼn man.
Roehyn staan daar, sy blik steeds gerig op die enigste liefde wat hy ooit geken het.

“Kom Toek-Ar. Dóén dit! Ek kan voel hoe ek besig is om te verander. Ek wil na haar kyk terwyl ek sterf.”

Toek-Ar hobbel moeisaam tot agter hom. Hy kan voel hoedat die hitte vanaf Roehyn se liggaam uitstraal. Hy huiwer, die groot swaard vasgeklem in sy hand.

“Asseblief, dóén dit!”

Toek-Ar lig die swaard, maar hy kán dit nie regkry om sy vriend daarmee te deurboor nie.
“Nóú!” roep Roehyn uit, wanhoop in sy stem. “Doen dit nóú!”

Op daardie oomblik sien Toek-Ar die rooi skubbe weer oor Roehyn se vel vorm. Hy kan voel hoedat die energie opbou in die transformerende liggaam voor hom, en hy weet dis te laat. Sy vriend is reeds dood. Die swaard word vorentoe gebring en sak diep tussen Roehyn se skouerblaaie in.

Roehyn val vorentoe op sy knieë, en toe op sy sy, langs Lo-Amyn se liggaam. Nadat die swaard weer uitgetrek is, strompel Toek-Ar agteruit.

Roehyn se oë verlaat nie vir ʼn oomblik Lo-Amyn se gesig nie. Toek-Ar sien hoe die skubbe weer verdwyn, en die energie byna soos stoom verdamp. Hy merk op hoe Roehyn se hand in die stof om Lo-Amyn se hand vou. Toek-Ar draai om. Hy leun swaar op die bebloede swaard om sy gewonde been te ondersteun. Hy voel soos ʼn indringer op die toneel.

Lo-Amyn maak haar oë stadig oop. Sy sien Roehyn voor haar op die geel sand lê, en ook hoedat die bloed by sy mond uitsypel. Sélf kan sy nie beweeg nie, want sy het reeds te veel bloed verloor.

“Sáám…”

Dis die enigste woord wat sy uitkry. Sy maak weer haar oë toe, bewus van Roehyn se hand om haar eie. Toek-Ar is teen hierdie tyd reeds twee strate weg.

“Wat was sy keuse toe gewees?”

Die diep stem laat hom amper oor die swaard struikel. Hy kyk om. ʼn Klein seuntjie staan net binne die deur van die Dorps-kern. Toe hy nie dadelik antwoord nie, praat die seuntjie weer.

“Toe nou, antwoord my! Het hy homself, of het hy ander bó homself gekies?”

Toek-Ar snap eers nie die strekking van die vraag nie, maar toe word Roehyn se groot opoffering skielik vir hom pynlik duidelik.

“Hy het my lewe bo syne gekies,” sê hy en sug diep.

“Interessant,” glimlag die seuntjie. “So, ons het ʼn nuwe silwer draak bygekry…”

“Ekskuus? Hy sou… hy was ʼn róói draak gewees. Nie ʼn goeie draak nie, ʼn bóse een.”

“Dít was hy wel,” lag die diep stem, “maar dit was vóór hy die keuse gemaak het.”

“Maar hy is dan dood…”

“Nee. Hy is nie. Binne enkele oomblikke gaan hy weergebore word – as ʼn silwer draak! Hy sal sy goeie hart behou. Hy sal ook sy vorm na willekeur kan verander.”

Toek-Ar begin omdraai. Hy kan ʼn warrelwind voel opbou vanuit die rigting waar Roehyn en Lo-Amyn se liggame lê.

“Alle goeie drake word met selfloosheid en self-opoffering gebore. As jy vinnig maak, kan jy naby genoeg kom om ook van die energie van sy geboorte vir jouself te kry. Dit sal jou genees…”

Toek-Ar hoor nie verder nie, want hy beur reeds met al sy mag vorentoe teen die warrelwind. Toe die wind meteens bedaar, val hy amper vir ʼn tweede keer oor die swaard. Hy loop versigtig na die hoek van ʼn gebou.
Sy been voel…

Toek-Ar kyk af na sy been. Hy het al gehoor dat goeie drake genesende krag het, maar het nooit kon droom hy dit self sou ervaar nie!

Daar is net ʼn gat in die materiaal bo-oor die plek waar die wond was. Sy vel het nie eens ʼn skrapie nie… Hy hardloop dadelik verder, maar steek botstil in sy spore vas toe hy om die hoek kom. Voor hom is Roehyn en Lo-Amyn albei op hulle knieë voor mekaar – in vurige omhelsing!Toek-Ar kug. Die twee kyk om en staan ietwat verbouereerd op.

“So, julle moes eers sterf voordat julle mekaar kon vind? Die liefde blyk ietwat van ʼn gevaarlike ervaring te wees, Roehyn-Sha.”

Die paartjie lag en omhels hom ook. Vir ʼn oomblik sien Toek-Ar hoedat die son weerkaats vanaf ʼn klein silwer vlekkie, hoog bo teen Roehyn se arm.

Die Siener draai weer terug na die gekleurde stene op sy vloer. Hy lag saggies in die donker van sy woning. Een van die rooi stene het sopas in silwer verander. Hy tel dit versigtig op en voeg dit dan by die ander drie silwer stene, in die middel van die vloer.

“Die goeie word net deur opoffering gebore…”

  • Chantal

    Baie oulik en met ‘n goeie sterk einde…