BEWAKER 47 (MELKBOSSTRAND) EN DIE WIT SOKKIES – Eben van Renen

BEWAKER 47 (MELKBOSSTRAND) EN DIE WIT SOKKIES – 2012 © Eben van Renen

JEUG WETENSKAPFIKSIE (3 049 woorde)

Eben van Renen - Toekennings 2012 - 1Die seun sien die ligte van die Weskuspad se kant af kom en draai doodluiters na regs, sodat hy die bos se bedekking kan benut. Hy gaan staan teen ’n boompie se stam.

Verveeld wag hy vir die motor om verby te ry en voel oor sy ken, maar word oudergewoonte teleurgestel deur die afwesigheid van ’n harde stoppelbaard. Daar is wel iets, maar dit voel nie juis soos skuurpapier nie.

“Eerder gemufte perske,” dink hy met ’n bekommerde frons.

Hy dink aan Sias, Theo en Brolloks.

“Bliksems kan al soos Josh Strauss lyk as hulle sou ophou skeer,” mompel hy.

Die motor sluip verby. Dalk is dit een van die buurtwag patrollies, want dit beweeg stadig.

“Ten minste word die bende-idiote uit my pad gehou,” sug hy.

Melkbosstrand se buurtwag patrollies werk flink in samewerking met die dorp se polisie, en is so effektief dat die dorp se veiligheid laas jaar binne ’n paar maande as voorbeeld vir die res van die land voorgehou kon word.

“Maar buurtwag help nie juis met sielstelers nie,” dink hy en streel weereens oor sy ken. “Daardie takie rus net op een paar skouers. Myne.”

Sy donker tekkies begin weer oor die sagte sand beweeg, pad se kant toe. ’n Natgedoude Port Jackson tak swiep hom oor sy gesig.

“Bliksem,” sê hy en klap die tak terug.

Druppels val nou oral op hom, maar hy kom dit skaars agter. Wat hom meer bekommer, is die druppels wat op die enorme geweer in sy hande beland het.

“Ag nee, man. Hou die dônnerse Ekto droog!” betig hy homself.

Vanaand kon hy na die lang winter die grootste geweer in sy arsenaal uithaal. Die weermanne het mos gesê dit sal nie reën nie. Die Ekto is die grootste wapen wat sy mentor vir hom gegee het. Dit kan ’n sielvreter en vyf van sy maatjies laat verdamp tot ’n indrukwekkende stofwolk. Enigste probleem is, die Ekto hou nie van water nie. Die Entari wat dit vir hom gegee het, kom nie van ’n waterryke planeet af nie.

Die seun weet dat hy nie vanaand op sy beste is nie. Hy loop nie so ligvoets nie en sy waarnemingsvermoë is ingeperk deur… wat?

“Muisneste,” antwoord hy self die vraag. “En ek is op patrollie. Ek het nie tyd vir muisneste nie. En wie gee om oor my stoppelbaard? Of… die afwesigheid daarvan…”

Die dag het nie goed begin nie. Die Onheilige Drie-Eenheid van Sias, Theo en Brolloks het weer sy gal gewerk gedurende die rugby-oefensessie.

“Hoe gaan dit vandag met jou, Bonaparte?” Het Sias laggend agter Brolloks – sy kolossale en breindood trawant – gevra terwyl laasgenoemde oor Napoleon se post-stoomroller-laagvat-lyf getroon het.

Die Bonaparte-grappies is al lankal oud.

En dit was nie die eerste keer dat Napoleon se hand na sy horlosie gedwaal het nie.

“Net een knoppie druk en ek bliksem jou en sommer die res van die rugbyspan ook,” het hy, wind-uit en briesend, gedink.

Die horlosie lyk soos enige ander horlosie. Maar daar skuil vreemde Entari-tegnologie binne die raamwerk. Dit gee die horlosie die vermoë om hom vir ’n kort tydjie op ’n verhoogde energievlak te plaas. Die selle in sy liggaam kry as te ware ’n Entari-skok, ’n buitewêreldse energie-lading. Elke vrywillige spierbeweging word vermenigvuldig in terme van spoed en krag. Daar is genoeg energie in die horlosie om ’n groot huis vir ’n jaar van elektrisiteit te voorsien.

Daar was egter geen kans dat hy hom só op Sias en kie sou wreek nie. Sy verantwoordelikhede teenoor ander weeg net te swaar. Sy werklike krag moet geheim bly. Sy hand het by die horlosie ontspan.

Sias het laggend weggestap. Brolloks het vir hom geknipoog.

“Om te dink ek red julle gatte elke aand,” het hy gemompel en kreunend opgestaan.

Sy ribbes het nie so lekker gevoel nie.

Hy’t gewonder hoeveel ‘Sias-en-Brolloks-bomme’ hy nog daardie dag as heelagter van die tweede span moes trotseer.

Vir die soveelste keer wil sy kop bars van kwaatgeid oor sy ouers se besluit om hom ‘Napoleon’ te doop. Napoleon die kortgat. Sy naamgenoot. Die briljante Franse strateeg… terwyl hyself sukkel om eenvoudige wiskunde sommetjies te verstaan.

“Wat is dit van ‘gatte red elke aand’?”

Napoleon was skielik yskoud en naar. Iemand het hom gehoor. Hy het stadig na links gedraai…

Die pragtige meisie was binne twee meter van hom op die kantlyn. Haar naam is Bianca du Toit.

“O dônnertjie…,” is al wat hy kan dink.

“Is jou wind uit, Napoleon? Jy lyk so ’n bietjie… olik, jong.”

Behalwe vir die ‘o dônnertjie’- gedagte was daar nie veel meer wat in sy verstand aangegaan het nie. Hy’t gevoel soos ’n skootrekenaar wie se sluierskerm aangegaan het – die brein is aangeskakel maar nie juis effektief nie.

“En?” het Bianca met haar fyn wenkbroue opgetrek gevra.

Napoleon onthou dat hy in sy verwarde, sluierskerm-modus, sy blik laat sak het na Bianca se lang, bruingebrande bene. Hy het die mooi lyne van haar kuite net bo die netjiese, spierwit sokkies gevolg. Toe sy blik opskiet, het hy ’n effense, onderdrukte glimlag op haar gesig gesien.

“Ek, um, wit sokkies…” het hy gemompel.

Die herinnering laat Napoleon ril.“Wit sokkies! Dís waarmee jy vorendag kon kom?”Vandag het hy sommer saam met Sias en kie ingespring om sy naam met ’n plank te slaan.

“Welgedaan, ‘Bonaparte – die moroon’!” Hy ril weer.

Nou dink sy seker dat hy, die nuwe seun met die antieke naam, ’n regte pervert is. En waar loop hy vanaand rond? Hy patrolleer niks minder as twee blokke van haar huis af nie. Sy gedagtes kry skielik weer vrye teuels.“In haar warm bed… in haar fyn, amper deurskynende nagklere en…” Hy stop in sy spore.

“Bliksemse hormone! Ek sweer! As daar ’n horlosie was wat my hormone kon beteuel sou ek dit elke dag gedruk het. Dis só vernederend…”

Sy gedagtes en magteloosheid stol toe hy die geritsel langs hom hoor.

Napoleon vries. Na tien sekondes sluip hy na die linkerkant van die pad, weg van die geritsel af.

Toe hy weer binne die Port Jacksons is, kyk hy gou af op sy horlosie.

Die gesiggie van die horlosie het ’n effense, groen gloei. Hy tik twee keer daarop om die horlosie se waarskuwing af te skakel. Dit was amper te laat, want nou sien hy drie lang, skraal figure uit die oorkantste bos verskyn.

Hulle is meer as twee meter lank en elk dra ’n swart pak klere, wit hemp en swart das. Hulle is kaalkop en hulle oë pikswart. Soos met elke ontmoeting met ’n sielsteler, voel Napoleon die haartjies op sy nek rys.

Die drie begin geruisloos by die straat afstap.

“Half binne hierdie dimensie en half in ’n ander,” het Karl vir hom probeer verduidelik. “Met elke lewe wat hulle vat, kan hulle dieper in hierdie dimensie infiltreer.”

En sterker word.

En hulle is reeds sterk genoeg. Napoleon onthou nog hoe een sy arm gebreek het asof dit ’n tandestokkie was.

Napoleon lig die Ekto. Hy mik deur die takke na die middel van die groep, sy duim druk die veiligheidsknoppie en…

… niks gebeur nie.

Die Ekto se kenmerkende energie-sein, wat altyd crescendo tot ’n hoë noot, is heeltemal afwesig.

Wat de…?

Napoleon laat sak die bonkige geweer dadelik en kyk af na die grys-en-swart belynde metaal. Hy voel oor die oppervlakte. Fyn druppeltjies maak sy vingerpunte nat.

Vyf netjiese woorde in neon letters sweef voor sy oë.

VANDAG

SIEN

JY

JOU

GAT

Hy verkyk hom vir ’n oomblik aan die helder woorde wat tussen hom en die bosse hang.

Hy wonder weer vir die soveelste keer hoekom juis hý vir hierdie taak uitverkies is. As hy maar net moes gekonsentreer het op skoolwerk, rugby, puisies en meisies…

Hy dink aan die eed wat hy afgelê het en aan Karl se woorde daarna:

“Onthou, die verantwoordelikheid rus op jou skouers.  Die Entari kan ons van hulle tegnologie voorsien, maar hulle mag nie vêrder inmeng nie. Die sielstelers sal kom en Melkbosstrand sal jou verantwoordelikheid wees. Elke bewaker in Suid-Afrika hou toesig oor een dorp. Hierdie wapens werk nie vir ouer mense nie. Jou DNA aktiveer nog alles wat die Entari gebou het, maar in jou twintigs sal jy ’n mentor vir die volgende bewaker moet word. Mits jy so lank leef…” Ja-nee, Karl het ’n slag met opbouende, motiverende toesprake. “Vergeet maar van rugby, meisies en ’n sosiale lewe. Daar is baie lewens op die spel.”

En die sielstelers het gekom. Eers min, maar later amper weekliks.

Napoleon skud sy kop en vryf oor sy oë. Hy het duidelik te min slaap ingekry. Die neon woorde is genadiglik nie meer daar wanneer hy weer sy oë oopmaak nie. Hy begin dadelik tussen die bosse agter die drie sielstelers aansluip. Hy hoop verbete dat die geweer se meganismes nie permanent beskadig is nie en dat dit vinnig droog sal word.

’n Takkie kraak onder sy voet en hy stop. Hy sien hoe die ander drie ook aarsel. Een draai sy kop stadig om – amper ’n volle 180 grade. Sy skerp tande glim in die maanlig. Maar na ’n ruk draai hy weer terug. Hulle begin weer aanstryk. Napoleon haal weer asem. Hy probeer byhou deur hulle te volg binne die beskutting van die bosse langs die pad, maar hy moet só versigtig trap dat dit onmoontlik is.

Die drie draai by Losperds-singel in. Sweet slaan oor sy lyf uit.

Dis Bianca se straat.

Hy verlaat die skuiling van die bosse en begin so katvoet moontlik oor die pad draf. Hulle is so vyftig meter voor hom as hy hulle om die hoek van ’n muur uit die oog verloor.

Hy draai by Losperds-singel in, maar daar is nie ’n enkele sielsteler langs die sluimerende huise nie. Twee huise vorentoe hóór hy wel iets. Dis die enigste huis met aangeskakelde ligte.

“En natuurlik is dit Bianca se huis,” besef hy, amper duiselig van vrees.

Hy sluip nader en hurk langs die wit muur. Hy laat sy rugsak tot op die grond afgly en vryf die Ekto se oppervlakte met sy hemp in ’n poging om dit droog te kry. Versigtig loer hy deur die swart tralies bo die muur.

Van binne die huis kom daar geraas. Sy instink por hom aan om dadelik oor die muur te spring en in te storm, maar dis verkeerde klanke. Die sielstelers se bloedstollende suig-geluid is nie oor die geraas hoorbaar nie. Niemand roep om hulp nie. Nee, hierdie is ’n hele ander tipe konflik.

Pa en ma wat baklei.

Sy oë dwaal weer oor die werf en nou eers sien hy die meisie in ’n kombers toegedraai op ’n swaai onder een van die bome. Sy lyk half aan die slaap, haar kop teen die swaai se een ketting gestut. Wit sokkies steek onder die kombers uit. Hulle glim amper in die maanlig.

Napoleon sluk. Vir ’n oomblik vergeet hy van die sielstelers. Al wat hy sien is ’n baie hartseer, moeë meisie.

Die volgende oomblik gryp ’n hand hom van agter en hy vlieg drie meter agteruit deur die lug. Sy geweer word maklik uit sy hand gepluk toe hy die teer tref en eenkant gesmyt.

Swart oë kyk af op hom. Hulle lyk soos twee uitgeholde oogkasse.

Napoleon kyk om hom en sien die ander twee sielstelers is reeds by die wit muur. Hy druk die silwer knoppie op sy horlosie en voel dadelik die energie deur sy lyf vloei en… vibreer.

Die hand met die vrot, lang naels gryp weer na sy bors, maar hy blokkeer die beweging met ’n voorarm en rol na links. Hy is op sy voete en systap verby die voorste sielsteler.

“Wie is daar?” hoor hy Bianca vreesbevange  vra.

“Sy moes my hoor val het,” besef hy.

Hy is by die sielsteler wat hurkend gereed maak om oor die muur te spring en slaan hom hard met sy elmboog. Die sielsteler se kop klap teen die tralies. Die volgende oomblik slaan sy maat Napoleon hard in sy ribbes en hy seil amper vyf meter deur die lug.

Napoleon beland teen die grys randsteen. Hy hap benoud na asem. Die sielsteler wat hy geslaan het, staan nou ook traag op. Met ’n klank soos die breek van dik takke kraak sy kop eers na links en dan na regs. Nou draai hulle al drie na hom. Napoleon kom steierend en baie stadig orent.

“Kom julle bliksems. Kom kry vir julle,” fluister hy.

Hulle omsingel hom. Hulle weet hy is een van die Bewakers. Hulle het die geweer gesien. Hulle het gesien hoe vinnig hy kan beweeg. Hy het die verrassingselement verloor.

Terwyl hy kyk begin hulle naels groei totdat hulle vyf sentimeter lank is. Napoleon sluk.

“Jammer, Bianca…” dink hy.

Miskien as hy twee van hulle genoeg kan beskadig het sy ’n kans om te vlug.

Hy spring vorentoe, maar dit is eintlik ’n skynaanval. Hy duik onder die kloue wat deur die lug na sy keel gryp en skop na regs. Hy tref een sielsteler in die knie – hoor iets kraak – en ’n gebrabbel borrel by die sielsteler se mond uit.

Dis ’n goeie ding.

Sielstelers het nie baie swak plekke nie, maar hy het duidelik een gevind. Hy tref die een voor hom met vier vinnige koeng foe-houe en rol dadelik agteruit oor die pad na die een agter hom. Hy kom orent, draai op sy hak en tref die sielsteler met sy ander voet teen die bors. Die sielsteler steier terug.

En toe ontvlam sy rug.

Napoleon kan die kreet nie keer nie. Hy weet dat een van hulle hom met sy lang naels gesteek het.

’n Vuishou tref hom teen die kant van die kop – die naels gly uit sy rug – en hy strompel tot hy op sy knieë neersak. ’n Warm nattigheid begin by sy rug afloop. ’n Voet tref hom vol in die maag  en hierdie keer slinger hy holderstebolder deur die lug tot hy weer teen die wit muur beland. Hy bly half bewusteloos daar lê. Bloed vloei van ’n snywond op sy voorkop en begin by sy wang afloop. Hy kan net-net die sielstelers deur sy bebloede oë sien aankom.

Skielik aarsel hulle.

Napoleon probeer regop sit.

“Bliksems,” prewel hy met ’n wrang glimlag.

Toe eers word hy bewus van die bene langs hom. Bene wat onder ’n kamerjas uitsteek. Mooi, bruingebrande bene en wit sokkies nat van die dou op die gras. ’n Energie-sein begin crescendo in die stilte van die nag en die sielstelers begin retireer. Dit is egter te laat vir hulle.

’n Enorme groen straal bars verblindend oor die straat en verswelg al drie.

“Zôôôhm!” verdamp die Ekto die drie sielstelers tot fyn stofdeeltjies wat traag in die naglug wegdryf.

Die Ekto se energie-sein verloor weer sy geluidsterkte.  Napoleon kyk verward op. Bianca staar geskok eers na die leë pad en dan na die steeds gloeiende wapen in haar hande kyk. Sy draai stadig met groot oë na hom.

“Hoesit, Sokkies?” kraak sy stem. Hy glimlag verleë.

Sy laat val die geweer en sak langs hom op haar knieë.

Hy kyk na waar sy die Ekto op die nat gras gegooi het en wil nog beswaar maak, maar Bianca se hand is skielik teen sy wang.

“My rugsak…” kreun hy.

Sy draai om en gryp die rugsak wat nog langs die muur staan en gee dit vir hom aan. Hy vroetel daarin en haal ’n piepklein CD-speler en drie uitgebrande vuurwerke daaruit. Hy gooi die laasgenoemde op die pad en druk die PLAY knoppie op die CD-speler sodat die pad skielik weerklink met die geluide van monsters en lasers.

Sy kyk fronsend na hom.

“Dis alles geheim. Mense sal dink dit was net ’n poets.”

Sy help hom orent en hy beduie dat hy self verder sal regkom. Haar lyf is warm langs syne en sy ruik vir hom so bedwelmend dat hy amper van sy wonde vergeet.

“Ek verstaan nie,” sê sy uiteindelik.

“Gaan huis toe, ek sal môre met jou praat. Moet niks vir niemand sê nie. Ek sal later alles verduidelik. Ek belowe…”

“Jou wonde, jy het ’n dokter nodig,” sê sy kopskuddend.

“Ek’s gewoond aan erger,” lieg hy. “Jy moet in die huis kom voor iemand besluit om ondersoek in te stel.”

Bianca knik stadig, verward maar is nog huiwerig om sy versoek te eerbiedig.

“Arme meisie dink seker sy droom…” dink hy.

Skielik rek haar oë soos sy iets onthou.

“Ons bure is op vakansie en hulle motorfiets staan onder ’n seil in hulle oprit. Die sleutel is onder die rooi klip langs die visdammetjie. Vat dit, dan sal ek dit môre na skool by jou kom haal en terugbring.”

“Uitstekend. Dankie, ek woon…”

“Ek weet, Napoleon. Ek weet waar jy woon,” fluister sy.

“Dís nuus!” dink hy en hoop sy uitdrukking verraai nie hoe verras hy is nie.

Verbeel hy hom of het sy gebloos toe sy dit gesê het?

“Goed. A… goeie plan, Bianca. Dankie.”

“Sien jou môre, Napoleon. Wees asseblief versigtig. Ek weet nie eens of jy ’n kans moet waag op die motorfiets nie. Jy lyk… erg.”

Hy trek sy skouers op en glimlag, swaai die rugsak oor sy skouer en tel die Ekto op.

“Wat, dít?” en hy beduie na die sny op sy voorkop. “Dis net ’n kopwond…”

Grapgat. ’n Macho grapgat…

“Dankie, dat jy my probeer beskerm het.” Sy gee hom ’n vinnige soen op sy wang en glip weer deur die tralie-hek.

“Dankie-toggie dat sy nie my rug gesien het nie,” dink hy en strompel na die bure se huis.

Hier haal hy die seil van die motorfiets af en skakel dit aan. Hy praat met homself, bo die geluier van die enjin.

“My naam is Napoleon Du Toit. En elke aand is ek die enigste lyn van verdediging tussen jou en die hiernamaals. Jy weet nie van my nie. Jy sien nie wat ek doen nie. Vir my vriende is ek net nog ’n eienaardige skoolmaat. Een met ’n snaakse naam. Maar ek is ’n Bewaker.

En elke aand behoort die strate van Melkbosstrand aan my.

En… wel…” Hy kug en hou sy ribbes bietjie vas. “…soms word my gat gered deur ’n mooi meisie met wit sokkies.”

Die motorfiets is reeds weg toe iemand uiteindelik op die straat verskyn en die CD-speler gewaar.

  • Johanna Kruger Prinsloo

    Baie lekker storie van n jongseun droom., cd speler en al.

  • Chantal

    Ek het baie hiervan gehou en jy het ‘n goeie storielyn.