DIE BESOEKER – Ben le Roux

DIE BESOEKER – 2012 © Ben le Roux

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 276 woorde)

“Hoe ontleed, beskryf of som ’n mens ’n ervaring, so vreemd soos dié een op?” Dié vraag bly in Hans se kop maal. Iets raaiselagtig en onpeilbaar, iets hipnoties het sy gedagtes, daardie aand op die klipkoppie, in ’n atmosfeer staties gelaai met ’n vreemde krag, in besit geneem.

“Was dit kontak met ’n bewuste iets/iemand uit die buitenste ruim, of sommer net ’n swewende en swerwende wese sonder ’n plaasbare punt”? peins hy daaroor na. Onaards was dit gewis.

Die nag was maanloos, maar ’n vreemde, amper fosforiese skynsel was sigbaar. ’n Skynsel waarneembaar selfs met jou oë toe. Eintlik meer as ’n skynsel, eerder ’n gewaarwording van ’n hele gedagtegang, ’n bewuswording van betrokke raak in ’n vreemde maar prikkelende gesprek.

Die vreemdheid daarvan het hom nie bang gemaak of ontstel nie, inteendeel, ’n kalmte en rustigheid het oor hom gekom.

“Waar kom die wese met wie hy, daar in die stilte van daai Karoonag, te doen gekry het, vandaan?”

Hy het vir ’n paar dae plaas toe gekom om sy kop skoon te kry. Die gewoel, die gewerskaf en gepaardgaande spanning van die stadslewe het hom tot onttrekking toe genoop. Hy het die rustige lafenis van die Karoo nodig gehad, eintlik daarna gesmag.

Hiér, op die familieplaas, herlaai Hans se batterye. Op ‘sy’ koppie en op ‘sy’ spesifieke klip, warm gebak deur die dag se son, vind hy laataande heling deur na die sterre te kyk en om oor sy lewe en lot na te dink. Met die sterre soveel helderder hiér as in die stede en met die verste rantjies skerp en duidelik teen die naghemel afge-ets, vind hy rus. Hiér het hy dan ook die vreemde wese, dié wese wat sy psige so ingrypend beinvloed het, ontmoet.

Na sy gesprek, noem dit eerder ’n regstelling, ’n herbedrading wat op sy denkprosessse gedoen is deur die vreemde besoeker, was sy ou lewenskrag en moed terug. Dié metamorfose in sy kop het ook ’n bonus gebring, naamlik ’n fassinerende betowering deur die vreemdheid van die ontasbare agtergrond van sy gas se kom en gaan.

Waar sy gedagtes vroeër tot die daaglikse aardse roetines beperk was, is dit nou die heelal en die groot verskeidenheid lewensvorms daarin, waarin hy versonke raak. Alles omtrent dié lewende wese, van iewers uit die onbekende kosmos, prikkel hom, dit neem sy volle aandag in beslag! Die ‘gesprek’ wat hulle gevoer het se impak, hoewel nog nie ten volle verwerk nie, besef hy, is nou deel van sy gedagtegang!

’n Vraag, ongewoon en vreemd aan sy aard, kom by hom op (Is dié denkrigting telepaties, deur die besoeker in sy kop geplant?). Die vraag: ”Leef ons in ’n oneindige kosmos, oneindig in alle rigtings waarin ons ookal kyk? As die kosmos nimmereindigend is, maar daar is ’n beperking op die moontlike variasies waarin alles daarin voorkom, dan moet daar mos ’n oneindige aantal duplikate van als wees. Die ou storie van sneeuvlokkies wat almal verskillend is, is dan bloot ’n mite! Niks is uniek nie!

Duplikate van elke klippie, grassie, gogga, elke reëndruppel, in ’n nimmereindigende heelal, moet daar dus legio van wees! Hoeveel duplikate, van hom is daar op hierdie tydstip, was reeds of sal daar nog wees”. Wonder hy met ’n skalkse glimlag.

Hy voer die gedagte verder: Met alle moontlike variasies van alles iewers verteenwoordig, sluit dit mos ook afwykings in, ook van hom. Dié gedagte raak net meer fassinerend. Met elke besluit wat hy al moes neem, nog sal neem of reeds geneem het, gaan daar ’n keuse mee gepaard en iewers, het hy, maak hy of gaan hy ander keuses maak, iewers afwyk en ’n nuwe koers inslaan! Saam met al sy duplikate is, was of sal daar dan ’n weergawe van sy lewe wees, met al die konsekwensies daaraan verbonde,wat ten volle gelei is, was of word!
Die gedagte, om nou hier te wees maar ook elders, in die verlede of toekoms en met alle moontlike koerse ingeslaan om by alle moontlike eindes uit te kom, vind hy opwindend.

’n Oneindige heelal voel skielik so werklik en seker vir hom! Die teenpool is ’n eindige heelal drywend in ’n oneindigheid van niks. Is dit moontlik? Gewis moes sy besoeker dié idee, van oneindigheid, telepaties in sy kop geplant het, weet Hans nou. So het hy nog nooit aan hierdie dinge gedink nie!

Hoe groot dan is die verskeidenheid bronne van energie, materie en lewende organismes wat in so ’n eindelose kosmos te vinde is? Hoeveel wesens wat van hulself en hul omgewing bewus is, is daar in die heelal te vinde? Dis ’n moeilike beeld om te vorm, iets bowe sy verstand!

Hoe intelligent is sy besoeker, hoeveel insig en kennis dra hy in hom rond? Hoe vindingryk is hy, hoe lyk die probleme wat hy moet oplos? Is daar nog sulke gevorderde konsentrasies van denkende energiesfere as waarvan hy, of selfs die besoeker van of kan weet? Kan hy sy besoeker ’n organisme noem, ’n organisme sonder organe?

Daar is verhewe vlakke in die kosmos, vêr anderkant die mens se bekende werklikhede, dring dit tot hom deur! Ons ken lewe op aarde, van die eensellige amoeba af tot wat ons as die hoogste lewensvorm beskou, naamlik die egosentriese mens. Hoe onbenullig is dié kennis se klein ligkolletjie nie nou vir hom nie!

Vir hom, getoë met ’n houding van wat ek sien is wat ek glo, is dié besef van ’n enigmaties oneindige heelal onmeetlik in grootte, nuut en vêr verwyderd van sy alledaagse bestaan!

Was hierdie besoek aan hom iets uniek? Hy glo nie so nie! “Hoeveel van die wêreld se godsdienste het nie dalk hul oorsprong by so ’n besoek aan iemand iewers gehad nie? Hoeveel stertjies is daar dan nie, oor die eeue heen, bygelas nie? Hoe graag kleur die mens so iets, om dit geloofbaar te maak, nie in nie! Hoe maklik word so ’n ervaring, terwille van indruk maak, nie verdraai nie?” wonder Hans.

Hy besef dat hy dié storie vir homself sal moet hou. Goed kan hy hom dit voorstel wat die koerante daarvan sal maak. Sensasioneel sal dit op die voorblaaie pryk:

Bekende nyweraar ontmoet ’n marsmannetjie in die Karoo!

Op ’n ernstiger noot besef hy: “Die instinktiewe aanvoeling wat die mens al sedert oertye vir ’n alwyse en alomteenwoordige Wese het, het meer om die lyf as dit waarmee die rasionaliste, met die beperkings van hul huidige kennis, mee te koop loop!”

Met ’n oneindige kosmos as energiebron, groot genoeg om as setel vir ’n volmaakte Wese te dien, is so ’n Goddelike Wese eintlik te verwagte! Van so ’n Wese, al sou dit wat hy sien, soos deur ’n spieël en ’n raaisel wees, is hy nou ten volle van oortuig.

Vanaand sit hy weer op sy klip, amper in afwagting op ’n herhaling van die besoek van ’n paar aande gelede, maar vanaand is daar net die nag se geluide vir geselskap. Sy lewensuitkyk het verander maar hoe, en tot watter mate, is nog onduidelik. Hy probeer dit ontleed maar die kern daarvan bly hom ontwyk. Dié soeke om te verstaan sal gewis, by hom, ’n pelgrimstog word!

’n Sekere wete nou vir hom, is dat hy meer sensitief maar ook meer weerbaar, in sy verhoudings met andere gaan wees. In die verte sien hy die ligte van ’n motor en hoor hy die sagte gedreun van die enjin. Dit bring hom terug uit sy bepeinsing uit en tot die besef dat hy homself hiér op dié klein planeet bevind en hiér sy geringe deel moet doen. Hy het ’n nuwe vlak van bewustheid van alles om hom betree. Hy voel bevoorreg!

  • Chantal

    Baie oulik. Ek hou van jou kortverhale, want dit is baie intelligent, maar te kort. En ek sal eerder my storietjie begin het met: Bekende nyweraar ontmoet ’n marsmannetjie in die Karoo!
    Dit sal goed gepas het as jou eerste paragraaf en sal goed ingewerk het met die res van die storie.