DIE FOTO – Magdalene van Niekerk

DIE FOTO – 2012 © Magdalene van Niekerk

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (830 woorde)

Lisa Engelbrecht kyk stip na die rekenaarskerm. Haar man, Carel, sit langs haar en kies opgewonde foto’s wat hy wil laat uitdruk.

“Ek weet nog nie hoekom jy die foto’s wil laat uitdruk nie,” kla sy vir die soveelste keer.

“Ek wil die manne by die werk wys. Stop, daai ene, daai wittetjie, kry hom vir my!” roep Carel opgewonde uit, oënskynlik glad nie ontmoedig deur Lisa se gekerm nie.

“Dis tyd dat jy leer hoe ’n rekenaar werk,” mompel Lisa onderlangs, darem nie hard genoeg vir Carel om te hoor nie.

Lisa laai die foto’s op ’n geheuepen en dink terug aan hul vakansie in Japan. Carel wil sy eie besigheid begin en het die mal idee gekry om robotte in te voer.

In Japan het hulle die wonderlikste robotte gesien. Daar is robotte wat ’n hele huis skoonmaak, afstof, stofsuig, skottelgoed was en dan op ’n spesiale stoel gaan sit om te herlaai. En jy hoef hierdie robot nie te betaal nie, nie kos te gee nie en hy staak nie of behoort nie aan ’n unie nie.

Sy kon haar oë nie glo nie en sy was dadelik net so entoesiasties soos Carel.

Van die nuwe robotte wat bekend gestel was, was die robotte wat bejaardes versorg. Nou hoef bejaardes nie meer in angs en bewing op hul oudag te wag omdat hulle nie weet of daar plek in versorgingsoorde sal wees nie. Die robot versorg die bejaarde en lees selfs vir hulle voor. In die taal van hul keuse!

Die robot wat die meeste opslae gemaak het, was ’n klein robotjie met ’n astrante gesigsuitdrukking wat in woedebuie uitbars wanneer hy iets nie kan kry wat hy wil hê nie en wat alles wil hê en doen!

Lisa het met haar hand op haar mond na die klein dingetjie staan en kyk en gewonder wie op aarde sal geld betaal om ’n stout kind in aksie te sien en in jou huis te hê? Die klein robotjie was egter baie gewild en daar was gedurig ’n groot groep mense wat na hom gekyk het én hom geniet het.

Selfs Carel het van hom gehou: “Hierdie klein stoutgat wil ek die manne gaan wys, neem ’n kiekie van hom, ’n mooie!”

Lisa het ’n foto geneem en noudat sy na die foto kyk, sien sy die ontevrede uitdrukking op die blikgesiggie.

Carel sit-lê voor die TV wanneer Lisa die foto’s langs sy stoel neersit.

“Dankie, Pop!” glimlag hy met ’n knipmes en lang stuk biltong wat op sy ronde maag rus.

Die volgende oggend vroeg word Carel uit ’n diep slaap wakkergeruk wanneer hy Lisa hoor skel. Hy strompel uit die kamer en sien dat sy by stukke van die gebreekte leeslamp staan.

“Het jy weer die venster oopgelos? Kyk wat het rondloperkatte nou reggekry, my mooi staanlamp in stukke en kyk net die lelike krapmerke op jou TV-stoel. Ons kan dit nou net sowel wegmaak!” tier sy voort terwyl Carel buk om sy foto’s op te tel voor sy dit ook weggooi.

Ai, maar die vrou is kwaai vanoggend.

By die werk wys Carel sy foto’s trots aan die manne. Hulle vra opgewonde uit en hy geniet dit dat hulle aan sy lippe hang.

Dan kom die Engelsman met sy verbode tydskrifte en Carel is vergete. Henry gooi die foto’s net argeloos eenkant toe wanneer Carel vra of hy dit wil sien.

Die volgende dag is daar groot konsternasie wanneer Carel by die werk instap. Die hele kantoor is op sy dak omgekeer.

’n Ondersoekspan is besig om vingerafdrukke te neem, want hier was laasnag ’n klomp vandale wat die rekenaars stukkend gebreek het en papiere en tydskrifte stukkend geskeur het.

“Ek dink die nagwag is in op die ding, want hoe kon hy niks hoor nie,” spekuleer die Engelsman en alhoewel Carel nie van hom hou nie, kan hy nie anders as saamstem nie, terwyl hy darem sy foto’s ongeskonde uit die rommel red.

By die huis luister Lisa met ’n halwe oor na Carel se opgewonde vertelling oor die gebeure by die werk. Sy verwonder haar altyd aan Carel dat hy so opgeneem kan raak in alles.

Wanneer sy die wasgoed in die wasmasjien gooi, voel sy deur Carel se sakke en brom onderlangs oor hy nooit sy sakke leegmaak nie. Sy gooi die foto’s sommer so op die slapende Carel en maak nog die kombuis tot laat toe skoon. Hier staan en swoeg sy terwyl hy salig slaap. Die lewe van ’n man.

Na ’n lang, geurige bad is sy uiteindelik gereed om te gaan inkruip. Met haar hand op die ligskakelaar, ontsnap eers ’n gedempte en dan ’n vreesaanjaende gil haar.

Carel lê vol krapmerke op die wit beddegoed wat nou ’n lelike rooi deur sy bloed gekleur is. Sy oop oë vertel Lisa dat hy dood is.

Sy deins terug in die gang in en sien dan hoe uit die donker ’n wit robot met gloeiende oë reg op haar afstap…

  • Whotnot

    klomp k@k

    • Gerhardus Thompson

      Beste Whotnot.
      Ek het nog geen verhaal van jou ontvang of gelees nie (as ek verkeerd is help my).
      Daarom wil ek tog vra dat jy takt sal gebruik as jy die verhale lees (waarvoor ons baie dankbaar is) en beoordeel.
      Ek is oortuig daarvan dat jy nie hierdie woorde sal wil sien of lees van iemand wat jou verhaal gelees het nie.

      • Whotnot

        Ok – verander: klomp tw@k

  • Chatal

    Nee, dankie, ek soek nie ‘n robot in my huis nie! Goed geskryf hoor!