‘N ARWANTYNSE OOMBLIK: DIE SKOONMAKER EN DIE ELFIES – Eben van Renen

‘N ARWANTYNSE OOMBLIK: DIE SKOONMAKER EN DIE ELFIES – 2012 © Eben van Renen

JEUG FANTASIE (2 334 woorde)

Eben van Renen - Toekennings 2012Wel, ek moes geweet het dat hierdie dag sou kom.

’n Stemmetjie breek deur die normale, benewelde dialoog in my kop en lag vir my.

Gedink jy’s anders, nè? Gedink die wette van die onderwêreld is nie van toepassing op jou nie, of hoe? En nou sit jy hier. Lek-ker. Kry vir jou!

Mag wees, klein stemmetjie. Maar onthou, jy sit ook hier. En binnekort gaan hulle by daardie deur inkom en jou ook martel. So kry vir jou óók!

Die stemmetjie bly – genadiglik – vir die oomblik stil.

Dit verskaf my effe verligting, tot ek nog bloedspatsels op die koue beton vloer van my sel gewaar.

Ja- nee, hier word nie doekies omgedraai nie. Hier het menige gevangenisse hul moses – al singende en met ope arms – tegemoetgegaan.

Ek vind myself weereens ietwat… mismoedig, hier in ’n folterstoel vasgegespe met allerhande teatrale martelinginstrumente netjies om my uitgepak. Snaaks, dink ek, hoe skoon die messe en knyptange is in vergelyking met die kamer se oppervlaktes. As skoonmaker is die stof en bloed amper ’n groter foltering vir my perfeksionistiese siel as die donker belofte wat glinster op die tafel naby my.

Hulle hou my natuurlik dop, besef ek skielik toe ek die eenrigting-spieël teen die oorkantste muur gewaar. Eet waarskynlik springmielies terwyl hulle vir my wag om onder die stilte en stank van hierdie kamer te swig. Kan seker nie wag dat ek moet smeek vir ’n vinnige dood nie.

Dônners.

En om te dink my dag het so goed begin…

Dit was 02:00 die oggend en ek was op my pos – ’n tagtig-verdieping monster van ’n gebou in die hart van Bassonstad se sakekern. Die gebou is een van die ellendigste voorbeelde van Arwantynse argitektuur. Dit is ’n ou reus uit die Vestigingsjare, toe die planeet se infrastruktuur vinnig en doeltreffend opgerig is. Estetiese oorwegings was ’n bysaak. As skoonmaker vind ek dit uiters vernederend om in so ’n gedrog te werk, maar ag, die korporatiewe drakke betaal die beste. Nie dat my twee skofte per week as skoonmaker my finansiële ekstase verskaf nie, maar mens het darem jou trots.

En smaak.

Dis miskien ironies, maar my twee dae as skoonmaker hou my onder die radar van die Arwantynse geheime diens, Sektor 9. Niemand weet dat ek eintlik ook ’n skoonmaker van ’n ander aard is nie. En dit is hoekom hierdie werk my so goed pas. Dit verleen my toegang tot baie geboue waar ek soms data moet bekom vir my ander – meer onwettige – projekte.

Eintlik het die twee werke baie met mekaar in gemeen. Stiptheid, netheid, ’n oog vir die fynste ongerymdhede en detail…

Natuurlik is ’n skoonmaker se werk deesdae meer voorman as toilet-skrop-man. Daarvoor is daar te veel diensbotte wat die werk kan verrig. Maar daar is nog nie ’n plaasvervanger vir die menslike oog nie. Selfs nie in die jaar 2957 nie.

“Meneer Bauer, die hele gebou se vloere is gisteraand gepoleer,” kom rapporteer DF-34 toe hy my gewaar waar ek naby die koffiemasjien staan en tob.

De Hoop koffie bly ’n skoonmaker se troos vroeg in die môre. Maar ek raak nie aan kafeïen as ek my ander werkie moet verrig nie. Bewende hande en sluipmoord-projekte meng nie.

“Goed, ek sal later kom inspeksie doen,” antwoord ek en kyk af op my tablet terwyl ek dit van A-4- tot speelkaart-grootte opvou en in my sak steek.

“Meneer, hoe laat wil u kom inspeksie doen?”

Ek kyk op na DF-34. Hierdie ou reeks se programmering is nog nie fyn genoeg ingestel om die irritasie vlak in my stemtoon op te tel nie.

“Luister, ghwarra, ek hoef nie vir jou te sê wanneer ek kom nie. Skrop sommer hierdie vloer se toilette nog ’n keer,” antwoord ek die koepelvormige diensbot so kalm moontlik.

“Meneer, al die toilette is skoon. Ek en DF-23 en DF-89 het…”

“Vervlaks, man! Doen wat ek sê voor ek jou afskakel en uitsit vir herwinning!”

“Jammer, Meneer. Ek sal weer die toilette op vloer 48 gaan skrop.”

Terwyl die ellendige stuk blik wegry op sy kruiperbande besef ek alte goed dat dit die diensbot min skeel watter tipe werk hy moet verrig. Robotte het geen voorkeure nie. Tog voel dit goed om hom vroeg in die môre uit te skel.

En my moerkoffie het nog nie eens ingeskop nie.

Skielik vibreer my tablet weer. Ek haal dit uit my sak en vou die papierdun rekenaar vinnig oop. Daar’s ’n boodskap.

LEGIO: EK HET HOM GEKRY!

Liewe Langenhoven! Dit kan nie wees nie…

Ek maak die boodskap oop en lees dit met my gesig byna teenaan die skerm.

En daar staan die woorde, swart op elektriese wit, waarvoor ek al so lank gewerk het. Soveel opgeoffer het.

…op argiewe… goeie beeldmateriaal… kan spaarwiel-meganisme duidelik sien… het reeds 3D ontwerp van dele voltooi… meganisme oormôre dalk reg vir uitvoer na jou.

Eers blydskap en dan irritasie.

Die bliksem van ’n ghwarra het nie ’n foto van die onderdeel ingesluit nie!

Ek voel sommer lus en maak van Tony ’n vrywillige skoonmaak-projek, pro bono, vir hierdie ondeurdagte, onsensitiewe glips.

Dan beteuel ek myself. As dit nie vir Tony was nie, sou ek nooit daardie onderdeel opgespoor het nie. In my geestesoog sien ek hoe hy aan die spaarwiel-meganisme se ontwerp werk, dit vir ’n diensbot oorhandig, wat dit weer vir die veeldoelige onderdeelfabriek in Darios oorhandig. Ek volg die geheimsinnige boksie (ek het mos nou geen idee hoe die donnerse onderdeel lyk nie!) soos dit uiteindelik op ’n atmosbreker-transportskip beland, die atmosfeer breek en op een van die groter pos-ruimteskepe beland. Daarna die lang vlug deur die ruimte na een van die talle sterhekke in die Sterre Konfederasie, waarna dit ’n vinniger-as-lig sprong sal maak – oor en oor tussen sterrestelsels en die Huise van die Bekende Ruim – totdat die pakkie op ’n kleiner vragskip beland, wat dan weer deur die Arwantyne se piepklein sterhek sal spring tot dit in Arwantynse Ruim, hier in die Onbekende Ruim, op eindig.

Miskien sal ek teen die einde van die week die laaste onderdeel van my bakkie hê.

Uit-flippen-eindelik.

My obsessie het ’n klimaks bereik. Sewentien jaar bou ek al aan die 1991 Nissan Kingcab. Elke deel is uit argief-materiaal ontwerp en in peperduur fabrieke gereproduseer. Dit was net die vervloekte meganisme wat die spaarwiel onder die bak van die bakkie vasmaak, wat ons ontglip het. En nou het ek dit.

Ek voel amper naar van opwinding.

Nee, ek is naar van opwinding.

Ek betrap myself dat ek glimlag – hier op my folterstoel.

Goeie herinneringe.

Om te dink daardie pakkie is een van die dae by my huis in Spiesfontein.

Om te dink jy gaan nie daar wees om jou bakkie uiteindelik voltooid te sien nie.

Die glimlag verdwyn weer toe die stemmetjie in my kop koggel.

Hierdie keer bly ek stil.

Ek wonder hoekom ek die obsessie ontwikkel het. En waarom juis ’n 1991 Nissan Kingcab? Toe ek daardie eerste foto gesien het, het ek geweet: dis die een! Hy is só lelik, hy’s eintlik mooi.

“Wel, wel, wel.”

Twee dwergies stap die kamer binne. Hulle is so lelik dat dit eintlik ’n marteling vir die oë is. Nie een is oor die 1.3 meter lank nie. Ek probeer my gesig uitdrukkingloos te hou. Toe die lig beter op hulle val sien ek hulle is nie dwergies nie.

Die noodlot het my twee Elfarandi-uitvaagsels verskaf: die Huis van die Astekke se geneties-gemanipuleerde monstertjies wat berug is vir hul totale gebrek aan menslikheid. Hulle is so kort soos dwergies maar fyner gebou. Amper delikaat met ’n lig-groen vel.

Ek probeer om nie te lank na hulle geskende gesigte te staar nie. Die Elfarandi, so lui die legende, sny en brand hulle eie lywe en gesigte as hulle nie iemand anders kan kry om op te ‘oefen’ nie.

Hulle hare is wit en dit beteken dat hulle nog jonk en vol lewenslus – of martel-lus – is.

“So, dis die beroemde Janfiskaal,” lag die een met die meeste brandwonde op sy gesig.

Ek doop hom dadelik ‘Sybrand’.

(Ek voel nogal gevlei deur die Astekke se bynaam vir my. Nog altyd van daardie voëltjie gehou…)

“Ek skat so. Ek het iemand meer indrukwekkend verwag,” skerts die een met die meeste snywonde op sy gesig.

Ek doop hom dadelik ‘Snyman’.

Hulle loop tot voor my.

“En om te dink jy het gedink jy kan met die Huis van die Astekke lol, hulle derde in bevel verwyder en… wat? Wegkom daarmee?” vra Sybrand. Hy en Snyman lag alte lekker.

Sybrand krap oor die rowe op sy gesig. Een van hulle skeur oop en hy suig die bloed van sy fyn vingers af.

“Wurms,” por Snyman hom aan. Hy bring ’n fles van agter sy rug te voorskyn. Binne krioel daar twee wurms, elk omtrent tien sentimeter lank met yslike kake.

“Wag eers met die wurms, Boet,” paai Sybrand. Hy draai weer terug na my. “My boet het ’n ongesonde voorliefde vir die gebruik van Mabantynse snywurms.”

O…

…drak.

Lyk my Snyman wil my maag oopsny, die Mabantynse snywurms inprop en dan vinnig toe kram sodat hulle kan aanskou hoe die groot wurms my binnegoed verslind.

Dis ’n ou grap van die Tar-planeet Hatsh. Daar was blykbaar ’n TV-program gewees waarin daar op die uithouvermoë van ‘deelnemers’ onder hierdie ongemaklike omstandighede gewed was. Jy kon glo wed op die een wat die langste sou bly lewe, die hardste kon gil, ensovoorts ensovoorts…

Ek het nog nooit regtig van die Tar gehou nie.

Daarom dat ek redelik gewillig kontrakte aanvaar op Tar-lewens. Veral op die grootkoppe. Wat natuurlik tot my huidige benarde situasie gelei het.

“Ek dink ons moet eers sy hande afsny, wat dink jy?” vra Sybrand.

Ek besluit om maar saam te speel.

“Nie dat ek julle bewonderenswaardige bepeinsinge wil onderbreek nie, my geagte vertikaal-gestremde here, maar ek is ’n voorstander van ’n stadiger, meer tradisionele folterkuns.”

Die twee lyk ietwat van stryk gebring – maar net vir ’n oomblik.

Wit hare beteken hulle is jonk en vol energie. Dit beteken ook hulle is onervare.

“Naels,” fluister Snyman uiteindelik.

Stadig glimlag hulle. Sonder om verder te stry oor my lot, knik hulle vir mekaar. Sybrand loop na die tafeltjie en kom terug met ’n enorme knyptang.

Ek kan my geluk nie glo nie.

“Een nael elk?” vra Sybrand skielik weifelend, die knyptang dryf so drie sentimeters van my regterhand se duim. Dit lyk amper asof hy verbete hoop dat Snyman hom sal toelaat om al die pret self te hê.

Snyman knik ernstig, amper waarskuwend. Die elektriese lig val glinsterend op die kepe op sy gesig. Sy lig-blou ogies knip gevaarlik in sy ‘boet’ se rigting.

Sybrand sug, vestig sy aandag op my duim en mik met die tang.

“A… net voor jy begin. Een vragie.”

Sybrand huiwer, kyk dan ietwat onthuts op van sy tang.

“Wat?” vra hy.

Sien ek ’n bietjie kwyl op sy ken? Magtig…

Ek sug.

“Is genade ’n opsie?”

Albei frons voor hulle misvormde gesigte weer glimlag. Hulle interpreteer seker hierdie vraag as my eerste protes.

“Nie so gedink nie,” sê ek. “Reg, gaan maar voort.”

Sybrand hoor my in elk geval nie en ek voel die tang op my duimnael vasklem.

Ek byt op my tande en maak gereed vir die pyn.

Toe hy die nael stadig uitskeur, onderdruk ek ’n gil met ysere selfdissipline.

“Haai, Boet! Kyk hierdie snaakse nael,” roep Sybrand uit en gee die nael vir Snyman aan.

Soos ek gesê het; onervare.

“Dertien, sewe, vyf, vyf, Kingcab!” roep ek.

Die nael ontplof in Snyman se hand in ’n klein gaswolkie.

Hulle lyk ’n oomblik verward voordat hulle lam op die grond neersak. Genadiglik val Sybrand met sy kop netjies op my skoot.

Tog so bedagsaam…

Die naels is ’n ou truuk uit die Huis van die Ewige Ooste. Ninja-spesmagte het ’n metode vervolmaak wat ingewikkelde elektronika in naels plant. As hulle verwyder word, kan die draer se stem hulle aktiveer om ’n gifgas vry te stel. Die draer is natuurlik immuun teen die gif. Dit kos ’n bietjie werk en mens moet ’n gesonde pyndrempel hê, maar vandag is dit die tweede keer dat hierdie voorsorgmaatreël my lewe gered het.

Tien minute van worstel met die folterstoel en ek staan oor die verlamde Elfarandi. Hulle kan net hul oë beweeg.

“Ek gaan julle pragtige – en vervloekte – handjies moet oes, ingeval daar palmsensors in hierdie gebou is. Julle verstaan seker? Dis niks persoonlik nie. Ek het niks teen die elf-ras nie.”

Ek loop oor na die tafeltjie en kies die saag.

“Daarna gaan ek julle kele ook afsny. Onthou die vraag oor genade? Ek het nie gepraat oor my eie lewe nie, ek het verwys na die genade wat julle van my moet ontvang.”

Drie minute later beskou ek my handewerk.

Ek kon miskien ook ’n chirurg gewees het. Werklik pragtige werk.

Ek sit die twee fyn handjies in ’n sakkie en trap oor die dooie Elfarandi. Hulle moes alleen in die gebou gewees het, anders was hulle makkers al lankal hier.

Ek is dus nie verbaas toe ek die res van die gebou te siene kry nie. Dit is niks meer as ’n vervalle fabriek nie. Daar is egter iets aan die struktuur en atmosfeer van die gebou wat my begin omkrap.

Toe ek by die deur uitstap weet ek die grap is op my.

Ek was bewusteloos toe die Elfarandi my ontvoer het. Daarom het ek gedink ek was nog op Arwantië.

Nie so nie.

Ek kyk voor my uit en sien die besoedelde hel van ’n stad op die grys-groen horison. Ek sien die verskroeide aarde om my.

Nie Arwantië nie.

Ek is op ’n Tar-planeet. Waarskynlik Takashi-2.

Bevolking: ses miljoen waansinnige, bloeddorstige Tar.

En elkeen van die bliksems staan tussen my en my vryheid. Belangriker, tussen my en my voltooide 1991 Nissan Kingcab.

Ek druk die enorme Taiburi-lasergeweer se aansitter-knoppie. Die batterye se energie-sein begin brom voordat dit op ’n crescendo die wapen gereed skop.

Vraag: Hoe eet mens ’n olifant?

Antwoord: Happie vir happie…

  • Chantal

    Uitstekend geskryf! En baie geluk, omdat jy twee keer gewen het!