KONFLIK OOR SUIDOOS-ASIË – Waldo Kühn

KONFLIK OOR SUIDOOS-ASIË – 2012 © Waldo Kühn

VOLWASSE WETENSKPFIKSIE (6 314 woorde)

Sending oor Noord-Korea.

Kaptein André Ligthelm se Skunkworx Blue Sinistére (Blue S.) verkenner-jagbomwerper klief deur die onderste grens van die ionosfeer. Vyf kilometer agter hom volg ’n eskader van vier Sjinese Red Falcons. Op hierdie hoogte met sy yl atmosfeer kan die Blue S. se twee Pratt and Witney turbostraal motore beswaarlik funksioneer. Sy scramjet-gedrewe agtervolgers is in hul aërodinamiese element, teoreties in staat om twintig maal vinniger as die Blue S. te vlieg. Maar die Sjinese het ’n stryd om hul prooi teen die relatief lae snelheid te volg, waar hul hipersoniese aanjaers protesteer en kets soos ou tjorre. Hulle is bekommerd dat hulle dalk al verby die Blue S. gevlieg het, want hul radar sukkel om die vliegtuig te volg. Die Amerikaanse Blue S. van die Navo Westerse mag is die Oosterse vegters ver vooruit in terme van elektroniese oorlogvoering en -ontwyking. Veral digby die ionosfeer, wat elektries belaai is sedert ’n reuse sonvlam deur die son se oppervlak begin breek het. Die Navo magte het juis hierdie natuurverskynsel gekies as ’n ideale geleentheid om die Blue S. verkenner-jagbomwerper met sy elektroniese ontwyking in te span om ’n sleutel radar- en gevegbeheer installasie diep in Noord-Korea te bombardeer.

’n Onbemande vliegtuig of kruisermissiel sou ’n minder riskante opsie gewees het vir die gevaarlike opdrag, maar hierdie oorlog, wat toenemend dreig om in ’n derde wêreldoorlog te eskaleer, was tot dusver nog verbasend goed ingeperk tot ’n “gentleman’s war”, waarin alles denkbaar van alle kante ingespan word om diplomatieke kanale oop te hou. Bombardering van teikens in bevolkte areas moet volgens die huidige VN-oorlogskonvensie met “mens-in-die-ketting” lansering geskied. Weens die swaar elektroniese teenmaatreëls, beteken dit dat bemande sendings met visuele bevestiging van sulke teikens geld.

André Ligthelm is ’n Suid-Afrikaanse vrywilliger in die Navo taakspan. Sy Amerikaanse vlugleier het opdrag gegee dat die twee-vliegtuig eskader formasie moet breek nadat die Falcons op hulle toegesak het, oomblikke nadat hulle hul laser-geleide bomme losgelaat het. In lyn met die Konvensie, het hulle die bomme tot op die teiken gelei om te verseker die bomme verdwaal nie. Kort daarna is radio-kontak tussen die spanmaats verbreek. Ligthelm bevind hom sowat 500 kilometer van die Navo taakmag. Sy grootste vrees is nou dat die Sjinese hom sal agtervolg tot by die vlootmag en ’n konfrontasie met die mag ontlok. ’n Grootskaalse aanval van ’n Sjinese mag op ’n Navo taakmag kan ’n katastrofale keerpunt in die groter konflik wees.

Twee maande tevore het Sjina Taiwan aangeval. Sjina het dit as ’n interne aangeleentheid beskou omdat hy nie die onafhanklike status van Taiwan erken het nie. Taiwan het die aanval afgeweer met swaar verliese aan lewens en infrastruktuur. Navo lande met vlote het skepe na die Japanse See gestuur. ’n VN resolusie om ekonomiese en militêre sanksies teen Sjina toe te pas is aanvaar. Rusland en die meeste Midde-Oosterse lande het teen die resolusie gestem, terwyl Afrika en Indië buite stemming gebly het. Rusland het die handelsverbod grootliks geïgnoreer. Rusland het gedreig om militêr aan die kant van Sjina betrokke te raak, indien Navo-magte ’n aanval op Sjinese grondgebied sou uitvoer. Tot dusvêr het die Navo-magte slegs teikens in Noord-Korea en binne ’n 100 km-radius rondom Taiwan aangeval. Navo basisse in die Filippyne en Suid-Korea is versterk en ou Amerikaanse vlootbasisse in Japan is heropen. Maleisië, Singapoer en Viëtnam het alle Navo operasies, hetsy vanaf hulle grondgebied of oor hul lugspasie, verbied.

Tydens die afgelope week het Noord-Koreaanse militêre teikens wat nie agter “menslike skilde” in stedelike gebiede kon skuil nie, genadeloos onder swaargeskut en bomme deurgeloop. Navo se ganse Stille Oseaan vloot neem nou aktief deel aan die aanvalle. Die Suid-Koreaanse weermag en Navo marinier-soldate het reeds op verskeie plekke die grense van Noord-Korea binnegeval.

Kaptein Ligthelm se dataverbinder tas sy onmiddelike lugruim af vir sy spanleier, maar vind geen teken van hom nie. ’n “Kalm” elektroniese alarm-toon vestig sy aandag op sy vegbeheer rekenaarskerm. Agt lug-tot-lug missiele is oppad. Die rekenaar inisieër sarsies hoë-energie laser- en mikrogolf polse om die missiele te verblind en lanseer die Blue S. se volle kontingent 60 mm teen-missiel geleide vuurpyle en afleimaatreëls. Die missiele klief deur die lug teen Mach 5. Kragtige ontploffings ruk die Blue S. soos die “hard-kill” teenmaatreëls op die nippertjie hul teikens afweer. André druk die beheerstok hard na links; die Blue S. rol 180 grade en duik oombliklik skuins na onder om die res van die missiele te vermy en agter die aanvallers te kom. Hy kry ’n onaangename floute weens die negatiewe G-krag; maar hy behou sy bewussyn en verminder drasties snelheid. Hy weet die hipersoniese Sjinese onderskeppers is baie swak in stadige nou-draai maneuvrering. Dis tyd om weg te kom van dié plek!

Terwyl hy verder duik om sy agtervolgers af te skud, vang sy oog ’n rookpluim op die grond doer onder. André voel instinktief dat sy leier se vliegtuig neergestort het. Hy draai die Blue S. in die rigting van die rookpluim. Daaris nou geen teken van die Sjinese nie. Hy daal in ’n spiraal rondom die rookpluim. Dan sien hy wrakstukke. Hulle lê gestrooi in ’n uitgestrekte woud-landskap. Hy stuur die koördinate na die vloot. As sy spanleier oorleef het, sal hy in ’n oopte verskyn om hom aan sy spanmaat te vertoon. Ligthelm sirkel stadig oor die wrakstukke en fynkam die onmiddelike area – visueel is daar geen teken van lewe nie. Hy skandeer met hittestraal-kamera, maar net die hitte van die smeulende wrakstukke registreer. ’n Alarm biep weer – vyandige radar betas die area. Is die Sjinese alweer op hom? Nou kan hy van grondweerkaatsings gebruik maak om onsigbaar te bly. Maar dan tel sy radar iets op. Wat was dit?! Hy roteer die fokus-as van die Blue S. se radar ’n paar grade na Noord. Op die radarskerm verskyn meer as tien kontakte. Dis Chengdu J-55 vegters, skaars vyf kilometer ver en onderweg na sy posisie. Die biep-piep van die radar waarskuwing-ontvanger word ’n uitgerekte peee… Die J-55s het hom waargeneem en teiken hom. Kaptein Ligthelm lanseer al vier sy lug-tot-lug missiele – twee radar-geleide AMRAAM Mk-8 en twee AIM-NG Sidewinders met multispektrum optiese beeldherkenning. Elk van die missiele volg ’n teiken. Die vegters spat uiteen, maar elke missiel vind sy teiken. Vier J-55s tref die grond en ontplof. Daar is nog, ten minste, tien Chengdu en Sukhoi SUs en die Blue S. se radar-verklikker tel nou skanderings vanuit die Weste en Suide op. Die byenes is opgejaag! Die enigste hoop nou is: nabranders aan; en bid! Hy peil regstreeks af op twee SU’s en vuur sy 20 mm M61A5 kanon. Die SUs los terselfdetyd sarsies 30 mm geleide ammunisie sonder om iets te tref. Die alarm waarsku weer dat missiele van agter, teen Mach 4.5 onderweg is. Ligthelm het beweegruimte nodig om die missiele te ontwyk. Hy klim vinnig terwyl sy gevegsrekenaar die missiele met teenmaatreëls probeer verwar. Hy kan hoor hoe twee missiele kort na mekaar die grond tref. Dan, die onvermydelike… Die Blue S. ruk hard en swaai skerp na links. André ken sy vliegtuig. Hy weet instinktief wat gebeur en hoe om te reageer. Hy verloor tydelik sy bewussyn toe die uitskietstoel hom na bo versnel. Wanneer hy bykom, is hy besig om onder sy valskerm neer te daal oor vyandige gebied. Hy is nie seker of dit Noord-Koreaanse of Sjinese grond onder sy voete is nie. Hy weet hy bevind hom iewers noordoos van die Changbai bergreeks, ongeveer 40 kilometer ONO vanaf die Kratermeer, op die Sino-Koreaanse grens.

Toe die vliegtuig begin opbreek het, het die vlugrekenaar dit in ’n nanosekonde waargeneem en ’n outomatiese mayday via satteliet-verbinding na die vloot uitgestuur. Boonop sluit Kaptein André Ligthelm se oorlewings-gereedskap ’n sattelietfoon in wat Navo-magte in staat stel om gedurigdeur sy posisie te volg. Op die grond verwittig hy Navo van die tientalle vegters wat soos aasvoëls oor hom sirkel. Hy skat Sjinese helikopters sal binne vyftien minute op die toneel wees en manskappe aflaai om hom te jag. Noord-Koreaanse helikopters kon selfs gouer op die toneel gewees het, maar tydens die bombardering van die radar-bevelstasie het ’n hele paar Noord-Koreaanse helikopters op die grond deurgeloop. Taakmag groepbevelvoerder Visie-admiraal Leslie Zondervan beveel Kaptein Ligthelm om die woud as dekking te gebruik om die vyand te ontwyk. Hulp sal oor ’n uur opdaag. Intussen moet hy suidwaarts beweeg.

“Just please stay off Chinese soil, Blue 2.” En nee, sy vlugleier het nie kontak gemaak nie.

Ligthelm begin dadelik vinnig beweeg. Na ’n paar minute sien hy Noord-Koreaanse soldate op die grond. Hy kniel agter ’n boom en bespied hulle deur sy verkyker. Daar is ’n goed gekamoefleerde lugafweer kanon, ’n 23 mm dubbelloop van die tipe wat al meer as honderd jaar, sedert die Tweede Wêreldoorlog, in een of ander vorm in gebruik is. Daar is ’n aantal soldate rondom die kanon vergader. André hou hulle ‘n tyd lank dop en beweeg dan vesigting, maar vinnig, voort… suid.

Duisende kilometer wes daarvandaan is ’n groepie mense bymekaar op ’n kleinhoewe in die Noord-Kaap in Suid-Afrika. Jan en Marietjie Ligthelm, André se ouers is ook daar op die hoewe van Hannetjie van Zyl. Dit is ’n gebedsgroep en vanaand word daar gebid vir Hannetjie se seun Henko en sy vroutjie Liesl wat tans sendingwerk doen in die suide van Sjina. Westerse sendelinge is uit Sjina verban, maar sendelinge uit Afrika kon aanbly weens Afrika se neutrale houding teenoor Sjina. Daar word ook gebid vir André Ligthelm wat moontlik ontplooi is as deel van die Navo taakmag. Sy ouers is nie seker nie, hy mag selfs nog op ’n basis in Amerika of Engeland wees. Dis maar soos dit gaan met militêre operasies en die gepaardgaande geheimhouding.

Geduld Asseblief.

Dis koud en nat hier, maar sprokiesmooi. En verbasend vreedsaam: die vegters het om een of ander rede die arena verlaat. ’n Vibrasie in een van sy mousakke beteken die vloot kontak hom. Kaptein Ligthelm antwoord sy sattlietfoon. Dis Visie-Admiraal Zondervan. Sy stemtoon is simpatiek maar beslis: “André, we will not be able to honor our schedule… you may have to sit tight for a day or two; three days at the very most. We had the North-Korean air-force all but destroyed, but the Chinese are standing in for them. We cannot send Ospreys so deep into enemy territory right now. It is almost guaranteed they will be shot down by either Chinese aircraft or shoulder launched SAMs. The Chinese are also moving sophisticated mobile anti-aircraft systems into NK. We are targeting them and we are moving our own anti-aircraft assets into the battle as well, and they are already giving the Chinese aircraft a tough time; I mean it, they are going down like in the Marianas turkey shoot, ok?! I would also have you know we received word from Washington. Talks are in full swing. China may be going soft on Taiwan, and then we will draw a new parallel between North and South-Korea and it may actually all be over by Christmas, for real this time. And if we can’t go the Osprey route, there’s the Plan B-option.”

“Roger Admiral, I understand.”

Dit gaan ’n baie lang wag wees. Hy het die oorlewingsgereedskap en hy het die opleiding. By ’n rotskoppie klim hy tot bo met sy verkyker om die wêreld versigtig te bespied. André maak ’n bed onder die rotskoppie. Hy sal op groen takke slaap sonder ’n vuur wat sy posisie sal verklik. Hy dra ’n goeie termiese lyfkous onder sy vliegpak. Hy eet ’n energiestafie en elektroliet-aanvullerjel uit sy rantsoene en maak sy waterbottel vol uit ’n nabygeleë stroom.

’n Tak kraak skielik op die grond naby hom.

일어나” (Staan op!) skree iemand. André is omring deur Noord-Koreaanse soldate. ’n Voetpatrollie het hom reeds vroeër gewaar en agtervolg. Hy word hardhandig deursoek en sy 9mm pistool en sattelietfoon, horlosie, kompas en ander toerusting word afgeneem. Die offisier deursoek sy sakke vir rantsoene en dokumentasie. ’n Ander offisier stap nader deur die kring van soldate. Hy is ’n Sjinees en ’n majoor. Die NK offisier wys aan hom wat hulle als op Ligthelm se persoon gekry het.

“What is your name?” vra die Sjinees vriendelik maar ferm in Engels.

“Ligthelm… André Ligthelm”.

“American?”

“Yes.”

“Come American, we show you the countryside.” Met sy hande agter sy rug vasgebind, marsjeer hulle hom sowat 100 meter na ’n plek waar nog soldate en ’n vragmotor wag.

“Get in.”

“Blindfold him!”

살인에대한확신이없고

Van die soldate klim agterin die vragmotor, insluitend die Sjinese majoor. Na ongeveer vyftien minute se ry deur woudpaatjies hoor André die gedreun van ’n helikopter. Hy eien die klank as dié van ’n tipe van Russiese oorsprong.

“You and I are going for a flight. You must be very nervous, but you maintain yourself well. We are both professional soldiers. I assume you know that you are not being taken to a five-star hotel André Ligthelm?”

Die vragmotor kom tot stilstand en André Ligthelm word uitgehelp.

“Come,” sê die Majoor saaklik en vat sy arm vas. Hulle drafstap na die wagtende helikopter en André word aan boord gehelp deur nog hande. Die Majoor sit langs hom en hy skat daar is nog twee soldate agter in die helikopter en waarskynlik ’n mede-vlieënier wat voor langs die vlieënier sit. “等待” (wag) beveel die majoor die vlieënier.

“This sattelite phone is giving your position to your superiors, is it not? I’ve never seen this type before; we are quite familiar with Nato communication equipment, but this is an upgraded model. Really Nice,” sê hy terwyl hy met André se sattelietfoon vroetel, “I would like to give it to our boffins for study, but I’d better remove the battery first. I think that would be for the best, don’t you André Ligthelm?”

” (gaan) beveel hy die vlieënier. Die helikopter styg op en slaan onmiddelik koers in. ’n Uur later sirkel die helikopter en land. André weet hulle is diep binne die PRC.

Op die vliegdekskip USS Barak Obama, die huidige tuiste van Blue Eskader ontvang Visie-Admiraal Leslie Zondervan ’n intelligensierapport skaars vier ure later. ’n Russiese helikopter is per satteliet waargeneem in die onmiddelike omgewing van Blue 1 en 2 se neerstortings-toneel, kort nadat Kaptein Ligthelm onsuksesvol was om sy 18h15 roetine sattelietfoon-kontak te maak. Dit het die intelligensie-offisier opgeval dat die helikopter skaars tien minute vertoef het, twee persone aanboord geneem het en daarna vinnig reguit oor die Sjinese grens gevlieg het, in die rigting van Beijing. Verbinding met Blue-2 se sattelietfoon is afgesny op dieselfde tydstip toe die helikopter opgestyg het. Die verkenningsatteliet het ongelukkig nie die helikopter gevolg nie, omdat die objektief op daardie stadium monitering van die onmiddelike neerstortingsterrein was.

Vyfster.

André Ligthelm is steeds geblinddoek en sy hande agter sy rug vasgemaak. Sedert hulle geland het, was hy weer in ’n vragmotor gelaai vir ’n rit van vyf minute. Daarna was hy hiernatoe en daarnatoe in ’n gebou gelei. Hy word met trappe af gelei na wat ’n ondergrondse area moet wees. Nou weer links in die gang, dan weer regs. Van die voetstappe kan hy aflei dat hy van twee soldate vergesel word; die een lei hom aan die arm. Hulle praat nie ’n woord nie. ’n Elektriese traliedeur gly oop. André word sowat drie tree vorentoe gestoot en sy blinddoek afgehaal en die Sjinese majoor sny sy handboeie los. ’n Sjinese soldaat staan by. Hulle is in ’n klein tronksel. Daar is geen vensters nie, dit is soos ’n bunker. Daar is ’n staalraambed met ’n matras, ’n staal bedkassie, ’n staal wasbak en toilet en ’n houtstoel. En daar is ’n baie skerp lig in die dak wat reguit op die bed skyn. Buite die sel is ’n donker gang. Daar is nie ander selle oorkant die gang nie. Daar mag dalk nog selle na sy linkerkant wees, maar syne is die laaste in die gang wat doodloop. Die majoor wys met ’n handgebaar aan André om op die bed te sit.

“Which part of the USA are you from?” vra hy terwyl hy die stoel nader trek en sit.

“We trained in California.”

“Edwards Air Force Base?”

“No, Beale.”

“What I meant was, where were you born?”

“South Africa.”

“So you went halfway across the world looking for adventure, yes?”

“Yes.”

“And where does your unit operate from currently?”

“I can’t say.”

“Of course not… When we caught you, had you been given an extraction point?”

“No.”

“So you were awaiting further instructions?”

“Yes.”

’n Soldaat daag op met oranje klere in sy hande.

“Take off your flight suit and put this on. You are inmate 42,” sê die majoor en draai om en loop. Die twee wagte kyk toe terwyl André sy vlugpak verruil vir die oranje oorpak.

Dan loop hulle ook. Die een draai na André terwyl die traliedeur outomaties toegaan en grinnik: “Sleep well inmate 42.”

André spoel sy gesig in die wasbak. En sit op die bed. Daarna lê hy met sy hande onder sy kop vir ’n kussing. Hy voel angstig en dit verbaas hom nie. Die sel is koud. Die soldaat wat die oorpak gebring het, het daarop aangedring dat André ook sy termiese lyfpak uittrek. Maar daar is nóg ’n gevoel, ’n donker hulpeloosheid wat aanhou, dalk selfs ’n voorgevoel…

’n Paar uur later pluk iemand aan hom. “42 sit up!” Daar is twee Sjinese. Die een, ’n sersant in uniform, is ’n kort fris man, skreeulelik met ’n lang litteken aan die linkerkant van sy gesig en ’n linkeroog wat amper permanent toe is. Die ander een dra siviele klere. Sy gesig is uitdrukkingloos. Buite die sel is nog ’n soldaat. Die man in siviele klere hou vier wit kapsules en ’n beker water.

“Open your mouth.” André maak sy mond oop.

“Wider!” Die man gooi die pille agter in André se mond terwyl die sersant skuins agter hom stelling inneem en sy kop met ’n hand op sy voorkop, agteroor hou. Dan druk die man die beker voor sy mond en laat water inloop.

“Swallow!” en hy druk André se onderkaak toe met sy hand. André sluk en stik. Hy hoes erg en gooi amper op.

“If you vomit, you lick it up,” sê die sersant streng.

“Go back to sleep!”

André lê op die bed. Hy voel koorsig en sweet. Sy verstand voel helder en intens. Alles fokus op die hier-en-nou. Hy voel bang. Dit lyk of daar ’n klein kakkerlakkie op die wasbak sit; dit is half-vreemd dink hy, in só ’n kliniese omgewing. Nou voel dit of die vertrek rondom hom draai. Daar lag mense; dit klink soos ’n partytjie. André se lyf voel swaar. Hy kyk op na die hoek van die sel. Dit lyk of daar ’n ou Sjinese vrou op die stoel sit. Hy kyk stip. Ja sowaar! Sy kyk vir hom en bars uit van die lag. Dan verdwyn sy; nee sy verander in ’n draak en seil onder sy bed in. Sy lag weer. Hy hoor voetstappe. Mans staan en gesels buite sy sel. Die deur gaan oop. Die lelike Sjinese sersant van vroeër en ’n lang Kaukasieër in siviele drag, met kortgeskeerde ligte hare, ’n verhewe voorkop en ligblou oë. Hy is ’n harde, emosielose man.

“Look at the brave American soldier, or should I say, the brave Afrikaner soldier,” sê hy in ’n swaar Russiese aksent.

“Afrikaners are bad rubbish. All white Western Christians and all Jews are bad rubbish. But Afrikaners? I spit on them!” en dan maak hy soos hy sê en spoeg in André se gesig.

“When we are finished with you brave soldier, you will do things that will make your mother cry.” Dit lyk vir ’n oomblik of die Rus sy sterk-bewoorde en vinnige rasse-uitlating berou en probeer kwalifiseer: “You Western Christians are so phony. You and the Jews make clever laws to keep the African and the Islamist immigrants out of your countries. Just like apartheid. And you want to manipulate the affairs of the Asian states with your wars.”

Die Sjinees is meer saaklik. Hy bring foto’s te voorskyn uit ’n leêr. “Look what the Nato invaders have done in North Korea. Soon it will be all over the international media,” sê hy en hou die gru-foto’s voor André se gesig. Dit wys verminkte, verbrande lyke van kinders en ’n bejaarde vrou.

“The work of the Nato bombing-campaign. Your military pretends to bomb discriminately, but it is a propaganda myth; like the tooth fairy.” Die sersant plaas die foto’s terug in die leêr en plaas die leêr op André se bedkassie.

“If you want to be a true hero, help to tell the world what is happening in North Korea. Make your mother proud.”

Op die USS Barak Obama ontvang Visie-admiraal Zondervan ’n intelligensie opdatering. ’n Ander intelligensie-satteliet het ’n helikopter-landing waargeneem die vorige dag by ’n Sjinese basis wat onder roetine observasie is. Hoewel dit al skemer was, was beligting in die landingsarea goed. Daar kan gesien word dat ’n man in ’n vlieënier-pak met sy hande agter sy rug geboei, agterin ’n vragmotor gehaas word. Die vragmotor ry na ’n nabygeleë gebou, waar hy afgelaai word digby ’n ingang. Visie-admiraal Zondervan vra die intelligensie-offisier, Colonel Jackson, om die basis voortdurend onder oog te hou.

Op ’n stadium maak die majoor weer in André se sel ’n draai. André het geen benul meer van tyd nie. Die majoor bring nóg foto’s vir die leêr op sy bedkassie. “More civilians. This was in Yanbian Prefecture. Will you appear on television to renounce such crimes against humanity?”

Hulle wil hom dus vir propaganda doeleindes inspan. Dis darem ’n beter vooruitsig as om in ’n hool te krepeer en deur almal vergeet te word.

“We have prepared a statement for you to read on television. I will have them bring you something to eat and then I’ll drop off the statement for you to look at. You must help us bring this war to an end. Where must it all end at? Mutual annihilation?”

André het al twee maal teikens tydens oorlogvoering aangeval. Beide was die afgelope paar dae in Noord-Korea en hy weet, in elke geval was daar redelik substantiewe vyandige ongevalle wat aan sy hand toegeskryf kan word. Maar sy eenheid se credo was nog altyd dat vyandige militêre ongevalle soms eenvoudig onvermydelik is, as die groter objektief die beskerming van siviele lewens en beperking van militêre lewensverlies, veral aan eie kant, is. Hy het nog altyd aan die Navo soldaat gedink as ’n polisieman, net met ’n groter geweer. Hy weet ook dat oorlog sonder siviele verliese ’n mite is.

“Sjinees” was nog nooit so lekker nie. Langs hom lê ’n tweede leêr; hierdie een met sy verklaring aan die wêreld. Hy maak dit oop en lees:

I am Captain André Ligthelm, fighter pilot with Nato forces’ 1st Air Fighter Wing involved in the active bombing of North Korea. I was captured by the forces which I have attacked inside sovereign North Korean territory, without provocation. I regretfully admit that we do not always have sufficient evidence that the targets we are bombing are indeed military targets and that we have resolved to accept a certain measure of civilian casualties as a given in order to reach our greater objective, which is the subjugation of North Korean Administration to the Western Colonialist system in the interests of the Capitalist Order. I have witnessed atrocities against the civilian population of North Korea, including fire bombing of a village in the Autonomous Northern Prefecture of Yanbian. I have seen the charred remains of children and men and women. I have learned with much regret of suffering in the overwhelmed casualty and burns units of hospitals in Yanbian Prefecture. My captors have treated me humanely and assured me that I may go home as soon as the war stops. (Give peace sign.)

“Well, will you do it for us?” vra die majoor toe hy oomblikke later by die sel opdaag.

“In principle, I am willing to, but I have ethical problems with certain lines in the statement, Major.”

“What kind of ethical problems,” sug die majoor.

“The line that states that we do not always have sufficient evidence that our targets are indeed military ones and that ‘we have resolved to accept a number of civilian casualties as a given in order to reach our objective’. Major, our target-intelligence are immaculate, and we do go to utmost lengths to avoid civilian casualties. We adhere strictly to UN-protocol. The truth would read like this: ‘We know that in war civilian casualties are unavoidable and I do sincerely regret such casualties, if indeed they occurred.’ Take me to this town in Yanbian and let me see what occurred there, or at least allow me access to international media coverage of the event. How can I issue a statement apologizing for a bombing of a village that I have no knowledge of?”

“The media have not yet been informed of the event,” antwoord die majoor.

“I will condemn irresponsible bombing in the strongest possible terms Major, but after a Red Cross or Red Crescent investigation, or if our own forces have confirmed it.”

“I will see what we can alter in the statement,” antwoord die majoor en verlaat die sel.

Kort daarna hoor André mans in ’n nabygeleë vertrek wat hard onder mekaar stry. Hy hoor hoe die Rus amper histeries skree: “I AM THE SENIOR RANKING OFFICER ON THIS PROJECT. MY WORD IS FINAL OR HE DIES BY FIRING SQUAD!” Skielik voel André benoud. Daardie ou vrou. Hy sien haar weer vlietend en sy grynslag. Dan gaan die seldeur oop en die Rus kom ingestorm. Hy is blind van woede en stamp André op die grond neer. Hy kap sy kop hard teen die toilet se rant. Bloed stroom oor sy gesig.

“You will read that statement but add: ‘the Jewish-Capitalist Order!’”

“No, you’re insane!” roep André desperaat uit sonder om te dink wat hy sê.

’n Soldaat wat die Rus vergesel gee ’n lang stuk tou met ’n lus aan.

“Lift your legs.” Hulle trek die lus styf om sy enkels. Sonder om ’n woord te sê neem die Rus die tou en begin André op sy rug te sleep, uit die sel uit; hy kap weer sy kop teen die seldeur, af in die gang na ’n ander vertrek. Daar gooi hy die ent van die tou oor ’n staalstaaf teen die plafon en die twee mans trek die tou vêr genoeg om André kop-na-onder aan sy enkels op te hys. Die res van die tou word geknoop aan ’n vloergemonteerde verwarmer. ’n Plas bloed vorm dadelik onder André se kop. Die Rus gryp sonder waarskuwing ’n swaar staalpyp en begin André met mening te slaan. Houe val op sy bene, rug, maag, ribbes, arms. André gil van pyn.

Die majoor storm die vertrek binne.

“That’s enough Dimitri, stop, you are killing him!” Dimitri hou aan slaan. Die majoor trek sy pistool en vuur ’n skoot die muur in, reg langs Dimitri. Dit kry sy aandag.

降低” (laat sak hom) beveel hy die soldaat.

“I’m getting a doctor.”

Tussen Vriende.

Toe André bykom, bevind hy hom in ’n afgeskorte bed in ’n intensiewe sorgeenheid. Sy sjirurg is gou teenwoordig. André let op dat dié se militêre uniform onder sy witjas uitsteek.

“I’m Doctor Wang. How are you feeling?”

“OK.”

“We have you on morphine. You have some fractures, some internal bruising, a concussion and a skull fracture. We have set the broken tibia and the ribs will need time to heal. You will experience pain for a while. As far as all knowledge goes, you sustained these injuries whilst evading capture in a combat zone. I have stated that much in your medical record. The nursing staff is authorized to increase your pain medication if the need arises. You will be monitored here until we are satisfied that you are out of danger; then you will be transferred to a general ward. Thank you, I have other patients to tend to. Good luck.”

Drie dae later word André oorgeplaas na ’n algemene mediese saal. Die Majoor het een keer by hom kom inkyk. André ken hom darem nou as majoor Hou. (Hou wat ‘edel’ beteken). Hou het hom ingelig dat hy na ’n ander, laer sekuriteit militêre aanhoudingsfasiliteit oorgeplaas gaan word wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word. Hy het sy opinie met hom gedeel dat die oorlog einde se kant toe staan. Daar is glo sprake van ’n Koreaanse federasie en ’n soortgelyke federasie tussen die PRC en ROC.

Twee weke later word hy oorgeplaas na ’n algemene aanhoudingsfasiliteit wat hy deel met ander gevangenis. Dit is in dieselfde militêre kompleks waar hy in maksimum isolasie aangehou was. Sy ou vriende is almal nog daar: majoor Hou, wat hom altyd vriendelik groet as hy hom sien, die lelike Sersant en hy sien soms vir Dimitri op ’n afstand. Dimitri gee hom nog steeds die horries. Daar is iets aan die wyse waarop hy soms fokus op ’n aangehoudene en hom dophou, amper soos ’n slagter by ’n skaapkraal.

André het gou vriende gemaak met ’n paar Sjinese Christene. Vyftig jaar nadat die Christelike godsdiens deur die PRC gewettig is in ’n Staatskerk, is daar steeds agterdog jeens die “huiskerke” en in tye wanneer daar ’n sekuriteitskrisis heers, word huiskerk-leiers maar roetineweg in die tronk gestop. Dit gaan eintlik daaroor om ’n sondebok te vind en om ’n boodskap aan die algemene publiek te stuur dat daar opgetree word teen moontlike ondermyners en saboteurs van wet en orde. Yan Lee en André deel ’n sel. Yan, ’n huiskerk-leier het André bekend gestel aan die groepie Christene. Hulle kom soms bymekaar en hou dan ’n gebedsgroep. André geniet hierdie byeenkomste en sy persoonlike gesprekke oor Jesus met Yan. Yan het ’n besonderse sagte gelaat en ’n beheerste selfvertroue. Dit voel vir André of Yan en sy huiskerk-vriende ’n direkte lyn het na ’n God waarvan hy al kennis geneem het, maar nooit werklik sekerheid oor Sy bestaan gehad het nie. Daar was oomblikke as kind toe hy baie gewonder het en vermoed het dat hierdie God, van ’n afstand af, ’n wakende oog oor hom hou.

Yan praat ook dikwels van ’n Suid-Afrikaanse sendelingpaar, Henko en Liesl van Zyl wat daar naby woon, binne tien kilometer van die kamp, net soos jy die eerste dorpie binnekom op die regterkant van die grootpad. Dit is die enigste huisie met regte Engelse rose in die voortuin. Die name klink bekend, dit is algemene name in Suid-Afrika. Dit frustreer André grensloos dat hierdie mede-Afrikaners so naby is en tog, onbereikbaar ver. Maar dit is ’n militêre gevangenis dié, besoekers word nie toegelaat nie en mense word nie sommer vrygelaat nie. Solank as wat die sekerheidskrisis aanhou, is almal hier geïsoleer van die buitewêreld. André sou so bitter graag die Van Zyls bewus wou maak van sy situasie, sou hulle tog sy bestaan aan die Suid-Afrikaanse ambassade kon bekendmaak. Of dalk weet die Suid-Afrikaanse regering in elk geval, maar hou hulle doof… As Yan se God net ’n pad wil oopbreek soos hy vir die Israeliete van ouds gedoen het…

Intussen het Dimitri weereens die Sjinese Opperbevel oortuig van sy plan om die Amerikaanse vlieënier te gebruik om die morele hoër-grond te bekom ten opsigte van Nato oorlogsmisdade in Noord-Korea, voordat finale vredes-onderhandelinge in erns begin. Eendag daag twee wagte by André se sel op.

“Come with us.” Hulle lyk opgewerk en een se hand rus op sy pistool. Dis nie ’n goeie teken nie.

“I will pray for you,” is die laaste woorde wat hy van Yan Lee sou hoor.

Begeerlike Vryheid.

André is terug in sy ou sel. Skielik is die angstigheid weer terug. Dimitri kom aan die buitekant van die traliehek staan en bekyk André asof hy ’n dier in ’n dieretuin is.

“This time I kill you,” snou hy André toe. “Sleep well 42,” grynslag hy en stap weg.

André sak in ’n hulpelose bondel op die bed neer. In sy kop draai ’n Engelse liedjie wat Yan-hulle altyd gesing het: “The Name of the Lord is a strong tower, the righteous run into it and they are safe…”

Daardie aand hoor André weer voetstappe en hy raak paniekerig. Sy oog vang vlietend weer die ou vrou, maar sy lag nie; sy lyk bang…

Skielik bars ’n waterpyp en die krag gaan af; dan kom daar ’n geweldige dreuning; dit word oorverdowend gewelddadig! Die bed begin rondspring soos ’n rodeo-bul. ’n Onsigbare hand gooi André op die grond neer. Skielik is daar ’n reuse ontploffing. Kernbom? Die mure bars en dit reën stukke beton, stof en water. Dan is daar stilte.

André kyk na bo. Dit reën! Daar is lug bokant hom! Hy kruip onder die rommel uit. Hy het nie baie seergekry nie. Hy klouter teen die rommel op. Skaars vyftig meter voor hom is die dubbele draadomheining wat tussen hom en vryheid staan en verwring om ’n boog te vorm waardeur hy eenvoudig kan stap na vryheid. Maar dit is ook waar die kampwagte nou hergroeppeer. Hulle bespreek hoe om te positioneer om die perimeter van die gevangenis te beveilig teen ontsnappogings ná die kragtige aardbewing.

“Get down!” kom dit van agter hom. Dis majoor Hou.

“Do you think you can make it?”

“Yes, I do.”

“I think so too André Ligthelm. Stay down.”

Majoor Hou klouter teen die rommel uit. Hy roep een van die wagte en beveel hom om sy reënjas aan hom te oorhandig. Dan beveel hy die wagte om na die hoof-gedeelte van die gevangenis te gaan en te help om mense uit die rommel te bevry. Hy kyk vinnig rond of niemand die heining onder oog hou nie; en gooi dan die reënjas vir André.

“Put it on and run like hell until you get to the treeline. There is a village up ahead, lie low, I will bring your satellite phone. Go!”

André hardloop so vinnig as wat hy kan met ’n been en ribbes wat nog nie volkome herstel het nie. Majoor Hou maak seker hy maak dit tot by die woud. Dan draai hy om en stap terug na die rommel. Hy merk iets op in die skadu van die verwronge gevangenisgebou se rommel. Hy kon sweer dis ’n ou vrou. Nee wag, dis Dimitri! Hy klim af tot naby aan hom.

“Help me. My leg is stuck,” roep hy amper weerloos.

Majoor Hou lig ’n stuk beton van Dimitri se been af, “there is another slab; it is heavy. I must get some leverage.”

“Do what you can, traitor.”

Majoor Hou aarsel en kyk op – in die loop van Dimitri se pistool. Hy vuur ’n skoot.

André nader die dorpie. In die maanlig wat helder deur die wolke breek, sien hy mense loop in die strate en help waar hulle kan. Daar is nie baie verdieping-geboue nie en op die oog af was die dorpie meeste van die skade gespaar wat hy by die gevangenis gesien het. Hy sien die huisie langs die hoofpad met die roostuin. Hy beweeg nader, terwyl hy in die skadu van die woud hou. Na ’n paar minute sien hy ’n paartjie na die huis aangestap kom. Hulle is Westerlinge. André stap onder die skadus uit en nader hulle. Hulle kyk op en wag hom in. Toe hy naby kom roep hy verbaas uit: “Henko van Zyl, dis André Ligthelm!” Hulle was saam op skool.

“André, wat maak jy hier?!”

“Help my asseblief.”

“Kom binnetoe.”

André verduidelik aan die Van Zyls wat als met hom gebeur het en hoe hy by hulle uitgekom het.

“Hoe kan ons help,” vra Henko. André se oë draai in die rigting van ’n sakfoon wat op ’n tafel lê.

“Het daardie sakfoon internasionale Internet-dekking?”

“Ja, dit het. Gelukkig het ek onthou om dit te laai,” sê Liesl.

“Dis eintlik onwettig hier,” merk André op.

“O! Ons het nie besef nie,” sê Liesl eerlik.

“Kan ek dit gebruik?”

“Natuurlik.”

André begin tik op die foon, terwyl hy aanhou praat. “As hulle agterkom dat ek weg is gaan die vet in die vuur wees. Hulle gaan alles kom omdolwe en vrae vra. Ek kan reël dat julle saamkom.”

Henko en Liesl kyk na mekaar. André gee die sakfoon aan Henko terug.

“As hulle beslag lê op hierdie sakfoon en daar is niks inkrimminerend te vinde nie. Ek het net by eBay ingegaan en ’n klomp letters en nommers in die soekblok getik. Die terugvoering op die webtuiste is die gewone: No matches found for this search. As iemand sou vra, sê die kat het die foon beet gehad.”

“Dis dit?”

“Dis dit! Die Internet was oorspronklik geskep deur die Amerikaanse Departement van Verdediging vir situasies juis soos myne.”

“Nog koffie?” vra Liesl.

“Graag. Kom julle saam?”

“Ons wil nie skielik verdwyn saam met ’n ontsnapte soldaat nie,” antwoord Liesl, “dit sal sendelinge net weer verdag maak. Ons bly liewer by ons kerkie.”

“Ek stem saam,” beaam Henko.

“Nou ja, dan gaan ek julle nie langer blootstel nie. Ek wil net daardie koppie koffie klaarmaak en dalk ’n wit toiletrol bedel? Terloops, as ’n Sjinese majoor dalk hier opdaag met iets van my, sê net julle weet nie wie ek is nie.”

’n Anderhalfuur nadat André weer in die skadu van die woud verdwyn het, verskyn ’n VTOL weergawe van die Blue Sinistére uit die niet en land vertikaal in ’n oop kol wat André met stukke toiletpapier wat soos kersversierings aan die bome se takke hang, afgemerk het. Net betyds, want die reën sak weer met mening uit en was ál André se versierings weg. André klim in die druk-verseëlde bomkajuit.

Sowat twee uur later land hulle op die USS Barak Obama.