NOG ‘N KANS – Corné Venter

NOG ‘N KANS – 2012 © Corné Venter

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (776 woorde)

“Water, die groote krag van alles.”

Dis hoe sy met haar toespraak begin. Santa is nie jou gewone vrou nie. Sy wil nie eendag trou en kinders hê nie. Sy soek antwoorde van ’n ander soort. Is daar, of is daar nie, groot oog mannetjies daar buite nie?

Die toespraak is vandag by die WNNR. Haar onderwerp is water. Sy wil vir die wetenskaplikes bewys dat water lewe gee en dood kan maak. In die ruimte natuurlik.

“Julle sal saamstem dat suurstof die lewe in die water is.’’

“Mev Seel, alles wat jy tot dusver met ons gedeel het, weet ons.’’ val Prof Boshoff haar opnuut in die rede.

“Prof Boshoff, as jy sal stil bly en my toelaat om verder te gaan, sal jy beter verstaan.”

In die twee buise… Langs haar staan twee silwerskoon buise met water in, op ’n tafel. “Sien julle normale drinkwater. Toe die ruimtetuig vir die eerste keer in 2025 sy versyning hier op die aarde gemaak het, het die ruimtewese ’n chemikalie in ons atmosfeer vrygestel sodat hy kon oorlewe.’’

“Wag so ’n bietjie, Mevrou Seel. Hoe weet jy al hierdie dinge?” Wil een van die profesore weet. Santa sug diep.

“Wel, kom ons sê ek het eerstehandse ondervinding.” sê Santa onderlangs.

Al die profesore sit nou op die punte van hulle stoele.

“As julle mooi sal kyk na die regterkantste buis…’’ Santa haal versigtig ’n stukkie maanklip met ’n tangetjie uit ’n blik. Sy plaas dit stadig in die buis en gee drie groot treë terug.

“Kyk mooi.” fluister Santa.

Borrels begin om die klip vorm. Eers klein, toe groter. Skielik borrel die water so erg, dat dit oot die tafel spat.

Dis grafstil in die lokaal.

Santa gee nog drie treë terug.

“Sit asseblief julle veiligheidsbrille op. Nou!”

Haar woorde was skaars koud, of ’n donderslag vul die vertrek. Glasstukke en water trek en spat deur die lokaal.

Santa stap na die mikrofoon. Vat dit in haar linkerhand en sê. “Dit was ’n klein maanklippie, sonder die ruimte gasse.”

Santa staan terug en haal ’n geseëlde spuit uit haar tas.

Almal hou haar gespanne dop. “Ek het een vraag vir julle.”

Die stilte verdiep. “Wat is die vraag Mevrou Seel?” vra Prof Boshoff uiteindelik.

Santa lig die spuit en glimlag.

“Het julle geweet dat die ruimtewese nie aleen was met sy koms in 2025 nie?” Al die slotte in die lokaal se deure sluit met ’n geknars.

Sweet loop langs die profesore se slape af.

Sy word omring deur ’n wit gloed. Sy praat in ’n diep stem.

“In die spuit is my vader se DNS. As ek dit in die water spuit, word julle almal een met hom.” Haar hande breek die seël van die spuit. Die professores hardloop na die deure en stamp hard teen hulle, maar tevergeefs. Sy spuit die DNS in die water. Die profesore versteen. Net Santa kan beweeg. Sy kan haar oë nie glo nie.

“Pa, Pappa is dit jy?”

“Ja my kind, dis ek. Jou Pa.”

Sy sak op die grond neer.

“Ek het dertig jaar vir die oomblik gewag. En Pa, daardie manne daar, is dié wat jou so seer gemaak het.”

Daar is haat in haar stem.

“Hulle wou net help, Santa. Jy verstaan nie, maar dit is so. Alles gebeur met ’n doel – jou lewe het ook ’n doel. Ek het jou met ’n rede uit die tuig geskiet. Jy het nog ’n kans om alles reg te maak.”

“Maar, Pa,” pleit Santa.

“Santa, ek het die planeet gekies, want hier is alles wat ons nodig het om ons planeet te help. Daar was niks verkeerd wat hulle gedoen het nie.”

“Ek het nog steeds ’n woede in my, Pa. Wat kan ek doen? Ek weet nie meer nie.” sê Santa met trane in haar oë.

“Ai my dogter, kom hier.”

Hy hou haar styf vas en fluister. “Help hulle eerder. Gebruik ons uitvindings om hulle te help, inruil vir van hulle natuurlike bronne.”

Santa beweeg so entjie van haar Pa af. “Pa is soos altyd reg. Dankie Pa. Ek sal hulle help, sodat hulle ons later help. Ja, ja dit kan werk.”

Santa is nou in ’n beter stemming. “Santa, ek moet nou gaan. Dit is tyd.” Santa gee haar Pa ’n laaste druk. Sy draai om en loop in die rigting van die profesore. Sy kyk nie om nie. Haar Pa verdwyn soos mis voor die son.

Santa swaai haar hand voor haar uit. Die profesore begin terug te keer na normal. “Hier gaan ek baie moet verduidelik.” dink Santa.

Dis nie aldag dat ons ’n kans het om dinge reg te maak nie.

Die Einde.

  • Chantal

    aleen= alleen