SOEKTOG – Heinrich Wernich

SOEKTOG – 2012 © Heinrich Wernich

VOLWASSE FANTASIE (2 889 woorde)

Heinrich Wernich - Fantasie 2012Haar elmboë brand en haar stuitjie pyn van die slangbewegings.

Sy doen goed, net ’n paar keer hoor sy die gespande doringdraad oor haar helm skraap.

Onderdeur en op haar voete. Haar bene dra haar net-net en sy is nie seker watter kant toe haar knieë buig nie, maar sy bestorm die laaste klimmuur, spring en haak vas aan inkepings en uitstulpings, trek haarself op. “Linkerarm, regterbeen, regterarm, linkerbeen,” blaas sy.

Die stophorlosie wag vir niemand nie.

Af aan die anderkant en strompelend verby die sweetpak-uniform wat elkeen wat verbysleep, aangluur. Elkeen doen volgens die instrukteur se vermoë, nie volgens hulle eie vermoë nie.

Sy is weer eens die eerste vrou wat klaarmaak. Die res van haar kaserne eindig onder die laaste klomp. Swaar agterstewes hou nie van hardloop nie, dink sy.

Sy werk al lank daaraan om haar lewe rigting te gee. Wens – en werk sodat haar verwagtinge nie deur verveeldheid vernietig word nie. Hierdie droom het begin toe haar ma ineengestort het en nou is sy hier – die Polisiekollege in Oudtshoorn. Was ’n hekkiesatleet op skool. Swem gedoen. Aa, swem, waar niemand jou kan pla nie, net jy en jou liggaam en jou siel en lang, grasieuse bewegings tot by die einde waar jy omdraai en daar is nog ’n lekker lengte wat voorlê. Voorspelbaar en op jou eie.

Sy is nou twintig en deel ’n kaserne met Limpho, Kagiso, Kefilwe en die ander. Die wit meisies in basiese opleiding was te mamma-vas, of “boyfriend”-vas, of kerk-vas, of wat-ook-al-vas. Ken nie hulle eie krag nie, nie oopkop genoeg nie het sy na die maande se oriëntering besef.

Sy het geweet sy is fisiek sterk en kan uithou. Met die psigiese toetse het ’n traan oor haar sproetgesig geloop toe Kaptein Matabane haar uitvra oor “childhood experiences.” Sy het vinnig van die druppels ontslae geraak met haar vingerpunte, maar dit was te laat. Die kaptein het ophou skryf, skuins gedraai in die stoel en pofferige vingers om Helga se voorarm gedruk. Haar greep het stywer geword toe sy sê, ”My girl, you can let go of the past, né?” – whateva it is. Whateva!” Sy het die Bic pen in die ander hand bo hulle koppe geswaai asof sy toor. Die fyn blondine se skouers het ’n paar keer geruk en toe was dit oor. Kaptein Matabane se woorde het berge verskuif, of hulle ten minste op hulle fondamente laat bewe, woorde wat haar ook vandag gehelp het om haar beste te gee. En om elke keer haar mede–studente te vergewe as hulle “eish” oor haar maer lyf.

Dit is al Augustus en die meeste van die vroue is uitgeplaas. Dis net sy en ’n paar mans-rekrute oor. Teen dié tyd gee sy nie meer om na watter eenheid sy uitgeplaas word nie. Toe kry sy opdrag om 7.30 by die bevelvoerder se kantoor te rapporteer.

“Kolonel Van Aswegen is from the 4th Division Special Intelligence Unit,” word sy voorgestel aan ’n man wat lyk asof hy uit ’n 1970’s fotoverhaal stap. Êrens in sy veertigs, langwerpige gesig, ysblou oë, smal heupe en breë skouers. Swart-grys hare steek uit onder ’n perfekgevormde baret. Hy het die digste swart snor wat sy nog gesien het en die punte wil-wil opkrul. Van Aswegen troon bo haar rankerige 1.8 meter figuur uit. Hy kyk haar stip in die oë, sy hand vou om hare, maar hy sê niks. Sy oë is onleesbaar.

Vir die volgende ses weke is sy by die Kasteel in die Kaap gestasioneer. Sy werk direk onder Van Aswegen, of Boom, soos die ander kolonels hom noem. Sy’t agtergekom dat hy ’n stil, super-intelligente man is. Meer as dit wil sy nie weet nie, want sy kry baiemaal die gevoel dat sy blou oë elke beweging dophou, selfs al is hy nie in die nabyheid nie.

“Luitenant De Waal, ek het ’n opdrag vir jou,” sê hy op ’n Dinsdagoggend. “Ek het lank hieroor gedink, jou lank dopgehou. Ons almal het,” sê hy sonder enige lyftaal. “Dis klas 4 inligting.”

Sy sit onwillekeurig orent. Klas 4 inligting is die lêers waartoe sy tot nou toe geen toegang gehad het nie.

Daar is intelligensie-inligting wat van nasionale belang is en dan is daar ’n klein onderafdeling onder Tafelberg waar die intelligensiediens ander tipe inligting ondersoek, – inligting wat belangriker as nasionale belang is. Sy is in beheer van Konnektiwiteite. Sy monitor uitsonderlike waarnemings van die SALT teleskoop wat die ruimte instaar buite Sutherland, die Sentrum vir Ongewone Siektes in Musina, die Laboratorium vir Abnormaliteite by Baragwanath asook die Suid-Afrikaanse Mikrobiologiese Toetsstasie in Antarktika. Volgens Kaviaat L/4 moet enige Klas 4 inligting direk aan die Kasteel gerapporteer word. Hierdie inligting word deur internasionale wetgewing beskerm en voor, tydens en na die regering se oorgang is hierdie eenheid onaantasbaar.

Van Aswegen maak sy hand oop en sit ’n swaar voorwerp tussen hulle op die tafel. “Weet jy wat dit is De Waal?”

Sy kyk na iets wat lyk soos ’n platgetrapte koeldrankbottel doppie – die ou metaal soort. Dit lyk of twee van hulle aan mekaar vassit. “Hulle is van die suiwerste goud wat daar is, De Waal.” Voorop is die dowwe kop van ’n man met ’n baard en ’n jaartal wat lyk soos 1898. Dit lyk of die etsing met handgereedskap ingeslaan is. Een Pond, lees sy op die agterkant.

Sy leun vorentoe. “Is dit wat ek dink dit is Kolonel?” Hy knik stadig, onseker of sy regtig weet waarna sy kyk.

“Ons het hulle ondersoek, maar daar is geen inligting oor hierdie munte nie. Die goud is Suid-Afrikaans en waarskynlik uit die laat 1800’s.

“So dis waar, die verlore munte. Ek het gedink dis ’n volkslegende.” Sy staar steeds na hulle. “Is daar nog?”

“Daar’s nog net die twee. Vier maande gelede het ’n span aan ’n ou treintonnel anderkant die Hexrivier-pas gewerk en die voorman kom toe op hulle af. Hulle was toegedraai in ’n Britse uniform, of wat daarvan oor was. Gelukkig het dit voor sy werksmense gebeur en moes hy hulle by die Polisiekantoor gaan afgee wat ons in kennis gestel het. Enigiemand wat ’n vonds opspoor is geregtig op vyftig persent van die waarde. Tans is dit net ons en die SA Erfenis Agentskap wat daarvan weet.”

“En die voorman?”

“Die staat het hom sy vyftig persent uitbetaal.”

“Waar is hy nou?”

“Êrens in Manenberg se hole, met die beste kokaïene wat geld kan koop. Dis ’n paar Rand wat hier tussen ons lê. Ons moet die res opspoor, want niemand slaan net twee munte nie. Baie het al na die Kruger-miljoene gesoek, maar jy ken die stories. Lyk my die skat is altyd ontwykend.

Nou gaan dit nie meer oor nostalgie nie, oor die munte self nie, dit gaan oor die geldwaarde. Daar is nog mense wat soek, maar duidelik op die verkeerde plek. Jy sien, daar was ook iets anders in die baadjie toegedraai.”

Hy haal ’n instrument uit wat lyk asof dit uit ’n museum kom uit ’n blink omhulsel“-Venus’s little helper,” staan in skuinsgedrukte sierletters op die verslete gietyster.

“Dis ’n teodoliet, ons weet nie waar dit vervaardig is nie, maar dis waarskynlik nie Suid-Afrikaans nie. Dis baie verwant aan opmeet-instrumente wat vroeg in die negentiende eeu in Brittanje gebruik is – die voorlopers van die goed op die driepootstaanders wat opmeters soms nog gebruik. Jy sien hulle partykeer op die paaie staan met die teodoliet bo-op. Maar hierdie een is spesiaal.”

“En die twee kolletjies?” Sy kyk na ’n bruin en ’n blou kolletjie in emaljeverf op die instrument.

“Luitenant De Waal, ek wil hê jy moet hierdeur kyk.” Van Aswegen het nog nooit so ernstig gelyk nie.

“Hoekom ek? ” Sy wonder of sy protokol breek deur te vra.

Die blou oë is vir ’n oomblik ontwykend, menslik. “Jy weet jy is… anders.”

Sy laat haar kop sak.

 “Jou onpaar oë maak jou besonders.” Van Aswegen leun vorentoe, lig saggies haar ken met sy vingerpunte en kyk haar in die oë. “Helga, dis skaars, maar dis niks om oor goor te voel nie. Ons het lank gesoek na jou, na iemand wat ek kan vertrou met hierdie tipe inligting. En hierna is daar nog baie werk vir ’n vrou soos jy.” Hy tik met sy wysvinger teen sy slaap.

“Ek wil hê jy moet hierdeur kyk of jy enigiets kan sien.”

“Waarvoor soek ons Kolonel?”

Hy gaan staan voor ’n wit bord in die oorkantste hoek van sy kantoor en hou die teodoliet uit sodat sy dit by hom moet vat.

“Sê vir my wat jy sien.”

Sy sit haar linkerhand in die gleuf wat daarvoor gemaak is en hou die instrument met die ander hand aan die oor vas. Blou oog by die blou kolletjie en bruin oog by die bruin kolletjie.

’n Halfminuut sleep verby, dan ’n minuut.

Van Aswegen streel oor sy snor, “Enigiets?”

Haar dieptepersepsie deur die lense begin verbeter. Dan sien sy iets soos ’n vlieg op haar hand, op die onderste kussing van haar palm.

“Wag.”

Sy beweeg haar hand heen en weer met haar vingers teen mekaar en haar duim regop. Dit lyk dit amper soos ’n…

“’n Landkaart!” Van Aswegen leun oor haar skouer om te kyk of hy kan sien wat sy sien. “Kolonel, ons het ’n landkaart nodig.” Hy ruk ’n kaart agter ’n kabinet uit en sy hou dit voor die teodoliet. Sy skuif sy arm nader en verder sodat Suid-Afrika se vorm net so groot soos haar hand is. “Daar,” druk sy met haar nael op die kaart waar die swart kolletjie duidelik word. Sy vinger kom druk teen hare en hulle kyk na die pleknaam.

Touwsrivier.

Hy kry sy skootrekenaar en bekyk die dorpie van naderby op Google Earth. Hulle raak vir ’n oomblik teen hulle beterwete meegevoer. “Ons kan nie gevolgtrekkings sonder feite maak nie,” waarsku Van Aswegen. “Dit lei mens op ’n dwaalspoor, want jou brein vul die gate en dan sit jy op die einde ver van die waarheid. En dan is jy vir ander kwaad omdat hulle nie soos jy dink nie.” Sy kyk effens uitdagend na hom, “Einstein het gesê verbeelding is belangriker as realiteit – baie belangriker.” Van Aswegen kyk weg van die rekenaarskerm en sy oë rus op haar. Twee kepies verskyn langs sy snorpunte.

Twee dae later stop hy laatmiddag met ’n ongemerkte voertuig in die straat voor haar woonstel in Vredehoek. Hy is in ’n kakie kortbroek, leerstewels en ’n geruite hemp geklee. Sy bene en arms is groot en harig, maar dit lyk asof hy nooit buite kom nie. Gym in sy garage, dink sy. Sy dra ’n denim wat tot onder haar knieë kom en ’n los toppie van ligpers linne wat ingeplooi is in ’n band bolangs en oor haar skouers. Haar lang hare is losweg in haar nek opgesteek. Sy versteek ’n los krul agter haar oor voor sy in die motor klim.

“Dink Kolonel ons pas in? ” vra sy vinnig spottend.

“Henk asseblief.”

Sy wonder vir ’n oomblik of dit sy regte naam is.

“Ek is…”

“Helga,” sê hy. Een kepie duik in die wang weg.

By skemer sit hulle by ’n tafeltjie in Touwsrivier se Loganda Hotel.

 Hy is nie oordrewe met hulle nie, soos mense met ongelooflike mooi oë soms is nie en hy steek hulle ook nie weg nie. Hulle doen hulle eie ding. Skielik word sy bewus van ’n warm gloed in haar nek wat haar wange in diep pienk laat uitslaan. Hoe lank in die gesprek staar sy al reaksieloos na hom? Henk het ophou praat en hy kyk vraend na haar, leun op sy elmboë na haar kant van die tafel. “Goue munte in die Laeveld, hulle volg Siener van Rensburg. Soveel respek soos ek vir die oubaas het, het hy ook maar baie goed gesê wat ek dink nie eens hý die betekenis van geweet het nie. Daar’s lêers oor hom.” Hy lig vier vingers en sy wonder of dit Klas 4 of vier lêers… “En dis al die tyd hier êrens in die Klein Karoo. Hier waar miljoene jare gelede ’n groot meer was en ou alikreukel doppe uitdop wanneer boere ploeg. En seesterre en duisendpootafdrukke toegegroei onder mos, teen die Plooiberge sit.”

“Ja, en massiewe seemonsters…”

’n Swart wenkbrou lig, “En klipmuurtjies wat nie deur mense gebou is nie, trek lang lyne oor die landskap. En op plekke draai ’n kompas suid. Maar dis ’n ander lêer.”

Sy is effe verbaas dat hy so meegevoer word, oor aannames. Maar gelukkig is hy ook nie bang om buite die hier en nou te dink nie.

 ”Die Britte het hierdie hele area goed gekarteer gehad.” Hy neem ’n laaste sluk wyn en staan op. Sy volg hom na hulle aparte hotelkamers. ’n Groepie mans by die kroeg staar haar agterna, beduie iets so plat soos ’n plank en lag.

Hulle kry mekaar die volgende oggend in die eetsaal soos afgespreek. Na ontbyt ry hulle in die hoofstraat af en parkeer om die hoek van die dwarsstraat waar die meeste besighede is. Al die besighede is oop, die Spar, die bank, die slagter en die apteek.

’n Groepie skoolseuns drentel verby, kyk belangstellend en gaan staan en gesels op die hoek.

Agter die apteek se toonbank vind hulle vir Aida. Volgens die dorp se webtuiste is sy ook die plaaslike toerismebeampte. Helga stel haarself voor.

“O, jy is die vrou van die Kaap wat gebel het oor die Venus… Ai, maar dis lekker om te weet mense stel darem nog in ons ou dorpie belang,” basuin Aida luidkeels. Haar ronde gesig straal. ”Weet julle dat die dorp sy ontstaan te danke gehad het aan ’n spoorwegdepot met die naam Montagueweg?“ Sy gee hulle nie kans om te antwoord nie. “Die Britte het dit gevestig toe hulle die binnelandse roete van die Kaap af gebou het in die laat 1800’s. In die vroeë tagtigs kon jy nog die groot skrootwerf van ou stoomlokomotiewe van die snelweg af sien. Toe dit te veel fotograwe gelok het, het die owerhede dit weggevat en seker vir skrootmetaal gesmelt.” Haar lang oorbelle swaai wild van haar ontsteltenis.

“Ag, maar julle wil seker nie al die ou geskiedenis hoor nie.”

“In teendeel. Dis vir ons ’n voorreg om met iemand soos u kennis te maak,” sê Helga en druk Aida se pols styf vas. Aida se bors swel en dit lyk vir ’n oomblik of haar lyf te klein is vir haar trots.

“Ons stel veral belang in die Venus astrologiese terrein – die stawe,” sê Henk saaklik. Aida glimlag breed. “Die Venus stawe is in 1882 deur ’n Britse ekspedisie opgerig om astrologiese metings te doen. In 2004 het ons ’n Venus-fees gehad toe die planeet tussen die aarde en die son beweeg het. Dit sien mens net een keer in ’n leeftyd as jy gelukkig is. Dit was omtrent ’n gedoente. Die hele wêreld was hier met hulle teleskope. Ek het ook gekyk, nie dat daar juis iets was om te sien nie, net ’n swart kolletjie voor die grote son.

“Waar is hulle presies?” vra Helga. “Die pilare?” vra Aida. “O, net hier oorkant.” Hulle koppe draai na die rigting waarin haar armbande klingel. Sy stap vooruit tot op die apteek se stoep. “Daardie groen gebou is die ou Douglas Hotel. Dis een van ons oudste geboue, maar is nou vervalle. Maar die drankwinkel op die grondvloer is darem nog oop. Die pilare is in sy agtertuin. Die monument was jare lank maar net daar. My man probeer dit skoon hou, maar as jy weer sien het die onkruid oorgeneem…”

“Dankie Aida,“ sê Helga en draf agter Henk aan wat reeds daarheen stap.

Hulle loop by die hotel se agterdeur uit, onderdeur ’n vol wasgoedlyn tot langs ’n oorgroeide bedding Afrikanertjies. “Hier?” vra Helga.

Twee stawe wys teen ’n hoek die lug in. Lank gelede was hulle wit geverf. Sy neem ’n foto met haar selfoon. Henk trek die kakiebos uit tot die stawe goed sienbaar is. Sy blou oë volg hulle intens – eers op en dan af. Helga sak af op haar hurke tot langs hom. Sy vee die stof van ’n inskripsie af met ’n vinger. Hulle draai hulle koppe skuins om iets te prober lees wat in die beton gegraveer is. “…above the Hole in the Wall 33º48׳10.99״S; 20º05׳41.09״E

Henk staan orent en kyk onsiende voor hom uit. “Die plek is ’n merker. Die eerste lot mense het nie destyds na Venus kom kyk nie. Hulle het koördinate vir ’n wegsteekplek vasgestel. Die teodoliet.” Hy kom vinnig orent en trek die binnekant van sy broeksak uit saam met die motorsleutels.”

Hulle hardloop eers en stap dan vinnig toe hulle voor die slagter se vensters kom – wil nie aandag trek nie. Die motor is net om die hoek.

Sy merk die enjinkap is nie heeltemal toe nie. Die immobiliseerder in sy hand werk nie. Hy trek haastig die deur oop – ’n leë agtersitplek.

Die teodolietkissie is weg.

Henk draai weg met sy hande in sy sye. “Dammit! Wat het ek nou die dag gesê oor die donderse ontwykende aard van hierdie…” Sy trek aan sy bo-arm.

“Kolonel, ons weet al dit bestaan, so dit wil gevind word.”

Hy kyk in haar oë en knik.

  • Chantal

    prober= probeer

    Jou storie is goed en hou aan met die goeie skryfwerk.