DIE ANDER NOODLOT – Ronél Gill

DIE ANDER NOODLOT – 2013 © Ronél Gill

Volwasse Fantasie (1 594 woorde) WENNER

Thompson Toekenning 2013-1 - Ronél GillElke bewoonbare stukkie land op hierdie aardbol van ons word bevolk deur dag- en nagmense.

Die dagmense is die gewones.

Mans en vroue wat in hierdie moderne eeu van ons albei werk om volgens die tradisionele twee punt vyf sosiale voorskrifte vir gelukkige, gesonde gesinne te voorsien; wat slaap in die nag, opstaan sodra die son opkom en sy brood en botter in ’n osoon-vriendelike lugversorgde kantoor verdien. Wat na donker weer stokflou die huis binne strompel, eet en as hy gelukkig genoeg is om rustige kinders te hê morsdood op die bed neerval vir ’n paar uur se te min rus, net om met die volgende dag se eerste dagbreek weer die hele ek-sorg-vir-my-gesin ritueel van voor af te begin.

Dan is daar die nagmense.

Sinister, nekhaar rys kreature wat jou met sataniese, vloeibare silwer agter gietswart pupille aangluur, in duister hoekies skuil en jou stilletjies in die nag bekruip.

En ek bedoel nie die oulike groen eenoog hop-hop of die pers langarm vriendelike gedroggies van Monsters inc. nie.

Ek bedoel bloeddorstige sadiste wat op die oog af net soos die buurman langs jou lyk en optree – dit is nou op ’n normale dag, wanneer hy gevoed en versadig is.

Wat net soos jou buurman, ook opstaan en aantrek, na sy selfoon gryp en die TV se afstandbeheer soek. Die ketel aanskakel vir koffie, tuin natmaak en motor bestuur, in ’n t-hemp en gebleikte denims rondloop en vis en tjips by die winkel op die hoek bestel.

Met een klein verskilletjie; van kos alleen kan hy nie oorleef nie.

Hy het nog iets nodig. ’n Noodsaaklikheid waarsonder hy nie kan bestaan nie.

Jou bloed.

Sou jy hom in ’n donker stegie of ’n bedrywige nagklub of selfs op ’n bewolkte dag in ’n besige winkelsentrum raakloop, sou jy nooit kon sê dat die aantreklike, (baie) blekerige en somtyds buierige vreemdeling met die misterieuse aura agter sy diep frons en blink- smeulende oë eintlik die mees gevaarlikste predatoriese roofdier in die wêreld is nie.

Die enigste jagter op aarde wat presies dieselfde kamoeflering as sy prooi het.

En daarmee saam is hy ook met daardie ietsie ‘ekstra’ bewapen.

Buitengewone spoed, bonatuurlike krag, supersoniese gehoor en ’n nagvisie wat ’n luiperd sal skaam maak, om nie eens te praat van daardie intense, onweerstaanbare magnetisme wat al wat leef en beef lam in die knieë en smagtend na ’n paar slagtande in die nek laat nie.

My soort mense.

Die gereanimeerdes wat verewig vasgevang is in ’n half-lewe wat ook nie ’n lewe is nie.

Dood maar nie dood nie.

Lewendig, en menslik.

Met dieselfde kapasiteit vir goed en kwaad. Met al die mens se emosionele vrese en triomf en die soeke na die perfekte liefde, die perfekte lewe en die grootste invloedrykheid.

Behalwe dat ons nie rêrig méns is nie as jy weet wat ek bedoel.

Hier is my storie.

Baie jare gelede was ek Alix Dominic Mitchell.

Dit is die name waarmee my ouers my op 17 April 1878 gedoop het.

Alix Mitchell, beskermer van die mens…

Groot grap.

Vir die eerste sewe en twintig jaar van my lewe sou dit miskien moontlik kon wees.

Maar ná daardie aand in die stegie is net die teenoorgestelde waar.

In ’n oogwink het die hele doel van my bestaan verander.

Van Alix die mens, na Alix, die jagter van die mens.

Bloeddorstige sadis. Evil soos die Engelse sê.

Dit was so maklik, en so vinnig…

’n Wilde verjaarsdagpartytjie, ’n verkeerde afdraai, ’n dronkie in ’n donker stegie, ’n vreemde hand op my skouer… dood.

Behalwe dat die dood, in die vorm van ’n liplekker lyfie onder ’n stywe korset en blink silwer-groen katoë bokant ’n paar ek-belowe-jou-die-hemel bloedrooi pruil lippies, toe nie die dood soos in rigor mortis begrawe-dood was nie.

Dit was veel erger.

Dit was die dood van ’n onskuldige jong man se menswees, en sy menslikheid.

Die dood van my lewe, maar nie van dit waarin die verleidelike Satan’s Delilah my daardie aand in verander het nie…

Maklik, en vinnig…

Die een oomblik was ek nog kinderlik-onskuldige Alix, jong akteur op die kruin van my lewe wat nie kon wag om in die oggend op te staan en te sien wat die nuwe dag vir my gaan oplewer nie. Gelukkig, lief vir die lewe en die sonskyn en die natuur. ’n Méns mens.

En toe gebeur die stegie en die rooikop met haar duisende sonsondergang krulletjies-bos wat my teen die muur vasdruk.

En een hemels-verrukende oomblik later lê ek op die sypaadjie, bewusteloos en meer as halfpad dood.

Toe kom die wakkerword. En die pyn.

Die verskriklikste malword pyne wat elke orgaan in my liggaam in fyn repies opskeur en dit dan in ’n siedende inferno van vernietigende kole teen my maagwande vasgooi waar dit in ’n magdom vlymskerp naalde in my keel opspring en elke een van die vyftig duisend miljoen neurone in my brein verdring.

En saam met die pyn kom die nuwe Alix.

Die duister alter ego vasgevang in ’n donker nagmerrie-lewe van skuil, gluur en bekruip waaruit daar geen wakkerskrik en geen ontsnapping is nie.

Die vreesinboesemende vervloeking wat net kon voortbestaan uit die bloed van my vriende en my bure en geen hoeveelheid kos, of drank kon daardie onblusbare ‘bloed honger’ versadig nie.

Eers het ek met alle mag probeer baklei teen die vreeslike noodlot wat nooit veronderstel was om deel van my lewe te wees nie.

Ek wou Alix wees, die méns Alix.

Ek wou soos ’n doodnormale man tussen die skares in die straat afloop en in die son gaan sit en met ’n pragtige dametjie flankeer sonder om bewus te wees van die aartjie wat sappig en verleidelik onder haar vel wink.

Ek hét probeer.

Met my nuwe supersoniese jagtersvernuf het ek my maaltye self gevang. Rotte in die rioolpype, springbokkies in die woude, selfs ’n roofdier of twee.

Maar die vloek wat daardie Satan’s Delilah in my brein en my liggaam kom plant het was dit eens.

Ménsbloed. En die prys vir oortreding is ’n hoë een om te betaal.

Die vloek se vergelding was gruwelik en die bloedlus se wraak wreed.

Die intensiteit van verskriklike malword pyne het na elke oortreding net vererger. Dit sou my soos ’n waansinnige op die badkamer vloer laat rondkruip met bloedskuim wat uit my mondhoeke borrel en elke orgaan in my liggaam wat voel of dit in fyn repies geskeur word. En tesame met die siedende inferno van vernietigende kole wat teen my slape klop en my brein in een gloeiende vuurbol verander het ek naderhand nie geweet waar ek is of selfs wie ek is nie.

Die les moes ek leer. Die vloek was in my brein en in my are; deel van my en maak nie saak hoe hard ek sou probeer nie, ek kon dit nie ontsnap nie.

Net die mensbloed…die mensbloed…mensbloed is al waaraan ek kon dink.

Totdat ’n buurman of ’n vriend weer daaraan dink om te kom inloer…

Dood het al hoe meer na die beste oplossing begin lyk, behalwe dat die vloek nie so maklik geflous kan word nie.

Tien verdiepings van ’n gebou is soos om van ’n stoel af tot op die grond te spring. Ure onder water sonder suurstof voel soos ’n asem snakkie. Selfs ’n koeël deur die kop laat my net vir ’n paar uur buite aksie terwyl my liggaam die koeël uitstoot en my vel rondom die wond regenereer. En honderde fiksie verhale later leer ek dat knoffel en silwer en ’n houtbalk deur die hart ook niks verrig nie.

Die vloek wen. Weereens.

Dood, net soos die bloed van diere, is nie ’n opsie wat my gegun gaan word nie.

Die enigste bruikbare inligting waarop ek in my soeke na die rede vir, en die waarheid agter my nuwe kondisie kon uitvind is dat daar een klein ‘ontsnappings klousule’ in die kontrak tussen my en die ewige-lewe vloek wat ek so onwillig deel van my lewe moes maak is.

Niemand hoef dood te gaan sodat ek kan bestaan nie.

’n Koppie vol elke dag. Dit is al die bloed wat ek nodig het om te oorleef. En met my bonatuurlike vermoë om gedagtes te manipuleer het my prooi nie eens nodig om te weet dat hy ’n besoek van my gehad het nie.

Vandag is ek ’n volle honderd vyf en dertig jaar oud en nog net so jonk as wat ek op daardie aand in die donker stegie was. Sewe en twintig.

En as jy ’n pragtige dametjie met ’n liplekker lyfie en rosige pruil lippies is, is die kanse baie goed dat jy sonder om te weet al ’n besoek of twee van my gehad het.

Dink net terug na die oggend nadat jy by daardie nagklub was en ’n bietjie te veel gedrink het.

Daardie koue, tam, dooie moegheid wat jou laat voel soos Sneeuwitjie net voordat sy uit die lang slaap wakker geword het.

Die vae herinnering dat jy die vorige aand daardie iemand spesiaal met die helder geheimsinnige kyk-regdeur-my groen oë ontmoet het en ’n wonderlike, passievolle tydjie agter in die eensaam-hoekie gehad het?

Die ligblou skynsel van ’n liefdesbyt agter jou oor, half weggesteek in jou haarlyn, of in jou binne-arm of die sagte vel van jou lies?

Daardie verwarrende rimpeling in jou onderbewussyn dat daar iets meer omtrent daardie aand is wat jy behoort te onthou maar nie kan nie?

Die kans is goed dat jy ’n besoek van my donker aantreklike alter-ego met die misterieuse aantrekkingskrag gehad het.

Die nuwe moderne honger Alix…

  • Chantal

    Ongelooflik! En dit is hoe ‘n kortverhaal geskryf moet word! Ons kan baie leer by jou!