DIE ANTROPOLOOG – Pieter van Tonder

DIE ANTROPOLOOG – 2013 © Pieter van Tonder

VOLWASSE FANTASIE (5 103 woorde)

“Dit is beslis ’n mens.”

Die lang reguit grondpad strek oor ’n rotshoogtetjie, swaai effens na lings en verdwyn in die deinserigheid van die wye vlakte. Die landskap is naak, behalwe vir ’n hardegras bossie hier en daar, kokerbome, halfmense en rotse; klip en rotsrandjies tot roes gebak deur die Reddersveld son.

“Dit kan ’n dier wees. Of ’n klip.”

Haar knap hoëhaakskoene is lankal uitgeskop en twee slanke voete werk die pedale. Eintlik doen die linkervoet niks, dit is die regtervoet wat reeds begin kramp na ure van reguit stofpad. Sy voel warm en sweterig en die oop venster help nie veel nie. Haar gedagtes meander heen en weer tussen haar onlangse verlede; alles in drie groot dose in die kattebak, en die onbekende wat wag in die Kaap. Sy het begin lomerig raak van die V6 se dreuning, die eentonige landskap en die intense oneindige blou, todat ’n spikkel in die verte haar oog vang.

Die pad was stil en vir ure was daar geen tekens van lewe nie. Vir ‘n oomblik dink sy “mens” en sit onbewustelik skielik bietjie meer regop, haal haar sonbril vinnig af en vang haar eie oog in die spieëltjie. Sy merk op die donker onder haar oe; aande van min slaap en daardie laaste onbegryplike drama…

Die spikkel is dan nou in die middel van die pad! Dit beweeg. Dit is nog te ver en sy kan niks verder uitmaak nie. Sy roer haar regtertoon en die Range Rover beur ’n bietjie vinniger oor die harde vlakte en terselfdertyd maak sy sommer ook die onsinnige radio stil.

’n Paar minute later lig sy haar voet van die pedaal. Die motor verminder spoed en daar, ’n entjie voor haar in die skraal skadu van ’n kokerboom, staan ’n man. ’n Onwillekeurige impuls wil dadelik die petrolpedaal teen die vloer trap; sy trap liggies op die rem en die motor rol tot stilstand regoor die man oorkant die pad.

’n Netjiese houtkissie staan langs hom in die stof. Haar oë glip na sy gepoetsde skoene en gly teen sy lang bene op, vertoef so rukkie rondom sy gordelgespe en op na die groot blou edelsteen teen ’n harde borskas. Haar oë val terug na die kissie in die sand voordat hulle oë ontmoet. Syne, so blou en eindeloos soos die hemel, kyk kalm terug in hare.

’n Geamuseerde uitdrukking speel oor sy gesig en na ’n paar oomblikke van ongemaklike stilte sê hy:

“Wil jy by my aansluit?”

Na lang ure van bestuur en geen geselskap kom haar stem swaar en moet sy eers keel skoonmaak om weer te begin:

“Wil ek, by jou, aansluit?” Kom dit uit ’n paar tone meer ernstig as waarvoor sy gehoop het.

“Ek weet nie. Jy het gestop.”

“Wel ja, ek vind dit vreemd om ’n man hier langs die pad te sien. Ek het geen mens gewaar vir ure nie. Net gewonder of jy nie dalk…”

Sy onderbreek haarself om die man eers fyner te bestudeer. Hy is baie netjies aangetrek, sowaar uitmuntend, en skoon. Sy linker hand hang ontspanne langs sy sy en tik liggies teen sy bobeen, in sy regterhand hou hy iets wat lyk soos ’n boekrol. Sy hare is skoon en glansend, glad nie wat sy verwag het van ’n man gestrand in die woestyn nie. Daar is niks onvriendelik of bedreigend omtrent hom nie en nuuskierigheid en uitputting lê haar hoede neer.

“Ek het gedink dat jy dalk ’n geleentheid nodig het. Ek kan doen met die geselskap.” ’n Effense glimlag helder vir ’n oomblik haar moë gesig op.

Sy kalm oë los hare nie en na ’n paar oomblikke, wat vir haar voel soos amper te lank, sê hy:

“Ek het iets vir jou.” Hy lig sy regterhand stadig en hou die boekrol omhoog.

Sy voel haar wenkbroue knoop en skud haar kop effens in ’n poging om helderheid te bring oor wat haar tam sintuie haar voer. Sy voel styf gesit na die lang pad en het ’n behoefte om bene te rek. Sy maak die deur oop, weerhou haarself ’n uitstrek, en haal ’n paar sandale uit die kattebak. Die pad voel warm onder haar voete. Sy voel die man se oë op haar terwyl sy die skoentjies aantrek, maar sy voel nie ongemaklik nie. Sy skud haar hare los en vee die wasigheid uit haar oë en stap stadig oor die pad en gaan staan voor hom waar hy steeds in die kokerboomskadu staan. Hy steek sy hand met die boekrol uit en sy neem dit, nou heeltemal ontspanne, oorgegee aan die vreemde oomblik en onverwagse ligpunt in die morbiede reis terug Kaap toe en die onbekende.

Sy rol die perkament stadig oop. Die karakters, in ’n netjies hand, swem voor haar oë en maak absoluut geen sin nie behalwe vir ’n simbool bo-aan, en haar eie naam onderaan met ’n stippellyn. Heeltemal uit die veld geslaan skeur sy haar oë van die rol en gee die man ’n harde kyk. Sy het genoeg gehad van turbulente emosies, onsekerheid en verrassings en soek nou ’n stuk tasbare realiteit.

Die man besef dit en weet ook onmiddellik dat hierdie vrou voor hom nie met haar laat mors nie. Vir die eerste keer beweeg hy en gee ’n tree in haar rigting. Die speelse uitdrukking op sy gesig verduister effens en hy gaan staan voor haar met ’n hand op die skouer terwyl sy ander hand die boekrol terugneem.

“Diane, jy kan met reg vra om ’n paar antwoorde. My taak is gewigtig, joune selfs meer. Vertrou my. Ek kom in vrede. Volg my, en die antwoorde sal jou vind.”

Diane voel hoe die wal in haar breek en die emosie en seer oor stoot. Sy bars uit:

“Who the damn are you! How do you know my name! Wat gaan aan?”

Die seer van die vorige aand kolk ook na bo en trane van frustrasie rol teen haar wange af. Sy gaan sit in die stof in die pad. Haar lang blonde hare val oor haar gesig en ’n paar slierte plak aan haar klam gesig. Hy gaan sit kruisbeen voor haar.

“Ek gee jou my woord, stap saam met my. Jy moet dit sien. Ons het jou nodig. Ons… hulle oorlewing is in jou hande.”

Vir ’n oomblik sit hulle so, in die middel van die verlate stofpad. Sy woorde maak steeds geen sin nie, maar iets in sy stem prikkel haar.

Sy lig haar kop, kyk na die blou steen teen sy bors en ontmoet sy oë.

“Reg” sê sy, “wys my.” Hy glimlag, spring rats op, steek sy hand uit en help haar op. Sy gaan sluit gou haar motor en voor sy wegstap keer sy haarself vir oomblik. Die man staan alreeds op ’n rots teen ’n randjie en lyk indrukwekkend teen die skerp blou. Sy glimlag, voel die skoenlappers van avontuur fladder in haar en draf agter hom aan. Sy gaan staan langs hom op die rots met ’n asem wat bietjie jaag, kyk terug na waar haar motor klein onder in pad staan. Weswaarts strek die klipperige vlakte uit voor hulle. Hy kyk na haar, glimlag en draf verder. Sy volg hom. Haar fietse liggaam geniet die oefening en dit suiwer haar gedagtes. Die drama van gister het sy by die kar gelos een gee haarself oor aan die oomblik en sensasie.

So draf hulle in stilte oor die klipperigheid van die barre landskap, soos twee boesmans agter water aan. Uiteindelik stop hy so entjie voor haar en gaan sit op ’n groot platterige klip teen ’n hoogte. Sy voel goed toe sy langs hom gaan sit en hoor hoe sy asem ook effens jaag.

“Diane, kyk gou mooi na die landskap hier voor jou. Lyk iets vir jou buitengewoon?”

Eers lyk alles vir haar presies soos die res, maar toe sy fyner begin kyk na die val van die land, die digter groepering van struike en ’n geleidelike oorskakeling van rotstipe en formasie na ’n ander, begin haar verstand meer analities werk.

So twee honderd tree van waar hulle sit, waar die land effens duik, hang ’n wolkie. Haar sintuie verskerp en baie gering bo die stilte van die veld hoor sy skielik die sagte gedruis van water. Haar skielike opgewondenheid gaan op gallop en haar oog vang syne. Hy glimlag net en sy uitdrukking verraai sy geheimsinnigheid.

“Wil jy gaan kyk?”

Sy lag, spring op en draf in die rigting van die miswolkie. Soos sy vinniger hardloop bou die opwinding op en die gedruis van water raak al hoe harder. Sy hardloop tot op die rand van ’n reuse plat rots en haar asem slaan weg. Sy kyk af in ’n reuse skeur in die dorre woestynlandskap. Die rots waarop sy staan vibreer onder haar voete soos die massa water onder die rots uit breek en stort teen die kranse af tot ver onder in die groen dynserigheid van ’n reënwoud. Die kontraste is net geheel oorweldigend en sy verkyk haar aan die wonder.

“Welkom”, hoor sy sy stem agter haar. “Volg my.”

Hulle klouter versigtig by die kranse af langsaan die waterval en is gou afgekoel en nat van die sproei. Die son het reeds laag gehang en dit raak nou vinnig skemer soos hulle dieper in die skeur afklim. Die gedruis van die waterval doof geleidelik uit soos hulle verder weg beweeg terwyl die gedempte geluide van die woud hulle omvou. Die skreef blou lug is nou skaars sigbaar deur die digte lower. Nuuskierige loeries fladder bont tussen die boomtoppe; hier en daar volg ’n apie hulle hoog in die takke. Hulle volg die stroom wat nou kalm met die valleivloer langs vloei. Die blaretapyt voel luuks onder die voete, na die Reddersveld se klippe.

Diane verwonder haar aan hierdie onverwagse skoonheid: die oorvloed van water in die middel van die woestyn, die digtheid van rare geelhout en stinkhout en, al hoe meer, ook aan die man voor haar. Iets voel vir haar bekend omtrent hom, tog is hy so vreemd. So stil, kalm. Die gepoetste skoene en netjiese klere lyk nou vir haar baie onvanpas. En wat is in die mooi kissie wat hy so saamdra?

Sy loop en wonder nog so toe haar oog ’n struktuur hoog in die bome gewaar. Seker maar ’n boer in die distrik se kinders wat soms hier kom speel en vir hulle ’n boomhuis gebou het, dink sy by haarself. Maar, soos hulle verder stap met die kronkelende kloof en die woud wat al digter raak sien sy al hoe meer van hierdie strukture en weet dat dit nie seuns se spelery is nie. Hulle stap baie naby een verby.

Die besef oorrompel haar skielik, soos ’n luiperd van ’n oorhangende tak. Sy raak yskoud en voel die rilling teen haar ruggraat op hardloop. Sy gaan staan stil. Vir die eerste keer vandat sy die spikkel in die warm stofpad gewaar het, is sy by haar volle bewuste. Haar professionele passie en jare se ervaring as antropoloog spoel deur haar gees en gedagtes en was die euforie tydelik weg.

“Mense”, sê sy hardop, “hier woon mense.”

Sy stap bietjie nader aan die reuse geelhout met die huisie hoog in die takke. Sporte ’n meter van mekaar is in die dik stam ingeslaan en spiraal boontoe. By die onderste sport is teen die ou boom se stam ’n netjiese ovaal skoongemaak en iets uitgekerf. Sy herken van die karaktertjies as dieselfde in die boekrol. Dit is reeds byna donker en sy kan nie veel meer uitmaak nie. Die naggeluide van die woud neem oor soos die lig kwyn.

Die man het nie dadelik besef dat sy gestop het nie en kom ’n rukkie later aangedraf. Hy sien onmiddellik aan Diane se houding dat speeltyd verby is. Hy het gehoop hulle kan verder vorder voordat sy iets agterkom.

Sy voel skielik baie ver verwyderd van hierdie vreemde man, tree terug en gaan staan met haar rug teen die groot geelhout se stam. Dit is nou donker en sy kan net-net sy silhouet uitmaak soos hy stadig nader kom.

“Diane, ons is amper daar en as ons wil betyds wees vir die fees moet ons aanstap.”

“Luister… het jy ’n naam? Jy verwag van my om jou te vertrou, agter jou aan te stap die nag in. Ek weet niks van jou af nie! Wie is jy? Ek is honger, ek is moeg. My kar staan verlate langs ’n grondpad. Ek gaan nêrens heen voordat jy my ’n rede gee om dit te doen nie. Ongelooflike mooi plek, ja, maar nou is dit donker. Waar vat jy my heen?” Sy haal diep asem in, kyk hom stip aan en blaas stadig uit.

Hy bly waar hy staan en sê met ’n besorgdheid in sy stem: “Vergewe my. Dit is my verbied om jou meer te vertel. Ek is gestuur om jou by die pad in te wag en terug te bring voor die Paringsdans. Jy sal binnekort alles weet. Jy is veilig.”

Diane kyk om aan. Sy oë vonkel en sy tande blink in die laaste aandgloed. Sy glimlag is terug.

“Man met die glimlag, wat is jou naam?”, sy probeer vanuit haar wêreld ervaring met primitiewe stamme ’n strategiese skuif in die hoop om hierdie man te tem. Sy hou van hom, maar sy voel hulle is op heeltemal verskillende vlakke. Sy verlang skielik na haar broer. Hy bly stil. Sy sien hy skuif sy balans rond.

“En wat is die Paringsdans? Besef jy dat dit my glad nie uitnooi om agter jou aan te loop nie.” Sy kom agter dat sy hom reeds as ‘eenvoudig’ oordeel en voel skielik effe skaam oor haar houding. Daar is steeds niks bedreigends omtrent hom nie en sy laat haarself bietjie meer ontspan.

Hy gaan sit skielik op die grond en ruk sy blink skoene en sokkies af. Hy lig die houtkissie se deksel en sit die skoene netjies binne-in. “My naam is Ret-gali. Kom, ons moet stap.” Hy vat haar hand, draai om en stap. Soos ’n dogtertjie aan haar pa se hand sleep sy agterna. Sy strompel effens in die donker en voel nie baie vasvoetig nie.

Die kloof raak hier effens nouer en sy kan die stroom harder hoor druis voor soos die water deur ’n nou poort vloei. Hy het haar hand gelos toe hy voel dat haar oë die donker gewoond raak en sy weer haar voete gevind het. Hulle stap verder tot waar die kranse bymekaar kom. Die stroom druis wit deur die smal poort; ’n koel wind blaas deur die poort en pluk liggies aan haar ligte romp en hare. Die koel lug is verfrissend, maar bring ook aromas wat haar hart skielik laat vinniger klop. Die reuk van houtvure en kruierook, vermeng met die reuk van mos en verrotte plantmateriaal. Die reuk van mens. Anderkant die poort maak die kloof weer oop en sy staar in die duisternis in om iets te probeer sien. Aan die regterkant van die poort teen die krans staan ’n reuse ou swarthout en een van sy groot takke lei tot naby ’n lys, hoog bo die grond, en ’n hangbruggie oor die stroom.

“Die hangbrug is vir die terugkom”, sê hy en wys na ’n klein bootjie op die oewer met ’n lang opgerolde stuk tou vas aan ’n stam, “en dit, is vir die ingaan. Elkeen wat uitkom moet die bootjie weer terugtrek vir die volgende een.” Hy stoot die bootjie in die stroom in en hou dit vas sodat sy kan inklim.

Die stroom is sterk en neem hulle vinnig deur die poort tot in die kalmer waters van ’n reuse poel an die anderkant. Die hele kloof swaai skerp suidwaarts en voel heelwat wyer en oper. Vanuit die poel vloei twee strome: Die een volg die noordelike krans en kring wyd na die suidweste; die ander stroompie vloei deur die oopte van ’n wye vlei. Hier is die woud nie so dig nie en die sterregloed verhelder die reuse amfiteater. Teen die hange van hoë kranse na die suide, wat uittoring bo die donker bome, dans die vuurgloed van vlam en skadu. Bo die simfonie van naggeluide, hoor sy in die verte gedempte stemme wat kom en gaan op die koel aandlug.

Met ’n lang stok het hy die bootjie gestuur tot teen die rand van die groot poel waar hulle kon uit klim. Terwyl sy stadig in die rondte draai en die grootheid van die amfiteater inneem sê hy, met sy hande op sy heupe en sy sig in die rigting van die gloed:

“Ons is laat. Die fees het reeds begin en dit is amper tyd vir Die Dans om te begin. Dit is ver van ideaal, maar nie die einde van die wêreld nie. Diane, bly by my. Moenie afdwaal nie.”

Sy antwoord nie maar stap saam langsaan hom in die rigting van die vuurgloed, betowerd met die skoonheid van die vallei, die sterrehemel en haar eie opgewondenheid. Sy voel goed; die warm gloed van die vure skep ’n kragtige atmosfeer, die aromas is bedwelmd, die euforie van fees hang dig soos ’n mistigheid in die lug. Sy voel aan dat Ret-gali aangehits word en haastig raak en soos hulle vinniger stap deur die vlei en anderkant teen ’n hoop gevalle rotse uitklouter, bou die afwagting en intensiteit van die atmosfeer. Hulle gaan staan op ’n rots vanwaar hulle verby die groepie hoë bome kan sien en vir die eerste keer val haar oë op die toneel wat haar verbeelding nie kon oproep nie.

’n Groep mense van ’n paar honderd drom saam in die vuurkring. ’n Reuse vuur brand in die middel en stuur ’n spiraal vonke die hemel in soos iemand nog ’n stomp by gooi. Lang skaduwees dans teen die hange van die krans soos mense om die vuur beweeg; ’n groep vorm teen die voet van die krans en ander gaan sit in groepies op die omliggende rotse wat soos natuurlike gallerye afkyk op die sanderige verhoog om die vuur.

Diane vergaap haar aan die gesig. Met haar oë vol vuur soek sy deur die toneel vir leidrade; iets wat in akkoord val met haar verwysingsraamwerk en kennis van inheemse volke, maar niks voel bekend nie. Soms lig ’n jillende stem bo die mengelmoes van stemme in die groep, maar geen klank of woord maak sin nie. Sy draai na Ret-gali, soekend na duidelikheid en vang hom waar hy net die dekseltjie van die kissie toeklap. Soos ’n kat gefokusd op sy prooi, staar hy af na die kolkende groep mense, terwyl sy hande die kissie grendel. Diane moet twee keer kyk: sy goed gekerfde lyf gloei in die vuurgloed en behalwe vir ’n kort romp in ’n growwe lap en die gloeiende steen teen sy bors, is hy heeltemal kaal. Sy skeur haar oë van sy profiel, ge-ets teen die donkerte agter hulle en snak na asem toe sy weer afkyk op die vuur: almal is half kaal en almal is wit! Sy voel selfs meer verward, maar terselfdertyd ook meer gerus. Sy besef ook met finale helderheid dat die vreemde – geweldig aantreklike – Ret-gali hier langs haar een is met hier ekstatiese groep feesgangers.

“Kom!” sê hy en spring van die rots af in die rigting van die vuur. Sy spring en voor sy land ruk ’n weergalmende horing die kloof tot een oorweldigende dreunklank. Sy land op al vier op die klip en haar vel span styf oor haar liggaam. Die volgende oomblik begin ’n basdrom ’n drywende ritme flans met die dreuning. Ret-gali is al ’n ent vooruit en sy spring op agter hom aan. ’n Tweede groep dromme val in en kleur die polsende ritme. Die basklank roer haar ingewande en toe die hoër frekwensie van twee fluite breek deur die ritme, lag sy hardop uit haar binneste en voel hoe die polsende ritme in harmonie val met haar eie.

Sy is weer langs hom en hy stop net buite die vuurkring, hy kyk na haar en sit ’n hand sag op haar skouer. Die oomblik tussen hulle voel soos die oog in ’n storm; ’n kalmte in die omliggende kabaal van die fees.

“Ek gaan jou neem na ons leier. Na die Paringsdans begin die feesmaal.” Sê hy in ’n harde stem, skaars hoorbaar bo die geraas. Sy gesig is teen hare, diep in sy oë gewaar sy die gloeiende hart, polsende kern van eenheid, broederskap en die onvernietigbare vors van stamgees. Sy knik haar kop en hulle stap die vuurkring binne.

Ret-gali stap voor met sy handpalms op en so ver hulle gaan raak mense aan sy hande. Sommige sit ’n hand op sy skouer; van die mans omhels hom, vrouens staan in groepies met arms om die lyf, stralende gesigte. Sodra hy gegroet is soos hulle stap skuif die aandag na haar. Sy voel die oë, die goedkeuring, die verwelkoming. Soms vat lang vrouens aan haar hand, kyk haar diep in die oë, gly vingers deur haar hare. Sy weet nie waar om te kyk nie. Oral om haar is hierdie mense, gloeiend van gesondheid, blosend van lewenslus en pret. Almal is langer as sy, almal is net gedeeltelik bedek; sommige van die vrouens se borste is ontbloot met net krale om die nek. Almal se gesigte trek na mekaar, maar sy kan nie sien wat dit is nie.

Die ritme verander, bou op tot ’n klimaks en stop skielik. Gille en jillende stemme is hoorbaar in die vakuum na die musiek. Almal se aandag, vanwaar hulle rondstaan in groepies en sittend op rotse, fokus op die vuur en die groot groep wat versamel het teen die indrukwekkende agtergrond van die toringende kranse.

Terwyl hulle met rowwe trappies al hoër uitstap na ’n rots wat uitstaan bo die ander, kyk sy met al groter nuuskierigheid na die groep agter die vuur. ’n Stadige ritme het weer begin en ’n basfluit speel ’n meesleurende, stadige melodie. Hulle stap uit bo-op die rots. Instinktief wag Diane terwyl hy vorentoe stap en gaan sit voor ’n man en vrou, duidelik ouer as die res, wat kruisbeen langs mekaar sit op ’n geweefde mat. Diane staan skuins agter hulle en terwyl die twee mans gesels bestudeer sy die statige vrou wat rustig kiertsregop sit en die stadige ritme volg met haar kop. Diane se oë volg die vrou se ruglyn: van haar heupe, op met die lang ruggraat, die gespierde blaaie en breë skouers, die lang nek en ken effens omhoog, die lang donker hare rof opgebind. Haar oë haak vas by die oor en die effense tog prominente punt. Sy voel haar kakebeen val, sy kyk verby die vrou na waar Ret-gali sit en herken skielik die gelaatstrekke wat sy by almal sien: die skerp neus, teen dieselfde helling as die hoë voorkop, die deurdringende blou oë en die gepunte ore. Sy lag in ongeloof, net toe Ret-gali kyk in haar rigting en haar nader roep met sy oë. Sy stap nader en gaan sit langs hom. Eers neem die vrou haar hand in beide hare en knik haar kop. Die man, wat lyk soos ’n ouer weergawe van Ret-gali neem haar hand, knik sy kop en begin praat in haar taal, maar nie so vlot as Ret-gali nie:

“Diane, die voorreg is myne. Welkom hier. Jou teenwoordigheid is voorspel vir baie jare. Groot is my dankbaarheid om te leef in hierdie tyd. Sit met ons. Die Dans gaan begin. Ons praat weer tydens feesmaal.”

Hy los haar hand, knik vir Ret-gali. In sy opstaan raak hy Diane liggies aan op die skouer, stap tot op die rand van die rots en bulder in ’n kragtige stem oor die arena in die taal van die elwe. Die skare soos een gees eggo die laaste deel van sy kreet. Ret-gali draai terug knik, en stap by die rots af. Die koning kyk vir Diane en tik met sy hand op die mat langs hom. Sy gaan sit langs hom. Van die rots af kyk hulle af oor die vuur en die groep mans en vroue wat begin saam dans het op maat van die stadige ritme. Die vurige intensiteit van die groep mense wat soos een organisme saam beweeg vang haar sintuie vas en neem haar in vervoering. Die naakte lywe, reeds blink van die sweet, vryf teen mekaar soos hulle maal en saamsmelt soos een liggaam. Die Koning leun oor na haar en sê hard in haar oor: “Vyf ouderlinge gaan sterf hierdie winter, ses verkose vrugbare vrouens moet ’n maat kies.”

Sy woorde dryf by haar oor in, maar haar aandag is by die groep, en gevestig op een wat uitstaan. Ret-gali! Sy probeer die ses vroue uitkies.

Soos die ritme en musiek se tempo toeneem raak die gehoor al meer opgesweep in die stygende vloed van ekstase. ’n Juigkreet verdoof die musiek soos een paar uit die liggaam na vore tree en om die vuur begin dans. ’n Rukkie later met ’n selfs groter uitbarsting van die gehoor stap nog ’n man en vrou uit na die vuur. Diane se oë begin traan van inspanning soos sy weer Ret-gali se gesig probeer soek in die massa liggame wat nou al in ’n trans is, een met die gees en absoluut in oorgawe.

Se verstar skielik en voel ’n hittegolf in haar opstoot wat haar oë laat brand. Sy herken sy gesig onmiddellik.

“VIKTOR!” roep sy hard uit in ongeloof. Impulsief spring sy op en hardloop oor die rots na die trappies, die Koning roep haar agterna maar sy is reeds halfpad af ondertoe. Sy hardloop. Tussen trane deur sukkel sy om te fokus en die beelde van vuur en skadu, gesig en lyf, kranse en sterre versmelt in ’n visuele orgie; die woede jaag haar soos sy hardloop reguit na die vuur toe. Tonele van die vorige aand flits deur haar visie. Victor. Die man wat haar kom wegraap het en haar lewe heeltemal kom omdolwe het; sin gegee het, passievolle weke in die idilliese woestyn, en toe verdwyn hy met ’n belaglike transformasie. Sy skree haar woede uit terwyl sy oor ’n rots spring en verby die vuur hardloop. Stemme het begin roep agter haar. Wie is hierdie woeste vrou wat durf die vuur betree. Arms gryp na haar, maar sy skeur los. Die musiek raak oorverdowend en klop in haar slape, mense gil en gooi hulle arms in wilde gebare. Sy spring met geweldige vors in die massa liggame in, haar momentum dryf haar deur tot voor Victor waar sy met altwee arms hom voor die bors stamp met al haar krag. Hy steier terug, maar die lywe hou hom regop. Sy val terug en voel hoe baie arms haar gryp, terug ruk en styf vashou hou in ’n greep.

Die musiek stop skielik, die gille en krete bedaar, borskasse deins, asems jaag, honderde pare wilde blou oë kyk vurig en verward rond. Diane en Victor staan twee tree teenoor mekaar en gluur mekaar aan. Sy probeer met alles wat sy het om al haar emosies voor hom op die grond neer te gooi. Sy oë lyk groot en wild, maar sy gesig is kalm en hy staan ontspanne voor haar. Sy probeer haarself losruk maar die arms wil haar nog nie los nie. Sy voel skielik klein tussen al hierdie lang, sterk mense. ’n Vrou stap nader en gaan staan voor haar, vryf met twee duime oor haar oë en oor haar wange. Sy soen haar liggies, sê ’n paar woorde in opdrag en die arms los haar. Sy haal nie haar oë van Victor af nie. Sy oë het kalmer geword, maar hy staan steeds roerloos.

Die samedromming van mense maak pad en die man en vrou van die hoë rots stap die binnekring in. Die vrou gaan staan langs Diane en vat haat hand. Die Koning stap in ’n sirkel en doen ’n paar rondtes in stilte. Sy kan voel hoe die gespanne atmosfeer lig en al die mense meer ontspan in sy teenwoordigheid. Hy gaan stop voor Victor en met ’n hand op die rug bring hy hom tot voor Diane. Diane voel hoe trane in haar oë wil opstoot; hier staan sy weer voor hom, sy voel sy teenwoordigheid as bekend.

Die Koning praat: “Diane, ons weet te min van jou soort om die uitkoms te kon voorspel”, sy taal, alhoewel in ’n swaar aksent, verstom haar, “en ek smeek om jou begrip, as jy seer ervaar.

“Ret-kivi en Ret-gali is die twee van ons hele nasie wat die beste vertroud is met jou soort se weë, daarom was hulle gestuur om jou na ons te bring. Ret-kivi se taak was by verre die moeilikste: om jou op te spoor en te verwyder vanuit jou wêreld; Ret-gali se taak om jou te lei tot in ons midde was makliker. Was julle betyds, kon ons hierdie situasie vermy het. Hy sal werk verrig vir sy tekortkoming, vergewe hom.

“Ons is die Lang Elwe van Suiderland, die laaste oorblywende stam en ons oorlewing is in bedreiging. Dit is, Diane, hoekom jy hier is. Ons benodig jou bekwaamheid.”

Hy los haar oë, en na ’n paar oomblikke draai hy weg en stap weer in sy sirkel. Diane kyk rondom haar. Al die elwe se oë is op haar. Hulle gesigte het verander en kyk nou na haar met ontferming en oë wat glinster vol afwagting. Skielik voel sy ’n brandende begeerte om alleen te wees, haar gedagtes wat soos swaar druppels stormreën oor haar val, te stil en te gaan sit. Sy draai om, die elwe maak pad vir haar en sy stap na die vuur waar sy in die koel sand gaan sit. Sy staar in die vlamme van die groot vuur, asof om haar gedagtes te suiwer tot ’n edel resolusie. Niemand steur haar nie, maar sy is bewus van opgewonde stemme wat weer begin oor-en-weer gesels en die feesgees wat soos ’n gevalle kryger stadig opstaan, bloed spoeg in die sand en ’n vuis omhoog gooi.

Die dromspelers begin weer met hulle ritme; iemand gooi ’n bossie kruie op die vuur; die pols gaan aan. Sy hoor die sis, ruik die reuk van vleis oor kole en sien uit die hoek van haar oog ’n man nader stap.

Hy gaan sit kruisbeen langs haar in die sand. Na ’n rukkie voel sy ’n swaar hand op haar knie. Twee vingers van die hand loop oor haar kuit, teen haar skeen af. Die hand vou om haar kaal voet. Sy bars uit van die lag. “Jou bliksem! Jy is beslis, ’n elf.”