DIE AVONTURE VAN GROOTVLEI SE KINNERS – Karen Ackermann

DIE AVONTURE VAN GROOTVLEI SE KINNERS – 2013 © Karen Ackermann

JEUGFantasie (3 644 woorde)

Vroeg vroeg kom Donovan se ma in die kamer in. “Opstaan seun, maak gou-gou klaar né?” vra-sê sy vir hom en loop uit om te gaan koffie maak. Skielik onthou Donovan, vandag moet hy en Basie na die boonste kamp gaan om die gemsbokke te gaan tel.

Basie se pa, Oom Hannes, het gister gesê hulle mag nie heeldag net speel net omdat dit skool vakansie is nie. Basie is ‘n goeie pel. Hulle speel al saam vandat hulle klein is en het al baie lekker dinge saam gedoen. Soos daai keer wat hulle die kaskar gemaak het, en daai ander keer wat hulle bomme gemaak het en die skuur se deur weg geblaas het. Oom Hannes was nou wel kwaad en het hulle albei goed gelooi, maar lekker bly lekker en Donovan glimlag breed as hy terug dink oor hoe al die lekker dinge wat hy en Basie saam gedoen het. Maar Oom Hannes is nie altyd kwaai nie, en laat nooit vir Basie en hom uitgaan sonder die .22 nie. Oom Hannes sê ‘n man se roer is sy beste broer.

Dit is skemer toe Donovan uitstap by die huisie wat hy saam met sy ma, pa en vier susters deel. Binne die volgende uur dan sal die son begin uitkruip oor die rante en daglig breek.

Donovan en sy familie bly op die plasie net langsaan Oom Hannes. Te veel misoeste, te veel sprinkane en ‘n te lang droogte het hulle byna gekelder, was dit nie vir Oom Hannes en Tannie Liefie nie. Genadiglik doen Donovan se pa, Oom Piet sulke stuk-werk vir Oom Hannes, en Tannie Liefie laat Ant Miena Grootvlei se koelkamer gebruik sodat daar darem ‘n ou melk inkomstetjie is vir haar.

Toe Donovan by die groot huis aankom, toe wag Basie al vir hom. “Laat slaper!” sê Basie vir Donovan met ‘n bree glimlag. “Nee man, dis daai stjoepid susters van my wat nooit kan klaarmaak in die badkamer nie.” “Ja, ja, ja, asof ek jou glo…” sê Basie. “Klim,” sê Basie, en Donovan wip in die saal van die perd wat Basie alreeds opgesaal het vir Donovan.

“Wag ‘n bietjie!” hoor hulle vanuit die kombuis se rigting en Donovan se ma kom uit met ‘n groot fles koeldrank en toebroodjies. Die seuns is opslag dankbaar want binne ‘n uur gaan dit warm wees en gaan hulle honger en dors wees. “Wees versigtig julle. Moenie vandag moeiligheid makie, hoor?” sê Ant Miena vir die kinders. “Nee wa’…” antwoord die kinders verontwaardig en Ant Miena draai om voor die kinders die skaam glimlag op haar gesig kan sien. “See you later alligator! Hou vir ons kos asseblief want ons gaan woedend honger wees!” skrou hulle toe die perde uit die erf uit gallop.

Teen tien uur, toe is dit bloedig warm, en die kinders besluit om onder ‘n groot boom met lekker skaduwee in te skuif en bietjie van Ant Miena, Donovan se ma, se padkos te eet. Skielik toe hoor die kinders ‘n gesuis so aan hulle linkerkant, en die hitte bewe skielik toe net te veel. “Basie, kyk die kant!” sê Donovan vir Basie. “Jislaaik man, die hitte lyk amper soos ‘n vlieënde piering!” sê Basie skaars hoorbaar.  “Basie, wa’ is daai .22 nou? Ek voel die trabel kaalvoet aangestap kom,” fluister Donovan.

Toe die kinders weer tot verhaal kom, toe lê hulle op die naat van hulle rug binne in ‘n koel wit kamer. Hulle kyk na mekaar en besef, hulle is nie meer in Grootvlei se gemsbok kamp nie. Donovan wys vir Basie om stil te bly want hy gewaar ‘n soort van mens ding aan die ander kant van Basie.

Die mens ding moes agter gekom het dat die kinders wakker geword het, en sweef loop oor na hulle toe. Die mens ding is so half deursigtig, en dit voel glads koud daar rondom hom of moet mens nou sê, dit. Basie en Donovan sit kierts regop en wag vir die mens ding om te praat. In ‘n eentonige robot stem sê die mens ding vir hulle, “Ons kom in vrede en wil hê julle moet ons leer hoe om te lag.”

“Lag?” sê die kinders verbaas? “Wat is snaaks daaraan om ge-haai-tjêk te wees! As Basie se pa van julle stories uitvind dan sal julle begin bid vir dikker gatvele. Weet julle wie is sy pa?” sê Donovan verontwaardig.

“Ja, sê hom, sê hom! My pa is Johannes Christoffel Meyer, van Grootvlei. Ons het die grootste plaas in die Hopefield area,” blaker Basie uit. Steeds kyk die mens ding hom aan met geen uitdrukking op sy gesig. Basie en Donovan kyk na mekaar en hulle oë raak groter van pure skrik. Nog nooit was die seuns in dieper moeilikheid nie.

“Ons dimand om huis toe te gaan!” sê Donovan verontwaardig.

“ Dit is teen ons jhuman raits om ‘n mens te haai-tjêk,” sê Basie.

“My spesie wil net leer lag en dan sal ons julle terug besorg op die blou planeet,” sê die mens ding.

“Wie is julle en hoekom praat julle Afrikaans?” vra Donovan.

“Ons kom van Zenghar, en ons kan enige taal praat. Leer ons net asseblief om te lag, want ons sien julle spesie oorkom baie probleme en voel altyd beter as julle lag,” antwoord die mens ding.

“Hoekom sien ek net vir jou, maar jy sê ‘julle’?” vra Basie.

“Daar is vele van ons op hierdie ruimtetuig en ons het sendings om ons spesie te vervolmaak,” sê die half mens.

“Jis, die ou het hoegere woorde… Ek verstaan net nou en dan wat hy sê,” mompel Basie so onderlangs.

“Hoe oud is jy want jy praat snaaks,” sê Donovan.

“Hy’t seker sy Afrikaans in Joburg geleer want hy praat nie soos ons hier in die Boland nie,” mompel Basie onderlangs.

Donovan en Basie kyk na mekaar en fluister saggies. “Okei, as ons dit doen, sal jy rerig vir ons laat gaan?” vra Basie. Die mens ding knik net sy kop en sweef loop eenkant toe.

“Basie, ons is in diep trabel nou, ou broe’. Jy moet nou ‘n plan maak,” sê Donovan saggies. Basie dink diep en hard, en fluister saggies in Donovan se oor. Donovan knik net sy kop en die volgende oomblik, toe vlieg Donovan op en begin sing en dans. Basie lê eintlik skuins soos hy lag, maar die mens ding kyk hulle net aan. Toe verdamp Donovan se oorgawe soos mis voor die son, en sak hy af langs Basie. Die kinders sit stil en dink weer. Toe vlieg Basie op en vra vir die mens ding, “Weet jy hoe maak mens ‘n hot dog?”

“’n Hot dog?” vra die mens ding.

“Ja, jy sit ‘n worshond buite in die son en dan wag jy, en wag jy, en as jy “ping” hoor, dan is dit reg, en het jy ‘n hot dog,” sê Basie. Donovan val eintlik skuins soos hy lag vir Basie se nuuste grap, maar die mens ding kyk hom net aan.

“Basie, die ding vang nie jou grap nie! Hy is te vlak man! Traai harder!”

“Wag ‘n bietjie, het jy die grap van ou Koos gehoor wat gevlieg het met ‘n Skot en ‘n Ingelsman?” vra Basie vir die mens ding.

“Genoeg met al die gepraat!” sis die mens ding en die kinders voel sommer vyf grade koeler.

“Sjoe, maar die ou is serijis,” sê Basie. Donovan se kop is glads skuins soos hy dink, en vra toe die mens ding of hulle dalk ‘n paar ballonne kan kry.

“Sekerlik,“ sê die mens ding. “Hier is ons rekenaar sisteem, en als is verkrygbaar wat in die heelal bestaan.”

“Haai Basie, hier is tot ‘n iPad op! Kom ons order ene en neem dit terug, en dan jol ons daai ding die hele vakansie lank,” sê Donovan verwonderd!

“Fokus man, nou moet jy serijis raak want ons moet nog terug gaan of my pa skil ons gatvelle af vanaand,” sis Basie.

“Ja, dis nogal so,” sê Donovan. Hy druk ‘n knoppie en uit val ‘n sakkie ballonne. Die kinders blaas die ballonne op, en toe vra Donovan die half mens, “Nou gaan ek jou ‘n triek wys wat al die meisies en die onnies op skool haat.” Donovan knyp die opgeblaasde ballon styf vas tussen sy boude en stadig gaan sit hy terwyl die ballon met ‘n geskroei-gesuis afblaas. Basie lag so hard dat die trane vlak in sy oë sit en slaan-slaan so met die hand, maar ai, die mens ding kyk hulle net aan en die kinders begin bewe van die koue van die mens ding se verergenis. O vader, die mens ding is net te serijis vir woorde en weier om te lag!

“Ek weet!” sê Donovan! “Basie, help jou broe’ nou ‘n bietjie,” sê Donovan.

“Okei, wat maak ons?” vra Basie.

“Onthou jy daai triek van ons wat ons in die skool getrek het in die koshuis?” sê Donovan. Basie dink dat sy kop eintlik skeef trek, voor Donovan hom verlos en sê, “daai prentjie man!”

“Oeee, dit!” reken Basie voor hy ‘n kostelike prentjie teken en vir die half mens wys. Oeps, groot fout!

Die half mens gluur die kinders so aan met al tien sy oë en nadat hulle so bietjie kleiner geword het, toe sweef loop daar ‘n zoer ander in die kamer in.

“Wies julle?” vra Basie.

“Ons was geroep deur die Oppermeester om julle in te lig wat die resultaat sal wees indien julle nie in ons versoek sal voldoen nie,” sê een van die mein konyne.

“Jammer, maar kan julle asseblief Afrikaans praat want ons is nog klein en het nog nie die hogere woorde geleer nie,” sê Donovan.

“Ja,” sê Basie, “ons is net agt jaar oud en is nog maar net drie maande innie skool. Hoe oud is julle dat julle alles weet?”

Die een mein konyn kyk na die kinders en sê, “Ek is die jongste en is 8 000 jaar oud.”

“Jis, maar jy dra jou jare goed, en nogal glads nie brille nie. Maar nou ja, jy sou nogal simpel gelyk het met vyf brille!” sê Donovan waarop Basie skater van die lag.

Toe die kinders opkyk, toe sien hulle die klomp half mense gluur hulle aan en weereens het die temperatuur met nog vyf grade gedaal en die kinders bewe van beide die koue en groot skrik.

“Julle praat te baie!” sê die Oppermeester.

“My ma en my juffrou by die skool sê ook so,” sê Donovan. Eensklaps toe bulder die Oppermeester ‘n bevel in ‘n onverstaanbare taal en hele armie sweef loop nader. Donovan en Basie skrik hulle boeglam en beklou mekaar soos mense wat mekaar lank laas nie gesien het nie.

“Wat is julle planne nou?” sê Basie. “Eenvoudig. Julle leer ons of om te lag, of ons laai julle af op Mars,” verduidelik die Oppermeester.

“Wat!? Mars?? Maar ons moes gaan gemsbokke tel vandag en my pa gaan ons gatvelle aftrek as ons nie vanaand by die huis is nie,” sê Basie. “Donovan, alle grappies op ‘n stokkie nou, ek raak nou benoud want die half mense is vreeslik serijis.”

Donovan maak so stadig sy benoude oë oop, en toe hy sien hoe die half mense hom aanstaar, toe bars hy uit in trane. Dit was al wat nodig was om Basie in volstoom paniek te gooi, en hy val toe in en die twee kinders huil troosteloos asof die wêreld eindig.

Die half mense kyk die kinders aan, koppe gedraai om die tranedal in te neem, en stadig maar seker, toe begin hulle glimlag, en ‘n wyle later, toe begin hulle lag. Met die gelag, begin Donovan en Basie toe beter voel en huil minder, maar die Oppermeester sweef loop nader. “Ek sal meer huil as ek julle was, want ons vind dit uiters snaaks.”

Basie en Donovan huil toe nog vir my wyle, maar toe hulle besef hulle het hulle doel bereik, toe droog die trane op.

Die Oppermeester sweef loop weer nader en sê, “Kan julle asseblief meer huil?”

Donovan kyk verbaas na Basie en sê, “Basie, dink net daaraan hoe jou hart voel as Prôvins speel en die hartseer sal van diep uit jou hart kom.” Daar bars Basie en Donvan weer in ‘n vars tranedal uit, en die hele armie half mense lag te lekker.

Wat na ‘n leeftyd gevoel het, kom die Oppermeester nader en sê, “Kinders, baie dankie vir wat julle ons geleer het. Ons spesie het nou nog ‘n emosie bemeester wat net tot ons voordeel kan wees.”

“Whatêvir man,” sê Basie. “Kan ons nou asseblief terug gaan na die gemsbok kamp?” vra Basie.

“Neeeee man, is jy stoepid?” sê Donovan. “Ons kan mos lekker ‘n gaidid toer kry, want ons sal die koelste kinners in die koshuis wees as ons die stuk sny vir almal as skool weer begin het.”

Glimlaggende vra die Oppermeester die seuns, “Wil julle dalk ons ruimtetuig besigtig?”

“Jis, dit sal koel wees! Ja, ja, ons wil, ons wil!” jubel Basie al hoppende van vreugde.

En die kinders volg die Oppermeester om die ruimtetuig te besigtig en stap na die muur van die spierwit kamer. Eensklaps toe raak die muur so deursigtig en die Oppermeester en die kinders gaan deur die waas deur na ‘n ander deel van die ruimtetuig.

“Jis Basie, wie sou kon reken dis so maklik om te êskeip?” sê Donovan.

“Nie rerig nie Stoepid! Ons is nog steeds hie-sô,” sê Basie.

“O ja, ek het ‘n biekie vergeet! Basie, kom ons vra hom om ons te help gemsbokke tel,” sê Donovan.

“Jis, dit is ‘n goeie plan! Jy moes eintlik ‘n tweeling gewies het!” sê Basie waarop die kinders al laggende die Oppermeester volg in die ruimtetuig.

Toe die Oppermeester die kinders na die Kontrole Beheer neem, toe snak die kinders na hulle asem. Daar was skerms op skerms van wat buite in die heelal aangaan. Basie en Donovan loop stadig nader kyk hoe die ruimtetuig deur ‘n mynveld van sterre, asteroïdes, meteroïdes, komete en planete vlieg. Met monde wat oophang draai Basie na die Oppermeester en vra, “Waar is ons nou? Ek meen naby watse plek?”

“Wel, ons was net duskant Jupiter maar is op pad terug na die blou planet, Aarde, toe om julle te gaan aflaai, en dan sal ons terug gaan na Zenghar wat in ‘n ander sterrestelsel is,” antwoord die Oppermeester.

Die kinders kyk na mekaar en Donovan fluister vir Basie saggies, “Jy’s reg! Hy praat rêrig soos mense van Joburg!”

Verergd sê Donovan, “Is ons ver of naby?”

Die Oppermeester glimlag en antwoord geduldig, “Vir julle dalk ‘n bietjie ver, maar ons kan dalk vir julle ‘n bietjie pret laat hê oppad terug.”

“Pret?” sê Donovan. “Wat is jou plan met ons Ou?”

“Nee, ons sal julle geen kwaad aandoen nie en bly by dit wat ons aanvanklik gesê het. Maar dalk kan julle iets leer omtrent die heelal wat julle nie tans weet nie.”

“Okei, verras ons… Jislaaik, nou nog ‘n wetenskap klas in my vakansie… ” mompel ‘n sigbare ongelukkige Basie onderlangs.

“Wel binne vyf minute sal ons die buitekringe van Saturnus sien. Dit blyk toe die regte antwoord te wees, want opslag is Donovan en Basie vol optimisme oor wat hulle gaan sien.

En stadigaan skuif die kringe van Saturnus op die skerms in en sien die kinders die mane een vir een verby flits. “Hoeveel is daar van daai?” vra Donovan.

“Ongeveer sestig,” sê die Oppermeester terwyl die kinders hom geskok aanstaar.

“En kyk, die kringe issie aanmekaar nie en hulle beweeg!” sê Basie saggies.

“Ja, dit nie solied nie anders sou hulle onstabiel word en die kringe wentel rondom Saturnus,” antwoord die Oppermeester.

“Nou kom ons nader aan die grootste planeet, Jupiter,” sê die Oppermeester. “Die periode is ‘n relatief maklike area vir ons om in te navigeer, maar daarna moet ons versigtig wees vir die wesens van Mars.”

Die kinders het byna ‘n minuut geneem om hierdie twee feite in te neem en verskillende reaksies te ontwikkel. “Koel!” sê Donovan. “Dalk kan ons die ding vir ‘n spin neem!”

“Watse goeters dink jy aan as daar rowwe manne op Mars woon?”

“Nee man, nou is die lekker tyd, so ko’ ons vra of ons bietjie die ding vir ‘n test draaif kan vat,” sê Donovan.

“Okei, klink fêr. Ek sal vra,” fluister Basie.

“Ek weet wat julle wil doen, en ja, solank ons hier is en net vir ‘n kort rukkie,” antwoord die Oppermeester.

Die kinders skuifel stadig toe oor na ‘n groot sirkel waarin vier stoele is. Op die armleunings van twee van die stoele is daar beheer meganismes wat die ruimtetuig beheer. Die Oppermeester staar na die twee wesens wat daar sit en stadig staan een op en sweef loop tot buite die sirkel. Die Oppermeester beduie met sy hand dat een van die kinders in die stoel moet kom sit. Basie stamp so vir Donovan nader alhoewel hy half briekende vorentoe skuffel.

“Basie, kyk net hoe koel is ek! Ek bestuur die ding nou!” jubel Donovan. Basie se kop is eintlik skeef soos hy vir Donovan aanstaar, maar eintlik hoop hy vuriglik dat hy ook net ‘n beurt sal kry. “Nou gaan ek jaag!” sê Donovan.

“Weet jy dat Oom Hannes ‘n nuwe Murk gekry het en jy moet sien as ons dorp toe ry en Oom Hannes sit sy voet neer! Die bome gaan sommer soos fast fôrwurd verby die vensters! Hoe vining ry ons nou?”

“Ongeveer so 1000 kilometer per uur,” antwoord die Oppermeester. Donovan se kop skiet om en beide kinders kyk geskok na mekaar.

“Wat?” skree Basie?

“Jy gaan ons verongeluk man! As my pa jou vat, dan sal jy jou ma vir ‘n eendvoël aansien!”

“Moenie vrees nie, ons is heeltemal veilig want die ruimtetuig is bedek met Teflon en ons is heel veilig,” antwoord die Oppermeester. “Dalk wil jy ook ‘n beurt hê om beheer te neem,” vra die Oppermeester terwyl hy na Basie kyk.

“Of kors!” sê Basie en hardloop vinnig nader. Donovan staan toe stadig op en kyk verlangend na Basie toe hy op die stoel klouter. “Ek is ‘n biekie benoud Donovan,” sê Basie. “Net nou krêsh ons! Ek het my les geleer daai keer toe my arm gebreek toe ons kaskar gekrêsh het. ‘n Man kry seer as iets breek,” sê Basie benoud.

“Nee man, die ou sal jou help, so dinge sal oraait wees,” antwoord Donovan hom.

Toe sien die kinders hoe Jupiter op die skerms verskyn en die Oppermeester vertel vir die kinders dat Jupiter ‘n gasreus nes Saturnus is en dat daar nie ‘n vaste oppervlak te bespeur is nie.

“So mens sal nie daar kan loop nie?” sê Basie.

“Korrek,” antwoord die Oppermeester. “Baie van die planete in julle sonnestelsel is na Romeinse gode vernoem.”

“Wow!” fluister die kinders saggies met monde wat half oop hang.

Jupiter begin toe stadig aan vanaf die skerms verdwyn en toe begin die skerms gevul raak van rotse en binne oomblikke, toe was daar veel meer wesens in die Kontrole Beheer. Die atmosfeer verander vinnig van relatief ontspanne en spanning begin opbou tot ‘n gespanne klimaks.

“Ons moet julle nou vra om asseblief buite die Sirkel van Beheer te staan want ons verwag dat die wesens van Mars dalk ‘n bedreiging vir ons kan wees,” sê die Oppermeester.

“O vader, nou is hier biek trabel,” fluister die kinders terwyl hulle vinnig buite die sirkel beweeg. Twee wesens sweef tot in die stoele en almal staar stil en bekommerd na die skerms.

En daar, op een skerm sien die kinders die groen kolletjie waarop iemand toe inzoem. Die wesens moes met mekaar gekommunikeer het want daar was ‘n gesuis en almal het in na ‘n sekere rigting gekyk. Die Oppermeester suis toe so in morse kode en luister weer. Toe weer ‘n aan en af gesuis en toe draai hy na die kinders en sê, “Hulle is die wesens van Mars en sê hulle is in beheer van die binneste sonnestelsel aangesien hulle die mees ontwikkelste wesens is en kan dit bewys aan ons. Hulle wil hê ons moet ‘n resies hê om te sien wie se ruimtetuig is die vinnigste en dat hulle sal kan bewys hoekom hulle superieur is.”

“Meen jy hulle dink hulle is die koeler as julle?” vra Donovan.

“Korrek, maar as ons die resies kan wen sal hulle ons in vrede voort laat reis, aangesien ons meer superieur as hulle is,” verduidelik die Oppermeester.

“Jis, dit sal koel wees!” uiter die kinders amper gelyk.

Die volgende oomblik toe skiet die ruimtetuig weg met ‘n onstettende spoed. Verbasend genoeg was daar geen gevoel van onstabiliteit binne in die ruimtetuig nie, maar die kinders kom agterkom aangesien van die interplanetêre stofnou baie vinniger verby gewoerts het as tevore en die groen kolletjie kleiner begin word het. Die wesens binne in Kontrole Beheer begin toe opgewonde suis en die Oppermeester draai om en sê glimlaggende aan die kinders, “Ons het gewen!”

“Haai hoela Basie, ek voel nou blyer as daai keer wat ek die drukspyker op ou Bus se stoel gesit het en hy lekker daarop gaan sit het,” sê Donovan. Terloops, ou Bus is die onderwyser wat die kinders die meeste haat op skool want hy het hulle al ‘n paar kere afgestof na hulle uitgevang was na hulle gebruiklike kattekwaad streke.

Basie skud Donovan aan die skouer en vra verbaas, “Hoekom het ons aan die slaap geraak hier onder die boom?”

“Ja, dit was wjeerd…” antwoord Donovan lomerig.

“Mater, nou moet ons wikkel en daai gemsbokke tel want ons moet draai en gaan eet of jou ma gaan kwaad wees,” sê Basie. So skuifel die kinders onder die boom uit, klouter terug op die perde en begin ry met oë soekende vir die trop gemsbokke wat hulle toe verweg op die horison sien.

  • Chantal

    Ek dink die storie is baie oulik. Maar onthou dat ‘n fantasie verhaal moet ernstig begin. Jy het my lekker laat lag!