DIE KRAAIE TEMMER – Quintin Ellis

DIE KRAAIE TEMMER – 2013 © Quintin Ellis

VOLWASSE FANTASIE (5 297 woorde)

Ptiêr sit onder die skaduwees van die ou beukeboom en bestudeer die skaakbord voor hom. Hy het lanklaas gespeel en die swak skuiwe wat hy gemaak het weerspieël dit. Die ou priester teen wie hy speel het ook geen genade betoon nie.

“Ek bespeur ’n lusteloosheid in jou spel, seun. Wat pla jou?”  Die priester se stemtoon is sag en bemoedigend.

Die jong man kyk uit oor die grasvlaktes, wat groen gebaai lê in die flouerige winterson. Dit was ’n goeie reënseisoen die jaar en die boere se oeste lyk belowend. Hy skuif sy biskop vorentoe en die wit koningin word reg voor sy koning geplaas.

“Skaakmat!” Daar is geen oorwinning in sy stem nie, daar is ’n duidelike ondertoon van berisping. “Jy moet leer om te fokus waarmee jy besig is en nie op alles wat jy wil doen nie.”

“Hier is nie veel om te doen op die eiland nie, Vader.” Ptiêr strek sy arms en staan op. “Ek is nie aangelê om te boer nie, of om handel te dryf nie. Ek wil ook nie op die dokke werk of vis gaan vang nie. Verder dink ek die weermag is nie ’n oplossing vir my nie.  Sinnelose geweld en haat is nie groot dryfvere vir ’n beskaafde wêreld nie.”

’n Groep mossies kom sit kwetterend in die boom bo die twee. Die priester kyk glimlaggend op na die voëltjies. Die jong man het hom kom vra vir advies, maar hy weet dat die antwoorde nooit by hom lê nie, maar binne die persoon wat loop met die vrag onopgelosde kwellinge.

“Jy het seker al oorweeg om by die klooster aan te sluit?” Die priester weet dat die klooster geen plek is vir die jong man nie, maar hy moet hom uitdaag om wyer te dink as die ooglopende oplossings. Van kleins af het hy die opgewekte seun dopgehou en geweet daar is ’n ontembare gees in hom.

“Nee, dink u ek moet?”

“Nee, ek dink jy moet ophou vrae vra waarvoor daar nie antwoorde is nie.”  antwoord die priester laggend. “In die wêreld is daar ’n paar stelsels wat keer dat alles nie in totale chaos verval nie: Godsdiens, politiek, die regstelsel en filosofie. Meeste van die stelsels word beïnvloed deur ons persoonlike uitkyke en dan kry dit barsies (barse) en krake. Sommige tye is al die stelsels nutteloos en dien geen waarde vir die voortbestaan van die mens nie. Jy wil ’n beter wêreld sien, maar dit bestaan nie altyd nie, behalwe in stories.”

“Waarom is ons hier, Vader?”

“Hier op die eiland?  Hier in die wêreld?  Of wat is die rede waarom God mense geskape het?”

“Wel, seker maar almal?”

“Vir daardie vrae moet jy self die antwoorde vind. Elke persoon se waarneming is anders.” Die ou priester staan stadig asof op, asof hy die hele skepping moet opdruk met sy skouers. “Ek moet gaan voorberei vir die nag gebede. Iets wat jy gerus kan bywoon.”

Ptiêr glimlag half skuldig. “Ek sal seker eendag dit doen.”

Die priester groet hom met ’n kopknik. Ptiêr bêre die skaakstel in sy skouersak en begin aanstaltes maak huis toe. Hy stap egter nie die gewone pad huis toe, maar eerder om die dorp deur die veld. Die natuur is op plekke nog soos dit was voor die mens, met sy verwoestende hand, die wêreld verander het.

Hy hoor ’n sagte neurie en sien ’n man aangestap kom deur die ruwe veld. Hy stap na hom toe en groet hom.

“Jy is vroeg terug. Wat is nuus?”

“Die man is kort en bonking gebou, met ’n welige baard, wat hom die bynaam Aswer die Dwerg, besorg het. Hy is egter heelwat langer as ’n dwerg. Hy bedryf die algemene handel op die dorp, maar daar is ook gerugte dat hy soms betrokke is met smokkelary. Aswer lag vir die gerugte, maar ontken of erken dit nooit nie.

“Ja, ek was by my oom op die hoofeiland gewees, maar moes my vinnig uit die voete maak.”  Aswer steek sy pyp op. Gewoonlik sou hy ’n stop  aangebied het vir enige persoon in sy teenwoordigheid, maar die ekonomie is nie so goed nie. “Daar is ’n groot oorlog aan die broei op die hoofeiland. Die trolle het die Vrye Lande ingeval…”

Ptiêr luister aandagtig na al die nuus van die hoofeiland af. Sy pa gaan hom natuurlik weer roskam as hy te veel vrae vra oor die eilande. Na hulle gesprek gaan die twee manne in hulle eie rigting.

Hy stap by die voorhek in.  Sy pa sit met ’n koppie tee op die stoep en kyk aandagtig na die horison. Die son is besig om alles te verkleur in kaleidoskoop van pers, pienk en oranje.

“Dag Dromer,” groet sy pa hom tergend.

“Dag Pa,”  Hy trek vir hom ’n stoel nader en gaan sit langs sy pa. Die twee lyk glad nie soos pa en seun nie. Ptiêr is lank en lenig. Sy pa daarenteen het ’n groot bolyf en dik arms.

“Waar was jy vandag oral. Ek sien jou take om die huis is soos gewoonlik maar net afgerammel.”

“Ek was by Vader Hambro. Ons het skaak gespeel. Op pad terug het ek in Die Dwerg vasgeloop.”

Die ouer man snuit hard. “Daardie opperste skelm! Sy kierangtjies gaan nog braai. Wat het hy te sê gehad?”

 “Daar is glo oorlog in die Vrye Lande. Die trolle het weer strooptogte uitgevoer.”

“Ga! Dit is tipies. Vandat die Alak Valto die pad byster geraak het en almal verraai het, sit die mense in die gemors. Dit is hoekom ons padgegee het.”

“Ek verstaan steeds nie wat aanleiding gegee het dat ons op hierdie klip moes kom sit nie.”

“Hierdie sogenaamde klip, is ons nuwe tuisland. Ons was vervolg en verdruk. Ons het geen leiers daar gehad nie en kon weens ons status nie as volle burgers van Die Vrye Lande erkenning kry nie. Dus het ons almal saamgekom en na ’n lang gesprek besluit om alles op te gee. Om’n ander heenkome, weg van die Vrye Lande en die gespuis wat daar heers te vind kom.”

“Nie almal kan seker sleg gewees het nie….” Daar heers ’n swanger stilte totdat Ptiêr die stilte breek. “Die Dwerg het my vertel daar is ’n nuwe leier aan die opkom wat regverdig is.”

“Jy weet hoe hy kan lieg. Daar is geen mens op daardie goddelose eiland wat teen die trolle en die Alak Valto kan of wil opstaan nie.”  Ptiêr weet hy moet maar liewer nie verder aan sy pa karring oor die hoofeiland nie.  Sy ma kom uit met twee borde kos.

“Waaroor gaan hierdie diep gesprek?”

“Die Dwerg was al weer op die hoofeiland.”

“Ai, my man, jy weet mos sy oom, Trâybn, bly daar.”

“Hoe hy die neef van ’n half-elf kan wees wil ek ook graag weet. Ek sê jou, hier is hopeloos te veel draadsitters en verraaiers in ons nasie.” Hy krap die slaai deurmekaar. Die son begin sak en hulle hoor die hadidas en reiers begin slaapplek soek in die bome wat langs die stroompie by die huis staan. Hulle klak protes geluide word gehoor wanneer daar ’n nuweling lomp ’n sitplek op die buigbare takke soek. Net na son onder raak die gemor rustig, terwyl die familie hulle ete in doodse stilte eet.

Die vrou kyk stil na die twee mans. Die ander seuns is al uit die huis maar Ptiêr kon nog nie rigting vind in die lewe nie. Hy sal vir ure in die vlaktes invaar en die kraaie gaan voer. Of met ’n skilderkwas en palet die agterstoep besmeer met sy eienaardige prentjies. Hy stamp baie kop met hulle, maar sy ouers weet hy is nie gereed om op sy eie aan te gaan nie.

Soms lê sy tot laat in die nag en hoor die gewerskaf in sy slaapkamer. Die wêreld het nie eintlik ’n plek vir ‘n dromer nie, maar sy laat hom maar begaan. Sy weet net nie hoe lank haar man hom nog gaan verduur nie.

“Hy moet sy kop uit die wolke haal en begin rigting kry in die lewe. Geen mens kan vir ewig verewig in drome glo nie.” Sê haar man gereeld as hulle oor die kind se toekoms praat.

“Ai Kamty, hy doen niemand skade nie. Hy is maar net anders. Dalk is hy bestem om ’n kunstenaar te wees.”

“Geen kind van my sal van  droë brood en genade leef nie. Hy moet werk kry.” Kamty se stem is ’n lae fluister maar hy draai geen doekies om nie. Sy jongste seun lyk vir hom ambisieloos. In sy jong dae sou sy pa sulke laksheid met ’n leer strop uit hom gehaal het.  Dalk moet hy hom, teen sy vrou se wense, eenvoudig net uit die huis gooi, dat hy kan besef dat die lewe hard en ongenaakbaar is nie genadig is nie.

Vandat hulle van die hoofeiland gevlug het, moes hulle hard werk om hierdie eiland te koloniseer. Die fee wat in die noorde bly het hulle gehelp deur vir hulle te wys waar die minerale ontgin kan word en waar die beste hout is om huise mee te bou.

Dit het amper ses maande gevat om net die basiese strukture in plek te kry. Daarna het alles ontwikkel. Hulle enigste kontak met die hoofeiland was die handelskepe uit Wolfen en wanneer Die Dwerg na die Vrye Lande gegaan het om handel te dryf. Hulle was vry van die hoofeiland se politiek en struwelinge.  Hier op Windeiland kon hulle ’n nedersetting begin, wat binne jare gegroei het tot ’n dorp. Hulle is baie streng op nuwe inkomelinge en wil alle vrye denkers en liberaliste van hulle eiland af weghou.

Steeds, ten spyte van al hulle pogings, is sy jongste nou juis ’n bedreiging vir hierdie idealisme.  Ptiêr, sy jongste, wat op Windeiland gebore is, die heel eerste boorling van Windeiland, het nou ’n bedreiging geraak vir alles waarin hy glo. Nie net alles waarin hy glo nie, maar ook alles waarvoor die eiland staan.  Daar was kunstenaars aan sy vrou se kant van die familie, so hierdie gemors is haar skuld. Sy familie was daders en nie dromers nie.

Nadat die Alak Valto begin het om weg te beweeg van die leerstelling van liefde, gelykheid, eenheid en genade, het sy pa vir hulle gesê om op te pak en te vlug. Daar was geheime vergaderings tot laat in die nag om te besluit waarheen en hoe.  Aswer, wat seker die mees welberese man op die eiland was, het hulle vertel van Windeiland. Alhoewel niemand van Die Dwerg gehou het nie, het hulle hom verdra as gevolg van sy kennis en sy vriendskap met die inwoners van Wolfen.

Wolfen word bewoon deur ’n nasie wolwe. Hulle is uitmuntende seevaarders en handelaars. Verder het hulle ook die magtigste vloot gehad, wat bestand was teen die aanslag van seerowers en ander vyande.

Hulle het opslagplekke gebou en begin om wapens en proviand te versteek. Soos sy pa voorspel het, het daar ’n aanslag begin teen die mense van die Vrye Lande. Eers was dit huisbrake, toe begin die Alak Valto grond opkommandeer. Hy en die ander het een aand laat hulle besitting gevat en gevlug na Wolven, waar die skepe reg gestaan het om hulle na Windeiland te neem. Amper vyftien skepe het hulle na die nuwe lewe geneem.

Binne ’n jaar kon hulle die Wolwe voorsien van wat hulle ook al nodig gehad het vir hulle seereise. Die handel met die Wolwe, die Noord Elwe en selfs die Fee, het die ekonomie vinnig laat groei. Daar was ’n sterk landbou en mynbedryf. Elke persoon het werk gehad en kos op die tafel.

Hulle het kerke gebou, markte waar vaardighede en produkte uitgeruil is, ’n skool en ’n hawe. Die grond was uitsonderlik vrugbaar en die water en reën was altyd daar.

Met die terugflitse in sy kop raak hy aan die slaap.

Ptiêr staan vroeg in die oggende op, doen vinnig ’n paar los werkies en verdwyn dan om met die kraaie te gaan gesels. Hy het die talent ontdek toe hy nog baie jonk was. Hy het eendag deur die fynbos gestap toe hy ’n kras stem hoor wat om hulp roep. Hy het verwag om ’n verwonde trol of aardgees te sien, maar was verbaas om ’n gewone witborskraai te sien.

Hy het die gewonde voël opgetel en onder sy onderbaadjie ingedruk. “Wat het met jou gebeur?”

“’n Valk het my aangeval en in die geveg het ek my vlerk beseer.” Die krys stem van die kraai is amper onhoorbaar sag.

“Ek sal jou versorg.”

Hoe hy dit regkry om met die kraaie te praat gaan hom ten bowe. Hy het met die priester daaroor gaan praat.

“My seun, ons het almal talente wat ons nie verstaan nie. Ejo, kan die beste wyn brou. Lakva, is ’n wapensmid. Jou pa is ’n skaapboer. Elkeen het sy nut.”

“En om met kraaie te praat? En hoe verstaan hulle my?”

“Daardie vraag se antwoord lê nie by my nie. Wie sal verstaan hoekom God sekere goed toelaat behalwe Hy?”

Vir hom was daar nooit duidelike antwoorde nie, sy broer die boekhouer en sy ander die militaris in die klein dog effektiewe weermaggie. So het elkeen hulle pad gevind, maar hy kon nooit verstaan wat die waarde van goud is nie en hoekom ’n menselewe waardeloos nie was. Waar goud en mense in een plek saamkom, moet jy weet een gaan moor en steel, en ’n ander gaan sterf.  Hy wil nie deel wees daarvan nie. Geen regstelsel kan menslike gierigheid beheer nie. Eerbare seevaarders word seerowers, grondeienaars verdruk hulle werkers. Selfs geestelike leiers buit hulle kuddes uit om hulle sakke vol goud te stop. Dit word ’n bose kringloop wat rykes verryk en armes verwoes.

“Wat pla jou so vroeg in die dag?”  ’n Fee kryger onderbreek sy gedagtegang. Hy skrik verward uit sy gedagtewêreld.

“Ag, dit voel net of ek oral in die pad is en nêrens wil inpas nie.”

“Ptiêr, van al die mense op die eiland is jy een van min mense wat wel met ons praat. Ons het die mense gehelp om alles op te bou, maar toe hulle op die been is, het hulle ons eenkant toe gestoot. Hulle dryf nog handel, maar andersins kon ons net so wel nie hier gewees het nie.”

“Ek het net nou net loop en dink aan die mense se gierigheid.”

“Jy stry teen jou menslike natuur, dit veroorsaak groot pyn vir jou.” Die fee is so amper ses voet lank, met stewige skouers, maar steeds ’n fyn lyf. Haar boog en koker hang oor haar skouers en ’n gooipyl hang aan haar heup. Sy blou oë en ligte blas vel kontrasteer sy swart wat in ’n wilde vlegsel top op sy heupe hang. Die feë het nie net manlike krygers nie, van die vroue is meer vernuftig met wapens as hulle manlike kolegas. Hulle is ’n opregte en eerbare nasie, alhoewel baie van hulle kulturele gebruike vreemd voorkom vir die mense.

Die wind waai sag oor die kaal klipperige grasvlaktes. Hier in die stilte van die natuur is daar min tekens dat die mense hier naby woon. Die bos buite die dorp was eers die woonplek van die feë, maar hulle het verder noord getrek om afstand tussen hulle en die groeiende dorp te plaas. Daar is ’n verdraagsaamheid tussen die feë en die mense, maar dit is baie gespanne. Die feë probeer so min moontlik impak op die natuur hê, teenoor die verwoestende vooruitgang van die mens.

Ptiêr gaan sit op ’n klip en haal twee brode wat hy die vorige aand gebak het uit sy sak. Voëls begin vanuit alle rigtings aankom om die stukke brood wat hy vir hulle gooi te verorber.

Die fee kyk bewonderend na hoe mak die wilde voëls voorkom wat om hom vergader. Elkeen kry ’n stukkie, maar hulle baklei en raas steeds met mekaar, vir ’n groter stuk of die laaste krummel. Ptiêr staan laggend op en praat sag met hulle.

“Dit is al vir vandag my vriendjies. Ek sal môre weer vir julle kos bring.”  Hy buk af en streel ’n klein kwikstertjie sag oor die kop. Hulle is so weerloos en oorgelaat aan die lot van die wrede wildernis, maar wanneer die voëls by hom is, is daar geen vyandskap nie. Hy weet daar is fiskale wat jag maak op die ander en selfs sy geliefde kraaie en rawe is nie engeltjies nie. Tog verstaan hy hoe die natuur werk en dat hy nie mag inmeng nie.

“Dood is op jou voorstoep en dit gaan alles wegneem wat vir jou kosbaar is.”  Hy kyk na die raaf wie se blink swart vere amper blou skyn in die vroeë oggendlug.

“Waarvan praat jy, raaf?”

“Die trolle is op pad met vyftien bote. Hulle gaan Windeiland aanval.” krys die donker voël. “Julle moet vlug.”

Die fee kyk Ptiêr aan. Die man se gelaat het skielik verander van opgewek na ’n diep sombere bleekheid. “Wat sê hy?”

“Daar is ’n groot vloot trolle op pad. Ons moet die ander gaan waarsku.” Die fee vloek sag , spring op en begin draf na sy vesting. Hy het geweet dat die mense se aankoms niks goed voorspel het nie, maar het stilgebly. Nou lê dood en verwoesting op hulle  en wag. Die trolle het nog nooit fee aangeval nie, bloot omdat hulle hul nie die fee kan sien nie, maar steeds verwoes hulle alles wat voorkom.

By die vesting maak hy alarm en die feë kom byeen in die plein.

“Ek het nuus gekry dat daar ’n vloot oppad is hierheen. Hulle gaan die mense aanval.”

“Die trolle weet nie eens ons is hier nie. En selfs al weet hulle kan hulle niks doen nie. Ons het bote in die hawe om die mense na veiligheid te neem. Dit is al wat ons gaan doen.” Die koningin is ’n fyn dame. Haar hare is so swart soos die donkerste vere van ’n raaf. Haar oë groen. Die wit kleed wat los om haar hang laat dit voorkom of sy vêr bo die grond sweef.  “Gaan berei die bote voor, hier is lewens om te red.”

Ptiêr haas hom na die dorp. Hy roep na sy pa toe hy by die voorhek indraf. “Pa! Pa!”

Sy seun se beangste stem laat hom dadelik die skape net so los en na die huis toe hardloop.

“Wat gaan aan?” Hy het ’n groot swaard in sy hand wat hy vinnig in die verbygang in die skuur gegryp het.

“Die trolle is op pad met ’n groot vloot. Ons moet vlug!”

Kamty vloek hard. “Daar is geen manier dat ek gaan vlug nie. Hulle gaan nie weer my land van my afneem nie. Ek sal sterf voor ek die eiland verlaat.”

“Dis vyftien bote, Pa. Ons staan nie ’n kans nie.”

“Ek het klaar gepraat. Dit is daardie verdomde kleinhandelaar wat hierdie gespuis na ons lande gelok het.”

Ptiêr se skouers hang in moedeloosheid. Die raaf se woorde begin ’n realiteit word. Daar is geen manier hoe sy ma sonder hom die eiland sal verlaat nie. Diepbedroef  stap hy na die hawe toe. Die leër se kwartiere lê reg langs die hawe. Die wagte laat hom in vrede verbygaan. Hy stap verby na sy broer se kantoor toe.

Sy broer luister aandagtig na hom.

“Wie se bewyse het jy oor die nuus wat die voëltjie vir jou gebring het?”  Hy is baie lief vir die dromer, maar sy lewe is vêr verwyderd van ’n plek waar jy met voëls kan praat. Die waarskuwing sal wel ondersoek word maar hy gaan nie dat kinderpraatjies sy lewe oorheers nie.

Wanhopig probeer Ptiêr sy broer oortuig, maar hy kan sien sy smekinge val op dowe ore. “Die voëls het nog nooit vir my gelieg nie. Onthou jy die lammetjie wat weggeraak het en die kraaie het my vertel het waar ek hom kon kry?”

“Dit was dalk net toeval. Hoekom is jy al een wat met die kraaie kan praat?” vra die soldaat half-verergd.

Ptiêr kan sien dat sy broer net soos sy pa is. Tenminste het sy pa hom geglo. Hy stap uit na die tempel. Vader Hambro is besig om met ’n ou gras besem die werf te vee. Ligte stofdampe styg op met elke swiep van die besem. Hy kyk op na die beangste gesig van die jong man.

“Vader, die trolle is op pad!”

Die priester laat val die besem. “Is jy ernstig?” Met ’n kopknik antwoord Ptiêr hom. “Lui die kerkklok, maak alarm.”

Die beier van die klok op hierdie ontydige oomblik laat die mense vanuit alle rigtings na die kerk stroom. Na almal vergader het begin die priester praat met ’n verbasende luide stem vir sy klein postuur.

“Ons het ’n waarskuwing gekry dat daar ’n groot groep trolle op pad is na ons eiland. Ons is nie toegerus om teen so ’n oormag te veg nie.” Die priester staan ferm voor sy kudde.  “Ons sal moet pak wat ons kan en vlug na die fee…”

“Ons bly!” roep ’n paar stemme in weerwil uit. “Ons het die Vrye Lande verlaat weens hulle. Daar is nie ’n manier hoe ons hierdie grond ook gaan prysgee nie!”

Baie stemme beaam die stelling. Daar is egter ’n paar wat besef dat hulle moet vlug.

“Ons kan al die voorrade uit my pakhuise gebruik om te vlug.” sê Aswer. In sy agterkop het hy al klaar weer ’n plan om ’n meer deugsame lewe op die hoofeiland te gaan voer. “Kom, daar is werk. Vir julle wat bly, julle kan al die metaal kry wat julle nodig het om vir julle wapens te maak.”

Die Dwerg en Ptiêr stap na sy pakstore. “Hulle verstaan nie die erns van die penarie en die daaropvolgende chaos nie, my vriend.”

“Mense raak verstrengeling deur hulle besittings. Hulle besef nie dat ons altyd op ’n nuwe plek ’n nuwe lewe kan begin nie. Lewens is duurder as besittings. Ek dink jy is een van die een min mense wat dit so sien.” Die twee sluit die pakhuise en mense stroom in en begin kos, komberse en ander goedere uit te dra. Ander bring waens en help om op te laai.

“Lafaards! Verraaiers!” word hulle toegesnou, maar gaan ongestoord voort met die taak. Voor sononder is al die waens tot oorlopens gelaai. Aswer trek die waens in die pakkamers in. “Ons bly vanaand by die waens en vertrek teen dagbreek. Ek vertrou niemand nie. Niemand mag naby die pakhuise toegelaat word nie”

Daardie nag slaap niemand baie rustig nie. Die geringste geluid en ’n paar mans neem hulle wapens en maak seker dat alles nog veilig is. In tye van groot bedreiging word geen kanse gewaag nie.

Net voor sonop sluit Aswer weer alles oop en die konvooi begin die dorp verlaat. Hulle word gevloek en met tamaties en klippe bestook. Ten spyte van ’n paar beserings stop hulle nie. Kinders en vroue huil en mans sit met geklemde kake op die waens. Daar is selfs ’n paar mans wat trane afvee. Jare se harde werk word agtergelaat op die waarskuwing van ’n seun wat met voëls praat. Is dit die regte besluit?

  Ptiêr se ouers staan tussen die skare en kyk hoe hulle seun die dorp verlaat. “Ek hoop hy vind ’n plekkie waar hy kan inpas.” Prewel sy ma.

“Dis dalk beter vir hom, waar hulle ook al heengaan.”

Die trom geluide van die aankomende vyand raak sag hoorbaar. Water dra die geluide baie verder. Alhoewel hulle seker nog ’n dagreis of twee ver weg is, kan ’n mens hulle al hoor aankom. Teen laatmiddag bereik die vlugtelinge die feë se vesting. Daar is alles in rep en roer ter voorbereiding op die aankoms van die  vlugtende misplaaste mense. Die feë glo nie daaraan om lewens ligtelik op te neem nie. Selfs al is dit ’n vyand wat vra vir hulp, word hy nie weggewys nie.

Die waens se inhoud word sorgvuldig afgelaai en opgedeel.

“Daar is minder van julle as wat ons verwag het.” Merk die koningin op.

“Party het besluit om te bly en te veg.” antwoord Aswer.

“Gekheid. Ons sal hulle help waar ons kan.”

Die proses om die bote te laai neem amper twee dae. Die tromslae het met elke uur harder geword en die mense het meer beangs geraak. Ptiêr en Aswer probeer hulle kalmeer.

“Ek weet van ’n veilige hawe in die Vrye Lande. Dit is versteek en buite die bereik van Alak Valto en trolle. As ons daar is, kan ons verder beplan (planne beraam). Die mense daar is onafhanklik en welaf, hulle sal ons help. Hulle leier is ’n eerbare stryder wat al baie gevegte teen die Alak Valto en trolle gewen het.”

Hulle besef dat dit hulle enigste uitkoms is. Die wind het voor sononder gunstig gedraai en hulle kon uitvaar in ’n oostelike rigting. Toe die son die volgende oggend opkom, is hulle verby die suidelike punt van die eiland. Hulle kan hoor hoe die tromme hard eggo vanuit die ooste.

“Ons huis,” mymer ’n vrou huilend in die arms van haar man. Hy skud net sy kop ongelowig en probeer haar en sy angstige kroos vertroos.

 Ptiêr staan roerloos by die boeg van ’n skuit en vee trane af. “Die dood is op jou voorstoep en dit gaan alles van jou wegneem wat vir jou kosbaar is.”

Die eerste rooksuile begin opstyg en hy gee ’n rou harde verdrieterige gil. Sy hele familie is dood. Hy weet dit net. Hulle karige weermag sal nie die oormag kon oorwin nie.

“Kyk voor jou seun.” Die priester sit sy hand bemoedigend op die jong man se skouers. “Ons kan net kyk na die lewens wat jy gered het. Jy kan nie help as jou raad op dowe ore geval het nie.”

Ptiêr antwoord hom nie. Hy kyk na die see wat rondom die bote klots. Dit gaan vier dae neem voor hulle by die hawe is. Die bote is beknop, met al die mense en bagasie. Gelukkig sal dit verby wees voor die humeure begin opvlam. Hy gaan sit mistroostig en tuur na die horison. Niemand praat juis nie. Kinders huil geïrriteerd en die ouers probeer paai en gerusstel.

Party kyk terug na die digte rooksuil wat nou opstyg van waar hulle tuiste eens was. Die bote reis voort na die hopelike veilige hawe. Met vlae word daar seine tussen die vyf  bote gestuur. Van die sowat sestien duisend mense op Windeiland het net ’n duisend besluit dit is veiliger om te vlug. Die vyftien duisend wat agtergebly het, is daar maar duisend soldate gewees. ’n Duisend soldate teen seker amper tien duisend trolle. Daar is nie ’n kans om so ’n oormag te oorwin nie.

Vroeg die vierde dag bereik hulle die hawe. ’n Paar kinders het omgekrapte mae, maar dit is oorwegend as gevolg van die see se skommeling en kos wat swak voorberei was. Die see is nie ’n genadige meesteres nie. Sy vat baie en gee nooit veel terug nie.

Hulle slaan kamp op net buite die hawe. Die priester gaan van gesin tot gesin met watter medikasie hy ook al kan vind. Kampvure word aangesteek en ingesoute vleis word gebraai op die kole. Groente word op ander vure in ’n paar potte in ’n sop opgekook. Hulle het genoeg kos vir omtrent week, maar het gelukkig ook wapens om mee te jag en daar is heelwat eetbare wortels en bessies.

Vir sommige is dit ’n verligting om weer op die hoofeiland te wees. Ander voel meer beangs in herinnering aan die vervolging, moord en grond diefstal wat hulle in die eerste plek van die eiland verdryf het.

“Die dorp waarvan ek gepraat het, is so dagreis van ons af. Môre-oggend kan ek, jy, en so vyf afgevaardigdes gaan en hulle vra om ons asiel aan te bied.” Aswer het sy pyp in sy hand. Hy het seker gemaak hy laai vir hom genoegsame tabak in. “Ons het genoeg om ’n handelstasie te begin. Ons moenie te veel verwag nie. Ons, die mense van Windeiland, ons is nie parasiete nie.”

Hoe Aswer, wat altyd agter sy rug gespot was as Die Dwerg, skielike leier van die misplaaste gemeenskap geword het, weet niemand nie. Hy is egter die nugter denker wat nou nodig is. Sy besluitneming was nogal wys en weldeurdag vandat hulle gehoor het hulle moet vlug. Bowenal het hy koelkop en berekenend oorgekom.

Iemand haal ’n sitar uit en begin speel. Hy begin ’n weemoedige lied sing:

“Geen teken van hoop of  lewe,
Geen son wat skyn op die land
Donker magte het ons lewe geneem
Wilde winde het ons huise verwoes
Nag val met die treursang
Van haar eensame kinders
Nag val met die trane van verlies
O, ons is verlate
Die vyande het ons bloed geruik
Soos hiënas sak hulle op ons toe..”

Ptiêr slaap glad nie daardie nag nie. Sy klein bondeltjie goed lê by sy voete. Hy steek ’n kers gemaak van lams vet aan en begin die kleure in sy kop op die palet vasvang. Jy het nie baie lig nodig om die prente in jou kop te skilder nie. Aswer kyk stil na die beweging van die hande. Teen sonop pak Ptiêr alles weg en plaas sy bondeltjie goed by Aswer s’n.

Die ander manne sluit by hulle aan en hulle begin aanstaltes maak om by die dorp uit te kom voor die nag hulle oorval. Jy wil nie in ’n vreemde land dwaal in die nag nie.

Teen laatmiddag stop hulle eers vir ’n ligte ete. Hulle staan en eet sodat hulle kan sien wat om hulle aan die gang is. Net voor sonsondergang bereik hulle die dorp. Net buite die dorp staan ’n gebou in ligte laaie. Die hele dorp is in rep en roer.  ’n Gevoel van wanhoop stoot in Ptiêr op Was hulle laaste hoop, ook ’n valse hoop? Het die Alak Valto en trolle die plek ook oorval?

’n Ouerige man met ’n groen kleed stap na hulle toe. Sy gesig is bedek deur ’n kort geknipte welversorgde silwer baard. Sy ligte blou oë  lyk diep en bemoedigend soos die van ’n vader wat heelwat gesien het en baie het om vir sy kinders te leer.

“Ek is Trâybn die Half-elf.” Hy steek ’n hand uit na Aswer.

Aswer lag hard en omhels sy oom. “Ons eiland het geval, oom.” Die trane biggel vryelik oor sy wange. Dit is die eerste emosie wat Ptiêr sy leier sien betoon. “Ons kom vra om asiel.”

“Julle is welkom by ons.” Die ou man wys rigting aan na die dorpsplein. “Ons herberg is besig om af te brand. ’n Groep trolle het dit vanoggend skielik aangeval en verwoes en die gesin daarin vermoor. Die skuldiges was almal egter gevang en tereggestel.”

“Ek moet gaan help!” roep Ptiêr en hardloop in die rigting van die vuur. Hy sien egter dat sy poging nodeloos gaan wees. Die vuur het die hele gebou verswelg.

“Is almal dood?” vra hy besorg.

“Net die man van die huis nie. Hy is weg om teen die trolle en Alak Valto te gaan veg.”

Ptiêr kyk op en sien ’n man wat alleen in die vêrte staan. Sy wit hemp lyk engel-agtig in die ondergaande son. In sy hande is ’n beukhamer en ’n skild. Agter hom kom soldate aangedraf. Hy draai egter om en stap weg van die dorp. Die man met die wit hemp ignoreer die geroep van die soldate agter hom.

“Hy was ’n goeie man, sy omstandighede was net nie in sy hande nie.” Sê ’n stem agter hom. Ptiêr draai weg van die vuur en hoor die manskappe se kreet: “Valhalla!”

  • Chantal

    Ek het lekker jou storie gelees, maar daar is ‘n paar dinge wat jy in gedagte kan hou. Alhoewel ek dink jou verhaal het potential:

    Ek kan nie sien waar die begin, middle of einde is nie.

    Alhoewel jy sterk karakters het, is dit belangrik in ‘n kortverhaal.

    Jy het ook te veel genoem en te min bespreek, soos byvoorbeeld;
    die trolle, fee en wolwe. Dit sou beter gewees het as jy een van hulle gekies het vir jou fantasie kortverhaal. Miskien die verhaal gemaak het dat ‘n sekere groep mense op die eiland woon en skielik daag klomp skepe op van die wolwe en saai verwoesting.

    En hoe die dromer en sy mense dit gaan regkry om hulle van die eiland af te kry.

    Jy het ook baie spelfoute gemaak, maar jou Afrikaans is goed genoeg. Vir my was die storie te lank vir ‘n kortverhaal en jy het onnodig paragrawe ingesit. As jy hom oorskryf, sal jy jou foute raaksien. Maar jy het ‘n goeie verbeelding.