DIE VERLATE – P.L. Brand

DIE VERLATE – 2013 © P.L. Brand

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 657 woorde)

Die sirene se lang, kermende gekla ruk my uit my nagmerriedrome…

Verskrikte asems rondom my begin skarrel rond en gryp in die donker na hul wapens. Ek lig myself van die bed af op. Toe my voete die koue tentmateriaal raak, hoor ek hoe die soldaat wat bo my op die stapelbed aan die anderkant slaap ook grond vat. Senuweeagtige stemme begin onder mekaar fluister, onseker oor die sirene se erns, dit mag dalk net nog ’n toets wees.

Die ligte skop aan en verblind my. Toe ek my oë weer oopmaak, besef ek dat ek al klaar die helfte van my uniform aanhet, dis so outomaties. My hande gryp vanself na die bostuk van die uniform. Die koue metaal is vir ’n oomblik swaar, maar dis te gou aan my lyf om rêrig te registreer. Ek kyk vir die eerste keer op, my oog dadelik op die naaste lapvenster van die massiewe groen-bruin tent. Dis nog pikdonker nag buite, maar waar is die sterre?

Die flappe van die tentdeur vlieg oop toe ’n jong soldaat uitasem instorm. Paniek is oor sy geskende gesig gevlek, maar hy hanteer homself goed tot hy my agter in die tent kry. My oë draai rustig na die man wat nou voor my staan en na suurstof hoes-hyg. Sy regterhand hou hy na my uit. Ek sien die koevert daarin, in rooi gemerk. Die res van die manskappe in die tent het dit reeds raakgesien en almal se senuweeagtige oë is op my en die soldaat gerig.

Ek neem my tyd om die res van my uniform vas te gespe en my swaard aan my rug te bind op sy plek. Teen die tyd dat ek die koevert uit die soldaat se bewende hand neem, is sy asem alweer terug, maar sy oë nog wyer en meer paniekbevange as van tevore. Versigtig vou ek die koevert oop met die metaal-handskoen se onkundige, gevoellose vingers. Die woorde op die geel-wit papier, groot en swart gedruk, lees maklik soos gewoonlik.

Sonder om op te kyk gee ek die bevel: “Dis nie ’n toets nie! Spanne twee en drie val in by die Noorde hek! My span volg my na die Suide! Nou!”

Ek herken skaars my eie kwaai, roggelstem. Dit voel soos gister toe ek nog moes ja en amen vir my bevelleier. Nou, vyf jaar later staan ek met my eie span en ’n eer-embleem op die linkerbors van my uniform. Die swaard-en-sterretjie blink nog in skoon goud onder my naamplaat. Dit beteken niks vir my nie…

“Kommandeur Knoetse, ons is gereed,” kom die bekende stem van my tweede in bevel.

Met my lasergeweer in my hand rig ek myself op my span. Almal staan gereed vir aksie. My vry hand plaas die koue helmet op my kop wat slegs my gesig ooplos. Uit pure gewoonte begin ek verby hulle draf, die wapen soos ’n baba in ’n sussende posisie in my hande, swaai heen en weer soos ek spoed optel met die gewigtige uniform. Agter my val my manne een na die ander in.

Met die eerste tree na buite verander die koelheid van die uniform aan my liggaam na die hitte van die binnekant van ’n oond, bedompig en byna ondraaglik. Die buitelug bied nie veel verligting nie, want ek moet nou hard teug na suurstof. Skielik is alles swaarder en ek verloor spoed, maar wys dit nie vir die ander nie. Bo my is die lug gevul met pikswart wolke, effens verlig met statiese, blou, omhelsende weerligstrale wat daarom tol en draai soos listige slange. Onder my is die groen-swart grond lou en skuddend. Die opgewonde, donker skreeu en skril geluide van die Vaales kom oorverdowend uit die verte, maar hulle is nog nie te naby nie.

Binne sekondes is ons by die lang, swart Suidehek van die kamp. Oral skarrel soldate rond om hul plek te kry. Met die swaai van my hand weet my eie span waar hulle moet wees en ek vind my eie plek saam met die ander leiers, vooraan die troepe. Die soldate is vinnig op hul aangestelde posisies en doodstil met oë op ons gerig. Ek loer na my regterkant en herken die rooi snor en ouer gesig van kommandeur Haan wat onder sy helmet uitsteek. Hy knik na my en ek neem een tree vorentoe. Ek weet ek moet hierdie toespraak vinnig maak, die vibrasies onder my voete word by die sekond hewiger.

Swaar trek ek my asem in en blaas dit uit, dan nog ’n keer in: “Ons is die uitverkorenes van die hoop van ’n hele planeet! Ons is deur die koning-generaal self gekies!”

Ek kyk met oorweldigende trots oor die versameling manne voor my. “Dis ons geboortereg om op hierdie donker grond te staan, om na hierdie donker lug te kyk en te weet dat alles wat ons vandag hier gaan doen ’n verskil moet maak! Dat ons ons lewens vandag gee in die naam van die koning-generaal Kaleb en in sy naam sal ons veg vir ’n toekoms vry van die Vaales! Ons sal op hul eie onsedelike grond hul vlees skeur en hul ongoddelike bloed in riviere laat loop!”

Toe ek twaalf was, het ons vir die eerste keer gehoor van die Vaales – die demoon-gedrogte van die planeet wat ’n nuwe, skoner toekoms vir die mensdom moes wees. Ek kan nie al die feite onthou nie, maar volgens nuusberigte het die verkenners van die ruimteskip, New Hope, op ’n vreemde grafsteenagtige voorwerp afgekom in die rotswande van ’n berg na-aan hul landingsarea. Hulle het daarmee gepeuter en die magdom demone het uit die grond self ontwaak, die slapende inwoners van die planeet.

Een van die verkenners het ontsnap en teruggevlug aarde toe. Hy het onwetend een van die gedrogte saam met hom teruggebring. Die demoon is gedood, maar meer en meer van sy soort het uitgedop regoor die planeet. Vermoedelik kan hulle dimensies oop- en toemaak, en so van hul eie planeet tot op die aarde verskuif met die knip van ’n oog. “Pure evil demonic invasion,” het die koerante in die begin gelees.

My pa was nog ’n jongman toe hy aangesluit het by die weermag en hy was een van die eerstes om te val onder die hel-aangedrewe kloue van die Vaales. Dié naam is aan die kreature gegee na aanleiding van hul voorkoms – vaal-grys en reptielagtig.

Die aarde het tot oorlog oorgegaan en ek het aangesluit daarby so gou as wat ek kon. Baie kennis is met die jare opgebou, en wapens wat effektief die demone kon teenstaan, is ontwikkel. Nou is ek vyf en dertig, die leier van my eie span. Die oorlog op die aarde is so te sê iets van die verlede, en ons het met ’n missie begin om die demone uit te wis op hul eie planeet. Hierdie kamp waarin ek myself bevind, is maar een van die dosyne wat effektief sy man gestaan het tot vandag.

Met die oplig van my vuis na die lug, skree die bemanning saam in ’n magtige koor stemme, hulle wapens omhoog. Hierdie greintjie hoop en aanmoediging sal hulle dra in hierdie laaste minute van hul lewens, want binne ’n uur van nou sal daar nie meer sielelewe binne of buite hierdie kamp voorkom nie. Ek het al genoeg beleef om te weet dat die gedruis wat op pad is veel groter is as ons eie mag.

“Neem nou ’n oomblik van stilte om vergifnis te vra vir jul sondes en reg te maak met julle God!”

Terwyl ons onder die stilte van gebed staan, kom die onaardse geluide van die vyand oor die heuwels in die verte duideliker aan en dit voel of ek skielik die oneweredige hartklop van elke man onder my bevel kan voel vermenigvuldig onder hul skildbedekte borsbene. Hulle is nog jonk die klomp, nie een ouer as vyf en twintig nie, en veel meer as net bang.

Met my rug nou op die soldate staar ek na die bult voor my toe die hekke oopswaai. Agter my word wapens oorgehaal en in posisie gerig. Die lug word ysig koud, en dan weer siedend warm al om die sekonde. Die Vaales is naby. Die skudding van die grond is meer in ritme. Dan dop die eerstes oor die rand van die bult.

“Move out!” skree Haan langs my.

Ons trek weg met ’n oorverdowende aanvalskreet met ons soldate op ons hakke. Dit klink soos donderweer onder die grond soos die metaalstewels van ons beskermende metaalpakke daarteen stamp met die bult op. Meer demone stroom aan met wye oop bekke en swaaiende, soekende kloue. Laserskote skiet verby my en ek begin ook afvuur op die vyand. Soos ’n ontploffing tref ons die aankomende demone-mag.

My span is aan my sy net toe ek kop aan kop met ’n demoon bots, sy vrot asem in my gesig. Ek beur terug en stoot die Vaale weg met my geweer, maar die gedrog is veels te sterk en oorweldigend. Skielik spat warm swart bloed oor my gesig en die lyf van die demoon verslap en sak neer voor my, ’n holte in sy kop. Anton, my tweede in bevel glimlag vir my toe ek omkyk, die loop van sy lasergeweer nog in ’n rooi gloed van die skoot. Ek glimlag, knik, en pak dan die volgende teenstander aan.

Die lug wat ek inasem is dik en swaar en ek kan die gif daarin proe soos die suur my mondhoeke vreet en die speekselkliere in my mond aktiveer word, met die sout bloedsmaak van demoonsweet op my tong.

Die getalle van die demone is oneindigend soos net nog meer oor die bult stroom. Die lyke van soldate en demone hoop op om ons en ons getalle word skraal. Alles gebeur so vinnig. Ek kan hulle hoor dood om my, die oombliklike gille van pyn, maar ek sien niks, net die vyand voor my. Dan weergalm ’n nuwe geluid van anderkant die bult, ’n grom, so hard en so onmenslik aaklig op die oor dat die demone voor ons uitmekaar spat om pad te gee voor dit.

Ek hyg na asem en kyk om my rond, van my span is daar net ek en Anton oor. Oor die vlakte is ander soldate yl versprei. Sommiges makeer niks, ander is bebloed. Hulle nader ons posisie, braaf en wagtend op die grom se aankoms. Ek smyt my byna leë geweer in die sand neer, trek die swaard uit van agter my rug en rig dit hoog voor my.

Doef-doef-doef-doef, kom die massiewe voetstappe nader. My hande sweet en verstyf om die handvatsel van die nuwe swaard. Die demoon wat in sig kom, grom weer hard soos dit ten volle sigbaar word, meters van ons af. Reptielagtig, maar bloedrooi en met die lyf van ’n mens kom dit nader, tree vir tree. Dis minstens drie meter lank, met enorme arms wat tot by die knieë hang, kloue met pikswart, giftige naels so groot soos my eie arm, die bek van ’n wolf en die tande van ’n haai in die oopgesperde kake. Spierwit, pupillose, honger oë staar na ons.

Net toe ons besluit om op die nuwe vyand af te storm swaai hy een van sy arms in ons rigting. Dit gebeur te vinnig… Ek kom tot stilstand en hoor hoe Anton in sy eie bloed verstik en hoe ’n spul van die ander soldate die grond ver agter my tref. Toe ek afkyk, sak ’n bebloede Anton inmekaar langs my. Terwyl sy laaste asem uit sy liggaam ontsnap, vang my oog die rooi, bebloede wond op my eie maag. Die demoon se naels het deur die metaal gevreet en my maag in ’n blitssekonde oopgekrap.

My oë traan van die pyn en ek loer op na die demoon wat stil na my staan en kyk. Ek weet ek moet nou alleen wees. Die manne wat agter my geval het, beweeg nie. Hy geniet dit om my so te sien, alleen, gewond, weerloos. Vir ’n oomblik kon ek sweer ek sien die vieslike ding glimlag.

Die swart en groen sand onder my voete begin nou brand en smelt die verharde vel van my sole. Die rooi demoon staan en staar net na my. Ek besluit om eerste te beweeg, my tyd word min. Terwyl ek een pynvolle tree na die ander vorentoe vorder, glimlag ek, die pyn is welkom omdat dit anders is, anders as die pyn hier binne my wat die rou vloeistof in my keel laat opstoot. Hier en daar bars ’n skedel of kraak ’n been onder my voete in die sand – die verrotte lyke en fossiele van die inwonergeeste van hierdie donker plek.

Die lewe verlaat my terwyl die bloed teen my bene afstroom. In die agtergrond hoor ek vaagweg hoe die res van die soldate nog veg. Brawe krete van pyn en van vrees. Warrelende winde waai gloeiende oranje kole so groot soos albasters in my gesig. Ek is nie meer bang nie, ek kan nie meer sien hoekom ek ooit was nie. Dit voel van pas dat ek op hierdie tydstip hier staan. Dit kon nie anders wees nie.

My visie gaan van dof tot vaal en dan byna geen sig nie soos die hitte op die planeet binne sekondes verdubbel – ek besef met ’n skok dat dit die vreemde rooi demoon is wat die hitte om hom kan beheer. Die maanmetaalswaard in my hand smelt saam met my vel maar ek weier om te laat los. Dis nie lank voor die metaal een word met my vlees nie. Dis uit suiwer wilskrag dat ek nie uitskree in ondraaglike pyn nie, of dalk net omdat ek hulle nie die satisfaksie wil gee nie.

Ek is een van vyf wat elk ’n maanmetaalswaard ontvang het –  die nuutste tegnologiese deurbraak in wapenrusting. Die ander vier soldate het range ver bo my eie, maar my dade en oorwinnings op die oorlogsveld het my die eer verleen. Die wapen voel lomp in my hand en is onervare teenoor die vorige wat my palm so goed geken het, maar die mag van die eienaardige blou metaal is onmiskenbaar.

Al is dit die laaste ding wat ek doen, hierdie een gaan ek saam met my neem, hy gaan my nie oorwin nie. Ek bring al die energie wat ek kan kry in myself bymekaar en skiet op die rooi demoon af net toe ’n weerligstraal die grond regs van ons tref. Die weerligstraal is my redding. Dit trek die demoon se aandag net lank genoeg af om vir my ’n effense inkomkans te gee. Ek swaai my swaard opwaarts met ’n finale sprong in sy rigting. Die lem penetreer die nek en sny dit netjies af agter die kop.

Die rooi demoon se kop tref die grond langs my toe ek inmekaarsak.  Die gevolge van ernstige bloedtekort skop in. Ek verloor kort-kort my bewussyn. Eers het ek gedink ek droom, maar wat ek sien, is die werklikheid. In die verte maak die planeet se kors oop in ’n malende swart holte wat sand en bloeiende lyke insuig. Die geraas van die onstuimige wind is oorverdowend in my ore.

Ek kyk af van waar ek op die bult lê en sien die glimmende, swart, diamanttande in die dieptes. Skroeiende blou vlamme weerkaats daarin. Die skubberige, slangvellippe glimlag breed. Dit verwelkom my, hierdie donker.

Daar is geen vrees meer vir die verlate…

Die massiewe mond gaan oop, en binne gil ’n duisend verskillende stemme in pyn en smart en spyt, die stemme van my manne en sovele ander. Dan ’n ander stem, een wat kalm sing, nie van binne die mond in die planeet se kors nie, maar vanuit my eie:

“Hoor jy my?”

Stilte.

“Ek is bevry, jy kan my nie aanraak nie!”

Dan is daar ’n verblindende wit lig van bokant die mond. Dit verteer die donker oombliklik.

Ek voel vervul met vrede…

Die pyn is weg…

Ek is bevry…

My oë val vir ’n laaste keer toe…

  • Chantal

    Goed geskryf. Hou so aan!