DIE WOUDKIND – P.L. Brand

DIE WOUDKIND – 2013 © P.L. Brand

VOLWASSE Fantasie (3 086 woorde)

Die sny in die growwe palm van sy hand is lankal hard en droog, maar die brand kom nou sterk deur, soveel so dat dit hom begin pla – en dit gebeur nie sommer nie. Wallace besef dat die sny kwaad moes ingekry het van al die vuilgoed wat hy heeldag saam met die vuurhout opgetel het. May gaan nie gelukkig met hom wees nie.

Hy gooi die bondel hout in sy arms op die stapel langs die huis neer en maak vinnig spore die woud in om nog ’n laaste hoop bymekaar te kry. So in die loop vee hy ingedagte deur sy bos bruin hare wat lankal te lank is na sy smaak. Wanneer hy die warm nattigheid van bloed op sy voorkop voel, besef hy eers dat hy die seer hand gebruik het. Die soutreuk van bloed vul sy neusgange – as hy dit so skerp kan ruik, gaan dit gevaarlik raak met die wilde diere in die omgewing.

Wanneer hy na die sny kyk, skrik hy vir ’n oomblik, maar kners op sy tande en loop verder met sy hand gebal in ’n vuis. Dit sal eers moet hou, dis byna winter en die stapel hout langs die huis is nog maar klein. Hy wil nie in die regte winterkoue rondloop en krap in die sneeu agter houtjies aan nie.

Dis so met die gedagte van koue dat die herfswindjie sommer daardie selfde tyd opsteek en kielie-koel om sy liggaam warrel. Wallace klou die warm wolwevel stywer om sy bolyf vas en bal albei hande voor sy bors.

Sy kuif swaai heen en weer voor sy oë soos hy sy pad teen die heuwel uitbeur, met sy oë wat net elke nou en dan opkyk om seker te maak dat hy die bome nog wyd genoeg mis loop.

Die laaste stapel hout in sy arms is die kleinste vir die namiddag, maar sy hand laat nie meer gewig toe nie. Die brandpyn trek nou al by sy pols en hy weet goed dit beteken net moeilikheid.

Die pad teen die heuwel af na die huis se kant toe is nie so maklik soos wat dit vroeër die dag was nie. Die son het al begin sak en die nag se koue wat inkruip maak sy bene styf en koud. Hy forseer homself om vinniger te loop sodat sy liggaam bietjie warmer kan word, maar dit sukkel maar. Hy is wragtag weet alles behalwe ’n ou man, dink Wallace vies. Net verlede jaar het hy maar eers sy vierde dekade gehaal.

May gaan haar hande met hom vol hê vanaand, dink hy. Sy hou niks daarvan as hy homself so verniel nie.

Die laaste strook digte bome is in sig. Nog net so ʹn paar honderd meter dan sal hy die huis se hoeke kan gewaar tussen die slanke lywe van al die reuse bome wat dit omsingel.

’n Tak kraak en breek iewers agter sy posisie. Wallace smyt die hout neer op die grond en swaai om met die mes al klaar in sy hand. Hy staan gebukkend, kop laag en skouers hoog, soos ’n rofstoeier in die kryt.

Stilte.

Dis nog dalk die wolf wat hy dra se maat wat kom wraak soek. In hierdie woud weet ’n mens nooit, dink Wallace. Hy kan al die dosyne stories wat sy ouers hom as kind vertel het oor die Sterrewoud nie eens tel nie, so baie was daar. Donker verhale van wrede gevegte en heksery, en mense met die lywe van perde.

So bly hy staan en wag en luister vir ’n tyd met al daardie kinderstories wat een vir een deur sy kop ’n draai kom maak. Dis wonderlik die dinge wat ʹn mens ’n kind kan maak glo.

Steeds gebeur daar niks.

Net wanneer hy begin kalm word en regop kom, hoor Wallace die geluid van iewers voor hom kom. Hy dink eers sy ore verraai hom. Dalk verbeel hy hom? Of dalk is dit net die wind?

Die geluid kom weer, en weer, weergalmend en verlore tussen die rye en rye bome. Nou is hy seker. Dis ’n baba se kerm-huil daardie.

Net ’n paar tree nader kom Wallace op die bondeltjie af. Onseker kyk hy eers mooi rond, sy mes steeds in sy sterker hand. Die houthef van die wapen is al natgesweet in sy palm. Hy word weer bewus van die steek- en brandpyn wat deur sy oopgesnyde hand skiet wanneer die koue wind oor dit waai. Die kleinding begin weer huil. Hy moes vir Wallace gewaar het, want een handjie reik uit van die spierwit lappe waarin hy toegedraai is.

Dit raak nou vinnig donker. Wallace probeer kyk so goed as wat hy kan, maar hy sien geen spore rondom die kind wat sal wys dat hy daar neergesit is nie.

Baie vreemd, dink hy. Hoe kan dit moontlik wees? Hy kan seker net nie meer mooi sien in die skemer-donker nie.

Met die mes wat stadig en versigtig onder die wolwejas verdwyn, tree hy nader aan die bondeltjie op die grond. Die baba is mooi tussen twee reuse boomwortels lê-gemaak. Hy moet vreeslik koud kry, dink Wallace eers, maar wanneer hy die kind optel in sy arms voel hy die ongekende warmte van die wit materiaal waarin dit omvou is. Dis sagter as enigiets wat hy al ooit in sy lewe gevoel het.

Wanneer hy die kleinding mooi in die gesig kyk, gewaar hy eers die bonatuurlike groen-geel kleur van die ogies. Dit lyk kompleet of daar ’n vlammende ring om die pupille brand. So lewendig. Die kleintjie glimlag vir hom met bloedrooi wangetjies.

Die pad tot by die huis gaan baie makliker met die kleintjie in sy arms in plaas van die spul hout. Hy sal maar weer ’n ander dag moet tyd inruim vir hout versamel. Wallace klim die trappies op na die voorstoep. Die kerslig skyn uit by die vensters en gooi skewe, reghoekige geel-goud vlekke op die houtstoep. Hy maak die deur oop en stap binne, verwelkom deur die lieflike hitte van die koolstoof in die kombuis.

Wallace maak die deur agter hom toe, maar weet dan nie mooi wat om te sê of te doen nie, so hy staan maar net daar. Voor hom staan May en skarrel voor die stoof met die aandete. Sy kry nie kans om om te kyk nie, maar hy weet sy het hom hoor inkom – die huisie is ook maar net so groot, en die sitvertrek waar ʹn mens by die voordeur inkom, is deel van die kombuis.

“Jy was laat uit? Ek het begin bekommerd raak,” sê sy, maar kyk steeds nie om nie.

Wallace staan net daar en kyk na sy pragtige vrou in haar dag-tot-dag-rokkie. So ’n wonderlike mens, dink hy. Haar vaal-bruin hare is netjies vasgemaak in ’n bolla, en haar figuurtjie nog net so fyn en pragtig soos die dag toe hulle ontmoet het. Hy staan nog so en kop krap vir ’n antwoord toe die baba skielik in sy arms nies.

May vries in posisie soos ’n standbeeld.

“Uhm…” sukkel Wallace vir woorde.

May loer oor haar skouer, haar gesig gevul met vrees en wonder. Haar bruin ogies loer verskrik na die bondels lap in sy arms.

Wallace verwonder hom steeds daagliks aan sy vrou se mooi gesig, haar roos-gekleurde vol lippe en vleklose vel, en hy wonder waarom hy van alle mense so geseënd moet wees. Tot sy spyt wonder hy dan ook gewoonlik of sy nie beter af sou wees, of ’n beter lewe sou hê, met ’n ryker man van die dorpie nie?

“Wallace, wat is daardie?” vra sy versigtig.

“Kom kyk?” kry hy die woorde uit, maar staan steeds daar by die deur, so of hy wil reg wees om te hardloop, maar hy weet nie hoekom nie.

May kom nader gestap, die bedrywigheid met die kos vergete. Sy gaan staan voor hom en lig haar tot op haar tone om oor die lappe te loer. Hy sien hoe haar gesig verander. Die vreugde in haar oë is onmiskenbaar. Maar daar is ook iets anders in haar gesig wat net hy sal kan sien en geen ander nie. So ʹn klein bietjie hartseer.

Hulle is al twee jaar getroud, en in die twee jaar was daar nog geen teken van ’n kleinding van hul eie nie. Waar die fout lê, weet hulle nie verseker nie, maar nadat haar oorlede ma haar vertel het dat daar in hul familie al voorheen sulke gevalle was, is sy oortuig dat die probleem by haar is. Maak nie saak wat Wallace sê of troos nie, dis in haar kop ’n uitgemaakte saak.

“Wallace, waar kry jy hierdie kind?”

“Hom in die woud gevind, alleen in die mik van ’n boom, tussen twee wortels. Ek het oorweeg om hom daar te los. Gedink die ouers sou dalk terugkom, maar dit was al byna donker en daar was geen spore om die plek waar hy gelê het nie…”

Sy reik ’n hand uit en vat aan die kleintjie se wang. Die baba se klein handjie gryp na haar vingers en klou vas, die glimlaggie steeds op die gesiggie.

“Hy het die mooiste oë!” sê May half verwonderd en byt op haar onderlip.

May begin giggel wanneer die baba sterker trek aan haar wysvinger, mond toe.

“Seker honger,” sê Wallace, so asof hy ’n kenner is.

Hy staan nog so en glimlag vir sy vrou se uitdrukking, toe sy haar hand onverwags terugpluk uit die baba se greep en oor haar mond plak met haar oë wyd gerek.

“May, wat is fout?”

Sy staan terug en wys met die vry hand na die baba toe. Wallace kyk af na die kleintjie in sy arms. Hy kan voel hoe sy oë rek en hoe sy liggaam onmiddellik vanself reageer en die kleintjie sommer so op die grond neersit en wegstaan met sy rug teen die deur.

“Sien jy wat ek sien?” vra hy vir sy vrou.

May knik net haar kop, haar mond steeds toegevou onder haar hand, die ander hand nou op haar bors, by haar hart.

Wallace kyk weer na die baba met die fynste hoop dat hy hom net misgis het. Dis steeds daar. Twee lang, punterige ore aan albei kante van die baba se kop steek tussen die mooiste silwer-goud bos hare uit.

“Ek dog die woudmense kom nooit so ver uit die woud nie?” hoor hy homself vra, die stories van sy grootouers wat weer in sy agterkop kom spook.

Hy hoor hoe May se asem korter raak. Haar bors begin fluit. Wallace hardloop na haar toe en maak haar sit op die naaste stoel. Hy gryp ’n houtbeker en maak dit vol water. Wanneer hy die glas vir haar in die hand gee, sluk sy dit met een asem weg.

“Stadig, asem net rustig in. Kyk op na die dak,” probeer hy help.

Na ’n tydjie gaan dit beter. Daar is stilte. Die kleintjie begin gesels, doodtevrede so op die houtvloer. Sy ogies vang die dansende geel-oranje vlamme van die vuur in die swart koolstoof se maag. Hy begin weer lag. So onskuldig en soet.

Wallace sien hoe sy vrou, weer kalm, vir die baba se lag en gesels glimlag. In haar oë lê nou hartseer en verlange.

Sy vou haar hand toe in syne, sonder om eers te skrik vir die warmte van die wond se bloed, waar hy gehurk op een knie voor haar staan, maar haar oë bly op die woudkindjie. “Wat gaan ons doen?”

“Ek het nie gedink hulle bestaan rêrig nie. Al daardie jare wat die oumense soveel stories vertel het, ons oupas en oumas?”

“Dit was nooit net stories nie… My ouma het gepraat van die argitekte van die natuur. Die helpers van die moeder van groen.”

Wallace besef dat sy vrou reg is. Diep binne het hy ook geweet dit was nie net stories nie. Te veel detail, te veel vrees en wonder oor wat die woudmense kan doen. Magiese stories, maar ook stories van kwaad en donker en bloed.

“Dit kan nie…” sê hy en trek sy hand uit onder sy vrou sin.

Wallace staan op en stap na die baba toe. Hy haal die mes onder sy wolwejas uit en plaas sy duim agter die lem. Sy vingers, bewerig, klou styf om die hef. Hy hoor hoe Amy agter hom haar asem intrek.

“Wallace, nee!”

Sy hardloop by hom verby en gryp die baba van die grond af op. Sy maak hom weer toe in die warm materiaal, heeltlemal toe, beskermend.

“Amy, dit moet,” sê hy eenvoudig.

“Dis net stories! Oumense se praatjies! Dis nie te sê dat als waarhede was nie.”

“Soveel is!” antwoord hy en wys met die lem na die baba toe, sy stem hard, aggressief.

Sy twyfel vir ’n oomblik en kyk na die kind in haar arms, dan is die desperaatheid weer terug. “Kyk! Kyk na die kind se gesig. Lyk dit regtig vir jou of hierdie onskuldige baba enige kwaad in hom het?”

“Dis nie ’n mens nie, May!”

“Hy het arms, bene, ’n kop en twee oë. Hy word honger en kan lag nes enige ander baba. Die kind het selfs vyf vingers aan ’n hand en vyf tone aan ’n voet!”

Wallace laat sak die lem. Hulle staan net so en kyk vir mekaar, hy met die mes in die hand, en sy wat die baba staan en sus. Die reuk van kos wat brand vul die vertrek, maar nie een van hulle probeer nader aan die stoof beweeg om te keer nie.

“Wally, wat gaan ons doen?”

Wallace krap diep. Hy grawe deur al sy innerlike, oortollige gevoelens en gewete. Hy ken die verskil tussen reg en verkeerd, en hy weet wat gaan vir wat. Hy kan die onderskeid hanteer in hierdie geval.

Voor hy sy mond nog oopmaak om te begin praat, is daar ’n onverwagse klop aan die deur.

Wie kan nou so laat hier wees?

“Naand, buurman!” kom die bekende stem van agter die toe deur.

Tony woon in ’n huisie selfs kleiner as hul eie, so ʹn paar kilometer verder na die dorp se kant toe. Hy kom nie gereeld ’n draai maak nie, maar omdat hul plek heelwat nader is as die dorp sal hy gereeld inloer om ’n beker suiker of melk te kom leen tot hy weer ’n dag dorp toe gaan vir groot inkopies en dan aan hulle terugbetaal.

Wallace sluk en kyk na sy vrou. “Vat die kind weg, vinnig!” fluister hy vir haar.

Die verligting is reg oor haar gesig geplak, en sy gehoorsaam hom sommer vinnig. Wanneer sy uit is by die agterdeur maak hy voor vir Tony oop.

“Naand, naand!” groet Wallace vriendelik en staan weg uit die ingang sodat Tony kan binnestap.

Hy stap dwarsdeur tot by die stoof vir hitte. “Ek sê jou, my vriend, as dit so begin met herfs, dan gaan ons ’n lang en swaar winter hê!”

Wallace lag en probeer sy bes om dit nie na aansit te laat klink nie. “Dit sal weer so wees. Ek het vanaand so ’n draai gaan loop tot skemer-donker, en dit sal ek nie van volgende week af waag nie.”

“Jou potte is aan die brand hier!” sê Tony toe hy die reuk optel.

Wallace onthou dan eers weer van die kos wat brand en spring vinnig om die situasie te red. Tony spring uit die pad uit en trek sommer vir hom ’n stoel uit van onder die ronde houttafeltjie in die hoek van die vertrek.

“Waar is jou mooie vroutjie dan?”

Die vraag kom onverwags en Wallace maak of hy te besig is om dadelik te antwoord.

“Bed toe. Voel nie lekker nie,” lieg hy na ’n tydjie.

Hy gaan sit op die stoel oorkant sy buurman wanneer hy gedoen het wat hy kan vir die aandete, nie dat hy regtig meer honger is nie.

“Sjoe! Wat het jy daar aangevang?”

Wallace volg Tony se geskokte oë na sy hand, wat nou al met  die rooi-gevlekte skynsel van bloed oortrek is. “O, nee het net ’n snytjie opgedoen nammidag toe ek gaan hout haal het in die woud.” Hy swaai sy palm vinnig oop en toe vir Tony sodat hy nie die ergste kan sien nie.

“Elk geval – ek het nie gekom om te pla nie. Het net gewonder of ek ’n bietjie suiker kan leen tot volgende week?” Hy glimlag daardie bekende asseblief-my-vriend-glimlag en staan sommer klaar op.

Wallace is verlig en spring ook gou om die suiker in ’n potjie vir hom te kry. Minute later is hy uit by die deur en die donkerte weer in. Wallace wou nog sê hy moet versigtig wees vir die wolwe, maar hy is te bekommerd oor sy eie vrou wat buite in die koue donkerte sit en wegkruip.

Wanneer hy die agterdeur oopswaai, val sy byne in sy arms met die kleintjie styf tussen hulle lywe vasgepen. Sy het nie tyd gehad om ’n warm ding te gryp nie. May se hele liggaam bewe.

Wallace loop-dra haar met baba en al tot by die warm stoof. Hy vryf oor haar rug om haar warm te kry. Die kleintjie steun en kreun in haar arms, sy ogies al slap en rooi.

“Waar kom jy vandaan?” vra May saggies vir die baba met bewende lippe.

“May…” Hy weet wat hy vir haar moet sê en ook wat hy moet doen, maar hy het nie die hart vir een van die twee nie.

“Wally, jy kan nie!” Sy kyk op na hom, verskrik, en vou haar arms weer styf om die kleinding.

Sy wriemel haar uit sy greep en gaan staan by die tafel die baba en sus.

“May, ons…” Hy kry nie sy sin klaar nie.

“Nee!”

Hy stap tot by haar en plaas sy hande op haar skouers sodat sy in sy oë na hom moet kyk. “Ons kan die baba hou!”

Die blydskap en vrede op haar gesig is die grootste geskenk wat hy as man ooit uit ’n vrou se oë kan ontvang. Daardie woorde het haar vir die eerste keer in ’n lang tyd werklik gelukkig gemaak.

“Ek weet nie hoe nie, maar ons kan hom hou…” dink Wallace sy besluit hardop.

“Ons sal regkom, Wally,” sê sy vrou vir hom en plaas haar hand op sy wang.

Die kleintjie gaap en maak sy ogies toe. Vir ‘n baie lang tyd staan hulle net daar die fyne lyfie en bekyk, hoe hy asemhaal en hoe hy in May se arms droom.

  • Quintin

    Ek is nuuskierig. Hou so aan

  • Chantal

    Ek het al jou kortverhale baie geniet.