EEN SOMER IN DIE ANDES – Ben le Roux

EEN SOMER IN DIE ANDES – 2013 © Ben le Roux

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 567 woorde)

‘n Voetslaner het laat op ‘n voorjaarsmiddag ‘n myndorpie ingekom, proviand by ‘n kleinboer se stalletjie gekoop en verder geloop.

‘n Dorpie soos dié, aan die voetheuwels van die Chileense Andes met sowat honderd karige huisies en ‘n paar lendelam groente en vrugte stalletjies, was vir hom niks ongewoons nie. Daarenteen het hy, onmiddellik aandag getrek. Lank en atleties gebou met blou oë en blonde hare, was hy in skrille kontras met die kort donkerkop inwoners.

Hier in die berge waar die pad sy laaste kronkel maak, deur die dorpie aankruie om dan voor die mynskag dood te loop, kom daar selde besoekers maar dit was die stapper se andersheid wat treffend was.

Beswaarlik ‘n halfuur na hy gesig daar begin wys het, kon die dorp se inwoners, die vroue veral, by hul stalletjies of waar hulle ookal aan die ronddrentel was, nie hul oë van die lenige ‘reus’ afhou nie!

Hy het net ‘n lywige rugsak oor die skouers as bagasie gehad. By die stalletjies, beman deur van die omgewing se kleinboere, is daar gewonder. “Gaan hy dan iewers alleen in die veld oornag? Dit raak immers laat!”

Hy het aangestap, tussen die myners op pad huistoe, deur. Hul agterdogtige en nuuskierige blikke op hom, kon hy aanvoel. Vanaand sal hy die middelpunt van bespreking, in die ‘Cantina’ en in die huisies, wees.

‘n Week na hy van dié toneel af verdwyn het, was hy terug om sy voorrade aan te vul. Dit was vir die meeste ‘n verassing om hom weer te sien maar die fyn waarnemer sou ook ‘n opgewondenheid onder die vroue bespeur. Hare is ongemerk reg gestryk en die uitdrukkings was vriendelik koketterig. Dié dinge het onopgemerk by hom verbygegaan.

Die dorp se vroue, daarenteen, het nou ‘n lang blonde Apollo met blou oë, gehad om oor te fantaseer. Daar was ‘n nuwe lewenskragtigheid onder hulle te bespeur! Die mans, in hul domheid onbewus van die oorsprong van dié nuwe viriliteit by hul vrouens, het dit geniet. Dit het hulle soos jong Don Juan’s laat voel!

Selfs by die dorp se jong skoonheid, die ‘lieflike’ Catalina, was daar ‘n nuwe wulpse ritme in haar stappie en ‘n glinster in die oë bemerk. Haar hare was nou losser en aanlokliker gekam. Catalina, die suiwere, wat deur die jongmanne as iets verhewe bo hulself beskou was, amper ‘n godin, het nou net meer só begin lyk. Driftig begeerlik maar terselfdertyd onaantasbaar!

Arsenio, Conchita se man en die vader van ‘n stuk of ses, het gereeld sy vlerke, grappenderwys ? by Catalina gesleep, maar tevergeefs! Nou, met drange, soos dié wat popsangers in die stede by bakvissies wakker maak, ook onder die vroue hier in die berge deur die vreemdeling wakker gemaak, het Arsenio dit aangevoel en sy aanslag op Catalina verskerp. Wie mooi gekyk het sou vermoed dat hy veld wen.

Die vreemdeling het met tussenposes verskyn en verdwyn wat ‘n gevoel van afwagting by die vrouens geskep het. “Wanneer kom hy weer?” is daar gewonder. Hy was nou al as een van hulle beskou, hoewel net as iemand iewers aan die rand van hul gemeenskap.

‘n Paar vroue het dan ook, stil stil en ongemerk die veld ingevaar om sy skuilplek te loop soek en sodoende meer oor hom te wete te kom. Tog het hulle op ‘n veilige afstand gebly, te skugter om nader te gaan. Later kon hulle dan in die dorp loop spog dat hulle, op soek na brandhout, toevallig op sy skuiling afgekom het.

Verbeeldingryk is daar dan ook ‘n stertjie of twee by dit wat hulle gesien het, aangelas. Die een se toevoeging ‘n bietjie kleurvoller as dié van die vorige. Wat almal wel opgemerk het was die los pik van klippe deur hom wat dan netjies voor sy skuiling uitgestal word. Ook is ‘n satteliet-skottel by sy skuiling en soms ‘n helikopter in die omgewing opgemerk.

Aanvanklik het dié vroue se skilderings hom opgehemel maar mettertyd is teleurstelling in sy ‘afsydigheid’ ervaar en het ‘n katterigheid jeens hom begin kop uitsteek. Onmin was aan die broei!

Die mans was die eerste om deur te loop. Dié kon nie aan die verwagtinge, wat die vrouens in hul fantasië opgetower het voldoen nie en die bron van dit alles was ook nie beskikbaar nie! Frustrasie by ‘n vrou, het die mans agtergekom, is ‘n gevaarlike ding.

Die somer het aangestap en van die euforie wat na die vreemdeling se aankoms in die dorp geheers het, was daar nou geen teken meer nie! ‘n Morrigheid het in die plek daarvan gekom. Die mans het van ‘n bose gees, wat deur die raaiselagtige figuur hier aan die rand van hul leefruimte, aangedra is, gepraat. Woede was aan die opbou!

Voorbokke in dié klein gemeenskap het op die vernietiging van dié ‘bose gedaante’ in hul midde begin aandring en daarmee aangehou tot almal opgesweep was. ‘n Toestand van massa-hipnose het geheers. Met niemand meer onbetrokke nie kon hulle soos ‘n enkele organisme begin optree!

Die breekpunt wat moes kom, is bereik toe dit bekend word dat Catalina swanger is! Arsenio, wat hiervoor verantwoordelik was, het ‘n gaping gesien en haar oorgehaal om, “verleiding na magiese betowering deur die vreemdeling,” te pleit.

Dié bewoording het vir hom mooi geklink en toe dit begin byval vind was ‘n verligte Arsenio voor in die koor om wraak te skree.

Vir dié twee was dit ‘n ontsnaproete hul penarie uit. Dit was vir haar verkieslik om deur die gemeenskap as misbruikte slagoffer beskou en beskerm te word as om as ‘gevalle vrou’ verwerp te word.

Tog was die finale oordeel wat uitgespreek was: “Die bose moet vernietig word en al sy spore uitgewis word,” ondubbelsinnig en het haar dus ingesluit!

‘n Stukkie tempering aan hul wraak was nodig en ‘n bydrae van ‘n priester uit ‘n buurdorp wat van die dreigende aanslag op die lewe van die vreemdeling te hore gekom het, het daarvoor gesorg. “Catalina se kind, moet in die naam van alles wat heilig is groot gemaak word. Hy moet altyd ‘n herinnering aan die boosheid van ydel gedagtes en die onbesonnenhede wat daarop volg, wees.” Tot meer toe as dit kon hy hulle nie oorhaal nie, ook was hy nie seker of dié toegewing inslag gevind het nie!

Hulle was slaggereed! Die volgende oggend sou die hele dorpie, gewapen met stokke, pikke, gaffels en selfs ‘n paar ou gewere die boosdoener en alles wat met hom verbind word, uitwis. Die nag slaap amper niemand nie, gespanne wag hulle die dagbreek af!

* * *

Die volgende oggend sit Bar met ‘n beker koffie in die sonnetjie. Die helikopter neem foto’s van die plekke waarvoor hy ko-ordinate voorsien het.
Nog ‘n opdrag van nog ‘n mynmaatskappy is voltooi. As geoloog moes hy mineraaldraende ertslae eien.

Dis sy laaste oggend hier in die berg. Die ertsmonsters is reeds gelaai en die kopterspan moet nog net ‘n paar foto’s neem voordat hulle hom oplaai. Hy het so pas ‘n lang gesprek met sy verloofde, Karlien, gehad.

Hy het haar vertel van die rustigheid hier, van die arm en eenvoudige maar vriendelike inwoners van die naaste dorpie, laer teen die berg af. Soms het hy van hulle daar naby sien brandhout bymekaar maak maar nooit het daar iets uit sy kamp uit verdwyn nie! “Vreedsaam” het hy hulle genoem.

Hy het by haar gespog oor hoe gerieflik en net met middels uit die omgewing uit, hy hom tuisgemaak het. Sy eie aardskippie het hy sy skuiling genoem.

Dié rustige toneeltjie sou nie ‘n ewige een wees nie, het Bar gou genoeg agtergekom! Hier uit die hoogte uit kon hy die naderende dreigende massa dorpenaars, gewapen met stokke, pikke, byle en ‘n paar gewere wat bo die koppe rond geswaai word, sien. Hulle het in sy rigting beweeg!

Hier kom gevaar het hy instinktief besef. Die helikopter moet hom kom op pik en gou ook. Met die satteliet-foon het hy die kopterspan gekontak. “ Dis dringend, kom pik my dadelik op” was sy noodkreet! Nou was dit ‘n gewag om te sien wie eerste by hom gaan uitkom.

Hy het reeds tot op die oopte skuins bo sy skuiling beweeg toe die skare klippe in sy rigting begin gooi het. Maar vir nou was hulle meer behep met die vernietiging van sy skuiling! “Was hy as die nagereg beskou?” wonder hy sinies.

Die vernietiging van sy arbeid van die laaste paar maande was asof dit deur ‘n orkaan gedoen word. Die bondel rommel, want dis wat dit nou was, is toe aan die brand gesteek. Dis nou sy beurt het hy besef maar ook dat die helikopter hulle gaan fnuik.

Dié was nou bo hom en ‘n touleer is laat sak. Hy het dit gegryp en begin klim. ‘n paar skote is in hul rigting geskiet maar, gelukkig, mis! Hy was nou in die kopter wat tot ‘n veilige hoogte geklim het.

Die besete skare het verwoed met hul vernietigingstaak voortgegaan. Nog meer verwoed omdat hul prooi ontsnap het.

Vir ‘n oomblik het Bar nog die toneel aanskou en toe die opdrag gegee: “Kom laat ons waai!” Die heli het noord, in die rigting van Santiago gedraai en begin oopmaak. Bar het terug gekyk en kon nog net ‘n rookwolkie agter die rantjie sien.

“Waaroor het dit nou eintlik gegaan?” het die fotograaf vir Bar gevra. Hy het net sy kop geskud en gesê: “Ek het nie die vaagste benul nie!”

  • Chantal

    Goed geskryf! Hou so aan!