HEMELSE GLOED – P.L. Brand

HEMELSE GLOED – 2013 © P.L. Brand

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (3 182 woorde)

Riaan Simon ontwaak vinnig uit sy ligte slaap wanneer hulle ou bekende geluide bokant sy kop begin rammel en saamdrom. Dit klink soos die geluid wat borrels maak in dik olie wanneer hulle praat. Wanneer die stemme stil raak, begin die swaar, metaal-huilende masjienerie weer in ’n ander rigting beweeg. Dis asof hy kan voel hoe die ander liggame in die donker vertrek saam met syne verstyf in senuwees en skok terwyl die asems so liggies en sag moontlik probeer suurstof en stikstof sirkuleer. Riaan tel vinnig met behulp van sy gehoor of almal in die kamer is en is effens rustiger wanneer hy voltal vind.

Hy swaai sy lyf versigtig tot hy op sy sy lê. Die persing van die ongelyke rots deur die dun, verrotte materiaal onder hom druk sy liggaam hier en daar, maar daaraan is hy nou al gewoond. Die ou, swaar kombers wat bo-oor hom en die twee kleiner liggame weerskante van hom getrek is, gooi ’n stink walm oor sy gesig wanneer hy dit lig en oor sy skouers gooi. As hy reg onthou, kom die kombers al saam met hom van die tyd voor nou af.

Agter hom skuif die vrouelyf reg en gooi ’n arm onder sy arm deur oor sy maag. Riaan voel-voel versigtig vir die benerige lyfie wat voor hom opgekrul lê, en wanneer hy dit vind, sit hy op sy beurt saggies sy hand oor sy dogtertjie se skouer. Haar lyfie is koud en bewerig, en dit bring meteens ’n warrelwind van emosies in hom na vore – woede, hartseer, spyt en wanhoop – alles in een.

Die geluide daar bo beweeg weer verder, maar nog nie buite hoor-afstand nie. Dis so donker in die vertrek dat Riaan weet daar is geen punt daaraan om sy oë oop te maak nie, maar wanneer hy die drup van water hoor, kan hy onmiddellik vasstel dat dit van die volgende vertrek kom – ook ’n slaapkamer vol sagte asems. Die kamer het ’n klein varswaterfonteintjie in die een hoek wat met tye opdroog en slegs druppels uitlaat. ’n Kriek raas eensaam in ’n ander hoek en word dan stil wanneer daar skuif-geluide van iewers binne die vertrek kom.

’n Lig gaan aan, klein maar skerp. Riaan weet dis iemand in die volgende kamer wat regmaak om ’n draai te gaan loop. Die persoon vat sy tyd met elke beweging wat hy maak, met ’n pouse tussen elke swaai en oplig van ’n ledemaat om eers te luister wat bo die rots- plafon aangaan.

Riaan maak sy oë oop en gooi sy vry arm, wat op sy dogter se skouer rus, voor sy oë wanneer die lig skerper is as wat hy kon vasstel deur sy ooglede. Hy behou die ongemaklike posisie tot sy oë aangepas het. Die lig is al heelwat flouer wanneer hy uiteindelik iets kan uitmaak en word al flouer soos die persoon in die lang gang, wat vanuit die volgende kamer uitloop, afstap.

Die eerste ding waarop sy vars sig let, is die skadu-bewegings van die klip-stukkies en stalagtiete wat uitsteek onder die handgemaakte, uitgeholde bruin-swart rotsplafon. Agter hom skuif die vrou haar weer reg en lê nou so styf teen sy rug dat hy nie kan omkyk na haar nie. Hy loer af na sy dogter onder sy bors. Slegs haar lang bos donkerbruin hare is sigbaar onder die stink kombers. Met bitterheid teenoor sy omstandighede troos hy homself daaraan dat sy minstens nie meer bewe nie.

Oorkant hul posisie, teen die ander muur van die uitgeholde klipvertrek sien Riaan die dubbele ry uitgeholde slaaphokkies wat min of meer net so groot is soos die een waarin hulle lê. Hy kan die buitelyne van die uitgeteerde liggame onder die dun toemaakgoed uitmaak in die bietjie lig wat nog oorbly. As hy nie van beter geweet het nie, sou hy sy oë geglo het wat hom aanmekaar probeer oortuig dat hulle almal moet dood wees.

Net voor die lig heeltemal uit die vertrek verdwyn laat hy sy hand weer sak tot op sy dogter se skouer. Hy sien die lang, wit hale van die skeurwonde wat hy as kind opgedoen het, wat soos weerligstrale verspreid is oor sy voorarm. Dit voel soos net nou die dag, maar dis nou al meer as vyftien jaar gelede toe hy as twaalfjarige nog met sy blou Rally-fiets die strate in sy ouerhuis se buurt op- en af gejaag het. Dit kon net sowel ’n ander mens se lewe gewees het as hy nou terugdink aan hoe dinge was voor die eerste keer toe hulle gekom het:

“Riaan Simon! As jou pa hier kom vanaand gaan julle twee ’n lang geselsie hê!” laat hoor Rina Simon haar van binne die huis toe die twaalfjarige Riaan by die voordeur uitstorm en die patroonbedekte houtdeur agter hom toegooi.

Rina Simon was in haar vroeë veertigs in daardie jaar. Riaan onthou nie meer veel van sy ouers nie, maar hy onthou wel dat sy ma ’n ma en ’n vrou duisend was. Nie hy of sy pa kon vir beter gevra het in hierdie lewe nie. Sy was dalk op sig self net ’n huisvrou soos enige ander vrou in haar straat, maar vir hulle was sy alles en nog meer. Rina Simon was ook die mooiste vrou in haar buurt, selfs onder die jonger pasgetroudes. Haar wit-blonde bos hare en seeblou oë het al wat man is betower, maar tog het sy nooit oë gehad vir enige ander man buiten sy pa nie. Riaan onthou ook hoe sy normale vaal, prokureurpa haar altyd opreg waardeer het met al wat ’n geskenkie of liefkosing was. Riaan het sy ma se wit-blonde hare geërf, maar sy pa se harde, donkerbruin oë en growwe gesig.

Die houtdeur vibreer nog in sy skarniere toe is Riaan al met ’n beswaarde mars die tuinhekkie uit en op sy fiets in die straat af.

Al wat in sy gedagtes gedwaal het daardie Sondagmiddag was die nuwe parkie op die berg agter hul klein dorpie. Die afkondiging het die Vrydag oor die skoolinterkom gekom dat hulle klaar gebou is daaraan. Toe hy sy ma vra of hulle die parkie kan gaan besoek, het sy gesê dat hulle net vir sy pa moet wag wat weg was met ’n kliënt vir die naweek en die einste Sondag sou terugkeer.

Soos dit is met kindwees het die gewag te lank geword, en toe sy pa die middag nog nie tuis was nie, het Riaan sy frustrasie op sy arme ma uitgehaal en eindelik besluit om ’n draai met sy fiets te gaan ry.

Eers het hy net in die buurt op en af gery in die Sondagstilte, maar teen drie-uur het hy in die rigting begin ry waaruit sy pa moes terugkeer. Hulle het die vorige oggend laas van hom gehoor, en dit was vreemd dat hy nog nie vir die Sondag gebel het soos dit sy  gewoonte was nie. Dit was nog meer vreemd dat sy foon aanhoudend beset gelui het wanneer sy ma probeer bel het.

Riaan is nog vol energie wanneer hy weer omdraai voor die afdraai na die hoofpad – die enigste straat wat hom belet is. Hy trap die fiets se pedale stadiger nou dat hy weer gerig is in die huis se rigting. Dan fluister die duiwel se stem, presies op tyd soos die noodlot dit wou hê, in Riaan se oor en sy oë blink met die aanhoor van die briljante idée. Die fiets se voorwiel swaai na links sodat hy in sy spoor omdraai, en met die volgende vier-rigting-stop vat Riaan ’n ander straat wat afstuur in die rigting van die berg. Die opgewondenheid in die oomblik oorheers die skuldgevoel en vrees vir wat sy pa gaan doen as hy gevang word, en gou is Riaan aan die rand van die steiltes van die klein bergpas op pad na bo.

Die klein bergpas suig hope van sy oortollige energie op. Die meeste van die pad konsentreer Riaan net daarop om nie verkeerd te trap en te val nie. Kort voor lank is die park in sig. Met longe wat brand en kuitspiere wat kramp, gee Riaan ’n paar laaste harde trappe in ’n effe hoë rat en bereik die ingang totaal uitasem. Hy blaas sy asem uit en suig vars lug in keer op keer, sy bolyf wat oor die stuur slap hang blaas op en af soos ’n ballon.

Wanneer hy weer genoeg van sy asem teruggekry het, sit Riaan die fiets neer en draai eers om om oor die afgrond te kyk na die dorpie wat nou ver onder hom lê. Op die horison kan hy die son sien wat al baie na aan sak is, en besluit dan dat die afgaan tog heelwat vinniger gaan wees as die opkom. Hy draai om en staan ’n oomblik eers stil om die hele prentjie van die nuwe park in te neem, maar uiteindelik is dit die speelgrondgedeelte wat al sy aandag het en hy slaan ’n vinnige stappie aan in die rigting van die glyplank.

Die prentjie van die park sal Riaan nooit kan vergeet nie. Oral waar sy oog kon sien, was dit groen van die bome, plante en blomme, die gras sag en nog nat van die onlangse spuit. Voëlbakkies van borshoogte is op ’n paar plekke opgerig en ’n uiters netjiese houtheining was om die park, asook om die speelterrein binne-in die park opgerig. Die yster- en houtrusbankies was hier en daar in skadukolle in die grond vasgepen. Daar was nooit baie diefstal in en om hul dorpie nie, onthou Riaan, maar die bankies was duur en nuut en hul gemeenskap nie van die rykste nie, dus was dit beter om seker te maak dit word nie gesteel nie.

Riaan sien en hoor voëls al die pad soos hy oor die grasperk stap. Party het hy herken, maar daar was tog die wat hy nog nooit eens gesien het nie. Voor hom, op die speelterrein, was nie net ’n glyplank nie maar ook ’n groot swaai en rondomtalie en vele ander  speel-patente wat hy nie geken het nie, alles in die kleure van die reënboog geverf. Vir die volgende halfuur was Riaan in verwondering en ekstase. Hy het van die een apparaat na die ander getrek en elkeen so ‘n bietjie uitgetoets.

Dit het so skielik skemer geword dat Riaan mooi moes kyk waar hy trap toe hy van die swaai afspring. Hy het geweet dit was laat en het dus na sy fiets toe gehardloop. Sy pa moes al by die huis wees, en as hy nog boonop na donker daar moet aankom, sou die ontmoeting met meer as net ’n instruktiewe geselsie gepaardgaan. Onder die ruigtes van boombedekking uitgekom, was Riaan slegs ’n paar tree van sy fiets af toe hy die wolke vir die eerste keer gewaar. Met al die baljaar op die speelterrein het hy nie eens besef dat dit bewolk raak nie, en die wolke het klaar gedreig met ’n donderweergedruis uit die verte.

Met die buk om die fiets van die grond af op te lig vang sy oog die eienaardige ligblou gloed bokant ’n gedeelte van die wolkbedekking byna reg bo sy posisie. Riaan knip sy oë twee maal voor hy besluit dat hy dit werklik sien en staan dan weg van die naaste bome om beter te fokus. Die blou gloed verander na wit en keer dan terug na blou. Na ’n tydjie met sy oë in die lug besef Riaan dat die omtrek van die gloed vergroot, en al vinniger groei soos dit al hoe donkerder word bokant die wolke.

Die aarde gee ’n onverwagse ruk onder Riaan se voete, te vinnig om ’n aardbeweing te wees – nie dat hy eens so iets ken nie. Hy kyk outomaties af net om te vind dat hy al in die middel van die teerpad staan. Voor hy weer na bo kan staar, kom daar ’n klapgeluid vanuit die hemel bo hom wat sy handpalms na sy ore dryf. Riaan pers sy oë toe en maak sy mond oop. Hy gil maar kan sy eie stem nie hoor nie. Vrees skop in en sy hart klop in sy keel wanneer hy weer versigtig na bo loer.

Die wolkbedding is nog donkerder, nog donkerder as die pers-swart kleur van swaar weer. Toe Riaan sy hande laat sak en agterkom sy gehoor kom terug, begin die grond onder sy voete onophoudelik vibreer. ’n Nuwe geluid sak neer vanuit die gloed area. Dit klink vir Riaan soos die geluid wat sommige voertuie maak op Saterdae in die verbyry voor hul huis wanneer die musiek kliphard binne speel. Hy onthou hoe sy pa altyd sal vloek en iets mompel van ’n “bys” as die karre verbygaan.

Die nuwe geluid hou aan om die aarde te skud en is nog meer oorverdowend as die vorige klap-geluid. Hierdie keer help dit nie wanneer Riaan sy handpalms oor sy ore pers nie. Hy draf bevrees terug na die blou Rally-fiets en spring in die saal. Voor hy kan wegtrek, hou die geluid op en word vervang met doodse stilte. Riaan kan homself vinnig hoor asemhaal, sy asemhaling gedeeltelik onderbreek deur die klop-klop van sy hart.

Riaan waag dit om na die lug bo hom te loer. Die lig in die wolke is steeds donker, maar die wolke het van vorm verander – dit lyk of iemand ’n massiewe stofsuier bo die wolke hou waar die donker kol is en die wolke opsuig. Dan kom die aardskudding liggies terug wanneer iets deur die holte in die wolke uitsak na onder. Die skudding word sterker en sterker terwyl die swart voorwerp onder die wolke-massa al verder uitsak. Toe die snaakse geluid weer begin, trek Riaan met ’n spoed weg, maar dit is nie lank voor sy bene hom in die steek laat nie, lam van spanning en vrees.

Hy maak staat op die afdraande om spoed te gee vir die bergpas af en loer kort-kort op na die lug. Die swart voorwerp het nou al heel uitgekom onder die wolke. Dis bedek met swart tentakels en ’n oorweldigende hoeveelheid ligte en lyk soos ’n skip wat in die lug dryf. Riaan kyk net betyds terug in die pad om ’n rots mis te ry wat van die berg afgerol gekom het. Hy weet daar gaan meer wees as hy nie gou maak nie. Met alles wat hy in hom het, forseer Riaan sy liggaam orent op die fiets en sy bene om te trap, die fiets nou net een rat onder die hoogste stelling. Die wind in die afgaan verander binne sekondes van warm na ysig koud, so erg koud dat Riaan se neus begin brand en sy oë traan.

Riaan bereik ’n reguit stuk pad en weet hy is nou min of meer halfpad wanneer hy afloer na die dorpie wat nou heelwat nader is. Hy loer om na die skip se posisie wat nou agter hom is. Die wolke bokant die vreemde verskynsel het weer toegemaak en die skip het omgedraai – en as sy oë hom nie bedrieg nie, is die gedeelte wat soos die neuspunt lyk nou gerig op hom en die dorpie onder hom. Riaan kyk terug na die pad voor hom en ontvang hulp van ’n adrenalienontploffing om die fiets nog vinniger te trap.

Dan is daar nog ’n knal van dieselfde klap-geluid wat hy vantevore  gehoor het uit die hemele. Die semi-donkerte om Riaan verlig na ’n wit kleur. Dit lyk of die hele aarde om hom bedek is met ’n buislig tien keer skerper as die sonlig, maar die lig beweeg. Riaan kyk op en sien ’ngroot wit-blou straal hoog bokant sy kop verbytrek en die dorp onder met nog ’n knal tref. Die lig omvou die hele omtrek van die dorpie en suig alles na binne. Met die trefslag is die lig so skerp dat Riaan niks voor hom kan sien nie. Hy trek die agterbrieke van sy fiets vas met alle mag. Die aarde huil ’n kraak-geluid wat klink soos honderde bome wat naby en ver, oor en oor breek.

’n Verwoede wind slaan hom van voor en pluk hom agteroor van die fiets af. Stof en sand slaan teen hom en brand sy vel soos hy deur die lug trek. Wanneer hy uiteindelik op sy maag te lande kom, slaan die hou die wind uit hom uit. Riaan teug na suurstof, maar sluk groot bondels gras en sand. Hy spartel om orent te kom maar die wind druk hom teen die grond. Sy hele liggaam brand nou. Iewers naby hoor hy iets verskuif, iets groot wat meer raas as die wind en sand. Dan rol die rots skielik uit die hoek van sy oog nader en Riaan spring-val uit die pad. Die rots tref die regterkant van sy lyf en flenter hom teen ’n afgrond af. Toe sy liggaam die grond weer tref, is sy bewussyn weg.

Die volgende ding wat die volwasse Riaan kan onthou, is dat hy wakker geword het in ’n donker kamer met geen benul hoe hy daar gekom het nie. Vlugtelinge het hom lewend gevind kilometers ver van die berg en dorpie af. Sy wonde was van so ’n aard dat hulle hom eers net daar wou los, maar ’n enkele paar tussen hulle wou hom die kans op lewe gun en het hom verpleeg. Hy was glo met tye wakker gedurende hierdie tydperk maar kon tot dusver niks daarvan herroep nie.

Sy redders is intussen oorlede en die lewe het drasties verander… Dit wat van die mensdom oorbly, skuil ondergronds en oorleef op die bietjie wat hulle hul lewens voor kan waag bogronds. Die wat bogronds gaan vir kos en medisyne kom soms so versteurd terug dat hulle ophou praat. Oor die algemeen praat niemand oor die dinge wat hulle daar bo sien nie.

Riaan Simon sien hoe die donkerte in die vertrek weer verlig word met die terugkeer van die persoon deur die gang na die volgende vertrek waar die fonteintjie steeds net drup-drup. Hy luister fyn en kan nie meer hulle geluide ver bogronds hoor nie.

Teen sy bors skuif die klein, benerige liggaampie van sy dogter onrustig rond. “Pappa, is hulle weer weg?” vra die kleine Heleen Simon met ’n bewerige stemmetjie.

Riaan druk haar skouer sagkens en fluister so sag as moontlik, “Ja, my kind. Slaap nou maar.”

Riaan Simon lê wakker tot dit weer donker is in die vertrek. Sy gedagtes dra hom na plekke waar hy nie wil wees nie, en wanneer die gal in sy hart bitter kook forseer hy sy brein om af te skakel sodat die slaap hom kan vat. Die laaste ding waaraan hy dink, nes elke ander aand, is die vloek van ’n lewe wat hy aan sy dogter gegee het en hoe hy haar geboorte met alle mag sou vermy as hy weer die keuse daarvan kon uitoefen.

Ver bo hulle posisie beweeg die nuwe heersende spesie van die wêreld heen en weer op die aardkors, op soek na elke laaste bietjie lewende energie om te versamel en te te lande kom verslind.

  • Chantal

    Ek het hierdie een gelees op ‘Net om te geniet’ en die kortverhaal was die beste van al jou inskrywings gewees.