MY SKEMERWÊRELD – Aletta van Staden

MY SKEMERWÊRELD – 2013 © Aletta van Staden

VOLWASSE FANTASIE (2 626 woorde)

Ek beur deur die sluier. Bebloed.

“Sy gaan dood!” skree Mia se pa, Deon, die oomblik toe hy my gewaar. Met ’n grom flits my oë oor my en Mia se sitkamer. Die meubels is teen die muur gestoot. Ons ouers staan rondom haar. Hou hande vas – nes ek hulle gelos het. Die oomblik wat ek haar sien lê in die middel van die sitkamermat, tjank ek. Sy’s roerloos, haar asemhaling vlak. Waaksaam, stap ek nader – my weerwolfgewoonte. Ek druk my snoet teen haar gesig – een, twee keer. Krap met my poot aan haar arm. Niks. “Ons moes dit nooit toegelaat het nie!” Mia se ma, Rolien, storm op my af. “Wat gaan ons doen?” Dadelik, wys ek my tande. Trek my ore plat. Sy beter wegbly. Nog een woord van haar en ek ruk haar keel uit. Sy steek vas. Staar verskrik na my monstergesig. Met ’n grom, draai ek my kop na die wasige sluier. Die Umbra lyk stil. Dromerig. Bedrieglik. Waar gaan ek haar soek? Die Umbra is ’n see van dooies. Niemand se speelmaat nie. “Xander, asseblief!” Mia se ma tree nader. Huiwerend. Sy’s so bang vir my soos die Umbra self. “Jy moet haar terugbring!” Ek trek my lippe terug. Gee ’n waarskuwende grom om haar weg te hou van Mia af. “Xander, stop dit!” bulder my pa, sy geel oë waarskuwend. Wanhopig, sluit my blik op my pa. Sy geel kykers pen my vas, herinner my aan wat ek is: ’n weerwolf. Sterk. Vreesloos. Sonder huiwering, draai my kop na die Umbra. Met een tree, sny my liggaam deur die wasige sluier. Terug. “Kry die sirkel reg. Anker die elemente!” hoor ek Mia se pa in die agtergrond skree. Dreunend, skiet ’n kolom van water, sand, wind en vuur die hemele in – my kompas om terug te keer. Vir ’n oomblik staan ek stil. Drink die dromerige toneel van blomme en grasvelde in. So ver lyk als redelik normaal, maar ek weet: hoe dieper ek gaan, hoe meer verwronge sal dit raak. Donker en deurmekaar. Bekende bakens staan wasig op die horison – ou geeste van moederaarde. Die Kasteel en Tafelberg flikker aan en af soos ’n lamp wat wil blaas. Tyd is iets wat nie hier bestaan nie. Ek moet gou speel. Ek gooi my kop agteroor. Huil. My hartseer kreet seil oor die vlaktes. Slaan vas teen elke vlak van die Umbra. Soekend. Skielik, uit die verte, begin die Umbra skud. Soos ’n aardbewing ruk dit oor die vlaktes. ’n Skree wat klink soos ’n vleissaag weergalm deur die Umbra. Laat my nekhare rys. Daar’s net een monster wat so klink: Edna. En sy moes my gehoor het. Want sy kom vir my. Oop en toe. Iets vang my oog. Laag oor die horison wapper ’n silwerdraad. Dit moet Mia s’n wees, haar enigste verbintenis met haar fisiese liggaam. Ek druk my snoet in die lug. Snuffel. Dis sy. In die diepste dele van die onderwêreld. Iets moes haar gejaag het. Met ’n tjank, skiet ek vorentoe. Tyd is min. En Edna is op pad. My pote hamer oor die grasvelde. Vinniger en vinniger. Dromerige grasvelde verander in grys vlaktes. Die dieper onderwêreld kom nader. ’n Plek van vrees. Lyding. Wraak. Als wat nagmerries van gemaak is, en nog ’n bietjie. Mia se silwerdraad duik al laer. Verdwyn in ’n donker grot tussen swart berge op die horison. Skaduwees groei. My treë rek. ’n Donker wolk van kraaie rammel in die verte. Hul swaar vlerke slaan die lug. Harder en harder. Nader en nader. Met skerp snawels duik hulle op my af. Veg of vlug, besluit ek, en toets my kake. Vere en derms spat. ’n Kraaipoot so groot soos ’n besemstok beland op my snoet. Die kraaie is te veel. Ek sal moet hol. Asof hulle my plan sien, verander hulle taktiek en duik hulle op Mia se draad af. Laggend, karring en trek hulle daaraan. Verpestelike goed. Met ekstra spoed pyl ek op die grotopening af. ’n Dowwe reuk van Mia klou aan die binnekant vas. Iewers moet sy wees? Haar draad ruk woes heen en weer bo my kop. Skuur teen die grot soos die kraaie dit buite probeer breek. Net voor ek moed opgee, sien ek haar: Mia. My vrou. Klein en opgekrul agter in die grot. Daar waar geen monster haar sal kry nie. Dit voel ’n pen deurboor my hart. Sy is so klein. Weerloos. Sy moes my nooit gehelp het nie.         Ek druk my nat snoet teen haar gesig. Wat gaan ek doen as sy nie wakker word nie? Nee. Ek weier om daaraan te dink. Ek lek haar wang. Staan op, magtig! Met my regterpoot krap ek haar skouer. Staan op! Dit voel ek kan skree. Ek lek haar weer. Krap haar. Niks. Meteens. ’n Steun. “Xander? Ek het…” prewel sy voordat sy stil word. Ek swaai my stert met ’n sug van verligting. Dankie tog, sy’s oukei. Dankie tog. Meteens skud die Umbra. Edna se vet likkewaanlyf dreun nader. Ek sal moet fokus. Hol. Vir Mia uit hierdie helput kry. Versigtig, slaan ek my tande om haar middellyf. Slinger haar oor my skouer. Haar hande gryp swak na ’n bondel hare op my rug. Maar sy’s bo. Veilig. Dadelik is my jagtersoë gefokus op die grot se gapende bek. Elke spier in my liggaam is gespan. Grommend, skiet ek vorentoe. Soos ’n duiwel wat als wil vermorsel. Die oomblik wat ek by die grot uitskiet, gee ek ’n harde huil vir almal om te hoor. En laat een vreksel dit waag om my te keer. Die kraaie skrik. Fladder op van die lewelose grond. Nes brommers van ’n bol mis af. Ek versnel my pas. Probeer hulle afskud. In die verte hoor ek my kompas dreun. Sien ek die kolom van elemente die hemele introon. Maar ek is verdwaal. ’n Groot maanbrug versper my pad. Met ’n tjank, draf ek heen en weer, oorweeg my opsies. Maar daar is geen. Net ’n maansteen kan ons nou red en ’n pad oor die brug laat verskyn. Weer ’n keer bulder Edna se vleissaagskree deur die Umbra, herinner my aan haar koms. Ek sal iets moet doen. Maar wat? Verwese, laat sak ek my kop en sit haar neer. Daar is geen manier wat ek my vrou kan red nie. Ek het gefaal. Liederlik gefaal. Mia se pap liggaam rol eenkant toe. Iets blinks val uit haar broeksak. Vir ’n oomblik staan ek verstom. Gevries. Kan dit wees? Na al die jare? Al die gesoek? En hier is dit, sentimeters voor my – die maansteen – onmiskenbaar met sy blou glans. Mia het dit wraggies reggekry. Sy’t dit gedoen! Uiteindelik is die vloek gebreek. Dit voel ek kan haar vasdruk. Dans van blydskap. Met nuwe hoop, raap ek haar en die steen in my bek op. Ons mag dit dalk net-net maak. Hou vas, Mia. Hou vas. Die oomblik wat die maansteen my tong raak, verlig die Umbra soos ’n vuurwerkvertoning. Verdwyn my familie se weerwolfvloek. Die gevoel is onbeskryflik. Nooit weer sal ek ’n weerwolf wees wat die Umbra bewandel nie. Ongelooflik. ’n Helder pad verskyn oor die maanbrug. Mia hang onderstebo in my bek. ’n Honderd meter voor my dreun my kompas. Wys my die pad. Die oomblik wat ek oor die maanbrug hardloop, skiet Mia se styfgespande draad bo-oor my kop. Opgefrommel. Dis verby, besef ek. Die kraaie het gewen. ’n Onaardse sug verlaat Mia se geestelike liggaam. En toe is sy weg. Asof sy nooit daar was nie. Soos ’n sein op die TV. Skielik dood. Met ’n naar gevoel, lig ek my kop. Die kraaie fladder weg. Laggend. Elke sel in my liggaam voel asof dit uitmekaar uit skeur van skok. Smart. Lyding. Als rondom my is ’n waas. Ek gooi my kop agteroor. Skree. Huil my keel rou. Nog nooit het ek soveel pyn ervaar nie. Die vloek is gelig. Maar wat het ek gewen? Niks. Alles verloor. Die sluier hang meters voor my. So naby dat ek ons sitkamer aan die anderkant kan sien. Ons ouers staan roerloos. Geskok. Hulle kan dit nie glo nie. Nes ek. Die maansteen weeg swaar in my mond. Die smaak daarvan bitter. Ek strompel vorentoe. Beur deur die sluier. Kwylend. Maar die oomblik wat my weerwolfkop deur die sluier breek, verander my liggaam vir die laaste maal. Hare krimp. Bene breek. Pote verander in arms en bene. En die weerwolf verdwyn. Finaal. “Nee!” skree Rolien en val langs haar dogter neer. Haar rou snikke sny deur my hart. Breek my. “Dit kan nie wees nie! Mia, kom terug!” My ma, Amelia, staan langs Rolien. Geskok. Verslae. My pa skree iets op my. Sy oë lyk dringend. Maar ek hoor niks. Sien net my vrou se liggaam. So stil. Uiters stil. “Xander!” bulder my pa in my ore. “Luister vir my! Dis nog nie te laat nie!” Dit vat vele klappe van my pa om my aandag te kry. My wêreld het gaan staan. “Luister vir my! Waar’s die maansteen?” Sy oë deursoek my. Stadig, maak ek my mond oop. Voel ek die koue klip op my tong. “Sit dit op haar hart! Maak gou! Dis al wat haar kan red. Dis nog nie te laat nie.”    “Wat?” “Sy’s nog nie te ver nie. Daar’s nog tyd. Sit die maansteen op haar hart,” skree my pa. “Dit sal haar terugbring. Maak gou!” Sonder om te aarsel, spoeg ek die steen uit en skiet vorentoe. My hande bewe so dat ek die steen twee keer laat val voordat ek dit oor haar hart gesit kry. Ek knyp my oë toe. Bid. Haar liggaam voel so warm onder my hande. So sag. Almal is stil. Hou asems op. Net my pa lyk… ek kan dit nie beskryf nie. Jammer? Hartseer? Ek weet nie. Daar’s nie veel tyd om daaroor te tob nie, want skielik fladder Mia se oë oop. “Mia!” “Xander? Is dit jy?” Haar stem is hees. “Ja. Als is oukei.” Ek soen haar hande. “Jy’s veilig.” “Waar’s die maansteen?” vra sy. Almal se oë gaan na haar deinende borskas met die maansteen op. Dit skyn al dowwer tot dit verdwyn. Terugkeer na die Umbra waar dit hoort. Ek vang my pa se blik. Hy’t geweet wat sal gebeur as ek die maansteen opgee: ons sou die vloek van vooraf dra. My pa glimlag. “Dis oukei,” sê hy. En ek weet wat hy bedoel. Mia is terug. Dis al wat tel. “Die maansteen… dis in my sak,” hou sy vol, haar regterhand soekend na die steen. “Shhh…” Ek gryp haar hande vas. “Waar’s die maansteen, Xander? Ek het dit gehad. Waar is dit?” Ek byt op my kake. Wat gaan ek vir haar sê? Ek kyk na my pa; sy oë is stil. ’n Ou weerwolf met geen antwoorde nie. Hoe werk dit? “Dit het uitgeval… uit jou sak uit,” sê ek. “En ek kon nie omdraai nie. Ek moes jou terugbring. Lewend.” ’n Traan stoot oor my wang. “Ek weet dit het baie vir jou beteken. Vir ons.” “Shhh,” maak sy my stil. “Ek was nog altyd lief vir jou, Xander. Weerwolf of nie. Dit maak nie saak nie. Weerwolfkindertjies ook nie.” Ek raak stil. “Nie?” “Nee. Ek weet dis jou grootste begeerte – om normaal te wees. Om normale kinders te hê. Maar wat maak dit saak? Ek’s lief vir jou. Nes jy is.” Dit voel ek sak inmekaar. Hoekom het ek dit nooit geweet nie? Hoe sy voel nie? Of was ek te blind? Te doof om te luister? “Ek kon sien hoe baie dit vir jou beteken het… om die maansteen te kry,” voeg sy by. Vir ’n lang ruk kyk ek na haar. Sprakeloos. “Ek is ’n monster, Mia. ’n Monster. Wie wil babas hê saam met ’n monster?” Sy glimlag. “Jy’s my monster, oukei? En my kinders moet hou van melk.” Sy lag, maar ek sukkel om die grap te sien. “So… jy… julle almal het dit gedoen vir my? Oor ek – ” My ma glimlag. “Ons is almal lief vir jou, Xander. Jou pa… ek, ons almal kon sien jy’s ongelukkig.” “Ek verstaan nie. Pa?” Ek kyk na hom. Soek vir ’n antwoord. “Dis oukei, seun.’n Mens moet hou van jouself. En ons wou jou help.” “En pa? Is pa nie ongelukkig nie?” “Nog nooit nie.” Ek raak stil. Verslae. Mia sit haar hand oor myne. “Toemaar, Xander. Ons sal weer probeer, al kos dit ook wat. Ons sal daai maansteen vir jou soek tot ons dit kry.” Ek skud my kop. Lag. Mia frons. “Wat’s dit?” Sy’s duidelik verward. En dit voel ek kan daai oulike wipneus van haar opvreet. Sproete en al. “Nee, ek lag maar net. Vergeet daarvan.” “So…?” Sy aarsel. “Gaan ons die maansteen soek? Of nie?” Al wat ek van die begin af wou wees, wou doen, was om die beste te wees wat ek kan. Vir haar. Vir altyd. Pleks ek het gevra. Reguit gevra. Maar nou ja. Pasgetroud. Wat weet ek? Skielik trek iets my aandag. Iets wat die weerwolf in my wakker maak. My liggaam skeur uit sy nate. Rek. Groei. Met ’n geroggel, gooi ek my kop agteroor. Skree van die pyn. Elke oomblik voel soos ’n ewigheid terwyl my liggaam verander. Bene breek. Vervorm. Langs my staan my pa. Reeds weerwolf. Sy geel oë staar stip na iets anderkant die sluier. Iets is op pad uit die Umbra uit. My ma trek vir Mia en haar ouers uit die pad uit. Natuurlik weet sy wat kom: moeilikheid. Soos ’n kuiken wat uit sy dop breek, beur Edna deur die sluier. Boem! Klap ek haar teen die kop. Steierend, slaan sy agteroor. Terug na die Umbra. Ek agterna. Dit voel asof die aarde skud. My pa spring deur die sluier, sy weerwolftande uit. Maar Edna is myne. Ek moet seker maak sy kom nie terug nie. Die oomblik wat sy grondvat, is sy regop. Verbyster. Stadig, sirkel ons haar. Reg om te spring. Meteens ontplof ’n skroeiende straal vlamme uit haar bek uit. Reg op my pa af. Hy tjank. Verswelg in vlamme. Die reuk van brandende hare is verstikkend. Hy strompel weg, stert tussen die bene terug huis toe. Ek is verlig. Nou hoef ek nie verder oor hom bekommerd te wees nie. My ma sal na hom kyk. Edna smaal. Haar skubberige gevreet groei rooi soos die hel. Die slange op haar kop pik en slaan alle kante toe. Sy waggel ’n tree nader. Ek trek my geel oë op skrefies. Hou haar dop. Elke beweging. Sy’s stadig. ’n Pluspunt. Maar groot en sterk. Haar pote sukkel onder haar swaar likkewaanlyf. Ek skiet deur die lug. Vang haar onkant. My tande sink agter haar nek in. Bloed wat lyk soos blou stroop pomp teen my bek af. Met elke ruk en pluk, skree sy. Haar stert slaan woes. Heen en weer. Nekwerwels kraak. Breek. Ek kan voel hoe elke krieseltjie lewe haar verlaat. En meteens stort sy inmekaar. Kwylend, hou ek die draak dop wat tussen my pote lê. Ek toets of sy lewe. Druk my swaar poot teen haar kop. Niks. Met ’n bulderende stem kondig ek my oorwinning aan. Niemand sal sukkel met my nie. Of my familie nie. Dis reg. Ek is ’n monster. Gevaarlik. Vreesloos. Ek tel my groot pote op. Stap deur die sluier na waar Mia op my wag. Die kyk in haar oë slaan my asem weg. Dit skree: jy’s myne. Vol afwagting en trots. Dadelik is ek lus vir spog, vir ’n groot vertoning. Ek grom. Bulder en blaas. Gooi my kop agteroor en kondig my oorwinning vir haar aan. Sy raak stil. Bewondering in haar oë. En wat kan ek sê? Ek hou daarvan. Die monster bly.

DIE EINDE

  • Nancy

    Ek hou baie hiervan 🙂