‘N VRIEND MET DIE NAAM CHARLIE – Heloïse van der Walt

‘N VRIEND MET DIE NAAM CHARLIE – 2013 © Heloïse van der Walt

JEUGFantasie (1 887 woorde)

“En as jy so vir my kyk, Lana?” vra Charlie, Lana se beste vriend van sover as wat sy kan onthou.

“Niks nie, Charlie. Dis net… niemand verstaan my passie vir letterkunde soos jy nie. My vriendinne by die skool praat deesdae net outjies.”

“Ek dink nie iemand verstaan jou soos wat ek jou verstaan nie, Laans. Dis soos Victor se liefde vir die wetenskap.”

“Presies,” laat Lana van haar hoor. “My vriendinne sal dink Victor is ’n model of iets, nie die hoofkarakter in Frankenstein nie. Lees verder.”

Die res van die middag is oudergewoonte in stilte deurgebring. Tussen Lana en Charlie is daar nie veel woorde nodig nie. Lana is anders as ander sestienjariges. Sy het nog altyd ’n aanvoeling gehad vir die onverklaarbare, die misterie van die lewe.

“Lana Elizabeth Katarina de Klerk! Aandete is op die tafel!” roep haar ma van die kombuis se kant af. Geen misterie dáár nie. Wat jy sien is wat jy kry by dié stoere boervrou.

“Jy moet verder lees, Charlie, en my dan vertel wat gebeur. Ek’s nou weer terug.” Charlie lyk aantreklik met sy deurmekaar bruin hare.

Dis nie dieselfde soort stilte aan etenstafel as wat Lana en Charlie in die kamer het nie. Dis ’n ongemaklike stilte wat haar ma uiteindelik verbreek deur haar roetine vrae aan die einde van die dag. So hoe lyk die akademie, Sus? Kruip die Du Preez-kind nogsteeds gat vir ekstra punte? Wat dink jy maak die hoof en die Skeinat onderwyseres as hulle na skool so vergader?

“Ma, kan ek en Charlie asseblief more boekwinkel toe gaan, hy belowe my al hoe lank ’n Fitzgerald-nommertjie.”

Rentia De Klerk gluur oor haar dikraambril en skep nog ’n paar aartappels in haar aweregse manier.

“Kan ons, Ma? Dit sal vinnig wees.”

’n Tasbare stilte hang in die vertrek.

“Hoeveel keer moet ek vir jou sê dat Charlie nie bestaan nie? Jy is sestien jaar oud met ’n denkbeeldige vriend. Goeiste genugtig. My kind, skrik wakker, die lewe gaan verby jou. Dit help nie jy sluit jouself in die kamer toe, terwyl ander kinders vry en sokkie nie.” Weereens word die aartappelpot nader getrek, asof aartappels opmaak vir haar dogter se ooraktiewe verbeelding. “Vergeet bietjie van Charlie. Gaan kry vir jou ’n regte kêrel, jy’s tog nie so lelik soos ouma aan vaderskant nie, jy kan dit doen.”

“Ek het ’n regte kêrel, ma.”

“Hier gaan ons alweer! My kind, as jy heeldag met Charlie vry gaan ek mos glad nie kleinkinders kry nie.”

Die slaan van die deur laat Rentia de Klerk weet dat haar enigste kind nogsteeds nie rede insien in die waansinnigheid van haar denkbeeldige vriend van kindsbeen af nie.

“Ek wens net my ma wil my glo, kyk hier staan jy lewensgroot langs my. Sy dink ek is mal. Almal dink ek is mal. Niemand glo my dat jy werklik bestaan nie,” sê Lana een oggend op pad bushalte toe.

“Maar ek bestaan. Ek hoef dit mos aan niemand te bewys nie.”

“Ek weet. Dit sal dinge net makliker maak.”

“Makliker vir wie?”

“Jy weet wat ek bedoel.”

“Nou wat kan ek doen om vir jou te bewys dat ek bestaan net soos jy?”

“Ek weet nie, Charlie.”

’n Swanger stilte volg. Dan Charlie en Lana se eerste soen. Die toetende karre, ’n rustige Karoo-windjie en verbygaande voetgangers rond die prentjie af. Nie presies die eerste soen wat Lana in gedagte gehad het nie, maar haar ma het haar goed laat verstaan ’n mens kies nie so ’n oomblik nie. Die oomblik kies jou. ’n Oomblik gebalsem in tyd wat onderbreek is deur ’n verbygaande vriendin.

“Lana, wat de hel dink jy doen jy deur jou gesig so vreemd te trek helder oordag? Hier waar almal jou kan sien. Jy kan nie jou tong so suggestief uitdruk nie, dit lyk asof jy aandag soek.” Rita was nog nooit bekend vir haar takt nie en haar vurigheid strook loodreg met haar vlamrooi voorkoms.

“E… ek’s jammer, ek’s nie eintlik een vir openbare liefkosing nie. Rita, Charlie. Charlie, Rita.” Lana voel hoe haar wange van kleur verander.

Charlie tree ’n paar tree vorentoe, maar dis tervergeefs, Rita kyk regdeur die spasie wat Lana aan haar voorgestel het as Charlie en dan terug na Lana met ’n vraende blik

“En hoe op des aarde moet ek ’n oop stuk lug se hand skud? Is jy okay? En hier dog ek al die tyd dwelms is nie jou forté nie.”

“Ek’s nie op dwelms nie, Rita. My vriend, Charlie, sien jy hom nie? Hy staan nét hier. Vóór jou.”

Dit is toe dat Charlie oor die pad hardloop uit frustrasie. Die oomblik van hul soen, verlore. Lana volg en met die geluid van skreeuende bande agter haar, kom sy aan die ander kant van die pad, waar Charlie in die verte inloop.

“Charlie, ek’s jammer. Ek wou jou nooit verneder het nie, staan…staan net vir ’n oomblik stil. Dinge kan weer wees soos altyd. Ek hoef jou nie aan mense voor te stel nie, wat weet hulle in elk geval.”

Charlie stuit in sy voetspore en draai stadig om. Iets lyk anders omtrent hom. Lana het hom nog nooit kwaad gesien nie en die tikkie boosheid in sy oë

maak haar onrustig.

“Dis waar jy verkeerd is, Laans. Dinge gaan nie weer wees soos wat dit altyd was nie. Niemand, behalwe jy weet van my bestaan nie, so dis beter vir my om te gaan. Terug na my familie toe, daar waar ek weet ek hoort. Die wêreld se dinge het vir jou te belangrik geword.” Charlie se vasbeslotenheid skemer deur in sy stemtoon en Lana besef dit sal nie help om te stry nie.

“Vat my dan saam, saam na jou familie toe.”

’n Ondeunde glimlag volg op Charlie se gesig en hy neem haar hand in syne.

“Is jy seker, Laans?”

“Ek’s seker.”

Lana voel asof sy deur swart tonnels beweeg, ’n warboel van emosies oorweldig haar. Sy sien op haar vyfde verjaarsdag hoe sy eenkant op die swaai sit en Charlie haar liggies stoot terwyl die ander kinders mekaar met koek gooi. Sy sien hoe sy pouses vir Charlie jaag en sy nie kan verstaan hoekom die ander kinders vir haar lag nie. Sy sien hoe sy Valentynsokkie met Charlie dans en die onderwysers se skokreaksies agter die moue van hul duur uitrustings.

Lana maak haar oë oop in ’n onbekende wêreld van dig opmekaar gestapelde huise. Dit lyk nie soos iewers naby haar huis nie, of iewers waar sy al voorheen was nie. Die plek voel koud en donker.

“Charlie, waar is ons?” vra Lana in ’n stem wat bewe.

“Laans, ons is tuis. Hier waar ek en jy hoort, weg van mense wat my bestaan en jou rede betwyfel.”

“Charlie, ek’s bang.”

Charlie neem haar hand weer stewig in syne. “In Frankenstein word daar gesê dat ’n mens met meer dinge vertroud sal wees as lafhartigheid nie in die pad gestaan het nie.”

“Jy weet ook net altyd wat om te sê.”

’n Teenvoeter vir die mistroostige atmosfeer is Charlie se pa wat Lana kort daarna ontmoet. “Ek het al baie van jou gehoor, Lana. Jy’s anders as al die ander meisies wat Charlie al deur die jare huis toe gebring het. Jy’s gaaf.”

“Dankie, oom.” Charlie se pa wieg in sy hangmat, terwyl hy ’n mediese prenteboek deurblaai. Lana was nie eens bewus van ander meisies nie, sy was onder die indruk dat Charlie se vriendskap tot haar gereserveer is. Net hulle twee, op ’n afgeleë plaas in die Karoo. ’n Ongemaklike stilte volg.

“Van watter meisies praat oom nou?”

“Wel, my seun is maar ’n gewilde een onder die skoner geslag. Van hulle kuier heelwat langer as verwag en van hulle het nooit werklik gegaan nie. Kyk vir Salome, altyd daar by die groentetuintjie.” Die oom wys na ’n grys vrou wat met haar vingers in die grond speel. “Lilly daar by die bank hou weer baie van popspeel.” ’n Klein, grootoog dogtertjie verskyn van agter die bank en glimlag vir Lana. “Janine is menssku en sy staar heeldag so by die venster uit. Jy…wel, jy is anders. My seun het jou ook heeltemal anders benader.”

“Hoe meen oom nou met benader?”

“Jy het nie op dieselfde manier hier gekom as die ander meisies nie. Hy is al van vroeg af bewus van jou.”

“Oom, ek weet nie wat hier aangaan nie, maar ek wil huis toe gaan. Nou, dadelik.”

Lana probeer hard om te onthou. Sy voel nog Charlie se sagte lippe op hare, Rita se vreemde kyk en hoe Charlie haastig oor die pad gehardloop het en toe swart tonnels. Pikgietswart tonnels.

“Lana, Lana, Lana. Net jy het beheer oor die feit of jy die huis gaan sien en of jy dalk saam met Salome gaan plant of Lilly gaan popspeel. Dink mooi daaroor. Wat is jou laaste herinnering voor jy hier beland het?”

“Uhm..Ek weet nie so mooi nie, oom. Maar ek’s bang.”

“Dink mooi.”

“Ek wil nie hier wees nie.”

“Dink mooi.”

“’n Kar.”

“Ja.”

“’n Kar het my getref, ’n kar. Toe ek oor die pad hardloop agter Charlie aan.”

Die oom se glimlag bevestig dit en die legkaart begin in plek val.

Die volgende paar dae het Lana sirkels rondom Charlie gestap. Dit is immers sy skuld dat sy voor die kar beland het. Tesame met die koue teerpad en rasende bande het haar jarelange hunkering na hom saam met die glasstukke en bloed op die teerpad verdwyn.

“Lana, wat gaan aan? Jy’t verander vandat ons hier is. Jy wil nie meer saam my lees nie. Dis nie hoe ek jou ken nie.” Charlie lyk ontsteld en die vuilbruin hare wat Lana aanvanklik aangetrek het, walg haar.

“Dis verby Charlie, hierdie wat ons het, is nie werklik nie. My ma was reg. Jy is nie goed vir my nie. Dis verby, ek wil niks meer met jou te doen hê nie.”

“Lana?”

“Ek weet nie presies wat hier aangaan nie, maar ek hou nie hiervan nie.”

“Moet nou nie so wees nie.”

Lana staan van haar stoel af op, soos sy soveel oggende vantevore gemaak het as haar ma Charlie se bestaan in twyfel trek. “Einste Frankenstein het gesê wanneer ’n leuen so na aan die waarheid lyk, wie kan hulself verseker van geluk?”

Charlie skop sy stoel eenkant toe. “Wat is vals hieraan, Lana? Wat? Ek was onder die indruk dat jy gelukkig is, dat ek jou gelukkig maak.”

“Jy bestaan nie en jy het nooit werklik bestaan nie, los my net uit!” Lana draai om en begin hardloop. Waarnatoe weet sy nie, maar sy hardloop.

Skielik skrik Lana wakker van haar koma. Die mense rondom haar lyk afgemat. Daar is ’n groot bos blomme langs haar bed. Rita sê iets van die gevare van dwelmmisbruik en die masjiene maak hospitaalgeluide in haar ore.

“Jy’t ons groot laat skrik, my meisiekind. Rita sê jy’t soos ’n afkophoender oor die straat gewoeker. Tipies plaaskind, geen kar of kraai gewoond nie.” Lana se ma omhels haar van verligting, terwyl die verpleegsters probeer verduidelik dat sy dit moet rustig vat. Net voordat Lana haarself sover kan kry om te glimlag, sien sy ’n bekende figuur oorkant haar bed. Charlie met sy vuilbruin hare en ondeunde glimlag.

“So, Lana, wanneer lees ons weer?”

  • Martels

    ‘n Baie goeie storielyn! Ek hou daarvan Heloise! Jy het so baie potensiaal met jou skryfstukke! 😉

  • Chantal

    Uitstekend vir die jeug! Ek wil nooit vir Charlie ontmoet nie!