VERVERSINGSPOS 52 – Ben le Roux

VERVERSINGSPOS 52 – 2013 © Ben le Roux

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (3 372 woorde)

Ses en neëntig aardse jare na sy vertrek, kom “Die Here Sewentien” die swaartekragveld van sy bestemde sonnestelsel binne. Sy eindbestemming is “Planeet 16”. Sy passasiers bestaan uit ‘n taakmag wat verantwoordelik is vir die vestiging van ‘n verversingspos daar.

Dié pos sal vir die gerief van reisigers verder die ruimte in wees en as “Verversingspos 52” bekend staan.

Dit is ‘n modulêre ruimteskip en die modules sal as dorp op die planeet herontplooi word. Dié taakmag, wat ook die pos sal beman, bestaan uit twee en vyftig getroude paarjies. Hulle is kundiges in verskeie vakrigtings en in diens van die maatskappy wat die projek aangepak het, naamlik die “Heelal-Ontdekkers-Ekspedisie-Kompanjie” (HOEK).

Elk, in ‘n tydkapsule hibernerend, is salig onbewus van enige gebeurlikhede op die reis agter hulle of van hul aankoms nou. Daar was, ala die rekenaars, ‘n paar benoude oomblikke maar almal is heelhuids hier! Op die reis het die skip se rekenaars meteorstorms en ander hemelliggame omseil en koers aanpassings gemaak. Robotte het die instandhouding behartig.

Nou in ‘n wentelbaan om hul bestemde planeet word Oran, die ekspedisieleier, gewek en neem beheer oor. Instinktief gaan hy al die stelsels na. Met hul eindbestemming in sig en amper ‘n dekade vroër as wat verwag is voel hy dankbaar, verlig en opgewonde. Die ander lede sal volgens ‘n skedule, een vir een, gewek word.

Dis doodstil, net die gerusstellende geruis van die masjinerie is nouliks hoorbaar. Starend na Planeet 16 op die skerm in die beheerkamer is sy gedagtes ‘n warboel by die aanskoue van dié, nog vreemde, wêreld voor hom. Hy probeer om hul pad vorentoe te visualiseer en inhoud daaraan te gee. Dit sal by ‘n gehuggie op die planeet begin wat hul en hul latere kinders se voorlopige tuiste sal wees.

“Dit maak ons dus die waarskynlike stamvaders en -moeders van ‘n toekomstige volk hier,” kom dit by hom op en met ‘n glimlag “ons eerste beskeie dorpie, ‘n latere geskiedkundige museum?!” Die gedagtes amuseer en fassineer hom. “Hier móet ons vastigheid onder ons voete vind. Terugkeer is nie ‘n opsie nie, inderdaad is dit glad nie moontlik nie!”

“Wat is volgende, waar begin ons,” dink hy “ is dit by ‘n soeke na ‘n geskikte landings- en vestigingsplek? Daarvoor sal ons almal saam moet soek om ‘n finale besluit, na vele oorwegings en insette, te neem. Ons is eerste hier en kan dus kies en keur!” Oseane en kontinente is reeds op die planeet onderskeibaar!

Die Verversingspos52-projek was deur dié groepie aangegryp. Dit was ‘n geleentheid om weg te kom, weg van ‘n oorbevolkte en gepolariseerde aarde af! ‘n Aarde waarin ordes wat vir eeue reeds geleidelik aan’t vorm kry was, nou duidelik sigbaar is.

Ordes waarin mense se denke gemanipuleer en/of gedwing word om magtiges se belange te bevorder. Ordes waarna, die oorblywende klein selfstandige volke smalend, as ‘n terugkeer na primitiewer tye in die mens se geskiedenis, verwys! Ordes soortgelyk aan die van oertydse konings, keisers en kerklikes!

Dié moderne Hoggenheimers, Stalin’s, Churchill’s, Hitler’s, Mao’s, ajatolla’s, pouse en ander dwepende charismatiese godsdiens-fundamentaliste, het die kuns van massabeheer vervolmaak. Spottenderwys word daar na dié despote as die GK’s (Groot Kokkedore, Kapitaliste, Kommuniste, Ketterjaers, Krokodille, Kakkerlakke, Kriminele… ens.) verwys.

Dié magtige elités het hul mag verkry, deur ‘n kapitale hefkrag, indoktrinering met ‘n politieke ideologie of breinspoeling met ‘n godsdiensdogma. In dié sug na groter beheer, bly hulle in ‘n permanente laegraadse oorlog met mekaar gewikkel. Hoewel dié ‘moderne’ despote se weermagte gesag kan afdwing word verfynde en subtiele propaganda verkies.Veld word stadiger daarmee gewen maar die risiko’s en verliese is kleiner.

Dié stryd gaan om beheer oor die psige van die siellose massas en nie hul uitwissing nie!

Bedrewe vermy dié GK’s die foute van hul voortvarende voorgangers. Tog het daar basies min verander! In die stryd om beheer verdwyn mense steeds en marteling bevredig steeds despote se sadistiese wellus, maar alles gebeur net minder gehoord en gesiens. Die kuns om ‘n vae skimp van misbruik net sterk genoeg te laat deurskemer, om sodoende vrees in te boesem, is vervolmaak!

Net in waarskuwings aan ‘afvalliges’, waaronder onafhanklike of selfstandige denkers tel, word daar op marteling geskimp! Enige noemenswaardige opposisie in sake, politiek of godsdiens word stilstil maar genadeloos en geweldadig uitgewis! Willose en kollektiewe onderdanigheid is die norm.

Soos wat outydse totalitêre state se heersers hul wil hardhandig afgedwing het, het magsoekers in die sogenaamde “Vrye Wêreld” dieselfde doel nagestreef. Hulle was net meer subtiel. Die twee uiterstes het mekaar halfpad ontmoet en almal is nou subtiel-hardhandig! Hulle het hul geskiedenislesse goed geleer!

“Hoe maklik is dit nie om mense te verlei om hul beginsels, eintlik hul hele wese, prys te gee nie! Hoe vatbaar is ons almal ook nie daarvoor nie!” mymer Oran. “Bied net middele tot ‘n bestaan aan, blokkeer ander opsies en sê: Teken hier en ék voorsien in ‘al’ jou basiese behoeftes. Dankie, van nou af doen jy wat ék sê want ék is nou jou baas en ék neem besluite namens jou. Jou talente word nou tot my voordeel aangewend.”

Jy het sopas ‘n kontrak met ‘n GK geteken!

“Elke beeld op elke tv of rekenaarskerm, elke kennisgewing op elke paal sal jou spesifieke GK se rigting vir jou aandui! Jou aanpas en inpas sal deurlopend op dié GK se koers gerig bly!” en so word die massamens geskep.

Vasgevang in ‘n omgewing sonder ‘n geleentheid vir eie inisiatief en met beperkte beweegruimte, is hul lot verseël.

Die demokrasie, daardie stelsel waar die meerderheid die laaste sê het, was die ideale instrument vir die slimspeler om sy doel mee te bereik! ‘n Besef dat die liggelowiges en materialisties ingesteldes ook die meerderheid in ‘n gemeenskap vorm, was al wat ‘n manipulatiewe GK nodig gehad het.

Die verleiding, met beloftes en blinkertjies was maklik terwyl die net al stywer om hulle span. Wakkerskrik, by baie, het te laat gekom, die houvas was reeds te sterk!

Vroeg reeds het imperialiste hul onderworpelinge kru en hardhandig in een taalkraal ingejaag om so beheer oor hulle denke verkry. Na weerstand hierteen het hulle hul benadering verfyn. Nou was die benadering een van, gee vir hulle ‘n bal om mee te speel en vermaak hulle, vermaak hulle en vermaak hulle!

Lei hulle aandag weg van die onderwerpingsproses, tap hulle kultureel leeg. Kleineer en verdeel hulle, minag hulle taal en sy skatte! Sonder iets om mee te identifiseer is hulle soos klei wat na willekeur gevorm kan word! Soos sout in water smelt hulle weg en laat net ‘n braksmakie agter!

Die selfstandiges het spottenderwys na dié siellose massas as die mees vermaaktes, die mees insigloses en mees oningeligtes verwys wat soos swerms sprinkane, onkeerbaar, als in hul pad verorber.

Die selfstandiges, daarenteen, word as klein vissies met skerp tande beskou. Hulle is onafhanklik van gees, tegnies vaardig en vindingryk. Hulle word nie sommer kaalhand aangepak nie!

In die gestry tussen die groot groepe, vervaag die aandag wat op die klein onafhanklike volke val. Teen dié agtergrond geniet hulle dan ‘n mate van vryheid!

Die selfstandiges word gereeld aangevul deur asielsoekers wat dit regkry om uit ‘n GK se houvas en oor dié se versterkte grense te ontsnap. Behalwe vir Oran en sy vrou An, bestaan die Planeet16-taakspan, uit sulke ontsnaptes.

Etnisiteit, in vroëre tye, vanwee ‘n hardnekkige ywer om behoud van die eie en ‘n neiging tot eksklusiwiteit, was as remmend op die groei en vooruitgang van die “mensdom” beskou. Dis ironies dat dit nou etniese gemeenskappe is, met hul individualisme en skeppingskrag, wat die teenpool van die gesigslose massamens uitmaak. Dié unieke en selfstandige groepe se stryd teen die massaswerms van die despotiese GK’s, is nietemin ongelyk!

“Waar het dié vooroordeel teen klein en lokaal sy oorsprong?” wonder Oran. “Die beskuldiging van ‘Nadelige en totale isolasie’ was immers altyd ‘n onwaarheid! Totale isolasie het net by die geografies mees afgeleë of ‘n diktator se geslote groepe, eeue gelede, voorgekom!”

Ingedagte mymer hy verder, “Meeste volke, ook syne, was op een of ander stadium al aan ‘n dwingeland onderwerp, maar blootstelling aan ander volke is onafwendbaar en die prikkelende invloed daarvan het despote se houvas mettertyd verbreek! ‘n Prikkelende wisselwerking tussen gemeenskappe is immers gesond en nodig mits dit nie op ‘n eensydige proses van vernietiging uitloop nie!”

In die nuwe wêreldorde, met sy klem op sentrale beheer, is dié beheer ‘n smorende gelykmaker. Op massakommunikasie het massa-indoktrinasie en -konformasie gevolg. Individualiteit is aan’t uitsterwe!

Die Achilleshiel van baie onderhandelaars wat dié dinge moes keer, was ‘n oproep tot “Die Demokratiese Oopgesprek.” Soos dit in sulke gesprekke gaan, oorleef net die sterkste! ‘n Swakke daarin, is weerloos. Diegene met versteekte agendas kon en het, male sonder tal, vir onvoorbereide liggelowiges met ‘n “oopgemoed” ore aangesit!

Sou ‘n gemeenskap weerstand bied, was daar die dreigement van sanksies of militêre ingryping. Net die sterkstes en slimstes kon so ‘n aanval afweer!

Tog bly die oopgesprek ‘n basis vir vooruitgang tenspyte van die slaggate waarin oningewydes so maklik trap!

“Wie kan dan vir Roelfie vergeet?” Waar daai sêding sy oorsprong had weet Oran nie maar dit bring ‘n besef van die verantwoordelikheid wat in moontlike gesprekke vorentoe, op sy skouers sal rus!

HOEK gesetel in een van die min oorblywende vry republieke, is ‘n maatskappy wat die implikasies en gevare van dié nuwe wêreldorde besef. Daarom hul betrokkenheid in ruimtenavorsing.

Planeet 16 is ‘n voorbeeld van hoe die ruimte ‘n geleentheid tot ‘n nuwe toekoms in ‘n nuwe wêreld, bied. ‘n Toekoms sonder bagasie, vry van ‘n ewige en heftige magspel!? “’n Aanbod om ‘n gemeenskap te vestig” dink Oran “wat, soos sy voorouers destyds, op ‘n skoonblaadjie kon begin!”

“Dit dan in sovêrre dit die ‘Ou wêreld’ aangaan!” mymer hy, “Ons staan voor ‘n nuwe begin, voor ‘n geleentheid wat vir min beskore is! Hier mag ons nie droog maak nie!” By dié besef en in nadenke aan die vele mooi klinkende ‘grondwette’ wat ook net dit was, naamlik “mooi klinkend” maar waarvan die gebreke in die toepassing daarvan gou duidelik was, is sy optimisme gedemp.

Hy bly nogtans hoopvol. “Tenminste hoef hier nie enige kompromië aangegaan te word nie! ‘n Basies gesonde beginsel moet nie net ruimte vir groei hê nie maar ook ruimte laat vir opponerende benaderings. Dit moet iets hê waarteen dit gemeet kan word. ‘n Sentraal beheerde staat bied dit nie!

Sal geskiedenislesse en stories vanuit die ‘ou wêreld’ later as mites en fabels hiér vertel word, is dit hoe fabels ontstaan?” wonder hy.

“Ons hierwees is als te danke aan goeie voorbereiding!” meen hy met sy gedagtes terug by die skip. “Met voorbereiding kan niks as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke sigbare en onsigbare hoekie en skroefie is deeglik gemoniteer, elke stroombaan getoets. Laksheid en onverskilligheid beteken mislukking en die dood!”

Sou die skip op pad met onverwagse en groot skade te doen kry en die rekenaars ‘n probleem met herstelwerk ondervind, moes hy gewek word. ‘n Besluit of nog tegnici, vir die herstelproses nodig is, sou hy neem.

Dié klein skip is ‘n nietige en weerlose kapsule vorentoe drywend op ‘n onvoorspelbare baan en hul enigste skans teen uitwissing! Die ruimte word as leeg beskou maar die geringste voortsnellende stukkie klip, kleiner as ‘n ertjie, kan verlammende, selfs vernietigende, skade aanrig!

Die skip se inventaris is vir vestiging van ‘n lewensvatbare gemeenskap saamgestel. Daar is bevrugte en bevrore menslike embrios en ‘n verskeidenheid plant- en dierspesies. Die diere is hoofsaaklik insekte wat ‘n werkbare ekosisteem moet verseker. Voedsel soos proteiene ens. sal hoofsaaklik deur plante en insekte voorsien word.

“Hierdie gemeenskap sal nuut dink, doen en van die grond af op gevestig word maar is hulle daarop voorberei?” hy besef hoe vreemd die nedersetting se leefwyse, vir sommige sal wees. “Tenspyte van die noukeurige seleksie van kandidate sal die finale toets die harde werklikhede van die nedersetting self wees.”

“Amper soos daai oertydse oorlewingsspeletjies waar ‘n groepie deelnemers iewers in ‘n wildernis gelos word om te oorleef.” dink hy “Die enigste verskil is dat niemand in dié spel uitgestem en huistoe gestuur kan word nie!”

Basies ‘n reuse roterende wiel, is die skip ontwerp om alle aktiwiteite in die buitebuis, wat die velling daarvan vorm, te konsentreer. Die rede: die sentrifugalekrag van die wiel se rotasie, boots swaartekrag na. Die arms of speke, na die naaf toe berg voorraad, rekenaarstelsels en onderdele. Die modules, waaruit die skip saamgestel is, sal by hul bestemming, een vir een land.

Was dit moontlik, sou hy ‘n telefoon optel om die ‘manne tuis’ geluk te wens met hul deeglikheid maar die besef van hoe vêr en hoe lank gelede hulle reeds weg is laat hom glimlag! Dis nie net die tyd wat ‘n sein, aarde toe sal neem nie, dié HOEK-span, wat dié projek destyds behartig het is waarskynlik nou al dood.

Dié projek van HOEK, is een van vele die onbekende ruimte in en het as sulks, grootskaalse beplanning en voorbereiding geverg. Nou kan die breins daaragter nie eens die genot van hul sukses smaak nie!

“Nie dat dit hulle werklik sou pla nie.” dink hy sinies. “Ses maande na die Verversingspos 52-ekspedisie se vertrek was die span navorsers waarskynlik so diep in die volgende projek versonke dat dié een, iewers in hul agterkoppe, aan’t vergete wordend was.”

Hiér staan hy nou, sovele eeue later soos ‘n moderne Jan van Riebeeck en soos wat van Riebeeck, Tafelberg destyds sien nader kom het, sien hy nou Planeet 16 nader kom. Waar van Riebeeck die onbekende met drie windgedrewe skepies aangedurf het, durf hulle nou die onbekende aan met ‘n ruimteskip, in vergelyking massief en aangedryf deur winde van ‘n heel ander aard.

“Tot watter mate en in watter opsigte is die geskiedenis homself aan’t herhale?”

Vanaf die verre aarde kom Planeet 16 leweloos voor maar is tog vir menslike lewe geskik bevind. Met die reis se einde in sig, word die uitdagings, waaroor daar nog net gesprek gevoer was, nou tasbare werklikhede! “Gaan hulle as indringers beskou word, sou hiér intelligente wesens woonagtig wees?

Hierdie sonnestelsel, ‘n buurman van die aarde se son en sy planete, is boonop naby en strategies genoeg om ander aardse moondhede se aandag te trek en hul belangstelling te wek!”

Met dié planeet, nabygeleë en lewensvatbaar, is staanplek hier iets waaroor daar baklei kan en sal word! Die groot vraag dus: “Hoe lank dit gaan neem voordat dit hiér ook te klein raak vir almal?”

Die mens is ‘n paradoks. Aan die een kant vol wreedhede en magsvergrype, daarenteen het hy, altyd in die agterkop, ‘n droom van ‘n Utopië of ‘n Sjangri-La iewers. Oran, is ‘n praktiese man met ‘n renons in magshongeriges of passiewe idealiste, maar by die aanskoue van Planeet 16, ervaar hy ‘n mengsel van soortgelyke emosies en drange. Vreemd aan hom, gee die gedagte aan en die uitdagings van ‘n nuwe wêreld wat by dag een begin, hom hoenderdvleis.

‘n Begeerte om ‘n toekoms, volgens sy opvattings, te beplan en verwesenlik te sien, neem van hom besit. Dié gedagtes oorheers nou sy denke.

Hy bepeins die moontlike scenario’s wat vir hulle voorlê, verder: “Met die verwagte vestiging van nog kolonies vorentoe hiér, lê wedywerings om seggenskap oor grondstowwe en grondgebied op dié planeet, voor. Daar sal hier nog hard gestry word!” besef hy.

“Ons is nie almal so nie, spog sommige naiewes maar hulle is verkeerd!” Vir diesulkes vervies hy hom, “ons is inherent almal kompeterend en by die ‘regte’ geleentheid, onverdraagsaam en onderdrukkend. Dit is onwillekeurig so, selfs ‘n pasifis se gedrag is manipulerend!”

Sy gevolgtrekking tot wat van belang is, is “om teen dié swakheid in onsself te waak, maar ook om onsself teen besmetting daarmee, deur indringers van buite af, te beskerm.”

“Is dit ‘n fobie van my om hier, vêr weg van ander gemeenskappe af, aan moontlike bedreigings wat dié gemeenskappe vir my groep en hul nasate kan inhou, te herkou?” wonder hy, maar besluit, “Dis nie paranoia nie maar werklikhede wat verseker voor lê!”

Nóu is dit later se probleme: “In die eerste paar dekades gaan daar genoeg uitdagings vir ons in die nedersetting wees sonder inmenging van buite af!”

“Wat het van die ‘liberales’ se ideaal van ‘een mens een wêreld sonder klas of ras’ geword?” wonder hy en dit laat hom glimlag. As buitestander en waarnemer van die pogings daartoe, is dit as sinloos vir hom bewys. Net die GK’s het dié geleentheid tot ongebreidelde en gekonsentreerde mag wat dié naiewe siening bied, raakgesien en met albei hande aangegryp. Met beskuldigings van rassisme was teenstanders geboelie en in die naam van menseregte van hul besitttings beroof! ‘n Siellose massamens was die eindproduk!

Ervaring het hom oortuig dat “Alleenlik met lokale beheer, naby aan die wat daardeur geraak word, kan individue tot hul reg kom!” hy mymer voort, “Dis bewese so maar word gerieflik deur magsbeheptes geignoreer. Anargisme of ‘n natuurlike ordening in gemeenskappe, word deur hulle afgemaak as ordeloos! Om van ‘n volk met ‘n eiesoortigheid as uitgangspunt, nie eens te praat nie!”

“Hierdie intieme gemeenskap, wat hiér sy beslag gaan kry, se waarde sal in die simbiose tussen sy individue lê. Net in ‘n simbiotiese gebondenheid kan ‘n individu ankers vind. Beskerming van die intieme groep, soos dit tussen man en vrou, ‘n gesin of die onmiddellike gemeenskap voorkom, is selfbeskerming en daarom ‘n primêre instink!”

Hy peins voort “Dié verwagte binding tussen ons sal reg ontplooi en behou moet word!” besluit hy, “Slegs met goeie binding is ‘n omgewing waarin die enkeling en die groep in harmonie saamleef, moontlik. Só ‘n omgewing van ‘n gebonde gemeenskap, word die patria of vaderland en die bewoners daarvan ‘n volk, genoem!”

Die wentelbaan om Planeet 16. word kleiner en hy verlang na sy vrou, An. Sy moet nou hier langs hom staan om die skouspel wat hul nuwe tuiste begin bied, te aanskou. Hy kan nie net vir haar wek nie, besluit hy. Almal moet gewek word!

Dit was nie hoe dinge beplan was nie, An sou van die laastes wees om gewek te word maar dié geleentheid is te groot. Almal moet hier wees om hul nuwe wêreld saam te aanskou en te help met die soeke na ‘n geskikte vesting.

Hy gee die opdrag “Wek almal!” Binne 24 uur sal almal, op en wakker, hier in die beheerkamer bymekaar wees. Hulle sal mekaar vir die eerste keer in ses en neëntig jaar weer te siene kry en dit sal soos gister wees.

Vier en twintig uur later: In die beheerkamer word daar uitgelate gelag en gesels. Later vra Oran vir aandag en skakel die skerm aan: “Iewers op dié groot ronde bal moet ons staanplek vind.” sê hy toe Planeet 16 daarop verskyn, “die rekenaars het reeds vir ons plekke ge-identifiseer. Ons gaan hulle nou bespreek en ‘n keuse maak!”

Dit lei tot ‘n lewendige bespreking, elke detail kom onder die loep. Uiteindelik kom dit op ‘n stemmery neer en ‘n keuse word gemaak.

Die keuse val op ‘n oewer langs ‘n groot rivier. Redelik hoog geleë, nie te dig begroei nie en met ‘n klimaat wat nie te hoë eise aan kontrole daaroor ten opsigte van hul eie gerief vereis nie, stel dit almal tevrede!

Die beheerkamermodule word ontkoppel en ‘n ligte vibrasie word gevoel toe hul swaartekragkontrole aangeskakel word. Hulle is pad na hulle gekose staanplek toe. Die beeld op die skerm dui ‘n groen oopkol tussen reuse varingagtige bome aan. Daar gaan hulle land.

Hulle land en met die deure se oopgaan kon hulle nie gou genoeg uit nie. Buite vat hulle spontaan hande en begin met ‘n outydse sirkeldans. “Hier op dié oewer gaan ek ‘n park aanlê,” sê iemand, “’n plek waar ons kan ontspan!”

Te voet word die omgewing ondersoek en bespreek. Later Oran roep almal bymekaar en sê, “Almal blyk tevrede met dié ligging te wees. Ek gaan nou die program, wat die skip se modules gaan laat land, aktiveer.” Hy druk ‘n knoppie, daar word gejuig en hande geklap. Dié avontuur het begin!

So ook, begin daar nog ‘n episode in die verhaal van die mens en sy omswerwinge. ‘n Verhaal wat begin het toe die eerste groepie oermense oor die naaste berg getrek het om hul in ‘n naburige vallei te loop vestig. Nou skop hy nes tussen die sterre!

  • Chantal

    Goeie storie, maar jy noem te veel dinge in die kortverhaal en bespreek te min. Ek het nie die storie lekker verstaan en waaroor dit gaan nie? As jy hom weer oorskryf, dan sal jy sien wat ek bedoel. Ek het nie geweet waar die begin, middle of einde is nie. Maar jou Afrikaans is van die boonste rakke en ek dink jy het baie potensiaal. Net meer lees oor wetenskapfiksie en waaroor dit gaan, dan sal jy volgende keer weet waaroor om te skryf.