VOLMAAN – Quintin Ellis

VOLMAAN – 2013 © Quintin Ellis

VOLWASSE FANTASIE (1 502 woorde)

Delvina Tatsel word wakker met ’n polsende hoofpyn. Sy vee oor haar oë en loer na die horlosie op haar bedkassie. Dit is vier uur oggend, haar kat slaap nog rustig by haar voete. Stadig staan sy op en gaan grou in die badkamer kassie vir ’n pynpil en sluk dit met ’n glas water af. In die spieël kyk sy na haar gesig, daar is ’n dun bloedstrepie langs haar mondhoek. Met ’n ergerlike gebaar van haar vee sy dit af. Dit het nou al ’n paar keer gebeur dat sy haarself raak byt in haar slaap. Haar lyf voel te styf en seer om dadelik weer te gaan lê. Traag stap sy deur die gang verby die portret met sy donker broeiende oë.

“Jy is jou pa se kind,” het haar ma altyd gesê. “Jou donker bruin oë lyk amper net soos syne met groot pupille, nes syne.”

In die kombuis maak sy ’n koppie koffie en kyk hoe die stad in die verte flikker-vonkel in ’n miniatuur konstellasie van straatligte. Die swart soet koffie haal die metaalagtige nasmaak van bloed uit haar mond. ’n Warm wollerige gemmer lyfie kom skuur teen haar kaal kuite. Sy sien die mis wat van Robbeneiland se kant af stadig die stad bekruip.

Die kat probeer met haar warm lyfie die vrou se aandag trek. Met ’n glimlag word sy opgetel. Die kat sis hard en met wilde miaau springs sy uit die vrou se arms en skarrel vinnig weg. Fronsend kyk Delvina die kat agterna. Die klein gemmer katjie het nogal altyd ’n vreeslike wil van haar eie gehad. Sy het eendag net by die voordeur ingestap en haarself tuisgemaak. Morseltjie het besluit dit is nou haar huis en het haar vinnig ook tuisgemaak in Delvina se hart.

“Eienaardige kreatuurtjie.” Mompel sy by haarself en draai weg van die venster. Die koppie sit sy langs die leë wynglas op die wasbak neer en gaan kruip terug in haar bed. Die hoofpyn vervaag en sy raak rustig aan die slaap.

Die foon lui skril langs die slapende vrou se kop. Sy steek haar hand uit en antwoord vinnig.

“Elmien Taljaard.”

“Kaptein, ons het nog een.” Die gesiglose stem aan die ander kant klink vaagweg bekend. Sy wens soms as die foon op sulke ongeleë tye lui dit ’n stem sal wees wat haar vertel sy het ’n bootreis na Rio gewen het, of die staatslotery. Vandat sy in bevordering gekry het, weet sy al dat die foon nooit goeie nuus bring nie.

“Waar die keer?” sy staan op en stap na die klein kombuisie toe en drink lemoensap sommer uit die houer. Vinnig maak sy ’n paar aantekeninge in haar kop, terwyl die stem die situasie verduidelik. “Gee my ’n halfuur.” Die bevel in haar stem laat haar soms skrik. As sy so by die huis praat sal haar man haar altyd spot: “As ek met ’n polisiebeampte wou praat het ek by ’n huis gaan inbreek. Ek wil asseblief met my vrou praat.”

Sag gaan soen sy hom op die voorkop voordat sy by die deur uit verdwyn en met haar amptelike voertuig se flitsende ligte na die middestad jaag. Dit is nog stikdonker ses uur die oggend en van Vrydagaand se gefuif is daar min tekens. Hier en daar dwaal nog ’n siel rond. Die voertuig se kragtige enjin purr soos ’n groot kat terwyl sy amper stilhou en dan verby die verkeersligte jaag.

Sy rapporteer vir diens oor haar hand radio so tussen die bestuur deur.

Langstraat is amper doodstil. Die klubs en kuierplekke is almal toe. Die personeel en ’n paar uitsmyters staan hier en daar en wag om huis toe te gaan. Sy ry aan tot sy die flitsende blou ligte voor die laaste kuierplek sien.

Sy stap na die samedromming van blou uniforms in die stegie tussen die nagklub en die kerk. Eenkant staan ’n verdwaasde bergie woordeloos en bewe teen die snerpende wind wat om die hoeke kruip.

Die konstabel groet haar beleefd. “Dit is presies soos die ander. Blanke man, vroeë twintigs.”

“Was forensies al hier?”

“Ja, kaptein.”

Sy kyk opsommend om haar rond. “Werk daardie kamera?” Sy wys na die CCTV-kamera wat op die hoek van die nagklub se afdak gemonteer is. Dit gaan dalk nie ’n beeld kan gee van die hele stegie nie, maar kan wys wie was daar rondbeweeg het. Sy sukkel al ’n paar met die IT ouens om die goed reg te maak, maar alles neem tyd in beslag in die land.

“Hey!” skree sy op ’n beampte wat ’n sigaret opsteek. “Lyk dit vir jou soos ’n Hollywood film stel? Haal daai ding uit jou mond uit.”

Sy trek die ritssluiter van die sak waarin die lyk lê af. Die bleek lewelose gesig staar na haar. Asof Langstraat nie al erg genoeg is met die drankmisbruik, dwelms en sporadiese geweld nie, kry dit nog ’n reeksmoordenaar by en niemand sien of hoor ooit iets nie.

’n Paar dae later sit Elmien met die forensiese verslag en die video materiaal van die kamera. Sy bestudeer dit aandagtig. Weens die feit dat daar geen vloeistof in die liggaam was nie is die tyd van afsterwe onbekend. Hoe ’n liggaam van alle vloeistof ontneem kan word, is onbekend. Daar is ook geen teken van ’n struweling nie. Die enigste wonde is laag op die maag naby die slagaar wat na die bene loop. Dit is kenmerkend ooreenstemmend in elke slagoffer. Die voorwerp waarmee dit gemaak is lyk kon nog nie bepaal word nie. ’n Beweging op die skerm vang haar oog. ’n Slanke vrou met ’n lang swart jas stap in die stegie, nie lank daarna nie volg die jong man haar. Hulle verdwyn uit die sigsveld van die kamera uit. Sy speel die video oor en oor, nie een van die twee kom weer by die stegie uit nie. Elmien gaan na die beheerkamer en trek die materiaal vir Loop straat en die omliggende strate tot bo in Oranje straat maar die vrou kom nêrens weer te voorskyn nie.

Sy roep die ondersoekspan saam. “Ons het ’n verdagte die keer. Vroulik, ongeveer 1.65 meter lank, swart hare.” Sy oorhandig die foto’s aan elkeen. “Soos gewoonlik mag ons nie na die media gaan nie, want die party mag nie versteur word nie. Jones hier is die ouers se adres. Hulle het die kind vanoggend as vermis aangemeld. Vat vir Hasiem saam. Khumalo, jy kom saam met my. Ons gaan ’n bietjie met Jaco en die uitsmyter gesels.” Op pad na kantoor bel sy die nagklub eienaar en vra dat hy en die deurman hulle by die klub moet ontmoet. Jaco werk altyd saam met die polisie. Hy probeer sy klub dwelm vryhou, maar dit is ’n nodelose stryd. Langstraat is Langstraat.

Na die ontmoeting het hulle meer inligting. Die vrou kom elke Vrydagaand vroeg in, drink ’n paar Bellville koffies en waai weer. Die kamera wys sy het vir die outjie geglimlag en met haar kop na die deur beduie.

Vrydag sit sy en Sersant Khumalo in die kroeg met ’n koeldrank en wag dat sy instap. Alhoewel die musiek nie oorverdowend is nie, irriteer die eentonige en herhalende ritmes haar. Khumalo sit langs haar en hou ritme met sy een voet. Net na sewe stap die vrou in. Elmien sien dadelik haar oë raak. Amper heeltemal swart en sonder emosie. Die twee beamptes betaal vir die koeldrank en stap na haar toe.

“Kaptein Elmien Taljaard, Kaapstad Moord en Roof. Ons wil u net ’n paar vrae vra, as u nie omgee nie.” Sy hou haar stem streng professioneel.

“Sekerlik,” Delvina glimlag sag vir die blonde vrou. “Ek het gewonder wanneer kry julle my.”

Elmien merk die twee oogtande op wat ietwat langer en meer gepunt is as die ander, wat die aantreklike vrou die voorkoms van ’n vampier gee. Haar een sin was ’n skulderkenning in die korte. “U is in arres as verdagte in vier moorde.”

Steeds toon die vrou geen emosie nie. Asof sy saam met vriende gaan vir ’n laatmiddag stappie stap sy saam met die twee beamptes by die deur uit. In die aanklagkantoor word haar regte aan haar verduidelik. Ten spyte van die koue en professionele houding van die beamptes bly sy vriendelik. Sy het die aanbod van regsverteenwoorging van die hand gewys en onderneem om ’n volle erkenning van skuld te onderteken.

Daar is geen berou of skok in haar stem nie. Elmien luister verbaas na die gru vertellings van elkeen van die vier moorde wat die dame gepleeg het. Dit klink meer na iets uit ’n riller as ware feite, maar die erkenning strook ten volle met die bewyse wat hulle reeds ingesamel het. Die vrou het duidelik die een of ander sielkundige afwyking wat haar oortuig dat sy ’n vampier is. Sy kry altyd die mense met geestesafwykings jammer. Hulle is gewoonlik ook maar net slagoffers van hulle verwarrende omstandighede.

“Prosesseer haar.” Elmien stap uit die kantoor en gaan maak vir haar koffie.

  • Chantal

    Jy het ‘n goeie begin en middel geskryf, maar jou einde klink of dit moet voortgaan. Ek sal jou aanraai om ‘n ander einde te skryf wat meer aanvaarbaar is vir ‘n kortverhaal. Maar ek het baie die kortverhaal geniet.