WYNROOI – Quintin Ellis

WYNROOI – 2013 © Quintin Ellis

VOLWASSE FANTASIE (1 197 woorde)

Die wynrooi lakens is opgetrek tot teen haar ken. Op die vloer langs die bed lê die duvet wat sy gekoop het as deel van die stel het opgebondel. Twee glase staan op die bedkassie met die laaste oorblyfsel van gisteraand verdor tot amper ’n gronderige poeier in die bodem. Die kerse het oornag die vorm verlepte en verdraaide blomme aangeneem, met poele was aan die voetstukke soos verwronge lywe. Die een kandelaar wat saam met haar voorouers uit Frankryk gekom in die tyd van die Hugenote, is nie op sy plek nie. Die leë halfmaan van koue was, is die enigste aanduiding dat dit ooit daar was.

Ten spyte van die koue van die vroeë winter môre staan sy nie op om haar kamerjas aan te trek nie. Iemand het ’n gordyn oopgetrek en die strale weerkaats in ’n sagte pienk teen die plafon en mure. Steeds roerloos bly sy staar na die muur voor haar. Trane begin sag teen haar wang afbiggel.

Rooi was altyd haar gunsteling kleur. Van kindsdae afwas hierdie kamer altyd versier in die skakerings van rooi. Haar ma het die diepste rooi rose voor haar venster geplant. Kinders het haar agter haar rug Rooikappie genoem. Die bynaam het haar nie gepla nie. Ouma het altyd gesorg dat daar ’n nuwe rooi kombers vir haar is waarop haar gemmerkat kan lê.

Daar was altyd ’n gemmerkat wat met ’n wol lyfie by haar kom lê het. Vanoggend sien sy die katjie nêrens nie. Sy hoor die veraf stemme wat probeer om haar terug te ruk na die realiteit om haar.

Dit het alles begin by die rooi kar. Die klein gevaartetjie was nie hare nie. Pa het na werk met die man en sy kar by die huis aangekom. Sy was verbaas, haar pa is nog nooit ’n mense mens nie. Altyd maar stil en eenkant. Sy werk as chirurg het hom effe geïsoleer.

Die man se naam was Bill of William. Sy oë was amper so donker soos sy skaduwee, diep broeiende en intense oë wat kyk tot in die skaduwees van jou siel. Hoekom hy kom oorbly het niemand geweet nie. Soos ’n stil spook het Bill in die oggende opgestaan, net vir homself koffie gemaak en verdwyn. Die kere wat sy hom wel gesien het, het hy haar net beleefd gegroet en weggestap. Iets in hom het haar aangegryp, sy blas vel en fyn hande en die misterie wat hy saam met hom dra.

Sy het eers probeer om hom te ignoreer, maar die gloede wat hy oor haar spierwit vel laat opvlam was rooier as haar kort hare. Elke keer wat sy hom gesien het, was dit asof sy ’n bakvissie was. Vrydagaand het sy gaan dans en gekuier saam met ’n groep vriende. Drie-uur die oggend het sy by die huis aangekom. Bill was op die agterstoep, doodstil en alleen soos altyd. Dit was altyd vir haar vreemd om te sien hoe hy in sy eie kop leef en steeds gelukkig is.

Sonder om te vra het hy vir ’n glas geskink. In die flou maanlig is sy gesig nog meer weggesteek, asof die skaduwees een word met sy gelaat.

“Wie is jy, Bill?” haar stem is gevul met nuuskierigheid.

Vir die eerste keer hoor sy hom lag. ’n Diep borrelende lag vol lewe en energie wat sag klink in die stil nag.

“hou jy van diep vrae so vroeg in die oggend?” Antwoord hy terwyl hy hulle glase weer vol maak. “Dit is ’n komplekse maar steeds onduidelike vraag.”

Sy moet saam lag. “Hoekom is jy so geheimsinnig? Vlug jy van die polisie?”

Weer lag hy. “Darem nie so erg nie. Ek help jou pa met ’n orgaanoorplanting. Wel, eintlik is ek die skenker.”

Die toon van sy stem is skielik net so somber soos sy gesig. Hy vat ’n groot sluk wyn en vat haar hand. “Jy dink seker ek is ’n bombastiese ongeskikte vark.”

“Nee, ek is net nie gewoond aan mense wat so binne hulleself leef nie.” Haar stem klink pieperig en sy vererg haar vir die bakvissie in haar. Die tweede glasie het die ys gebreek tussen hulle. Hy is werklik intelligente geselskap en het geen bybedoelings of enige mate van pretensie nie.

Sy kennis oor die sterre en die natuur is ongelooflik. ’n Warm gevoel van lewe begin in haar brand. Hy het verskoning gemaak en opgestaan en teruggekeer met ’n tweede bottel wyn. Die keer het hy aar gewys hoe om die bottel te draai en te skink sonder om ’n druppel te mors.

“Vertel my van jou, Andrea? Wie is die meisie agter die rooikop?” die vraag kom saam met ’n gevoel dat sy in ’n sielkundige se spreekkamer sit.

Sy het hom vertel van haar lewe as ’n dosent by die kollege met ’n klomp jongmense wat meer gepla was oor wanneer hulle die volgende kan oopmaak as hulle opvoeding. Meeste bedorwe brokkies met trustfondse wat betaal vir hulle losbandige lewens. Selfs die negatiewe onderwerp het haar laat besef hy hang aan haar lippe en toon empatie met haar ervarings.

“Die wêreld is nooit ’n stil plek nie, dit is vul met rustelose siele. Hulle verwoes so ver hulle gaan met geen nadenke oor wat die gevolge van hulle dade mag wees nie.” Die strelende klank van sy filosofie tref haar diep. Sy vat sy hand en druk dit.

“En jy?”

“Ek is te oud vir ’n verwoestende lewe.” Die ligte tergende ondertoon in sy stem is in totale teenstelling van hoe sy hom tot nou toe ervaar het.

“Nee, man, jou lewe, waar jy bly en werk en so aan.” Met haar duim streel sy oor die kneukels van sy hand en voel dadelik hoe hy gespanne raak. “Dit kan nie so erg wees nie.”

“Jy sal verbaas wees as jy moet uitvind wat mense alles dink en doen.”

Die sombere stil man is skielik ongenooid weer terug. Sy kan aanvoel hy het ’n geheim wat hy saam met hom dra en nie bereid is om met enige persoon te deel nie. Sag klem sy sy hand en trek hom op. Die soen is nie iets wat een van hulle voorsien het nie, maar al twee gee oor aan die emosie.

Sy trek hom aan die arm. “Kom.” Fluister sy sag. Daar is tye wat woorde te veel is. Andrea lei hom soos ’n blinde deur die huis na haar kamer. Hulle gaan sit op die bed en drink die wyn klaar. Bill wil iets sê, maar sy maak hom stil en steek die kerse aan…

Die stemme kom nader. Andrea kan elke woord, maar niks registreer. Die vroulike polisiebeampte stap eerste by die deur in, gevolg deur haar pa. Sy gesig is bleek en sy kake is op mekaar geklem. Die beampte sit haar arm versorgend om Andrea se skouers, waar sy steeds onder die laken in die niet instaar. Sy voel nie die prik in haar arm wat haar pa haar toedien nie.

Andrea laat sak haar linkerarm na warm die kandelaar langs die bed lê. Haar hand ruk terug en sy kyk ongelowig daarna. Die wynrooi bloed kleef aan haar. Haar skouers begin ruk.

  • Chantal

    Goed geskryf, maar jy sê te veel hy of sy. Gebruik meer hulle name en maak jou storie tot 2, 000 woorde. Ek weet jy kan dit doen! Hou aan met die goeie werk!